Читать книгу Ena Murray Omnibus 30 - Ena Murray - Страница 7

4

Оглавление

“Ma, asseblief, staan op van die vloer. Ek sal dit doen.”

Marie kyk op na haar dogter. Sy het haar nie vertel hoe ernstig die dokter se bevinding werklik was nie. Maar sy dink Nickey weet.

“My kind, my hart het al die jare gehou. Dit sal nou ook hou. Dis gewoond aan hierdie oefening. As ek gaan stilsit, sal ek regtig doodgaan.”

Maar die borsel en lap word beslis uit haar hand geneem toe Nickey langs haar op die vloer neersak. “Mamma gaan nie meer sulke harde werk doen nie. Ek makeer niks. Ek sal dit van nou af doen.”

Marie kapituleer. Sy wil nie vir Nickey sê dat sy nie werklik probeer het om die reeds blink vloer nog blinker te kry nie. Dat sy eintlik nie aan die vloere vryf was toe sy hier op haar knieë gestaan het nie. Die bewegings was refleksief. Sy het al so baie bo-oor hierdie vloer en hierdie vloerborsel heen met die Here gepraat. Sy was maar net weer besig om met Hom te praat, Hom te vra dat wanneer sy weer voor daardie belangrike man staan, Hy haar die regte woorde in die mond sal lê. En dat Hy haar ter wille van haar kind moet kaal stroop van enige trots …

Soos die moeder, so ook die dogter. Ook Nickey praat met die Here terwyl sy werktuiglik voortgaan om die borsel en lap heen en weer te beweeg. Haar ma wou haar hartprobleem ligtelik afmaak, maar tant Hessie, wat saam met haar by die dokter was, het dit goed gedink om Nickey liewer die hele waarheid te vertel, en sy is haar dankbaar.

In die week wat verby is, het twee dinge vir Nickey die belangrikste op aarde geword: Haar ma en haar kind.

Want so is dit nou maar eenmaal: eers wanneer ’n mens van iemand afskeid moet neem, waardeer jy hom of haar na reg. Dan eers sien jy dié dinge raak wat al die jare reg voor jou oë gelê het en waaroor jy dikwels getrap het. Elke goue dag van samesyn het jy onbenut laat verbygaan, sonder om al die klein dingetjies raak te sien wat jou lewe die moeite werd gemaak het. Die belangrike dinge het onopgemerk by jou verbygegaan, terwyl jy teen die onbelangrike vasgestaar het.

Vandag, op die voorhuisie se vloer, agter die vloerborsel en vloerlap, kyk Nickey terug oor die jare heen … en sien so baie raak wat sy nog nooit raakgesien het nie.

Sy sit vinnig terug, laat die borsel val, lê haar handpalms styf teen haar buik. Dis ’n grootse, goddelike oomblik vir ’n vrou wanneer sy vir die eerste keer lewe in haar voel roer. Op daardie oomblik word sy vennoot in die skepping van die ewigheid.

Spontaan kom lê die gedagte daar: eenmaal, agtien jaar gelede, was dit jy wat geroer het. Was dit Marie Buys se handpalms wat die fladdering van beweging gevoel het. En sedertdien was daardie hande, daardie arms, daardie liefde altyd om jou.

Marie glimlag toe haar dogter die kombuis binnekom.

“Klaar? Ek het ’n bietjie tee gemaak. Kom sit.”

“Ma …”

“Ja, my kind?”

“Ma, hy’t … hy’t nou net geroer.” Twee moeders kyk in mekaar se oë. “Ek kan hom mos nie weggee nie, Ma.” Een paar moederoë wat pleitend in ’n ander kyk. “Asseblief, Mamma!”

Bewende hande soek na die teepotjie. “Ons … ons praat maar later daaroor, my kind.”

Toe die deurklokkie lui, neem dit eers ’n tydjie om by hom te registreer dat daar iemand by die voordeur is. Hy staan van agter sy lessenaar op, wonder suf hoeveel wagtende ure hy die afgelope week al langs die telefoon deurgebring het. Bedags, genadiglik, vereis sy kantoor sy aandag, kom en gaan mense met wie hy belangrike dinge moet bespreek wat vir hom meteens onbelangrik geword het. Onbenullighede, maar nietemin verg hulle sy aandag en breinkrag, móét hy konsentreer op iets anders as dit wat soos ’n golf van pyn saam met sy bloed deur sy are pols. Terence …

Dis van halfses saans dat die lewe vir hom ’n hel word. Dis of hy nie vinnig genoeg sy lessenaar kan bereik nie, nie gou genoeg op die stoel kan neersak nie. En dan, soos ’n hipnotiese mag, trek die telefoon sy oë … en word dit iets meer as plastiek en drade. Dit word die sentrale punt van sy bestaan, die as waarom sy hele lewe wentel. Dit word ’n monster wat hom tot raserny uittart met sy stilte, uur ná uur.

Sy lyk nog kleiner, nog korter, nog gryser as wat hy haar onthou. En Marie Buys herken amper nie die man voor haar nie.

“Meneer …”

“Goeienaand, mevrou. Kom binne.” Hy neem haar selfs aan die elmboog, lei haar na dieselfde stoel waarop sy tevore gesit het. Hy self gaan nie weer soos die vorige keer soos ’n belangrike man agter die lessenaar sit nie, maar neem op die stoel regoor haar plaas.

“Ek is bly u het gekom.” En hy bedoel dit. Ineens besef hy dat hierdie besoek, van al die besoeke wat hy die laaste dae ontvang het, die belangrikste is, dié een is waarop hy gewag het, gehoop het. “Ek wil u om verskoning vra …”

“Dis nie …”

“Dit is nodig. Ek is jammer.”

Sy knik net stom. Hy probeer glimlag, maar dis of sy lippe stram is, die spiere ongeoefen. “Hoe gaan dit met haar?”

“Goed … dankie. Sy is gelukkig baie gesond. Meneer, verskoon my dat ek vra, maar … u lyk nie gesond nie. Was … is u siek?”

“Nee. Ek het onlangs slegte nuus gekry en … dit is ’n spanningsvolle tyd vir my.”

“Ek is jammer om dit te hoor. Daar is seker niks wat ek vir u kan doen nie? Maar as daar is …”

Gloeiende kole … gloeiende kole … “Baie dankie. Daar is iets wat u vir my kan doen, mevrou.”

“Sê net …”

“Bid vir my … asseblief … en vir my kind.”

Stil, wyse oë versag deernisvol. “Ek sal. Ek belowe. Ek het nog elke dag vir Terence gebid.” Maar nie vir hóm nie … nie vir hierdie man wat haar dogter so gruwelik te na gekom het nie, vir haar sonder hulp en raad die straat ingestoot het. Marie Buys sit verslae, die wete so verblindend in haar dat sy van alles om haar vergeet, selfs van die man oorkant haar: Dan is dit die rede hoekom Hy hierdie swak hart nog laat aanhou klop. Nie ter wille van Nickey nie. Want vir Nickey is sy plan klaar uitgewerk. As sy weg is, dan is Hy nog altyd daar om na Nickey om te sien. In verwaande blindheid het sy gedink God keer die dood van haar af omdat sy eers haar dogter moet help, eers moet toesien dat haar kind se voete op ’n pad kom waarop sy kan aanstap. En al die tyd was dit om haar eie ontwil dat Hy haar spaar. Want sy was nog nie gereed vir sy hemel nie. Sy moes nog eers leer om haar vyand lief te hê, om vir hom te bid. “O, meneer, ek belowe ek sal u elke dag in my gebed onthou.”

Hulle glimlag teenoor mekaar, en hy leun vorentoe en neem haar hand in syne. Spontaan krul hul vingers om mekaar s’n. “Dankie.” Hy sit weer terug, en hierdie keer is daar geen hardheid, geen vyandigheid in sy oë toe hy na haar kyk nie. “Ons moet oor Nickey gesels.”

“Ja.”

“Goed. Praat u eerste. Ek luister.”

“Nickey …” Sy aarsel eers. Het sy nie so pas daaraan gedink dat die Vader haar kind se lewenspad uitwerk en nie sy as moeder nie? Maar sy het vandag hierheen gekom omdat sy besluit het wat die beste vir haar kind én haar kleinkind gaan wees: Nickey moet die baba afgee vir aanneming. Dan kan sy weer haar lewe hervat. Hierdie ongelukkige gebeurtenis sal later in haar lewe net ’n ongelukkige tussenspel in haar jeug wees. Dis ook hoekom sy vandag weer op hierdie stoel in hierdie vertrek sit: Sy het Christian Basson kom vra om, as daar iets met haar gebeur, toe te sien dat Nickey van haar kind afstand doen; dat die plan wat sy vir haar en haar kind opgestel het, uitgevoer word. Maar nou. Sy het God op haar knieë gevra om vandag die regte woorde in haar mond te lê. Sy het ook gevra dat Hy haar sal stroop van alle trots en eiewaan. Dit het Hy reeds netnou gedoen toe Hy haar gewys het sy is nie die opregte Christen wat sy nog altyd gedink het sy is nie – nog nie – só ’n goeie kind van God dat sy al die hemel kan ingaan nie. ’n Minuut gelede het Hy haar nog ’n tekort in haar geesteslewe getoon; haar gewys hoekom haar moeë hart nog klop. Want hoe kan sy, wat nog nooit gebid het vir die man wat haar so beledig het nie, ’n plekkie in sy hemel verwag – by Hom wat nie net gebid het vir hulle wat die spykers ingekap het nie, maar selfs vir hulle gesterf het?

Hy het die een deel van haar bede verhoor. Die ander deel … die regte woorde in die mond …

“Nickey wil nie haar baba vir aanneming afgee nie. Sy wil hom behou.” Sy swyg, vra nie dat Christian Basson haar moet help om Nickey tot ander insigte te bring nie. Sy wag op die regte woorde …

“Ek is bly sy het so besluit.” Sy kan hom net aanstaar, en hy vervolg met sy blik op hare: “Want miskien is dit al wat ek van my seun gaan oorhou – sy kind. Terence word al vir tien dae vermis aan die grens.”

“Nee!”

Hy knik. “Dis iets wat ek my grootste vyand nie toewens nie. Die onsekerheid maak jou mal. Jy wens een oomblik hulle moet bel en liewer vir jou sê jou kind is dood, dan weet jy. En as die telefoon lui, is jy bang om te antwoord, want miskien bel hulle om jou in kennis te stel dat hulle sy lyk gekry het. Dan verkies jy weer die onsekerheid, want solank dit nie gefinaliseer is nie, kan jy hoop. As hulle eers gesê het jou kind is dood, dan weet jy hy sal verseker nie weer huis toe kom nie.” Hy sien die nattigheid in haar ooghoeke, en vir die eerste keer sedert die onheilstyding gekom het, is daar ook ’n klamte in sy oë … En dit maak nie saak dat die vrou uit Bokmakieriestraat sien dat Christian Basson ook kan huil nie.

Dis haar hand wat nou spontaan na syne uitreik, en so word Marie Buys se gebede een vir een verhoor. Sy het gebid om ’n hand wat sy kan vashou, oë wat saam met hare kan huil …

“Sê vir haar … sê vir Nickey sy kan haar kindjie behou. Sê haar ek vrá, ek sméék haar om hom nie weg te gee nie.”

Marie Buys maak haar oë toe. Die regte woorde …

“Ek sal haar sê.”

Hy wil haar huis toe neem met sy motor, maar sy wys die aanbod beslis van die hand. Nee. Hy kan nie ’n minuut van die telefoon af weg wees nie. Netnou bel hulle …

Eers toe sy op die bus sit, dink sy daaraan dat sy hom toe nie vertel het, soos sy van voorneme was, van die toestand van haar hart nie, en dat Nickey en haar baba enige dag skielik alleen agtergelaat kan word nie. Maar sy glimlag teen die ruit vas. Dit maak nie meer saak nie. Daar was soveel belangriker woorde om te uiter … die regte woorde.

Tant Hessie kyk verlig op toe Marie in die deur verskyn. Dank die Vader sy is veilig terug! Nickey is al rasend van kommer, en het die ou vrou sonder skroom verwyt: “Maar hoe kon tant Hessie haar alleen laat gaan het? En waarheen is sy? Dis al donker! Kyk daar! Waarheen is sy?”

“Kind, ek weet nie. Ek sê jou mos! Sy het my net kom sê sy het ’n belangrike afspraak en as jy na haar soek, moet ek jou net sê sy sal nie laat wees nie. Jy moet jou nie bekommer nie.”

“Maar tante wéét haar hart …”

“My hart sal gaan staan wanneer die liewe Heer dit so besluit, Nickey,” sê Marie van die deur se kant af. “En Hy sal ook besluit wáár dit sal gebeur.”

“Ma! Waar wás Ma? Dis al donker! O, Mamma, ek was so bekommerd …”

Marie Buys hou haar dogter ’n oomblik teen haar vas, glimlag oor haar skouer vir tant Hessie. En tant Hessie se ogies trek verwonderd saam. Daar het iets met Marie gebeur. Sy lyk so kalm, so gelukkig, en dis amper asof daar ’n vreemde gloed op haar gesig is.

“Wáár was Ma?” hou Nickey vol.

“By Terence se pa – Christian Basson.”

Nickey kyk haar ma verwonderd aan. “Maar Ma het gesê …”

Weer die vreemde, stil glimlag. “Ek weet, my kind. Ek het so baie verkeerde dinge die laaste tyd gesê.”

“Ma?”

“Ek het ’n boodskap van hom vir jou, Nickey. Hy het gesê: sê vir Nickey ek vrá haar, ek sméék haar om nie haar kindjie weg te gee nie.”

“Ma!”

Dan verstil Marie se glimlag effens maar verdwyn nie heeltemal nie, want sy het op hierdie dag so baie lesse geleer, só baie ou waarhede herontdek. Een daarvan is dat God se weë die beste is, sy besluite die regtes. “Daar is nog iets wat jy moet weet. Dis nie goeie nuus nie, my kind.”

“Ja?”

“Terence word vermis.” Sy hou haar dogter se geskokte blik gevange. “Tien dae al.”

Met elke dag wat verbygaan, begin die vlammetjie van hoop al laer brand. ’n Oorvol werksprogram keer dat Christian sy voorneme uitgevoer kry om ’n besoek aan Bokmakieriestraat te bring. En dan, wanneer hy tog tot ruste kom, kan hy homself nie weggeskeur kry van die telefoon nie. Soos die dae die een ná die ander verbygaan, word dit al dringender dat daardie telefoon moet lui.

“Sal ons nie weer probeer uitvind nie?”

“Hy het belowe hy sal dadelik vir ons kom sê sodra daar enige tyding is,” antwoord Marie en gaan rustig voort met eet. Die rustigheid wat oor haar neergedaal het daardie dag in Christian Basson se studeerkamer, het gekom om te bly. Natuurlik is Terence ook pal in haar gedagtes, maar selfs nie eens dit kan die vrede wat alle verstand te bowe gaan – soos Paulus dit uitgedruk het – versteur nie. Want in hierdie dae loop Marie Buys rond met ’n hart wat oorloop van dankbaarheid. Getrou kom sy haar belofte en die bevel na: Elke dag, hoeveel kere, bid sy vir Christian Basson en sy seun. En elke dag word dit vir haar duideliker hoekom Hy daardie bevel gegee het. Want hoe kan jy bly haat as jy vir iemand bid? Sy ontdek ook in hierdie late uur van die dag dat as jy vir jou vyand bid, hy ’n vriend word. En dis wat sy weet dat Christian Basson vir haar geword het: ’n vriend wie se hand sy kan vashou, wat saam met haar kan huil. Maar nog meer: ’n vader vir Nickey … en ’n oupa vir haar kind. Nickey sal nie alleen wees wanneer haar ma die dag opgeroep word nie. En Terence … Daar waar hy is, ken God elke klip en bos. Hy het dit dan gemaak. Hy weet waar Terence hom bevind … en Hy weet ook hoekom …

Dis twee dae later dat Christian die nuwe antwoordmasjien agterlaat om die telefoon alleen op te pas en na Bokmakieriestraat gaan soek. Hy het ’n behoefte om weer met Marie Buys te praat en om Nickey te ontmoet, met sy oë te sien dat Terence ’n saad agtergelaat het wat sal voortlewe, al kom hy miskien nie terug nie.

Dis Nickey wat die deur vir hom oopmaak, en hy sien alles wat hy wou sien, en ’n stilte daal in hom neer. Terence se kind …

“Ek is Christian Basson.” Sy kan hom net aankyk, en hy glimlag. “Hallo, Nickey. Ek is so bly dat ons eindelik kan ontmoet.” Hy sien die angstige vraag wat deur die verdwasing in haar oë skyn terwyl sy steeds stom voor hom bly, en hy skud sy kop ontkennend. “Nee. Daar was nog geen verdere tyding nie. Ek het sommer net gekom … kom hoor hoe dit gaan.”

Dan kry sy haar stem terug. “Ma … Sy’s vanmiddag hospitaal toe. Haar hart … Ek is juis besig om reg te maak om haar te gaan besoek.”

Hy frons bekommerd. “Ek is baie jammer om daarvan te hoor. Ek sal jou neem.”

“Dis nie …”

“Natuurlik neem ek jou met die motor.”

“Dankie. Dis baie gaaf van u. As u my net ’n oomblik sal gee …”

“Seker.”

“U kan solank binnekom.”

“Dankie.” Hy is veronderstel om onvanpas te lyk daar in die klein voorhuisie met sy duur pak klere en sy deftige das. Maar hy is tog nie. Hy gaan sit en kyk om hom rond met deernis en waardering.

Op pad hospitaal toe is dit stil tussen hulle, maar vreemd genoeg is dit nie ’n gespanne stilte nie. By die hospitaal word net een persoon op ’n keer by Marie Buys toegelaat. Vanselfsprekend druk Christian vir Nickey vorentoe. “Ek sal wag. Sê groete vir haar.”

Sy lyk so klein en bleek en amper-vreemd in die wit bed.

“Ma …”

Marie se oë gaan oop, glimlag vir haar.

“Hoe gaan dit?” Sy fluister amper.

Die kop knik. Dit gaan goed.

“Ma, Ma sal nooit raai wie’t my hospitaal toe gebring nie. Hy staan hier buite en laat weet baie groete vir Ma. Ja, Terence se pa. Hy het vanaand net voordat ek die bus wou haal, daar aangekom. Nee. Daar is nog geen verdere tyding nie.”

“Nickey …”

“Ja, Ma?”

“Roep hom.”

“Vir meneer Basson? Goed, ek sal. Dan wag ek buite. Hulle wil nie meer as een gelyk hier toelaat nie.” Buite die gang glimlag sy na hom op, en die gedagte flits deur hom: Hoe kan ek Terence regtig verkwalik? Sy is ’n pragtige kind! So ongekunsteld nog. “Ma roep u. Ek sal wag.”

Hy kom langs die bed staan. Hulle glimlag vir mekaar en reik mekaar spontaan die hand.

“Ek is bly jy het gekom.”

“Ek ook. Maar ek sou u liewer in Bokmakieriestraat wou besoek het. U moet gou gesond word.”

Sy laat dit sonder kommentaar verbygaan en kyk na hom op. “Jy sal vir Nickey sorg?”

“Natuurlik.”

“En vir ons kleinkind?”

Ons kleinkind … “Ek sal hulle albei oppas soos my kosbaarste besitting.”

Hierdie keer is daar nie trane nie. Vir een van hulle is die laaste trane op aarde klaar gestort. “Dankie. God seën jou.”

Nickey weet onmiddellik iets ernstigs het gebeur toe hy skielik in die deur verskyn. ’n Terugslag … Hy kom by haar staan, slaan sy arm om haar terwyl mediese personeel vinnig heen en weer beweeg. Dan staan daar ’n man in ’n wit jas voor hulle en hy sê iets … iets wat nie wil registreer nie … iets wat nie waar kan wees nie. Sy voel sy word in die gang af getrek.

“Nee. Ek wil haar eers weer sien.”

“Nie nou nie. Later. Jy kan haar nie nou sien nie. Kom. Ons gaan maar eers huis toe.”

Dis in Bokmakieriestraat se voorhuisie dat die waarheid en die werklikheid tuisgebring moet word.

“Ma … Wat het daardie dokter gesê …?”

“Nickey …” Die woorde wil nie kom nie.

“Sy het net ’n terugslag gehad, nè? Sy … hulle sal haar kan help, haar weer gesond maak, nè? Mamma is nie … sy sal nie …”

“Sy is dood, Nickey …” Hy sluk swaar. “Sy is dood, kleintjie.”

“Maar sy kan nie wees nie! Dit kan nie … Ons het … ons het nie eens gegroet nie … Ek wou nog weer ingaan, vir haar nagsê … En, en … daar is nog so baie goed wat ek vir haar moes sê … belangrike goed … Sy kán nie dood wees nie!”

Dis toe sy hande na haar reik, haar teen hom vastrek, dat die besef deurdring, en sy gryp sy baadjie voor vas en skud haar kop wild heen en weer.

“Ek moes nog vir haar sê dat ek jammer is en dankie sê … Ek wou dit nog altyd vir haar sê … eendag wanneer die geleentheid kom …”

Hy hou haar teen hom vas, só vas dat hy haar ronding teen hom voel aandruk, en sy stem is teer. “Vertel my wat jy vir haar wou sê.”

“Dat … dat sy … dat sy die wonderlikste ma op aarde is. Dat daar nie nog so ’n ma op aarde is nie. Ek wou nog altyd dankie sê … vir alles … alles deur die jare … Vir daardie kere wat sy droë pap geëet het sodat ek melk oor my pap kon hê … En vir die ure wat sy sit en stop het aan haar onderklere sodat ék ’n nuwe kerkrokkie kon hê … En vir die liefde en die sorg, die baie koue nagte wat sy moes opstaan om my te versorg … die baie ure wat sy by my bed gesit het wanneer ek siek was …”

Bokant haar kop sluit hy sy oë asof hy in pyn verkeer, maar hy moedig haar met sagte stem aan: “Wat nog?”

“En die lang maande wat sy Pappa so getrou versorg het … dat sy hom so mooi opgepas het tot op die end … En ek wou dankie sê dat ek nooit nodig gehad het om my vir haar te skaam nie … en dat ek jammer is dat ek nie ’n beter dogter vir haar was nie … Jammer dat ek, toe haar hare al grys was, haar hart deurboor het … O, Here! Here! Bring haar net vyf minuutjies terug sodat ek haar net kan sê ek is jammer en dankie, dankie vir alles!”

Ena Murray Omnibus 30

Подняться наверх