Читать книгу Melodie Omnibus 1 - Elza Rademeyer - Страница 8
5
ОглавлениеVoor sy die oggend werk toe vertrek, kom klop Dimitri aan die kombuisdeur. “Ek kom net hoor waar Thomas met die verwery moet begin. By die voordeur, of hier aan die agterkant?” wil hy weet.
“Dit maak nie saak nie. Die hele huis moet tog geverf word. Maar ek het gewonder of hy nie eers die stukkie muur hier in die kombuis bokant die kaste kan verf nie. Dit het nie vir my so sleg gelyk toe ek die ander mure geverf het nie, maar nou steek dit af. Of dink jy hy moet dit liewer doen wanneer ek tuis is?”
“Thomas is eerlik en betroubaar, jy hoef nie bekommerd te wees nie. Terwyl ek weg was Griekeland toe, het hy my huis se sleutels by hom gehou om die potplante nat te maak. En ek is ook mos hier om ’n ogie te hou oor sy werkery.”
“Dankie. Ek gaan dan sommer my kombuisdeur oop los.”
“Geniet jou dag.”
“Dankie, jy ook. Ek waardeer jou hulp en moeite.”
Die eerste pasiënt wat by die spreekkamer opdaag, is Marda Kotze. Nadia kan nie anders as om geamuseerd te voel nie. Sou Marda regtig glo sy lyk goed in die stywe, byderwetse klere wat eintlik vir tieners bedoel is? En haar grimering … Om Bets Vos se beskrywing te gebruik: jy kan dit met ’n skopgraaf van haar gesig afskraap. Arme dokter Louw. Sal hy nou weer na moesies op strategiese plekke moet kyk?
Marda is dan ook kwalik by die deur uit of dokter Louw kom steek by die ontvangstoonbank vas. “Vanaand sal jy my tot redding moet kom.”
“Hoe so?” vra Nadia verbaas.
“Mevrou Kotze het my vir aandete genooi. Sy gaan bonesop kook en patats bak. Toe sê ek vir haar baie dankie, maar ek het te veel werk by my huis. Daar draai sy die hele besigheid om en sê dis ook maar reg. Sy sal die sop en patats bring, dan eet ons dit by mý huis.”
Nadia glimlag. “En toe?”
“Toe val dit my gelukkig by ek het ’n afspraak vir vanaand.”
“Nou hoekom moet ék jou dan tot redding kom?”
“Die afspraak is met jou. Ek het vir haar gesê ek het jou belowe ons gaan vanaand op George uiteet.”
“O, ek snap nou. Maar hoekom het jy nie net gesê jy eet nie bonesop nie?”
“Ongelukkig het ek eendag in haar teenwoordigheid laat val dat ek in die middel van die nag wakker gemaak kan word vir ’n bord bonesop en gebakte patats. So dit sou nie help nie. En sy’s kapabel om vanaand by my huis te kom seker maak ek is wel weg.”
“Wel, ons hoef nie George toe te ry nie. Ek het toevallig bonesop in my vrieskas, en ek het patats wat ek kan bak.”
“Dankie, maar dit was nie my plan om vir jou moeite te gee nie.”
“Dis nie moeite nie. Jy is meer as welkom. Maar daar sal seker ’n dag kom dat jy vir haar reguit sal moet sê haar attensies staan jou nie aan nie, of hoe?”
“Dis nie so maklik nie. Marda Kotze se tong het ’n angel. Sy sal my naam só vuil praat in hierdie omgewing dat ek nie ’n enkele pasiënt sal oorhê nie. Ek wil nie in skuld verval nie.”
Hul gesprek word kortgeknip deur tant Jana se binnekoms. Nadat dokter Louw haar ondersoek het, kom steek die tante voor die ontvangstoonbank vas.
“Jy’t my mos anderdag so uitgevra oor die Pretorius-mense wat daar op die oewer van die meer gebly het. Ek weet nou hoekom jy so nuuskierig oor hulle was,” sê sy tot Nadia se konsternasie. “Ek hoor jy’t die huis gekoop waarin hulle gewoon het. Jou van is ook mos Pretorius, maar jy hoef nie bang te wees jy’s familie van hulle nie. Enigeen kan sien jy is ’n goed opgevoede meisie. Daardie mense was regte uitvaagsels. Van die soort wat nooit êrens in die lewe sou kom nie. Te lui om hul hande uit die moue te steek.”
En sommerso in dieselfde asem: “Hier, dokter Louw sê jy moet hierdie pille vir my gee. Ek twyfel of dit sal help, maar gee maar voordat ek weer ’n floute kry.”
Toe sy loop, blaas Nadia verlig haar asem uit. Vir ’n oomblik het sy geglo haar geheim is uitgelap. Die een of ander tyd sal dit seker gebeur, maar … Sy sit net daar ’n stop aan haar gedagtes. Sy wíl nie so ver dink nie!
Die middag toe sy by die huis kom, is sy verstom om te sien hoe ver Thomas al gevorder het met die verwery. Toe hy ’n rukkie later daar wegry op sy fiets, stap sy om na Dimitri se huis om hom te bedank dat hy toesig gehou het. Toe hy nie antwoord op haar klop nie, draai sy ietwat teleurgesteld om. Sy sou graag vir hom wou vertel hoe mooi die gedeelte lyk wat al klaar is.
Eers ’n rukkie later, toe sy toevallig deur haar kombuisvenster kyk, gewaar sy hom op een van die rotse in die meer. Hy sit met sy hande om sy opgetrekte knieë, en al is dit ’n bietjie ver, lyk dit vir haar asof hy in die rigting van die twee oewerhuise tuur. Toe maak sy die kombuisdeur oop en waai vir hom. Net om haar half buite weste te skrik toe sy agterkom wat sy doen.
Sy klap summier die deur toe. Wat besiel haar? Dis die laaste ding wat sy wil doen, om toenadering te soek! Sy moet hom op ’n afstand hou. Hulle is klaar te vriendelik met mekaar.
Sy gee ’n suggie. Eintlik is dit makliker gesê as gedaan. Sy is afhanklik van sy hulp, want dis nie vir haar moontlik om ’n oog oor Thomas te hou nie. En daar is hul kinderdae … iets wat ’n soort band tussen hulle skep. Dinge wat jy eenvoudig nie net by die agterdeur kan uitvee nie.
Dit val haar by van die sop wat sy uit die vrieskas moet haal en die patats wat in die oond moet kom. Toe sy daarmee klaar is, kyk sy weer deur die venster. Dimitri sit nog op die rots.
’n Uur later sien sy dat hy steeds daar sit. Wat hou hom so lank daar? Het hy regtig sy teleurstelling afgeskud? Wat het hy bedoel toe hy gesê het hy het dit oor homself gebring?
Die kos is gereed toe dokter Louw opdaag. Hy snuif behaaglik die lug toe hulle die huis binnegaan. “Niks ruik lekkerder as boontjiesop en gebakte patats nie. En ek het boonop onthou om vir ons ’n bottel wyn saam te bring.”
“Ja, dis iets waaraan ek nie gedink het nie. Sal ons eers ’n glasie hier in die sitkamer geniet, of verkies jy om dit saam met die ete te neem?”
“Ons kan dit hier geniet.”
“Dis eienaardig dat jy van boontjiesop en patats hou,” sê Nadia toe hulle glas in die hand in die sitkamer sit. “Ek dag dis net dié kontrei se mense wat daarvan hou.”
“Dis hier wat ek so lief geraak het daarvoor. My ouers het ’n vakansiehuisie in Vissersbaai gehad toe ek ’n kind was. In die somermaande het ons vis geëet wanneer ons tydens skoolvakansies hierheen gekom het, en in die wintermaande sop en patats.”
Toe hulle besluit dis tyd om oor te gaan tot die ete, vra sy om verskoon te word sodat sy die badkamer kan besoek.
“Dis reg. Ek wag solank in die kombuis sodat die kosgeure my goed honger kan maak.”
Toe sy ná ’n rukkie die kombuis binnegaan, sit hy rustig langs die kombuistafel. Sy haal twee sopborde uit die kas om vir hulle op te skep.
Maar toe hou hy ’n stukkie koerantpapier na haar uit. “Ek tel dit hier onder die kombuistafel op. Dit lyk vir my na iets wat seker nie veronderstel is om deur almal gelees te word nie.”
Sy weet nie onmiddellik wat hy bedoel nie, maar toe sy die koerantuitknipsel in sy hand herken, raak sy doodsbleek. Die woorde is in haar geheue afgeëts. Me. Nadia Pretorius is gister vrygespreek op ’n aanklag van poging tot moord op haar minnaar, Johny Marais. ’n Rusie het daartoe aanleiding gegee dat Pretorius ’n vuurwapen op hom gerig het. In ’n worsteling om die pistool by haar af te neem, het ’n skoot afgegaan wat Marais in die kop getref het. Marais se vorige minnares, me. Joan Niewoudt, ’n weduwee, het getuig dat sy vier maande in ’n verhouding met Marais was, en dat hy die betrokke pistool by haar gesteel het. Sy het hom as ’n dwelmverslaafde en swendelaar beskryf, en vertel hoe hy haar finansieel geruïneer het. Marais is ná die voorval in die Karel Bremer-hospitaal opgeneem, maar is onlangs na ’n versorgingsoord oorgeplaas.
’n Bord gly uit haar hand en spat aan stukke op die vloer. “Hoe durf jy! Wie het jou die reg gegee om dit te lees?”
“Moenie so ontsteld wees nie. As jy dit geheim wil hou, is ek die laaste mens wat daaroor sal praat.”
“En nou? Noudat jy weet?”
“Nou niks. Enige mens kan in sy lewe ’n flater begaan. Dis duidelik genoeg uit die berig dat hierdie Johny Marais nie goeie bedoelings met jou gehad het nie. Jy’t ’n oordeelsfout begaan, net soos ek ook in my lewe ’n oordeelsfout begaan het. Dit plaas ons in dieselfde bootjie.”
Haar hele lyf is die ene bewerasie. “Jy was nie in die tronk nie!”
“Nee, ek was nie in die tronk nie, maar my lewe was ook omvergewerp. Kom sit, ek sal die skerwe opvee.”
“Los dit! Los alles! Ek wil liewer alleen wees!”
“O nee, jy gaan nie só maklik van my ontslae raak nie. Ek kan nie net op die geur van die sop leef nie. Het jy nog ’n bord?”
Sy rustigheid het tog ’n effek op haar. Hoewel sy nog ver van kalm voel toe hulle vir die ete aansit, besef sy dis kinderagtig om aggressief op te tree. Sy sou tien teen een dieselfde gedoen het as sy ’n stukkie koerantpapier onder sý kombuistafel sou bemerk.
“Ek is jammer ek het so te kere gegaan,” maak sy verskoning. “Dis net … ek probeer vergeet. Ek probeer om ’n nuwe lewe te begin.”
“Ek verstaan dit baie goed. En jy hoef regtig nie bekommerd te wees dat ek teenoor enigiemand iets sal rep nie. Jy kan my vertrou.”
“Ek sal bedank.”
“Bedank! Vir wat?”
“As die mense uitvind … Dit kan jou werk hier beïnvloed. Die mense sal jou nie meer wil besoek nie.”
“Ag, jy’s laf. Dit kan dalk net die teenoorgestelde uitwerking hê.” Hy glimlag effens. “Mense hou van sensasie. Almal sal wil sien hoe jy lyk. En dan skryf ek vir hulle al die duurste pille en medisyne voor. Maar grappies op ’n stokkie: jy hoef regtig nie bang te wees ek sal daaroor praat nie. Ek het genoeg moeilikheid van my eie.”
“Wil jy daaroor praat?”
“Nee.”
“Dan is ons kiets.”
Hy vul hul glase met wyn, tel dan syne op om dit teen hare te klink. “Kiets.”
Iets in die situasie is skielik vir Nadia snaaks. Sy glimlag sinies. “Hier sit ons, elkeen in sy eie kokonnetjie van geheime toegespin. Is ons selfsugtig, bang of sommer net plein simpel?”
Hy lag en begin sy patat afskil. “Ek dink dis iets van alles. Maar moenie glo ons is die enigste mense met geheime nie. Ek skat amper elke ou op straat het iets wat hy wegsteek vir ander. Is daar nie ’n liedjie daaroor nie? Iets van mense met geheime wat vergeet hulle woon in huise van glas, of so iets.”
“Ek herinner my ook so iets, ja. Dis seker maar goed ons weet nie van almal se ongelukkigheid nie, want dan sou ons dalk nooit kon slaap nie.”
“Jou sop is heerlik. Om van hierdie patats nie te praat nie!”
“Wel, ek is bly jy geniet dit. Ek was bang dit smaak so sleg dat jy jouself gaan verwens dat jy nie liewer Marda se aanbod aanvaar het nie.”
“Van Marda gepraat … Noudat ek jou geheim ken, kan ek net sowel een van my geheime ook met jou deel. Hoe goed ken jy Marda?”
“Ek weet niks van haar af nie. Net die stories wat die rondte doen dat sy geskei is, en dat niemand nog ooit die pa van haar kinders gesien het nie.”
Hy gee ’n suggie. “Ek was ’n eerstejaarstudent toe Marda-hulle langs my ouers kom woon het. Sy was in matriek en het my as maat gevra vir haar matriekafskeid. Ek is nie trots op wat daardie aand gebeur het op pad terug huis toe nie. Sy’t haarself vir my op ’n skinkbord aangebied, en ek het daarvoor geval. Vir my was dit sommer net pret. Maar ek is bevrees sy het dit ernstig opgeneem en glo tot vandag toe nog ek het háár lief, al was ek intussen met Tilla getroud. Haar koms na De Meer was nie toeval nie. Ek was kwalik hier, toe kom sy ook hier aan. In elk geval, sy is nie geskei nie. Haar man is die een wat wil skei, maar ek glo sy wil eers kyk of sy my vasgetrek kan kry voordat sy haar man sy vryheid gee.”
“Nou verstaan ek hoekom jy bang is vir haar tong. Jy’s bang sy vertel vir die mense wat destyds tussen julle gebeur het. Maar dis mos darem al baie jare gelede.”
“Ja, maar soos ek Marda ken, sal sy die storie só aandik en verdraai dat die mense sal glo ek is ’n regte rokjagter wat haar verlei en toe eenkant gesmyt het.”
Toe hy ná ete ry, stap sy saam met hom buitentoe. Sy bly ’n rukkie op die stoep staan nadat sy motor se agterliggies om die draai verdof het. Die aand het nie goed afgeskop nie, maar tog voel sy verlig dat hy nie deur iemand anders ingelig is oor haar verlede nie.
Die dowwe getimmer uit Dimitri se buitekamer laat haar wonder wanneer hy van plan is om te gaan slaap. Dis amper middernag. Voor haar geestesoog sien sy weer die foto van sy grootouers se weelderige huis in Griekeland.
Selfs toe sy ouers hier gewoon het, was hulle nie so onbeskaaf en versukkeld soos die res van die oewer se mense nie. Hy sal glo sy is maar net die produk van die soort huis waarin sy grootgeword het as die gebeure in haar lewe sy ore bereik.
Die volgende oggend voor werk gaan klop sy aan Dimitri se deur.
“Hm, ek het gedink jy gaan verslaap,” sê sy toe hy duidelik nog deur die slaap in net ’n oefenbroekie geklee die voordeur oopmaak. “Ek het jou tot tweeuur vanoggend nog in die buitekamer hoor werskaf.”
“Hm, ek het ’n bietjie laat eers in die bed geklim. Is jy al op pad werk toe?”
Sy draai haar kop weg om die prentjie van sy sonbruin, forsgeboude borskas en bene mis te kyk. “Ja, dit was so pas agtuur. Ek moet halfnege oopsluit. Eintlik kom ek net dankie sê dat jy oor Thomas toesig gehou het. Sal jy asseblief vandag weer ’n ogie oor hom hou?”
“Ja. Daar kom hy nou net die hoogte af op sy fiets. Jy kan met ’n geruste hart gaan werk.”
“Dankie. Ek sal probeer om op die een of ander manier te vergoed daarvoor.”
“Jy kan vergoed deur Saterdagmiddag saam met my oor die meer te vaar, dan gaan klim ons die berg daar aan die oorkant uit.”
Sy huiwer. Sy sou nie twee keer daaroor gedink het om saam met Wilhelm te gaan bergklim nie. Maar …
“Goed,” willig sy dan tog in.
Saterdagmiddag trek sy selfbewus die agterdeur agter haar toe om by Dimitri aan te sluit. Dit voel kompleet asof haar baaikostuum gekrimp het. Sy wou ’n denimbroek aangetrek het vir die bergklimmery, maar toe sê hy dit kan nat word, en die dag is ook te warm vir oortollige klere. Wel, hy kan op sy kop staan, maar sy gaan nie ontslae raak van die jakkie wat sy oor haar kostuum aangetrek het nie!
Die vaart oor die meer verloop voorspoedig. Dis egter baie modderig tussen die riete toe hulle die voet van die berg bereik.
“Wag, ek help jou,” sê hy nadat hy uit die skuit geklim het. Hy hou sy arms na haar uit. “Kom, ek dra jou tot op die wal.”
’n Eienaardige gevoel spoel deur haar lyf toe haar blik op sy harige breë borskas val. Die gedagte dat hy haar daarteen gaan vasdruk wanneer hy haar uit die boot help, verskrik haar só dat sy vergeet sy staan op ’n wankelrige skuitjie, en sy tree vinnig agteruit. Met katastrofiese gevolge, want toe die skuit gevaarlik kantel, verloor sy haar balans. Sy word eers weer bewus van wat om haar aangaan toe hy haar teen die wal uit sleepdra.
“Jy kon jou kop teen ’n klip gestamp het,” sê hy toe hy haar op die wal langs hom staanmaak. “Ek kan ook nie eens sê daardie agteroorduik van jou die water in was aanskoulik nie. En kyk hoe lyk jy nou! Jou hare is die ene slyk.”
Sy poog om haar reg te ruk, maar die skrik was te groot. Voor sy haar kom kry, bars ’n snik oor haar lippe. En die volgende oomblik trek hy haar styf teen daardie einste borskas vas waarvoor sy so bang was.
“Toe maar, jy’t mos nie seergekry nie,” sê hy vertroostend. “En ons gaan ook nie pak kry as ons by die huis kom nie, want ons is nou groot.”
Sy woel haar vinnig los uit sy omarming. “Dis die simpel skuit … Ek bedoel, ek het vergeet ek staan nie op vaste aarde nie.”
“Jy moenie ons skuit slegsê nie. Onthou, hy moet ons nog weer huis toe vat. Wag, laat ek die slyk uit jou hare kry.”
“Nee! Ek sal dit self uit my hare spoel.”
“Trek uit daardie nat jakkie,” sê hy toe sy orent kom ná ’n gespook om haar hare skoon te kry. “Gooi dit hier oor die bosse om droog te word. Ons kan dit weer kry wanneer ons terugkom.”
“Nee.” Sy trek die nat, bemodderde jakkie nog stywer om haar lyf. “Dis warm. Hy sal gou droog word.”
“Is jy skaam, of het jy ’n letsel wat jy wil verbloem?” vra hy spottend.
“Niks van dié aard nie.” Sy draai vinnig haar kop weg toe sy voel haar wange raak warm. “Ek wil net nie hê die wind moet hom wegwaai nie.”
Sy voel steeds ’n bietjie bewerig toe hy ’n paadjie die berg begin uitbaan en sy hom volg. Nie net van die skrik nie, maar ook oor sy so ’n spektakel van haar gemaak het. Sy kon sien hy was dik van die lag. Sy sou ook daaroor gelag het as hulle nog kinders was. Maar hulle is nie meer kinders en beste maatjies soos destyds nie. Hulle is nou grootmense. Dit kan nooit weer wees soos destyds nie. Nie met ’n verlede soos hare nie.
“Kom ons rus eers ’n bietjie hier onder die boom,” sê Dimitri ná ’n lang en stewige klim. “Kom sit hier langs my op die klip.”
In die bloedige son kan sy nie bly staan nie. Maar sy verwens die klip se beperkte sitruimte toe sy gehoorsaam. Hy hou ’n waterbottel na haar uit. “Moet hom net nie leegdrink nie. Ons gaan nie gou weer by skoon water uitkom nie.”
“Snaaks dat ’n mens as kind nooit so dors geword het nie,” sê sy nadat sy ’n paar klein slukkies geneem het. “Of dalk het ons, dat ek dit net nie kan onthou nie.”
“Jy moes bepaald vergeet het. Onthou jy die dag toe ons saam met jou pa Vissersbaai toe was? Toe hy gestaan en visvang en ons die bottel water in sy vissak ontdek het?”
“Ek het vergeet daarvan, ja. Dit was toe nooit water nie, maar drank!”
“Die een of ander spiritusmengsel wat ons asem weggeslaan het! Jou oë het so getraan dat ek dag jy huil. En toe sê jy my niks. Ek dag toe ook so ewe dis water.”
“Ek wonder wat hom besiel het om hom so aan die drank oor te gee.”
Hy roer sy skouers. “Sommige mense kan dit maar net nie weerstaan nie. Dis dieselfde met dwelms. Meesal is dit mense met ’n swak selfbeeld wat dit gebruik. Hulle glo dit maak hulle slim en sterk.”
“Dit klink amper of jy ’n graad in sielkunde geloop het?”
“Nee, maar ek het ’n niggie wat twee jaar lank totaal verslaaf was aan dwelms. Dit was aaklig om te sien hoe dit haar aftakel. Die familie was baie bekommerd oor haar. Sy was ’n baie mooi en talentvolle meisie, maar die dwelms het haar amper vernietig.”
“Is sy nou genees daarvan?”
“Ja, gelukkig.”
“Hoe voel jy nou?” vra sy ná ’n rukkie.
“Ek sien kans om verder te klim.”
“Goed, kom ons loop.”
Dit word ’n heel genoeglike dag. En soos sy half en half te wagte was, stel hy voor dat hulle weer saam ’n vleisie braai toe hulle by die huis kom. Ook dit verloop gesellig. Hy diep hope staaltjies uit hul kinderdae op.
“Jy’t die geheue van ’n olifant,” sê sy toe die aand einde se kant toe staan. “Ek het al baie van dié dinge vergeet.”
“Ja, ek is gelukkig, daar skeel niks met my geheue nie. Miskien is dit oor ek dit gedurig opskerp deur probleme wat opduik uit te rafel tot ek tevredenheid verkry. Dis jammer ons het nie destyds geweet jy is ’n aangenome kind nie. Dan kon ons jou herkoms probeer uitrafel het.”
“O aarde! Pa-Kerneels en ma-Anna sou nie jou inmenging verdra het nie. Hulle sou ons tien teen een verbied het om langer saam te speel.”
“Jy’t nog niemand hier raakgeloop wat jou inligting kon gee oor jou biologiese ouers nie?”
“Nee. Ek weet ook nie of ek lus het om my kop daaroor te breek nie.”
’n Paar dae verloop sonder enige noemenswaardigheid. Tot Nadia se verligting het dokter Louw nie weer ’n woord gerep oor die koerantuitknipsel nie.
Daar het ’n platoniese vriendskap tussen hulle ontstaan wat sy baie waardeer. Toe hy haar een middag nooi om die aand vir hulle by sy huis te gaan kosmaak, willig sy sonder skroom in. Dit word ’n heerlike aand, en sy leer hom ken as ’n vriendelike, saggeaarde man met ’n sin vir humor wat haar dikwels hardop laat lag. Sonder dat sy skuldig voel daaroor. Dis net asof hy dit regkry om Johny so ’n bietjie na die agtergrond van haar gedagtes te verskuif.
Die verwery van die huis vorder ook goed. Thomas is nie ’n vinnige werker nie, maar wat hy doen, doen hy deeglik. Dimitri kom amper elke aand verneem of sy nog tevrede is, en dan loop hy eers ná ’n tweede koppie koffie.
Die dak en mure is klaar, en Thomas is reeds besig met die verf van die vensterrame, toe Wilhelm op ’n dag vra hoe ver sy is met die opknap van haar huis. Op die ingewing van die oomblik nooi sy hom om die aand by haar te kom eet sodat hy self die vordering kan sien.
Toe hy ná werk by haar opdaag, vertel hy dat hy so pas ’n telefoonoproep van sy gewese vrou se man gekry het. “Hy sê Tilla het inmekaargesak en is in die hospitaal opgeneem. Die dokters het nog nie ’n diagnose gemaak nie, want hulle wag nog op die uitslag van toetse, maar die vermoede bestaan dat sy ’n ligte hartaanval gehad het.”
“En jou kind nou?”
“Marius sê ek hoef nie bekommerd oor haar te wees nie, hy sal mooi na haar kyk. Maar ek …”
“Jy is tog bekommerd,” sê Nadia toe hy swyg. “Ek het dadelik agtergekom daar is fout toe jy hier aankom. Jy is nie jouself nie.”
Hy bly ’n rukkie stil. Toe sê hy: “Ja, dis seker maar logies dat ek bekommerd is. ’n Stiefpa is nie ’n eie pa nie. Ek hoop maar dis nie so ernstig dat Tilla lank in die hospitaal moet bly nie.”
“Ek het iets te ete gemaak. Maar ek sal verstaan as jy nie vir ete wil bly nie.”
“Nee, ek sal graag saameet. Daar is tog niks wat ek aan die saak kan doen nie.”
Toe hy ná ete wil help om die skottelgoed te was, keer sy hom egter, want hy was die hele aand stug en in homself gekeer. “Nee, dis nie nodig nie. Dis nog vroeg, en ek het niks anders om te doen nie. Ek glo jy wil liewer huis toe gaan.”
Hy lyk dan ook verlig, en vertrek dadelik.
Op pad werk toe die volgende oggend dink sy daaraan dat Dimitri nie soos gewoonlik die vorige aand kom koffie drink het nie. Hy het seker Wilhelm se motor gesien en wou hulle nie pla nie.
Maar toe sy by die spreekkamer kom, neem ander dinge haar aandag in beslag, want Wilhelm wag al op haar om te sê hy staan op vertrek. “Ek het klaar met dokter Strydom gereël,” deel hy haar mee. “Hier is sy telefoonnommer in geval van nood. Hy sal so negeuur spreekkamer toe kom. Ek ry sommer nou dadelik Johannesburg toe.”
“Het daar iets gebeur?”
“Tilla het ’n tweede hartaanval gehad, en dinge lyk nie goed nie.”
“Ek is jammer om dit te hoor. Wanneer verwag jy om terug te wees?”
“Ek sal later daaroor besluit. Dit hang af van Tilla se herstel.”
Hy het kwalik vertrek, of Marda Kotze kom die spreekkamer binne. “Ek het nie tyd gehad om ’n afspraak te maak nie, maar julle lyk gelukkig nie besig nie. Is Wilhelm al hier?”
“Hy was hier, maar hy het so pas Johannesburg toe vertrek.”
“Johannesburg toe! Om wat daar te gaan maak?”
“Sy gewese vrou is in die hospitaal.”
“So! En wat makeer haar hierdie keer?”
“Sy het ’n hartaanval gehad.”
Marda snork onvroulik. “Hm, jy mag daardie storie glo, maar nie ék nie. Toe Tilla met Wilhelm getroud was, wou sy hom nie hê nie. Maar noudat sy klaar die groener gras anderkant die draad geproe en uitgevind het dis nie so soet nie, werp sy alles in die stryd om hom terug te kry. Ek hoop nie Wilhelm laat hom ’n tweede keer vang nie.”
Nadia is nie lus vir die vrou se geskinder nie, maar haar stilswye sit Marda nie af nie.
“Wat Wilhelm nie weet nie, is dat Tilla se huidige man al raadop is, want niks wat hy sê of doen, stel Tilla tevrede nie. Tilla het glo al reguit vir hom gesê Wilhelm was ’n baie beter man as hy. My ouers en Wilhelm se ouers is bure daar in Johannesburg, so ek is ten volle op hoogte van sake.”
“Dokter Strydom neem waar in dokter Louw se plek,” sê Nadia vinnig toe Marda stilbly om asem te skep. “Hy behoort negeuur hier te wees. As u in die wagkamer –”
“Nee, dankie, ek laat nie ’n ander dokter aan my vat nie. Het jy geweet Tilla is skaars ’n maand ná hul egskeiding met Wilhelm se beste vriend getroud? En soos dit gaan, was Wilhelm natuurlik die laaste om te hoor van die affair wat hulle toe al maande lank aan die gang gehad het.”
“Nee, mevrou, ek weet niks van dokter se privaat sake af nie. En ek verkies om dit nie te bespreek nie.”
“Ag, ek sê maar net. En bly maar stil oor die dinge wat ek jou vertel. Maar ek weet wat ek weet. Dit sal my nie verbaas as hy daar kom en sy’s blakend gesond nie.”
Nadia blaas verlig haar asem uit toe Marda loop. Dit moet naar wees om so jaloers te wees, dink sy by haarself. En dan sit die vroumens nog self met ’n man van wie sy nie wil skei nie.
Hoewel Nadia dokter Strydom in sy sewentigerjare skat, kom sy gou agter hy is ’n bekwame man. En uitgehonger vir geselskap. Hy benut omtrent elke ledige oomblik deur met haar te gesels. Gelukkig nie om haar uit te vra nie, maar eerder om haar van sy stokperdjies en kleinkinders te vertel.
Die aand toe sy by die huis stilhou, kom Dimitri haar tegemoet. “Wat is jou planne vir vanaand?”
“Niks belangriks nie. Hoekom vra jy?”
“Het jy nie lus om te gaan uiteet nie?”
“Hoekom? Is jy te lui om kos te maak? Jy kan maar hier by my kom eet. Ek kan sommer vir ons iets saamflans.”
Hy gee ’n laggie. “Nee, ek is lus vir restaurantkos. Kom ons gaan eet op George.”
“Goed, maar ek sal eers moet verklee.”
“Maak so. Ek moet ook nog iets anders gaan aantrek. Hulle sal dink ek is ’n boemelaar en my die restaurant belet as ek só daar aankom.”
“Inteendeel. Al is jou hemp vol verfmerke, sal jy steeds die meisies se koppe laat draai,” sê sy impulsief. En skrik haar boeglam toe sy opkyk en ’n ondeunde vonkeling in sy oë sien. Sy ruk vinnig haar kop weg. “Sien jou later.”
Toe haas sy haar die huis binne, en wonder wat op aarde haar besiel het om sulke ondeurdagte woorde te uiter. Netnou heg hy ’n ander betekenis daaraan en verbeel hom hy laat háár kop draai. Allesbehalwe! Sy is die laaste mens op aarde wat sal toelaat dat haar kop weer draai!
Tog bestee sy ’n bietjie ekstra sorg aan haar voorkoms. Net dat hy hom nie vir haar hoef te skaam nie. Net om te wys sy weet darem nou al van beter in die lewe as destyds toe sy as kind met gelapte klere en skurwe hakskene geloop het, maak sy haarself wys. Maar daar is ’n eienaardige gevoel van opwinding in haar wat sy nie gestuit kry nie. Veral nie toe hy haar goedkeurend betrag en sê sy lyk pragtig nie.
“Ek wil maar net nie hê jy moet jou vir my skaam nie,” antwoord sy lighartig. Sy skuif vinnig op die passasiersplek in toe sy voel haar wange raak skielik warm. Wat gaan met my aan? wonder sy half verskrik. Hoekom voel sy skielik so kommerloos, en vir wat sal sy nou staan en bloos? Sy’s mos lankal nie meer ’n bakvissie nie. En dis tog nie die eerste keer dat ’n man haar komplimenteer nie.
Gelukkig laat hy die keuse van ’n restaurant aan haar oor toe hulle die dorp binnery. Hy het die hele pad land en sand oor ditjies en datjies gesels, waarop sy nie nodig gehad het om lang antwoorde te verskaf nie. Sy is dankbaar daaroor, want daar is onverwags woelinge in haar binneste wat sy nie kan verklaar nie.
Tot haar verbasing kry hy dit ook reg om haar van tyd tot tyd skoon te laat vergeet van die onsmaaklike dinge wat in haar lewe plaasgevind het. Seker omdat hy by tye net so spitsvondig soos Wilhelm raak. Sy is net besig om te wonder of dit haar verbeelding was wat vir haar gesê het hy was maar taamlik stug teenoor haar totdat hy uitgevind het wie sy is, toe hy skielik sy leë bord wegskuif en oor die tafel leun om haar stip in die oë te kyk.
“Nadia,” sê hy ernstig. “Daar is iets wat ek wil hê jy moet weet.” Hy aarsel ’n oomblik. Wag seker dat sy woorde by my moet insink, dink Nadia. “Ek,” sê hy dan, “is nie iemand wat los en vas met meisies omgaan nie. Wanneer ek ’n keuse maak, verwag ek dat daar oop kaarte tussen my en die meisie gespeel word. Ek het ’n duur les in die lewe geleer. Ek wil nie –”
“Toe maar,” val sy hom vinnig in die rede, gedagtig daaraan dat hy daarop sinspeel dat sy nie haar kop oor hom moet laat draai nie. “Ek voel nes jy. Ek het ook ’n les geleer, en daarom is mans taboe in my lewe. Platoniese vriendskap sal ek nog aanvaar, maar dis waar dit eindig.”
“Is dit ’n finale besluit?” vra hy ná ’n lang aarseling.
Sy merk dat hy ietwat onseker lyk. “Finaal, soos in vir ewig en altyd,” sê sy beslis, verbaas oor haar hart se snaakse spronge.
“Wat van koffie om die maaltyd af te sluit?”
Sy glo hy is verlig oor haar antwoord. Haar hart bedaar. Maar dis plotseling asof die aand van sy glans verloor het.
“Ons kan hier drink, of ek kan by die huis vir ons gaan maak. Dit hang af wat jy verkies.”
“Ek verkies jou koffie. Sal ons dan gaan?”
Hy is stil op pad huis toe. Sy ook, want sy weet nie wat om te sê nie. Eintlik is sy so ’n bietjie teleurgesteld en kwaad vir hom. Dat hy die simpel kompliment wat sy hom gegee het so ter harte geneem het dat hy dit sy plig geag het om haar te waarsku! Hy sal hom wát verbeel. Maar tog, die gedagte dat hy so verlig is oor sy niks meer van hom sal verlang as platoniese vriendskap nie, krap aan haar soos ’n doring in die vlees.
Nadat hulle klaar koffie gedrink het by haar huis, stap sy saam met hom tot op die stoep. “Dankie,” bedank hy haar. “Niks kan ’n mooi aand beter afrond as ’n lekker koppie koffie nie.”
“Ek stem saam. Koffie bly maar altyd lekker ná ’n ete, al is jou maag hoe vol.”
“Behalwe …”
“Behalwe wat?” vra sy toe hy vassteek en onder die sagte stoeplig haar blik vasvang.
“Behalwe ’n soen deur ’n baie mooi meisie.”
Sy wonder of sy reg gehoor het. “Ekskuus?”
Hy lag saggies en tree só skielik nader dat sy in die kring van sy arms staan voordat sy dit besef. “Is jy bang om my te soen?”
“Bang? Ek …”
Die res van haar sin raak weg toe sy kop sak en sy lippe sag maar ferm oor haar mond sluit. Haar verstand swymel. Eers toe sy soen intens raak, kom sy tot besinning en ruk verwilderd haar kop weg.
“Nee,” uiter sy gejaagd. “Wat vang jy aan?”
“Hoekom nie, Nadia?”
“Omdat … jy weet mos! Ek het jou mos gesê ek is klaar met mans. Jy ook. Jy’t gesê jy is klaar met meisies!”
“Het ek?”
“Jy’t gesê jy het ’n duur les geleer. Jy gaan nie los en vas om met meisies nie.”
Sy wonder of sy haar verbeel daar is iets soos ’n glimlag op sy gesig. Maar toe draai hy om en begin hekkie toe loop. “Nag, Nadia. Dankie vir die aand en die koffie. Lekker slaap.”
“Jy ook,” piep haar stem soos ’n hoender wat brongitis het voordat sy die huis binnegaan en die deur sluit.
Iets is nie reg nie, flits dit deur haar gedagtes. Hier is iets met haar aan die gang wat sy nie verstaan nie. Sy vee liggies met haar vinger oor haar lippe. Hoe kon sy dit toegelaat het! Maar hy het haar so onverhoeds betrap. Wat beteken dit? Wou hy toets of sy dit bedoel het toe sy vir hom gesê het mans is taboe in haar lewe?
Wat gaan hy nóú glo? Sy het hom waaragtig begin terugsoen voordat sy tot haar sinne gekom het.
Sy het ’n rustelose nag. Dit maak nie saak hoe hard sy oor haar mond vryf nie, die warmte en gevoeligheid van sy lippe wil nie wyk nie. En wanneer sy insluimer, ruk drome haar weer nugter wakker. Drome van hoe sy tussen bome wegkruip vir Dimitri omdat hy haar wil soen.
Dis geen wonder sy skrik tam wakker die volgende oggend nie. Sy skrik toe daar ’n dringende klop aan haar voordeur is.
Toe sy die deur oopmaak, is dit Dimitri wat voor haar staan. “Ek kom net vir jou sê ek ry vandag Kaap toe vir ’n paar dae,” sê hy vrolik. “Ek sal dus nie oor Thomas kan toesig hou nie, maar hy is mos darem amper klaar.”
“Wat het jou laat besluit om so onverwags Kaap toe te gaan?”
“Sommer iets. Ek sal jou kom vertel wanneer ek terug is.”
’n Gevoel van verslaentheid oorval haar toe hy groet en wegdraai. Dis seker sy reg om nie verduidelikings te gee vir sy skielike weggaan nie, maar sy opgewektheid …
Nee, wag, Nadia Pretorius, keer sy haar gedagtes. Hy is nie ’n verduideliking aan jou verskuldig nie, en jy het niks met sy sake uit te waai nie. Daar is genoeg ander dinge om jou gedagtes in beslag te neem. Soos vir hoe lank jou weldoener nog gaan leef.
En Johny … Eienaardig, maar sy beeld het heeltemal vervaag.