Читать книгу Elza Rademeyer Omnibus 5 - Elza Rademeyer - Страница 8
Оглавление5
Hy praat nie terwyl hy die huis sluit en hulle na die motor loop nie. Sy moet haar treë rek om by te hou. En hy ry so roekeloos vinnig teen die steiltes af om in die hoofstraat te kom, dat sy verbaas na hom kyk. “Is dit nou nodig om ons lewens op die spel te plaas uit gramskap oor ’n ontydige telefoonoproep?”
Hy loer tersluiks na haar, maar sê niks. Eers toe hulle die volgende voorstad binnery, plaas hy sy hand op haar bobeen. “Ek is jammer. Dit was nie my bedoeling om ons saamwees so kort te knip nie.”
“Dit was mos nie jou skuld dat die telefoon gelui het nie. Was dit oor jou werk?”
Hy gee ’n sug. “Ja. Ek wens mense wil besef ek het ook ’n privaat lewe. Maar my pogings om dit onder hul aandag te bring, maak nie juis hond haaraf nie. In elk geval, kom ons vergeet van die voorval. Wat sal ons doen? Gaan uiteet en fliek, of wat sê jy?”
“Dit maak nie vir my saak nie. Ons kan doen waarvoor jý lus is.”
Sy is bly toe hy ’n rukkie later spoed verminder en weer begin skerts. Sy ergerlikheid het ongetwyfeld die atmosfeer ietwat gedemp. “Ek is meer lus om jou op te eet,” sê hy. “Maar in die plek daarvan sal ek nou maar met ’n biefstuk in ’n restaurant tevrede moet wees.”
“Jy sal lank kou aan my,” speel sy saam. “Ek is baie seningrig en taaier as wat jy dink.”
Hy lag en bring ná ’n rukkie die motor voor ’n restaurant tot stilstand. Toe knyp hy haar liggies aan die wang. “Kom ons gaan drink en wees vrolik.”
“Sjoe, dit klink rof. Amper asof drank belangriker is as kos.”
“Nee, daar is een ding wat belangriker is as drank én kos. Dis jy.” Toe klim hy uit om die motordeur vir haar oop te hou. By die restaurant se deur hou hy haar teë. “Hoe lyk die plek vir jou? Ek was nog nie voorheen hier nie.”
“Dit lyk heel goed,” sê sy toe sy na binne loer. “Hier is selfs ’n klein dansvloertjie.”
“Dan is dit net waar ons wil wees. Ek kan nie wag om jou in my arms te hou nie.”
Die restaurant is nie van dieselfde gehalte as die een waarheen hy haar die vorige keer geneem het nie. Sy kom dit gou agter toe sy sien hoe onprofessioneel die kelners optree. Ook die musiek dra nie juis by om ’n rustige atmosfeer te skep nie. Brian merk ook gou op dat dit vir hom lyk of die plek meer vir jong mense bedoel is. “Moet ons nie liewer ’n ander eetplek gaan soek nie?”
“Ons is self mos darem nie horingoud nie. Miskien is hul kos baie lekker.”
Hy leun terug in sy sitplek. “Gelukkig is ons taamlik privaat hier. Maar die musiek! Dit val nou nie juis in my smaak nie.”
“Nee, dis gans te hard na my sin ook. Maar kom ons maak die beste van die saak.”
Brian is besig om haar glasie met wyn te vul toe ’n man en ’n meisie verby hul tafel gedrentel kom op soek na ’n sitplek. Niemand anders as Frans Goedhardt nie! ’n Oomblik lank lyk dit of hy wil vassteek toe hy haar opmerk, maar dan loop hy verder. Sy kom agter haar mond het oopgeval van skone verbasing en maak dit vinnig toe. Wat soek hy hier? En die meisie saam met hom, wie is sy? Waar is Riana en tant Doortjie dan? Hy was dan daar by die huis om hulle op te laai. Hulle kon tog nie al klaar geëet het nie! Het hy dié meisie deur die loop van die dag iewers ontmoet en toe sy afspraak met Riana en tant Doortjie gekanselleer om haar uit te neem?
Eers toe Brian vorentoe leun en vra wat skeel, kom sy agter haar gedagtes is so besig met Frans se dinge dat sy skoon vergeet het wat om haar aangaan. “Ekskuus, man. Ek is net verstom. Het jy gesien wie het so pas hier by ons verbygestap?”
“Nee, wie?”
“Frans Goedhardt. Hy was dan netnou daar by die huis om tant Doortjie en Riana uit te neem vir ete. Nou is hy hier, sonder hulle en . . . saam met ’n vreemde meisie! In elk geval nie ’n meisie wat ék ken nie.”
“Gaan vra hom wat van jou tante en Riana geword het.”
“Dit sal die dag wees! Hy kon my mos gesê het as hy wou.”
“Hy’t jou seker nie gesien nie.”
“Natuurlik het hy. Hy’t my vir ’n stonde of wat vas in die oë gekyk, en toe doodluiters verder geloop.”
Brian trek sy skouers op. “Vergeet van hulle en vertel my wat jy van my voorstel dink?”
“Watter voorstel?”
“Ek het gevra of ons ná ete hotel toe sal gaan?”
“Hotel toe? Watter hotel?”
“Enige hotel.”
“Om wat daar te gaan maak?”
Hy lê sy hand oor hare. “Sodat ons alleen kan wees.”
’n Gevoel van agterdog kom in haar op. “As jy sê wat ek dink jy sê, maak jy ’n fout.”
“Hoekom nie? Ons kan tog nie vroeër vanaand se dinge net so los nie? Of wil jy stry dat jy my liefkosings geniet het?”
Haar kop sak. “Die telefoon het ons gelukkig onderbreek. Ek sê ‘gelukkig’, want dit het my tot my sinne gebring. Nee, Brian, jy maak ’n fout as jy dink ek sal saam met jou na ’n hotelkamer gaan.” Sy praat nog sagter. “Ek besef jy kon die indruk gekry het dat ek so ’n soort meisie is, want ek het . . . Wel, ek hét skuld daaraan dat jy dit dink. Maar regtig, ek is eintlik skaam dat my emosies elke keer so op loop sit.”
Hy gee ’n laggie. “Toe maar, vergeet van my voorstel. Ek sal my nie aan jou opdwing nie.”
Die res van die aand verloop effens anders as wat sy verwag het. Hoewel Brian nog net so galant en sjarmant is, is dit tog of daar ietwat van ’n verwydering tussen hulle ingesluip het. Asof sy skertsery gedwonge is. Waarskynlik haar skuld, want sy sukkel om ’n sinvolle gesprek te voer omdat sy nie kan ophou wonder oor Frans en die meisie nie, en wat dan van tant Doortjie en Riana geword het. Toe hulle ná ete opstaan om te loop, rek sy haar nek om te kyk waar Frans en die meisie is, maar weens die hoë rugleunings van die sitplekke kan sy hulle nie sien nie.
Die fliek waarna hulle gaan kyk, kan ook nie haar gedagtes ten volle in beslag neem nie. Geen wonder dus Brian vra op pad huis toe wat haar hinder nie.
“Hinder? Niks hinder my nie.”
“Ek is nie ’n swaap nie.”
Sy kyk vinnig na hom, maar dis te donker in die motor om sy gelaatstrekke te eien. “Is jy kwaad?”
“Nee, nie kwaad nie. Maar moenie my probeer bluf deur te maak asof daar niks skort nie.”
“Dis sommer . . . moegheid. My skoolhoof se dood, die begrafnis, eksamen en al die dinge,” versin sy vinnig ’n noodleuentjie. “Ek het ’n kwaai week agter die rug.”
“Ek sal jou eers later in die week weer kontak,” sê hy toe hulle voor haar huis stilhou. “Want môre vlieg ek en drie van my modelle Durban toe, en ek weet nog nie vir seker wanneer ons terug gaan wees nie.”
Daar is ’n gevoel van onvergenoegdheid in haar toe sy die huis binnestap nadat hy haar by die voordeur weggesien het. Sy weet nie of dit is oor hy al weer weggaan en of dit oor Frans en haar huismaats se dinge is nie. Oor tant Doortjie hoef sy haar egter nie te bekommer nie. Haar luidrugtige snorkgeluide uit die kamer sê sy is veilig tuis. Ook Riana lê vas aan die slaap toe sy by haar kamer inloer. Min wetend hoe hulle haar aand ontwrig het, dink sy gebelg toe sy op die rusbank in die sitkamer gaan lê. So erg dat dit die hele atmosfeer tussen haar en Brian bederf het.
Haar nagrus is weer eens nie goed nie. En dis nie net die bankslapery se skuld nie. Dis ook die dinge van vroeër die aand. Haar emosies wat sy nie kon beteuel nie; Brian se ergerlikheid oor die ontydige telefoonoproep; sy voorstel dat hulle na ’n hotel moet gaan; en les bes Frans Goedhardt wat so op die nippertjie vir Riana en tant Doortjie in die steek gelaat het.
Die een of ander tyd moet sy tog aan die slaap geraak het, want sy skrik eers wakker toe tant Doortjie in haar lang wit slaapgewaad die gordyne ooprits. “Toe, watse laatslapery is dit! Ek het lankal koffie gemaak, maar al wat wakker word, is jy en Riana. Het julle nog nooit daardie spreekwoord gehoor nie? Oggendstond het goud in die mond!”
Pikkie lig haar arm om op haar horlosie te kyk en los ’n kreuntjie. “Dis nou eers agtuur. En dis Sondag. Omtrent die enigste dag wat ons kan laat slaap.”
“Gaan ons kerk toe?”
“Wil tante baie graag gaan?”
“Ja, ek wil. Maar dit reën. En reën en my rumatiek loop nie hand aan hand nie. Miskien sal dit maar beter wees om by die huis te bly. Hoe laat het jy toe gisteraand in die bed gekom?”
“Nie so laat nie. Maar waar was julle gisteraand? Ek het my morsdood bekommer oor julle.”
“Oor ons?” vra tant Doortjie verbaas. “Vir wat het jy jou dan oor ons bekommer?”
“Sou julle dan nie saam met Frans gaan uiteet het nie?”
“Dit was die plan, ja. Maar toe kom Neville en sy ou seuntjie mos hier aan. Toe besluit ek en Riana om liewer die aand tuis deur te bring en vir Neville te nooi om saam met ons te eet.”
“So, dis eintlik tante en Riana wat die uitetery gekanselleer het?”
“Ja. Ons hét vir Frans genooi om ook saam met ons te eet, maar dit het hom beter gepas om huis toe te gaan, want hy’t onverwags ’n gas gekry. So, dinge het toe na alle kante reg uitgewerk.”
Pikkie gee ’n snorkie. “Ja, ek wil glo dit het veral vir Frans baie goed uitgewerk.”
“Ja, ek glo ook so,” sê tant Doortjie, onbewus van haar verontwaardiging. “Want hy het glo sy kuiergas genooi om ook saam met ons te gaan eet, maar sy wou nie. Had glo nie lus vir vreemde mense nie.”
Bog, dink Pikkie by haarself toe tant Doortjie kombuis toe loop om vir hulle te gaan koffie haal. Sy was maar net jaloers. Wou Frans natuurlik net vir haarself hê. En dat hy gevlei sou voel daaroor, is nie altemit nie.
Sy kon weliswaar nie die meisiekind betrag nie, hul ver-skyning daar langs haar en Brian se tafel was te kortstondig, maar sy was gewis nie onaansienlik nie. En jonk. Baie jonk.
Toe Riana oëvrywend die vertrek binnekom, vertel Pikkie haar dadelik van Frans wat sy in die restaurant gesien het. “En daar was ’n meisie saam met hom.”
“O,” is Riana se enigste opmerking voordat sy ’n lang gaap gee en kombuis se kant toe beduie. “Ek ruik koffie. Wil jy ook hê?”
“Tant Doortjie het gaan haal. Wie is die meisie wat saam met Frans daar by die restaurant was?”
Riana lig haar skouers en gee nog ’n lang gaap. “Ek weet nie. Hy’t iets gesê van ’n gas wat onverwags by hom opgedaag het, maar hy’t met Neville gepraat. Ek het nie notisie geneem van hul gesprek nie. Hoe was jou aand saam met Brian?”
“Lekker. Maar dit kon lekkerder gewees het as ek my nie die hele aand oor julle bekommer het nie.”
“Hoekom het jy jou oor ons bekommer?”
“Dink jou in my situasie in. Hier sit ek en Brian in die restaurant. Salig onder die indruk dat jy en tant Doortjie saam met Frans gaan uiteet het. Dan kom hy skielik die restaurant binne, sonder jou en sonder tant Doortjie, met ’n wildvreemde meisie wat aan sy arm hang, kyk my reg in die oë, maar loop verder sonder om ’n woord te sê oor wat van jou en tant Doortjie geword het.”
“Het jy hom gevra?”
“Jy verwag tog nie ek moes agter hom aanhardloop om hom te vra nie! Hy kon my mos gesê het as hy wou.”
“Miskien het hy gedink hy sal die atmosfeer tussen jou en Brian bederf as hy met jou gesels.”
“Riana het gisteraand vir ons baie lekker kos gemaak,” kom tant Doortjie die sitkamer geselsend binne met die koffie. “Neville en sy ou seuntjie het tog te lekker geëet. Ons het sommer tot laatnag saam gekuier. Maar hoe was jou aand toe?”
“Heerlik, dankie,” sê sy en hoop sy word vir die nood-leuentjie vergewe. Nie dat die aand heeltemal ’n mislukking was nie, maar dit was beslis nie soos die vorige twee kere dat sy en Brian saam was nie. En wie anders as Frans moet die skuld kry? Dis hy wat gemaak het dat sy nie haar aandag ten volle by Brian kon bepaal nie. Dat hy hom boonop met so ’n bloedjong meisie ophou . . .
“Hoe oud is Frans?” vra sy vir Riana voordat sy haar kan bedink.
“Frans? Gits, ek dink Trix het nou die dag gesê hy raak eersdaags vyf of ses en dertig. Ek kan nie onthou nie. Maar hoekom vra jy?”
“Omdat ek twyfel of die meisie wat saam met hom in die restaurant was al mondig is.”
Riana lig ongeërg haar skouers. Dan is dit asof haar vaakheid ineens wyk. “Jy beter sorg dat jy volgende keer hier is wanneer Neville kom kuier.”
“Hoe moet ek weet wanneer hy hier gaan opdaag? As hy my wil sien, kan hy ’n afspraak maak.”
“Boetman was baie teleurgesteld toe hy hoor jy is nie hier nie.”
“Nou wat verwag jy? Dat ek aand na aand tuis moet sit en wag vir ingeval Neville hier uitslaan? Moenie laf wees nie.”
“Neville is ’n gawe man,” sê tant Doortjie. “En die ou seuntjie is tog te ouderwets. Hy’t eers vir Riana gaan help met die kosmakery en toe laataand ewe op haar skoot aan die slaap geraak.”
“Brian is net so ’n gawe man,” sê sy iesegrimmig. “Julle ken hom maar net nie.”
“Ons kry nie kans om hom te leer ken nie,” sê tant Doortjie. “Hoekom nooi jy hom nie om vanmiddag by ons te kom eet nie?”
“Hy vlieg vandag Durban toe.”
“Wanneer kom hy terug?”
“Hy kon nog nie sê nie.”
“Dan gaan ek hom seker misloop,” sê tant Doortjie. “Want ek het besluit om Donderdagaand se trein te vat huis toe. Ek is nou uitgekuier hier in die stad. Hierdie ou suurgesig-bure van julle staan my nie aan nie. Jy moet hulle omtrent lek om jou binne te nooi wanneer jy vir hulle gaan kuier, en dan sit jy skaars of hulle laat jou verstaan hulle is eintlik op pad uit. Totaal anders as my bure daar op Albertinia. Daar het die mense darem nog tyd vir mekaar. En ek verlang nou regtig na my ou hanslam en hennetjie. Die arme diere. Dink seker die spesjis het hul ounooi lankal die ewigheid in.”
Donderdagmiddag het hulle net begin om tant Doortjie se tasse in Pikkie se motor te laai, toe Frans daar opdaag. “Ek het dit amper nie gemaak om betyds te wees nie,” sê hy. “Ek wou vroeër kom groet, maar ek het ’n oponthoud gehad.”
“Wel, ek is bly jy’s betyds,” sê tant Doortjie. “Nou kan jy saamry stasie toe. Ek hou niks daarvan dat die meisiekinders alleen in die donker moet terugry huis toe nie. Want die goed wat ek elke dag in daardie koerant gelees het! Dis net moord en doodslag. Jy sal mos saamry, of hoe?”
Hy kyk na Pikkie. “Kan ek saamry?”
Sy lig haar skouers en kyk vinnig anderpad. “Nes jy wil.”
“Goed, dan ry ek saam.”
Toe hulle gereed is om te vertrek, oorhandig sy die sleutels aan hom. “Bestuur jy.” Toe klim sy vinnig langs Riana agter in die motor.
Nadat tant Doortjie al steunende voor langs hom ingeklim het, skakel hy die motor aan en loer in die truspieëltjie. “Het jy agtergekom jou aansitter sleep?”
“Wat bedoel jy?”
“Luister.” Hy skakel die motor ’n paar keer af en aan. “Kan jy hoor hier is fout?”
“Hy maak al lankal so.”
“Wanneer laas het jy jou motor by ’n garage gehad vir ’n goeie diens?”
“Ek kan nie onthou nie. Ek hét hom eenkeer laat diens.”
“Hoe lank terug was dit?”
“Ek sê jou mos ek kan nie onthou nie. Laas jaar in November rond.”
Hy gee ’n uitgerekte fluit. “Laas jaar! Dis al weer amper November.”
“Ek het nie geld om heeldag by ’n garage te lê nie,” sê sy ergerlik. “Die motor loop soos ’n droom. Hy’t my nog nooit in die steek gelaat nie.”
“Wel, jy gaan nie ver kom voor hy jou in die steek laat nie.”
“Toe maar, ek sien waarop jy afstuur. Jou geld is seker op. Nou wil jy uit my geld maak. Maar jy sal lank wag. Ek laat nie mense van die straat af aan my motor werk nie.”
“Kind, maar jy’s darem ongeskik,” laat tant Doortjie hoor. “As ek Frans was, het ek jou nou presies vertel waarheen jy kan vlieg.”
Frans gee ’n laggie. “Toe maar, tante, ek en Pikkie verstaan mekaar. Dis maar ons manier van kommunikeer. As ons goedig moet gesels, sal ons nie weet wat om vir mekaar te sê nie, nè, Pikkie?”
Sy ruk verwoed haar kop weg toe sy opkyk en in die truspieëltjie sien hy knipoog waaragtig vir haar. Om alles te kroon, ontsenu dit haar so dat sy nie woorde kan vind om haar misnoeë oor sy opmerking uit te spreek nie. Gelukkig dat tant Doortjie weer begin skel op die “terroriste” wat so onverskillig ry, tot groot vermaak van Frans en Riana. Hulle kom dan ook nie agter dat sy wat Pikkie is die hele pad stasie toe tjoepstil is nie.
Wat gaan met haar aan? wonder sy. Hoekom voel sy skielik so afgehaal oor Frans gesê het hulle sal nie weet wat om vir mekaar te sê as hulle goedig moet gesels nie? Dink hy regtig so? Natuurlik sal hy so dink, want sy het nog nooit probeer om beskaaf teenoor hom op te tree nie. Geen wonder hy dink sy’s ’n regte heks nie!
Tant Doortjie pink ’n paar trane uit haar oë toe hulle op die stasie van haar afskeid neem. “Dankie, kinders. Julle was almal so goed vir my. Al is die lewe hier in die stad nou nie juis van so ’n aard dat ek daarmee sal kan saamleef nie, gaan ek julle mis. Ons ou geselsies en al die dinge.” Sy druk-druk eers met haar groot mansakdoek teen haar ooglede en wend haar dan tot Pikkie. “Kind, ek weet nie wat daardie modemannetjie se attensies met jou is nie, maar loop tog maar lig vir hom. Hy’t vir my so uit die hoogte gelyk toe jy hom aan my voorgestel het. So asof hy van homself meer dink as van ander. Ek dink nie jou pa-hulle gaan van hom hou nie.”
Pikkie soek na woorde. Besef dan dis nodeloos om met ’n redenasie te begin. Die trein kan enige oomblik in beweging kom. En daarby is sy intens bewus daarvan dat Frans na hulle staan en kyk. Seker nuuskierig om haar reaksie te sien. “Moenie bekommerd wees nie, tante, ek sal nie my kop in ’n bynes steek nie,” sê sy so normaal moontlik. “En dra asseblief my groete oor aan my ma-hulle en sommer aan almal daar op Albertinia en Riversdal wat my ken.”
Toe die trein met tant Doortjie se waaiende sakdoek in die verte verdwyn, maak Frans keel skoon. “Ek hou van haar. Sy is soos my tante van Montagu. Aards en sonder fieterjasies.”
“Het ek haar kuier geniet!” sê Riana. “Vir my part kon sy nog ’n maand lank by ons gekuier het.”
Pikkie gee ’n suggie. “Ten minste gaan ek nou weer ’n lessenaar hê.” Toe die woorde uit is, is sy dadelik spyt. Albei het iets goeds te sê gehad oor tant Doortjie. Net sy moes nou weer ’n onvanpaste opmerking maak. Frans sal seker dink sy bedoel sy’s dankbaar haar tante het uiteindelik geskoert. Maar dis alles behalwe wat sy bedoel het. Sy sal haar mis. Dis net dat dit deksels ongemaklik is om ’n wavrag skoolboeke op ’n koffietafel na te sien.
“Wil jy nie self terug bestuur nie?” vra Frans toe hulle by die motor kom.
“Nee, bestuur jy maar weer. Ek geniet die blaaskansie.”
“Sit jy voor,” sê Riana.
“Nee, sit jy maar daar,” sê sy en klim amper halsoorkop in om agter die passasiersitplek plaas te neem, buite sig van die truspieëltjie. “As ek voor sit, bekommer ek my net oor die verkeer.”
“Wat is jul planne vir die vakansie?” vra Frans op pad terug huis toe.
“Ek gaan van Maandag af saam met my vriendin Martie op ’n plaas by Malmesbury kuier,” sê Riana. “Ek weet nie wat Pikkie se planne is nie. Brian sal seker oor die naweek terugkom van Durban af.”
Pikkie sien hoe Frans sy kop lig om in die truspieëltjie te kyk. Sy glimlag sinies. Lekker gefnuik, dink sy, want hy kan haar nie sien nie. Sy antwoord ook nie en maak liewer asof sy glad nie kan hoor wat hulle praat nie.
Toe hulle by die huis kom, is Neville en Boetman daar, reeds op pad terug van die voordeur na hul motor in die straat. Boetman bars amper uit sy vel van blydskap toe hy hulle herken. “Ons hoef nie huis toe te gaan nie, Pappa. Hulle is hier. Tannie Riana én tannie Pikkie!”
“As julle my sal verskoon, ry ek nou dadelik huis toe,” sê Frans nadat hulle Neville en Boetman gegroet het.
“Ja, jy het mos ’n kuiergas,” borrel dit onverhoeds oor Pikkie se lippe.
Hy frons. “Wie, ek?”
“Ja, jy. Die meisie wat Saterdagaand saam met jou in die restaurant was. Seker gedink ek het julle nie gesien nie?”
Hy kyk haar ’n paar oomblikke stip aan. Amper asof hy iets wil takseer. Toe glimlag hy skeef. “So? En wat daarvan?”
Sy sluk ongemaklik en verwens haarself, skielik oorbewus daarvan dat Riana en Neville nie meer by hulle is nie. “Nee, niks. Ek het maar net gewonder hoekom jy my nie gegroet het, of ten minste vir my gesê het jou uitetery saam met Riana en tant Doortjie is gekanselleer nie.”
Hy sê niks. Glimlag net effens voordat hy wegdraai om in sy motor te klim.
Jou gek! skel sy op haarself. Wat moet hy nou van haar opmerking dink? Dat sy hom wil teregwys oor Saterdagaand? Wat traak sy doen en late haar in elk geval? Al hou hy ook ’n harem aan, kan dit haar nie skeel nie. En hoe het dit dan gebeur dat Riana en Neville so in die niet verdwyn het?
“Gaan jy ietsie saam met ons eet?” hoor sy Riana vir Neville vra toe sy die huis binnegaan.
“Jong, dis te veel moeite. Ek sal liewer net koffie drink.”
“Dis nie moeite nie,” sê Riana. “Jy kan gerus . . .”
“Ja, julle kan gerus saam eet,” voltooi Pikkie Riana se sin toe dié haar sien en haar woorde in die lug bly hang. “Dis my beurt om kos te maak en ek gee regtig nie om as jy en Boetman saam met ons eet nie.”
“Dankie, maar dan sal ek regtig moet vergoed daarvoor. Julle ook een aand nooi om by my te kom eet, of julle uitvat vir ete.”
Ná ’n rukkie verkas Pikkie kombuis toe. Maar haar gedagtes is nie ten volle by die kosmakery nie. Dis soos ’n bondeltjie blare wat deur ’n windvlaag van hoek tot kant gewaai word sonder dat dit êrens tot rus kom. Hinderlike gedagtes. Brian se opmerking oor die hotel. Wat sou gebeur het as sy ingewillig het? Sou dit hul verhouding geskaad of versterk het? Sy weet nie. Sy wil nie graag glo Brian is die soort man wat belangstelling sal verloor as hy haar ver-ower het nie. Maar hoe goed ken sy hom regtig? Hy skram weg as sy hom uitvra oor sy doen en late. En Frans . . .? Daardie snaakse manier van kyk na haar toe sy wou weet hoekom hy gemaak het of hy haar nie ken nie daar in die restaurant. Die geheimsinnige glimlaggie voordat hy motor toe geloop het, amper asof hy iets weet wat sy nie weet nie. Of verbeel sy haar? Was dit ’n glimlaggie van blydskap omdat haar opmerking hom daaraan herinner het dat daar iemand by die huis vir hom wag? Iemand jonk en mooi . . . Natuurlik, dis al wat dit kan wees.
Geen wonder nie dat haar aartappelskyfies so hard gebak is dat Boetman vra of dit van regte aartappels gemaak is, die wors soos semels smaak en die broodjies wat sy in die louoond gesit het om warm te word so hard soos klippe is.
Toe Neville aanstaltes maak om te ry en sy sien Riana kyk na haar kant toe, staan sy op om hom en Boetman na sy motor te vergesel. En toe hy aarsel nadat hy die motordeur oopgemaak het, sê sy impulsief: “Julle moet weer kom kuier. Ek is jammer ek loop so baie rond, maar as jy vooraf bel, sal ek sorg dat ek tuis is.”
“Ek weet nie,” sê hy aarselend. “Dit mag wees dat ek môre Bloemfontein toe ry vir ’n kunsuitstalling.”
“Wel, bel my wanneer jy terug is. Onthou, jy is altyd welkom om by ons ’n koppie koffie te kom drink.”
“Dankie, ek sal dit onthou.”
Toe sy terugkom in die huis, is Riana in die badkamer. En met dié lui haar selfoon.
“Hoe gaan dit met my meisie? Is sy nog net so pragtig soos altyd?” hoor sy Brian vra toe sy antwoord.
“Hallo, Brian. Dit gaan goed, dankie. En met jou?”
“Ek het slegte nuus. Ek sal nie terug wees voor Maandag nie.”
“Ag nee. Die skole sluit môre. Ek het gedink . . .” Sy swyg verleë toe sy die duidelike ondertoon van teleurstelling in haar eie stem hoor.
“Ek is jammer, my meisie,” sê hy. “Maar dis nou ongelukkig ’n sameloop van omstandighede waaraan ek niks kan doen nie. Sodra ek terug is, bel ek jou dadelik. Dan verf ons die stad rooi!”
As sy vooraf geweet het hy gaan nie die naweek terug wees nie, kon sy net sowel vir tant Doortjie huis toe geneem en die naweek vir haar ouers gaan kuier het, dink sy. Nou lê daar ’n leë, vaal naweek vir haar voor.
“Jy is seker bly jy het darem nou weer jou slaapkamer vir jouself,” sê Riana toe sy uit die badkamer kom.
“Ja, dis darem een ou ligpuntjie,” sê sy sugtend.
“En nou, hoekom klink jy so bedruk?”
“Brian het nou net gebel. Hy sal nie voor Maandag terug wees nie.”
“Ek sien.” En ná ’n rukkie: “Dis darem nie lank nie. Net die naweek.” En uit die bloute: “Het Neville jou vertel hoe dit gekom het dat hy geskei is?”
“Nee. Ek het hom nog kwalik weer gesien. Ek meen, ons was nog nooit weer alleen nie. Ek het hom genooi om die een of ander tyd weer by ons te kom kuier, maar hy ry moontlik môre Bloemfontein toe vir ’n paar dae. Wat sê hy, hoekom is hy geskei?”
“Hy moet jou maar self vertel. Ek is jammer ek het dit opgehaal. Ek het aangeneem julle het dit bespreek.”
“En jóú hartsake?” vra Pikkie belangstellend. “Ons het so lank laas kans gekry om lekker te gesels. Jy het mos nog laas gepraat van iemand van wie jy baie hou, maar wat iemand anders in die oog het. Het jy hom intussen weer gesien?”
Riana se kop knik. “Ja, ek sien hom van tyd tot tyd, maar dis nog dieselfde. Hy sien my nie raak nie.”
“Dan moet hy darem regtig siende blind wees. Is dit iemand by jou skool? ’n Onderwyser?”
“Nee.”
“Jy wil nie oor hom praat nie?”
“Nee.”
“Ai, man, ek hoop dinge kom vir jou reg. Dit moet vreeslik wees om lief te wees vir iemand en hy steur hom nie aan jou nie.”
“Los nou maar dié onderwerp,” sê Riana stug. “Wat gaan jy die naweek doen?”
“Seker niks besonders nie. Wat is daar nou om te doen? Het jy aan iets gedink?”
“Nee. Net aan slaap en rus.”
Dis dan ook wat hulle die hele Saterdag doen. Slaap en rus.
Sondagoggend skrik Pikkie wakker van die gelui van die telefoon. “Jammer ek maak julle so vroeg wakker,” sê Neville toe sy antwoord, “maar ek ry eers môre Bloemfontein toe. En dis so ’n lieflike dag dat ek gewonder het of jy en Riana nie lus is vir ’n piekniek nie.”
“Dit klink lekker! Riana slaap nog, maar ek sal haar sê. Ons sal ’n kosmandjie pak en sommer tot daar by jou ry. Ek weet mos waar die woonwapark is.”
Riana lyk vir ’n oomblik of wat opgewonde toe sy haar van Neville se oproep vertel, maar dan skud sy haar kop. “Ek sal nie saamgaan nie.”
“Hoekom nie? Het jy ’n ander afspraak?”
Sy vryf met haar hande oor haar oë. “Nee . . . e . . . ja. Frans kom hierheen.”
“Ag, bel vir Frans en sê vir hom jy’t iets anders aan.”
“Nee. ’n Mens los nie sommer so na hartelus afsprake nie.”
“Daar is tog niks anders as platoniese vriendskap tussen jou en Frans nie, is daar?”’
“Nee, maar . . . Ek is in elk geval nie lus om derdemannetjie te speel nie. Gaan en geniet die dag. Boetman sal in die wolke wees.”
Pikkie se opgewondenheid is glad nie meer so groot toe sy ’n ruk later alleen met die gepakte kosmandjie in die pad val Bloubergstrand toe nie. Toe Neville die voorstel gemaak het, het sy hulle vier saam op ’n kombers langs ’n rivierstroom sien sit en korswil. En het sy geglo sy sal op Riana se teenwoordigheid kan staatmaak om te verhoed dat Neville haar dalk die hof maak. Dis die laaste ding wat sy wil hê.
Boetman kom haar eerste tegemoetgehardloop toe sy voor hul woonwa stilhou. Hy dans behoorlik rond van opgewondenheid en kan nie wag dat sy hom moet vertel wat sy alles in die kosmandjie gepak het nie. “Riana kon ongelukkig nie saamkom nie,” sê sy toe Neville by hulle aansluit. “Sy het ’n ander afspraak.”
Hy antwoord nie daarop nie en neem die kosmandjie by haar om dit in sy motor te sit. “Waarheen sal ons gaan? Het jy enige voorstelle?”
“Nee, dis vir jou om te besluit.”
“Kom ons gaan na die berg toe waar die bobbejane is,” sê Boetman smekend.
“Hy praat van Dutoitskloofpas,” verduidelik Neville glimlaggend.
“Dan kan ons seker maar soontoe gaan?”
“Ja,” sê Neville. “Solank jy net onthou dat bobbejane oulike maar gevaarlike gediertes is, Boetman.”
Dit word ’n heel aangename dag. Hulle is gelukkig om ’n stilhouplekkie langs die pad in die berg te kry waar daar wel ’n waterstroompie en groen gras is om ’n kombers oop te sprei. Daar is tot Boetman se plesier genoeg bobbejane om van ’n afstand af dop te hou. En Neville, kom Pikkie agter, is werklik interessante geselskap. Daar is omtrent niks waarvan hy nie iets weet nie. Hy kom boonop van tyd tot tyd met sulke kwinkslae vorendag dat sy nie anders kan as om dit uit te skater van die lag nie. Toe hy voorstel hulle ry terug Bloubergstrand toe om te gaan swem nadat hulle die kosmandjie behoorlik skrikgemaak het, willig sy dadelik in. “Dit sal lekker wees.”
Toe hy later uit die water na haar en Boetman aangestap kom, kan sy nie anders as om sy mooi sonbrand raak te sien nie. Goed gebou ook. Daarby is hy so ’n gawe mens, hoe is dit dan dat hy geskei is? Was dit sy skuld?
Asof hy haar gedagtes kan lees, sê hy toe hy langs haar op sy handdoek kom sit: “Ek sien eintlik daarteen op om Bloemfontein toe te gaan. Dit ontstig Boetman elke keer as hy sy ma sien.”
Sy kyk vinnig na hom en toe na Boetman waar hy ’n entjie van hulle af besig is om ’n sandkasteel te bou. “Ek glo dit sal hom ontstig. Woon sy ma in Bloemfontein?”
“Ja. Sy en haar nuwe man en die drieling.”
“Drieling?”
“Haar man se kinders by sy vorige vrou.”
“Hoe is dit dat jy Boetman behou het? Ek meen, ek weet nie veel van egskeidings en hofgedinge nie, maar gewoonlik gaan die kinders mos na die ma toe.”
“Sy het glad nie in hom belanggestel nadat sy dié wewenaar ontmoet het nie. Dit was asof haar verstand heeltemal die loop geneem het. Al wat saak gemaak het, was die rykmanslewe wat hy haar kan bied. Maar kom ons vergeet daarvan. Ek treur nie meer oor haar nie. Gelukkig het ek agtergekom ’n mens moenie alle vroue oor een kam skeer nie.”
Sy sal graag meer wil hoor van die vrou wat haar man en kind sommerso opsy gestoot het, maar toe hy dadelik die gesprek in ’n ander rigting stuur, besluit sy om haar nuuskierigheid in toom te hou. Dis sý saak. Sy wil tog ook nie regtig gemoeid raak met sy lewe nie.
Riana is alleen by die huis toe sy laatmiddag daar aankom. “Waar is Frans dan? Ek dag hy sou vir jou kom kuier het?”
“Hy was hier, maar net vir ’n rukkie. Sy buurman se motor het gebreek en hy moes nog gaan kyk of hy dit aan die loop kan kry.”
“Was sy meisie ook hier?”
“Frans se meisie? Nee, hy was alleen hier.”
“Sou sy nog by hom kuier?” Riana kyk haar skielik so ondersoekend aan dat sy voel sy gaan bloos. Sy keer vinnig haar rug op haar vriendin. “Ek wonder sommer net of hy dan nou oor sy liefdesteleurstelling is.”
“Ek weet nie of sy nog by hom kuier nie, maar ek het ’n idee hy is al ’n geruime tyd oor sy teleurstelling. Hoe was jou dag saam met Neville?”
“Baie lekker. En ook maar goed ek het my baaikostuum saamgevat, want ons het toe gaan swem ook. En Neville het my vertel van sy egskeiding. Sy eks het –”
“Toe maar, ek weet,” val Riana haar half bot in die rede. “Dis nie nodig om die detail te beskryf nie, hy’t my volledig ingelig. Vertel maar net van die piekniek. Of wag, dit val my nou by jou ma het gebel. Sy’t gesê jy moet haar dadelik bel as jy by die huis kom.”
Op pad telefoon toe begin Pikkie se selfoon lui. “My ma moet nou maar wag,” sê sy. “Laat ek eers my selfoon antwoord.”
“Pikkie,” herken sy dadelik Brian se stem. “Ek is regtig jammer, my meisie, maar daar het nou weer iets voorgeval. Dit lyk my nie ek sal voor Vrydag in die Kaap wees nie.”
“Vrydag eers! Ek bedoel . . . Toe maar, daar is seker niks wat jy daaraan kan doen nie.”
“Nee, ongelukkig nie. Ek is regtig jammer, want ek onthou ek het vir jou gesê ek sal môreaand terug wees. Maar dis weer eens ’n sameloop van omstandighede.”
Sy is sommer vies toe hulle die gesprek beëindig het. “Dit was Brian,” sê sy vir Riana. “Hy gaan nie voor Vrydag terug wees in die Kaap nie. As ek dit vooraf geweet het, het ek Riversdal toe gery vir die vakansie. Nou sit ek hier met niks om te doen nie.”
“Jy kan mos nog altyd huis toe gaan. En sommer ná volgende naweek eers terugkom. Dan laat proe jy hom van sy eie medisyne. Maar onthou nou om jou ma te bel.”
“Hoekom kan jy Brian nie verdra nie?”
“Dis nie dat ek hom nie kan verdra nie. Dis net dat hy my sterk herinner aan die man wat ek my destyds verbeel het ek liefhet. Ek is bang jy kry seer soos ek seergekry het, en dan . . . Ag, vergeet dit. Onthou om jou ma te bel.”
Sy kyk Riana agterna toe sy by die sitkamerdeur uitloop en frons liggies. Wat het haar laat glo Riana is lankal oor daardie teleurstelling? Maar dan lig sy haar skouers en stap foon toe.
“Oom Tom is gistermiddag oorlede,” sê haar ma nadat hulle gegroet het.
“Oom Tom? Pa se broer?”
“Ja. Die dokter sê dit was ’n hartaanval. Ek het gewon-der . . . kan jy nie maar begrafnis toe kom nie? En dan sommer ’n rukkie by ons kuier. Ons verlang na jou. En oom Tom het nogal so ’n maand of wat gelede genoem dat hy iets aan jou gaan bemaak wanneer hy te sterwe kom. Min wetend dat hy so na aan daardie dag was.”
“Ek sal daaroor dink. Wanneer is die begrafnis?”
“Jou pa is besig om dit vir Woensdag te reël.”
“Goed, ek kom môre. Hoe gaan dit verder?”
“Nee, dit gaan goed. Ons het gister gou by tant Doortjie ook ’n draai gaan maak. Sy’s tog te opgetoë met haar kuier in die Kaap. Net verskriklik boos oor die vet rekening wat sy van die spesialis ontvang het. Sy’t amper ’n oorval gehad! Wil ook niks weet van betaal nie.”
“Sy’t nie ’n keuse nie. Hy hét haar tog ondersoek en toetse op haar laat doen. Sy kan mos nie verwag hy moes dit verniet doen nie.”
“Ek weet, my kind. Jou pa het vir haar gesê sy kan in die tronk beland as sy weier om te betaal, maar nou ken jy tant Doortjie. As sy ’n ding in haar kop het, luister sy nie na rede nie.”
Pikkie tref Riana in haar kamer aan ná die oproep. “En as jy nou so na die dak lê en staar?”
“Ag, ek rus net ’n bietjie.”
“My pa se enigste broer is oorlede, so ek gaan vir ’n paar dae huis toe. Ek voel my half verplig om sy begrafnis by te woon, want volgens my ma gaan ek moontlik een van sy erfgename wees.”
“Sjoe! Het hy baie geld gehad?”
“Baie min. Hy was al die jare ’n sukkelaar. Soos ’n kluisenaar geleef. Hoewel, ek sê nou al die jare, maar dis soos ek hom leer ken het. My ma het my eendag sy geskiedenis vertel. Baie tragies. Sy vrou en tweelingdogtertjies van drie jaar oud is vermoor. Die polisie kon nie die moordenaar opspoor nie. Toe het hy besluit hy sal dit self doen en sy werk gelos. Hy’t glo twee jaar lank omtrent al sy geld gespandeer op ’n soektog na die moordenaars. Ma sê die besigheid het sy verstand aangetas. Hy was nooit weer die mens van vroeër nie.”
“Dit ís ’n tragiese storie. Is die moordenaars ooit gevang?”
“Nee, tot vandag toe nie. Ek was as kind baie bang vir hom. Hy’t dag in en dag uit ’n jas gedra. ’n Swart jas en ’n hoed so laag oor sy oë getrek. Ek het omtrent draaie om hom geloop. Wanneer my ma my gestuur het om vir hom kos weg te bring, het ek die huis behoorlik bekruip, die kos op die stoepmuur gelos en terug huis toe genael so vinnig as wat my bene my kon dra. Pa het tot met sy dood nog elke dag vir hom gaan kos wegbring. Of gereël dat iemand anders vir hom kos neem wanneer hulle nie kon nie.”
“Ek lei af hy’t nie ver van julle af gewoon nie?”
“Nee, hy’t by ons op die plaas gebly. Sommer in so ’n klein huisie sonder krag of water. Hy’t volstrek geweier toe Pa dit wou laat aanbring en elke oggend vir hom ’n emmer water uit die put by die windpomp gaan skep.”
“En toe jou pa die plaas verkoop?”
“Pa en die koper het ooreengekom dat hy lewensreg op die huisie kry.”
“Fooi tog, hy moet seker baie eensaam gewees het.”
“Ek dink nie hy’t van mense gehou nie. Hy’t ’n ieder en elk lewenslank met agterdog bejeën. Maar hy’t altyd ’n hond aangehou, en vir dié was hy baie lief. Ma het altyd ’n ekstra porsie kos vir hom ingeskep, want sy was seker hy gee die helfte van sy kos vir die hond. Soos ek ouer geword het, was ek nie meer so bang vir hom nie, maar van ’n kuiery by hom was daar nie sprake nie. Hy’t jou sommer gou laat voel jy’s in die pad.”
“Hoe oud was jou oom?”
“Ek weet nie presies nie. Omtrent tant Doortjie se ouderdom.”
“Wanneer is die begrafnis?”
“Woensdagoggend, maar ek het vir Ma gesê ek sal môreoggend hiervandaan ry. Met dié dat Brian nie voor Vrydag terug sal wees nie, is ek los, so waarvoor sal ek hier bly as ek huis toe kan gaan?”
“Wanneer kom jy terug?”
“Nie later as Vrydag nie, want dan sal Brian terug wees in die Kaap.”
“Ek is nou amper lus en ry saam met jou tot op Swellendam by my ouers.”
“Hoekom doen jy dit nie? Martie sal verstaan as jy sê jy gaan na jou ouers toe. Daar is mos darem nog ’n paar dae oor wat jy plaas toe kan gaan voor die skool weer begin.”
“Sal dit nie jou planne deurmekaarkrap nie?”
“Watter planne? Dit sal heerlik wees as jy saamry, want dan het ek tog geselskap op pad.”
“Goed, dan gaan ek sommer nou vir Martie bel.”
“En ek gaan gou garage toe om my motor vol brandstof te laat maak. Wat klaar is, is klaar, soos tant Doortjie sou sê.”
Sy is net halfpad terug huis toe van die garage af toe die motor skielik begin steeks raak. Die een oomblik reageer hy glad nie as sy die brandstofpedaal intrap nie, net om die volgende oomblik so vinnig weg te vlieg dat sy vervaard remme moet aanslaan.
“Dis nou vir jou ’n ding,” sê Riana toe sy ná ’n groot gesukkel by die huis aankom en haar vertel van die motor se streke. “Dit beteken ons sal nie môreoggend kan ry nie.”
Pikkie klik ergerlik haar tong. “En ek het al so uitgesien na ons trippie. Nogal gedink as ons môreoggend vroeg wegkom, kan ek ook ’n rukkie by jou ouers kuier voor ek verder ry. Nou sal ek eers die motor môre by ’n garage moet kry. En dan is dit te betwyfel of ons voor Dinsdag hier gaan wegkom, want die mense by die garage raak mos nooit haastig nie.”
“Kom ons vra vir Frans om te kom kyk,” doen Riana aan die hand. “Miskien is dit sommer ’n kleinigheid.”
“Frans! Ek is nie lus daarvoor nie. Hy sal buitendien besig wees met ander dinge.”
“Ek sal hom bel. Dit sal jou in elk geval baie minder kos as hy dit kan regmaak.”
Pikkie probeer naarstig ’n ander uitweg soek, maar sy kan glad nie dink aan enigiemand anders wat op ’n Sondagaand bereid sal wees om in ’n motor se binnegoed rond te krap nie. “Bel hom dan maar,” gee sy eindelik toe. “Maar as hy enigsins onwillig klink, sê dadelik hy moet dit los.”
Hy blyk egter heel gewillig te wees, en dis nie lank voor hy in ’n oorpak by hulle opdaag nie. “Wat maak die motor?” vra hy vir Pikkie. “Hoe het jy agtergekom daar is fout?”
“Hy wil nie trek nie. Die een oomblik staan hy tjoepstil en die volgende vlieg hy weg asof die duiwel agter hom is.”
“Klink of daar fout is met sy brandstoftoevoer. Gaan maak solank koffie. Ek sal kyk wat ek kan doen.”
Sy en Riana is nog nie eens klaar met die koffie nie, toe kom hy die kombuis binne en hou sy hand na hulle uit. “Daar wás toe ’n verstopping. Hierdie stukkie metaal het op die een of ander wyse in die brandstofpypie beland. Hy behoort nou reg te wees. Kom ry gou saam dat ons hom kan toets.”
“Ry jy saam,” sê Pikkie vinnig vir Riana.
Maar dié skud haar kop. “Ek ken nie jou motor nie en weet mos nie hoe hy gemaak het nie. Ry julle gou, ek sal die koffie warm hou.”
Toe hulle buite kom, wink Frans vir haar om agter die stuurwiel in te skuif. “Jy sal dadelik weet of daar ’n verbetering is.”
Hoekom dit so is, verstaan sy nie, maar haar senuwees is skielik op hol. Geen wonder dat sy vergeet om die motor in trurat te sit nie, en so hittete bots sy teen die garagemuur voor hulle! Oorbewus daarvan dat hy fronsend na haar kyk, verander sy gou van rat om uit die oprit te kom. Sy wil net by die straat indraai toe ’n motor vinnig om die draai kom, dus wag sy dat hy eers verbyry.
“Daar’s hy, die straat is nou skoon,” sê Frans.
Weer eens vergeet sy om van rat te verwissel en vlieg die motor met hulle agteruit in plaas van vorentoe. Sy skakel vinnig oor na ’n ander rat, maar die motor gee net een ruk en die masjien stol op die plek.
“Hy’s bepaald nog nie reg nie,” sê sy verlig.
“Hoe kan jy weet, jy het dan nog nie eens gery nie?”
“Maar jy sien mos hy vrek sommer.”
“Hy sal nie doodruk as jy hom in die regte rat sit nie. Of is jy gewoond daaraan om in vierde rat weg te trek?”
Haar wange vlam van verleentheid. “Dis nie nodig om sarkasties te wees nie. Elke mens kan ’n fout maak.”
“Toe, ry nou,” beveel hy. “Ons koffie raak koud.”
Ergerlikheid oor sy verwaande houding en haar eie ontsteltenis maak dat sy skoon van die stopstraat laer af in die straat vergeet. Toe sy haar kom kry, is sy feitlik op die stop en moet sy so vinnig rem dat hul koppe amper die voorruit tref.
“Ry jy altyd so onverskillig?” wil hy weet toe sy meer besadig wegtrek.
“Wat bedoel jy met onverskillig? Ek hét mos gestop,” hou sy haar dom.
“Ook maar net betyds. Net soos met die garagedeur. Dit was so op ’n haar se breedte of hy was in sy kanon. Hoe lank het jy al jou rybewys?”
Sy vraag maak haar regtig kwaad. “Vandat ek agtien jaar oud is, as jy moet weet. En ek het nog nooit ’n ongeluk gemaak nie. Dis jóú skuld dat ek blapse maak.”
“Mý skuld?”
“Ja, joune. Jy ontstig my. Jy . . . jou blote teenwoordigheid maak dat ek nie kan dink wat ek moet doen nie!”
“H’m, dit beteken ons vorder darem.”
“Vorder waarmee?”
“Toe maar, ek sal jou anderdag sê. Daar voor is weer ’n stopstraat, indien jy dit nie sien nie.”
“Ek is nog lank nie blind nie.”
“Hoe loop die motor? Voel hy nou weer reg?”
“Ja, dit lyk so. Ons kan maar omdraai.”
“Ry om die blok. Dit sal keer dat jy dalk weer nie dink wat jy doen nie en die verkeer ontwrig.”
Wat ’n nagmerrierit, dink sy in haar enigheid toe sy dankbaar in die oprit stilhou en uitklim. Dit het kompleet gevoel asof dit die eerste keer is wat sy agter ’n motor se stuurwiel sit. En nou moet sy hom nog betaal en bedank ook!
“Wat skuld ek jou vir die regmaak van die motor?” vra sy toe hulle die huis binnegaan.
“Jy skuld my niks. Dit was sommer ’n klein werkie.”
“Baie dankie. Maar ek verkies om jou te vergoed. Jy het immers jou tyd opgeoffer.”
“Goed dan. Wanneer jy terug is van Riversdal kan jy een aand ’n afspraak met my maak en my uitneem vir fliek of iets.”
Sy kyk hom ongelowig aan. “Ek met jóú ’n afspraak maak! Jy moet jou kop laat lees!”
“Jy’t dan gesê jy’s bereid om my te vergoed.”
“Maar nie só nie.”
“Hoe dan?”
“Met geld.”
“Ek wil nie geld hê nie. Om na ’n mooi fliek te gaan kyk, sal baie lekkerder wees. Of om vir ete uitgevat te word.”
“Meisies neem nie mans uit nie. Dit werk andersom.”
Hy krap sy kop. “O, ek dink ek verstaan nou wat jy bedoel. Ek maak met jóú ’n afspraak en neem jóú uit vir ete of ’n fliek. Maar moet ék dan betaal ook?”
“Natuurlik nie. Die betaling is mos dan my manier om te vergoed.”
“Nee, maar dis dan reg so. Ek sal jou bel sodra julle terug is.”
“Nee.”
“Hoe bedoel jy nou, nee?”
“Ek wil nie saam met jou uitgaan nie.”
’n Hewige frons plooi tussen sy oë. “Maar jy’t dan nou net gesê ek moet jou uitneem. Jy sal my vergoed deur te betaal.”
Sy gee ’n moedelose suggie. “Is jy werklik so onnosel? Kan jy nie sien ek wil nie deur jou uitgeneem word nie? Dis hoekom ek met geld wil betaal!”
“Maar ek wil nie geld hê nie.”
“Dan bly jy daarsonder.”
“Geld beteken niks. Ek meen, ek sal so min moet vra dat ek niks met so ’n klein ou bedraggie sal kan maak nie.”
“So, nè? Maar jy verwag ek moet ’n hele klomp geld op jou spandeer vir ’n ete en ’n fliek!”
“Ek sal min eet. En ons kan sommer na ’n gewone fliek gaan kyk. Van daardie prente wat so oor en oor wys. Dis nie so duur nie.”
’n Proeslag van Riana vanuit die kombuis laat haar vinnig daarheen kyk. En toe sy haar kop terugdraai, is sy net betyds om Frans se glimlaggende gesig te sien sedig word. “Vuilgoed!” sis sy vir hom.
Ook maar goed Riana kom die sitkamer binne om die skinkbord in Frans se hande te druk waar hy sit en skater van die lag. Dit gee Pikkie kans om vinnig die prikkeling van trane uit haar oë te vee. Verspotte, onsinnige trane wat nugter weet waar vandaan kom. Sy is mos nie regtig so kleinsielig dat sy nie ’n grappie kan verduur nie!
Sy waag dit nie om op te kyk toe hy met die skinkbord voor haar kom staan nie en hou haar blik op die koppies. Of dit toeval of moedswilligheid is, weet sy nie, maar hy gee skielik ’n treetjie nader sodat sy been aan haar knie raak. Al wat sy kan doen, is om die klein skinkbordjie te verwens. As dit groter was, sou hy nie so na aan haar kon kom nie. “Dankie,” sê sy nadat sy oorhaastig vir haar melk ingegooi en die koppie opgetel het.
“Drink jy nie suiker in jou koffie nie?”
“Nee, dis reg so.”
“Wat, geen suiker nie!” word sy deur Riana verraai. “Jy drink dan gewoonlik drie teelepels in jou koffie.”
“Wel, vandag is ek lus vir bitter koffie.”
“Jy is seker bang jy sit gewig aan en dat Brian dan nie langer na jou sal kyk nie.”
“Ja, dit ook,” sê sy met ’n bravade wat sy nie regtig voel nie, want die hartseer wil nie heeltemal uit haar wyk nie.
Haar koppie is dan ook kwalik leeg of sy maak verskoning en staan op om kamer toe te gaan.
“Julle moet versigtig ry môre,” laat Frans se stem haar op pad gang toe vassteek. “Onthou, dis vakansie. Jy kry baie onverskillige bestuurders. Almal gaan ook nie nugter wees nie.”
“Ons het gelukkig die hele dag tyd, so ons hoef nie te jaag nie. Ek sál versigtig wees.”
“Ek kan nie nou na jou aansitter kyk nie, want ek het nie parte nie. Maar sodra jy in Riversdal kom, moet jy hom garage toe vat sodat hulle daarna kan kyk.”
“Dankie. Ek sal so maak.”
“Goed dan. Ons sien mekaar weer wanneer julle terug is. Ek sien uit na daardie ete en fliek.”
Sy waag dit liewer nie om weer met hom te argumenteer nie en ruk haar kop vorentoe om met ’n stywe rug die vertrek te verlaat. Oor haar dooie liggaam sal sy saam met hom uitgaan. Hy is te arrogant, te verwaand, te bakleierig, te . . . sommer alles! Buitendien, sy’t mos vir Brian. Brian wat nog nie een keer met haar baklei óf die spot met haar gedryf het nie.