Читать книгу Ena Murray Omnibus 30 - Ena Murray - Страница 4
1
ОглавлениеMarie Buys voel hoe haar hart in haar ruk. Enige moeder wat vandag ’n kind in die hoërskool het, sou seker geskok wees om so ’n koerantberig te sien. Sy lees die opskrif fluisterend vir haarself: “Al meer hoërskoolleerlinge swanger.”
Haar oë gly na die berig self.
Die toename van swangerskappe onder skoolmeisies het reeds kommerwekkende afmetings in veral ons land se groot stede aangeneem. In een tehuis vir ongehude moeders in ’n sekere kusstad is daar tans meer skoolkinders as werkende meisies wat op die koms van hul babas wag. Die toegeeflikheid wat die gemeenskap – en die kerk – teenoor die ongehude moeder begin toon het, asook vrye seks as die “in-ding” onder die skoolgaande jeug, word as die hoofoorsake van die situasie uitgewys.
Sy laat sak die koerant, staar voor haar uit. Nickey …
Haar dogter se beeld verskyn voor haar geestesoog. So jonk. So pragtig. So vars en skoon soos ’n doudruppel. Op die drumpel van haar lewe. As so iets met háár moet gebeur …
Haar moederhart krimp ineen. Sy dink nie sy sal so iets kan verwerk nie. Dit kan nie, mág nie met háár Nickey gebeur nie! Maar dan … Dit gebeur met ander moeders se dogters. Dogters wat net so pragtig en dierbaar vir hulle moeders is, tot …
Maar gelukkig is háár Nickey al uit die skool, verlede jaar klaargemaak. Sy is vanjaar by die technikon om haar te bekwaam as sekretaresse. Met raap en skraap en kopkrap plus bykomende hulp kon Nickey drie maande gelede daar begin studeer. Dit was nie net ’n kwessie van raap en skraap nie. Dikwels moes Marie haarself ook noodsaaklike dinge ontsê. Maar dis niks. Dis Nickey wat tel. Dis Nickey se lewe wat voorlê. Geen opoffering is te groot vir haar ma nie. Sy is dit oor en oor werd, hierdie pragtige kind van haar wat so laat in haar lewe gekom het. Haar hart gaan uit na ander ma’s wat deur hierdie ontsettende ramp getref is of miskien nog getref sal word. Maar dit sal nie haar deel wees nie. Dit sal nie met haar Nickey gebeur nie …
Tog, met die besef dat haar kind ook maar net van feilbare vlees en bloed is, stap sy na haar kamer en kniel. “Liewe Heer, bewaar my kind! En wees met hulle wat in hierdie oomblikke deur die smeltkroes gaan, asseblief. Met elke dogter … elke moeder.”
Sy staan op en haar oog val op haar Bybel en die dagboekie daarop, en binne-in haar skop daar ’n vae vreesgevoel nes. Vanoggend se dagstukkie was uit Psalm 103:
Die mens – soos die gras is sy dae; soos ’n blom van die veld, so bloei hy. As die wind daaroor gaan, is dit nie meer nie …
Soos ’n blom van die veld … Nickey. Maar as die wind oor haar moet gaan … Die winde van ontnugtering en smart het oor ander moeders se blommetjies gegaan; dis net genade wat hierdie kwade wind van háár blommetjie afgeweer het. Net genade …
Toe haar dogter daardie middag tuis kom, is dit of Marie ietwat skerper kyk as ander dae. Daar was die laaste tyd ’n verandering in Nickey te bespeur. Sy is stiller. Sy eet selfs minder. Haar ma het dit sonder kommentaar laat verbygaan, wetende dat dit seker maar die normale reaksie is van enige nooientjie wat haar vriend grens toe sien vertrek het. Verlange en kommer oor sy veiligheid sal so ’n uitwerking hê. Dinge sal mettertyd weer normaliseer.
Maar vandag sien die moederoë dat Nickey ook bleek is, met kringe onder die oë, en dat sy senuweeagtig met haar hande vroetel … en haar ma se direkte blik ontwyk …
Marie hou haar stem egalig, bedaard. “Al iets van Terence gehoor? Wanneer vertrek hy grens toe?”
“Ja. Daar was vanmiddag ’n brief. Môre … Hulle vertrek môre van Tempe af Grootfontein toe en daarna verder …”
Marie Buys se blik verteder. Arme kind! Eerste liefde is meer marteling as vreugde! Terence Basson is Nickey se eerste groot liefde. Sy het byna haar skoolloopbaan klaar gehad toe sy hom met ’n interskole-byeenkoms ontmoet het. Daardie aand, toe sy tuis kom, het haar ma dadelik agtergekom dat iets baie spesiaals daardie dag met haar dogter gebeur het. Dit was nie moeilik om te raai wat dit was nie. Dit is ’n baie spesiale gebeurtenis in enige mens se lewe wanneer jy vir die eerste keer direk met die liefde tussen die geslagte in aanraking kom. Wat meer sê, op daardie dag sal jy sweer dat jy die liefde van jou lewe gevind het … en dat dit elke dag tot in lengte van dae só sal bly!
Met die wysheid van ’n vrou wat die pad van die liefde al geloop het, én die kennis in haar dra dat daardie pad nooit gelyk en heeltemal voorspoedig is nie, het Marie net geglimlag en die jong man wat haar dogter daardie aand vir die dansparty kom haal het, met aandag bestudeer.
Hy was ’n mooi seun, baie netjies aangetrek, het sy goedkeurend opgemerk, met ’n breë glimlag en ’n vonkeling in die blou oë wat seker enige meisietjie se hart sou raak. Op die oog af kon sy niks teen die jong man inbring nie en sy het geen rede gevind om onrustig te voel om haar dogter met hom te laat saamgaan nie.
Die klein bietjie onrus wat daar wel was, was nie só belangrik dat sy haar dogter se eerste afspraak met haar jong Griekse god sou bederf of self kommervol wakker sou lê nie. Die feit dat Terence Basson in ’n ander deel van die stad bly, dat hy haar dogter kom haal het met ’n duur, blink motor wat onvanpas lyk in hierdie straat, is nie dinge wat kommer behoort te baar nie. Eerder dankbaarheid. Sy het tog self altyd geweet dat haar kind eendag in ’n ander straat, ’n ander deel van die stad sou eindig.
Die kommer het eers later gekom.
Die verhouding het voortgegaan en steeds het sy Terence ’n aangename, goed gemanierde seun gevind. Maar iets het aan haar begin krap; iets waarvoor die verliefde Nickey blind was. Terence het Nickey gereeld by die huis kom haal, dikwels aan huis by hulle gekom, maar nog nie een keer het hy haar na sy huis geneem om sy ouers te ontmoet nie. Marie Buys het begin wonder. Is hy besig om sy verhouding met Nickey weg te steek vir sy ouers? En hoekom? Omdat sy ouers nie tevrede sal wees dat hy ’n meisietjie uitneem wat in hierdie deel van die stad bly nie?
Sy sou dit haar plig gevoel het om hierdie saak onder haar dogter se aandag te bring, maar die feit dat Terence opgeroep is vir militêre diens en vroeg in Januarie sou moes vertrek, het haar laat swyg. Hoekom haar kind onnodig seermaak? Want seermaak sal dit. Mense wat in hierdie deel van die stad bly, word dikwels seergemaak. Dis nou maar eenmaal soos die lewe is: diegene wat mindergegoed is, word ook dikwels as minderwaardig geskat. Die regverdigheid of onregverdigheid daarvan is nie ter sprake nie.
Hoewel Marie van die jong Terence gehou het, was sy tog heimlik verlig toe die dag aanbreek dat hy moes vertrek. Die jong liefde – as ’n mens dit so kon noem – was nog steeds sterk, miskien juis versterk en aangevuur deur die uur van skeiding wat nader gekom het.
Marie het met wyse swye geluister na die trane en snikke ná die dag van vertrek. Sy het haar dogter nie probeer vertel dat dit ook verbygaan nie; dat sy miskien oor ’n paar maande weer ’n nuwe glans in die oë sal hê nie. Maar sy was bly toe die dag aanbreek dat Nickey haar by die technikon moes gaan inskryf. Sy was jonk, maar agtien, en ’n nuwe lewe, ’n toekoms vol uitdaging en avontuur het op haar gewag.
Drie maande is nou verby. Terence is klaar met sy voorlopige opleiding en vertrek môre grens toe vir aktiewe diens daar. Intussen het Nickey blykbaar geen nuwe belangstelling raakgeloop nie. Inteendeel. Sy lyk soos ’n meisietjie wat regtig ernstig treur.
Deernisvol slaan Marie haar arm om die skraal skouers. “Hy sal terugkom, Nickey.”
Nickey draai weg onder haar ma se omarming, kyk blind deur die venster. “Daar is wat nie terugkom nie.”
Haar ma sug. “Ja, ek weet. Maar dis nie te sê nie … Daar is veel meer wat terugkom. Jy is baie negatief, my kind. Dit gaan nóg vir jou nóg vir Terence help as jy elke dag net sit en wag op sy doodstyding. Wees meer positief. Waar is jou geloof dan, my kind?”
Nickey byt op haar onderlip, draai haar kop weg van Marie se ondersoekende blik.
Marie frons, nou opreg bekommerd. Sy ken nie haar kind so nie. Dis miskien tyd om streng te wees. “Nickey, ek sal nie toelaat dat jy jouself tot niet laat gaan nie! Twee jaar lê nog voor! Jy moet jou regruk. Terence is besig om sy kant ten volle te bring daar anderkant. Jy moet jou kant hier bring, jou volle aandag aan jou studies gee en …”
“Ma …”
“Wat is dit, Nickey? Wat is regtig verkeerd? Dis nie net kommer oor Terence wat jou só laat lyk nie.”
“Ma … ek … weet nie …”
“Wat weet jy nie?”
“Ek weet nie … hoe … ek weet nie hoe ek dit vir Ma … moet sê nie …”
“Wát sê?”
“Dat ek … ek …”
“Nickey, moenie vir my vertel jy wil die technikon opskop nie!”
“Nee! Dis nie dit nie. Dis …”
Die moeder stap beslis vorentoe, vat haar dogter aan die skouers en draai haar sodat hulle mekaar waterpas in die oë kyk. “Jy moet my liewer vertel wat met jou gaande is … nóú!”
“Ma … Ma, moenie vir my kwaad wees nie! Moet my nie haat nie … asseblief!”
“Nickey …?”
“Ja, Ma. Ek … verwag ’n kind.”
Twee paar oë … ’n koerantberig wat verbyflits … en ’n blom, verwoes toe die wind daaroor gaan …
Wat sê ’n mens? Wat het die ander moeders gesê op daardie oomblik? Nee, ek is nie kwaad nie. Nee, ek sal jou nie haat nie. Wat sê mens?
“Ma … Mamma, ek is só jammer!”
Só jammer. Maar … die blom is stukkend … Selfs al gaan lê die wind eendag, sal daardie blom nooit weer blom wees nie …
“Mamma, wat gaan ek doen? Ons doen?”
Wat? Wat kan ons doen? Wat het die ander moeders gedoen toe hulle skielik met ’n snikkende, verwagtende dogter voor hulle staan? Met ’n onverwagse, onwelkome lewe tussen hulle? Wat doen jy? Tier en skel sal daardie lewe nie wegneem nie. Ook nie bid of huil nie …
Maar tog huil sy … Sy huil asof haar trane daardie lewe wil uitwas, wegwas, die jong liggaam weer skoon was, rein was …
Al wat mens kan doen, is om jou kind teen jou vas te hou asof jy haar alleen teen die kwaad en seer van die wêreld sal beskerm, wetende dat dit nie buite lê nie, maar binne … dáár waar selfs ’n moeder se beskermende liefde nie kan reik nie. Al wat jy kan doen, is om haar teen jou vas te hou, hierdie mooi jong dogter van jou vir wie jy soveel ideale gehad het; hierdie kind wat nog altyd so ’n goeie kind vir jou was; hierdie dogter van jou wat jy met stille trots deur die jare sien ontluik het soos ’n blom van die veld.
Marie klop haar dogter liggies op die skouer. “Ons sal ’n plan maak, my kind. Ma sal ’n plan maak.”
Maar toe sy in haar kamer kom, gaan sit sy op die kant van die bed, kyk wesenloos voor haar uit. Ma sal ’n plan maak. Ma het nog en kon nog al die jare ’n plan maak. Daar was geen probleem wat Ma nie met meet en pas, met bid en geloof kon oplos nie. Reeds voor haar man se dood het sy al geleer om planne te maak. Maar vandag is sy radeloos, het sy geen plan nie.
Sy buk, krap in die onderste rakkie van die bedtafeltjie. Snaaks, sy dink nie sy het dit doelbewus gebêre nie. Waarvoor sou sy? Maar hier is dit. Miskien sal die persoon wat die artikel geskryf het, ’n plan hê.
Sy lees verder:
Gerugte van aborsies doen die ronde, van kinders van welgestelde ouers wat oorsee gestuur word om daar ’n “wettige aborsie” te ondergaan.
Sy kyk weer op die mat. Aborsie is vir haar ’n vloekwoord. Om ’n lewe te neem, doelbewus te vernietig omdat dit in jou pad is … Nee. En dan: Dis ’n plan vir ryk mense, nie vir Marie Buys se dogter nie.
Miskien word nog ander planne aan die hand gedoen. Sy kyk weer na die koerantberig.
Haar moed sak verder in haar skoene. Volgens die verslaggewer het ’n gesaghebbende op hierdie gebied gesê dat dit jammer is dat die ouers van swanger skoolmeisies ’n gedwonge huwelik as die oplossing sien. Dikwels is die vader self ook nog ’n skoolseun, of pas uit die skool. In hul twintigerjare besef die twee jong mense dat hulle nooit ’n normale jeug gehad het nie. Dan probeer hulle daardie verlore jeug terugwin op maniere wat nie net meestal vir die huwelik fataal is nie, maar ook tot groot onreg teenoor die kind of kinders lei.
Marie laat die koerant weer sak. Dis die eerste wat in haar gedagtes opgekom het. Terence … Hy moet terugkom en die verantwoordelikheid saam met Nickey kom dra. Hulle moet trou. Sy probeer om haar geskokte verstand tot nugter denke te dwing. Maar een fout kan nie ’n ander fout regstel nie … en volgens die skrywer van hierdie berig sal dit net ’n tweede fout wees om Nickey en Terence te laat trou. Maar wat dan? Waarnatoe dan?
Haar moederhart skram weg van die enigste ander weg wat oop is, die enigste ander plan wat nog gemaak kan word. Nickey moet na een van daardie tehuise waarna hulle verwys, gaan en haar baba daar afgee vir aanneming. Haar baba. Háár kleinkind. Bloed van haar bloed en vlees van haar vlees. Nickey se baba … Nickey se baba …
Marie verskyn met die koerant in die hand in haar dogter se kamerdeur. “Nickey, Ma moet jou iets vra en … en jy moet my belowe dat jy heeltemal eerlik met my sal wees.”
“Ja, Ma?”
“Weet jy wie die pa van jou kind is?”
Dis asof die vraag Nickey soos ’n fisieke hou tref. Sy sit haar ma stomgeslaan en aankyk, verbleek verder. “Hoe … hoe kan Ma só vra? Ma wéét mos!”
Ja, sy weet. Sy dink sy weet. Sy hoop sy weet. Maar sy móét seker wees, sy moet baie, baie seker wees. Sy lig die koerant op.
“Hierdie koerant … Hier is ’n artikel. Hulle praat hier van vrye liefde wat veral by die stedelike hoërskole aan die orde van die dag is. Hulle sê hier dié wat dit nie wil beoefen nie, word summier uitgestoot.” Sy kyk Nickey angstig aan. “Het daar sulke dinge by jou skool aangegaan?”
Nickey kyk af. “Ja, Ma. Daar was sulke dinge, maar … ek het nooit daaraan deelgeneem nie. Ek sweer dit! Glo my! Terence is die … is die enigste …”
“Ek glo jou, Nickey. Ek is jammer dat ek daardie vraag moes vra, maar … ek moes voordat ek na meneer Basson-hulle gaan.”
Nickey kyk ontsteld op, haar oë groot en bang. “Na … Terence se pa gaan? Hoekom?”
“Hoekom?” Iets van Marie se doodse kalmte val van haar af, word verplaas deur ’n drif wat haar dogter in jare nie by haar gehoor het nie, die drif van ’n persoon wat met die rug teen die muur veg. “Omdat jy ’n kind verwag, Terence se kind. En hulle is Terence se ouers. Hulle moet weet.”
“Hoe … hoekom?”
Omdat ek iemand moet hê wat saam met my aan ’n plan kan dink! Ek kan dit nie alleen hanteer nie! Ek soek ’n hand om aan vas te hou! Ek soek iemand wat saam met my kan dra aan die smart van ’n kind wat jou vir jou liefde en sorg en opoffering van al die jare bedank met ’n baba … een wat nie daar behoort te wees nie!
“Hulle sal móét weet, Nickey. Dis nie meer as reg nie. Terence is net so verantwoordelik soos jy vir wat gebeur het.”
Sy is net ’n bang kind. “Hulle … hulle sal seker vreeslik kwaad wees … vir my, bedoel ek …”
Daar is baie dinge wat Marie nooit gedink het ooit met haar sou gebeur nie wat vandag alles op een dag met haar gebeur. Soos dat sy bitterheid voel teenoor haar geliefde dogter …
“Wat sal dit help?” vra sy droog. Ja, wat sal dit help? Om ten hemele te skreeu en te vloek verander nie die feite nie.
“Mamma! Mamma, ek is só jammer! Ag, my ma …”
“Ek weet, my kind. Ek weet. Moet jou nie so ontstel nie. Dis nie goed vir … die baba nie. Dis nog vroeg. Ek sal hulle vanmiddag nog gaan sien. Hoe gouer, hoe beter.” Sy draai om. Dis ’n berg wat sy moet oor. Sy moet ’n vreemde man en vrou vandag in die oë gaan kyk en hulle vertel dat haar dogter ’n kind van hulle seun verwag. As sy dit klaar gesê het, wat moet sy nog sê? Soos Nickey: Ek is jammer. Ek is jammer dat my dogter nie nee kon sê vir julle seun nie. Want dis ook een van daardie dinge van die lewe wat niemand verstaan nie maar net aanvaar: As daar sulke dinge gebeur, is dit die meisie se skuld. Dis sy alleen wat sleg is. Dis die man se voorreg dat hy mag aanhou probeer tot sy nie meer nee kan sê nie.
Marie trek haar netjies aan in haar deftigste klere. Sy tel die busgeld af. Sy sal twee keer van bus moet verwissel. Haar handsak en handskoene, al is dit uit die mode. Maar dis bekende goed, en sy het vanmiddag bekende dinge by haar nodig omdat haar bekende wêreld vir haar skielik vreemd geword het.
“Ma, ek sal gaan. Dis … Ek is skuldig. Ek sal hulle gaan sê …”
Sy draai terug in die voordeur. ’n Flenter van die verlore trots in haar dogter het teruggekeer. Dit moet moed gekos het om dit te sê. En op hierdie dag kan sy moed waardeer, omdat sy self na hare moet soek.
“Dankie, Nickey. Maar ek moet gaan. Dis my plig as ouer.”
Ja. Die pligte van ’n ouer. Legio. Dis jou plig as ouer om jou kind groot te maak, en wanneer hy die dag groot is, ook wanneer hy fouteer, in sy plek te gaan staan en die skuld op jou te laai: Ek is jammer. My kind het gefaal. Dis my skuld. Dit moet my skuld wees. Ek het haar mos grootgemaak. Dit was ek wat êrens gefaal het. Al my liefde en sorg en opoffering was nie genoeg nie …
Marie klim op die bus, kyk teen die vuil ruit vas. Maar die Bassons is ook ouers. Wat sal hulle sê? Dat hulle hul kind ook goed grootgemaak het? Dat hy in ’n gegoede huis grootgeword het, alles gekry het wat hy nodig gehad het, en meer … en dat hulle ook jammer is …?
Waar, wanneer bereik ouerlike pligte sy perke?
Sy voel so ontuis in hierdie straat as wat die Bassons se luukse motor in húlle straat was. Sy weet ook dat haar deftigste klere ewe onvanpas vertoon. Sy stoot die hekkie oop. Dis ná halfvyf. Miskien is hy nog nie terug van kantoor nie, kry sy net die vrou tuis. Hoopvolle denke. Die ander vrou is ook ’n moeder. Miskien … miskien sal sy makliker verstaan, meer begrip hê?
Die voordeur gaan oop. Dit moet hy wees. Terence se pa. Die ooreenkoms is daar. Sy sien hom die treetjies afkom na sy motor.
Dan gewaar hy haar. Hy kom nader, lyk haastig, tog beleef vriendelik ook.
“Goeiemiddag.”
“Goeiemiddag.”
“Kan ek help? Soek u na my?”
“Ja, ek … U is meneer Basson?”
“Ja. Ek is Christian Basson. Kom binne.”
“Ek wil nie u tyd mors nie. U is op pad …”
“Daar is nie soveel haas nie. Kom binne.” Sy laat haar binnelei na sy studeerkamer, gaan sit in ’n diep stoel. Hy neem agter die lessenaar plaas, vou sy hande, kyk haar vraend aan.
Hy lyk jonk om Terence se pa te wees …
“U is … Terence se pa?”
“Ja.” ’n Ligte frons verskyn tussen sy wenkbroue. ’n Vrou soos die een hier voor hom met haar armoedige klere ken Terence se naam? “Is dit iets in verband met my seun wat u …?”
“Ek dink u moet u vrou ook roep. Dit … sal beter wees.”
“Ek en my vrou is geskei, jare gelede al. Ek en Terence bly alleen hier. Immers, ons het. Hy doen nou grensdiens.”
“Ja, ek weet.”
Die frons is nou baie duideliker. “Ken u my seun, mevrou … e …”
“Ek is Marie Buys. Ja, Terence het dikwels by ons aan huis gekom voordat hy weg is.”
Sy oë word skielik waaksaam. “Ek sien.” Die vlugtige blik gly weer oor haar. “Waar bly julle, mevrou Buys?”
En sy weet die seerkry wag om die draai. Maar dis ’n ou seerkry, so oud soos die berge. En dis ’n verhaal so oud soos die berge wat sy vandag aan hierdie ryk man moet kom vertel. “Aan die ander kant van die stad, meneer Basson … in Bokmakieriestraat. Weet u waar Bokmakieriestaat is?”
“Ja.” Ja, hy weet watter woonbuurt van die stad se strate dra sulke name.
“Wel, dis waar ons bly … ek en my dogter. En dis waar Terence gereeld kom kuier het tot hy weg is vir sy grensdiens.”
En dit wat sy verwag het, lê in sy oë, in sy stem: “En wat is dit wat jy my wil vertel, mevrou Buys?”
“U weet dit reeds, meneer Basson.” Sy slaan haar oë neer en die skaamte laat ’n rooi gloed oor haar gesig stoot. “Ek wens dat ek nie vandag nodig gehad het om u te besoek en sulke tyding te bring nie. Ek is jammer … so jammer …” Weerloos kyk sy na hom op, en toe sy in sy oë vaskyk, weet sy dat ouerlike pligte geen grense of perke het nie. Dat jou ouerlike pligte ook van jou verwag om vernedering en beskuldiging en veragting ter wille van jou kind te dra. En sy weet nog iets: Haar besoek aan Christian Basson vandag was ’n fout.