Читать книгу Elza Rademeyer Omnibus 5 - Elza Rademeyer - Страница 6

Оглавление

3

“Mensig, maar jy lyk pragtig!” sê Riana weer toe hulle in die kamer kom. “Maar julle gaan tog seker nie regtig na ’n skoolfunksie toe nie?”

“Nee, man, ek het maar net vir tant Doortjie so gesê. Ek was tog nie lus vir lang verduidelikings nie. Maar sê my gou, dink jy ek lyk goed genoeg vir ’n man soos Brian?”

“Natuurlik. Jy lyk fantasties! En . . . Hoe sal ek nou sê? Smeulend. Ja, dis die woord waarna ek soek . . . smeulend!”

“En my hare?”

Riana beskou haar aandagtig en kom dan nader. “Laat ek net hier langs jou ore so ’n paar haartjies uitpluis. Daar’s hy, nou lyk jou gesig sagter en nog meer misterieus. Maar waar kom jy aan hierdie modieuse uitrusting? Het jy dit spesiaal gekoop om Brian te beïndruk?”

“Nee, ek het dit nie gekoop nie. Dit was ’n geskenk van hom, saam met die blomme.”

Riana gaap haar aan. “ ’n Geskenk van . . . Julle ken mekaar dan skaars! ’n Paar ure. En hy koop vir jou klere! Hoe het hy geweet dit gaan vir jou pas?”

“Onthou, hy werk met modelle en ontwerp self klere. Dit verklaar alles.”

“Slaan my dood!” sê Riana kopskuddend. “Dan het hy sowaar die skoot net so hoog deur soos jy. Maar wat wou jy my wys?”

“Nee, niks. Ek wou sommer net jou opinie hoor oor die klere en dinge.”

“As ek eerlik moet wees, sou ek sê jy lyk té goed. Om só te lyk en saam met ’n gevaarlike man uit te gaan, is eintlik moeilikheid soek.”

“Moet jou nie bekommer nie. Ek is mooi groot en sal na myself kyk.”

Toe hulle weer in die sitkamer kom, is tant Doortjie besig om Frans na sy ouers uit te vra.

“Hulle het saam in ’n motorongeluk gesterf, tante. Maar ek was nog klein en onthou nie veel daarvan nie.”

’n Motor wat buite stilhou, sorg dat Pikkie nie verder na die twee luister nie. Haar hart bons behoorlik in haar keel toe Riana, wat vinnig deur die venster gekyk het, met ’n knipoog vir haar beduie dat dit wel Brian is. Sy haas haar voordeur toe, onwillig om Brian aan Frans en haar tante voor te stel. Tant Doortjie, weet sy sommer, sal net haar mond verbypraat oor die skoolfunksie. “Ek sien julle weer,” sê sy sommer vir almal tegelyk voordat sy die deur oopdraai en Brian in die tuinpaadjie tegemoet loop.

“Meisie, maar jy lyk asemrowend!” sê hy in sy sagte fluweelstem.

Sy glo hy bedoel dit regtig. Sy kan die bewondering in sy oë sien. “Danksy jou present,” sê sy blosend. “Jy lyk nog net so . . .”

“Wat wou jy sê?” vra hy toe sy vervaard swyg.

Sy bloos nog dieper. “Wel, ek wou maar net sê dat jy ook goed lyk . . . net so goed soos laas Saterdagaand.”

Hy lag saggies en trek haar hand deur sy arm om haar na sy motor te lei. “Ek is bly as jy dink ek lyk goed, want ek wil jou nie in die skande steek nie.” En nadat hulle in die motor geklim het: “Wat het jy beplan vir die aand?”

“Absoluut niks nie. Ek laat alle besluite in jou hande.”

“Dink jy nie dis ’n bietjie gevaarlik nie?” vra hy met sy donker oë tergend in hare. “ ’n Man kan maklik kop verloor met so ’n pragtige meisie aan sy sy.”

Sy glo sy bloos weer eens. “Nee, ek dink nie jy sal jou kop verloor nie, hy lyk gelukkig vir my taamlik styf vasgeskroef op jou lyf,” skerts sy en verlustig haar in sy lag.

“Sal ons afskop met ’n ete?” vra hy toe hulle met die verkeer saamsmelt. “Of het jy klaar geëet?”

“Nee, nog nie, hoewel ek die hele dag lank kos gemaak het.”

“Hoe so?”

Sy vertel hom so bolangs van haar tante se besoek aan die stad en dat sy ’n paar dae by haar en Riana gaan kuier. Daarna sit sy haar sommer net en verwonder aan die behendigheid waarmee hy deur die verkeer vleg, en aan sy profiel soos hulle onder die lamppale deur beweeg.

Toe hulle ’n restaurant in Simonstad binnestap, tref dit haar dadelik dat dit nie sommer net nog ’n restaurant is nie, maar ’n eksklusiewe eetplek. Die sagte bankies met hul hoë rugleunings sonder jou af van die ander eters en skep ’n atmosfeer van intimiteit.

“Wat sal jy geniet?” vra hy vir haar toe die wynkelner opdaag. “Wyn of . . .?”

“Ek laat dié keuse ook aan jou oor,” sê sy vinnig, skrikkerig dat sy dalk ’n blaps kan maak, want wat sy van drankies weet, is gevaarlik. “Ek het mos gesê jy kan al die besluite neem.” Die naam wat hy teenoor die kelner noem, sal sy kwalik met baie oefening kan uitspreek, dink Pikkie toe hy die bestelling plaas.

Nadat die wyn gekom en hy sy glasie teen hare geklink het, wil hy weet of sy al voorheen dié restaurant besoek het.

“Nee. Ek het nie eens van die plek se bestaan geweet nie. Ek gaan in elk geval maar selde uit in die aande.”

“Dit glo ek nie,” sê hy ernstig. “Jy maak seker ’n grap, want ek sal nooit glo dat so ’n pragtige meisie soos jy nie elke aand in aanvraag is nie.”

“Wel, jy misgis jou deeglik. Onthou, onderwys is meer as net skoolhou. Daar is baie boekwerk daaraan verbonde wat ná skoolure gedoen moet word. Ek en Riana sit soms tot wie weet watter tyd van die nag en werk.”

“Enersyds verbaas dit my, maar andersyds verbly dit my.” Hy plaas sy hand op hare waar dit op die tafel rus. “Jy sien, ek is self taamlik bedrywig. Dis nie elke dag dat ek tyd vir myself het nie. So, jy sal verstaan as jy tye lank niks van my hoor nie. Maar vertel my van jou werk. Is dit vir jou lekker om met kinders om te gaan?”

“Ek geniet dit, ja. Maar kom ons praat liewer oor jou. Skooldinge is bepaald nie die interessantste onderwerp om oor te gesels nie. Wat doen jy vir ’n lewe?”

Hy loer na haar van onder sy wimpers en glimlag effens. “Ek hoop jy gaan nie van my soort werk hou nie. Want jy sien, ek werk elke dag met van die mooiste meisies in die land.”

Daar vaar inderdaad ’n tikkie jaloesie deur haar, maar sy hou haar stemtoon lig en effens spottend. “Toe maar, dit weet ek al. Yolanda het my vertel jy lei modelle op en dat jy ’n mode-ontwerper is.”

“So? En wat het sy jou nóg vertel?”

Pikkie is skielik genoodsaak om eers haar keel te skraap. “Nie veel nie. Net dat jy geskei is.”

“Ek sien. Het sy daaroor uitgewei?”

“Nee. Mag ek vra wat verkeerd gegaan het?”

Hy trek sy hand terug en leun terug in sy sitplek. “So, Yolanda het my voorgespring. Ek wou dit verlede Saterdagaand al teenoor jou noem, maar ek was bang dit skrik jou af. Ons ken mekaar dan toe nog skaars.”

“Wat het verkeerd gegaan?” vra sy weer toe hy swyg.

“Dis maar een van daardie dinge,” sê hy met ’n effense suggie. “Ons was van die begin af nie regtig vir mekaar bedoel nie. Uiteenlopende geaardhede, sulke dinge. Sy kon haar ook nie versoen met my soort werk nie en het dus besluit om my te verlaat.”

Sy kan haar nie voorstel dat daar ’n vrou op hierdie aarde is wat nie opofferings sal maak om elke dag by hom te wees nie. Dog, hulle is darem nog nie op so ’n voet dat sy dit vir hom sal sê nie. “Is daar kinders?” vra sy dus maar net.

“Nee, gelukkig nie. Maar ek het jou nie uitgeneem om oor morbiede sake te gesels nie. Daar is baie interessanter dinge om oor te praat, of wat sê jy?”

“Ek stem saam,” antwoord sy en hoop sy sal vergewe word vir die noodleuentjie. Want eintlik sou sy wat wou gee om te weet of hy nog iets voel vir sy gewese vrou. Maar hy stuur behendig die gesprek in ’n ander rigting. En dis nie lank nie of sy het skoon vergeet van die vorige vrou in sy lewe.

Sy drink meer wyn as waaraan sy gewoond is, kom dit by haar op toe hy haar glasie vir die derde keer vul. Maar die aand is so wonderlik en hy is so sjarmant dat sy nie wil weier nie. Die kos is ook uitstekend. Alles is sommer net betowerend en volmaak.

Ná ete ry hy nie Bellville toe nie, maar in die rigting van Kampsbaai voordat hy uit die grootpad swenk in ’n smaller paadjie teen die berg uit. Toe hy die motor in die oprit van ’n imposante huis tot stilstand bring, kyk sy nuuskierig na hom. “Wat kom maak ons hier?”

“Dis my huis. Kom, dan gaan drink ons koffie.”

Terwyl hulle die stoeptrap bestyg, kyk sy om en trek verruk haar asem in. “Wat ’n uitsig! Jy bly op ’n lieflike plek.”

“Ek is bly jy hou daarvan,” sê hy sag digby haar oor. Knabbel dan selfs vir ’n oomblikkie daaraan voordat hy sy arm om haar lyf sit en die voordeur oopsluit.

Die vlinders in haar maag fladder weer wild rond toe hy ’n paar dowwe ligte aanskakel en voor haar kom staan. “Pikkie, besef jy hoe ontsettend mooi jy is?”

“Dis maar net oor ek die uitrusting aanhet wat jy vir my gegee het, dis pragtig.”

“Ek het self nie kon dink jy gaan so goed in die klere lyk nie. Maar die vere maak nie die voël nie. Dis jý wat my betower. Jou hele menswees.”

Sy broeiende blik stem haar versigtig. “Gaan jy my nie nooi om te sit nie?”

“Natuurlik,” onthou hy. “Maak jou tuis. Wat van ’n likeurtjie voor die koffie?”

“Ek weet nie. My kop voel nog half lig van die wyn. Moet ons nie maar die likeur los nie?”

Hy lag saggies, intiem. “Jy het gesê ek kan ál die besluite neem. My besluit is dat ons wel eers ’n glasie likeur drink.” Toe streel hy saggies met sy vingerpunte oor haar wang voordat hy na die kroegtoonbank in die aangrensende vertrek stap.

Sy loer vlugtig om haar rond. Alles getuig van duur en goeie smaak. Die gordyne, die egte skilderye teen die mure, die meubels, die rangskikking van potplante en marmerbeelde om die fonteintjie in die een hoek van die vertrek . . . Maar sy terugkeer laat haar feitlik oombliklik daarvan vergeet. Wat ’n beeld van ’n man is hy nie!

“Ek hoop jy hou hiervan,” sê hy toe hy die glasie aan haar oorhandig en oorkant haar op die rusbank stelling inneem. “Een van my modelle het dit vir my saamgebring uit Frankryk.”

“Maar dan het sy dit seker net vir jou bedoel, hoekom deel jy dit met my?” spot sy ligweg, al voel sy weer ’n prikkie jaloesie.

“Omdat jy ’n baie spesiale meisie is. Hoekom is jy nog nie getroud nie, Pikkie?”

Sy vraag laat haar liggies frons. “Hoekom vra jy? Oor ek so oud lyk?”

“Alles behalwe. Jy sal nog maklik kan deurgaan as ’n skolier. As ’n baie pragtige matriekmeisie.” Toe kom hy nader en neem die glasie uit haar hand om dit op die tafeltjie langs haar stoel staan te maak. “Ek vra dit omdat ek nie kan glo jy loop nog vry rond nie. Of het die lewe dit met opset so beskik dat ons twee by mekaar moes uitkom?”

Haar hart tamboer tot in haar keel toe sy opkyk in sy oë. “Ek sal nie weet nie, Brian.”

Hy trek haar uit die stoel op en laat glip sy arms om haar lyf. “Ek glo so. Ek glo dit met my hele hart.”

Ek ook, wil sy sê, maar sy lippe op haar mond verhoed dat sy kan praat. En dan is dit weer so, die wêreld wat om haar draai en tuimel. Sy voel hoe hy haar versigtig na die rusbank du en haar al soenende daarop laat plaasneem. Dan kom sit hy langs haar en woel haar kapsel los sodat haar hare los en krullerig oor haar skouers val.

“Jy’s ’n wonderwerk,” fluister hy saggies by haar oor en laat gly sy hand onder die spleet van haar rok in om haar bobeen te streel.

Sy moet halt roep, sê haar verstand. Maar dit word gekelder deur beroeringe en begeertes en ’n stemmetjie wat sê sy kan die genot van sy liefkosings nog ’n rukkie verduur. Sy ís mos in beheer van haarself. Maar hy soen haar weer, en toe voel sy hoe sy hand na die binnekant van haar bobeen beweeg en al strelende daarteen opkruip . . .

“Nee, wag nou,” sê sy met wilsinspanning en druk sy hand weg. “Waar is daardie koffie waarvan jy gepraat het?”

Hy frons liggies. “Is jy regtig lus vir koffie?”

“Ja, ek is mal oor koffie ná ete,” jok sy blatant.

Hy kom duidelik traag orent. “Nou goed, kom ons gaan maak dit. Maar jy sal moet help. Ek weet niks van koffie maak af nie.”

“Wie sorg dan vir jou?” vra sy toe hulle die kombuis binnegaan.

“Ek het ’n huishoudster, Emily. Maar sy slaap lankal.”

Sy babbel soos ’n regte kletskous, kom dit by haar op toe hulle teruggaan sitkamer toe met die koffie. Maar sy moet by haar sinne bly. Verhoed dat hy weer met sy liefkosings begin.

Toe hul koppies leeg is en hy opstaan om hare in die skinkbord te plaas, staan sy ook vinnig op. “Ons moet liewer nou gaan. Dit raak laat.”

Hy frons liggies en kyk op sy horlosie. “Die aand het kwalik begin. Wat is jou haas?”

“Ek het ’n kuiergas, onthou. Ek voel klaar sleg oor ek my tante sommer die eerste aand alleen by die huis gelos het.”

Hy weifel, maar tel dan tog sy baadjie op van die stoel waarop hy dit neergesit het. “As dit jou wens is, dan maak ons so.”

Hulle ry en later, toe hulle op die stoep van haar en Riana se huis staan, trek hy haar nader. “Ek ry môreoggend vroeg en gaan vir ’n week of wat uitstedig wees. Maar wanneer ek terugkom, sal ek jou kontak. Is dit reg so?”

Sy knik haar kop. “Waarheen gaan jy?”

“Johannesburg toe. Van my modelle gaan daar deelneem aan ’n modeskou.”

“Geniet dit,” sê sy oënskynlik hartlik. Want as dit van haar moet afhang, sou sy eerder wou hê sy modelle moet dit vir hom so mislik maak dat hy dadelik terugkeer.

“Sal jy aan my dink?” vra hy onnodig.

“Ek sal.”

Hy neem die voordeursleutel by haar en sluit die deur oop. “Mooi bly, Pikkie.” Toe soen hy haar weer dat haar verstand swymel voordat hy omdraai en in sy motor gaan klim.

’n Oomblik verstar sy van skrik nadat sy die deur agter haar toegemaak het. Wat klink so onaards? Maar dan val dit haar by van tant Doortjie. Dit kan net haar balkesaery wees wat so deur die huis weergalm. Ook maar goed sy slaap, want die laaste ding waarvoor sy nou lus is, is vir gesels of verduidelikings. Haar blik val op die rusbank. Dit moet seker Riana wees wat haar nagklere en beddegoed hier op die rusbank kom neersit het. Tant Doortjie sal nie glo ’n mens slaap in sulke skamele flentertjies klere nie.

Die volgende oggend vroeg kom sluit Riana by haar in die sitkamer aan. “Ek kan dit nie meer uithou met daardie gesnork van tant Doortjie nie,” sê sy. “En raak sy die slag stil, laat sy my by die vrekte omdraai van skrik.”

“Hoe so?” lag Pikkie oor haar verontwaardiging.

“Nee, laas nag toe ek my oë op ’n keer oopmaak, staan sy mos in my kamerdeur. Boonop in so ’n lang wit gewaad nes ’n spook. En toe ek hardop skree van skone skrik, toe skree sy nog harder. Toe is dit skielik ék wat háár skrikgemaak het. Maar hoe was jou aand? Jy was vroeg terug. En jy moet die hele nag omtrent vas geslaap het, want jy’t nie eens wakker geskrik van my en jou tante se geskree nie. Ook nie gisteraand toe ek en Frans die huis binnegekom het nie.”

“Gits, ek het gedink jy was al in die bed. Hoe laat het julle dan ingekom?”

“So halfeen se kant.” Riana gee ’n laggie. “En toe sien Frans darem iets wat hy seker lank laas gesien het.”

“Wat het hy gesien?”

“Jou pragtige slanke bene, en alles wat daar nog te siene was. Jy lê mos toe bo-op die komberse in plaas van onder hulle.”

“Wat het hy dan hier binne kom soek?”

“Hy’t die deur vir my oopgesluit en die lig aangeskakel.”

“Nou vir wat het hy die lig aangeskakel?”

“Sodat ek kon sien waar om te loop, natuurlik. Ek het vergeet jy slaap hier in die sitkamer. Ek het in elk geval nie gedink jy sal al terug wees nie.”

“Dit was so warm . . . Ek het mos darem ook nie verwag hier sou ’n mansmens opdaag nie.”

“Toe maar, dis nie jou skuld dat hy gesien het wat nie eintlik vir sy oë bedoel was nie. Maar raai wie het ek op die verjaardagpartytjie raakgeloop?”

“Wie?”

“Vir Neville. Hy’s toe al die tyd ’n neef van die vriend van Frans wat verjaar het. Maar ek het nie eintlik tyd gekry om met hom te gesels nie. Hy’t my net twee keer vir ’n dans kom vra, en is kort daarna weg.”

“Was Boetman ook daar?”

“Nee, hy was by ’n tante van hom. So het Neville my vertel terwyl ons gedans het. Ek kan nie verstaan hoekom jy ’n man soos Neville . . . Ag, nee wag, ek het niks met jou liefdesake uit te waai nie. Vertel my van jou aand saam met Brian.”

“Jy hou nie van Brian nie, nè?”

Riana gee ’n suggie. “Ek sal nie sê ek hou nie van hom nie, want ek ken hom nie. Maar hy lyk vir my so wêreldwys. So ’n bietjie té van alles.”

“Jy’t hom skaars langer as ’n paar sekondes gesien. Hoe kan jy hom sonder meer veroordeel?”

“Ag, ekskuus, man. Wat het julle gedoen vir die aand?”

“Ons het in Simonstad by ’n restaurant gaan eet, daarna by sy huis in Kampsbaai gaan koffie drink en huis toe gekom. En hy het hom die hele tyd onberispelik gedra.”

“Ek was verbaas dat julle so vroeg terug was.”

“Dit was nie so vroeg nie. Dit was amper twaalfuur toe ek die lig afgeskakel het. Brian vertrek vanoggend vroeg Johannesburg toe. Van sy modelle gaan daar in ’n mode-skou optree. Hy kon dus nie te laat in die bed kom nie.”

“En dié ginnegapery so vroeg in die môre hier in die sitkamer?” word hul geselsery deur tant Doortjie vanuit die gang kortgeknip. “Pleks julle liewers koffie maak sodat ’n mens die slaap uit jou oë kan kry.”

“Ek sal die ketel gaan aanskakel,” sê Riana.

“En toe, hoe het die skoolfunksie afgeloop?” wil tant Doortjie weet terwyl sy Pikkie se uitrusting van die vorige aand van die een stoel na ’n ander verskuif om regoor haar stelling in te neem.

“Die skool . . . O, baie goed, dankie. Dit het sommer baie goed afgeloop.”

“En wat had jou kollega te sê oor die boosheid wat jy aan jou lyf gehad het?” beduie sy na die klere oor die stoel.

“Ag, die mans in die stede is gewoond daaraan, tante. Al die meisies trek so aan.”

“En toe lê jy nog laastenag poedelkaal hier op die bank en slaap ook.”

“Poedelkaal! Dis nie waar nie.” Sy skuif die kombers eenkant toe. “Kyk, ek hét nagklere aan.”

“Gmf! Daardie deurskynende stukkies lap. Wat steek hulle weg? Net mooi niks! Nee, ek weet nie so mooi nie. Lyk my julle jong meisies van vandag het g’n respekte meer vir julle lywe nie. Vroeër was dit anders. Die meisies was op hul plek. Hulle het nie eens dat ’n man aan hul hand vat voor hulle mekaar ten minste ’n maand lank geken het nie. Deesdae ken hulle mekaar nie ’n dag nie, dan is dit ’n gelek en ’n gesoen. En baie keer is hulle sommer binne die eerste week of wat al saam in die bed.”

“Goeiste, waar kom tante daaraan?” vra Pikkie verstom.

“Ek sien dit op TV en lees dit in boeke. In romans wat ek by die biblioteek uitneem. Hulle beskryf alles daar, partykeer tot in die fynste besonderhede. Die ander dag lees ek waaragtig van ’n man wat ’n vrou bed toe gevat het nog voor hy haar naam geken het!”

“Sjoe! Ek het nie kon dink tante is só op hoogte van sake nie.”

“Onthou net, ek lees dit nie oor ek dit geniet nie. Ek lees dit net sodat ek op hoogte van sake kan bly. ’n Mens moet weet wat in die wêreld aangaan.”

Ook maar goed tant Doortjie is ’n bietjie doof, dink Pikkie toe sy Riana se proeslag in die kombuis hoor.

“Maar is die koffie dan nog nie klaar nie? Hoe lank neem dit julle dan om ’n koppie koffie te maak? En wat eet ons vir brekfis?”

“Ek geniet jou tante se kuier gate uit,” sê Riana later vir Pikkie toe hulle twee alleen in die kombuis is. “Sy’s kostelik.”

“H’m, ek moet sê sy is nogal taamlik mak. Ek hoop net nie dis die stilte voor die storm nie. Gaan jy vanaand uit?”

“Nee, my motor lol al weer. Ek wil in elk geval ook nie tant Doortjie se geselskap misloop nie.”

“So, jy sê jou motor lol al weer. Dis seker wat ’n mens te wagte kan wees as jy ’n bou-inspekteur aan hom laat werk.”

“Ai tog, hoekom is jy so gekant teen die arme Frans? Dis nie weer ’n vonkprop nie, man. Hy trek ’n hond uit ’n bos. Dis heeltemal iets anders hierdie keer. ’n Snaakse geluid. So ’n gegrom iewers vanuit sy bakwerk. Ek het juis netnou vir Frans gebel om te kom kyk wat die fout is. Maar hy sê hy sal nie voor môremiddag hier kan uitkom nie.”

“Dit lyk my tog jy’t ’n ogie op Frans.”

“Nee, glad nie. Die man op wie ék ’n ogie het, is vir my taboe.”

“Wat bedoel jy daarmee? Wie is hy?”

“Dit sal nie help om te sê wie hy is nie, want ek bestaan nie eens vir hom nie. Hy’t sy oog op iemand anders.”

“Wel, solank hy nie getroud is nie, is daar hoop. Miskien moet jy net harder probeer om sy aandag te trek.”

Tot Pikkie se verbasing geniet sy ook tant Doortjie se verblyf by hulle. Sy is definitief veel makker as vroeër. Maar Maandagmiddag op pad na die spesialis is sy die ene senuwees.

“Kind, sê nou die spesjis sê ek is besig om dood te gaan? Ek het nog nie my testament reg nie. Ek het laastenag maar eers besluit aan wie ek my besittinkies gaan bemaak.”

Tant Doortjie lyk skoon verslae toe sy weer in die wag-kamer verskyn nadat sy vir ’n ondersoek in die spreek-kamer was. “Kind, die dokter sê ek moet hospitaal toe. Hy sê hy’t nie al die masjiene en goed hier om te kyk wat met my verkeerd is nie. Hoe maak ons nou?”

“Wanneer moet tante by die hospitaal wees?”

“Hy’t gesê ek moet vanaand al daar wees. Mag glo niks verder eet of drink ook nie. Dan gaan hy môreoggend die toetse en dinge doen.”

“Dan moet ons nou gou vir tante nagklere by die huis gaan haal.”

Tant Doortjie is skielik so mak soos ’n lammetjie. En lyk so beangs toe Pikkie haar ’n ruk later in die hospitaal groet dat sy haar jammer kry. “Moet nou nie bekommerd wees nie. Ek sal tante môremiddag net ná skool weer kom oplaai.”

“As ek nog lewe.”

“Natuurlik sal tante lewe. Springlewendig en sonder pyne. Miskien is daar niks eens met tante verkeerd nie.”

“Ek hoop tog so. Julle moet vir my bid, hoor. Jy en Riana en sommer daardie gawe Goedhardt-mannetjie ook. En laat weet tog maar vir jou ma-hulle waar ek my nou bevind.”

Dinsdagmiddag toe Pikkie by die hospitaal kom, sit tant Doortjie kiertsregop op die bed vir haar en wag. “Hier, vat my soetkys dat ons wegkom hier,” sê sy nog voor Pikkie kan groet. “Hoekom is jy so laat? Hou julle dan tot vieruur in die middag skool?”

“Nee, maar die verkeer het my opgehou en daar was ’n personeelverga-”

“Hoe kom ’n mens uit hierdie plek?” onderbreek tant Doortjie haar verduideliking. “Ek het my al mal gesoek na ’n buitedeur, maar dit lyk my die plek het nie so iets nie. Net gange waar jy kyk.” En toe hulle by Ontvangs kom, swaai sy haar kieriepunt gevaarlik naby aan die meisie agter die toonbank se neus. “Loop sê vir daai spesjis ek, Dorothea Susara Magdalena Broodryck, sê hy moet in sy malle maai vlieg met sy operasie! Hy sal hom wat verbeel voor ek my laat uitroei! Vir al wat ek weet, is dit net om my galblaas in iemand anders in te plant.”

Pikkie weet nie waar om te kyk nie. Al die mense in die wagkamer staar hulle aan. Maar tant Doortjie steur haar min. “Kom, Pikkie, laat ons loop. Dis nie ’n hospitaal dié nie, dis ’n geldmaakbesigheid. Hulle sal jou tot die laaste sent toe leegsuig. Dink seker ek is ’n pampoen!”

Pikkie waag dit liewer nie om ’n woord te sê nie. Gryp haar net aan die arm en rem haar buitentoe. Eers toe hulle veilig in die motor is, vra sy: “Hoekom is tante so kwaad?”

“Jy vra nog! Maar wag, ek sal jou liewers by die huis vertel wanneer Riana by is. Anders moet ek die hele storie nog weer vir haar ook vertel. Pasop, kind, kyk wat vang hierdie padvark aan! Hy kom ry waaragtig reg voor jou in!”

“Dis nie so erg nie, tante. Hy is op vinnige spoed.”

“Nou hoe die duiwel draai hierdie ruite van jou af?”

“Hulle werk outomaties, tante. Maar hoekom wil tante dit oopmaak? Kry tante warm?”

“Ek wil vir daai ongeskikte terroris wys wat ek met hom gaan maak as ek hom in die hande kry! Og, dis ook nou klaar te laat. Kyk waar jaag hy al.”

Tant Doortjie is weer die tante wat sy ken, dink Pikkie by haarself. Skel op al wat ’n motoris is en gaan so te kere met haar kierie dat Pikkie wonder wanneer sy ’n gat deur die motorruit gaan slaan. Dus is sy maar te dankbaar toe hulle die huis nader. Maar haar dankbaarheid is van korte duur toe sy Frans se motor in die systraat sien staan. Dít ook nog, dink sy sugtend. Asof sy nie al deur genoeg dinge is vir die middag nie.

Hy sit heerlik agteroor in ’n stoel saam met Riana en koffie drink toe hulle die sitkamer binnekom en begroet haar boonop spottenderwys met: “Ek dag jy’t al begin met die bou van die afdak. Hoe draal jy dan so?”

Sy verwerdig haar nie om te antwoord nie. En sou buitendien ook nie kans gekry het nie, want tant Doortjie trek dadelik los met: “Mensig, wat ’n dag! Hulle had my byna dood daar by die hospitaal, en toe verongeluk die terroriste ons ook nog amper op pad hiernatoe.”

“Terroriste?” vra Riana. “Wat het gebeur?”

“Tant Doortjie bedoel eintlik motoriste,” help Pikkie haar reg. “Die verkeer was net een te veel vir haar senuwees.”

“Foei tog, laat ek gou vir julle ook gaan koffie skink.”

“Nee, wag eers,” keer tant Doortjie. “Laat ek julle eers vertel van daardie ongeskikte mense by die hospitaal. Dis vreeslik soos hulle met ’n ou mens aangaan.”

“Hoe so?” vra Riana.

“Nee, om mee te begin, het hulle my waaragtig kaalstert laat uittrek en my die hele môre in ’n agterstevoor nagrok wat nie eens van agter kan toeknoop nie laat rondloop. Van die een kamer na die ander. Ek kon naends nie eens meer byhou met die tel van al die vertrekke nie. En al die goed waarmee hulle my lyf beplak het! Geen genade vir ’n ou mens nie!”

“En toe?” hits Riana haar aan, dik van die lag.

“Nee, hoe meer ek vir hulle sê ek wil teruggaan na die kamer toe waar my klere is, hoe minder steur hulle hulle aan my. Dit paai net die hele tyd. Tot ek naends so dik was vir die hele spul dat ek gedreig het om die minister te gaan sien. Eers tóé weet hulle my terug te vat na die spesjis toe.”

Pikkie loer in Frans se rigting, maar ruk haar kop dadelik weg toe sy sien sy blik is op haar. “En wat was die spesialis se bevinding toe?” probeer sy haar ongemak verbloem en ook sommer om die tirade kort te knip.

“Nee, vertel my toe eers hoe goed en sterk my hart nog is. Wil toe ook weet of ek aan ’n siekefonds behoort en al sulke dinge. En toe weet hy my te vertelle daar is ’n hele klomp dingetjies wat nou nie reg is nie, maar gelukkig reggemaak kan word. Onder die mes nogals! Praat hy van ’n mantelvliesbreuk, vergroeisels én dat my galblaas ook moet uit! En reken, hy wil my toe sommer daar in die hospitaal hou! Maak toe so ewe sommetjies ook oor wat dié spul operasies sal kos! ’n Enorme bedrag! Ek het amper my vals tande ingesluk.”

“En toe?” hits Riana weer eens aan.

“Toe sê ek vir hom ek mag oud wees, maar met my verstand skeel daar niks. Ek sien dwarsdeur sy geldmaak-storietjies. En of hy nie skaam kry om ’n arme weduwee so te wil uitbuit nie!”

“Wat sê hy toe?” vra Pikkie, nou self nie ver van lag af nie, en bewus daarvan dat Frans ook moeite het om sy lag te bedwing al hou hy sy gesig sedig.

Tant Doortjie is te opgewerk om die ander se geamuseerdheid raak te sien. “Nee, toe wip hy hom mos. Weet hy vir my te vertel hy het net goeie bedoelings met sy pasiënte, en dat dit darem nie reg is dat ek hom só behandel nadat hy sy beste vir my gedoen het nie. Ewe sedig met ’n vroom gesig, maar ek is nie ’n aap nie. Ek kon mos sien hy was dik die duiwel in oor die geld wat hy nie uit my gaan kry nie.”

“Maar, tante, dit klink dan vir my tante sal tog maar vir ’n operasie moet gaan,” sê Riana. “Ek meen, as tante ’n mantelvliesbreuk het, en daar’s fout met tante se galblaas . . .”

“Watwou! Oor my dooie liggaam sal ek aan my laat sny. Ek is vier en tagtig jaar oud en daar is nog nooit aan my binnegoed gepeuter nie. Hulle het my gebring waar ek vandag is, en hulle sal saam met my graf toe gaan. Vir wat wil ek in elk geval horingoud staan en word? Jy’s tog net in ander se pad as jy nie meer vir jouself kan sorg nie. Maar waar’s daardie koffie waarvan julle vaneffe gepraat het?”

“Ek sal dit gaan maak,” sê Pikkie, maar Riana spring haar voor deur eerste op te staan.

“Nee, sit jy. Ek is seker jy’s doodmoeg ná al vanmiddag se gebeure. Ek gaan dit gou maak.”

“Verskoon my ook,” sê tant Doortjie. “Ek wil vir my iets anders gaan aantrek voor ek koffie op my kerkrok mors.”

“Klink of jy ’n interessante middag gehad het?” sê-vra Frans toe hulle alleen in die sitkamer agterbly. “Met al die hospitaal se dinge en toe nog die terroriste op die pad ook!”

“Is jy besig om met my die spot te dryf, meneer Goedhardt, of met my tante?”

“Met nie een van julle nie. Ek het maar net na iets gesoek om oor te gesels.”

“Ek dink nie dis nodig dat ons hoegenaamd oor enigiets gesels nie.”

“Goed, dan sit ons maar net so in stilte vir mekaar en staar.”

“Dis ook nie nodig om mekaar aan te staar nie,” sê sy vererg. “Daar is baie ander dinge om te doen!”

“Soos wat?”

“Hoekom gaan maak jy nie liewer jou erf skoon nie?”

Hy frons. “My erf?”

“Ja, jou erf. Hoekom gaan sleep jy nie liewer die ou motorwrakke wat daar lê weg nie? Hoekom is jy knaend daarop uit om my te verpes?”

Hy kyk na die venster se kant toe. “Ek sal mos sukkel met die wrakke, dis dan amper donker.”

Sy weet nie wat om te antwoord nie. Weet ook nie waar sy aan haar katterigheid kom nie. Maar die mansmens het nou eenmaal die vermoë om haar bloeddruk op te jaag.

“Dis ’n mooi koffietafeltjie dié,” sê hy oplaas toe die stilte selfs vir haar begin ongemaklik raak en haar oë al traan van die stip staar na die venster se kant toe. “Ek het nog nie voorheen so een gesien nie.”

“Jy sou ook nie, want my pa het dit gemaak.”

“Dis baie knap gedoen. Doen hy ander houtwerk ook?”

“Nee. Net as ’n mens aanhou dat hy iets vir jou moet maak.”

“Waar het hy geleer om houtwerk te doen?”

“Dis sommer ’n stokperdjie wat hy homself geleer het nadat hy ophou boer het.”

“O, hy boer dus nie meer nie. Wie behartig dan nou die plaas?”

“Hy’t die plaas verkoop.”

“Woon hy nou op die dorp?”

“Ja. Maar ek weet nie hoe lank dit gaan vat voor hy weer ’n stukkie grond gaan aanskaf nie. Hy verveel hom so dat my ma dit nie kan uithou met hom in die huis nie.”

Toe Riana ná nog heelwat vrae en antwoorde met die koffie opdaag, kom Pikkie agter haar en Frans se geselsery het al tot amper op ’n beskaafde vlak gevorder.

Sy hou niks daarvan nie en staan dadelik op met ’n ver-skoning dat sy aandete wil gaan maak.

“Wat van jou koffie?” vra Riana. “Ek het dit mos nie verniet gemaak nie.”

“Ek vat dit sommer saam kombuis toe. Tant Doortjie hou daarvan om saans vroeg te eet.”

Hoe lank gaan Brian weg wees? wonder sy toe sy in die kombuis kom. ’n Week of wat kan beteken sy gaan hom dalk vir twee weke of langer nie sien nie. Hoe gaan sy die dae omkry? Aan wat hy daar in Johannesburg doen, wil sy liefs nie dink nie. Dis niks lekker om te weet hy is elke dag omring deur skoonhede nie.

Elza Rademeyer Omnibus 5

Подняться наверх