Читать книгу Ena Murray Omnibus 30 - Ena Murray - Страница 5

2

Оглавление

Vir die eerste keer kyk die man weg. Hy kyk af op sy gevoude hande wat instinktief stywer saamgetrek het. Terence …

“Wat is die dogter se naam. En hoe oud is sy?”

“Nicole – maar sy word altyd Nickey genoem. Sy is agtien, het verlede jaar saam met Terence op skool klaargemaak. Sy is nou by die technikon.”

Stilte. ’n Stilte wat jou mal kan maak; wat jou wil laat opspring en weghardloop sonder om te weet waarheen. Maar jy bly sit asof die duur stoel waarin jy amper wegraak, jou soos ’n spinneweb vasgevang het. Jy probeer nog, al is dit teen jou eie beterwete in:

“Meneer, Nickey is ’n goeie kind. Sy was nooit ’n losbol nie. Terence was haar eerste kêreltjie.” Wat nog? Wat kan sy nog sê?

Die man kyk eindelik weer op, direk na haar, maar steeds met dieselfde waaksaamheid. “Wat verwag u van my, mevrou … en van Terence?”

Sy sit verslae voor die vraag, ken nie die antwoord nie.

“Jy het my tog nie verniet hiervan kom vertel nie. Wat wil julle hê?”

Hê? Hy is seker reg. Sy het vandag hierheen gekom om iets te kry. Maar nie wat hierdie man dink nie. Begrip, ja. Iemand wat haar kan help om op te hou in sirkels dink. ’n Hand om aan vas te hou … Maar dit sal sy nie hier vind nie.

Dan kom die versigtig gemoduleerde stem weer tussen haar en haar gedagtes: “U het my kom vertel dat u dogter verwagtend is en dat my seun daarvoor verantwoordelik is. Wat nou?”

Wat nou? “Dis wat ek by u kom hoor het, meneer. Wat nou? Ek … weet nie … Ek wéét nie wat nou nie!”

Hy staan vinnig op, gee ’n paar treë venster se kant toe. Sy oë staar deur die ruit toe hy sê: “Mevrou, u moet my verskoon dat ek dit vra, maar … Is u dogter baie seker dat my seun die skuldige is?”

Daar kom geen antwoord nie, en hy draai om, en daar is harde verweer in sy stem teen die skok en die seer in die oë wat syne vasvang: “Laat ons nie doekies omdraai nie, mevrou. Ons lewe vandag in ’n wêreld waar sedelike norme tot groot hoogtes ontbreek. Veral onder die jeug is dit besig om iets onbekends te raak. Vrye liefde is aan die orde van die dag, selfs in ons skole. Ook in óns stad, mevrou. Daar is ’n opname gedoen, dis selfs in die koerant vermeld, van ’n onrusbarende toename in swangerskappe onder óns stad se skoolmeisies, as gevolg van daardie sogenaamde vrye liefde. En vrye liefde beteken vrye liefde, mevrou.”

Met bleek lippe sukkel Marie die woorde uit: “My kind … is nie dáárdie soort kind nie …”

Sy lippe pers saam. “Ons dink maar almal ons kind is nie dáárdie soort kind nie, mevrou Buys. Terence … Ek het ook nie gedink hy is dáárdie soort kind nie, maar … ek moet vandag tot die besef kom dat my kind nie beter of anders is as ander mense se kinders nie. Ek het geweet van wat hier in ons skole aangaan, maar my seun sou nie deel daaraan hê nie, het ek gedink. Maar hoekom sou hy nie? Hy is nie ’n engel nie. As dit dan die ‘in-ding’ is, soos die koerant dit beskryf het, hoekom sal hy dan die enigste wees wat ‘uit’ is? En jou dogter … Wat maak haar anders as ander mense se dogters?”

Die moeder spartel met die vraag. “Sy is reg grootgemaak, meneer. Sy is.”

Hy lag kortaf, bitter. “So is ons almal s’n – of dan, die meeste van ons kinders is reg grootgemaak, mevrou Buys. Ek en Terence se ma is geskei, maar nogtans het ek deur die jare probeer om my kind die regte dinge te leer, en probeer, met menslike swakheid, om die regte voorbeeld vir hom te stel. Ek het gesorg dat hy gereeld kerk toe gaan en hy het ’n Bybel. En hy is al die feite van die lewe vertel en hy weet wat reg en verkeerd is. Maar …”

“Hy is ’n goeie seun, meneer Basson. Ek het hom leer ken. Hy is binnekant ’n goeie kind.” Sy besef nie hoe ironies dit is dat sy vir Terence teen sy eie pa in die bresse moet tree nie.

Christian Basson skud sy kop. “Binnekant. Daar is niks so duister, so onbekend en onvoorspelbaar as die mens se binnekant nie. En niemand ken ooit ’n ander nie. Jy dink jy ken my seun beter as ék, sy pa, hom ken? Ken jy jou dogter, mevrou? Jy’t my vertel sy is ’n goeie kind, maar daardie goeie kind verwag op hierdie oomblik.”

Die intrek van haar asem maak dat hy swyg, sy kop skud, sy oë ’n oomblik sluit en dan onwillig om verskoning vra: “Ek is jammer. Ek bedoel nie om seer te maak nie. Dis net …”

Sy knik, op die randjie van trane. “Ek verstaan, meneer Basson. Ek verstaan.” Jy wil nie regtig seermaak nie. Jy is anders as ek. As ek seerkry, soek ek begrip, liefde. Jy slaan terug. Jy máák seer omdat dit so seer is binnekant. Jy is net so verpletter soos ek.

Die oomblik van menslikheid is verby. Sy stem is nou selfs harder as voorheen. “Terence het jou dogter nooit huis toe gebring nie. Ek ken haar van geen kant nie. Daarom kan ek nie sommer aanvaar dat my seun die skuldige is nie. O, hy mag een van die skuldiges wees, dit gee ek toe. Maar om hom nou alleen verantwoordelik te wil hou, sy hele lewe omver te gooi, te verwoes. Hy is ook maar pas agtien. Dis …”

“So is my dogter. Pas agtien. Haar lewe is omvergegooi, haar toekoms verwoes.”

“Dit gee ek toe. Maar as u gedink het dat hulle moet trou, sê ek nou vir u dis buite die kwessie. Heeltemal en totaal buite die kwessie. Aangesien ek aanvaar Terence sou ook deelgeneem het aan die vrye liefde, is ek bereid om te betaal. Binne perke. As u onredelike eise gaan stel, sal ons die saak verder moet voer, maar …”

Sy sit skielik orent in die diep stoel. “Ek het u nie geld kom vra nie.”

Sy oë is byna openlik vyandig en smalend. “Wat het u my dan kom vra, mevrou Buys? ’n Huwelik is uit.”

Sy staan op, staan trots en kersregop voor hom. “U sal my nie glo nie, maar ek het ook dit nie kom vra nie.”

“Wat dan?”

Sy kyk na hom, na hierdie man wat aan aardse besittings so goed toebedeel is dat hy sy gevoel van skuld en skaamte en seer met so ’n houding kan bedek. Maar sy het ook iets waarmee sy hare kan bedek, die enigste ding wat sy het.

“Ek het jou niks kom vra nie, meneer Basson. Ek het jou maar net kom sê.”

Haar hand soek na haar handtassie en handskoene, kry dit beet, klou dit vas sonder om dit te weet.

“Wag.” Hy gee ’n tree nader. “Ons het nie klaar gepraat nie.”

“Ons het. Ek het u klaar vertel wat ek u wou vertel.”

“Mevrou Buys … Goed. Goed!” Hy gooi sy hande in die lug. “Ek sê weer ek is jammer. Maar probeer my kant van die saak verstaan!”

“Ek doen dit, meneer. Ek doen dit. Daarom sê ek vir u goeiedag. Ek is jammer ek het so baie van u tyd gebruik.”

Skielik is die bordjies verhang, is dit hy wat verleë staan en sy wat trots en met kil oë na hom kyk.

“Mevrou, hierdie … ding is ’n groot skok vir ons albei. Dit het miskien te vinnig op my afgekom. Gee my eers kans, tyd om aan die gedagte gewoond te raak. Ons kan oor ’n paar dae weer praat.”

“Daar is niks om verder oor te praat nie, meneer Basson. Dis nie nodig dat ons verder daaroor praat of dit wel Terence se kind is wat Nickey verwag, en of sy werklik oor ses maande u eie kleinkind in die wêreld gaan bring nie. Ek verseker u dat ek nóg vir Terence, nóg vir u verantwoordelik hou teenoor my dogter. Ons sal regkom. Tot siens.”

Toe sy uitstap, hoor sy die telefoon lui, en sy is bly. Want as hierdie man haar een minuut langer probeer terughou het, sou haar selfbeheersing geknak het.

Skielik, heeltemal buite haar aard, wou sy ook seermaak. Sy wou Christian Basson bespring soos ’n tierwyfie wat haar enigste welpie beskerm. Sy wou sy oë uitkrap, haar naels in sy gesig slaan, hom skop en slaan tot daar nie meer krag in haar oor is nie. Want hy het die enigste ding wat God haar gegee het wat skoon en pragtig en kosbaar was, besoedel en besmeer.

Sy gaan nie direk huis toe nie. Sy kan nie. Sy kan Nickey nie nou in die oë kyk nie. Sy stap by ’n ander huisie se voordeur in.

“Middag, tant Hessie.”

“Middag … Vrou, wat makeer jou? Jy lyk soos die dood! Kom sit …”

“Tant Hessie …”

“Marie, wat is aan die gang? Wat het gebeur?”

“Tante … O, tant Hessie! Tant Hessie!” En meteens oorweldig die trane haar.

Hy tel die telefoon op. “Ja?”

“Christian, waar bly jy? Jy gaan laat wees vir die vergadering.”

“Ek is nou daar.”

Hy gooi die telefoon neer, hardloop na buite, maar die tuin en die straat is verlate …

Dis laat in die aand toe Kenneth Frazer vir sy vriend by sy motor tot siens sê. Hy aarsel eers, vra dan tog: “Is iets verkeerd, Christian?”

“Nee.” Hy skuif agter die wiel in. “Nee, alles is reg.”

Die ander man buk, kyk by die venster in. “Jy wil nie eers inkom en met my daaroor praat nie?”

“Waaroor?”

“Oor wat jou hinder.”

“Niks hinder my nie. Jy verbeel …”

“Maar jou swak toespraak vanaand was nie my verbeelding nie.”

Hy druk met een elmboog op die stuurwiel, vee met sy hand oor sy gesig, sug. “Ja. Ek weet. Ek is jammer.” Hy sug weer, draai dan sy kop in sy vriend se rigting. “Ek het ’n gemors daarvan gemaak, ek weet. Ek kan my net sowel onttrek.”

“Moenie verspot wees nie! Ons het nie ’n ander man nie. Tewens, jy is die regte man, en jy weet dit. Jy moet jou net regruk, daardie probleem wat jy het, oplos vóór die volgende vergadering. Dis oor ’n week.”

Sy mond trek wrang. “Party probleme is nie so maklik oplosbaar nie, my vriend. Vir party is daar soms meer as ’n week nodig voor jy die lig sien.”

“Dan is dit ernstig? Mag ek vra … is dit iets persoonliks?”

“Ja. Ja, dis ernstig en dis iets persoonliks.”

Kenneth frons. “Ek kan nie dink dat jy persoonlike probleme kan hê nie. Kleintjies – ja, wel, miskien, maar nie grotes wat jou só oorstuur kan maak nie. Jou lewe is so gelykmatig, georden.”

Christian gee weer die harde, bitter laggie wat hy vroeër die dag laat hoor het. “Ander se boeke is duister om te lees, my vriend. Sien jou môre.”

“Tot siens, Christian. Lekker slaap.”

Maar vir minstens vier mense is daar geen geruste nag nie.

Marie Buys het eers sterk skemer tuis gekom. Sy het Nickey nie vertel dat sy eers by tant Hessie was nie, dat sy dáár aan al haar opgekropte hartseer vrye teuels gegee het nie.

Vir die eerste keer in haar lewe vertel sy haar dogter ’n leuen. “Daar was niemand tuis nie. Ek het gewag, maar hulle is blykbaar vir ’n tyd weg.”

“O.” Nickey sien die merke van die trane wat in tant Hessie se kombuisie gestort is. “Ma’t gehuil.”

“Ja. Ek was vir ’n oomblik by tant Hessie,” moet sy dan erken.

“Het Ma haar … vertel?”

“Ja. Ek moes iemand vertel. Maar jy hoef nie bang te wees nie. Jy weet tant Hessie sal nie praat nie.”

“Ja, ek weet.”

“Ek het gedink, Nickey … Jy was reg. Dis nie nodig dat Terence se ouers hiervan moet weet nie. Dis nie nodig dat Terence self hiervan moet weet nie. Niemand hoef te weet nie.”

Sy kyk haar ma fronsend aan. “Hoe nou? Maar hoe gaan ons dit … wegsteek? Sy ouers sal móét weet. Ma was reg. En natuurlik Terence ook. Ons sal seker … moet trou?” Sy praat kalm, asof sy van iemand anders praat. Sy is haar ma se kind. Geleer om wat binne is, binne te hou.

Marie weifel ’n oomblik, kyk dan moedig op. “In jou hart der harte, Nickey – glo jy dis die oplossing vir jou probleem?”

Sy kyk haar ma verslae aan. “Maar … wat dan? Wat anders kan ons doen?”

“Daar is ’n alternatief. Jy kan die baba laat aanneem.”

“My baba … weggee?” Haar baba het reeds werklikheid vir haar geword. Ses weke lank loop sy al dag en nag met hierdie wete in haar: sy gaan ’n baba hê. Ses weke gelede het die wete gekom: daar is ’n lewe in haar wat aan die groei is. En met elke traan van skaamte en jammerte het sy meer gebonde daaraan gevoel. Want háár skaamte en skande was ook haar kind s’n. Hy het geen skuld daaraan nie, maar hy sou dit saam met sy moeder moes dra: die stigma wat selfs vandag nog aan so ’n kind kleef.

Marie voel haar hart krimp. Maar sy veg moedig teen die smart wat haar wil oorweldig. “Jy moet nou baie nugter dink, Nickey. En jou eerste prioriteit moet jou kind wees.”

“Ek weet, Ma. Maar is dit dan nie juis daarom dat ’n huwelik die enigste uitweg is nie – die beste vir die kind?”

“Nie altyd nie, my kind. Jy en Terence is albei agtien. Julle is nog kinders, al wil julle dit nie weet nie. Julle jongmensdae lê nog voor. Ook die jare waarin julle jul moet voorberei vir ’n beroep, om iets in die lewe te bereik. Terence het gesê dat hy oor twee jaar, sodra hy met sy diensplig klaar is, universiteit toe wil gaan om vir siviele ingenieur te studeer. Dis ’n minimum van vier jaar nog by die twee jaar wat hy diensplig doen. Dis ses jaar, Nickey. Hy gaan ’n student wees met ’n vrou en ’n vyf jaar oue kind. Hy sal sien hoe sy maats hulle jong lewe geniet, en hy moet huis toe na ’n vrou en ’n kind. Dink jy dit kan op die lang duur uitwerk?”

“As ons lief is vir mekaar …” Maar is hulle? wonder Nickey, opeens. Is hulle lief genoeg vir mekaar dat hulle die verantwoordelikhede van ’n huwelik en ’n gesin sal kan dra, die opofferings wat dit verg, sal kan maak? Sy weet nie meer nie. Die laaste paar weke is dit nie verlange wat sy ervaar wanner sy Terence se beeld voor haar oproep nie. Dis ’n gevoel van woede, van verontregting, van beskuldiging. Hierdie ding sou nie gebeur het as hy nie so aangehou het nie. Dit sou nie gebeur het as hy nie so oorredend was nie. As hy net nee vir ’n antwoord wou vat …

Die moeder sien dat haar dogter dink, en sy swyg oor die ander redes wat sy nog kan byvoeg: Jy kan nie met ’n seun gaan trou wie se pa so ’n lae dunk van jou het nie. Watter hoop op huweliksgeluk het jy as jy in ’n huis moet instap waar soveel lelike agterdog teen jou is? En hoe weet jy hoe Terence gaan optree wanneer hy van die baba hoor? Sal hy nie miskien sy pa se opinie toegedaan wees nie?

Jy sal nog ’n man leer ken, my arme kind. Hulle is so verskriklik verlief, belowe jou die maan en die son en die sterre. Maar wanneer sulke dinge gebeur soos hierdie, verdwyn daardie vreeslike liefde soms soos mis voor die son, gryp hulle na enigiets, selfs teen hul eie beterwete, om vry te kom, om die skuld op jou en ander te pak – soos Terence se pa gedoen het. Hy het na ’n koerantberig gegryp.

Die feit dat Terence jou weggesteek het vir sy pa, laat my dink, my arme kind, dat hy dieselfde gaan doen as hy tot verantwoording geroep word. Om agtien en verlief te wees is wonderlik. Om agtien te wees en skielik met ’n vrou en baba opgesaal te sit, is ’n perd van ’n ander kleur. Ek sou nie, as ek jy is, te veel peil trek op die agtienjarige Terence se liefde nie.

Nickey kyk pleitend op en Marie Buys sê met deernis: “Jy en jou kind sal ’n las vir hom wees, Nickey. Julle sal in sy pad wees, in die pad van sy ideale en die ideale wat sy ouers vir hom het.” Want Christian Basson het beslis ’n ander soort vrou vir sy seun in gedagte as een wat uit Bokmakieriestraat kom …

Nickey weet haar ma het reg. Sy is nie onnosel nie. Sy hét iets agtergekom. Sy het hom ’n keer gevra hoekom hy haar nie aan sy ouers voorstel nie, en toe het hy dit afgemaak met ’n ongeërgde, vinnige: “Ag, hulle is omtrent nooit tuis nie.” Maar soos haar ma, het sy ook die vae agterdog in haar voel posvat dat Terence skaam of bang is om haar na sy ouers te neem. En met die kennis van ’n kind wat in Bokmakieriestraat grootgeword het, het sy geweet hoekom. Sy ouers sou nie hul verhouding goedkeur nie. Terence Basson kan beter doen as om in Bokmakieriestraat te kuier. Maar omdat sy verlief was, sy oë so blou en sy glimlag so hartrowend, die krulletjie teen sy voorkop so betowerend, kon sy hierdie gedagtes van haar wegskuif. Maar nou kom hulle in al hul felheid terug …

Daar is ook ander gedagtes wat sy nie langer kan ignoreer nie. Dat sy briewe ná slegs drie maande al afgeneem het, minder verlief is. Sy laaste brief het haar vertel dat hy nie weet wanneer hy weer van hom sal laat hoor nie omdat hy “bos” toe gaan. Hy sal haar maar later die adres waarheen sy moet skryf, laat kry. Selfs as agtienjarige besef sy dat ’n huwelik in hierdie geval miskien nie die beste oplossing is nie, selfs nie eens vir haar kind nie. Maar om hom weg te gee …

“Laat ons nie oorhaastig besluit nie, my kind. Daar is tyd.”

Sy knik stom. Ja. Daar is nog ’n hele ses maande om te besluit.

Maar die mens se tyd is nie in sy hand nie. Daardie aand kom die eerste waarskuwing dat die uur van beslissing nie eers oor ses maande sal kom nie.

Hulle sit en eet sonder om te weet wat hulle eet, toe Marie Buys skielik haar vurk laat val en na haar bors gryp.

“Ma! Ma, wat makeer?”

Die gryskopvrou is bleek, hou haar linkerbors vas, fyn sweet op haar voorkop. “Net ’n skielike … pyn …”

“Kom lê. Kom ek help Ma bed toe. Kom lê ’n bietjie. Wat kan ek vir Ma gee om te drink?”

“Daar is … ’n botteltjie lewensessens in die badkamer … Bring maar ’n bietjie.”

’n Rukkie later sit Nickey die waslap neer wat sy gebruik het om die sweet van haar ma se voorkop af te vee, kyk af op haar ma. “Hoe voel Ma nou?”

Die antwoord kom met geslote oë: “Bietjie beter, dankie.”

“Probeer slaap, Ma. Ek gaan net die skottelgoed was, dan kom ek weer. Roep as Ma my nodig het.”

Maar dis nie na haar dogter dat sy roep toe sy alleen is nie. Liewe hemelse Vader, moenie dat ek nóú iets oorkom nie! Wat sal van Nickey word? Help my, liewe Heer, dat ek my kind eers deur hierdie ding help! Asseblief! Asseblief!

Toe Nickey ’n rukkie later weer langs die bed kom staan, sien sy dat haar ma tog ingesluimer het. Haar hart krimp van jammerte. Het haar ma maar nog altyd so oud gelyk … of het sy in een enkele dag so verouder? Dis of die dunnerige haartjies witter as gister lyk, of daar van gister af kepe en plooie bygekom het. Plooie van smart … Haar arme ma … Liewe, dierbare, wonderlike, arme Ma …

Sy gaan ook maar later bed toe, maar soos baie nagte wat was en nog sal wees, lê sy met oop oë in die donker.

Ook die moeder, toe sy hoor die bed langsaan kraak en sy weet Nickey het gaan slaap, maak haar oë oop en kyk teen die swart nag vas.

’n Paar huisies verder af in Bokmakieriestraat is daar nog iemand wat nie kan slaap nie. Tant Hessie staan later maar op en gaan maak vir haar tee, vee ingedagte met geëelte hande oor die oliekleedjie op die kombuistafel. Die arme mense … Dat dit die goeie, moedige, Godvresende Marie Buys van alle mense moet wees wat hierdie bitter beker moes kry … Asof dit nie reeds swaar genoeg gaan nie. Hier in Bokmakieriestraat kry almal swaar. Maar vannag besef tant Hessie dat materiële tekort die minste is. Bitter koffie en droë pap maak nie dood nie en ook nie seer nie. Maar die ding wat by Marie-hulle gebeur het, maak dood en maak seer …

En die mooie, slimme Nickey … Dis soveel makliker as dit ’n rykmanskind is wat in daardie slagyster trap. Geld kan baie vermag. Maar as ’n mens die dag nie geld het nie … Dan moet jy maar die lewe vat soos hy kom. Vra vir Hessie. Sy weet. Sy het self haar halfdosyn grootgemaak. Ja, sy moet dankbaar wees dat haar kinders groot en getroud is. Maar haar kommer is nie daarmee oor nie. Sy het ses kleindogters …Ag, ja. Sy staan op. Maar weer gaan probeer slaap. Wat sal dit vir haar help om wakker te sit? Dis nie vir haar om die liewe Heer voor te skryf nie …

Ook Christian Basson slaap nie. Want ook in die gegoede woonbuurte van die stad kan die nag baie lank en baie donker word. As tant Hessie dink dit gaan net in Bokmakieriestraat so, maak sy ’n fout.

Ena Murray Omnibus 30

Подняться наверх