Читать книгу Melodie Omnibus 1 - Elza Rademeyer - Страница 5
2
ОглавлениеNadia kyk op haar horlosie. Dit raak laat. Sy is moeg van die lang rit, en sy sal nog moet terugry George toe vir slaapplek. Sy kan môre terugkom en verder hier rondsnuffel. Dalk iemand opspoor wat … Nee, keer sy haar gedagtes. Sy kan haar net verbeel wat die mense sal sê as hulle uitvind wie sy is.
Haai, het jy gehoor, ou dronk-Kerneels en Anna se dogter is hier! Om te dink sy kom wys haar gesig hier. Kastig onskuldig bevind, gmf! Maar nou ja, as ’n mens haar opvoeding in ag neem, verbaas dit nie. Tien teen een was sy ook gesuip toe sy daai man geskiet het.
Sy los ’n suggie en skakel die motor aan. Maar toe sy wil wegtrek, vang haar oog ’n beweging in die paadjie. Dié van ’n mollige vroutjie wat vinnig in haar rigting aangestryk kom en haar hand in ’n groet lig. Dit sal ongemanierd wees om die vrou te ignoreer, dus skakel sy die motor af en groet haar terug.
“Wil jy die huis koop?” kom vra die vrou by die motor se venster.
“Nee … ek kyk sommer net.”
“Jy kan nie die huis van buite af oordeel nie. Kom saam met my dat ek jou die binnekant gaan wys.”
Nadia se mond gaan oop om te sê die vrou verstaan haar verkeerd, maar toe dié begin aanstryk voordeur toe, klim sy uit om haar te volg. Eintlik uit nuuskierigheid om te sien of die huis binne nog dieselfde lyk.
“Die meubels is ingesluit by die prys van die huis,” sê die vrou toe hulle die huis binnegaan. “Soos jy sal sien, is dit goeie goed. Alles embuia, en baie daarvan antiek. Die sitkamerstel kort net nuwe bekleedsel. Ai tog, hier is so baie dinge wat ons wou doen, maar met dié dat my ou man so skielik oorlede is …”
“Wat het hom oorgekom?” vra Nadia simpatiek toe die vrou swyg en eers ’n sakdoek uit haar voorskootsak haal om trane af te vee.
“Lewerkanker. Toe ons vyf maande gelede die plek gekoop het om hier af te tree, het hy nog niks makeer nie. Maar ons was kwalik ’n week hier, toe word hy siek. En drie maande later is hy oorlede. Die kinders wil nie dat ek alleen hier woon nie. Hulle wil hê ek moet in die Paarl by hulle gaan bly. Dié dat die huis nou met meubels en al te koop is.”
“Ja, dit sal seker beter wees as u by hulle gaan woon.”
“Haai, ons het nog nie eens behoorlik kennis gemaak nie. Ek is Emsie Struwig. Jy kan my sommer tannie Emsie noem.”
“Ek is Nadia Pretorius,” sê Nadia huiwerig.
“Hier het glo eens op ’n tyd Pretorius-mense in die huis gewoon,” sê tannie Emsie. “Maar ons het dit van die Louws gekoop. Kom, dan wys ek jou gou die twee slaapkamers.”
Nadia is verlig dat tannie Emsie nie vra of sy familie van die Pretorius-mense is wat voorheen die huis bewoon het nie, want dan sou sy weer ’n leuen moes vertel.
Die huis lyk grotendeels nog dieselfde. Dieselfde donker vertrekkies met die klein venstertjies. Dis net skoner en ruik nie meer na ’n mengsel van goedkoop wyn en stinkende tabak nie. In die kombuis is ’n opwasbak aangebring, en die spens van destyds is omskep in ’n badkamer met ’n stort, handewasbak en toilet.
“Dis hoe die huis van binne lyk,” sê tannie Emsie. “Is jy getroud?”
“Nee, ek is nie getroud nie.”
“Dan is die huis heeltemal groot genoeg vir jou. Maar het jy genoeg geld vir ’n huis? My kinders het gesê ek moenie bodder met mense wat eers ’n lening moet aangaan, of eers ’n ander plek wil verkoop nie.”
“Wat wil u hê vir die huis?” vra Nadia sonder om te wys sy voel geamuseerd oor die wanindruk waaronder die tante verkeer.
“Kyk, ons het die plek vir ’n appel en ’n ei gekoop. En met dié dat ons nou niks kon verbeter aan die plek nie en ek haastig is om Paarl toe te gaan, soek ek nie ’n plaas se geld daarvoor nie. My kinders is welaf, so ek gaan nie probeer om munt uit jou te slaan nie.”
Toe noem sy ’n bedrag wat Nadia se oë onwillekeurig laat rek. Teen deesdae se pryse is dit belaglik goedkoop. Selfs vir ’n onderontwikkelde plekkie soos De Meer.
“Vir minder as dit kan ek hom nie verkoop nie,” sê die tante. “So jy moet maar sê of jy hom gaan vat of nie.”
Daar kom eensklaps ’n beroering in Nadia se binneste. Sy dink aan die baie geld in haar bankrekening. Sal dit nie beter wees om eiendom aan te skaf as om dit te belê nie? Wat sou haar weldoener se wens wees?
“Is dit te duur vir jou?” vra tant Emsie, wat stip na haar kyk.
“Nee, ek sal dit moontlik kan bybring. Maar kan ek eers ’n bietjie daaroor dink?”
“Ek gee nie opsies nie. Die eerste een wat die geld het, kan die huis koop. Vir hoe lank wil jy dink?”
“Ek sal u môre sê.”
“O. Nee, dan sal dit reg wees. Maar as ek môre niks van jou hoor nie en hier kom ’n ander koper aan, moet jy my nie verkwalik as ek dit aan dié verkoop nie.”
“Nee, ek sal nie.”
“Goed dan. Kom ek gaan wys vir jou die agterplaas. Jy’t nog nie eens gesien hoe naby aan die meer die huis sit nie.”
Nadia volg haar stilswyend buitentoe. Sy laat haar blik oor die bekende waters voor hulle dwaal. Die meer wat styg en daal met die getye van die see. Die grootmense het gepraat van ’n onderaardse tonnel tussen die see en die meer, dié dat die water ’n soutsmaak het.
Sy onthou die dag toe sy en Dimitri hul tyd verspeel het en vir nagenoeg twee ure vasgekeer was op een van die rotse in die meer voordat sy pa hulle daar kom haal het. Hulle angs oor die pak slae wat hulle gaan kry, was ook nie verniet nie. Sy was gewoond aan slae en dwarsklappe, maar nie Dimitri nie. Dog, daardie dag het hy ’n stewige loesing van sy pa gekry. Hulle was mos gewaarsku om nie met springgety op die rotse in die meer te gaan speel nie.
“Kyk, ’n mens is feitlik op die water,” onderbreek die tante Nadia se gedagtes.
“Ja, ek sien,” sê Nadia met haar blik op die verweerde trappe na die sandstrook langs die meer. In haar kinderdae was hulle darem nog in ’n beter toestand. Nou sal jy omtrent jou lewe moet waag om dit te gebruik.
“Wie bly hier langsaan?” beduie sy met haar hand na die huis waar die Grieke gewoon het.
“Om die waarheid te sê, ek weet nie. Ek het die mense nog nie ontmoet nie. Net ’n dag of so nadat ons hier ingetrek het, is hulle weg. Ek weet nie waarheen nie, want met die oom se dood en dinge het ek nog nie kans gehad om te gaan kennis maak nie. Gaan jy koffie drink?”
“Dankie, tante, maar ek is ’n bietjie haastig. Dit word laat, en ek moet nog gaan slaapplek soek vir die nag.”
“Sara Bester verhuur kamers en gee ontbyt ook. Sy bly in die hoofstraat – daar is ’n bordjie. Kyk maar net vir die groot palmboom wat daar staan. Hier kom nie heeldag en aldag besoekers nie, so sy sal vir jou ’n kamer hê. Maar sê my: as jy die huis koop, wat gaan jy daarmee maak? Gaan jy hier kom werk?”
“Gits, ek het nog nie so ver gedink nie. Hier sal seker nie werk wees nie.”
“Dokter Louw soek iemand wat hom in sy spreekkamer kan help. Hy’t so ’n paar maande gelede ’n spreekkamer daar bo regoor die Sonskyn-kafee oopgemaak. Hy sit nou hand in die hare oor die meisie wat vir hom werk, weggaan.”
“O aarde, wat ek van medisyne en dinge weet!”
“Ag, Santjie het ook niks geweet toe sy by hom begin werk het nie. Sy’t direk na skool by hom ingeval. Hy kan jou mos leer soos hy haar geleer het.”
“Hoekom gaan sy weg?”
“Sy’t verlief geraak op ’n man in Johannesburg toe sy daar vir haar suster gaan kuier het. Hulle wil trou. Hy sal nie hiernatoe kom nie, so nou moet sy maar agter hom aan.”
“Wat sou die dokter besiel het om hiér met ’n spreekkamer te begin?” mymer Nadia hardop.
Die tante lig haar skouers. “Praatjies doen die rondte dat hy ’n geskeide man is. Dalk het hy gedink hy kan van sy hartseer ontvlug, of so iets. Maar as ek jy is, gaan sien ek hom. Dalk gee hy vir jou die werk.”
Hoe kan ek daaraan dink om die huis te koop? vra Nadia haarself af toe sy ’n rukkie later in haar motor klim. Dis totaal belaglik!
Tog, dit kan seker nie kwaad doen om die dokter te gaan spreek nie. As sy hier kan werk, die huis koop en … Nee, sy’s besig om die kluts kwyt te raak. Dis die groot bedrag geld wat so onverwags in haar skoot geval het wat haar verstand aantas. Sy wil nie terugkom na hierdie plek wat net ongelukkige herinneringe inhou nie. Amper net sulke ongelukkige herinneringe as die stad.
Daar is nou ’n pad al met die meer langs en teen die hang uit tot amper bo by die kop van die slang, merk Nadia op toe sy by die sirkel voor die huis wat so mooi reggemaak is, wil omdraai. Dit lyk ’n bietjie steil teen die hang uit, maar op die ingewing van die oomblik besluit sy om die pad aan te durf. As kinders het sy en Dimitri dikwels hier deur die oop veldjie gestap en teen die hang uitgeklim om die wêreld van bo af te betrag.
Sy vind te laat uit die sanderige paadjie is nie bedoel vir die ligte motortjie waarmee sy ry nie. Toe die wiele begin maal, sit sy die motor in trurat om agteruit te ry, maar dis net besig om dieper in die sand vas te val. Daar is geen hoop dat sy die motor sonder hulp sal uitkry nie, sien sy dadelik toe sy uitklim.
Sy kyk hulpsoekend rond, maar toe sy nêrens ’n mens gewaar nie, besef sy sy sal self ’n plan moet maak. Daar is net een manier om uit die gemors te kom, en dis om die sand met haar hande weg te grawe. Dan moet sy klippe van die sandstrook langs die meer aandra en dit hier pak om vastigheid vir die wiele te kry. Gelukkig is daar plastieksakke in die motor.
Dis toe sy moeg en warm gespook vir die derde keer met die sakke vol klippe teen die wal uitbeur dat sy sien daar staan ’n man langs haar motor. ’n Forsgeboude donkerkopman met ’n yslike frons tussen sy wenkbroue.
“Jou misreken met die diepte van die sand?” sê-vra hy nors.
“Nee,” sê sy geïrriteerd. “Ek het geweet ek gaan vasval, maar ek hou daarvan. Dis goeie oefening om klippe op te tel en daarmee teen walle uit te sukkel.”
“Is jy nie bang jy ooreis jou nie?”
“Glad nie. Maar ek kan nie daarmee voortgaan as jy met jou groot lyf in my pad staan nie.”
“Moet ek jou kom uitsleep?”
“Dis nie nodig nie. Ek sal regkom.”
Toe hy sonder meer wegstap, kyk sy hom verslae agterna. Kyk wat het sy nou van haar koppige weerbarstigheid! Pleks sy liewer toegelaat het dat hy haar help. Gaan die klippestorie werk?
Vir ’n wyle oorweeg sy dit om agter hom aan te roep, maar die gedagte om deur so ’n buffelagtige persoon gehelp te word, stuit haar teen die bors. Sy sal self die bul by die horings pak. Dit móét net werk!
Maar dis nie maklik nie. Die sand skuif omtrent net so vinnig terug as wat sy dit met haar hande onder die wiele uitkalwe. Sy is verlig toe sy die dreuning van ’n naderende voertuig hoor, want die horlosie stap aan. Eers toe die bakkie agter haar motor stilhou, sien sy dis dieselfde man. Haar fut is egter uit, want dit het ’n geruime tyd gelede al tot haar deurgedring dat die donker haar hier gaan vang.
“Ek sien jy sukkel nog steeds,” sê hy toe hy met ’n tou nadergestap kom. “Klim in agter die stuurwiel dat ek jou uitsleep.”
Sy bedank hom baie mooi toe haar motor weer op die harder oppervlakte van die pad staan. Maar daar is geen vriendelikheid van sy kant nie. “Onthou in die vervolg om nie ’n pad wat vir viertrekvoertuie bedoel is met so ’n ligte motortjie aan te pak nie,” is al wat hy sê.
“Hier is nie ’n kennisgewing aangebring nie. Maar ek sal dit nie weer probeer nie. Nogmaals baie dankie vir jou hulp.”
“Wanneer gaan jy terug Kaap toe?”
Haar kop ruk orent. “Hoe weet jy ek is van die Kaap?”
“Ek raai so. Jou motor het ’n Kaapse nommerplaat.”
“O.” Sy laat sak vinnig haar kop, want sy het lankal geleer om mense nie meer reguit in die oë te kyk nie.
Wanneer gaan sy ophou om iets verdags in mense se woorde te soek?
“Was jy al voorheen hier, of is dit jou eerste keer?”
“Ek was een keer hier,” sê sy aarselend. “Lank terug.”
Toe klim sy in haar motor en slaak ’n suggie van verligting toe hy sonder verdere vrae na sy voertuig stap en wegtrek. Toe hy by die huis waar die Grieke gewoon het van die pad aftrek, glo sy dis om haar kans te gee om verby te ry. Sy wuif vir hom om haar dank te betoon en vermeerder spoed, want as Sara Bester nié vir haar slaapplek het nie, wil sy nie in die donker George toe ry nie.
By die Sonop-kafee ry sy stadiger om na die gebou aan die oorkant van die straat te kyk. Ja, die huis daar is voorwaar nou in ’n spreekkamer omskep. Dis nogal die huis waarin Engela Viviers-hulle destyds gewoon het. Miskien het Engela se ouers die huis verhuur toe hulle Riversdal toe is en kan sy hul adres by die dokter kry.
Dog, toe sy in die motor se truspieël kyk, besef sy dat sy nie só haar verskyning daar kan maak nie. Sy is vol stof, van haar grimering is daar weinig oor, en daar is ’n lang swart streep oor haar linkerwang. Toe ry sy maar verder tot by Sara Bester se huis.
“Ja,” sê Sara. “Ek het vir jou ’n kamer, maar dis vooruit betaalbaar. Ek is al meer as een keer verneuk deur mense wat in die middel van die nag verdwyn het, so ek vat geen kanse nie.”
Nadat Nadia gestort en haar hare droog geblaas het, kyk sy op haar horlosie. Dis al amper sesuur, so die spreekkamer sal gesluit wees. Dis die ideale geleentheid om die omgewing daar te besigtig. Wat gaan sy in elk geval die res van die aand doen? Sy is moeg, maar darem nie so moeg dat sy nou al in die bed kan gaan klim nie. En sy moet buitendien iets te ete gaan koop by die kafee. Sara gee net ontbyt, nie aandete nie.
Nadat sy haar motor voor die Sonskyn-kafee tot stilstand gebring het, klim sy uit. Die spreekkamer aan die oorkant van die straat sit taamlik diep in op die erf, en daar is parkering aangebring onder ’n groot koelteboom langs ’n mooi uitgelegde tuin. Sy loop nog ingedagte die blomme en besigtig toe die spreekkamer se deur skielik oopgaan.
“Kan ek help?” vra ’n ligtekopmeisie. “Ons sou eintlik al gesluit het, maar ek wag nog vir dokter. Hy is gou vir ’n besoek Vissersbaai toe.”
“Ek kyk sommer net rond,” sê Nadia onkant betrap. “Dis ’n pragtige tuin wat julle hier het.”
“Ja, dokter Louw hou van blomme. Hy bring heeldag en aldag nuwe plante hier aan.”
“Is jou naam Santjie?”
“Ja,” sê die meisie verras. “Van waar ken jy my? Ek kan my nie voorstel dat ek jou al vantevore gesien het nie.”
“My naam is Nadia. Ek is van Kaapstad. Tannie Emsie Struwig het vir my gesê jy werk hier by dokter Louw, maar dat jy van plan is om te bedank. Is dit so?”
“Dit is so, ja. Om die waarheid te sê, ek het klaar bedank.”
“Is hier al iemand anders in jou plek aangestel?”
“Nee, nog nie,” sê Santjie en kom sommer nader gestap. “Dokter het juis gisteraand vir my gesê hy weet nie wat hy gaan doen nie. Hoekom vra jy? Stel jy belang in die werk?”
“So half en half.”
“O. Is jy getroud? Kom jou man op Vissersbaai werk?”
“Nee, ek is ongetroud.”
“Wat wil jy dan hier kom maak? Jy sal jou mos morsdood verveel in dié ou simpel plekkie. Of kom jy in Vissersbaai bly?”
“Ek oorweeg dit om tannie Struwig se huis te koop.”
“Ja, ek het gehoor dis in die mark. Wel, ek kan ongelukkig nie vir jou sê die werk is joune nie, maar ek glo dokter Louw gaan baie verlig voel as jy die werk by my sal oorvat. Hoe haastig is jy? Hy behoort nou enige oomblik terug te kom.”
“Ek weet nie so mooi nie. Wat ek van medisyne en dinge weet, is ’n ronde nul.”
“Ag, ek het ook niks geweet toe ek hier begin werk het nie. Jy sal gou leer. Dokter Louw is gaaf en hy is ’n geduldige mens. Afhangende van wanneer jy kan begin, kan ek jou dalk nog touwys maak voordat ek weggaan. Ek gaan eers oor ’n maand Johannesburg toe.”
“Ek werk by ’n prokureursfirma in die Kaap en sal eers daar ’n kennismaand moet uitwerk. Sê my, hierdie huis wat nou in die spreekkamer omskep is, kan jy onthou of hier op ’n keer Viviers-mense gewoon het?”
“Dit was seker voor ons hierheen getrek het. Dokter het die plek van Wolvaardt-mense gekoop. Praat van die duiwel, hier kom hy nou net aangery. Ek het jou mos gesê hy behoort binnekort hier te wees.”
Nadia voel ongemaklik toe dokter Louw haar aandagtig bekyk nadat Santjie sonder omhaal vir hom vertel het wie sy is en dat sy belangstel in die pos. Die dokter is veel jonger as wat sy te wagte was. As sy moet skat, sal sy sê hy is in sy vroeë dertigerjare. Maar dis die frons op sy voorkop en die stip kyk van sy blou oë wat haar verbouereer. Vroulike instink sê vir haar hy is nie die soort mens wat haar gaan glo as sy kluitjies bak nie.
“Hoekom wil jy jou hier kom begrawe?” is sy eerste vraag.
Nadia voel hoe haar wange warm raak. “Ek hou van die platteland.”
“Wat het jy in die Kaap gedoen?”
“Ek werk by ’n prokureursfirma daar. Om die waarheid te sê, ek het geen ondervinding van verpleegkunde of iets in daardie lyn nie, maar …”
Sy wenkbroue lig toe sy swyg. “Maar?”
“Ek oorweeg dit om ’n huis hier te koop. Tannie Emsie Struwig by die oewer se huisie. As ek hier iewers kan werk kry,” verduidelik sy ongemaklik.
“Wanneer kan jy begin?”
“Ek sal ’n maand kennis moet gee by die prokureursfirma, en ek weet ook nie hoe lank dit sal neem om die huis te koop nie.”
“Kyk maar hoe vinnig jy jou dinge kan reël, en laat my weet.”
Toe hy omdraai en die spreekkamer binnegaan, kyk Nadia oorbluf na Santjie. “Wat beteken dit?”
“Dit beteken jy’t die pos gekry en jy moet hom laat weet hoe gou jy hier kan wees,” sê Santjie met ’n glimlag. “Ek sweer Marda Kotze het weer iewers sy pad gekruis, dié dat hy skielik so bot is. Sowat van agter ’n man aanloop, het jy in jou lewe nog nie gesien nie!”
Nadia neem nie notisie van Santjie se opmerking nie. Sy voel te oorbluf. “Is jy seker dis wat hy bedoel het?”
“Ja. Hy’s darem nie altyd so kortaf nie, hoor. Dis net wanneer hy omgekrap voel oor iets.”
“Wat behels die werk hier?”
“Dis maklik. Jy reël afsprake, deel die medisyne uit wat dokter voorskryf en hou die plek skoon. Dis omtrent al. Ons gee net behandeling vir dinge soos verkoue, griep, maagpyn, keelseer, oorpyn en so aan. Ernstige gevalle stuur ons George toe.”
“Hoe besig is julle?”
“Jy kan maar vir jou breiwerk of ’n boek saambring. Jy sal jou beslis nie doodwerk nie.”
“Is dit dan betalend om ’n spreekkamer hier te hê?”
“Ja wat, ek glo so.” Toe laat sak Santjie haar stem. “Ek dink nie dokter Louw is op winsbejag uit nie. Hy moet goed daarin sit, want hy’t ’n lieflike huis op Vissersbaai. Ek dink hy’t hierheen gekom om sy wonde te lek. Hy’s mos geskei, en sy eks is glo skaars ’n maand ná die egskeiding met sy beste pel getroud. Maar jy moenie laat deurskemer ek het jou vertel nie. Ek het dit maar met ’n omweg gehoor; hy het nog nooit self ’n woord daaroor teenoor my gerep nie.”
’n Rukkie later klim Nadia asof in ’n dwaal in haar motor. Sy het verwag dokter Louw gaan ’n meer bevoegde persoon verlang. Dan sou sy sonder gewetenswroeging vir Emsie Struwig kon sê sy kan nie die huis koop nie. Maar nou … Nou weet sy waaragtig nie wat sy moet doen nie.
Sy lê tot laat die nag wakker in Sara Bester se huis. Dis nie die hol bed en pap matras wat haar wakker hou nie, maar haar verstand wat nie wil afskakel nie.
Dit gryp hier en los daar sonder om sin te maak. Amper soos die nagte in die tronksel.
Wat dryf haar om die huis te wil koop? Sy’s kwalik gevestig by die prokureursfirma. Wat gaan prokureur Duvenhage daarvan dink as sy vir hom sê sy wil bedank? Hy is so goed vir haar. Is sy nog by haar verstand, of het sy waansinnig geraak sonder om dit agter te kom?
Die een of ander tyd moes sy tog aan die slaap geraak het. Nog ’n nag sonder nagmerries. Dalk is daar hoop dat dit eendag heeltemal sal verdwyn, dink sy met ’n plotselinge gevoel van opgewondenheid toe sy die gordyne wegtrek en die son se strale blink oor die meer sien val. Miskien sal dit haar goed doen om weg te kom uit die stad. Weg van die hel se skroeiende vuur …
Sara staan reg om haar te bedien toe sy die eetkamer binnegaan. Nadia was duidelik haar enigste gas vir die nag.
“Kom sit hier by die tafel en help jouself met die graanvlokkies, terwyl ek vir jou gaan spek en eiers bak,” nooi sy. “Hoe hou jy van jou eier? Sag of hard?”
“Ag, enige manier. Ek het nie fiemies nie.”
“Dis goed om vir ’n verandering ’n gas sonder fiemies te hê. Party mense kan darem vir jou moeilik wees. As die eier net effens te hard of te sag is na hul sin, word dit teruggestuur kombuis toe.”
“Hoe lank woon tannie al hier?”
“Amper ses jaar. Ek en my man het hier kom aftree. Maar ons was net twee jaar hier, toe is hy oorlede. Ek kon nie ledig sit nie, toe besluit ek maar om die kamers te verhuur. Dit lei darem ’n mens se gedagtes af. En dit hou my besig sonder dat ek my doodwerk.”
“Hoe goed ken tante die inwoners hier? Is hier enigiemand wat al baie lank hier woon? Sê maar langer as tien jaar. Iemand wat vir ’n mens inligting sal kan gee oor hoe die dorp destyds gelyk het. Dis vir my interessant om sulke klein plekkies se geskiedenis te hoor,” omseil Nadia die waarheid om nie agterdog te wek nie.
As sy werklik hier wil kom bly, sal sy nie vir ewig haar verlede kan wegsteek nie. Maar dis dinge waaraan sy aandag sal gee wanneer sy daartoe genoodsaak word.
“Hier is min mense oor wat langer as tien jaar hier bly. Dié wat nie dood is nie, is weg om by hul kinders te gaan bly. Omtrent al die mense wat deesdae in De Meer woon, is betrokke by die ontwikkeling van Vissersbaai. Boukontrakteurs, messelaars, loodgieters, arbeiders, noem maar op! Hulle het De Meer as ’t ware oorgeneem. Dis omtrent net tant Jana Jones wat al donkiejare hier woon. Maar sy’s half kinds, ek weet nie of jy veel notisie kan neem van haar nie. Oom Jorsie Potgieter is ook nog hier. Sy verstand is helder, maar hy was in ’n motorongeluk en sit in ’n rolstoel. Dis al aan wie ek kan dink wat al lank hier bly. Was jy al op Vissersbaai?”
“Baie lank terug, ja,” sê Nadia op haar hoede, want sy wil nie Sara se nuuskierigheid oor haar verlede prikkel nie.
“Dan sal jy die plek nie herken nie! Vroeër jare was daar mos net ’n paar vakansiehuisies. Dis al klaar ’n dorp!”
“Is hier ’n skool?” hou Nadia haar dom.
“Nee. Die ou laerskooltjie wat hier was, het vier jaar gelede al gesluit. Toe was hier omtrent nie meer kinders oor nie. Maar hulle sê vir my daar gaan glo een van die dae ’n laerskool, en moontlik later nog ’n hoërskool ook, op Vissersbaai gebou word.”
“Dan brei Vissersbaai omtrent uit!”
“Ja, jy kan gerus gaan kyk. Die plek bars uit sy nate. Daar is al klaar ’n groot supermark ook.”
“Dis snaaks dat dit hier nog so rustig is.”
“Ja, want die natuurskoon hier is tog baie mooier. Maar die binnelanders wil mos die see sien. En dan het De Meer mos nou maar die slegte naam gehad. Ek hoor hy is tot kort voor ons hierheen getrek het sommer die Stinkmeer genoem. Glo oor die rioolafval en dinge wat in die meer gestort is voordat hier ’n rioolaanleg aangebring is. Maar sê my, wat het jou hierheen gebring? Ons het mos nie gisteraand eintlik kans gehad vir gesels nie.”
“Ek oorweeg dit om ’n huis hier te koop,” sê Nadia versigtig.
“Hier in De Meer?” vra Sara verbaas.
“Die huis van tannie Struwig, ja.”
“Nou toe nou! Wat gaan jy met hom maak? Opknap en verhuur? Ek wil jou nie ontmoedig nie, maar hy is erg verwaarloos. Dit gaan jou baie geld kos.”
“Ek sal hom beslis opknap, ja. En dan sal ek maar sien. Dalk kom bly ek self hier. Daar is ’n moontlikheid dat ek Santjie se pos by dokter Louw kan oorneem.”
“Ja, sy gaan mos weg. Maar wat het jou genoop om hiér ’n huis te kom koop? Dis mos nie ’n plek vir stadsmense nie. Hier gaan net mooi niks aan. Selfs op Vissersbaai is daar nog nie aktiwiteite vir jong mense nie. Nog nie eens ’n fliek nie.”
“Ek was nog nooit gaande oor die stadslewe nie.”
“O, ek sien. So eintlik is jy ’n plattelandse meisie wat ook maar stad toe moes gaan om werk te kry.” Gelukkig hoef Nadia nie daarop te antwoord nie, want dit val tannie Sara by van die spek en eiers wat sy nog moet bak. En toe sy dit voor Nadia neersit, daag ’n man en vrou op wat verblyf soek.
Nadia is verstom toe sy ’n ruk later haar motor oor die laaste bult na Vissersbaai stuur. Sara is reg. Die plek bars behoorlik uit sy nate! As kind was sy ’n paar keer in Vissersbaai. Daardie tyd is die ry vakansiehuisies langs die see meesal net Desembermaande bewoon. Nou is die plek ’n miernes van bedrywighede. Waar die huisies gestaan het, is nou groot, moderne wonings. En oral is daar swaar masjinerie wat nog meer grond gelyk stoot vir die aanbring van geboue.
Eintlik behoort sy nie verbaas te wees nie, besef sy toe sy terugry na De Meer. Stedelinge soek deesdae al meer die rustigheid van die platteland op. Dat sy die huis van Emsie Struwig so goedkoop kan bekom, is verstommend. Want as dit hier só gaan, sal dit nie lank wees voordat daar op De Meer ook toegesak word nie. Dié gedagte maak dat sy sommer dadelik oewer toe ry.
“Het jy toe besluit?” vra tant Emsie toe sy die voordeur op Nadia se klop oopmaak.
“Ja, ek koop die huis.”
“O. Ek het gisteraand die kinders gebel. Hulle het weer gesê ek moenie die huis aan iemand verkoop wat moet rondval om geld in die hande te kry nie.”
“Ek hét die geld, maar ons sal ’n prokureur moet gaan sien vir die oordrag en dinge. En dan sal ek moet teruggaan Kaap toe om reëlings by my bank te tref vir die betaling.”
“Ja, ek weet nie juis hoe sulke dinge werk nie,” sê tannie Emsie. “Maar ek ken die prokureur wat ons gehelp het om hierdie huis te koop. Hy is op George.”
Nadia kyk op haar horlosie. “Dis al te laat om hom nou te gaan besoek. Sy kantoor is seker Saterdagmiddae toe. Maar as ons hom Maandag kan besoek, kan ek dalk Dinsdag al Kaap toe ry.”
“Sal jy my kan oplaai wanneer ons die prokureur gaan sien?”
“Ja, natuurlik. Tannie het nie dalk sy telefoonnommer nie? Dan kan ons nou ’n afspraak maak.”
“Ja, ek het sy nommer. Ek sal jou deursit, dan praat jý met hom.”
“Ek sal hom op my selfoon bel.”
“Ek glo nie jy sal ontvangs hê hier van die oewer af nie, die plek lê te laag. Met die oom se dood moes my kinders tot daar bo by Slangkop se nek klim wanneer hulle op hul selfone Paarl toe wou praat. Maar die huis se telefoon werk goed.”
Dit ook nog, dink Nadia by haarself. Dan wil sy haar hier kom vestig! Maar sy sal seker tannie Emsie se huistelefoon kan oorneem.
Die volgende oggend toe Nadia in Sara se kamer wakker word, oorval die twyfel haar van nuuts af. Sy moet bepaald haar varkies kwyt wees om haar werk in Kaapstad te verruil vir so ’n onsekere toekoms. Want al is die plek bekend, is dit vreemd. Destyds was sy ’n kind. Nou is sy ’n vrou met ’n verlede.
Maar toe sy die gordyne oopskuif en die son se eerste strale oor die rotse in die meer sien val, doen die pragtige prentjie iets aan haar. Amper soos iemand wat voor ’n groot uitdaging staan, en weet hy kan dit baasraak.
Die gelui van ’n klok trek haar aandag. Dan onthou sy tannie Sara het die vorige aand vertel dat daar deesdae eredienste gehou word in die gewese skoolgeboutjie. Daar is net elke derde Sondag ’n predikant, maar die ander Sondae word die diens deur ’n ouderling van George gelei.
Sy kyk op haar horlosie. Daar is oorgenoeg tyd om te stort en rustig klaar te maak. Dit kan tog nie kwaad doen om die diens by te woon nie. Miskien loop sy van die ouer bekendes raak, iemand wat sy kan pols oor een en twintig jaar gelede …
Toe sy so tien minute voor die diens begin daar aankom, ontwyk sy die nuuskierige blikke van die paar mense wat buite rondstaan deur vinnig die gebou binne te gaan. Sy gaan sit op die heel agterste bank, vanwaar sy almal kan sien wat die gebou binnekom. Daar daag egter net twintig mense op. Almal vreemde gesigte.
Terwyl die ouderling al besig is met ’n paar afkondigings, kom sy agter daar is iemand wat langs haar op die bank inskuif. ’n Ligte skokkie gaan deur haar toe sy sien dis die man wat haar motor uit die sand gesleep het. Vir wat moes hy nou kerk toe kom? Sy verwens haarself dat sy nie dieper ingeskuif het op die bank nie.
Maar dan besef sy haar gedagtes is onredelik. Vir al wat sy weet, is hy ’n inwoner van De Meer. En wat traak sy onvriendelikheid haar in elk geval? Dis baie beter as die vriendelike, geselserige tipe mense wat glo hulle moet alles van ’n mens af weet.
Sy neem min in van die ouderling se preek. Sy dink aan ma-Anna en pa-Kerneels wat nie kerkmense was nie. Haar eerste kennismaking met die Woord van God was toe die welsyn haar kom haal het en sy na die Kinderhuis op George is.
Pa-Kerneels het sy Sondae met ’n bottel wyn en slaap verwyl. En ma-Anna met die was en stryk van die ryk mense teen die hang se klere. Dimitri-hulle het Sondae George toe gery vir kerk. Hulle het eendag gevra of hulle haar kan saamneem, maar ma-Anna se antwoord was kortaf. “Nee. My fiets se wiel is pap. Nadia moet die mense se wasgoed gaan wegbring.”
Sy het met graagte van tyd tot tyd die wasgoed gaan wegbring. Sommige mense het haar binnegenooi en vir haar koeldrank gegee. Dan kon sy haar vergaap aan die netheid en mooi goed in hul huise. Ander het weer vir haar ’n geldjie gegee. Sy het dit in haar broekie weggesteek sodat ma-Anna nie daarvan moes weet nie, en lekkers gekoop wat sy en Dimitri dan in die oop veldjie agter die bosse of op die rotse in die meer gaan eet het.
Toe die diens klaar is, staan die man langs haar op, maar hy gee eers al die ander mense kans om met die paadjie langs na buite te loop. Dit noodsaak haar om ook te wag.
“Dis ’n verrassing om jou hier te sien,” sê hy toe hulle eindelik deur toe beweeg.
“Hoekom? Lyk ek vir jou soos ’n heiden?”
Die woorde is kwalik uit, of sy verwens haarself. Dis mos nie in haar aard om so bitsig te wees nie. Wat gaan met haar aan? Hoekom het sy so ’n renons in hierdie vreemdeling? Hy moet glo sy is ’n ware heks.
“Nee, ek het maar net gewonder,” sê hy met ’n frons. “Dis selde dat besoekers by ons kerkdienste opdaag. Vakansiegangers verkies mos meesal om laat te slaap.”
“Ja, dit is seker so,” dwing sy haar tot bedeesdheid. Sy rek nogtans haar treë om by haar motor te kom. Hy bly egter langs haar.
“Hoe lank gaan jy nog hier kuier?”
“Ek gaan Dinsdag terug Kaap toe.”
“En wat gaan jy tot Dinsdag doen?”
“Ek … het oorgenoeg om te doen. Dankie nogmaals dat jy my gister gehelp het.”
Toe drafstap sy onder hom uit, klim dadelik in haar motor en trek vinnig weg.
Terug in die kamer by tannie Sara se gastehuis kyk sy weer deur die venster uit oor die meer. Dis ’n lieflike dag, en daar is ineens ’n hunkering in haar om weer, soos toe sy ’n kind was, op een van die rotspunte te gaan sit. Wel, daar is niks wat my verhoed om dit te doen nie, besluit sy dan. Sy kan tog nie die hele dag hier in die kamer sit nie.
Dis laaggety, merk sy op toe sy langs een van die murasies by die oewer parkeer. Die rotspunte steek verder bo die water uit as met hooggety. Sy gaan sit op die sandstrook en rol haar langbroek se pype op. Gelukkig is sy nou groot. Dis nie meer nodig om haar rok uit te trek soos toe sy ’n kind was nie. Die water sal kwalik tot by haar knieë reik.
By een van die uitstaande rotse aangekom, gaan sy sit, haar sandale langs haar op die rots. Sy vou haar hande om haar knieë en besigtig die meer tot waar dit deur die berg gestuit word, en verder tot waar dit agter Slangkop verdwyn. Maar dan dwaal haar blik na die huis waarin sy grootgeword het. Daar is werklik niks goeds wat sy van haar sogenaamde pa kan onthou nie. Die hardste werk wat sy kan onthou wat hy ooit gedoen het, was om af en toe ’n paar visse by Vissersbaai te gaan vang. Dan het hy een huis toe gebring, die ander aan oom Koos by die viswinkel verkwansel, en kantien toe gestap met die geld.
Baie mense het gesê die kantien is onwettig, hy mag nie daar wees nie. Maar toe sy hier weg is, was hy nog steeds daar tussen die bosse langs die uitdraaipad van De Meer. “Die Hel se plek” het ma-Anna op die kantien geskel wanneer pa-Kerneels die huis besope binnegestrompel kom. Teen daardie tyd was sy, Nadia, lankal klaar met die skoonmaak van die vis wat hy by die huis kom afgee het. Sy moes dit langs die meer krap en die binnegoed uithaal. Om haar vinger raak te sny was slegtigheid.
“Jy sal ons nog uit hierdie huis ook suip, soos jy ons uit die plaas gesuip het,” het ma-Anna meermale getier. “Moenie weer die droogtes en veevrektes die skuld gee nie. As daar iets in jou gesteek het, kon jy gaan werk en die plaas weer opgebou het toe die reën kom. Maar nee, toe vergryp jy jou mos aan die bottel! En kyk hoe gaan dit nou met ons!”
Soggens voor skool moes Nadia eers vier emmers water by die dorpskraan langs oom Koos se viswinkel gaan tap. Dit was die naaste kraan. Dimitri-hulle was beter daaraan toe. Hulle het ’n groot watertenk op ’n hoë stellasie langs hul huis gehad, en daar was ’n opwasbak met ’n kraan in hul kombuis. Ma-Anna het die wasgoed met die meer se water gewas, maar kraanwater gebruik om dit uit te spoel. Die jaar voor Nadia hier weg is, is daar water en ’n rioolstelsel ook na die oewer se huise aangebring, maar dit moes die mense ná hulle gewees het wat die badkamer aangebou het.
In haar tyd was alles nog primitief. Daar was net ’n buite-closet met ’n emmer. Wanneer dit vol was, het ma-Anna dit in die meer gaan uitgooi. Die enigste bad wat Nadia geken het, was ’n sinkbad. Ma-Anna het haar meesal met ’n stukkie seep meer toe gestuur wanneer sy vuil was.
In die elf jaar wat sy hier gewoon het, was sy net so vyf of ses keer op George. Dit was lekker. Veral die keer toe sy saam met die Grieke daarheen was. Die kere wat sy saam met haar ma daarheen gegaan het, moes hulle saam met ander mense ry, want hulle het nooit self ’n motor gehad nie. Sy moes agter in oom Frans se vragmotor met die seilkap sonder vensters sit.
Dimitri-hulle het ’n motor gehad. Sy pa móés ’n motor hê, want hy het geskilder. Mooi prente van die meer, see, bome en diere. Dan het hy dit in houtrame gesit wat hy self gemaak het, en George toe gery daarmee om dit te verkoop. Partykeer is hy na ander dorpe toe ook.
Die dag toe sy saamgery het George toe, het sy en Dimitri op die agtersitplek van die motor gesit. Sy het haar vergaap aan alles wat sy langs die pad gesien het. En in George het tannie Carina hulle twee aan die hand gevat en die hele dorp met hulle platgeloop, of so het dit vir haar gevoel.
Sy verskuif so effens op die rots en laat haar blik oor die Grieke se huis dwaal, en na die buitekamer toe waar oom Alexander die skilderye se rame gemaak het. Dis net so netjies opgeknap soos die huis. Die buitekamer het altyd lekker na verf en houtsaagsels geruik, onthou sy. Sy onthou ook nog die gesaag en getimmer. Dan het haar pa gesê die geraas gee hom kopseer, en haar ma het gesê hy lieg, dis die dop wat hom kopseer gee.
Die Grieke het getrek, so ’n jaar of wat voor ma-Anna se dood. Haar lewe was daarna saai; sy het nie meer ’n speelmaatjie gehad nie. Dit was nie meer lekker om hier op die rotse in die meer te kom speel nie, of in die oop veldjie, of om teen Slangkop uit te klim nie. Sy kon nie maats maak met die kinders by die skool nie. Hulle het haar gespot. Met haar dronk pa wat haar ma soms die huis moes binnesleep as hy nie verder as die sypaadjie kon kom nie. Oor sy nie sulke mooi klere soos hulle gehad het nie, en later ook oor sy nie ’n regte ma het nie.
Nadia gee ’n suggie. As sy net iets van haar biologiese ouers geweet het. Watter tipe mense hulle was, en hoe dit gekom het dat sy in Anna en Kerneels Pretorius se sorg beland het. Sy kan waaragtig nie glo dit was met die goedkeuring van ’n welsynsorganisasie nie. Hulle sou nie toestemming vir die aanneming van ’n baba aan mense soos Anna en Kerneels gegee het nie.
“Ma, wanneer is my ma dood?”
“Gaan speel!”
“Waarheen is my pa?”
“Hier, vat die seep en loop was jou. En basta nou met hierdie nonsens oor jou pa en ma!”
Sy het pa-Kerneels ook soms gepols, want hy was nie heeltemal so kwaai met haar soos ma-Anna nie. Maar hy het net sy kop geskud en gesê sy moet ophou tob oor dinge wat nie kan verander nie.
“Oom Koos, was my ma mooi?”
“Kind, vergeet van dié dinge. Ma-Anna slaan jou dood as sy hoor wat jy praat.”
“Ek wil net weet. En my pa, oom? Hoe’t hy gelyk?”
“Ek weet niks. Hier, vat die vis en sê vir jou ma dis die laaste keer wat ek haar help. As sy nie genoeg geld gee nie, kry sy nie weer vis nie. Toe, loop nou.”
Eendag toe sy van die skool af kom, sê haar pa vir haar dat haar ma dood is.
“Ek weet. Ma-Anna het vir my gesê sy’s dood. Maar hoekom het sy doodgegaan? Was sy siek?”
“Ek praat van jou má, Nadia. Nie van die vrou wat jou in die wêreld gebring het nie.”
Sy het lank gevat om te snap. “Pa meen … ma-Anna is dood?”
“Ja. Ek weet nie wat nou van jou gaan word nie.”
Dinge was baie deurmekaar agterna. Sy onthou min daarvan, hier en daar iets. Van ’n paar mense om die graf, haar pa wat hom soms dae lank in die kamer toegesluit het, en hoe honger sy geraak het …Totdat daar mense opgedaag het. Hulle het haar paar stukkies klere in ’n tas gepak en gesê sy moet saam met hulle gaan.
Dit was lekkerder in die Kinderhuis op George as by die huis. Daar was ten minste elke dag kos. En by die nuwe skool het niemand met haar die spot gedryf nie. Sy was omtrent ’n jaar daar, toe is pa-Kerneels dood.
Daar was mense wat haar sommige naweke en vakansietye by die Kinderhuis kom haal het om haar na hul huis te neem. Gegoede mense. Oom Jacques en tannie Mercia de Lange. Hulle het haar na De Meer geneem vir haar pa se begrafnis.
Dit moes seker ’n aanpassing vir die De Langes gewees het om hulle oor haar te ontferm, dink Nadia weeïg. Van dinge soos etiket en tafelmaniere het sy niks geweet nie. Tannie Mercia het soms geduld verloor, maar oom Jacques was baie goed vir haar. En sy was ’n gewillige leerder, ook by die skool.
Sy het nie gesukkel om werk te kry ná matriek nie. Weliswaar was dit maar as kelnerin by ’n restaurant, maar sy het ’n rekenaarkursus deurloop en gehoop dit sal haar help om mettertyd ’n beter werk te bekom. Ten minste het sy ’n verdienste gehad.
Sy het aan die begin ’n kamer gehuur en al die geld gespaar wat sy kon afknyp. Dit was dan ook nie lank voordat sy dit kon bekostig om ’n woonstelletjie te huur nie. Oom Jacques en tannie Mercia was op die punt om na Pretoria te trek, en het haar voorsien van meubels en gordyne. Die toekoms het belowend gelyk. Maar die lewe het anders verloop …