Читать книгу Melodie Omnibus 1 - Elza Rademeyer - Страница 6
3
ОглавлениеNadia tel haar sandale op om terug te gaan na die gastehuis. Maar toe sien sy hóm, die man wat haar motor uitgesleep het en by die kerk was. Nugter alleen weet hoekom sy hom nou eers gewaar. Hy is al amper by haar met sy opgerolde broekspype. Sy slaak ’n sug, en wens sy voete gly onder hom uit. Miskien sal hy omdraai as hy sopnat is.
“O, dis jy,” sê hy toe hy by die rots tot stilstand kom. “Ek het gewonder wie hier sit.”
“Is dit verbode terrein?”
“Nee.” Hy lig hom met gemak tot langs haar op die rots. “Dit gebeur net selde dat mense wat nie die meer ken nie, dit hier na die rotse toe waag. Die water kan skielik styg.”
Sy skuif vinnig ’n entjie laer teen die rots af. “Verskoon my, ek was op die punt om te loop.”
“Hoekom is jy skielik haastig? Voel jy gesteurd oor ek hier aangekom het?”
“Nee, ek was in elk geval van plan om te loop.”
Dog, in haar haas om weg te kom, gly haar voet op ’n klip onder die water. Dit noodsaak haar om vinnig na die rots te gryp om haar val te stuit.
“Moenie haastig raak nie. Jy lyk vir my ’n bietjie oorstuur, soos iemand wat nog nie uitgerus is nie. ’n Mens is veronderstel om te lag en pret te maak wanneer jy met vakansie is, nie om naels uit te stoot nie.”
“Miskien is ek nie met vakansie nie. Tot siens.”
Sy kyk nie om nie. Eers toe sy in haar motor klim, sien sy hy sit nog daar op die rots. Hy moet ’n inwoner van die dorp wees, kom dit by haar op. Hoe anders sal hy weet van die meer se styging en daling?
Hy’s nie lelik nie. Inteendeel. Dis dalk hoeka sy aantreklikheid wat haar afskrik. Johny was net so aantreklik …
Die volgende oggend op pad na die prokureur op George, besluit Nadia om tannie Emsie te pols oor oom Koos en tannie Lettie le Roux. “Ek hoor hulle het op ’n tyd ’n viswinkel hier gehad. Weet tante wat van hulle geword het?”
“Ek het hulle nie geken nie, maar ek weet van hulle. Koos is glo dood aan ’n hartaanval, en die tante is daarna weg om by hul kind in Pretoria te gaan bly.”
Nadia gee ’n suggie. Nog ’n doodloopstraat. “Waarmee verwyl die jonger mense hul tyd hier?” vra sy dan maar om die tante aan die gesels te hou.
“Hulle ry maar oor naweke George toe agter plesier aan. Hier is nie veel jong mense in De Meer nie. Die meeste mense is getroud. Behalwe dokter Louw en Marda Kotze. Nie dat sy so danig jonk is nie, want haar tweeling is seker al vyf of ses. Maar sy trek aan asof sy niks ouer as sestien is nie. En twee onhebbelike kinders! Geen mens weet wie hulle pa is nie. Maar sy leef in weelde, so die pa betaal seker ’n stewige bedrag onderhoud.”
Die volgende oggend val Nadia vroeg in die pad terug Kaap toe. Tot haar verbasing is prokureur Duvenhage glad nie ontsteld of opstandig toe sy hom inlig dat sy besig is om ’n huis op De Meer te koop en daaraan dink om haar daar te gaan vestig nie.
Hy bekyk haar net ’n lang ruk aandagtig voordat hy sê: “Ek weet nie wat jou daartoe motiveer nie, maar as jy glo jy sal daar sielerus vind, is dit reg so. Wanneer het jy gedink om te verhuis?”
“As dit nie vir u te ongerieflik is nie, wil ek graag vandag nog my bedanking indien. Die prokureur op George het gesê die huis se koop sal vinnig afgehandel word. So as ek dan oor ’n maand hier kan klaarmaak, sal ek bly wees.”
“Wel, my susterskind kom goed reg. Sy is nou hier, dus sal ek nie ’n pyn daarmee hê as jy nie vir ’n volle maand wil aanbly nie. Veral in die lig daarvan dat jy werk daar gekry het en dat die dokter haastig is dat jy moet begin. Maar onthou: as dinge dalk vir jou skeefloop, is jy welkom om terug te kom. Ek skep vir jou ’n pos as dit nie anders kan nie.”
“Wat meer kan ek sê as baie dankie?”
“Jy hoef niks verder te sê nie. Laat weet my net as jy eendag die hart van die son gevind het. Gaan sê asseblief vir Bets Vos ek wil haar spreek.”
Nadia voel aangedaan toe sy ’n rukkie later die gebou verlaat. In die paar maande wat sy by die prokureursfirma werk, het prokureur Duvenhage uit die staanspoor laat blyk dat daar geen twyfel by hom bestaan oor haar onskuld nie. Net omdat sy op haar eerste werksdag ’n mot by die venster uitgegooi het toe hy gesê het sy moet die ding met die vlieëplak doodslaan.
“Hoe sal iemand wat nie eens ’n mot kan doodmaak nie, ’n mens om die lewe bring?” het hy gevra toe sy hom die tweede dag bedank het dat hy bereid was om iemand met ’n rekord soos hare in diens te neem.
Miskien is sy regtig van haar trollie af om alles hier prys te gee. Haar werk, haar kollegas – wat sy nie eintlik boesemvriende kan noem nie, maar met wie sy tog goed oor die weg gekom het – en ’n werkgewer soos prokureur Duvenhage.
Tog is dit asof alles vir haar in die regte plekke val. Toe sy die woonstelopsigter inlig dat sy die huur van die woonstel wil opsê, vertel hy haar dat daar reeds ’n meisie is wat wag op die eerste woonstel wat ontruim word. Alles verloop sonder struikelblokke. En toe tannie Emsie laat weet die huis is tot haar beskikking, want sy is al klaar by haar kinders in die Paarl, is daar vir Nadia geen sin daarin om langer in die Kaap te vertoef nie.
Haar motortjie is behoorlik tot teen die dak gelaai toe sy twee weke vroeër as wat sy verwag het die pad na De Meer vat. Linne, breekgoed, potte en panne, klerasie, skilderye … hope goed. Nugter weet hoe ’n mens dit regkry om so baie dinge so vinnig op te gaar, dink sy by haarself toe sy met die verkeer saamsmelt. Want voor die hofsaak, toe sy en Johny in een van mevrou Koen se huurkamers gewoon het, het sy feitlik niks besit nie.
Johny … Sal sy weer by hom aanry? Nee, besluit sy. Liewer nie. Dis asof haar skuldgevoel effens aan die taan is. Hoekom sal sy dit nou weer aanwakker deur hom te besoek?
Sy is tog nie werklik iets aan hom verskuldig nie. Eintlik behoort sy hom ook te haat, soos Joan. As dit nie was vir daardie noodlottige nag nie, sou hy haar ook finansieel geruïneer het soos vir Joan. As sy maar net vooraf gewaarsku was! Of as sy net minder naïef was en op die tekens gelet het. Dit was daar, reg van die begin af. Maar sy was so verlief dat sy niks raakgesien het nie. Die dag van hul eerste ontmoeting doem ineens weer helder in haar gedagtes op. Die aantreklike man wat sy in die restaurant op George bedien het. Liefde met die eerste oogopslag, het sy haar verbeel. Hy was alles wat ’n meisie kon verlang: tall, dark and handsome. Sy donker oë was vol bewondering toe hy met haar ’n geselsie aanknoop. Hy het gewag tot die restaurant sluit, en haar toe in ’n swierige rooi sportmotor na die kamer geneem wat sy toe nog gehuur het.
Sy het gevra of hy wil binnekom vir koffie. “Ek was bang jy vra my nie,” het hy gelag.
Hy sal net vir ’n dag of wat in George wees voordat hy moet teruggaan Port Elizabeth toe, het hy haar ingelig. Sy sakebelange daar hou hom baie besig. Hy is onder andere die eienaar van ’n juwelierswinkel, ’n hotel en ’n tekstielfabriek.
So ryk, maar so plat op die aarde, het sy gedink. Want in teenstelling met sy motor, die duur horlosie aan sy arm en goue ketting om sy nek, was sy klere niks om oor huis toe te skryf nie. ’n Verslete, verbleikte denimbroek en ’n swart T-hemp wat beslis beter dae geken het.
Sy was op haar gemak by hom, en kort voor lank het hy alles van haar geweet. Van haar kinderdae, haar tyd in die Kinderhuis, en van oom Jacques en tannie Mercia de Lange wat hulle so oor haar ontferm.
Hy het eers vieruur die oggend aanstaltes gemaak om te ry. Op sy horlosie gekyk en gesê hy wens hy kon die hele nag by haar bly. Toe het hy haar opgetrek uit haar stoel en haar gesoen. Haar eerste werklike soen deur ’n man. Haar kop het geduisel en sy het half geskrik vir die emosies wat dit in haar ontketen. Maar toe hy met ’n fluisterstem vra of sy saam met hom bed toe sal gaan, het sy gesê dis te gou, sy het nie ondervinding van sulke dinge nie.
Hy is weg met die belofte dat hulle mekaar gou weer sal sien. ’n Week later het hy weer by die restaurant opgedaag. Hy het vir haar ’n stringetjie egte pêrels en bypassende oorbelletjies saamgebring. Toe neem hy haar weer na haar blyplek.
Daar aangekom het hy die deur gesluit, die gordyne dig toegetrek, haar opgetel en op die bed gaan neerlê. Sy het halfhartig teëgestribbel toe sy onthou het van pa-Kerneels se onaardse geluide, die gekraak van die bed, en ma-Anna wat sugtende voor haar kamerdeur verbyslof na die buitetoilet. Maar Johny het haar protes met soene gesmoor en gesê sy durf hom nie langer straf nie. Sy was nog nie vir een oomblik uit sy gedagtes sedert hulle ontmoet het nie.
Die volgende dag is sy apteek toe om skaam-skaam pille te gaan koop om te keer dat sy dalk swanger raak, al het hy gesê hulle trou binnekort. Hy moet net eers teruggaan Port Elizabeth toe om na sy sakebelange te gaan omsien.
’n Paar dae later het hy weer opgedaag en vir haar ’n goue vriendskapsring saamgebring. Hulle het lekker gelag oor sy skatting wat so sleg was, en toe het hy die ring in sy sak teruggesit om dit eers by sy juwelierswinkel te laat kleiner maak.
Die volgende dag het sy na haar eie woonstelletjie verhuis. Tannie Mercia het haar kom help met die ophang van die gordyne en rangskik van die meubels.
Johny het twee weke later opgedaag, en vertel hoe woes dit die afgelope tyd met hom gegaan het. Boonop het sy motor gebreek net toe hy ’n kansie kry om vir haar te kom kuier, dié dat hy sommer een van sy werkers se skedonk geleen het. Hy kon nie wag vir die herstel van sy motor nie, want hy het eenvoudig te veel na haar verlang.
Hierdie keer het hy ’n diamanthangertjie en bypassende oorbelletjies vir haar gebring. Die vriendskapsring het hy ongelukkig verloor. Toe hy die volgende oggend vertrek, het hy gesê wanneer hy weer kom, moet hulle trou. Hy kan nie langer sonder haar lewe nie.
Sy het op wolke geloop. Maar ’n maand het verbygegaan. Haar hart wou breek. En toe beland tannie Mercia en oom Jacques boonop in ’n ongeluk onderweg na Pretoria. Albei op slag dood. Dog, die dag ná die begrafnis bel Johny. Hy het Kaapstad toe verhuis, en sy moet so gou moontlik by hom aansluit. Hy het klaar vir haar werk daar by ’n restaurant gekry.
Nadia gee ’n suggie en trap die brandstofpedaal ’n bietjie dieper weg. Maar dit keer nie haar gedagtes nie. Sy onthou hoe sy inderhaas haar woonstelhuur opgegee het. Haar meubels en alles wat sy bymekaargemaak het, het sy verkoop, en op ’n vliegtuig geklim Kaap toe. Soos afgespreek het sy op die lughawe ’n taxi gehuur om haar na Johny se blyplek te neem, want hy moes ongelukkig by ’n belangrike vergadering wees.
Sy was verbaas toe die huurmotor in ’n minder gegoede buurt voor ’n bouvallige huis tot stilstand kom. Maar toe gewaar sy Johny waar hy haastig na haar toe aangestap kom. Hy het sy arms oopgemaak en haar so hartstogtelik ten aanskoue van die huurmotorbestuurder gesoen dat sy eintlik ’n bietjie skaam gekry het. Toe het hy haar twee swaarste tasse opgetel en dit begin aandra na die bouvallige huis.
Sy het gedink hy sou vir die taxi betaal, maar het geglo hy het net vergeet. Sy het haar beursie uitgehaal en die man betaal. Die ander twee tasse opgetel en by Johny op die stoep aangesluit. Toe al moes sy die gevaartekens gelees het, maar sy het nie. Sy verduideliking het so logies geklink.
Hy was baie jammer dat hulle nou noodgedwonge vir ’n tydjie in een van mevrou Koen se kamers sal moet tuisgaan. Dít in so ’n swak buurt. Maar daar is ’n tekort aan behuising in die stad, en dis al wat hy kon kry. Dit sal egter net vir ’n maand of wat wees, want die huis wat hy besig is om vir hulle te bou, sal binnekort klaar wees.
Sy was verras en in ekstase. “Wanneer gaan jy die huis vir my wys?” wou sy weet.
“Jy sal jou nuuskierigheid moet beteuel. Ek gaan hom glad nie vir jou wys voordat hy nie kant en klaar is nie,” het hy laggend gesê. “Eers dán mag jy hom sien. En dan gaan ons saam meubels koop, gordyne en al daardie dinge.”
Haar moed wil haar amper begewe toe Nadia die huis, nou háár huis, op De Meer binnegaan en sy alles meer aandagtig bekyk. Die meubels mag antiek wees, maar die stoele en bank in die sitkamer se kussings is gehawend. Die binnemure en deure kort verf, en die vloere sal ook aandag moet kry. Om nie te praat van die dak, buitemure en tuin nie!
Sy val sommer dadelik weg met die skoonmaak van een van die kamers sodat sy slaapplek kan hê vir die nag. Veel verder as dit vorder sy nie, want toe sy haar kom kry, is die donkerte al besig om toe te sak. Sy glo toe sy in die bed klim dat sy vas en droomloos sal slaap, want sy is behoorlik pootuit. Maar …
’n Donderende gehamer aan die voordeur maak haar wakker. Sy onthou dadelik van die aanranding op die bejaarde egpaar laer af in die straat ’n week gelede. Sy haal vinnig Johny se pistool uit die bedkassie. Dis die eerste keer in haar lewe dat sy ’n vuurwapen in haar hand hou, maar miskien dien dit as afskrikmiddel.
“Maak oop die blerrie deur, of ek skop hom oop!” Sy laat sak die pistool. Dis Johny. Weer dronk of bedwelm. Hy strompel die huis binne saam met die walglike reuk van drank toe sy die deur oopmaak. Sy gru daarvoor. Sy gru daarvoor soos sy lankal vir hom ook gru.
“Wat kyk jy so na my?”
Sy tong sleep, en hy lyk oes. Sy klere is vuil, sy hare deurmekaar en sy oë bloedbelope.
“Sies, Johny, jy moet jou skaam! Kyk hoe lyk jy! Waar was jy al die tyd?”
“Wat traak dit jou waar ek was? Jy’t dan gisteraand gesê jy’t my nie meer lief nie.”
“Dit was nie gisteraand nie. Dit was al ’n week gelede. Waar was jy al die tyd?”
“Jy lieg dit! Ek was nie so lank weg nie!”
“Natuurlik was jy! Dit lyk my jy was die hele tyd so dronk dat jy nie eens weet wanneer jy hier weg is nie.”
Sy oë verstar. “Wanneer word jy mondig?”
“Ek het gister verjaar.”
“Gister? Jy lieg!”
“Hoekom sal ek lieg? As jy nie gelyk het soos jy nou lyk nie, sou jy dit onthou het.”
’n Lelike grynslag verskyn op sy gesig. “Klaar verjaar! Nou waar’s die geld?”
“Ek het dit gebruik om vir ander blyplek te betaal. Daar staan my tasse agter jou, klaar gepak. Ek trek môre daar in.”
“Ander blyplek? O, noudat jy ’n ryk vrou is, wil jy my eenkant toe smyt! Vergeet daarvan! Jy gaan nie alleen wegkom met daardie geld nie.”
“Ek het niks geld oor nie. Regtig. My fooitjiegeld moes ek vir mevrou Koen gee vir die huur van die kamer. Waar jy geld gaan kry om haar langer te betaal, weet ek nie. Ek is klaar met jou!”
“Vroumens, ek soek daardie geld!”
“Ek sê mos vir jou daar is niks oor nie! Waar sit jou ore?”
Toe die woorde uit is en sy sien hoe sy gesig vertrek, besef sy sy dryf hom te ver. Hy duld nie parmantigheid nie. Hy het al vantevore gewelddadig geraak.
“As jy dink jy gaan alleen wegkom met daardie klomp geld wat jy vir jou verjaardag gekry het, maak jy ’n helse fout!” skree hy waansinnig. “Trek uit jou klere en klim op die bed. Ons sal sien of jy nog gaan loop as jy swanger is!”
Sy rig paniekbevange die pistool op hom. “Bly waar jy is! As jy aan my vat, skiet ek jou! Ek wou môre loop, maar ek dink dis beter as ek sommer nou dadelik gaan!”
Hy lag honend. “Ek skrik nie vir koue pampoen nie.”
Toe storm hy nader, gryp haar hand met die pistool vas, en begin haar voetjie vir voetjie bed toe dwing. Sy drankasem in haar gesig is walglik, en sy worstel verbete om haar te bevry. Toe, plotseling, die weergalming van ’n skoot in haar ore …
Nadia gil haarself wakker, soos menige nag die afgelope maande. Dieselfde nagmerrie wat hom oor en oor herhaal.
Sy skakel die lig aan en staan op om te gaan water drink. Besluit dan dat sy net sowel kan aangaan met die skoonmaak van die huis. Slaap sal sy immers nie weer nie.
Toe dit dag word, ry sy George toe om te gaan verf koop. Terug by die huis dra sy al die meubels wat nie te swaar is nie, buitentoe. Dis makliker om die mure te verf en die vloere te skrop as die vertrekke leeg is. Boonop is sy nie wat jy ’n verwer van formaat sal noem nie, dink sy selfspottend.
Maar dit lyk darem beter daar waar sy klaar is. Of sy egter betyds gaan klaarkry, weet sy nie. Want sy het vir Santjie gesê sy sal die laaste week voor haar vertrek spreekkamer toe kom om touwys gemaak te word.
Die volgende oggend kom sy agter sy het te min verf gekoop. Sy sal weer George toe moet ry. Daar aangekom, koop sy op die ingewing van die oomblik ’n bos blomme om op die grafte van oom Jacques en tannie Mercia te gaan sit.
As hulle nog geleef het, sou sy geglo het oom Jacques is haar weldoener, dink sy toe sy langs die grafte staan. Johny moes geweet het wie dit is. As jy dink jy gaan alleen wegkom met daardie klomp geld wat jy vir jou verjaardag ontvang het …
Sy het daardie verskriklike nag geen benul gehad waarvan hy praat nie. Sy het geglo dis maar weer die drank en dwelms wat hom so deurmekaar laat praat.
Want sommer van die derde dag ná haar aankoms in Kaapstad het sy agtergekom Johny is nie die man wat sy gedink het hy is nie. Hy was uitermate slordig; die paar stukkies klere in sy kas was vodde; sy motor het hy glo vir ’n vriend geleen, wat dit afgeskryf het; sy geld was op ’n vaste belegging; ’n rampokker het die duur horlosie van sy arm afgeruk … Sy het spoedig ook nie meer die huisboustorie geglo nie, want hy het knorrig geraak wanneer sy dit ophaal. En hy was knaend platsak.
Die juwele wat hy op George vir haar gegee het, het begin wegraak. Hy was aan die begin oënskynlik net so geskok soos sy daaroor. Maar toe betrap sy hom waar hy die goue hangertjie wat sy by tannie Mercia gekry het in sy broeksak druk. Toe weet sy sommer waar hy geld kry vir drank en dwelms.
Sy het geskrik vir sy woedebui toe sy hom konfronteer. Hy het haar rondgestamp en gesê sy moet dit nooit weer waag om te sê hy is ’n dief nie, want dan maak hy haar dood!
Daarna het dinge net vererger. Hy het nagte lank weggebly, en het elke keer óf besope óf stilstarend van die dwelms opgedaag. Sy het dit op ’n dag gewaag om vir hom te sê hy moet kies tussen haar of die dwelms en drank. Hy het soos ’n besetene te kere gegaan en haar gewurg totdat haar verstand begin swymel het.
Ná sulke rusies was hy gewoonlik vreeslik berouvol, en het hy weer daarop aangedring dat hulle dadelik moet trou. Maar sy wou nie, want sy het geweet hy sal nooit verander nie.
Sy sal haarself nooit ophou verwyt oor sy nie dadelik getrek het toe sy ander blyplek bekom het nie. Dog, sy wou ondanks haar walging darem self vir hom sê dis verby tussen hulle.
Nadia is besig om ’n stoel in die agterplaas af te skuur toe sy ’n getimmer in die buitekamer langsaan hoor. Waarmee is haar bure besig? wonder sy. Sy het hulle nog nie met ’n oog gesien nie. Dis seker haar plig om te gaan kennis maak, maar dit moet wag. Sy het net eenvoudig nog te veel werk in die huis.
Toe sy klaar is met die stoel, is sy natgesweet van die inspanning en hitte. Die meer lyk so aanloklik dat sy besluit om eers te gaan afkoel. Daar is mos darem ’n spreekwoord wat sê: Rome is nie in een dag gebou nie.
Die water is te vlak om te swem, maar dis lekker om sommer net daarin te plas. Dis lankal nie meer die besoedelde water van destyds nie. Daar word nie meer rioolafval in die meer gestort nie, en dis ook nie meer ’n plek waar wasgoed gewas word nie.
Toe sy op ’n keer huis se kant toe kyk, sien sy ’n man in die agterplaas van die buurhuis staan. Sy skrik, want hy lyk baie soos die man met wie haar pad nou al drie keer gekruis het. Toe haar motor vasgeval het, by die kerkdiens en by die rots in die meer. Maar nee, probeer sy haarself wysmaak, dit sal nie hy wees nie. Dis ver; sy kan hom nie so mooi sien nie.
Toe sy begin koud kry, kyk sy weer in daardie rigting. Hy staan nog steeds daar. Sy sal nie uit die water kan klim sonder om met hom kennis te maak nie. Sy besluit om nog ’n rukkie te wag; hopelik gee hy pad. Maar puur verniet.
Toe sy begin bibber van die koue water, skraap sy haar moed bymekaar. As dit nie anders kan nie, dan kan dit nie. Hy sal maar vir lief moet neem met haar baaikostuum. Vir al wat sy weet, koel sy vrou ook soms hier in die meer af.
Natuurlik, sy moes kon dink haar hoop gaan verydel word, flits dit deur haar gedagtes toe sy die bouvallige trappe na haar agterplaas bestyg. Hopelik is sy vrou darem minder nors as hy – indien hy haar buurman is. Hy staan so naby die trappe, sy sal bykans teenaan hom verby moet loop om haar agterdeur te bereik. En nou het sy nie eens haar jakkie of ’n handdoek saamgebring nie.
“Goeiemiddag,” groet hy en kom nog nader.
“Goeiemiddag,” groet sy halfhartig terug.
“Jy voel seker nou beter. Ek het gehoor jy werskaf al van vroeg vanoggend af hier langsaan.”
“Ja, die water was ’n lafenis. Kuier jy hier?” beduie sy hoopvol met haar hand na die buurhuis.
“Nee, ek wóón hier,” word haar hoop weer eens verydel.
Toe steek hy sy hand uit. “Dis seker tyd dat ons nader kennis maak, of hoe? My naam is Dimitri Kossivas.”
Haar hand val terug langs haar sy en sy staar hom begogel aan. “Di… Dimitri!”
“Dis reg,” sê hy fronsend. “Hoekom lyk jy so onthuts?”
“Dimitri? Jy bedoel … Dimitri!”
Sy wenkbroue trek saam. “Ja, Dimitri. Dit lyk of jy my ken?”
“Ek moet gaan aantrek.”
Toe glip sy soos blits langs hom verby, om die distansie na haar kombuisdeur in ’n rekordtyd af te lê.
Dis eers toe sy in haar slaapkamer tot stilstand kom en haar bleek gesig in die spieël sien, dat sy besef sy het totaal geoorreageer. Wat op aarde moet hy van haar kinderagtige optrede dink! Maar dit was so ’n skok. Dimitri … Sy kan nie glo dis hy nie. Hy was dan so ’n maer ou seuntjie …
Terwyl sy verklee, dring dit tot haar deur dat hy nie meer elf jaar oud is nie. Sy is nou al twee en twintig, dus moet hy omtrent vier en twintig wees. Dis vanselfsprekend dat hy anders lyk. Hoe langer sy daaroor dink, hoe meer besef sy daar is tog ’n vae ooreenkoms tussen die man van nou en die seuntjie van destyds. Soos sy gitswart hare en sy donker, amper swart oë wat ’n mens so deurdringend kan aankyk. Sy onthou dat sy eendag vir hom gevra het of hy kan sien daar is ’n lekker in haar maag. Hoekom het sy dit nie voorheen opgelet nie! Seker maar oor sy direkte oogkontak met mense vermy.
Dat hý van alle mense nou haar buurman moet wees, dink sy toe sy klaar aangetrek het. En dat sy boonop so ’n gek van haarself gemaak het deur die loop te neem. Sy sal moet regmaak wat sy verbrou het.
Maar hoe gaan hy reageer as hy uitvind wie sy is? Of weet hy dalk? Vir al wat sy weet, het hy die hofsaak in die koerante gevolg en weet hy presies wie sy is. Dalk het hy haar al by die eerste aanblik herken en hou hy hom maar net so dom!
Sy draal deur die huis. Vat hier aan iets en los daar ’n ding, maar kan aan niks kom nie. Oplaas skraap sy haar moed bymekaar. As hy nie weet van die trauma in haar lewe nie, sal hy dit tog binnekort uitvind. As hy nié weet nie … moet hy dit maar op ’n ander manier uitvind. Dis mos nie nodig dat sy hom daarvan vertel nie. Haar senuwees is nie van die beste nie toe sy ’n rukkie later aan die buurhuis se deur klop, maar sy veins lighartigheid toe die deur oopgaan. “Haai, ek is jammer ek was netnou so onbeskof, maar ek het vreeslik koud gekry en wou eers verklee.”
“Geen probleem nie. Kom binne.”
Sy loop skugter die huis binne toe hy die deur wyer oopmaak. Hoop haar stem klink neutraal toe sy oënskynlik half ongeërg vra: “Het jy my herken?”
“Ek vir jóú herken? Nee, ek is bevrees … Behoort ek jou te ken?”
Die frons op sy voorkop en die manier waarop hy na haar kyk, sê vir haar hy speel nie toneel nie.
“Wel, ja. Jy sal jou gedagtes net ’n hele klompie jare moet laat teruggaan. So twaalf, dertien jaar.”
“Dertien jaar gelede …Was ons dalk saam op skool hier in De Meer?”
“Onder andere, ja.”
“Ek onthou nie veel van daardie jare nie. Dis omtrent die tyd toe ons hier weg is Griekeland toe. Ek was maar so nege of tien jaar oud.”
“Onthou jy jul destydse bure hier se dogtertjie?”
Hy frons en kyk haar vir ’n wyle stip aan. Toe verhelder sy gesig. “Moenie vir my sê jy is … Nadia nie?”
“Ek is.”
“Genade ons! Ek kan dit nie glo nie! Het jy dan nie ligte hare gehad nie? Vlegsels en … Dalk sou jy bekend gelyk het as ek jou oë kon sien, maar met die donkerbril …”
Sy haal die bril af. “Glo jy nóú dis ek?”
“Sowaar!” Hy gryp haar skielik om die lyf en draai met haar rondomtalie.
“Ek sou jou nooit herken het nie,” sê hy laggend toe hy haar weer op haar voete staanmaak. Sy norsheid het asof in die niet verdwyn. “Wat het van jou speekbeentjies en maer lyfie geword?”
Nadia voel hoe die verligting deur haar sypel. Hy weet nie, flits dit deur haar gedagtes. Maar sy loer vinnig deur toe. Waar sou sy vrou wees? Werk sy?
“My speekbeentjies? Asof jy kan praat! Jy was net so maer. Net kniekoppe en oë.”
Hy beduie na ’n stoel in die sitkamer. “Sit, dan vertel jy my waar jy was en wat jy gedoen het vandat jy hier weg is. As ek so na jou kyk, het die lewe jou glad nie sleg behandel nie.”
Sy huiwer, maar neem dan tog op ’n stoel plaas, gedagtig daaraan dat hy agterdogtig gaan raak as sy haar onmiddellik weer met ’n flou verskoning uit die voete maak. Maar sy weet nie wát om te sê nie.
“Daar het niks noemenswaardigs met my gebeur nie. Vertel my liewer hoe dit gekom het dat jy hier woon. Ek dag jy en jou ouers is destyds vir goed Griekeland toe.”
“Ja, my ouers woon nog daar. Maar ek het dikwels teruggekom hierheen saam met my pa. Ons het mos destyds hierdie huis verhuur toe ons terug is Griekeland toe. Elke keer wanneer die huurders trek, het ons gekom om die huis op te knap en het vir ’n maand of wat hier vertoef. So het ek ’n liefde vir die plek en land ontwikkel, en uiteindelik besluit om my hier te kom vestig. Maar wat het jóú laat besluit om terug te kom na De Meer?”
“Ek was op verlof,” sê sy versigtig, “en sommer net nuuskierig om te sien hoe dit deesdae hier lyk. Toe is ons ou huis te koop, en die prys was so goed dat ek dit amper nie kon glo nie. Wel, toe koop ek dit. Aan wie behoort hierdie huis nou? Nog aan jou ouers?” vra sy dan vinnig om die wending van die gesprek van haar af te keer.
“Hulle het die huis aan my geskenk met my mondigwording. Is … of was jy getroud?”
“Ongetroud.”
“Watse tipe werk het jy gedoen?”
“Ek het vir ’n prokureursfirma in Kaapstad gewerk. Waar is jou vrou? Werk sy?”
“Ongetroud. Ek was nog nie so dom om my kop in ’n strik te steek nie.”
“O. Enne … wat doen jy vir ’n lewe?”
“Kom saam, dan wys ek jou.”
Sy volg hom stilswyend deur die huis na die agterplaas. Daar aangekom, maak hy die deur van die buitekamer oop. “Stap voor.”
Vir ’n oomblik vergeet sy van al die donker dinge in haar lewe toe sy die vertrek betree. “Dit ruik nog presies soos ek dit onthou. Na verf en houtsaagsels!” Haar blik val op die halfvoltooide skildery van ’n natuurtoneel. “Moenie vir my sê jý skilder ook nie!”
“Hoekom klink jy so ongelowig?”
“Jy lyk nie na ’n skilder nie. Ek sou eerder sê jy’s ’n bokser of stoeier.”
Toe hy lekker diep uit sy maag lag, voel sy hoe haar wange warm word. “Ek bedoel dit nie as ’n belediging nie. Ek het net nie kon dink jy sou in jou pa se voetspore volg nie.”
“Dis nie al wat ek doen nie. Kom kyk hier.”
Hy loop dieper die vertrek in na waar iets onder ’n seil bedek is. “Moet net nie skrik as ek dit oopmaak nie.”
“Dis … dan ’n doodkis,” sê sy verstom toe hy die seil verwyder.
“Mooi, is hy nie?”
“Ja, seker. As so iets mooi genoem kan word. Maak jy dit self?”
“Ja. En jy sal nie glo hoe groot die aanvraag daarvoor is nie. Ek kry amper nie meer tyd om te skilder nie. En daar agter jou is ’n skuit wat ek besig is om te bou.”
“Aarde, maar jy is woelig. Hoeveel skuite het jy al verkoop?”
“Nee, dis vir myself dat ek hom bou.”
“Jy gaan dit tog seker nie op die see waag met hom nie?”
“Só waaghalsig is ek bepaald nie. Hy is gans te klein daarvoor. Dis net sodat ek oor die dieper kant van die meer kan roei tot op die oorkantste oewer. As hy klaar is, sal ek jou saamnooi. Dan gaan klim ons die berg daar oorkant uit.”
“Nee, ek …” Eintlik wil sy vir hom sê sy wil nie met hom bevriend wees nie. Maar sy kry nie die woorde oor haar lippe nie. “Ek wil nie aaskos word nie,” opper sy dus maar floutjies.
Hy lag. “Ek sal seker maak hy lek nie. Onthou jy nog die dag toe die kaskar wat my pa vir ons gemaak het met ons weggehol het tot binne-in die meer? Ons het mos gedink ons sal sy vaart met ons hande op die wiele kan stuit. Jy’t omtrent soos ’n maer vark geskree toe jy die bloed aan my bobeen sien waar ’n klip my flenters gesny het.”
Sy gemoedelikheid verbaas haar, want haar eerste indruk was dat hy ’n regte buffel is. Maar dis nie iets waaroor sy haar verbly nie. Inteendeel, sy sou liewer wou hê hy moes ’n buffel bly, en alles vergeet het van hul kinderdae.
Maar toe hy na haar kyk, dwing sy ’n glimlag op haar gesig. “Ja, ek onthou. Maar jy het net so geskrik. Jou gesig was so wit soos ’n laken.”
“Snaaks genoeg, ons het toe nie pak gekry nie. My ouers het my net in die motor geboender en George toe gery sodat die dokter steke kon insit.”
Sy kyk hoe hy die doodkis weer toegooi. “Het jy hom spesiaal vir iemand gemaak?”
“Ek het net eendag ’n gier gekry om een te maak toe ek die hout raakloop. Sommer net vir die uitdaging daarvan. Maar toe sien ’n begrafnisondernemer hom en koop dit daar en dan. En jy sal verstom wees hoe in aanvraag hulle nou skielik geraak het. Dis van baie duursame hout, dus is die prys buitensporig hoog, maar dit wil voorkom of daar nog baie ryk mense is. Ek ontvang gereeld oproepe van iemand wat net die beste vir sy of haar afgestorwe naasbestaande soek.”
Toe hulle by die vertrek uitstap, nooi hy haar vir tee. Maar sy wys dit van die hand. “Dankie, maar ek het nog baie om te doen. Ek is besig om die huis leefbaar te probeer maak.”
“En dan? Gaan jy terug Kaap toe?”
“Nee, ek begin oor ’n paar dae hier by dokter Louw werk.”
Sy wenkbroue lig. “O, ek sien. Ja, ek het gehoor Santjie gaan weg.”
“Nou ja, van sit en staan kom niks gedaan. Verskoon my.”
“Wanneer dinge rustiger raak, moet jy kom kuier dat ons verder oor die ou dae gesels,” nooi hy.
“Ek sal so maak,” beloof sy halfhartig voordat sy omdraai en wegstap.
Vir die volgende twee dae werk Nadia haar oor ’n mik, nie soseer om die huis reg te ruk nie, as om haar gedagtes besig te hou sodat sy nie kans kry om te tob oor wat die toekoms vir haar inhou in De Meer nie.
Nugter alleen weet wat die mense se reaksie gaan wees as hulle uitvind van haar verlede. En Dimitri, wat sal hý van haar dink? Daar is nog die dokter ook … Sal hy haar in sy diens hou as dit sy ore bereik dat sy in die tronk was?
Die dag voordat sy moet begin werk, maak Dimitri onverwags sy verskyning in haar agterdeur. “Jy gaan jou morsdood werk,” sê hy. “Ek hoor maar hoe gaan jy hier te kere. Is daar nie iets waarmee ek kan help nie?”
“Nee, ek kom reg, dankie.”
Maar hy loop nie. Inteendeel, hy stoot die deur oop en kom ongenooid die kombuis binne. “Hoe lyk dit met ’n koppie tee? Jy is seker ook al dors teen hierdie tyd, of hoe?”
Dit laat haar geen keuse as om die ketel aan te skakel nie. “Ja, ek sal seker gou ’n ruspose kan vat om ’n koppie tee saam met jou te drink.”
“Wanneer is jy toe weg van De Meer af?” vra hy terwyl sy die koppies uit ’n kas haal.
“My ouers is oorlede toe ek so elf jaar oud was. Ek is toe na ’n kinderhuis op George. En later Kaap toe.”
“Hier is maar min van die mense oor wat destyds hier gewoon het. Om die waarheid te sê, ek weet net van oom Jorsie en tant Jana. Die paar kinders wat saam met ons op skool was, is ook al almal vort.”
“Wat doen jou ouers deesdae?” vra sy toe daar ’n stiltetjie kom, bang hy begin haar weer uitvra. “Skilder jou pa nog?”
“So dan en wan wanneer hy die kans kry. Ons is mos destyds terug Griekeland toe as gevolg van my oupa se siekte. Hy kon nie langer sy skeepsraffinadery daar behartig nie. My pa het toe die bedryf daarvan oorgeneem.”
“Is hulle gelukkig daar?”
“Ja wat. Hulle is baie aanpasbare mense. Die feit dat ek nou hier woon, is ook vir hulle ’n troos, want nou kan hulle enige tyd van die jaar, wanneer my pa nie so vas is nie, hier kom kuier.”
“Vir hoe lank het hulle hier gewoon? Ek meen, voordat jy gebore is?”
“Net ’n jaar. Hulle het destyds geld van hul ouers ontvang as trougeskenk. Toe kom hulle na die George-omgewing vir hulle wittebrood, raak verlief op De Meer, en toe koop hulle die huisie hier. My ma was glo aanvanklik nie so gelukkig hier nie. Sy’t gekla oor die slegte reuk van die meer, en die armoedige lewe, maar toe ons moes teruggaan Griekeland toe, het sy die hardste gehuil.”
“Wanneer laas was hulle hier?”
“Meer as ’n jaar laas. Maar ek was darem nou vir meer as drie maande daar.”
Sy stoot sy koppie nader en vra dan kamma ongeërg: “Het jy geweet pa-Kerneels en ma-Anna het my aangeneem?”
“Werklik? Waar kom jy daaraan?”
“Een van ons skoolmaats het my vertel. Engela. Dit was nadat julle hier weg is. Ek weet nie of jy haar onthou nie. Hulle het destyds in die huis gebly waar die spreekkamer nou is.”
“Waar het sý daaraan gekom dat jy aangeneem is?”
“Sy’t glo haar ma en ’n ander vrou daaroor hoor praat. Ek het my ouers toe daarmee gekonfronteer, en hulle het erken dat dit waar is. Maar hulle wou nooit vir my sê wie my biologiese ouers is nie. Net dat my ma dood is, en my pa weg.”
Hy frons. “Het jy al probeer navraag doen, ek bedoel, agterna? By Engela of haar ma?”
“Nee. Engela-hulle het kort daarna verhuis. Ek dink Riversdal toe. So ek het geen bron van inligting nie. Maar kom ons vergeet daarvan. Miskien is dit beter dat ek nie weet wie of watter soort mense hulle was nie.”
Hy ledig sy koppie in stilte. Eers toe hy opstaan, vra hy uit die bloute: “Hoe is dit dan dat jy nog nie getroud is nie?”
“Ek het nie tyd gehad om my aan mans te steur nie,” sê sy vinnig, voordat sy op haar horlosie kyk. “Ek is jammer, maar jy sal moet loop, anders gaan ek nooit klaarkry met my werk nie.”
Nadat hy die kombuis verlaat het, druk sy die deur ferm toe, asof sy hom daarmee uit haar lewe kan verban. Hoe minder hulle met mekaar te doen kry, hoe beter. Dit sal nie lank neem voordat hy gaan agterkom sy steek vir hom dinge weg nie. Sy het nie De Meer toe gekom om haar in strikvrae vas te loop nie, maar om te vergeet … As so iets ooit moontlik sal wees.