Читать книгу Elza Rademeyer Omnibus 5 - Elza Rademeyer - Страница 5

Оглавление

2

Vroeg die volgende oggend word sy deur Riana met ’n beker koffie gewek. “Toe, vertel,” val sy met die deur in die huis. “Ek vrek van nuuskierigheid.”

“Oor wat?” hou Pikkie haar dom.

“Oor die Brian-ou wat gisteraand hier saam met jou in die kombuis was.”

“Hoe lyk hy vir jou?”

“Wel, hy’s verbysterend aantreklik. Het jy hom op die verjaardagpartytjie ontmoet?”

“Ja.”

Riana neem op die voetenent van die bed plaas. “Wat doen hy vir ’n lewe? Is hy ’n akteur?”

“Wat op aarde laat jou dink hy’s ’n akteur?”

“Ek is seker ek het hom al iewers gesien. Op TV of so.”

“Jy moenie dít sê nie! Akteurs is gedurig in die kalklig. Ek is te eenvoudig vir sulke dinge.”

Riana glimlag. “Dis wat jý dink. Ek sou sê jy kan enige tyd self die hoofkarakter in ’n fliek vertolk met jou fyn figuurtjie, lang swart hare en mooi blou oë. Maar wat doen Brian dan as hy nie ’n akteur is nie? Hy lyk nie na ’n doodgewone ou nie. Ek meen, hy’s duidelik ’n trappie of wat hoër as ’n onderwyser of ’n boer.”

“Dis presies wat ek ook gedink het. Maar ek weet nie wat hy doen nie. Eintlik weet ek niks van hom af nie.”

Riana se oë rek. “Maar dit het dan gelyk of julle besig was om mekaar te soen gisteraand daar in die kombuis?”

Pikkie voel hoe haar wange warm word. “Is dit dan ’n sonde om ’n ou te soen?”

“So, julle hét gesoen. Nee, dis nie ’n sonde nie, net ongehoord wat jóú betref. Jy sê dan jy weet niks van hom af nie. En jy het dan nog altyd gesê daar is niks wat jou so afstoot soos ’n man wat alewig verwag jy moet hom soen as hy jou vir ’n aand uitgeneem het nie.”

Die blos op Pikkie se wange verdiep. “Dis anders met Brian.”

“Wat maak hom anders?”

“Ek weet nie. Ek weet net hy’s anders as enige ander ou met wie ek al uitgegaan het.”

“Klink vir my jy’s verlief. Halsoorkop verlief op ’n man van wie jy niks weet nie. Is hy nie dalk getroud nie? Hy lyk nie meer so jonk nie.”

“Nee, hy’s nie getroud nie. Yolanda was gou om vir my te sê ek moet hom nie deur my vingers laat glip nie.”

“O. Nou wanneer sien julle mekaar weer?”

“Ek weet nie. Hy’t nie ’n definitiewe afspraak gemaak nie, maar wel gesê hy sal sorg dat ons mekaar weer sien.”

“Hoe het dit gekom dat hy saam met jou huis toe gekom het? Het hy eers sy meisie gaan aflaai en toe hierheen gekom?”

“Nee, hy was alleen daar.”

Riana frons. “Dis snaaks. Dit sou mos nie vir hóm ’n probleem gewees het om ’n meisie te kry om hom te vergesel nie. Ek meen, enige meisie sou haar oogtande gee om saam met hom gesien te word, dan nie?”

Pikkie lig haar skouers. “Ek was ook sonder ’n metgesel daar. Sy tante was darem saam met hom.”

“ ’n Mens kan amper nie glo hy’s nog ongetroud nie. As hy jou gesoen het, beteken dit tog hy kan nie ’n vrouehater wees nie.”

“Bespiegelinge gaan jou nêrens bring nie,” sê Pikkie. “Vir my ook nie. Wanneer ons mekaar weer sien, sal ek wel meer oor hom te wete kom.”

“Haai, wag,” raak Riana skielik haastig. “Ek moet gaan aantrek vir kerk. Gaan jy ook kerk toe?”

“Nie vandag nie. Gisteraand se uitganery het gemaak dat ek nog ’n hele klomp werk het om na te sien.” En as nagedagte: “Dalk kom maak Brian ’n draai hier. Ek wil hom nie misloop nie.”

Dit voel vir Pikkie of haar hart gaan staan toe die deurklokkie lui kort nadat Riana weg is. Sy is dankbaar sy’s klaar aangetrek, maar haar hare . . . Sou Brian hou van hare wat los hang?

Toe die klokkie ’n tweede keer lui, maak sy die deur met ’n bonsende hart oop. Maar dis nie Brian nie. Dis ’n man wat vaagweg bekend lyk, maar sy kan nie dink waar sy hom al gesien het nie.

“Goeiemôre,” sê hy en steek sy hand uit. “My naam is Frans Goedhardt. Ek weet darem dat jy Pikkie Grové is.”

“Hoe weet jy dit?”

“Riana het my gesê. Is sy hier?”

“Nee, sy is ’n rukkie gelede kerk toe.”

“Mag ek binnekom? Ek sal wag tot sy terugkom.”

Nadat hy hom in die sitkamer op ’n stoel tuis gemaak het, kyk sy hom vertwyfeld aan. “Koffie?”

“Dit sal heerlik smaak, dankie.”

Het sy hom al voorheen gesien of nie? wonder sy terwyl sy die koffie maak. Hý kan dalk ’n akteur wees. Die een of ander held in ’n TV-sepie. Hy’t die lyf daarvoor. En dis opvallend dat hy sulke donker oë en donker wenkbroue het, want sy hare is blond. Sy lig haar skouers. Dit kan wees dat sy hom toevallig op TV gesien het. Maar sy naam is onbekend aan haar. Dis in elk geval so selde dat sy en Riana TV kyk dat sy loshande sal druip as sy ’n vraestel oor die akteurs op TV moet beantwoord.

“Ek verstaan jy hou ook skool,” sê hy toe sy met die koffie terugkeer. “By watter skool gee jy onderwys?”

“By die Tegniese Hoërskool in Dalen.”

“So, jy en Riana is nie by dieselfde skool nie. Julle moet dus met twee voertuie ry.”

“Ja, ongelukkig. Ek sê ongelukkig, want nou moet ons elkeen ons eie motor hê, en die huis het net een garage. Ons maak maar beurte. Een nag slaap my motor buite en die volgende nag hare. Maar die son verniel dit so dat ons besluit het om ’n afdak hier voor die garage op te rig.”

Sy kop knik. “Riana het my vertel van jul planne. Maar . . . julle kan vergeet daarvan.”

“Hoekom?” vra sy verbaas.

“Daar is nie genoeg spasie tussen die garage en die straat vir ’n afdak nie.”

“Ek dink daar’s genoeg plek. Hier is mos nie sypaadjies nie, so die erf strek tot teenaan die straat se randsteen.”

“Die spasie vir ’n sypaadjie moet steeds daar wees. Jy mag nie daarop bou nie.”

“Vir wat nie? Die mense loop in die straat. Niemand loop ooit in die tuin nie.”

“Daar is ongelukkig dinge soos reëls en regulasies van die munisipaliteit wat nagekom moet word. Een daarvan is dat daar geen struktuur op ’n sypaadjie opgerig mag word nie.”

“Hoekom nie?”

“Omdat dit die motors in die straat se uitsig belemmer en ’n ongeluk kan veroorsaak, om maar een van die redes te noem.”

Sy vervies haar. Nie soseer oor wat hy sê nie, want sy redenasie klink logies, maar oor die manier waarop hy oor sy koppie koffie na haar kyk; asof sy ’n dom, onnosel kind is. “Hier is nie ’n hoek of iets wat hul uitsig kan belemmer nie. Dis ’n lang, oop straat wat hier verbyloop.”

“En as daar ’n kind van agter jul afdak uitgehardloop kom, reg voor ’n voertuig in?”

“ ’n Kind wat waarvandaan moet kom? Ek en Riana het nie kinders nie.”

“Kuiergaste se kinders? Wie moet verantwoordelikheid aanvaar vir die ongeluk?”

“Die bestuurder,” sê sy nou regtig vererg. “Hy moet kyk waar hy ry. En waarvoor het ’n motor remme?”

Hy gee ’n suggie en plaas sy leë koppie op die skinkbord voordat hy terugleun in sy stoel en sy bene kruis. “Ons gaan nie ver kom met dié soort redenasie nie. Feit bly, dis onwettig om ’n struktuur op te rig wat die boulyne oorskry. En as julle ’n afdak bou waar julle hom wil bou, sal dit definitief die boulyn moet oorskry om effektief te wees.”

“Ag, boulyne se voet! Dis óns huis en óns erf. Wettiglik gekoop en betaal. Ons kan daarop bou wat ons wil.”

Sy wenkbroue lig. “Hoe gaan julle die bouplan goedgekeur kry?”

“Bouplan vir ’n afdak! Ons het nie bouplanne nodig nie. Net vier pale en sinkplate.” Hy lyk sweerlik geamuseerd, sien sy toe sy na hom kyk. Dit maak behoorlik die duiwel in haar los. “Wat traak dit jou in elk geval wat ons planne is? Wie is jy om te sê wat ons mag bou en wat nie?”

“Ek is toevallig die bou-inspekteur van hierdie area. Die munisipaliteit vereis ’n bouplan vir elke struktuur wat opgerig word, al behoort die huis en erf aan wie ook al. En dis ek wat jul bouplan sal moet goedkeur of afkeur.”

“Ek sien. En jy’t klaar besluit jy sal dit afkeur. Hoe vermetel tog!”

“Ek sal nie ’n ander keuse hê as om dit af te keur nie. In elk geval, het jy al daaraan gedink hoe onooglik die soort afdak gaan lyk wat julle beplan?”

“Ons gaan dit mos verf. Dieselfde kleur as die huis. En dan gaan ons nog ’n rankplant ook –”

“Luister, dis onnodig om jou brein verder te vermoei op iets wat nie kan werk nie. Dink logies oor die saak. Julle het bure wat ook in ag geneem moet word. Hulle sal nooit toestemming gee vir so ’n stellasie . . . ek wil amper sê hoenderstellasie, soos wat julle hier wil –”

“Hoenderstellasie!” hyg sy by verontwaardig verby. Sy skuif vorentoe op haar stoel en haar oë spuug vuur. “Kyk, nou gaan jy darem net te ver! Jou opinie oor ons afdak is ongevraag en totaal oorbodig. So, hou dit vir jouself. Daar is maniere om by jou verby te kom.”

Sy wenkbroue wip. “Watter maniere?”

“Soos om jou te ignoreer.”

“Ek sien,” sê hy so kalm en beheers dat sy voel na ontplof. “Dit kan ’n verkeerde besluit wees. Een wat julle uiteindelik baie geld gaan kos. Hardkoppigheid gaan jou nêrens bring nie. Jy sal weer moet dink oor die saak en –”

Sy vlieg as ’t ware op uit haar stoel. “Ek het klaar gedink. Verskoon my, ek het beter dinge om te doen as om hier met ’n redelose mens soos jy te sit en redekawel.” Daarmee los sy hom alleen en stap na haar kamer toe. Maar sy’s kwalik daar toe die telefoon in die sitkamer lui. ’n Oomblik lank oorweeg sy dit om die gelui te ignoreer, maar dan dink sy aan Brian. Hy kon haar nommer by Yolanda gekry het. Sy haas haar terug sitkamer toe.

Dis egter nie Brian nie, maar haar ma wat wil weet of dit nou reg is dat tant Doortjie by hulle bly as sy Kaap toe kom.

Sy keer haar rug op die man in die stoel. “As dit moet, dan moet dit seker maar.”

“Sy is nou hier om te kom verneem of dit reg sal wees.”

Wat haar ma bedoel, is dat sy nie uit haar beurt moet praat nie, weet sy. Want soos sy tant Doortjie ken, staan dié nou dig langs haar ma om na die gesprek te luister. “Dit sal reg wees,” sê sy dus maar en onderdruk die sug wat op pad was. “Ongerieflik, maar laat sy maar kom.”

“Die trein arriveer vieruur op die Kaapse stasie. Sal jy haar gaan haal?”

“Ja, ek sal so maak.”

“Tant Doortjie sê baie dankie. Sy staan hier neffens my.”

Net soos sy gedink het, flits dit deur Pikkie se gedagtes. Nuuskierige ou agie. Dit maak dat sy die gehoorbuis onnodig hard terugplaas toe hulle tot siens gesê het.

“Moeilikheid?” vra die man in die stoel. “Jou gesig lyk soos donderweer.”

“Niks wat jou aangaan nie,” snou sy hom toe en haas haar terug na haar kamer toe. Die vervlakste mansmens, dink sy vies. Vir wat het Riana hom van hul planne vertel? Van waar ken sy hom? Riana moet tog net nie so mal wees om op hom verlief te raak nie! Dit sal hulle twee se jare lange vriendskap totaal ruïneer, want sy, Pikkie, sal nooit saam met so ’n arrogante skepsel om dieselfde vuur kan sit nie. Haar eie bedenkinge oor die afdak ten spyt, na dese sal sy sorg dat dit gebou word!

Toe sy Riana se motor in die oprit hoor stilhou, kom sy agter sy het nog geen vordering gemaak met haar nasienwerk nie. Haar gedagtes het al weer die loop geneem na die vorige aand. ’n Aand wat sy nooit in haar lewe sal vergeet nie. Wat gaan van haar word as Brian nie weer van hom laat hoor nie? Dis ondenkbaar dat sy hom nooit weer sal sien nie.

’n Rukkie later hoor sy Riana en die Goedhardt-mansmens buite gesels. Hulle bespreek seker die afdak. Hy probeer seker nou vir Riana ook oortuig dit gaan soos ’n hoenderstellasie lyk.

’n Rukkie later kom Riana haar kamer binne en kom staan langs die lessenaar. “Ek is bevrees ons sal moet vergeet van die afdak,” sê sy. “Frans sê ons kan nie so ’n struktuur oprig nie. Dis onwettig.”

“Wie is hy om –”

“Hy’s ’n neef van Trix,” val Riana haar in die rede. “En hy’s die bou-inspekteur van hierdie omgewing.”

“Dis nie wat ek wou weet nie. Ek wil weet wat hy van homself dink om ons hier op ons eie erf te kom hiet en gebied!”

“Seker oor hy weet wat toelaatbaar is en wat nie.”

“Wat my betref, kan hy gaan doppies blaas. Daardie man wat oom Jorrie se garage gebou het, moet sommer môre begin met die afdak!”

Riana staar haar fronsend aan. “Wat het Frans gesê wat jou so omgekrap het?”

“Jy vra nog! Weet jy wat noem hy ons afdak? ’n Hoenderstellasie!”

“Dis my skuld,” sê Riana. “My verbeelding het my vooruit geloop. Ek het vir hom gesê ons gaan later, wanneer ons genoeg gespaar het, van die afdak nog ’n garage maak deur die sykante ook toe te slaan met sinkplate en ’n deur in te sit.”

Pikkie staar haar ’n oomblik stom aan. Maar dan verhelder haar gesig. “Dís ’n goeie plan! Dan kan niemand ons motors steel nie!”

“Maar dit gaan nie werk nie, want Frans sê –”

“Te maai met Frans! Jy kan mos sien hy’s net ’n arrogante skepsel wat sy gewig wil rondgooi.”

“Hy’s die bou-inspekteur van die area. Hy sal nie die planne goedkeur nie.”

“Aan wie se kant is jy skielik?”

“Aan niemand se kant nie. Ek verstaan net hoekom ons nie kan aangaan met ons planne nie. Jy kan mos vir jouself dink dat –”

“Ek het klaar gedink én klaar besluit,” val sy Riana kortaf in die rede. “Daardie afdak sál gebou word!”

“Het jy al iets van Brian gehoor?” vra Riana om af te wyk van die netelige onderwerp, want sy kan sien dis nie nou die tyd om met haar vriendin te redeneer nie.

Pikkie se gramskap verdwyn soos mis voor die son. “Nee, nog nie. Miskien is Yolanda nie tuis nie en kon hy nog nie my telefoonnommer kry nie. Of dalk is hy ook kerk toe.”

“Ek wonder wat gaan sý foute wees.”

“Hoe bedoel jy nou?”

Riana gee ’n laggie. “Nee, jy soek mos altyd foute by die ouens wat jou uitneem. As hy nie na rook stink nie, is sy voete te groot of sy hare te yl.”

“Brian het nie foute nie. Ek kan my nie voorstel dat hy enige foute sal hê nie.”

“Hierdie Frans Goedhardt is darem self nie onaansienlik nie.”

“So, dan is dít hoe die wind waai!” sê Pikkie oombliklik weer obstenaat. “Ek moes kon dink dis hoekom jy aan sy kant is. Waar kom jy aan die vent?”

“Ek ken hom nie veel beter as wat jy hom ken nie. Ek het hom ook maar gisteraand vir die eerste keer gesien toe hy saam met ons gaan fliek en hier by ons kom koffie drink het.”

“Hier, by ons huis?”

“Ja. Jy’t dan nog in hom vasgeloop op pad kamer toe.”

“O, dan is dit hoekom hy vir my half bekend wou voorkom,” sê Pikkie ietwat van stryk gebring. “Maar ek kon hom nie plaas nie.”

“Nee, jy sou ook nie. Ek glo jou kop was te deurmekaar van verliefdheid op Brian.”

“Jy’s tog nie jaloers op my geluk nie, is jy?”

“Natuurlik nie. Ek wonder maar net hoe hy dit reggekry het om jou so te betower. Jy was nog nooit so erg oor enigiemand nie.”

Pikkie stoot die boeke voor haar ’n entjie weg en glimlag. “Ek het jou mos gesê Brian is anders. Alles aan hom is . . . jy kan maar sê perfek. Van sy hare tot by sy blink skoenpunte. Hy’s eenvoudig wonderlik. Dalk net ’n bietjie gevaarlik.”

“Gevaarlik? Wat bedoel jy daarmee?”

“Ek bedoel hy is die soort man wat sal maak dat ’n meisie maklik haar inhibisies oorboord gooi.”

Riana se oë rek. “Heng, dan beter jy versigtig wees, want hy moet beslis ondervinding van meisies hê as jy so gou bereid is om jou inhibisies oorboord te gooi!”

“Ek het nie gesê ek is bereid daartoe nie. Net genoem dat ’n mens sal moet kophou in sy teenwoordigheid.”

“Ek wonder waar kom hy aan sy ondervinding. As hy nie getroud is nie . . . Is hy nie dalk geskei nie?”

“Hoekom sal hy geskei wees? Hier is ons twee, ook een van die dae dertig en ongetroud.”

“Ja, maar dis anders. Vroue kom makliker oor die weg sonder mans as mans sonder vroue.”

“Jou redenasie het nie meriete nie,” sê Pikkie. “Jy kry baie oujongkêrels en dis nie te sê hulle het ’n duister verlede nie. Ek en Brian sal ons eie dinge uitsorteer. Bepaal jy maar jou aandag by daardie Goedhardt-skepsel. Of nee, ek hoop nie so nie. As jy met hom deurmekaar raak, trek ek uit die huis uit.”

“Daar is niks tussen my en Frans nie. Hy is bloot Trix se neef. Al wat ek van hom weet, is dat hy nie getroud is nie, en volgens Trix ’n liefdesteleurstelling gehad het wat hom ’n renons in meisies gegee het.”

“Dit kan enige bobbejaan sien.”

Riana gee ’n suggie en strek haar uit. “Ek beter loop, want my lessenaar lê ook nog vol nasienwerk.”

Pikkie is bly toe Riana loop. Sy wil mooi drome droom oor Brian, nie twyfel oor sy opregte bedoelinge met haar nie. En nog minder is sy geïnteresseerd in die Goedhardt-mansmens se doen en late. Vir al wat dit haar traak, kon hy tien liefdesteleurstellings gehad het!

Tog kry sy dit nie reg om weer op haar werk te konsentreer nie. Want eintlik ís dit eienaardig dat Brian saam met sy tante op die partytjie was en nog ongetroud is. Dit is dus moontlik dat hy geskei is. Dis nie ’n lekker gedagte om te dink ’n vrou was al deel van sy lewe nie. Maar as dit so is, is dit ook nie die ergste nie, troos sy haarself. Hy sal ’n goeie rede hê . . .

’n Plan skiet haar te binne. Yolanda ken hom mos. Sy sal haar bel en maak of sy haar net wil bedank vir die lekker aand, en dan versigtig die gesprek in Brian se rigting stuur.

Dis egter nie vir haar nodig om die gesprek in Brian se rigting te stuur toe sy Yolanda op haar selfoon bel nie. Yolanda begin sommer self borrelend oor hom praat. “Wat dink jy van Brian?” wil sy weet. “Julle het uit die staanspoor soos verliefdes gelyk. Hy was so haastig toe hy sy tante hier kom oplaai het, dat ek nie eintlik kans gekry het om met hom te gesels nie. Maar hy’t taamlik geheimsinnig geglimlag toe ek hom vra of julle darem jou huis veilig bereik het.”

“Wie is hy eintlik, Yolanda? Ek het hom nie uitgevra nie. Ek meen, omtrent sy werk en dinge nie.”

“Jong, ek ken nie die detail van sy werk nie. John ken hom eintlik beter as ek. Maar ek weet hy’t iets te doen met die ontwerp van klere, en dat hy modelle oplei. Hy’t twee sulke opleidingskole iewers in Gauteng, en hy’t nou met een hier in die Kaap begin. Jy moet maar die koerante en glanstydskrifte dophou. Daar is gereeld nuus oor hom.”

“Hy lyk nie meer so jonk nie. Dis snaaks dat hy nie getroud is nie, of hoe?”

“Wel . . . e . . . hy was getroud, maar is geskei. Maar jy moenie dat dít jou afskrik nie. Hul huwelik was van die begin af gedoem tot mislukking. Jy sal ver moet soek om nog ’n man van sy kaliber te kry. Skatryk! Jy moet sy huis sien. Dis ’n paleis! En so aantreklik! As ek nie vir John gehad het nie, het ek voorwaar self my flikkers vir hom gegooi!”

Sy paleis-huis en bankbalans is nie van belang nie, dink Pikkie nadat hulle gegroet het. Wat van belang is, is hoekom hy geskei is. Om te sê die huwelik was van die begin af gedoem tot mislukking, sê maar min. Jy trou tog nie met iemand as jy weet daar is nie ’n kans op geluk nie.

Maar toe daar Woensdagmiddag ’n massiewe ruiker en daarmee saam nog ’n pakkie by die huis vir haar afgelewer word, en sy sien dis van hom, wonder sy nie meer nie. Die gefladder van vlinders is terug op haar maag toe sy haar kamer toe haas daarmee.

Haar mond val letterlik oop van verbasing toe sy dit oopmaak en sien dis ’n romp en bloese. Roomkleurig en van ’n besonderse ontwerp. En daarmee saam is daar ’n koevert met ’n briefie in. Haar hande bewe so van opwinding dat sy sukkel om die koevert oop te skeur. Dan lees sy:

Ek hoop jy hou hiervan. Sal dit reg wees as ek jou Saterdagaand halfagt kom oplaai? Ek sal jou graag in dié klere wil sien. Jy kan besluit waarheen ons gaan. Dalk na ’n opvoering of fliek, of ons kan sommer net gaan uiteet. Brian.

Dis toe sy die papiere begin bymekaarmaak dat daar nog iets uitval. Iets wat haar tot agter haar ore laat bloos. ’n Piepklein broekie van deursigtige kant! Is die man mal, wonder sy by haarself. Hoe durf hy! Tog is daar niks wat haar vreugde kan demp nie. Hoe het sy nie daarna verlang om weer van hom te hoor nie! En nou dít, soveel meer as net ’n telefoonoproep! En natuurlik, sy keuse van ’n geskenk is nie so ongewoon as ’n mens in ag neem dat hy klere ontwerp en daagliks met modelle werk nie.

Sy trek haastig die romp en bloese aan. Gelukkig het sy modieuse sandale wat perfek daarby pas. Toe sy voor die spieël gaan staan, trek sy verruk haar asem in. Die kuitlengte-romp met sy oorvouspleet hang laag oor haar heupe, en die bloese met smal skouerbandjies se kantgeskulpte soom reik net-net tot by haar middel. Danksy die sonbrand wat sy op Bloubergstrand en met haar tuinwerkery agter in die erf in haar swemklere opgedoen het, is die stukkie van haar heupe wat uitloer mooi bruin gebrand. Die kleur van die uitrusting beklemtoon ook haar blou oë en donker hare. Sy smaak is ongelooflik! Nooit in haar lewe het sy gedink sy kan so stylvol en sexy lyk nie.

Toe sy Riana hoor stilhou, trek sy vinnig die klere uit. Of sy die waagmoed gaan hê om dit Saterdagaand aan te trek, sal sy nog moet sien. Intussen hoef Riana nie van die pakkie te weet nie. Sy sal haar net vertel van die blomme, want dié sal sy op slot van sake nie kan miskyk nie.

“Mensig, en dié yslike ruiker?” roep Riana dan ook uit toe sy ná ’n ligte kloppie die kamer binnekom. “Is dit van Frans?”

“Frans?” vra Pikkie onbegrypend.

“Frans Goedhardt.”

“Nou wat op aarde laat jou dink Frans Goedhardt sal vir mý blomme stuur?”

“O, ek het maar gedag . . . Jy sien, ek het vir Trix gesê jy wil aangaan met die oprig van die afdak. En sy moet vir Frans daarvan vertel het, want hy’t my skool toe gebel om te sê ek moet jou keer, want hy’t nie lus om met koppige mense te sukkel nie. Toe vra ek hom wat tussen julle twee gebeur het, wat hy gesê het wat jou so ontstel het. Hy sê toe dit was nie sy bedoeling om jou te ontstel nie, maar as jy aanstoot geneem het oor iets wat hy kwytgeraak het, sal hy die saak probeer regstel. Dié dat ek gedink het die blomme kom van hom af. Dat hy dit as ’n soort soenoffer vir jou gestuur het.”

“Na die duiwel met Frans Goedhardt! Asof ek soenoffers van hóm sal aanvaar!”

“Dan is die blomme seker van Brian?”

“Ja,” sê Pikkie, oombliklik weer in ’n beter luim. “Hy kom my Saterdagaand haal. Ek kan kies waarheen ons gaan.”

“Die blomme moet ’n fortuin gekos het,” sê Riana.

“Hy sou dit nie gekoop het as hy dit nie kan bekostig nie. En om jou nuuskierigheid te bevredig, hy was getroud, maar is geskei. Tevrede?”

“Hoe weet jy dit?”

“Yolanda het my vertel. Ook dat hy klere ontwerp en drie opleidingskole vir modelle besit.”

“Heng! Dit klink belangrik. Dan gaan jy seker ook een van die dae uit die onderwys bedank en ’n model word.”

“Moenie laf wees nie. Ek is buitendien te kort. Modelle moet mos lank en slank wees, dan nie?”

Riana trek haar skouers op. “Ek weet niks van modelle nie. Net van skoolkinders wat nie luister as jy praat nie, en van boeke merk. Ek hoop net van harte Brian breek nie jou hart nie.”

“Hoekom sal hy? Hy sou tog nie vir my blomme en . . . e . . . blomme gestuur het as hy van plan was om my hart te breek nie!”

“Nee, seker nie. Wag, ek beter loop. Laat ek maar gaan swoeg agter die boeke.”

Die volgende middag is Pikkie skaars by die huis toe die deurklokkie lui. Hulle moet ’n loergaatjie laat aanbring, dink sy, maar haas haar tog voordeur toe in die hoop dat dit Brian is. Maar dis Frans wat voor haar staan toe sy die deur oopmaak. En tot haar ergernis vra hy nie eens of hy mag inkom nie, maar loop sommer ongenooid binnetoe en maak hom ewe nonchalant op ’n stoel tuis.

“Riana is nog nie hier nie,” sê Pikkie bot. “En jy moet my verskoon, want ek –”

“Ek is nie hier om Riana te sien nie. Ek verstaan dat ek jou glo ontstig het Sondag. Wat het ek gesê wat jou nie aangestaan het nie?”

“Presies alles, meneer Goedhardt. Maar ek is nie meer kwaad nie, want ek het nie tyd vir onbenullighede nie.”

“So. Beteken dit jy het jou plan om ’n afdak op te rig laat vaar?”

“Inteendeel! Ek gaan dit so gou moontlik laat oprig.”

Die telefoon se gelui verhoed dat hy kan antwoord. En tot haar verbasing is dit Neville Meyer.

“Neville!” sê sy verras. “Waar het jy aan my telefoonnommer gekom?”

“By die skool. Jy’t mos vir my gesê waar jy skoolhou. Ek wou jou egter nie daar pla nie, toe gee hulle my jou huisnommer. Hoe gaan dit?”

“Goed. Baie goed. En met jou?”

“Nie te vrot nie. Ek het darem intussen ’n paar skilderye verkoop, so nou het ek weer ’n paar rand om te spandeer. Dit het my laat wonder of jy nie een aand saam met my wil gaan uiteet nie. Boetman het my eintlik op die gedagte gebring – hy’t nou die dag gevra of daardie mooi tannie dan nooit weer by ons gaan kom stort nie. Hoe lyk dit, sien jy kans?”

“Wanneer?” vra sy huiwerig, gedagtig daaraan dat sy nie ’n besoek van Brian wil misloop nie.

“Wat van môreaand?”

Brian se afspraak is vir Saterdagaand, dink sy vinnig. Dis onwaarskynlik dat hy môreaand sal opdaag.

“Goed, dit sal reg wees. Maar hoe gaan jy weet waar ek bly?”

“Gee net jou adres vir my. Ek ken Bellville taamlik goed, so ek behoort daar uit te kom.”

Die onverwagse oproep van Neville maak dat sy skoon van Frans vergeet het. Haar moed sak tot in haar skoene toe sy omdraai en sien hy sit nog daar. “Ek het gedag ons het klaar gepraat,” sê sy kortaf.

“As ek om verskoning vra oor die aanstoot wat ek jou skynbaar die vorige keer gegee het, sal jy jou planne vir ’n afdak staak?”

“Nee.”

Hy kom orent. “Goed, gaan dan maar voort en kyk waar jou koppigheid jou bring.”

“Dankie,” sê sy sarkasties en maak sonder meer die deur oop om aan te dui dat hy moet gaan. Hy’s skaars uit of sy klap die deur driftig toe. Kamtig verskoning kom vra, maar terselfdertyd dreig hy haar. Gmf!

Vrydagmiddag hou sportaktiwiteite by die skool haar so besig dat sy haar moet haas toe sy by die huis kom om nie laat te wees vir Neville se afspraak nie. “Onthou jou voordeursleutel as jy vanaand uitgaan,” sê sy vir Riana. “Want ek gaan ook uit en ek weet nie hoe laat ek terug sal wees nie.”

“O, ek het dan gedink Brian neem jou môreaand uit?”

“Dis reg, Brian kom my môreaand haal. Ek gaan vanaand saam met Neville.”

Riana steek in haar spore vas. “Slaan my dood! Gister was jy nog tot oor jou ore toe verlief op Brian, maar nou gaan jy saam met Neville uit! Jy’t dan gesê Neville het nie eens jou adres of telefoon-”

“Hy’t my nommer by die skool gekry.”

“O. In elk geval, ek bly vanaand tuis, want daar is fout met my motor. Hy kom net nie weg nie, hoes en proes die hele tyd. Nou gaan Frans vanmiddag na hom kom kyk.”

“Frans Goedhardt?”

“Einste.”

“Ek dag hy’s ’n bou-inspekteur. Ek het nie geweet hy is ’n motorwerktuigkundige ook nie.”

“Trix het gesê ek moet hom vra. Dis glo ’n stokperdjie van hom om aan motors te werk.”

“Gmf, dan kan ek my voorstel hoe lyk sý erf! Besaai met motorwrakke. Dan het hy die vermetelheid om sy mond oor ons afdak uit te spoel!”

“Ek was nog nie by sy huis nie, so ek sal nie weet hoe dit daar lyk nie,” sê Riana. “Al wat ek weet, is dat dit my minder sal kos as hy die motor regmaak as wanneer ek dit garage toe vat. Maar wat van jou tant Doortjie as jy Saterdagaand saam met Brian uitgaan?”

“O, gits, ek het skoon vergeet van tant Doortjie! Hoe dit ook al sy, ek gaan beslis nie my afspraak met Brian kanselleer ter wille van haar nie. Sy sal maar net alleen hier moet bly en klaar.”

Riana skud haar kop. “Jy’t voorwaar die skoot hoog deur.”

Pikkie lig haar skouers. “Hoekom nie? Is jy bang jy gaan alleen op die rak sit?”

Neville lyk vir Pikkie vreemd anders toe hy opdaag. Die dag by Bloubergstrand was hy in ’n verslete denimbroek en T-hemp geklee. Nou dra hy ’n netjiese donker broek met bypassende hemp wat sy aantreklikheid beklemtoon. Toe sy hom en Riana aan mekaar voorstel, kan sy sien dat hy selfs haar vriendin beïndruk. Ook Boetman is netjies uitgevat in ’n donker langbroekie.

“Sal ons gaan fliek nadat ons geëet het?” vra Neville toe hulle wegtrek.

“Ek gee nie om nie. Dit sal lekker wees as jy nie haastig is nie.”

“Dan maak ons so.”

Dit word ’n aangename aand. Dalk omdat sy weet sy moenie na sy verlede verwys nie en probeer om die gesel-skap lig te hou. Sy gee ook baie aandag aan Boetman, sodat dié later sy skugterheid heeltemal verloor en tydens die fliek op haar skoot klouter om daar aan die slaap te raak. Tog kry sy dit nie reg om Brian heeltemal uit haar gedagtes te ban nie.

Toe hulle laataand by die huis kom, neem Neville die sleutel by haar om die voordeur oop te sluit, maar talm met sy hand op die deurknop. “Baie dankie, Pikkie. Dis ’n aand wat ek nog lank sal onthou. Ek glo Boetman ook.”

“Dankie, Neville. Ek het dit ook baie geniet.”

Hy los die deurknop en sit sy hand op haar skouer. “Kan ons weer een aand so maak?”

“Ek . . . e . . . Ag, ons kyk maar.”

“Jy is so ’n mooi meisie. Ek krap nie dalk in iemand se slaai nie?”

“Daar is iemand van wie ek baie hou, maar ons ken mekaar nog nie lank genoeg om dit ’n verhouding te noem nie,” sê sy eerlik.

Hy knik sy kop en glimlag effens. “Ek sien.” Toe steek hy sy hand in sy sak en haal iets uit. “As jou hart dalk breek of dinge skeefloop, hier is ’n papiertjie met my telefoonnommer. Ek het ’n baie gewillige skouer.” Hy druk dit in haar hand en draai die deur oop sodat sy kan binnegaan.

Riana roep na haar toe sy verby haar oop kamerdeur loop. “Wag eers, kom vertel my hoe jou aand toe verloop het.”

“Ek dag jy slaap al. Dit was ’n baie lekker aand. Ons het eers gaan eet en toe gaan fliek. Was daardie Goedhardt-skepsel toe hier?”

“Ja. Ek moet sê, Brian is besonder aantreklik, maar Neville is self nie onaansienlik nie.”

“Sy seuntjie is ook baie oulik. Is jou motor nou reg?”

“Ja, sommer tjoef-tjaf. Dit was glo net ’n vonkprop wat nie ordentlik vas was nie, of so iets. Ek het toe maar kos gemaak en vir Frans gevra om saam met my te eet. Onthou net jy sal môreaand vir jou tante moet kos maak. As sy so vol fiemies is soos jy sê, gaan ek nie vir haar kos maak nie.”

“Ek sal môre deur die dag iets maak. Sommer vir jou ook, dan kan jy saam met haar eet as jy nie uitgaan nie.”

“Frans het gesê hy gaan my miskien kom oplaai om ’n verjaardagpartytjie van een van sy vriende by te woon. Maar hy was nog nie seker of hy lus is daarvoor nie, so hy sal my môre eers laat weet.”

“Ek hoop van harte jy gaan nie sin kry in hom nie,” sê Pikkie agterdogtig. “Ek kan sulke hardekwas mans nie verdra nie.”

“Moenie bekommerd wees nie. Ek dink nie hy stel in my belang nie.”

“Hy beter nie. Laat hy maar liewer sy renons in meisies behou. Sy soort sal geen vrou gelukkig kan maak nie. Maar wag, laat ek eerder gaan slaap. Met tant Doortjie in ons midde gaan ek nie gou weer kans kry om rustig te slaap nie. Sy dwaal mos snags deur die huis rond. Slaap glo sleg en dan word haar lyf te seer as sy in die bed lê.”

Die kosmakery hou Pikkie amper die hele Saterdag besig. Sy wil nie hê tant Doortjie moet vir haar ma-hulle gaan vertel sy en Riana leef net van blikkies- en gemorskos nie, dus moet sy al haar vernuf inspan om iets ordentliks voor te berei. Maar hoe later dit word, hoe meer senuweeagtig raak sy. Brian gaan daagliks met modelle om. Sy gaan nie tyd hê om haar hare by ’n salon te laat doen nie. Wat moet sy daarmee aanvang? Gaan hy nog so aantreklik lyk soos Saterdagaand? Hoe gaan sy dit regkry om haar emosies in toom te hou as hy haar weer soen? Moet sy verwys na sy egskeiding of nie?

Toe sy stasie toe ry om tant Doortjie te gaan haal, is die trein boonop amper ’n halfuur laat. En tant Doortjie het geen haas in haar nie. “Wag nou, kind, ek kan nie so vinnig loop nie. Het jy my soetkyse getel? Daar moet drie wees. Plus die koekblik met my padkos en die hoededoos waarin ek die beskuit en biltong van jou ma-hulle gepak het.”

“Dis alles hier, tante. Die kruier gaan dit vir ons tot by die motor vat.”

“Mensig, kyk net die gejaag. Waarheen gaan al die mense?”

“Dit lyk maar so hier in die stad.”

Toe hulle eindelik die huis bereik, staan Frans se motor ook in die straat. Sy kyk op haar horlosie toe hulle uitklim. Amper sesuur. Sy moet nog stort, aantrek, iets met haar hare aanvang en die kos opwarm. Gaan sy betyds klaar wees? En gaan sy in die klere lyk soos Brian verwag sy moet lyk?

“So, dan is dit die huis wat jy en Riana gekoop het,” onderbreek tant Doortjie haar oorstuurde gedagtes nadat sy met ’n gesteun en gekreun uit die motor geklim het. “Glad nie sleg nie. Maar hoekom is die gras so lank?”

“Tuindienste sal dit Maandag kom sny.”

“Tuindienste! Wafferse ding is dit?”

“Dis mense wat ander mense se tuine in stand hou.”

“Dan moet julle seker betaal daarvoor! Is julle dan te lui om dit self te sny?”

“Ons het nie ’n grassnyer nie en ook nie die tyd nie.”

“Ai, dís nou ’n verskoning!”

Toe hulle die sitkamer binnegaan, betrag tant Doortjie die twee mense wat daar sit nuuskierig. “Jy’s seker Riana,” beduie sy met haar kierie in Riana se rigting voordat sy omswaai en dit onder Frans se neus druk. “En wie’s jy?”

“Reg geraai,” sê Riana glimlaggend. “Ek is Riana, en hy’s Frans Goedhardt.”

Tant Doortjie betrag Frans onbeskaamd van kop tot tone. “En wie se kêrel is jy nou? Riana s’n of Pikkie s’n?”

“Niemand se kêrel nie, net ’n vriend van Riana,” antwoord Frans glimlaggend op haar vraag.

“Ek hoop tante gaan lekker kuier by ons,” sê Riana.

“Dis g’n om te kom kuier dat ek hier is nie. Ek moet mos Maandag die spesjis gaan sien.”

“Ja, ek hoor tante moet die spesialis gaan sien. Wat is dan verkeerd?”

“Nee, dis mos nou wat hy vir my moet sê. Hoe sal ék weet wat’s verkeerd?”

“Het tante pyn of iets?”

“Natuurlik het ek pyn. Waar het jy al ’n vrou van my ouderdom gesien wat nie pyn het nie! Ek word eersdaags vier en tagtig, onthou.”

“Kom, dan neem ons tante se goed deur kamer toe,” tree Pikkie tussenbeide. Haastig om weg te kom uit Frans se teenwoordigheid, en om te gaan klaarmaak sodat sy gereed kan wees wanneer die man van haar drome opdaag.

Maar tant Doortjie het baie dinge om te bekyk in die huis, baie vrae om te vra, en ’n vreeslike koffielus. Toe Pikkie haar weer kom kry, is dit halfsewe. Daar kom niks van haar voornemens om rustig en op haar tyd aan te trek nie. Daar is ook nie baie tyd om aan haar hare te bestee nie. Sy bondel dit op die ou end maar net saam op haar kop. En toe sy kort voor halfagt die sitkamer binnegaan, menende dat Riana en Frans al weg is, sit hulle nog daar by tant Doortjie.

Riana gaap haar verstom aan. “Sjoe, waar kom jy aan daardie klere? Jy lyk fantasties!”

“Fantasties!” sê tant Doortjie op ’n heel ander manier. “Sy lyk . . . soos geen dame behoort te lyk nie. Kyk hoe onbetaamlik steek haar maag . . . Frans, maak toe jou oë of kyk anderpad. Wat sal jy ook nog vir haar sit en kyk! Jou maag is dan kaal, Pikkie. En het jy dan nie daar op die stasie vir my gesê jy gaan vanaand saam met een van jou manskollegas na ’n skoolfunksie toe nie? Jy kan mos nie só voor ’n man verskyn nie. Om nie te praat van die kinders nie!”

Pikkie kyk na Frans se kant toe, en dadelik weg toe sy sien hoe geamuseerd hy lyk. Sou Riana vir hom gesê het sy gaan saam met Brian uit sodat hy weet sy jok vir tant Doortjie oor die kamtige skoolfunksie? Laat hom dink wat hy wil, besluit sy ergerlik. Vir wat sal sy haar aan hóm steur?

“Ek het gedink julle is al weg,” wend sy haar tot Riana. “Maar siende dat julle nou nog hier is, wil jy nie gou na my kamer toe kom nie? Daar is iets wat ek jou wil wys.”

Elza Rademeyer Omnibus 5

Подняться наверх