Читать книгу Melodie Omnibus 1 - Elza Rademeyer - Страница 9
6
ОглавлениеNadia se blik dwaal asof vanself na Dimitri se huis wanneer sy in die middae van die werk af kom.
Sy betrap haarself ook ’n paar keer dat sy haar ore spits vir timmergeluide uit die buitekamer. Dis logies, dink sy by haarself. ’n Mens voel mos immers veiliger as jy weet jy is nie in die nag alleen op die oewer nie. Op ’n dag bel Wilhelm haar by die spreekkamer.
“Nadia, hoe gaan dit daar?” wil hy weet.
“Tot dusver gaan dit goed. Hier het gelukkig nog nie ’n krisis opgeduik nie. En daar? Hoe gaan dit –”
“Tilla is oorlede,” onderbreek hy haar sin. “Sal jy vir nog ’n dag of wat die mas daar kan opkom?”
“Ja. Ja, natuurlik. Dokter Strydom is ook mos darem hier. Ek is jammer om te hoor van die verlies. Jy kan maar bly so lank as wat nodig is. Ons sal regkom.”
“Die begrafnis sal net ’n roudiens wees, sy word veras. Ek weet nog nie wanneer dit gaan plaasvind nie, maar ek sal in die pad val sodra dit afgehandel is. En ek bring my dogtertjie saam.”
“Dis reg so. Moenie bekommerd wees nie. Dokter Strydom is bekwaam. Ons kom reg.”
Net ’n paar minute later kom Marda die spreekkamer binne. “Is Wilhelm terug?” vra sy sonder om eens te groet.
“Nee, hy het nou net gebel om te sê sy gewese vrou is oorlede. Hy gaan vir haar roudiens wag.”
“Oorlede! Regtig?”
Nadia knik haar kop en wonder of dit regtig blydskap is wat sy op Marda se gesig sien.
“Hm, dan is hy nou …” Sy swyg. “Weet jy wanneer die roudiens is?”
“Daar is nog nie ’n datum bepaal nie.”
“Haai, dit val my nou by, hy’t mos ’n kind. Wat gaan nou van háár word?”
“Hy bring sy dogtertjie saam hierheen.”
“O. Dis gaaf. Sy kan dan bedags by my bly. Dan is sy uit sy pad wanneer hy werk, en het my kinders sommer ’n speelmaatjie ook.”
“Moet ek vir u ’n afspraak maak by dokter Strydom?”
“Nee, dankie. Ek het net gou kom kyk of Wilhelm nog nie terug is nie. Sê my, wat dink jy van hom?”
“Ek dink dokter Strydom is bekwaam en –”
“Ek praat van Wilhelm, nie van dokter Strydom nie. Hy is ’n aantreklike man, nè?”
“Dokter Louw … Ek het hom nog nie só in oënskou geneem nie, mevrou. Wat my aangaan, is hy net my werkgewer.”
“Dis wat hy vir my ook gesê het. En dit beter so bly, want die meisie wat my en Wilhelm se vriendskap ruïneer, sal met mý te doen kry.”
Toe sy omdraai en wegstap, kyk Nadia haar kopskuddend agterna. ’n Duideliker waarskuwing kon sy nie gekry het nie. Arme Wilhelm. Dis geen wonder hy probeer Marda om elke hoek en draai ontduik nie. Die middag ná werk toe sy by die huis kom, hoor sy al van haar tuinhekkie af die telefoon lui. Sy begin sommer drafstap toe dit by haar opkom dat dit Dimitri kan wees.
Maar dis nie Dimitri nie, dis Dewald Duvenhage. En toe hy vra of sy vir die aand tuis gaan wees, kry sy nie kans om te wonder oor die gevoel van teleurstelling wat sy ervaar nie, want sy moet hom antwoord.
“Ja. Het u nuus oor my weldoener? Is hy –”
“Sal dit reg wees as ek so oor ’n uur daar by jou ’n draai kom maak?” knip hy haar vraag kort.
“Ja. Maar mag ek vra in verband waarmee jy my wil sien?”
“Kom ons laat dit tot ek daar is. Sien jou later.” Dis vir Nadia asof haar verstand vassteek. Sy is seker daarvan dis hierdie keer nie net ’n welwillendheidsbesoek nie. Hy het ernstig geklink. Haar weldoener … is hy dood? Of het hulle dalk uitgevind die geld van die weldoener was nie vir háár bedoel nie?
Wat word van haar as sy dit moet terugbetaal? Die huis sal verkoop moet word. Waar gaan sy dan bly? Dit kom nou daarvan as ’n mens op so ’n onsekere voet allerhande dinge aanvang!
Haar senuwees is omtrent gedaan toe Dewald opdaag. Maar hy is nie haastig om te vertel wat hy op die hart het nie. Hy ontwyk haar vrae tot hulle eers in die sitkamer met ’n koppie koffie in die hand sit.
“Ek weet nie hoe die nuus jou gaan affekteer nie,” sê hy dan. “Daarom het ek besluit om dit self aan jou te kom oordra. Johny is verlede nag oorlede.”
“Johny?”
“Ja.”
Dis asof sy woorde nie by haar wil insink nie. Johny is dood. Sy proe ingedagte aan die koffie. Probeer hom onthou soos hy gelyk het voor … Maar dis net die prentjie van sy kwylende mond en starende oë wat voor haar geestesoog opduik.
“Hy’t niks gesê voordat … hy oorlede is nie?” vra sy oorbodig.
“Nee.”
Sy proe weer aan die koffie. “Het daar nog geen naasbestaandes van hom na vore gekom nie?”
“Nie sover ek weet nie. Ons kon dan nie eens vasstel of sy identiteit eg was nie. Maar ek dink dis beter dat hy dood is. Om jou onthalwe ook.”
“As ek betaal vir … wel, dat hy darem in ’n ordentlike kis begrawe word, sal u dit kan reël?”
Hy frons effens. “Ja, maar hoekom wil jy dit doen? Het jy nog ’n gevoel vir hom, Nadia?”
Sy skud haar kop. “Nee, maar hy kon tog nie net sleg gewees het nie. Miskien het daar iets in sy lewe gebeur wat hom laat ontspoor het.”
“Soos wat?”
“Hoe sal ons weet? Sy kinderdae kon dalk ongelukkig gewees het. Ongelukkiger as myne.”
Hy plaas sy leë koffiekoppie terug op die skinkbord. “Dankie, die koffie was lekker. Ek sal kyk wat ek oor jou wens aangaande ’n ordentlike kis kan doen.”
“Dankie. Ek sal al die onkostes betaal, vir jou moeite ook. Stuur my maar net ’n rekening. Wanneer gaan jy terug Kaap toe?”
“Ek ry môreoggend terug.”
“Het jy spesiaal hierheen gery om my te kom sê van Johny … dat hy dood is?”
“Ja. Ek was bang dit ontstel jou.”
“Dit ontstel my. Ek het tog maar nog altyd vaag gehoop hy word gesond, sodat hy self vir die wêreld kan verduidelik wat daardie aand gebeur het.”
“Jy glo tog nie hy sou die waarheid praat nie?”
Sy los ’n suggie. “Nee, hy sou seker nie.”
“Gaan dit al beter met jou drome, of kry jy nog daardie nagmerries?”
“Dit gaan beter. Heelwat beter. Ek droom darem nou al van ander dinge ook.”
“Soos wat?”
“Ag, sommer lawwe, verspotte dinge,” sê sy vinnig. “Gaan jy hier by my oorslaap?”
“As jy vir my slaapplek het, sal ek. Maar as dit moeite is, kan ek op George gaan slaap.”
“Jy is welkom. Ek het darem ’n ekstra kamer.”
Hulle gesels tot laataand. Sy vind dit maklik om met hom te praat, want hy ken immers haar hele geskiedenis. Maar toe hy voorstel dat sy hom op sy naam moet noem, struikel sy oor haar woorde. “Ek sal eers aan die gedagte gewoond moet raak. Jy sal my moet tyd gee om te oefen.”
Hy lag. “Wel, ek hoop jy slaag spoedig in jou oefening.”
Daardie nag word sy egter van nuuts af geteister deur nagmerries oor Johny en die hofsaak.
Toe sy Dewald die volgende oggend daarvan vertel, raai hy haar aan om weer vir berading te gaan, maar sy skud haar kop. “Nee wat, ek sal wel daaroor kom. In die eerste plek sal ek George toe moet ry daarvoor, en afgesien van die distansie, wil ek ook nie so baie van die werk af wegbly nie.”
Hy vertrek vroeg, net nadat hulle koffie gedrink het. Daar is nog tyd voordat sy spreekkamer toe moet ry, want sy het vroeër as gewoonlik opgestaan, gedagtig daaraan dat sy vir Dewald ontbyt wou maak. Genoeg tyd om gou Dimitri se tuin te gaan natmaak, besluit sy. Want sy het die vorige dag gesien die blommetjies in die voortuin is besig om te verwelk.
Twee dae later toe sy by die spreekkamer kom, wag Wilhelm en sy dogtertjie al daar op haar. “Ek hoop nie jy gee om dat ek Sonja saamgebring het werk toe nie,” sê hy. “Ek sal so gou moontlik vir haar ’n oppasser soek. Ons het ’n oponthoud op pad gehad en gisteraand elfuur eers by die huis gekom.”
“Ek sal soet wees,” sê die meisietjie kordaat toe Nadia na haar kyk. “Pappa het gesê ek mag nie vir tannie pla nie.”
“Ek glo jy gaan soet wees,” sê Nadia met ’n glimlaggie. “Wat het jy in daardie sak?”
“Dis my speelgoed, tannie.”
“Gee die sak vir my, dan sit ons dit hier agter die toonbank. Hier is ’n lekker sagte mat waarop jy kan speel.”
“Hopelik sal dit net vandag wees,” sê Wilhelm. “Ek het uit Johannesburg gereël vir iemand wat van môre af by my huis na haar sal omsien. Dis ’n jong meisie van Vissersbaai, maar ek het haar nog nie ontmoet nie. Ek glo darem ons sal regkom. Hoe lyk die afspraakboek?”
“Vier mense. En mevrou Kotze het gevra dat ek haar moet bel sodra u terug is.”
Hy slaak ’n sug. “Hoekom moet jy haar bel? Is sy siek?”
“Sy’t nie gesê waaroor dit gaan nie. Sy was twee keer hier, maar wou nie dokter Strydom sien nie.”
Hy staar haar ’n wyle stip aan. “Hoekom lyk jy so … anders? So moeg en bedruk?”
“Ek? Ag, dis maar sommer.”
“Was dit só moeilik om die spreekkamer te hanteer? Of is daar iets anders?”
“Nee, dit het niks met die spreekkamer te doen nie. Ek het net gehoor Johny is oorlede.”
“Johny? O, daardie man! Hoekom ontstel die nuus jou? Jy’s tog seker nie meer lief vir hom nie?”
“Nee, maar … Ag, jy sal nie verstaan nie. Ek verwyt myself maar nog steeds dat ek hom met die pistool gedreig het.” Sy is nog besig om hom te vertel van die besope toestand waarin Johny was toe Marda die spreekkamer binnekom.
Sy val dokter Louw behoorlik om die hals. “Jy kan nie glo hoe bly ons is dat jy terug is nie,Wilhelm. Dis só goed om jou weer te sien!”
En toe sy die kind sien, is daar geen keer aan haar nie. “Ag, is sy nie te oulik nie! Sy lyk vreeslik baie na jou, Wilhelm. Het sy nie die mooiste oë nie! Gaan sy nou by jou kom bly?”
“Ja.”
“Sy kan bedags by my kom bly terwyl jy werk. Ek sal mooi na haar kyk.”
“Ek het reeds gereël met iemand wat bedags na haar sal omsien.”
“Met wie?”
“Met ’n meisie van Vissersbaai.”
“Het sy enige ondervinding as kinderoppasser?”
“Haar ma is dood toe sy sestien jaar oud was. Daarna het sy die hele huishouding behartig, en haar boetie en sussie versorg tot hulle begin werk het.”
“Hoe oud is sy dan nou?”
“Ek het haar nie gevra nie. Ek skat so vier en twintig of vyf en twintig.”
“O, maar dan gaan dit mos nie werk nie, Wilhelm. Dit sal mos ’n geskinder afgee.”
“Waarmee kan ek help?” ontwyk hy ’n antwoord.
“Ag, dis sommer net ’n krapperigheid in my keel. As jy net kan seker maak ek het nie dalk iets ernstigs onder lede nie.”
Nadia glimlag stilweg toe hulle die ondersoekkamer binnegaan. Arme Marda, as sy moet weet wat Wilhelm van haar vrypostigheid dink!
Sy kom gou agter Sonja is ’n soet en gehoorsame meisietjie. En sy weet hoe om haarself besig te hou met die speelgoed.
Die middag toe die spreekkamer sluit, bedank Sonja haar ewe plegtig. “Dankie dat ek hier by tannie kon speel. Maar ek sal tannie weer sien, nè?”
“Ja, ek glo so, Sonja. Dit was vir my lekker om jou hier te hê.”
“Sy moet volgende jaar skool toe gaan,” sê Wilhelm nadat Sonja met haar sak speelgoed motor toe gehardloop het. “Ek gaan haar hier op Vissersbaai in die skool sit. Haar stiefpa … Ek glo hy is verlig om verlos te wees van haar. Daar was deurgaans nooit veel liefde van sy kant vir Sonja nie. En aangesien ek haar wettige vader is en nog altyd vrye toegang tot haar gehad het, behoort daar ook nie van die owerhede se kant probleme te wees om haar vir goed in my sorg te plaas nie.”
Toe Nadia huis toe ry en Dimitri se motor in sy erf sien staan, mis haar hart onverwags ’n slag. Maar sy kan kwalik haar teleurstelling onderdruk toe hy nie uitkom om haar te groet nie. Dit sou tog net goeie maniere wees. Of is dit eintlik haar plig om hóm te gaan welkom heet?
Dat iets so simpel en eenvoudig haar sowaar uit die slaap kon hou, dink sy die volgende oggend onvergenoeg en ergerlik toe sy klaarmaak om werk toe te gaan. As hy dan nie beter maniere kan toon nie, sal sy dit doen! Toe gaan klop sy doelbewus aan sy voordeur.
Hy is duidelik nog deur die slaap toe hy die deur oopmaak. “Môre!” Hy loer vinnig op sy horlosie. “Wat is fout?”
“Daar’s nie fout nie. Ek is op pad werk toe, maar wou darem net gou kom sê: Welkom terug.”
“Hoekom gaan jy dan vanoggend só vroeg werk? Of het my horlosie gaan staan?”
Sy loer ook op haar horlosie. “Dis al … O gaats, hoe laat is dit dan nou? Dié horlosie sê dis nou kwart oor sewe.”
“Dis wat myne ook sê.”
“Maar die wekker … Ek moes verkeerd gekyk het,” sê sy verleë, haar gramskap van flussies vergete. “Of hy moes ’n uur vroeër gelui het.”
“Wel, dit beteken jy het nog ’n uur voordat jy werk toe hoef te ry. Kom binne, dan drink ons koffie.”
Haar blik gaan vinnig oor sy kaal borskas en fris bene onder die oefenbroekie. “Nee, jy kan gaan terugklim in die bed. Ek wou net kom groet. Ek is jammer ek het jou gesteur.”
“Jy steur my glad nie. Ek het buitendien iets om jou te vertel.”
“Wat jy in die Kaap gaan maak het?”
“Nee, iets wat jóú raak. Ek het Engela raakgeloop. Engela wat destyds vir jou gesê het jy is ’n aangenome kind.”
“O?” Dit oorreed haar vinnig om sy aanbod te aanvaar.
“Ek sou haar nie herken het nie,” sê hy toe hy die ketel aanskakel. “Gister met my terugkoms van die Kaap af, het ek op Riversdal stilgehou vir brandstof. Die vulstasie was nogal besig, toe raak ek aan die gesels met ’n boer van die distrik. Toe ek vir hom sê ek is op pad De Meer toe, noem hy dat sy vrou ook as kind in De Meer gewoon het. Om ’n lang storie kort te maak: Engela was op daardie tydstip in die kafee, en so het ons toe weer ontmoet.”
“Het sy iets gesê van … van my?”
“Ek was so voorbarig dat ek haar pertinent daaroor uitgevra het, ja. Ek hoop nie jy neem my kwalik nie, maar ek glo jy sal tog graag meer besonderhede wil hoor van jou herkoms.”
“Wat het sy gesê?” vra Nadia met ’n bonsende hart. Van opwinding, maar ook van vrees dat Engela dalk die koerante gelees het en hom ingelig het oor haar verlede.
“Sy’t belowe om eers met haar ma te gesels. Dié is nou glo daar op die dorp in ’n tehuis vir bejaardes. Sy sê haar ma sal moontlik meer inligting hê, want kort nadat hulle van De Meer af Riversdal toe getrek het, het haar ma se vriendin van George kom kuier, en toe het Engela hulle hoor sê dat jou ma ’n suster van jou aanneem-pa was. Ook dat jou ma oorlede is tydens jou geboorte.”
“’n Suster van pa-Kerneels …” adem Nadia verslae. “Ek het nie eens geweet hy het ’n suster gehad nie. Om die waarheid te sê, ek weet nie of hy óf ma-Anna enige familie gehad het nie.”
“Engela het belowe om my te bel sodra sy ’n besoek aan haar ma gebring het.”
“Sy’t niks verder gesê nie?” vra Nadia huiwerig.
“Nee. Ons moet maar wag vir haar oproep.”
“Is dit al … ek bedoel, is dit al waaroor julle gesels het?”
Hy kyk ineens so stip na haar dat sy vinnig sy blik ontwyk en met omslagtigheid ’n wolletjie van haar romp verwyder, totdat sy hom hoor sê: “Ja, dis al waaroor ons gesels het.”
En ná ’n stiltetjie: “Het dit gereën hier terwyl ek weg was? Die blomme in my tuin lyk baie beter as wat ek te wagte was.”
“Ek het jou tuin twee keer natgemaak. Ek hoop nie jy dink ek is voorbarig nie, maar –”
“Voorbarig!” onderbreek hy haar sin. “Nee, ek is jou baie dank verskuldig, want dit was nie my plan om so lank weg te bly nie, so ek het niks met Thomas gereël nie. Wat skuld ek jou vir die moeite? ’n Soen sal seker te min wees. Sal ek jou uitvat vir ete?”
Sy loer vlugtig na hom, maar kyk oombliklik anderpad toe sy sien daar is ’n ondeunde vonkeling in sy oë. “Jy skuld my niks. Ek sou dit vir enige buurman gedoen het.”
Dis eers toe sy werk toe ry dat dit haar byval Dimitri het haar toe nie vertel wat hy in die Kaap gaan maak het nie. Nie dat dit haar traak nie! Die nuus oor haar biologiese ma het in elk geval alles oorheers.
’n Suster van pa-Kerneels … As sy haar broer se geaardheid gehad het, was haar biologiese ma bepaald nie iemand op wie sy trots kan voel nie.
Sommer vroegoggend daag Marda weer by die spreekkamer op. “Ek het ’n saak om met Wilhelm te bespreek,” sê sy vir Nadia. Dan voeg sy boonop by: “Privaat.”
Wilhelm gee net ’n diep sug toe sy in die ondersoekkamer vir hom gaan sê Marda is daar om hom te spreek – privaat.
Dog, Marda was kwalik twee minute daar binne of sy kom die ondersoekkamer uitgestorm. Sy klap die deur met ’n donderende slag agter haar toe. “Hy sal hiervoor boet!” snou sy in Nadia se rigting voordat sy haar buitentoe haas.
Nadia kan kwalik haar lag verberg toe Wilhelm ná ’n rukkie die ondersoekkamer se deur op ’n skrefie oopmaak en eers daardeur loer voordat hy die deur verder oopstoot. “Is sy vort?”
“Ja. Maar sy’t taamlik ontsteld gelyk. En gedreig dat jy sal boet.”
“Sy moet maar maak wat sy wil. Ek is nou siek en sat vir haar nonsens.”
“Ek kan raai waaroor dit gegaan het. Seker oor Sonja se oppasser?”
“Reg geraai.” Toe boots hy Marda se stem na. “Ek het goed daaroor gedink,Wilhelm. Jy kan nie ’n meisie van daardie ouderdom aanstel om na Sonjatjie om te sien nie. Die mense gaan die meisie by jou huis sien. Kan jy dink hoe jy beskinder gaan word?”
Hy maak ’n snorkgeluid. “Jy moes haar gesig gesien het toe ek vir haar sê die enigste skinderbek wat ek ken, is sý, Marda Kotze.”
“O aarde, en nou? Dink jy sy sal die saak daar laat? Sal sy nie jou naam beswadder nie?”
“Sy sal definitief probeer. Maar my gereelde pasiënte ken my teen hierdie tyd darem seker lank genoeg om ’n eie opinie te vorm. Die enigste probleem wat ek het, is dat die oppasser net tot Saterdagmiddae werk. Ek het nou klaar hierdie Saterdag ’n probleem, want dis ’n vriend van my op Plettenbergbaai se troue. Hy het my gevra om as seremoniemeester op te tree, en ek het ingewillig. Dit was voor ek Johannesburg toe is, maar kinders word nie by die onthaal toegelaat nie. Ek sal hom moet bel en verduidelik wat die omstandighede nou is. As ek Sonja nie kan saamvat nie, kan ek nie hulle seremoniemeester wees nie.”
“Jy kan haar mos by my los.”
Nadia is oombliklik spyt toe die woorde uit is. Dit kan hom in die verleentheid stel, want wie sal sy kind toevertrou aan ’n mens wat van poging tot moord aangekla was?
Maar hy lyk verlig toe hy vra: “Kan ek regtig? Maar ek gaan baie laat terugkom. Die troue is eers vyfuur.”
“As jy dit sal toelaat, kan sy by my oorslaap.”
“Jy’s ’n skat! As ek ’n ryk man was, het ek dadelik jou salaris verhoog. Maar ek sal darem vergoed vir jou moeite. Al is dit ook net om jou een aand uit te vat vir ’n lekker ete. Dit laat my dink: so ’n aandjie saam behoort baie lekker te wees. Of is jy nog nie gereed vir die attensies van ’n man nie?”
Tot Nadia se ontsteltenis voel sy hoe haar wange begin gloei. “Nee, vergeet maar van sulke dinge. Ek sal nooit weer reg wees vir sulke dinge nie.”
“Nooit is ’n baie lang tyd. Ons praat weer.”
Sy ry die middag ná werk huis toe met ’n mengelmoes van gevoelens. Wilhelm vertrou haar! Sý weet sy is onskuldig, maar Wilhelm … Hy ken nie eens al die omstandighede nie, en tog vertrou hy haar só dat hy bereid is om sy kind vir ’n hele nag in haar sorg te laat.
Die Saterdagoggend daag Wilhelm met ’n tassie vir Sonja by die spreekkamer op. “Ek beplan om direk na werk te ry, toe bring ek sommer haar klere saam sodat sy ná werk saam met jou huis toe kan ry. Is dit reg so?”
“Dis in die haak. Ek sal so goed ek kan na haar omsien.”
“Ek weet. Dis vir my so gerusstellend om te weet sy is by jou dat ek besluit het om op Plettenbergbaai te oornag en Sondagoggend eers terug te kom. As hier iets gebeur wat jy nie kan hanteer nie, bel maar vir dokter Strydom. Ek het klaar met hom gereël.”
Toe knyp hy haar plotseling speels aan die wang. “Ek weet nie wie gaan ek die meeste mis nie, vir jou of vir Sonja.”
Nee wag, keer Nadia haar gedagtegang toe sy motor teen toemaaktyd om die draai verdwyn. Sy moenie allerhande dinge lees in sy gebaartjie en woorde nie. Dis sommer van opgewondenheid oor die troue dat hy so laf opgetree het. Buitendien, dis waar wat sy vir hom gesê het: dat sy nooit weer reg sal wees vir die attensies van ’n man nie.
Hoewel sy aanvanklik skrikkerig is vir die verantwoordelikheid om na Sonja om te sien, verdwyn haar vrese gou. Anders as wat sy verwag het, is die kind nie huilerig oor haar pa se afwesigheid nie. Inteendeel, die dogtertjie drentel oral agter haar aan en bestook haar met vrae. Later toe hulle in die agterplaas staan, wil sy weet wie langs Nadia woon.
“Oom Dimitri woon hier langsaan.”
“Julle huise lyk eenders,” sê sy. “Is julle getroud?”
“Nee, ons is nie getroud nie.”
“Wanneer trou julle?”
Nadia loer vinnig na die buitekamer. As Dimitri daar binne is, mag hy dalk die kind hoor. “Nee, wat, jong, ons het nie trouplanne nie.”
En om haar weg te lok: “Kom ons gaan kombuis toe. Ek is nou dors. Dink jy nie ook ’n glas koeldrank sal lekker smaak nie? En daar is nog ’n stukkie tert ook in die yskas.”
Toe die dag einde se kant toe staan, kom klop Dimitri aan haar deur. Toe sy hom binnenooi en sien hy kyk vraend na die kind, verduidelik sy hoe dit gekom het dat dokter Louw Sonja in haar sorg gelaat het vir die nag. “En geniet ek dit! Ek het net nie altyd antwoorde op al haar vrae nie.”
Dis nie lank nie, of Dimitri word ook met vrae bestook. Of hy ’n motor het, waar hy werk, en les bes, hoekom hy en tannie Nadia nog nie getroud is nie.
“Miskien kom ons nog eendag daarby uit,” antwoord Dimitri doodluiters. “Ons moet mekaar net eers so ’n bietjie beter leer ken.”
Nadia is oorbewus daarvan dat hy in haar rigting kyk, maar sy hou haar doenig deur vir hulle koffie te maak.
“Pappa sê daar gaan nie kinders op oom Louis en tannie Ansie se troue wees nie. Gaan daar kinders by julle troue wees?”
“Ek dink so. Dit sal van tannie Nadia afhang.” Genoeg is genoeg, dink Nadia onthuts toe sy vlugtig na Dimitri kyk en die geamuseerde uitdrukking op sy gesig sien.
“Sonja, daar bestaan nie so iets dat ek met oom Dimitri sal trou nie. Nie met hom of enige ander man nie. Kom sit hier langs die tafel en drink jou koffie,” beveel sy streng.
Nadia voel verlig toe Dimitri uiteindelik loop. Nie in haar wildste drome het sy kon dink die kind sou haar so in die verleentheid stel nie. En Dimitri! Pleks hy Sonja op haar plek sit, verkneukel hy hom in haar ongemak!
Sondagoggend toe Wilhelm bel om te sê hy sal Sonja so twaalfuur se kant kom oplaai, nooi Nadia hom vir middagete. En toe hy kort voor twaalf opdaag, is haar kos gaar en gereed.
“Jy’t baie moeite gedoen,” sê hy toe sy die bakke op die tafel sit. “Maar ek moet sê, dit lyk heerlik! Jy sal maak dat ek gedagtes kry.”
“Gedagtes?”
“Dat jy dalk verander het van jou besluit om jou nooit weer die attensies van ’n man te laat welgeval nie. Die spreekwoord sê mos die pad na ’n man se hart loop deur sy maag.”
Sy voel hoe haar wange warm word. “Dit was regtig lekker om Sonja hier te hê,” poog sy om van die onderwerp af te stap. “Sy is soet. En sy’t vanoggend laat eers wakker geword.”
“Ek is bly julle twee kom goed reg. Miskien help dit om die pad na jóú hart oop te maak.”
Nadia glo hy kan haar ongemak sien en terg haar opsetlik. “Vertel my van die troue,” sê sy vinnig. “Hoe het die bruid se rok gelyk?”
“Wit.”
“Is dit al wat jy kan onthou?”
“Ja.”
Sy kan nie help om te lag nie. “Ek wonder hoe ’n goeie seremoniemeester jy was.”
“Seker nie waffers nie. Maar ek sal sorg dat ons ’n beter seremoniemeester kry vir ons troue.”
Sy is verlig toe hy uiteindelik ry. Sy het al agtergekom hy hou van gekskeer, maar sy moedswilligheid het haar etlike kere laat bloos van verleentheid.
Nadat sy die skottelgoed gewas het, gaan lê sy op die bed om ’n rukkie te rus. En skrik tot haar skande vyfuur eers wakker. Wat gaan ek gedurende die nag doen? wonder sy. Dit gaan nou net weer teelaarde wees vir die nagmerries om terug te kom.
Die nagmerries … Miskien moet sy nou ry en die koerantuitknipsels gaan verbrand. Hoekom dit so is, weet sy nie, maar iets sê vir haar die drome sal ophou as sy van die berigte ontslae raak. Toe gaan haal sy dit uit die laai en plaas dit in ’n plastieksak.
Sy onthou vaagweg uit haar kinderdae ’n voetpaadjie kort duskant Vissersbaai wat deur die vissermanne gebruik is om by die see te kom. Sou dit nog daar wees? Toe sy op die plek kom en sien die voetpaadjie bestaan nog, parkeer sy haar motor agter ’n groot bos sodat dit nie maklik van die grootpad af sigbaar is nie, voordat sy die sak en vuurhoutjies uithaal, die motor sluit en die pad see toe vat.
Toe die vlamme begin lek, is dit asof haar verstand en hele wese oordonder word deur die gebeure wat daartoe gelei het dat sy nie meer die mens is wat sy was voordat Johny in haar lewe verskyn het nie. Dis asof al die afskuwelike en negatiewe besonderhede weer in dubbelvoud oor haar spoel. Die skok, angs, bitterheid, selfverwyt en onsekerheid. Die donker skaduwee wat oor haar gehang het, het wel gelig, maar sal dit ooit heeltemal wyk?
Die trane stroom oor haar wange toe sy terugloop motor toe. Miskien is dit goed om haar ’n slag oor te gee aan selfbejammering. Om die voorhou ’n slag te laat staan en te huil tot sy heeltemal leeg is van binne. Sy huil dan ook met oorgawe.
Maar toe dit voel asof daar nie meer ’n enkele traan in haar oor is nie en sy vassteek om haar neus te snuit, verbeel sy haar sy hoor ’n tak kraak. ’n Rilling van vrees vaar deur haar lyf. Dalk maar net ’n wildsbokkie, praat sy haarself egter moed in, en dwing haar voete om aan te stap.
Maar toe merk sy ’n beweging in die paadjie tussen die bosse voor haar. Dis … ’n mens! Sy onderdruk ’n gil en vlieg vervaard om om op haar spore terug te hardloop. Eers toe sy hoor iemand roep haar naam, steek sy vas. Verbeel sy haar, of was dit Dimitri se stem? Wie dit ook al is, die persoon ken haar en weet sy is hier. Dit sal nie help om verder te vlug nie.
Die volgende oomblik verskyn Dimitri dan ook in haar gesigsveld. Hy kom met ’n vaart nader.
“Wat die duiwel soek jy so laat in die aand hier?” raas hy toe hy voor haar vassteek. “Besef jy nie dis ’n gevaarlike plek om alleen te wees nie?”
“Wat …” Sy is genoodsaak om eers haar keel te skraap. “Wat soek jý hier?”
“Ek soek jóú! Ek het jou motor daar langs die pad sien staan. Dit was so amper of ek het hom ook nie eens gesien nie. Wat maak jy hier?”
Nadia sluk, maar haar stem is steeds rou en hees toe sy sê: “Ek het kom stap.”
“Hierdie tyd van die aand op so ’n godverlate plek! Weet jy nie wat met jou kan gebeur as iemand met ’n ongure karakter jou hier kry nie?”
“Dis tog nie só ’n onveilige plek nie.”
“Dis wat jý dink. Minder as vyf maande gelede is Thomas se niggie hier deur ’n visserman aangerand en verkrag.”
“Ek het nie geweet nie,” sê sy flou en snuit haar neus.
“Jy’t gehuil,” sê hy dan half verwonderd. “Hoekom het jy gehuil?”
Sy vee oor haar gesig, maar besef dit sal nie help om te ontken dat sy gehuil het nie. “Sommer maar.”
“’n Mens huil nie ‘sommer maar’ nie.”
Voordat sy kan agterkom wat sy plan is, lig hy sy hande om dit op haar skouers te plaas. “Vertel my hoekom jy gehuil het, toe?”
Sy skielike simpatieke aanraking en stemtoon laat haar van voor af in snikke uitbars. “Toe maar,” hoor sy hom vertroostend sê. “Huil maar tot jy beter voel.”
Toe hy haar teen hom vastrek en haar kop teen sy skouer stut, huil sy eers! Hy’t haar mos uitgenooi daartoe, vliet dit deur haar gedagtes. Sy hemp is omtrent deurweek toe sy eindelik tot haar sinne kom.
Sy beur weg en snuit weer haar neus. “Ek is jammer dat … ek my so sleg gedra. Jou hemp … dis nat.”
“Dit maak nie saak nie. Voel jy ’n bietjie beter?”
“Ja, dankie.”
Hy haal sy sakdoek uit en hou dit na haar uit. “Hier, gebruik dit. Daardie snesie is aan flarde.”
“Ek het nog … in my sak.” Maar tot haar konsternasie is daar nie meer ’n skoon snesie in haar sak nie. Dit noodsaak haar om tog maar van sy aanbod gebruik te maak.
“Dankie,” sê sy toe sy klaar is. “Ek sal dit hou en eers was voordat ek dit teruggee.”
“Kom ons loop pad toe voordat die donker ons vang,” sê hy en neem haar hand in syne.
Maar dis nie lank voordat sy haar hand terugtrek nie. “Loop jy voor, ek sal jou volg. Die paadjie is ’n bietjie nou.”
Hy weet dis nie die werklike rede nie, dink sy toe hy maak soos sy sê. Hulle is nie meer ver van die grootpad nie, en die paadjie is lankal nie meer so nou nie. Maar nou ja, hy moet maar dink wat hy wil.
Toe hulle by die voertuie kom, wil hy weet of sy kalm genoeg voel om te bestuur.
“Ja, ek makeer niks.”
En toe sy sien hy lig sy wenkbroue: “Ek bedoel, ek het klaar gehuil. Sommer oor … ag, sommer oor ek niks weet van my biologiese ouers nie.”
“Ek glo Engela sal woord hou en haar ma uitvra,” sê hy egalig.
Hy maak maar asof hy my glo, dink sy toe sy vlugtig na hom kyk. Hy weet dis nie waaroor sy gehuil het nie. Maar dis tot daarnatoe. Sy het nie die moed om hom te vertel van die klad op haar naam nie. Nog nie. Sy weet nie wanneer sy ooit die moed sal hê nie …
“Ry voor,” sê hy bevelend toe sy in haar motor klim. “Ek sal agter jou ry.”
By die huis aangekom, nooi hy haar om die vis wat hy in Vissersbaai gaan vang het saam met hom te geniet. Maar sy wys sy uitnodiging van die hand. “Ek wil liewer vroeg in die bed klim vanaand.”
Hy kyk haar ondersoekend aan. “Goed. Maar belowe eers jy sal nie weer alleen op sulke afgesonderde paadjies gaan stap nie.”
“Ek belowe.”
“En Nadia … Onthou, as jy iets op die hart het, ek het ’n gewillige oor.”
“Dankie, maar ek weet nie waarvan jy praat nie.” Toe vlug sy halsoorkop die huis in en sluit die deur.
Maar sy kom aan niks. Haar gedagtes is verward. Sy is skaam oor hy haar sien huil het. Skaam oor sy nie die moed het om hom te vertel waaroor sy gehuil het nie, en vreeslik skaam oor dit vir haar so lekker was teen sy bors.