Читать книгу Elza Rademeyer Omnibus 5 - Elza Rademeyer - Страница 4

Оглавление

1

Pikkie klap vererg die motor se deur toe nadat sy met ’n groot gesukkel die verflenterde sonskerm teen die agterruit aangebring het. “Ek smyt die ding sommer in die asdrom!” sê sy vies toe sy op die stoep van die huis by haar vriendin aansluit. “Miskien sal ek dán onthou om ’n nuwe te koop.”

“Jy praat seker van die sonskerm,” sê Riana met ’n glimlaggie. “Want jy gaan sukkel om die motor in die asdrom te kry.”

“Moenie nog spot nie. Ek weet nie waar ons gedagtes was toe ons dié huis gekoop het nie. Verbeel jou, twee motors, maar net een garage!”

“Jy vergeet ons is maar net onderwyseresse,” sê Riana. “Ons sou nêrens in die wêreld met die salaris wat ons verdien ’n huis met twee garages kon koop teen die prys wat ons vir hierdie een betaal het nie. Maar moet jou nie bekommer nie, ek het nou net op pad terug van die skool af aan ’n briljante plan gedink.”

“Watter plan?” vra Pikkie terwyl sy die voordeur oopsluit en instap.

“Iets wat ons nie ’n fortuin sal kos nie, maar amper net so goed soos ’n tweede garage sal wees. Ons bou vir ons ’n afdak.”

“ ’n Afdak? Waar nogal?”

“Voor die garage se deur.”

“En wat gaan dit kos?”

“Ek weet nie, maar ons kan uitvind. Dit behoort nie veel te kos nie, want al wat ons nodig het, is vier pale en ’n paar sinkplate.”

“Sinkplate!” sê Pikkie agterdogtig. “Ons kan mos nie ’n garage van sinkplate bou nie. Dit sal soos ’n plakkerskamp lyk!”

“Nie ’n garage nie, man, ’n afdak!”

“Nogtans. Die bure sal kla. Dis nou weliswaar nie die spoggerigste buurt wat ek al gesien het nie, maar dis darem ook nie so agtergeblewe dat die mense ’n sinkplaatstellasie hier sal verdra nie.”

“Ons verf dit, dieselfde kleur as die huis. En as ons daardie rankplant by die kombuisdeur uithaal en hier plant sodat dit kan oprank, sal niemand ooit raai dis van sinkplate aanmekaargesit nie.”

“Jy sê ons bou dit voor die garage?”

“Ja, tussen die garage en die straat.”

Pikkie stap terug na die voordeur en loer na buite. “Is hier genoeg spasie vir ’n afdak?”

“Ja, wat. Hier is mos nie sypaadjies nie. Almal se tuine strek tot teenaan die randsteen, so dit sal nie saak maak as ons afdak daar naby die straat eindig nie.”

“Sal dit nie die huis se aangesig belemmer nie? Die voorkant lyk al klaar so afgeskeep met dié dat die garage half voor die huis gebou is en nie langs hom nie.”

“Wel, ons het een van twee keuses. Ons motors roes verder op in die wind en weer, óf ons bou ’n afdak.”

Pikkie kyk na haar motor waar dit in die warm son staan en bak en knik stadig haar kop. “Goed, ons bou ’n afdak. Maar wie gaan dit doen?”

“Wat van die man wat oom Jorrie se tweede garage gebou het? Hy werk glo goedkoop.”

“Die man wat . . .? Maar oom Jorrie is dan juis so ontevrede!” sê Pikkie onthuts. “Hy sê sy garage se dak lek soos ’n sif! As hy onder oom Jorrie se skerp oë so ’n gemors aangevang het, wat dink jy gaan hy met ons doen?”

“Wag nou, man. Ons kan mos met hom akkoord gaan dat hy nie ’n sent betaling kry alvorens ons tevrede is met sy werk nie. Dis waar oom Jorrie die fout gemaak het. Hy’t hom vooruit betaal. Meen te sê, tot tyd en wyl ons met ryk mans trou, kan ons nie juis kies en keur nie. Ons ouers het klaar die huis se deposito vir ons betaal, ons kan nie verwag hulle moet ons nog met die geld vir ’n afdak ook help nie.”

“Asof ryk mans agter elke bos uit te skop is,” mompel Pikkie. “Maar kom ons gaan soek iets om te eet. Ek is so honger ek kan ’n os verorber.”

“Ek ook,” sê Riana. “Wat eet ons vanaand?”

“Ek weet nie. Dis jóú beurt om kos te maak.”

Riana gee ’n kreun. “Ek haat dit om kos te maak. Dit sal my nog daartoe dryf om ’n man te soek. Een wat ’n huishoudster én ’n kok kan bekostig.”

“Hoekom los ons nie die afdak en stel ’n huishoudster aan nie?” vra Pikkie met ’n borrellaggie.

“Nooit! Vir ’n afdak betaal ’n mens net een keer. ’n Huishoudster moet maand na maand betaal word, en as jy nie oppas nie, word jy nog besteel ook.”

“Wanneer word ’n meisie nou eintlik as ’n oujongnooi gereken?” vra Pikkie toe sy haar tas optel om dit kamer toe te neem. “Van dertig af?”

Riana frons. “Ek dink so. Dit beteken natuurlik ons twee sit albei op die rak voor die jaar om is. Geen wonder die ou tante hier langsaan het nou die dag sulke snaakse vrae gevra nie. Sy dink sweerlik ons is ’n paartjie.”

“As sy sulke afleidings wil maak, is dit haar saak,” sê Pikkie ongeërg voordat sy glimlaggend haar kamer binnegaan.

Daar is seker geen ander mens op aarde met wie sy so goed oor die weg kom soos met Riana nie, dink sy terwyl sy haar netjiese klere vir ’n sweetpak verruil. Al is hul geaardhede taamlik uiteenlopend. Want Riana is ’n ekstrovert, altyd omring van vriende en vriendinne en op ’n kuiery uit, terwyl sy rustigheid en stilte verkies. Al wat hulle regtig gemeen het, is die feit dat hulle albei nog ongetroud is en nie veel erg aan mansmense het nie. Riana, omdat sy vroeër ’n liefdesteleurstelling gehad het. En sy, Pikkie, omdat die regte man nog net nooit opgedaag het nie.

Of het hy, en was dit haar ondeurdagte opmerking wat gemaak het dat hy nie eens haar telefoonnommer gevra het nie?

Haar gedagtes gaan onwillekeurig terug na die dag ’n klompie weke gelede toe sy met Neville Meyer kennis gemaak het. Sy gee ’n suggie en gaan sit op die bed. Dit was die ongewoon warm dag aan die einde van die winter-skoolvakansie wat haar laat besluit het om die Sondagmiddag Bloubergstrand toe te ry. En die gedagte dat dit heerlik sal wees om sommer net in die son te lê en ontspan. Want terwyl Riana die hele vakansie by haar ouers op Swellendam deurgebring het, was sy net ’n week lank by haar ouers op Riversdal voordat sy teruggekom het om hul huis en verwaarloosde tuin agtermekaar te kry. Riana het mos geen erg aan waar ’n stoel of meubelstuk moet staan nie. Wat nog te sê van kruideniersware wat in kaste moet kom.

Die middag op Blouberg het sy eers ’n ent al met die strand langs gaan stap en daarna teruggekom om ’n entjie weg van die ander baaiers op haar handdoek te gaan lê. En toe raak sy sowaar aan die slaap. Haar eerste gewaarwording van die tyd wat aangestap het, was toe sy natgesweet wakker skrik van ’n manstem en vaskyk in die blik van ’n hurkende man langs haar. Sy het haar skoon oorhoeks geskrik. “Wat wil jy hê?”

“Ek het onrustig geraak. Voel jy siek?”

“Nee, vir wat sal ek siek voel?”

Hy’t haar fronsend aangekyk. “Jy lê al meer as twee uur hier in die son. Kyk hoe rooi is jy gebrand.”

“Ek het aan die slaap geraak.”

“Het jy nagdiens gewerk?”

“Nee, dis dan Sondag. Ek bedoel, ek hou skool en dis mos vakansie.”

“O, jy hou skool. Het jy self kinders?”

“Nee, ek is ongetroud.”

“Wel, jy beter opstaan uit die son. Jy kan velkanker . . .”

“Dis nie nodig om vir my te preek nie.” Sy was steeds vies oor hy haar so laat skrik het. “Die son is glad nie so warm nie.”

Hy’t ongeërg sy handdoek oor haar skouers gegooi en hom op die sand langs haar tuisgemaak. “Jy gaan vannag les opsê. Jy sal jou met room of iets moet smeer.”

“Vir wat het jy my dopgehou?”

“Ek het jou nie dopgehou nie. Ek het net toevallig hier naby jou verbygeloop. En toe ek goed twee uur later terugkom en sien jy lê nog steeds hier . . . Dis net logies dat ek moes kom seker maak jy’s nie dalk dood of siek nie.”

“Vuilgoed gaan nie so maklik dood nie.”

Hy’t vinnig na haar gekyk en ietwat bekommerd gelyk. “Hoekom dink jy jy’s vuilgoed?”

“Dis net ’n grap, man. Hoewel ek nie nou ver van vuilgoed af voel nie.” Sy’t opgestaan. “Ek sal beslis beter voel ná ’n stort.”

“Waar woon jy?” het hy gevra en langs haar ingeval toe sy begin aanstap.

“Hoekom wil jy weet?” Sy was wantrouig, maar het terselfdertyd gevlei gevoel oor sy aandag. Sy sou immers blind moes wees om nie sy aantreklikheid raak te sien nie.

“Wel, as jy nie hier naby woon nie, kan jy in die woonwapark gaan stort. Ek het my motor hier en kan jou daarheen neem.”

“Ek het ook ’n motor en kan by my huis gaan stort.”

“Woon jy hier naby?”

“Nee, in Bellville.”

“Nou sien, dis ver hiervandaan. Wanneer jy klaar gestort het, kan ons hier by die hotel op die stoep ’n glas lekker yskoue koeldrank gaan drink.”

Die yskoue koeldrank het aanloklik geklink, want sy wás dors. Maar sy was versigtig. Hy’t vriendelik en beskaaf gelyk, maar ’n boef kan ook so lyk. Asof hy haar gedagtes kon lees, het hy vasgesteek en sy hand na haar uitgehou.

“My naam is Neville Meyer. En joune?”

“Pikkie Grové.”

“Aangename kennis, Pikkie.” En toe hulle verder loop: “Waar kom jy aan dié naam? Dis seker nie jou doopnaam nie?”

“Nee, dis ’n naam wat my pa my kleintyd gegee het. Hy’t gesê ek is net ’n pinkie se grootte, maar hy kan my darem nie Pinkie noem nie. Toe maak hy dit maar Pikkie.”

Hulle het al geselsende tot by haar motor geloop. En toe sy die kattebak oopsluit om haar strandgoed daarin te sit, het hy doodluiters die sak met haar skoon klere uit die motor se kattebak gehaal. “Kom ons ry. Ek kan nie wag om terug te kom vir daardie koeldrank nie.”

“Ek kan . . . e . . . agter jou aanry,” het sy gepoog om haar los te wikkel uit die situasie.

“Nou hoekom sal ons met twee motors ry as ons met een kan ry? Jy hoef nie bang te wees nie. Ek byt nie.”

Toe hy met haar kleresak in die hand begin wegstap, het sy hom maar ewe gedwee gevolg na sy motor. En eers weer benoud geraak toe hulle in die woonwapark stilhou en ’n kind hulle vanuit ’n woonwa tegemoetkom met die vraag: “Het Pappa my roomys onthou?”

Genade ons, hoekom het hy nie vir haar gesê hy’s getroud nie! Hoe gaan sy vrou haar ontvang? Hoekom het dit nooit by haar opgekom dat hy getroud kan wees nie?

“Nee, Boetman, ons sal netnou gaan roomys eet,” het hy vir die kind gesê en na haar kant toe beduie. “Die tannie hier wil net eers stort, dan gaan ons terug strand toe en kan jy jou roomys kry. Kom, groet vir tannie Pikkie.”

Die kind het skaam nader gekom, sy handjie na haar uitgesteek en dit vinnig teruggetrek om skugter agter sy pa se bene te gaan wegkruip.

“Kom ons gaan binne,” het hy vir haar gesê en na die voortent beduie.

Sy’t aarselend bly staan. “Loop jy voor. Gaan verduidelik eers aan jou vrou. Sê eers vir haar hoekom ek hier is.”

’n Troebel uitdrukking het in sy oë verskyn. “Ek het nie ’n vrou nie,” het hy kortaf gesê en met lang treë die tent binnegestryk.

Toe sy hom aarselend volg en in die tentopening vassteek, het hy ’n buisie room na haar uitgehou. “Jy kan hier stort as jy wil, of jy kan na die ablusieblokke gaan.”

“Ek sal ablusieblokke toe gaan.”

Nadat sy gestort het, is Boetman saam met hulle hotel toe. Hy’t sy roomys gekry en hulle het koeldrank gedrink. So tussendeur het Neville haar uitgevra na haar herkoms. Sy’t hom vertel van die plaas naby Riversdal waar sy grootgeword het en dat haar ouers nou op die dorp woon nadat haar pa se gesondheid hom genoop het om die plaas te verkoop. Ook van haar en Riana se jare lange vriendskap en van die huis wat hulle so saam-saam gekoop het met die hulp van hul ouers wat die deposito betaal het.

“Wat gaan met die huis gebeur as een van julle trou?” wou hy weet.

“O, ons het beskryf dat die een wat wil trek die ander een eerste opsie moet gee om te koop.”

“Ek sien. En as julle dalk rusie kry? Die een dit vir die ander onuithoudbaar maak?”

“Dit sal nie maklik gebeur nie. Ons is al van kollegedae af bevriend. En nadat ons begin skoolhou het, het ons saam ’n woonstel gehuur. Jy kan sê ons is al tien jaar saam sonder om rusie te maak. Hoekom sal ons nóú skielik stry kry?”

“Gee julle by dieselfde skool onderwys?”

“Nee. Ek is by die Tegniese Hoërskool in Dalen en sy is by ’n skool in Bellville. Maar dis nou genoeg oor my. Vertel my van jou. Waar het jy grootgeword en vir hoe lank is jy met verlof?”

“As jy na die woonwa verwys, is ek op permanente verlof. Dis my tuiste. Ek het geen ander blyplek nie.”

Hy was skielik stroef, maar haar nuuskierigheid was geprikkel. “Jy bly seker nie jou lewe lank al in die woonwa nie?”

“Nee, net vir die afgelope drie jaar.”

“En in die week? Waar werk jy?”

“Ek vang vis en ek skilder so ’n bietjie. Verder doen ek wat my hande vind om te doen.”

Dit was duidelik dat hy nie daarvan hou om uitgevra te word nie, maar sy wou darem baie graag weet van sy vrou. “Jou kind, maak jy hom alleen groot?” het sy dit versigtig gewaag.

“Ja.”

“En jou ouers, leef hulle nog? Hulle is seker erg oor Boetman, of hoe?”

“My verlede was nie so ongekompliseerd soos joune nie. Ek verkies om nie daaroor te praat nie. Daar is genoeg ander dinge om oor te gesels.”

Sy’t afgehaal gebloos. Enersyds skaam oor haar uitvraery, maar ook vies oor sy teregwysing. Vir wat het hy haar geselskap opgesoek as sy nie eens na sy verlede mag verwys nie? En hoewel hy na ’n rukkie weer doodnormaal oor alledaagse dinge aan die gesels geraak het, kon sy nie anders as om senuweeagtig en ongemaklik in sy teenwoordigheid te voel nie. Dit was dus in daardie stadium ’n verligting toe hulle koeldrankglase leeg was en sy haastig in haar motor kon gaan klim.

Maar agterna . . . As sy eerlik moet wees, sy sou hom graag beter wou leer ken. Hy’s bepaald die naaste beeld aan haar droomman wat sy nog ontmoet het.

“Daardie oudkollega van jou het gebel,” sê Riana toe sy ’n ruk later by haar in die kombuis aansluit. “Yolanda Coetzer. Ek het gesê jy sal haar terugbel.”

“Nou vir wat sou sy gebel het?” vra Pikkie agterdogtig. “Soek seker weer ’n metgesel vir een van hul oujongkêrel-vriende wat te sleg is om vir homself ’n meisie te kry. Ek het my twee keer laat ompraat, maar sy moenie dink sy gaan dit wéér regkry nie.”

Riana gee ’n laggie. “Vertel haar van die aantreklike man wat jy op Bloubergstrand raakgeloop het en sê vir haar jy staan so te sê op trou met hom.”

Pikkie glimlag half weemoedig. “Daardie man het lankal van my bestaan vergeet.”

“Klink my mos jy’s spyt daaroor,” sê Riana met ’n tersluikse blik in haar rigting.

“Wel, ek ís nuuskierig. Ek sou baie graag wou weet wat van sy vrou geword het. Of sy dood is, en of hy dalk geskei is.”

“Moet nou nie vergeet om Yolanda te skakel nie. Miskien kom sy hierdie keer met iemand vorendag wat so reg in jou smaak val. ’n Sjarmante man wat stink van die geld. Siende dat sy en haar advokaat-man onder die hoëlui tel, is dit glad nie onmoontlik nie.”

“Dis jy wat man soek, nie ek nie. Ek is doodgelukkig met die gedagte om vir my ’n kat en ’n papegaai aan te skaf. Maar nou ja, bel ek haar nie terug nie, sal sy in elk geval net aanhou tót sy my in die hande kry.”

Vreemd genoeg antwoord Yolanda self die telefoon toe Pikkie haar ’n rukkie later skakel. Want gewoonlik is dit die huishoudster of huishulp en moet sy hoe lank vir Yolanda wag.

“Pikkie, jy sal seker nie weet nie, maar John verjaar Saterdag,” val Yolanda dadelik weg nadat hulle gegroet het. “Ons gaan nie ’n groot makietie daarvan maak nie, maar ons wil darem ’n paar vriende nooi om dit saam met ons te vier. Nie meer as so vyftig mense nie. Ek beplan ’n ete vir die aand. Ons sal vreeslik bly wees as jy ook kan kom. Jy’s natuurlik welkom om ’n vriend saam te bring. Is dit reg so?”

Dan is dit darem hierdie keer anders, flits dit deur Pikkie se gedagtes. Sy word nie weer genooi om ’n maat vir iemand te wees nie. “Ek skat dit sal reg wees, ja. Hoe laat moet ons daar wees?”

“So om en by sewe-uur sal reg wees. Ons wil mos darem saam kuier ook voor ons eet . . .”

“Dankie. Ek is nog nie doodseker of ek ’n metgesel gaan saambring nie, maar ek sal jou laat weet sodra ek seker is.”

“Ag, dis nie nodig nie. Een persoon meer of minder sal nie saak maak nie. Jong, ek is jammer, maar jy sal my nou moet verskoon. Iemand is besig om die deurklokkie te probeer stukkend lui en nugter weet waar’s die huishoudster.”

Ná die oproep bly Pikkie ’n rukkie peinsend langs die telefoon sit. Sy en Yolanda het saam begin skoolhou en gou groot vriende geraak. Maar skaars ’n jaar later het Yolanda John ontmoet, en ná ’n warrelwind-romanse is sy met die veel ouer, gesiene en welaf advokaat getroud. Kort daarna het hulle Johannesburg toe verhuis en was daar geen kontak meer tussen haar en Yolanda nie. Tot sy Yolanda ongeveer ses maande gelede in die stad raakgeloop en dié haar vertel het hulle is terug in die Kaap. Dis waar die ding begin het dat Yolanda haar knaend as metgesel vir dié of daardie oulike outjie wil saamnooi na onthale en allerhande funksies. En soos ’n dom donkie wat sy kop teen dieselfde klip stamp, het sy haar twee keer laat ompraat. Maar voorwaar, nie weer nie! Sy sal iets oorkom as sy nog ’n aand in die vervelige geselskap van ’n bleskop met ’n boep moet deurbring. Of na die jammergeklaag moet luister van ’n man wie se verloofde hom op die nippertjie in die steek gelaat het.

Sy wip van skrik toe die telefoon langs haar lui. Dis haar ma, en nadat hulle gegroet en na mekaar se welstand verneem het, hoor Pikkie hoe haar ma haar keel skraap.

“Eintlik bel ek om julle ’n guns te vra, Pikkie. Tant Doortjie moet Kaap toe om ’n spesialis te gaan sien. Ons wil hoor of sy tog nie maar by julle kan tuisgaan vir die paar dae nie. Sy sal nooit op haar eie regkom in die stad nie.”

Pikkie se oë dop hemelwaarts. “Bedoel Ma . . . tant Doortjie moet vir ’n paar dae hier by ons in die huis kom bly?”

“Ag, my kind, ek weet sy is ’n moeilike mens, maar ons kan haar tog nie aan haarself oorlaat nie. Dit sal darem seker nie vir langer as so drie of vier dae wees nie. Sy sal eerskomende Saterdag oor ’n week daar van die trein afklim, en moet die daaropvolgende Maandagmiddag by die spesialis wees. Ek weet julle het net die twee enkelbeddens in die huis met dié dat julle moes plek maak vir die lessenaars in jul kamers, maar miskien kan jy vir daardie paar nagte in die sitkamer op die bank slaap . . .?”

Haar ma is besig om te pleit, dring dit tot Pikkie deur. Wat moet sy sê? Dis haar tante en haar ma se enigste oorlewende suster. “Hoe gaan sy by die spesialis kom?” vra sy om die stilte te verbreek. En om haar kans te gee om ’n verskoning uit te dink.

“Julle hou mos darem nie in die middae skool nie. Sy moet eers Maandagmiddag vieruur by hom wees. Sal jy haar nie kan neem nie?”

“Ja, ek sal seker,” sê Pikkie traag.

“Sal jy haar op die stasie ook kan gaan haal?”

“Ja . . . e . . . ja, dit sal dan seker maar reg wees. Ons sal kyk wat ons kan doen.”

“Ag, dankie, my kind. Dit was vir ons ’n groot kopseer, want ons kan regtig nie daardie tyd Kaap toe gaan nie. Ons het die Saterdag basaar, en die Sondag word jou pa mos weer voorgestel as ouderling.”

Toe Riana ’n rukkie later die sitkamer binnekom met twee bekers koffie, kyk sy ondersoekend na Pikkie se gesig. “En nou, as jy so ingedagte lyk? Klink die man wat Yolanda aan jou wil opveil belowend?”

“Nee, vir ’n verandering het Yolanda nie bybedoelings nie. Sy’t my genooi om eerskomende Saterdagaand daar te gaan eet. John verjaar. En ek kan ’n vriend saamneem. Maar daar’s nou ’n ander ding. My ma het netnou gebel. Tant Doortjie gaan vir ons kom kuier.”

“Daardie eksentrieke tante van jou van wie jy my vertel het?”

“Die einste.”

“Is sy al op pad?”

“Gode sy dank, nee. Nog nie. Sy kom darem eers volgende Saterdag met die trein. Ek moet haar op die stasie gaan haal. En die Maandagmiddag vieruur moet sy by ’n spesialis wees. Ek sal haar daarheen moet karwei.”

“Nou wat kom maak sy eintlik? Kom sy kuier of kom sy spesialis toe?”

“Albei. Sy wil by ons tuisgaan vir die tyd wat sy hier sal wees. Dis niks anders as kuier nie.”

“Wat makeer haar dan?”

“Makeer? Ek weet nie. Ek het skoon vergeet om te vra,” sê Pikkie. “Die ding het te skielik op my afgekom.”

“Miskien gaan dit groot pret wees om haar hier te hê.”

“Pret! Jy’t nog net gehóór van tant Doortjie. Jy’t haar nog nie belééf nie! Sy gaan ons hele lewe hier kom omkeer. Al die mense in die buurt s’n ook. Sy laat geen siel met rus nie. Ek sien al hoe snuffel sy die huis deur op soek na stof en deurmekaar kaste. Om nie te praat van hoe sy ons in die skande gaan steek nie. Weet jy, sy’t gedoriewaar een Sondag toe sy saam met my ma-hulle kerk toe was voor amper die hele gemeente vir die dominee gesê as hy nie sy voorbereiding beter doen nie, gaan hy die kerk nog dolleeg preek in plaas van vol!”

Riana lag. “Nou sien ek éérs daarna uit om haar te ontmoet. Moenie so bekommerd lyk nie. Niks kan doller as kopaf gaan nie. Ons steur ons net nie aan haar dinge nie en hou maar ’n dag of wat uit. Of moet ek liewer sê, ons hou ons in?”

“Inhou én uithou,” sê Pikkie met ’n suggie. “Maar kom ons vergeet nou van haar. Wat koop ’n mens vir ’n advokaat vir sy verjaardag?”

“Goeie vraag. Gelukkig het ek nie sulke vername vriende nie. Vir my soort vriende kan ek enigiets van ’n onderbroek tot ’n sakdoek koop.”

“Ek sal maar kyk vir toiletware. Maar dit kan nie iets alledaags wees nie, so dit gaan my ’n fortuin kos! Pleks ek liewer die uitnodiging van die hand gewys het.”

Toe sy Saterdagaand met haar tweedehandse motortjie voor die deftige woning van die Coetzers stilhou en al die duur, blink motors om haar sien, verwens sy haarself vir die tweede keer dat sy die uitnodiging aanvaar het. Of hoekom het sy nie ten minste ’n metgesel saamgebring nie? Sommer een van haar manlike kollegas by die skool. Yolanda gaan so besig wees met al die gaste, sy sal nie veel van háár sien nie. En wie anders gaan hier wees wat sy ken? Tien teen een niemand nie.

Sy word hartlik op die stoep deur John verwelkom en vir die geskenkpakkie bedank toe sy dit aan hom oorhandig. Toe sê hy: “Kom binne. En laat ek jou sommer gou voorstel aan my vriend, Brian Phillips. Brian, dit is . . .”

John se woorde vervaag heeltemal toe die man wat skuins agter hom gestaan het na vore tree. Daar hardloop ineens hoendervleis-trillings al met haar rug langs. Haar droomman! Haar regte-egte droomman! Die heel aantreklikste man wat haar oë nog aanskou het! Sy’t moeite om haar oë los te skeur uit sy rokerige, sluimerende blik toe John hom vra om haar tafel toe te vergesel sodat hy as gasheer aandag kan gee aan die ander gaste wat met die stoeptrap opgestap kom.

“Dit sal vir my ’n eer en voorreg wees. Kom, dan gaan stel ek jou aan ons tafelgenote voor, Pikkie.”

Sy stem laat haar dink aan ryk fluweel. Haar naam het nog nooit só soet en mooi geklink nie. Haar arm brand ineens soos vuur toe hy dit liggies aanraak om haar in die rigting van die tafels te stuur. Haar voete raak nie grond nie . . . sy sweef. Haar verstand swymel . . . Toe hy vir haar ’n stoel uittrek langs een van die tafels en sy hom daarvoor bedank, is haar stem so hees dat sy dit skaars herken as haar eie. En toe hy vra of hy vir haar iets kan gaan haal om te drink, is sy genoodsaak om eers asem te skep alvorens sy hom kan antwoord.

Sy staar hom agterna toe hy wegstap. Sy vaste tred, die vitaliteit van sy rugkant, die digtheid van sy swart hare, die deftige duur snyerspak wat sy liggaam vlei . . . Toe hy by die kroegtoonbank verskuil raak agter die ander manlike gaste, kyk sy om haar rond. Die keurig gedekte tafels, dowwe beligting en die gaste wat in die groot onthaallokaal sit of rondstaan met glasies in die hand . . . Sy was al voorheen met sulke glansgeleenthede hier, maar alles is skielik anders. Alles is in ’n waas gehul. Dit laat haar wonder of sy haar nog op aarde bevind, of op ’n vreemde planeet . . .

Sy knip-knip haar oë. Kom dan agter die stoele om die tafel waar sy sit, is almal leeg. Het hy dan nie iets gesê van haar voorstel aan hul tafelgenote nie? Waar is hulle dan? En sy vrou? skrik sy haar skoon nugter. Hy sal mos getroud wees! Sy soort loop nie los rond nie. Hy’s opsigtelik nie meer so jonk nie. Nader aan veertig as aan dertig, as sy moet skat. Haar blik dwaal vinnig oor die rondstaande groepies mense. Daar is so baie mooi vroue, hoe sal sy weet watter een is sý vrou?

Toe hy van die kroegtoonbank af terugkeer, sien sy hom dadelik raak. Dis asof hy kop en skouers bo almal uitstaan, al is hy nie van buitengewone lengte nie. Halfpad tafel toe sluit ’n vrou by hom aan. Sy haak by hom in en Pikkie sien hoe hy na haar afkyk en glimlag. Sy kan kwalik haar teleurstelling onderdruk. Nie net oor hy wel ’n vrou het nie, maar oor hoe sy lyk. By mollig verby, met ’n rok wat haar groot figuur glad nie vlei nie. Oordoenerige bonkige juwele. Sy lyk beslis ook nie meer jonk nie!

Haar verligting is groot toe hy die vrou as sy tante aan haar voorstel. Sy moes kon dink ’n man soos hy sal beter smaak aan die dag lê wanneer dit by die keuse van ’n vrou kom!

Sy tante is nie vriendelik nie. Sy reageer bot en uit die hoogte op Pikkie se vriendelike groet. “Noem my Susan. Ek is nie getroud nie, en is ook nie van plan om te trou nie. Daar is te veel egskeidings en wankelende huwelike.”

Haar houding laat Pikkie ongemaklik voel. Maar gelukkig is daar skielik ’n toestroming van gaste na hul tafel aan wie Brian haar voorstel. Nie dat sy ’n enkele een se naam sal onthou nie, want hy staan langs haar stoel terwyl hy dit doen. So naby dat niks anders registreer nie. En toe hy klaar is met die bekendstelling, kom sit hy op die stoel langs haar en skuif haar glasie nader. Toe tel hy syne op en hou dit na haar uit om daarteen te klink. “Op die heel mooiste meisie hier.”

Sy sagte, intieme stem en die bruin oë wat van onder die lang, sysagte wimpers na haar loer, laat honderde vlinders in haar maag los. “Dankie vir die kompliment, maar miskien kort jy ’n bril,” probeer sy flouweg ’n grappie maak.

Hy lag saggies. “O nee, daar skort niks met my oë nie. Maar vertel my ’n bietjie van jouself. Wat doen jy vir ’n lewe?”

Dit kos inspanning om normaal op al sy vrae te antwoord en nie te laat blyk watter aardskuddende effek hy op haar het nie. En dit bly so. Die ander mense om die tafel vervaag, word net vae skimme. Dis net sy en Brian op die vreemde planeet . . . Net soms wonder sy vaag hoekom hy sy tante as metgesel saamgebring het. Iewers in sy lewe moet daar tog ’n vrou of meisie wees.

Op ’n keer toe sy die badkamer gaan besoek, loop sy Yolanda in die gang raak. “Geniet jy die aand?” vra haar vriendin met oë wat ondeund vonkel.

“O ja, baie. Dankie dat jy my genooi het.”

“H’m, ek sien jy en Brian gesels so lekker. Hóm moet jy nie deur jou vingers laat glip nie, hoor. Sorg dat jy jou kloue behoorlik en diep in hom slaan. Jy sal nie ’n fout maak nie,” sê Yolanda voordat sy verder loop.

Pikkie staar haar agterna. Geluk bars soos ’n seepbel in haar oop. Yolanda sou nie so iets gesê het as hy ’n vrou het nie. Dis amper te goed om waar te wees!

As dit nie vir Brian was nie, sou sy kort ná ete vertrek het. Maar sy is vasgevang deur sy teenwoordigheid. Hy is alles wat ’n vrou kan begeer. Sy kleredrag, ooglopend duur polshorlosie en selfversekerdheid voorspel dat hy in ’n ander klas is. Bepaald nie ’n onderwyser of ’n boer nie. Dis al wat haar ’n bietjie pla. Sy is nie soos Yolanda wat ewe tuis voel tussen die rykstes van die rykes nie. Sy het bloot nie soveel selfvertroue nie.

Toe sy haar weer kom kry, het meer as die helfte van die gaste al vertrek. Hoe traag sy ook al voel om te gaan, sy sal moet afskeid neem. Sy kan nie tot die laaste minuut bly nie. Netnoumaar kom hy agter haar hele aand draai net om hom.

“Hoe het jy hier gekom?” wil hy weet toe sy begin groet.

“Op my eie. Met my motor.”

“Ek sal agter jou aanry.”

Haar hart slaan bolmakiesie. “Dis nie nodig nie, ek sal regkom,” sê sy nogtans halfhartig.

“Ek glo jou. Maar ek verkies nog steeds om toe te sien dat jy veilig jou tuiste bereik. Ek gaan vra net gou my tante of dit reg is dat sy nog ’n rukkie hier kuier.”

Sy kan nie help om op pad huis toe heeltyd te wonder of hulle mekaar na dese weer gaan sien nie. Die bewondering in sy oë . . . Verbeel sy haar sy het op hom ook ’n besondere indruk gemaak? Wat gaan sy doen as sy hom nooit weer sien nie? Dit sal bitter moeilik wees om dié aand te vergeet.

Die huis is in donker gehul toe hulle daar aankom. Wat sal sy reaksie wees as sy hom binnenooi vir koffie? wonder sy. Sy klaar dit vinnig met haarself uit. As sy hom nooi en hy aanvaar die uitnodiging, sal sy weet hy voel tot haar ook aangetrokke. Wys hy dit van die hand, sal dit beteken hy was maar net goed en gaaf teenoor haar omdat hulle albei nie metgeselle gehad het nie.

“Jy wil nie dalk binnekom vir ’n koppie koffie of tee nie?” vra sy oënskynlik ongeërg nadat hy die sleutel by haar geneem en die deur oopgesluit het.

“Ek was bang jy vra my nie.”

Haar hart slaan weer bolmakiesie. “Sit, dan gaan skakel ek gou die ketel aan,” nooi sy toe hulle in die sitkamer kom. Maar hy drentel agter haar aan om leunend teen die kombuisdeur se kosyn te gaan staan. Sy blik is grotendeels versluier agter die lang donker wimpers, maar sy weet hy staar na haar. In haar lewe het sy nog nooit so onhandig gevoel nie. Selfs minderwaardig. Wat dink hy van die klein, eenvoudige tweeslaapkamerhuisie waarin sy bly, die vuil skottelgoed wat Riana in die wasbak gelos het? Intuïsie sê vir haar hy ken nie sulke dinge nie. Sy hele voorkoms spreek van welvarendheid. Sou hy ook ’n advokaat wees?

Op die een of ander manier kry sy dit reg om die koppies en koffie op die skinkbord te sit sonder ’n blaps. Maar toe hy die skinkbord by haar neem, sit hy dit op die kombuis-toonbank neer en kom staan digby haar. So naby dat sy bang is hy hoor haar hart bons. “Pikkie,” sê hy sag in sy fluweelstem, “ek glo baie mans het al vir jou vertel hoe asemrowend mooi jy is. En ek het dit daar by Yolanda-hulle ook al genoem. Maar ek wil weer sê, jy is pragtig.”

Sy weet nie waar om te kyk nie en nael haar blik vas op die lapelle van sy baadjie. “Dankie. Die koffie . . . Sal ons dit in die sitkamer gaan drink?”

Hy antwoord nie. Kyk haar net ’n paar oomblikke stil aan voordat hy sy hande op haar skouers sit. “Ek het vandat my blik vir die heel eerste keer op jou geval het, net een begeerte.”

Dit voel of haar hart dwarsdeur haar ribbes gaan skop. “En dit is?” vra sy met stembande wat amper nie wil funksioneer nie.

“Om jou te soen . . . Mag ek?”

Daar kom nie ’n geluid by haar mond uit nie. Haar stem is weg en haar kop knik asof vanself.

Dis nie die eerste keer dat ’n man haar soen nie. Verskeie mans het dit al gedoen en sy het teruggesoen. Meestal oor sy gevoel het sy skuld hulle iets oor hulle haar uitgeneem het. Soms net uit nuuskierigheid om te sien of hulle emosies in haar kan wek. Maar nog geen soen het haar kop só laat draai, haar verstand só laat swymel nie. Al doller en doller totdat die hartstog so ’n oorhand oor haar kry dat sy hom met vuur terugsoen en met genoegdoening voel hoe dit die drif in hom aanwakker. En toe hy haar omswaai sodat sy met haar rug teen die muur staan om met sy onderlyf teen haar te beur, beur sy terug . . .

Dog, die volgende oomblik is daar ’n lawaai by die voordeur wat hulle albei laat verstyf.

“Wat is dit?” vra hy fronsend.

“Dis . . . my vriendin,” stamel sy oorstuur toe Riana al pratende nader kom.

“Pikkie, waar’s jy? Wie se motor staan in die . . .?” Haar gebabbel stol toe haar blik op hulle val. “O, ek het . . . nie gedink . . . besef . . .”

Pikkie tree selfbewus uit Brian se omarming. “Dis Brian,” sê sy. “En dis Riana, my vriendin van wie ek jou vertel het.”

Riana kom gou oor haar verbasing. “Hallo, Brian,” sê sy en laat haar blik onbeskaamd nuuskierig oor hom gly voordat sy sê: “Jammer ek het julle gesteur. Maar kom, dan gaan stel ek julle voor aan die ander in die sitkamer.”

“Wie is daar?” vra Pikkie met ’n vinnige blik in die rigting van die sitkamer.

“Trix en haar neef en nog ’n paar vriende van haar. Ons het gaan fliek en toe nooi ek hulle vir koffie.”

Pikkie kyk na Brian. “Sal ons sitkamer toe gaan?”

Hy frons effens. “Ek dink ek ry liewer. My tante wag by Yolanda-hulle. Sy sal bekommerd raak as ek draai. Stap jy saam motor toe?”

“Ja, natuurlik.”

Toe Pikkie, gevolg deur Brian, deur die sitkamer na die voordeur stap, wuif sy met haar hand na die groepie mense wat daar sit of rondstaan sonder om notisie te neem van wie sy ken en wie nie. “Verskoon my, ek is nou terug.”

Toe hulle Brian se motor bereik, kyk hy na haar. “Ek glo ons gaan mekaar weer sien, of hoe?”

Sy lig kamma ongeërg haar skouers. “Miskien, as ons mekaar weer raakloop.”

Hy lag saggies. “Ek sal seker maak ons sien mekaar weer. Lekker slaap en dink aan my.” Toe soen hy haar liggies op die voorkop voordat hy inklim en wegtrek.

Sy staar die motor met ’n glimlaggie agterna totdat die agterligte om ’n straathoek verdwyn, en daar is geen twyfel by haar dat hy woord sal hou nie . . . Ek sal seker maak ons sien mekaar weer. Wat het sy gedoen om soveel geluk te verdien?

Die lawaai in die sitkamer staan haar nie aan nie.

Ook nie Riana se nuuskierigheid om te wil weet waar sy aan die Brian-man kom nie. “Ek sal jou later vertel.” En argeloos aan die ander: “Verskoon my, asseblief. Ek kan my oë nie meer oophou nie.” Toe raap sy haar aandsakkie van die bank af op, maar bots met die omdraaislag teen een van Riana se mansvriende.

“Jammer, dit was eintlik ek wat in jóú pad was,” hoor sy hom vaagweg sê toe sy haar na ’n gemompelde verskoning kamer toe haas.

Die lawaai in die sitkamer hou lank aan, maar dit hinder haar nie. In haar verbeelding herleef sy die aand stap vir stap. Van die oomblik toe haar blik op Brian geval het tot by die afskeidsoentjie wat hy haar by sy motor op die voorkop gegee het. Wat beteken dié aangetrokkenheid tot hom? Is sy verlief? Dit moet wees. Want sy was nog nooit só geraak deur ’n man nie!

Sy vou haar hande onder haar kop en staar na die dak. Wat sou gebeur het as Riana nie opgedaag het nie? Haar emosies was bepaald besig om handuit te ruk. Hoe is dit dat sy soen so ’n effek op haar kon hê? Haar verstand so kon benewel dat sy skoon haar inhibisies vergeet het!

Elza Rademeyer Omnibus 5

Подняться наверх