Читать книгу Elza Rademeyer Omnibus 5 - Elza Rademeyer - Страница 7

Оглавление

4

Dis nie lank nie of Riana het tant Doortjie omgepraat om langer by hulle te kuier. “Ons geniet tante se geselskap so, hoekom wil tante nou al teruggaan?”

“Kind, wat gaan ek dan nou hier doen? Daar by my huis het ek darem my hanslam en hennetjie om te versorg. Ek kan mos nie so ledig sit nie. En julle kom dan smiddae wie weet watter tyd eers van die skool af.”

“Kan tante hekel?”

“Natuurlik kan ek hekel. Watter vrou van my ouderdom kan nie hekel nie?”

“Dan gaan koop ek sommer nou vir tante hekelgare en ’n hekelpen.”

“Nou maar as julle dan so aanhou . . . Ja, ek sien hoeka jul koffietafel het nie eens ’n kleedjie nie. Maar ek bly net op een voorwaarde: dat ék vir ons kos maak. So, koop sommer ertappels ook. En vleis en groente. Ek weet nie van hierdie blikkieskos van julle af nie.”

Vir Pikkie gaan die dae gans te stadig verby. Haar verlange na Brian word by die dag groter. Hoekom bel hy haar nie? Sy het tog die ander aand haar selfoonnommer vir hom gegee. Sy het ook nie sy nommer nie. Nie dat sy hom maklik ongevraagd sou bel nie, maar darem. Hy is seker maar baie besig.

Op ’n dag toe sy van die skool af kom, is haar verlange na hom so groot dat sy Kampsbaai toe ry. Net om sy huis te sien, sal help om haar verlange draagliker te maak, glo sy. Maar toe sy die huis nader, sien sy ’n ander motor buite in die oprit stilhou. Sy rem dadelik en haar hartklop versnel. Dalk is dit hy. Miskien het hy so pas teruggekom. Maar dis ’n vrou wat uit die motor klim en na die voordeur stap. ’n Baie mooi en smaakvol geklede vrou. Dalk een van sy modelle? Maar wat kom maak sy dan hier by sy huis? Sy sal mos weet hy is in Johannesburg.

Sy pas natuurlik sy huis vir hom op, verjaag sy vinnig die groenoog-monstertjie op haar skouer toe sy sien die meisie sluit die voordeur oop en verdwyn na binne. Iemand moet tog sy potplante nat maak. ’n Paar oomblikke oorweeg sy dit om te gaan aanklop om te hoor of die vrou sy selfoonnommer vir haar kan gee. Maar haar moed begewe haar. Hy vra dalk waar sy aan die nommer kom, en sy wil darem nie hê hy moet weet sy is só erg oor hom dat sy glad by sy huis ’n draai gaan maak het nie.

Die vrou bly ook so lank binne besig dat sy maar naderhand omdraai en terugry huis toe. Daar aangekom, wil Riana weet hoekom sy so laat is. “Neville is so pas hier weg. Hy’t lank vir jou gewag, maar het toe maar geloop.”

“Neville? Maar hoekom het hy my nie gebel en gesê hy kom nie?”

“Hy was in die stad en het op ’n ingewing besluit om hier aan te kom.”

“O. Wel, dan is dit nie my skuld dat ek nie hier was nie.”

“Ek het darem vir hom koffie gemaak.”

“ ’n Gawe man,” sê tant Doortjie. “Aansienlik ook. Maar sonder vrou. Riana sê sy dink hy’s geskei. En vir geskeide mans moet ’n mens lig loop. Dis selde dat hulle onskuldig is. Hy’t seker maar sy vrou verneuk.”

“ ’n Mens kan hom nie sonder meer beskuldig nie,” sê Pikkie vinnig. “Dit kan dalk net andersom wees, dat sy vrou hóm verkul het.”

“Vir wat sal ’n vrou so ’n aantreklike man verkul? Nee wat, hy ís skuldig.”

“Alle geskeide mans is nie altyd skuldig nie,” tree Riana ook toe tot die gesprek. “Die vroue dra baie keer die skuld.”

“H’m, sorg julle twee maar net dat julle wegbly van geskeide mans. Daar is genoeg jong kêrels in die land.”

Toe die naweek aanbreek, dink Pikkie by haarself dat Riana tant Doortjie se geselskap darem werklik baie geniet, want wanneer laas was sy vir ’n aand uit? Dis ook nie eens dat sy baie skoolwerk huis toe gebring het nie.

Haar verbasing is nóg groter toe Riana Vrydagmiddag vir haar sê Stephan het haar genooi om saam met hom te gaan dans, maar sy’t besluit om liewer die aand tuis deur te bring.

“Jy’s dan so dol oor dans. En jy’t nog altyd gesê ’n beter dansmaat as Stephan sal ’n mens nêrens kry nie.”

“Ag, ek is net nie lus vir hom óf vir dans nie. Hy dans wel lekker en alles, maar partykeer verveel sy geselskap my so dat ek eerder na ’n papegaai sal luister as na hom.”

“Jy moenie nou al begin met oujongnooistreke nie, eers van volgende jaar af. Ek hoop nie jy voel verplig om hier te bly ter wille van tant Doortjie nie. Ek gaan vanaand nêrens nie, so ek kan haar geselskap hou.”

“Man, ek het jou mos gesê ek is nie lus vir uitgaan nie. Los my tog uit,” sê Riana skielik so geïrriteerd dat Pikkie haar maar net verslae agterna kyk toe sy opstaan en by die vertrek uitstap.

Die Sondagoggend toe sy en tant Doortjie van die kerk af kom en in die oprit stilhou, kyk tant Doortjie om haar rond. “Is hier nie van julle bure by wie julle ’n garage kan huur nie? Die motors kan mos nie so in die son staan en verrinneweer nie.”

“Ons was van plan om ’n afdak hier te bou sodat albei motors darem onderdak kan wees, maar toe kom steek Frans Goedhardt ’n stokkie voor ons planne.”

“Hoe dan so?” wil tant Doortjie weet.

“Nee, hy is mos die bou-inspekteur van die area. Hy sê ons gaan ’n gemors maak van die besigheid. Hy gaan nie toelaat dat ons ’n afdak hier opsit nie.”

“Gmf! En vir wat hou hy hom so rammetjie-uitnek? Ek hou van die mansmens, maar wie gee hom die reg om vir julle te wil voorskryf? Het julle dan nie die huis en erf wettiglik gekoop nie?”

“Ons het, ja.”

“Nou maar dan is dit jul eiendom en kan julle mos daarmee maak wat julle wil!”

“Ek het ook so gedink, maar –”

“Kyk, as ek julle is, steur ek my nie aan hom nie,” onderbreek tant Doortjie haar sin. “Julle karre kan g’n so in die wind en weer staan nie. Laat bou die ding.”

“So, tante dink ook ons moet voortgaan?”

“Natuurlik!”

“Dan gaan ek sommer nou vir oom Jorrie vra wie die man is wat sy garage gebou het. Hy bly net ’n entjie hiervandaan. Tante kan maar solank ingaan huis toe. Ek stap sommer oor na hom toe.”

Op pad na oom Jorrie se huis oorval die twyfel Pikkie. Haar beterwete sê lankal vir haar die afdakstorie gaan nie werk nie. Dis sommer net moeilikheid soek om daarmee voort te gaan. Maar Frans se koppigheid . . . Eintlik is dit sy koppigheid teen háár koppigheid, en sy is glad nie lus om as verloorder uit die stryd te tree nie.

Dit kan nie kwaad doen om ’n bouer se opinie ook in te win nie. Hy kom dalk met ’n plan vorendag wat kan werk.

Oom Jorrie is nie baie behulpsaam nie. “Jong, ek weet nie. Die man wat vir my gebou het, het hoeveel stories gehad toe ek vir hom sê die dak lek. Ek sal jou beduie waar hy bly, dis net ’n paar huise hiervandaan, maar julle moet goed dink voor julle hom kry om vir julle te werk.”

Sy stap sommer van oom Jorrie af na die bouer se huis. En daar aangekom, wis sy dadelik dat hy nie die soort man is na wie sy soek nie. Die onnetheid van sy werf, die barste in sy eie huis se afgeskilferde mure en die blik bier in sy hand sê vir haar dis nie die soort bouer waarna sy soek nie. Dog, sy is nou daar, dus vra sy hom maar om vir hulle ’n kwotasie te kom gee vir die oprigting van ’n afdak.

Hy lig sy vuil hoed en krap sy kop. “Ek is ’n bietjie besig op die oomblik,” sê hy, “maar ek sal so gou dit vir my moontlik is ’n kwotasie kom gee. Waar bly jy?”

“Het jy toe reggekom?” wil tant Doortjie weet toe sy weer by die huis kom.

“Hy sal ’n kwotasie kom gee.”

“Gaan jy sowaar voort met jou planne?” vra Riana fronsend.

Gedagtig daaraan dat Riana dalk vir Frans Goedhardt sal vertel van haar bedenkinge, knik sy haar kop. “Ja, natuurlik gaan ek daarmee voort.”

“Sonder bouplanne?”

Pikkie lig haar skouers oënskynlik ongeërg. “Sonder bouplanne. En jy kan jou Frans-vriend maar daaroor inlig as jy wil.”

“Dis reg, Pikkie,” kry sy tant Doortjie se ondersteuning. “As jy ’n man een keer oor jou laat loop, doen hy dit elke keer. Ons vroue moet staan op ons regte.”

Riana se wenkbroue lig. “Goed, maak soos jy wil. Maar ek onttrek my van die hele besigheid. Dis nou tussen jou en Frans.”

Dié daag hoeka die aand daar op om by Riana te kom koffie drink. En sy is vinnig om hom oor Pikkie en tant Doortjie se planne in te lig.

“Jy gaan jou vingers lelik verbrand,” is al wat hy vir Pikkie sê. Toe verdwyn hy en Riana na buite om ’n hele ruk later eers weer die huis binne te kom.

“Ons het nou ’n ander plan uitgewerk,” sê Riana nadat hulle gaan sit het. “Frans sê daar is genoeg spasie aan die agterkant van die garage om –”

“O, dan vlieg ons met die motors oor die huis se dak om by die afdak te kom!” val Pikkie haar sarkasties in die rede.

“Nee, man. Wat hy eintlik bedoel, is dat ons die garage aan die agterkant verleng. Dan het ons ’n tandem-garage.”

“Wat vir ’n ding is dit?” vra tant Doortjie. “Klink vir my nes iets soos tameletjie. Ek dag dan tameletjie het iets met konfyt te doen?”

“Nee, dis ’n dubbelmotorhuis,” verduidelik Riana laggend. “Ons verleng die bestaande garage sodat die motors agter mekaar staan. Dit sal weliswaar ’n bietjie meer kos as ’n afdak, maar dan is ons motors albei onderdak en veilig.”

“So. En hoeveel meer gaan dit ons kos?” wil Pikkie weet.

Riana kyk na Frans wat meer geïnteresseerd in die koffietafel blyk te wees as in die geselskap om hom. “Wat dink jy gaan dit ons kos, Frans?”

“Die aanbouing? Dit sal heelwat meer kos as ’n afdak, maar dan is dit ten minste ’n wettige struktuur.”

“Heelwat meer. Dan moet ons seker geld gaan steel om dit te bou,” sê Pikkie smalend. “Ons kan kwalik die sinkplate en pale vir ’n afdak bekostig!”

“Sinkplate!” sê tant Doortjie fronsend. “Wou julle die afdak dan van sinkplate gebou het? Hoe gaan só ’n gedoente lyk?”

Almal kyk skielik na Pikkie. Frans ook. En sy kan haar kop op ’n blok sit hy kry lekker.

“Ons verf dit mos. Niemand gaan weet dis van sinkplate nie,” sê sy met haar blik vas in dié van die moedswillige mansmens oorkant haar. Maar dan is dit plotseling asof sy donker kykers haar wil nader trek. Sy kyk vinnig weg. “Dis klaar gereël. Die bouer kom dit oprig sodra hy die werk waarmee hy nou besig is, afgehandel het.”

Dis Riana wat behendig die gesprek in ’n ander rigting stuur. Pikkie vertoef ook nie veel langer in die sitkamer nie. Toe tant Doortjie verskoning maak en opstaan om ’n bietjie te gaan rus, gryp sy ook na ’n verskoning om haar uit die voete te maak. Die laaste ding wat sy wil doen, is om langer in die teenwoordigheid van Frans Goedhardt te vertoef. Die man ontstig haar totaal! As dit nie deur woorde is nie, is dit met sy oë. Hy laat ’n rebelsheid in haar los wat sy nie kan beheer nie.

Maandagoggend het sy pas haar motor by die skool geparkeer of een van die onderwyseresse kom na die parkeerterrein aangedraf. Sy verwonder haar nog aan juffrou Siebert se potsierlike ronde lyfie wat so skud en skommel, toe kom steek sy langs haar motorvenster vas. “Het jy gehoor van meneer Britz, ons skoolhoof?” vra sy uitasem.

“Nee, wat van hom?”

“Hy’t gisteraand ’n hartaanval gehad. Op die plek morsdood!”

“Wát?” adem Pikkie geskok.

“Sy vrou het ’n dokter ontbied, maar daar was niks meer wat hulle vir hom kon doen nie.”

Sy onverwagte dood is ’n groot skok. Dit plaas ’n demper op al die skoolverrigtinge, want al was hy streng, was hy nooit onregverdig nie. Die leerlinge het baie van hom gehou. Leerkragte en leerlinge is dus ewe verslae.

Dis of Pikkie steeds in ’n dwaal verkeer toe sy die middag huis toe ry. “Ek kan nie glo hy is so skielik weg nie,” sê sy vir Riana. “Hy sou weliswaar die einde van die jaar afgetree het, maar dit bly ondenkbaar dat ons hom nooit weer sal sien nie.”

“Ja, jong, dis maar soos die lewe is. Vandag is jy nog hier en môre is jy weg. Julle sal seker nou maar sonder ’n skoolhoof voortgaan tot die end van die jaar, of hoe?”

“Ek glo so. Die onderhoof sal seker maar in sy plek waarneem vir hierdie laaste kwartaal ná die skoolvakansie.”

Die verslaentheid in die skool duur die hele week voort. Pikkie se leerlinge was nog nooit so stil en bedees nie. Selfs haar verlange na Brian is nie so fel nie. Hy leef ten minste en is nie deur die dood van haar weggeneem nie. Een van die dae kom hy terug en gaan sy hom weer sien. Vrydag word meneer Britz begrawe, en niemand gaan hom ooit weer sien nie.

Sy slaap sleg. Oor die onverwagte dood van meneer Britz, oor die impak wat dit op die skool en kinders gaan hê, en dan is daar nog Frans en die afdakstorie ook. ’n Tandem-garage is ’n goeie idee, maar om Frans Goedhardt sy sin te gee . . .

Vrydagmiddag toe sy van meneer Britz se begrafnis af tuiskom, tref sy Neville en Boetman saam met Riana en tant Doortjie in die sitkamer aan. Hy groet haar met die hand en sê dan half verleë: “Ek hoop nie jy dink ek is ’n laspos nie.”

“Nee, hoekom sal ek so dink? Jy en Boetman kan gerus sommer bly vir aandete. Ek is seker tant Doortjie sou genoeg kos gemaak het. Sy kook altyd asof ons ’n koshuis besit.”

“Ja, daar’s oorgenoeg kos,” stem tant Doortjie saam.

“Vir hoe lank kuier tante nog?” vra Neville belangstellend.

“Nie meer vir lank nie. Ek moes eintlik lankal op die trein geklim het, maar Pikkie en Riana wil my nie laat gaan nie. Ek is klaar met die koffietafel se kleedjie. Nou hekel ek net ’n lappie om onder die blompot daar op die hoektafeltjie te sit. Sodra ek daarmee klaar is, gaan ek huis toe.”

So, nou word haar naam ook sommer by Riana s’n gevoeg, asof sy haar ook nie wil laat huis toe gaan nie, dink Pikkie by haarself. Dis nie dat sy omgee nie, maar wanneer Brian terug is, kan dit probleme skep. Sy is in die eerste plek nie van plan om saans tuis te bly ter wille van tant Doortjie as Brian haar wil uitneem nie. En in die tweede plek weet sy nie wat Brian van haar tante gaan dink nie. Sy kan soms so platvloers wees. Soos die dag daar by die hospitaal.

Boetman staan onseker rond, kom steek dan skamerig voor Pikkie se stoel vas. “Kan ek maar ’n bietjie op tannie se skoot sit?”

“Natuurlik kan jy. Kom, ek help jou op.”

“Ek gaan vir ons koffie maak,” sê Riana.

“Ja, dit sal lekker smaak,” sê tant Doortjie. “Ek wag al hoe lank dat iemand aanbied om vir ons drinkgoed te gaan maak.”

Neville en Boetman kuier op die ou end tot laataand. Tant Doortjie het naderhand gaan slaap. Eers toe Riana sê sy gaan ook kamer toe, staan Neville op om Boetman van Pikkie se skoot af op te tel waar hy ná ete weer aan die slaap geraak het. “Dis tyd dat ons ook huis kry. Baie dankie vir die lekker ete, en julle moet lekker slaap.”

Toe Pikkie saam met hom motor toe wil stap, keer hy haar. “Nee, bly liewer in die huis. Dis koel buite.”

“Jy is ’n ander een,” beskuldig Riana haar toe sy motor buite wegtrek. “Hy maak allerhande planne om by jou uit te kom, en dan gaan sien jy hom nie eens buite af nie.”

“Maar ek moedig hom nie aan om vir my te kom kuier nie, en dis hý wat gesê het dis koel buite. Hoe gouer hy in elk geval verstaan dat ek nie planne het om met hom ’n verhouding aan te knoop nie, hoe beter.”

“Jy het voorwaar die skoot hoog deur oor Brian, om ’n man soos Neville deur jou vingers te laat glip.”

“As jy dink hy’s so wonderlik, hoekom vat jy hom nie vir jou nie?” vra Pikkie ongeërg. “Dink net, dan kry jy sommer ’n kind ook op die koop toe.”

“Het jy darem al van Brian gehoor vandat hy weg is?”

“Nee. Maar hy het gesê hy kontak my sodra hy terug is.”

Die volgende dag, toe Riana van die winkel af kom nadat sy gaan melk koop het, druk sy ’n koerant in Pikkie se hande. “Kyk ’n bietjie wie pryk op bladsy drie.”

“Wie?”

“Kyk self.”

Toe sy omblaai, bokspring haar hart. “Dis Brian!”

“Brian en vier van sy modelle. Ek het net die onderskrif gelees. Wat staan daar nog?”

Pikkie se blik vlieg gretig oor die beriggie. “Nie veel nie. Net dat die modeskou ’n groot sukses was en dat twee van sy modelle Saterdag na Londen vertrek vir ’n modeskou daar.”

“Waarna kyk julle?” vra tant Doortjie skielik agter Pikkie.

“Sommer na . . . iemand wat ons ken,” sê Pikkie en mik om om te blaai. Maar tant Doortjie is nie daarmee tevrede nie.

“Wag, laat ek ook sien. O, en watter van dié mense ken julle?”

“Pikkie ken hierdie man,” sê Riana en wys na Brian se foto.

“Nou van waar ken jy hom dan? Wag, laat ek eers lees wat hier staan.” En toe sy klaar gelees het: “Gmf, is hy ’n mán?”

“Tante kan mos sien hy’s ’n man.”

“Wat ek bedoel, is of hy ’n régte man is. ’n Man wat hom met sulke vroumensdinge besig hou . . . Dit laat mens wonder.”

Riana gee ’n laggie. “Pikkie het hom al gesoen. So sy sal weet of hy ’n regte man is of nie.”

Tant Doortjie kyk fronsend na Pikkie. “Gesoen? Van waar ken jy hom dan?”

Pikkie werp ’n verwytende blik na Riana. “Dit was net ’n soentjie om dankie te sê dat ek saam met hom uitgegaan het.” Toe kyk sy weer waarskuwend na haar vriendin.

“Uitgegaan het waarheen?”

“Gaan uiteet het.”

Tant Doortjie bestudeer die foto aandagtig. “Wat doen hy? Hy kan tog seker nie ’n bestaan maak deur van meisies modelle te maak nie.”

“Hy maak ’n baie goeie bestaan daaruit. Hy’t drie sulke opleidingskole. En hy is ’n klereontwerper ook.”

“Slaat my dood! Ek wonder wat jou pa van so ’n vroumensagtige man gaan dink.”

“Hy’s allesbehalwe vroumensagtig,” vererg Pikkie haar.

“Hoe oud is hy?” vra tant Doortjie asof sy Pikkie glad nie gehoor het nie.

“Ek weet nie. Seker so in sy middel-dertigs.”

“Is hy nog ongetroud?”

“Ek sal mos nie met ’n getroude man uitgaan nie.”

“Geskei?”

“Wel . . . ja,” erken Pikkie traag. Verwonderd dat tant Doortjie só ’n vraag vra.

“H’m, ek het so gedink. Hy is te oud om nog los te loop. En dat hy geskei is, verbaas my nie. Dis te verstane dat ’n man wat sy tyd met sulke mooi meisies verwyl nie die versoeking sal weerstaan om deur die draad te loer nie. Nee wat, gee maar vir my ’n man wat met sy hande werk en eerder na sweet as na laventel ruik. Iemand soos my oorle Gawie.”

“Hoe het tante en oom Gawie mekaar ontmoet?” vra Riana vinnig om Pikkie verdere verleentheid te bespaar.

“Haai, kind, hoe vra jy my dan nou só ’n ding.” Sy gee ’n suggie en trek ’n stoel nader. Tel dan eers haar hekelwerk op. “Julle weet, ’n mens is ook maar baie keer nes ’n donkie. Wil nie glo voor jy jou kop gestamp het nie. My oorle pa het hoeveel keer vir my gesê Gawie is die regte man vir my. Maar nee, my hart trek toe mos agter Steyntjie de Wet aan. Hy’s dan toe alles wat Gawie nie is nie. So sjarmant en so aantreklik! Had glads sy eie motor ook, terwyl Gawie met ’n fiets moes ry. Ryk ouers. Gesiene mense, en al daai dinge.”

“Nou wat het dan toe gebeur dat tante nie met hom getrou het nie?” wil Riana weet.

“Nee, toe ek my oë uitvryf, is ek mos lank nie die enigste meisie in sy lewe nie. Was hy hoeka al drie keer saam met die burgemeester se dogter bioskoop toe en had hy onder by die stasie ook nog ’n kuierplek. Dit was die laaste sien. Al was my oorle pa maar net ’n spoorwegklerk, had ek darem nog my trots.”

“En hoe het oom Gawie toe in tante se lewe gekom?” vra Riana haar verder uit.

“Hy was mos maar almelee daar. Die bure se seun. Enne . . . toe ek hom opweeg teen Steyntjie, kom ek agter my pa was al die tyd reg. Hý is die man vir my en nie daardie pierewaaier en rokjagter nie. As ek met Steyntjie getrou het, was ek ook vandag ’n geskeide vrou. Hy is so een na die ander deur die vroue. Vier vroue gehad as ek dit nie mis het nie. Dié dat ek sê ’n meisie moet met haar verstand ook dink, nie net met die hart nie.”

Die lui van Pikkie se selfoon in haar kamer maak dat sy haar daarheen haas. Dis toe ook niemand anders as Brian nie. “Hoe gaan dit met my meisie?” wil hy weet.

Net die nuanse in sy stemtoon maak haar knieë lam. “Baie goed, dankie. En met jou?”

“Baie beter noudat ek terug is in die stad. Wat doen jy vanaand?”

“Niks. Ek het niks aan nie.”

“Mooi. Hoe laat kan ek jou kom oplaai?”

“Enige tyd, net wanneer dit jou pas.”

“Agtuur?”

“Dis doodreg.”

“Goed, sien jou dan agtuur.”

Sy’t nie eens gevra waarheen hulle gaan nie, flits dit deur haar gedagtes nadat sy afgelui het. Wat moet sy aantrek? Wat hét sy om aan te trek? Haar klere is alles so ordinêr. Die klere wat hy vir haar gegee het, kan sy tog nie weer aantrek nie. Ook nie die groen rok wat sy by Yolanda-hulle se partytjie aangehad het nie. Die enigste ander skaflike rok wat sy kan dra saam met ’n man soos Brian, is haar bloue. Ja, dis wat sy sal aantrek. Dié rok lok altyd komplimente uit. Almal sê dit beklemtoon die blou van haar oë.

Toe sy ná ’n rukkie teruggaan sitkamer toe, sit Frans Goedhardt ook daar by Riana en tant Doortjie. Dit maak haar oombliklik ergerlik. Het Riana hom genooi, of het hy sommer uit sy eie opgedaag? Hy is arrogant genoeg om homself te nooi. Sy reageer slegs met ’n kopknik op sy groet en tel ’n tydskrif op om daardeur te blaai toe sy gaan sit. Solank hy net nie verwag sy moet saam gesels nie.

Sy’t egter kwalik ’n bladsy omgeblaai of daar is ’n klop aan die voordeur. En toe sy die deur oopmaak, herken sy dadelik die man as die bouer wat die kwotasie sou kom gee.

“Juffrou, ek het net kom kyk waar u die afdak wil hê voordat ek die materiaal en dinge aankoop.”

’n Oomblik lank weet sy nie wat om te sê nie. Toe wink sy hom om haar te volg en sorg dat daar ’n veilige afstand tussen hulle en die voordeur is voordat sy haar tot hom wend. “Ons wou die afdak hier voor die garage laat aanbring het,” verduidelik sy op ’n sagte toon. “Maar nou mag ons nie. Die bou-inspekteur van die area sê dit sal die boulyn na die straat se kant toe oorskry.”

“Ja,” stem hy saam. “Dit sal beslis.”

“Nou weet ek nog nie wat ons gaan doen nie. Ons oorweeg dit om die garage na die agterkant toe te verleng. Maar dit gaan meer geld kos as ’n afdak. Sal u omgee om ’n bietjie te wag tot ons ons geldsake deurgekyk het?”

“Nee, dis dan maar reg. Ek het mos nog nie onkostes aangegaan nie, so ek sal wag tot u my laat weet wat u gaan doen.”

Sy slaak ’n suggie van verligting toe die man wegry. Dankbaar dat sy so maklik uit die situasie losgekom het. Maar Frans Goedhardt hoef nie te weet wat sy vir die bouer gesê het nie!

Hulle is besig om oor die September-skoolvakansie te gesels toe sy weer in die sitkamer kom. “Maar as die skole eerskomende Vrydag sluit,” sê tant Doortjie, “kan ek mos saam met Pikkie huis toe ry. Jy gaan tog seker na jou ma-hulle toe vir die vakansie, of hoe, Pikkie?”

“Ek het eintlik nie sulke planne nie,” sê Pikkie, gedagtig daaraan dat Brian terug is en dat sy nie so lank van hom af wil weg wees nie. “Die vakansie is ’n bietjie kort.”

“Ek gaan ook nie huis toe nie,” sê Riana. “Een van my vriendinne het my genooi om die vakansie by haar ouers op ’n plaas naby Malmesbury deur te bring.”

“Ag, nou ja, dan sal ek maar die trein moet vat. Dis net so ’n beslommernis met die soetkyse en dinge. Maar wag,” sê sy en sit haar hekelwerk neer, “ek moet gaan kyk wat eet ons vanmiddag.”

“Maak net iets ligs, dan vat ek julle drie vanaand uit vir ete,” sê Frans uit die bloute. “Wat dink julle van my voorstel?”

“Dit gaan jou mos ’n klomp geld kos,” gee tant Doortjie antwoord. “Ons hét mos kos in die huis.”

“Ek wil net vergoed vir julle gaafheid teenoor my.”

Pikkie is seker dis ’n steek na haar kant toe. Sy loer vinnig na hom en kyk weg toe sy sy blik op haar betrap. Haar lyf verstyf. Oor haar dooie liggaam sal sy saamgaan!

“Dit sal lekker wees,” sê Riana. “Hoe laat kom laai jy ons op?”

“Net wanneer dit julle pas.”

“Moenie my insluit by jul planne nie,” sê Pikkie bot. “Ek het ’n ander afspraak.”

“Met wie?” vra tant Doortjie blatant. “Met die man in die koerant?” En toe Pikkie se kop knik: “Hy kan ook mos saamgaan.”

“Nee, dankie. Ons het ander planne vir die aand.”

“Wel, ek beter aanstaltes maak om te ry,” sê Frans. “Daar is ’n paar motorwrakke op my erf wat ek nog wil gaan wegsleep.” Toe staan hy op en loop tot reg voor Pikkie. “Hoe ver het jy en die bouer toe gekom? Wanneer begin hy met die afdak?”

“Eerskomende Maandag oor ’n week,” sê sy en staal haar om hom uitdagend aan te kyk. “Hy het net kom kyk hoeveel materiaal hy gaan nodig hê.”

Frans lig sy skouers. “Gelukkig kan dit my nie meer skeel nie. Ek maak die einde van die maand klaar by die munisipaliteit, so dit sal die nuwe bou-inspekteur se kopseer wees.”

Sy verstaan nie die gevoel van teleurstelling wat sy ondervind toe hy by die deur uitloop nie. Het sy sweerlik so gewoond geraak aan die vete tussen hulle dat sy dit gaan mis?

Toe sy motor buite wegtrek, wend tant Doortjie haar tot Pikkie. “Oulike man, dié Frans. Hy’s niks opstêrs nie, en ook nie geskei nie. Hoekom gooi jy nie liewer jou flikkers vir hom nie?”

“Hy is Riana se vriend, nie myne nie,” sê Pikkie kortaf.

“Riana sê daar’s niks tussen hulle nie. Net vriendskap.”

“Ek sal vir myself ’n man soek as ek een wil hê, dankie.”

“H’m. Maak dan maar so. Sorg net dat dit nie daardie Brian-vent van die modes is nie. Jou pa kry die stuipe as jy met hóm by die huis aankom.”

“Tante het hom nog nie eens met ’n oog gesien nie. Julle weet niks van hom af nie, maar julle verdoem hom sommer!” sê Pikkie obstenaat. “Julle behoort julle te skaam!” Toe loop sy ergerlik kamer toe, om ’n rukkie later besluiteloos voor haar hangkas te staan. Watter juwele moet sy saam met die blou rok dra? As Riana nie ook so skepties was oor Brian nie, sou sy haar opinie gevra het. Maar vir verdere konflik is sy tog nie lus nie.

Haar hoop dat tant Doortjie en Riana al weg sal wees wanneer Brian opdaag, word verydel toe sy deur haar kamervenster sien hoe Brian en Frans gelyktydig voor die huis stilhou. Sy haas haar sitkamer toe, menende dat sy Brian buite tegemoet sal gaan, maar haar weg word in die gang versper deur tant Doortjie wat tydsaam en hinkepinke ook op pad is sitkamer toe. Dit maak dat sy nie anders kan as om Brian aan haar tante voor te stel nie.

“So, dan is dít hoe die man van die foto in die koerant in lewende lywe lyk,” sê tant Doortjie terwyl sy hom onbeskaamd van kop tot tone betrag. “Moet sê, hy lyk darem meer na ’n man as wat ek verwag het.”

“Kom, ek is gereed,” sê Pikkie en haak ook sommer haar arm deur Brian s’n om hom aan te por deur toe. “Ons kan maar ry. Tot siens, julle.”

“Ek het gedink jou tante is al weg,” sê Brian nadat hulle in die motor geklim het. “En wat het sy gepraat van ’n foto?”

Pikkie gee ’n suggie. “Riana het haar omgepraat om langer te kuier. Maar hopelik sal sy binnekort teruggaan na haar huis op Albertinia. En die foto waarvan sy gepraat het . . . dis die een van jou en jou modelle wat in die koerant verskyn het.”

“Ek het die beriggie gesien, ja. Maar wat het sy bedoel dat ek darem meer na ’n man lyk as wat sy verwag het?”

“Sy . . . glo dis net vroumensagtige mans wat modelle oplei en iets van modes weet.”

Hy lag saggies en tel haar hand op om dit op sy bobeen te plaas. “En jy?” vra hy met ’n tersluikse blik na haar. “Glo jy ook ek is vroumensagtig?”

“Nee,” sê sy blosend. “Jy lyk ver van ’n vrou af.”

“Jy is so mooi dat ek lus het en hou net hier in die middel van die straat stil en soen jou ten aanskoue van die hele wêreld.”

“Haai, kyk voor jou. Netnoumaar verongeluk jy ons.”

“Mag ek stilhou en jou soen?”

“Nee.”

“Hoekom nie?”

“Omdat die hele wêreld nie in die straat is nie,” terg sy saam. “En hulle sal jou toesluit as jy die verkeer ontwrig.”

“Wel, dan beter ons nou vinnig op ’n plek kom waar ek jou kan soen,” sê hy en versnel. “Jy sal jou nie kan voorstel hoe ek na jou verlang het nie. Dit het vir my gevoel die tyd staan stil.”

Toe hulle Kampsbaai nader, kyk hy weer vlugtig na haar. “Ons kan later besluit wat ons die res van die aand gaan doen, maar nou neem ek jou eers na my huis toe. Ons móét ’n paar oomblikke alleen wees. Stem jy saam?”

Sy weifel. Wat moet sy sê? Dat dit te gevaarlik is? Maar haar kop knik instemmend, asof dit buite beheer is. Is dit dan nie waarna sy die hele tyd verlang het nie? Om alleen saam met hom te wees. Om sy arms om haar lyf te voel . . .

Buite op die stoep steek hy vas, neem haar in sy arms en draai haar om sodat sy terug moet kyk. “Kyk die skitterende liggies en die maanligstrale oor die see. ’n Volmaakte aand, net vir ons twee bedoel.”

“Dis baie mooi,” stem sy hees van emosie saam.

Hy sluit die voordeur oop en laat haar binnestap. Toe draai hy weer die sleutel in die slot en skakel net een dowwe liggie aan voordat hy sy baadjie uittrek en dit oor ’n stoel gooi. Dan trek hy haar tot teenaan hom. “Uiteindelik alleen. Net ek en jy. Mag ek jou soen? Oor en oor tot hierdie verterende verlange in my gestil is?”

Sy sag pleitende stem en strelende hande oor haar rug. . . Sy is bedag daarop dat dinge weer kan handuit ruk en staal haar teen die versoeking om te swig. Maar hy sweep met geduld haar emosies op deur eers aan haar oorbelletjies te knabbel en tergend met sy tong oor haar neuspunt te vee. Toe beweeg sy kop laer en soen hy haar in die kuiltjie van haar nek voordat hy haar styf teen hom vastrek en sy warm lippe haar mond opeis.

Dis soos die aand in die kombuis. Dit voel of sy buite haarself staan toe hy met sy onderlyf teen haar beur, sy hande op haar boude om dit teen hom vas te druk. Die hartstogtelike roeringe in haar binneste verdryf alle gedagtes. Dis net hul saamwees wat tel. ’n Oomblik of wat weifel sy nog, maar dan vat ’n roekeloosheid in haar pos. Na die duiwel met tant Doortjie en Riana se waarskuwings . . .

Die skril gelui van die telefoon in die gang bring haar tot haar sinne. “Die telefoon . . . dit lui,” sê sy en beur weg.

“Ignoreer dit,” sê hy gesmoord, remmende aan haar bra om dit uit die pad te kry.

“Nee!” Sy druk sy hand weg. “Gaan antwoord eers. Dit kan slegte tyding of iets wees.”

Hy loop duidelik teësinnig gang toe nadat sy onder sy hande uitgeglip het. Die onderbreking demp haar hartstog, laat haar besef wat besig was om te gebeur. Dis vir baie ander meisies seker nie ongehoord om seks te hê met ’n man wat hulle so kort ken nie, maar . . . sy durf nie! Waarop loop sulke dinge uit? Bepaald nie altyd op ’n gelukkige huwelik nie!

Sy stem in die gang is gedemp, sy kan nie hoor wat hy sê nie. Maar toe hy ná ’n rukkie terugkom, is daar ’n ergerlike frons op sy voorkop. Hy tel sy baadjie op en klik vererg sy tong. “Kom ons ry. Hier gaan ons geen rus en vrede hê nie.”

Elza Rademeyer Omnibus 5

Подняться наверх