Читать книгу Ena Murray Omnibus 34 - Ena Murray - Страница 5
Оглавление2
In die dae wat volg, kry Erika dit byna reg om te vergeet van die brief, en selfs ook van die bottel. Dit het baie gehelp om die bottel met die adres nog steeds onaangeraak daarin agter in die hangkas weg te sluit. As sy dit nie heeldag onder oë het nie, sal dit haar help om van haar dwaasheid te vergeet, het sy gedink, en dit hét in ’n mate gehelp.
In ’n mate . . . Maar soms, snags, wanneer sy met ’n onverklaarbare gevoel van onrus in haar wakker word, het sy oor en oor haar eie brief in haar gedagtes gelees, en dan het die nagmerries haar gery. Benewens alles wat daarin gesê is – dit het haar in die donker laat bloos – is sy ook nie seker of haar Engels oral korrek was nie. Uiteraard moes sy die brief in Engels skryf. Geen mens sal tog seker op die Comore Afrikaans verstaan nie. Plaas sy dit maar tog in haar eie taal geskryf het, dan sou die ontvanger gelukkig nie kop of stert daarvan kon uitmaak nie. Maar miskien verstaan hy, of sy, ook nie Engels nie. Mnr. Collins het mos gelees dat Frans die amptelike taal van die eilandgroep is en dat die mense ’n brousel van Arabies en nog ’n swart taal in die omgang gebruik.
Intussen gaan die een dag na die ander verby, en tot haar verbasing geniet sy hierdie vakansie by die see wat sy op so ’n eienaardige manier bekom het. En vreemd, haar gedagtes wil nie terugdwaal na die persoon wat dit vir haar gegee het nie. Net so een of twee keer het sy, wanneer sy op een van haar lang alleen-wandelinge langs die see is, gewonder wat hy nou doen . . . en of hy op ’n ander plek langs die Suid-Afrikaanse kus besig is om ’n werklike wittebrood te hou. Maar selfs hierdie gedagte kon nie die ou intense pyn in die hart opwek nie. Dis of, met die uitstorting van al haar gevoelens jeens daardie onbekende biegvader of -moeder, die intensiteit daarvan ook verdwyn het. Daar is steeds ’n leë gevoel in haar, ’n gevoel dat die lewe haar deur Japie Basson ’n vuil streep getrek het, en tog het sy begin besef dat die lewe nie daarom tot stilstand gekom het nie, dat sy daarmee sal kan saamleef en anderkant uitkom. Japie Basson is nie al mansmens op die aardbol nie. Bowendien is sy nog nie so diep agterop die rak geskuif dat sy op twintigjarige ouderdom nie weer iemand sal raakloop van wie sy sal hou en wat vir haar sal kans sien nie. Feit bly, solank daar Japies op die aardbol rondloop, staan selfs sy ’n kans om tog eendag op ’n regte wittebrood te gaan. Maar nie gou nie. O nee, volgende keer sal sy die kat eers goed uit die boom kyk.
Sy glimlag by haarself. Sy kan hom amper jammer kry, die ander Japie nou, wat eendag op haar pad sal kom. Hy sal getoets word, dis seker. Jy gaan bars, belowe sy die onbekende Japie, en lag dan hardop. Jy moenie dink ek sal weer so ’n gek wees om een sent van my swaarverdiende geld op ’n huweliksbootjie te spandeer nie. Jy sal vir die laaste ding betaal – tot vir my trourok. Dan sal jy twee keer dink voordat jy my drie weke voor die troue in die vlug los; weer ’n keer dink voordat jy my alleen op ’n wittebrood stuur met ’n leë drankbottel as bruidegom.
Sy glimlag suur. Ditsem! Dis soos ek met jou sal werk! Maar weer ’n gek van myself maak . . .
Mev. Collins staan haar duidelik en inwag toe sy by die hotel terugkom, en haar gesig vertel Erika dat sy baie opgewonde is oor iets. Wat op aarde . . .
“Kyk hier, kind. Kyk wat het hier vir jou aangekom!” Sy hou die koevert omhoog. “ ’n Brief uit die Comore!”
Erika frons, staan en kyk net daarna. O nee! Wat het die mens besiel om te antwoord? Hy, of sy, was nie veronderstel om op daardie belaglike brief van haar te reageer nie!
“Toe, kind! Maak oop! Ek kan nou sterf van nuuskierigheid!”
Sy het geen keuse nie. Sy moet die koevert oopskeur, terwyl mev. Collins ewe hans langs haar stelling inneem om saam met haar die brief van die onbekende korrespondent te lees.
“Genugtig! Dit lyk baie belangrik! Kyk die briefhoof,” beduie die ouer vrou, en net baie vlugtig kyk Erika na die goudgedrukte adres met ’n klomp vreemde woorde waarvan sy g’n snars verstaan nie. Toe sak haar blik laer en, in die korrespondent se eie handskrif, lees sy verder:
Dear Miss Hough . . .
Met toenemende misnoeë lees sy reël na reël en wens terselfdertyd die aarde wil onder haar oopskeur en haar met brief en al insluk.
Sy word opreg bedank vir haar skrywe en die moeite wat sy gedoen het om op die adres in die bottel te reageer.
Die volgende paragraaf laat haar wens dat die nuuskierige mev. Collins ook skielik in ’n gat in die aarde moet verdwyn.
Haar jong lewe, so staan daar, was blykbaar tot dusver nie juis ’n groot vreugde nie, te oordeel na wat sy so vertroulik meegedeel het – iets wat weer eens baie hoog gewaardeer word. Sy word verseker daarvan dat dit ook met die hoogste respek en grootste geheimhouding gehanteer sal word.
Erika voel ’n blos van ergernis oor haar wange spoel, intens bewus van mev. Collins se vinnige sydelingse blik. Hoe durf die mens eens net daarna verwys! As hy, of sy, enigsins goeie maniere gehad het, sou hy, of sy, nie na die patetiese inhoud van haar brief verwys het nie. Maar . . .
Sy lees voort.
Aangesien sy nou wel met vakansie is, word die vrymoedigheid geneem om haar te nooi vir ’n vakansie op die Comore. Dis net wat sy nodig het om haar teleurstelling te bowe te kom. Alle koste sal deur die korrespondent betaal word, natuurlik.
“ ’n Vakansie op die Comore! En dit verniet! O, jou gelukkige kind!”
Sy deel nie mev. Collins se verrassing en vreugde nie.
“Die mens is mal,” sê sy bondig. “Wat van my werk? Ek het nog net veertien dae oor, dan moet ek terug.”
Teësinnig lees sy verder, en, asof die skrywer die trant van haar gedagtes vooruit kon peil, kom die volgende:
Indien sy dit nie gereël kan kry om langer verlof by haar werkgewer te kry nie, hoekom dan nie summier bedank nie? Goeie sekretaresses kry altyd weer werk.
“Ek is g’n sekretaresse nie. Ek is ’n doodgewone tikster,” antwoord sy kliphard terug.
Mev. Collins is nou opreg ontsteld.
“Erika, jy kan nooit so ’n kans deur jou vingers laat glip nie! Jy sal nooit weer so ’n kans in jou lewe kry nie. Om na die Comore toe te gaan, en dit nog op ’n ander se koste. Genugtig, jy moet mal wees. Bedank sommer vandag nog jou werk en laat weet die man dadelik jy kom.”
Sy kyk mev. Collins openlik ontevrede aan. “Dis die persoon wat hierdie aanbod doen wat mal is, nie ek nie. Geen normale mens by sy volle positiewe nooi wildvreemde meisies na verre eilande nie.” Sy frons. “Is dit ’n man?”
Mev. Collins skud haar kop. “Ja. Daar staan sy naam oop en bloot onderaan geteken. Ek kyk altyd eers van wie ’n brief kom voordat ek dit begin lees.”
“O.” Erika kyk af na die onderpunt van die bladsy en sy lees: Yours faithfully, Philippe Jacques de la Buscagne. Sy trek haar asem in. Dit is sowaar ’n man wat haar na verre eilande nooi!
Mev. Collins is diep beïndruk met die lang Franse naam wat nie een van die twee eintlik weet hoe om reg uit te spreek nie. “Hy klink na ’n baie belangrike man. En hy moet ryk wees . . . skatryk om jou sommer ’n vakansie op sy koste aan te bied. Dit sal hom seker goed ’n paar duisend uit die sak jaag.”
Erika frons skerp. “Hy mag so belangrik wees as wat hy wil en so stinkryk as wat kan kom, maar mal móét hy ook wees . . . en ek gaan kuier nie vir mal mense nie, dankie.”
“O, Erika!” Dit lyk of mev. Collins van skok en teleurstelling kan huil.
“Maar dit is so, mevrou. Of hy moet dink ék is mal,” en in haar enigheid voeg sy nog by: Wat ek hom ook nie juis kan verkwalik nie. ’n Vroumens wat aan ’n wildvreemdeling haar hele lewe so kon oopspalk, móét mal wees. Geen wonder hy dink sy sal sy aanbod sluk nie. Wel, meneer Hoe-se-naam, so mal is ek darem nog nie.
“Natuurlik droom ek nie eens daarvan om hierdie aanbod te aanvaar nie. ’n Mens bestee nie duisende rande sonder om iets in ruil te verwag nie. Ek is nou wel nog maar net twintig, maar ek is darem nie heeltemal onnosel nie.”
Mev. Collins kyk haar met groot oë aan. “Jy bedoel . . .?”
“Ja. Ek sê u, hy is ’n lawwe ou man wat sy kans gesien het om ’n jong meisietjie alleen op ’n eiland te kry. Net wat ek nou nodig het? Hmpff! Hy bedoel dis net wat hý nodig het. Hy moet maar nog ’n bottel in die see gooi. Hierdie vissie gaan nie aan die aas byt nie.”
Die ouer vrou se stem is die ene teleurstelling. “Ja, ek het nou nie só daaraan gedink nie. Dit het aanvanklik so opwindend, so romanties geklink . . .”
Erika lag grimmig. “Sulke dinge gebeur in storieboeke en in rolprente, nie met gewone mense nie, en ek is ’n baie, baie gewone mens. Die arme ou ding. Wonder wat het hy gedink gaan daar anderkant by hom aanland . . . mejuffrou Suid-Afrika? Moet ook maar bra verleë wees as hy voetstoots wil koop.”
Mev. Collins is verward. “Waarvan praat jy?”
“Dis waarop dit neerkom, mevrou. Hierdie ou man is eintlik besig om my te koop, of so dink hy altans, sonder dat hy eens die vaagste benul het hoe ek lyk. Ek kan ewe-goed skeel oë, bakbene en ’n glasoog hê, maar al waarin hy belangstel, is dat ek twintig is, en my seks is reg.”
“O, Erika, ek weet darem nie . . . Jy beskuldig dalk die man . . .”
“Ons sal sien. Ons sal sien.”
“Wat gaan jy doen?” wil mev. Collins nuuskierig weet.
“Doen? Niks.”
“Niks? Maar . . . hy sê uitdruklik in sy brief jy moet onmiddellik reageer sodat . . .”
“Sodat hy solank die hut van pale en palmtakke kan bou tussen die appelbloeisels en jasmyn,” borduur Erika nou oordrewe. “Laat hom maar bou. Hy kan vir hom ’n orangoetangwyfie in die bos gaan vang.”
Mev. Collins is bekommerd en ook baie teësinnig om af te sien van haar romantiese droompie wat sy om die brief geweef het. “Jy kan darem net daarop antwoord. Dis tog niks anders as goeie maniere nie. Wys dan maar sy aanbod vriendelik van die hand, as dit dan so moet wees. Maar om sommer net stil te bly ná so ’n aanbod . . . Nee, Erika, ek is seker jy is beter grootgemaak as dit.”
Erika kyk die vrou vas aan. “Ja, ek ken my maniere, mevrou Collins. Maar ek is nie daaraan gewoond om deur lawwe ou mans vanaf die ander kant van die aardbol lastig geval te word nie, daarom sal ek maar net swyg.”
“Maar, kind, wie sê vir jou . . .?” protesteer sy nog vir laas en Erika antwoord driftig:
“Niemand hoef my iets te sê nie. Instink vertel my hier is ’n slang in die gras, en dis ’n ou slang met baie slinkse planne. ’n Maer, ou slang wat lus voel vir ’n sagte, jong prooitjie en die vermetelheid het om te dink daardie sagte, jong prooitjie sal sommer binne-in sy bek in stap. Hy is baie laat!”
Daar is iets bitters in die jong stem, wat mev. Collins maar verder laat swyg en teleurgesteld na die kantoortjie laat wegdraai.
Sy weet nie dat Erika nou die tweede stadium bereik het nie. Die eerste stadium is verby, dié van trane en hartseer en die gevoel van verskriklike vernedering. Die tweede stadium vind Erika baie makliker hanteerbaar. Bitterheid. Hardheid. Hulle is almal eners, die mansgeslag, raas sy sonder gehoor voort toe sy haar kamer bereik. Almal uit een patroon gesny! Vals, almal bedrieërs! Japie staan op troue met haar, maar vry ’n ander vrou vir hom los. En nou hierdie ou man wat, met die lokaas van ’n vakansie op tropiese eilande, haar vir sy eie doeleindes daar wil kry. Mansmense! Sy is klaar met hulle! Voordat sy weer toelaat dat sy by een van daardie geslag betrek word, gaan koop sy liewer vir haar ’n pofadder en maak hom mak.
Natuurlik bereik die nuus van die brief uit die Comore mnr. Collins se ore, en sy nuuskierigheid ook maar geprikkel, mansmens of nie, steek hy sy vrou op om die brief by Erika te kry sodat hy dit ook kan lees.
“Hoekom?” wil Erika reguit weet en mev. Collins skram weg van ’n direkte antwoord:
“Ag, kind, dis sommer net interessant, dis al. En hy het gevra of hy die seël op die koevert vir sy seëlversameling kan kry, asseblief.”
“Hy kan die hele brief kry,” laat Erika hoor en haal dit uit die spieëltafel se laai waar sy dit ergerlik ingegooi het.
’n Rukkie later klop mnr. Collins egter self aan Erika se kamerdeur. Sy vrou het hom vooraf gewaarsku dat hierdie jong dame nie maklik tot ander oortuigings gebring sal word nie, maar hy voel tog verplig om ná die lees van die brief ’n paar sakies aan haar uit te wys. Die kind is jonk en voortvarend, en as gevolg daarvan het baie jong mense al wonderlike kanse in die lewe verbeur.
“Ek begryp dat jy die man nie vertrou nie, Erika. Dit is ’n buitengewone aanbod wat hy maak, ongewoon rojaal, en dit aan ’n wildvreemde meisietjie. ’n Mens kan skepties voel oor sy goeie bedoelinge. Maar het jy al daaraan gedink dit kan dalk net wees presies soos dit in die brief staan? Ek lei af dat jy heelwat van jouself in jou brief vertel het, nie waar nie?”
Sy kyk weg. “Ja. Maar . . . maar ek het nie gedink ek sal ooit ’n antwoord daarop kry nie, anders sou ek dit nooit gedoen het nie.” Sy vang haar onderlip vas. Deksels! Wat torring die mense so aan haar! “Ek wou maar net sommer ’n bietjie gesels met iemand . . .”
Daar is begrip in sy oë. Hy het ’n sterk vermoede wat dit is waarvan hierdie jong meisie ontslae wou raak teenoor iemand vir wie sy nie bang of skaam hoef te voel nie. Op ’n dag het hy ’n vreemde oproep met ’n vreemde versoek gekry. Die dubbelkamer wat vir ’n maand vir mnr. en mev. Basson bespreek was, is gekanselleer. Maar die versoek was daarby dat die bespreking na ’n enkelkamer verskuif word, en dat die deposito dan daarvoor sal wees, want ene mejuffrou Hough sal daarvan gebruik maak. Hy het die man tegemoetgekom en sy vermoedens is bevestig toe mej. Hough die dag by die hotel aankom. Die mnr. en mev. Basson se huweliksplanne het skeefgeloop en mej. Hough het maar op haar eie met vakansie gekom. Sy het gelyk soos hy verwag het ’n meisie sal lyk wat so te sê voor die kansel verlaat is. Gelukkig het die veertien dae hier al ’n groot verandering teweeggebring. Hy het natuurlik die storie nie vir sy vrou vertel nie. Ervaring het hom geleer dat sy liefs nie alles van sy sake hoef te weet nie, maar hy was bly om te sien dat sy vrou se lekker kos en die see en son die bedroë meisie goed gedoen het. Sy lyk vandag sommer al weer piekfyn en hy gun haar die kans om na die Comore toe te gaan.
“Daarmee skort niks nie, my kind. Ons het almal soms iemand nodig teenoor wie ons kan uitpraat, maar om altyd die regte persoon te kry, is soms ’n probleem. Miskien soek die skrywer van hierdie brief ook maar net iemand om mee te praat, en aangesien jy hom met die besonderhede oor jou lewe vertrou het, sien hy dalk in jou daardie mens.”
Erika kyk hom onseker aan. Dit was ook haar eerste gedagte toe sy die adres in die bottel gesien het: Dis iemand wat eensaam is, soos sy. Hoekom dan anders ’n bottel met ’n adres in die see gooi?
“Maar ek kan tog nie hierdie aanbod aanvaar nie, al is daar ook geen bybedoelings nie,” skerm sy. “Dis . . . onbehoorlik om sommer op die uitnodiging van ’n wildvreemde man na ’n onbekende eiland te gaan. Dit word net nie gedoen nie!”
Mnr. Collins glimlag. Hy begin weer hoop kry vir vandag se jeug.
“Ek stem met jou saam, en as ek die skrywer van hierdie brief reg opsom, sal hy jou standpunt insien en respekteer. Maar om sommer net stil te bly, hom te ignoreer . . .”
Erika pers haar lippe opmekaar. “Goed. Ek sal vir hom skryf en bedank vir sy vriendelike aanbod. Maar ek gaan dit nie aanvaar nie.”
“Dis goed so. Wie weet, Erika, dalk vind jy nog in hierdie man ’n wonderlike korrespondent en vriend en beland jy tog op ’n dag op die Comore, of hy hier in Suid-Afrika. Bring hom dan gerus hierheen dat ons hom ook kan ontmoet.”
Sy sug hardop en moedeloos toe mnr. Collins verdwyn. Hy is net so ’n romantikus soos sy vrou! Sy kyk teësinnig op die brief af wat al weer terug op haar spieëltafel beland het. Sy sal maar ’n paar reëls moet neerkrap, anders sal die Collinse haar nooit met rus laat nie. Teen die tyd dat hy weer kan antwoord, sal sy al terug wees in die stad. Dan kan hulle maar met die korrespondensie voortgaan.
Maar sy het haar met haar tydsberekening vergis. Briewe na die Comore neem glad nie so lank soos sy gedink het nie. Feit bly, daar is ’n weeklikse vlug van Suid-Afrika oor Malawi na die Comore. Haar bedankingsbrief, soos sy daaraan dink, bereik sy bestemming binne ’n paar dae nadat dit gepos is, en nadat dit gelees is – hierdie keer ’n afsydige, koel, formele brief van ’n paar reëltjies, so anders as die eerste – besluit die leser anders as wat Erika gereken het hy sou doen. Hy tel nie weer die pen op nie, maar die telefoon.
Hierdie keer staan en wag mev. Collins nie totdat sy eers terug is by die hotel nie. Nee, sy soek Erika op die strand totdat sy haar kry.
“Genugtig, kind, ek is stokflou! Waar bly jy so lank weg?”
Erika kyk haar verbaas aan. “Wat maak dit saak? Ek is met vakansie.”
“Maar daar was ’n oproep vir jou.”
“ ’n Oproep vir mý?” Sy voel haar hart ruk. Daar is net een mens wat weet waar sy haar bevind . . . En hoekom sal Japie haar nou skielik bel? Om te hoor hoe sy haar “wittebrood” geniet . . . of omdat die nuwe nooi hom onder sy jis geskop het? Sy hoop dis laasgenoemde.
“Ek weier om enige oproepe te ontvang. Ek wil met niemand praat nie.”
“Maar jy kan nie weier nie. Die man bel van ver . . .”
“Hy kan van die ander kant van die aardbol af bel, ek sal nie met hom praat nie. Wanneer het hy gebel? As hy weer bel . . .”
“Hy het nog nie gebel nie. Hy moet nog bel. Die sentrale het net laat weet jy moet vanmiddag om vieruur die oproep verwag . . .”
“Ek is nie vieruur by die hotel nie.”
“Ag, genugtig tog, kind! Moet tog nie so ongeskik wees nie. Dink net wat kos ’n oproep van die Comore af, en jy wil nie . . .”
“Dis sy saak as hy sy geld wil mors. Wat? Ekskuus? Waar . . . waarvandaan kom die oproep?”
“Van die Comore af. Die sentrale het gesê daar is ’n persoonlike oproep vanaf die Comore vir mejuffrou Erika Hough bespreek vir vanmiddag vieruur, Suid-Afrikaanse tyd. Ek het toe gesê ek sal die boodskap gee en jy sal daar wees.”
Erika voel haar hart bollemakiesie slaan. Ag nee tog! Nie dit ook nog nie!
En mev. Collins staan en trippel van opgewondenheid. Mens sou sweer dis sý wat Comore toe genooi is en vir wie die oproep is.
Sy babbel opgewonde voort:
“Ek het die sentrale toe gesê hulle moenie die oproep deursit na die hotel se tiekieboks nie, maar na ons nommer in die kantoor. Daar sal jy privaatheid hê.”
Soveel privaatheid as wat ’n mens kan hê met twee nuuskierige ore soos dié van haar gasvrou, dink Erika met wrewel. Vir wat bel die man? Hoekom skryf hy nie liewer nie? Dis baie goedkoper. Ryk of nie ryk nie, mens mors nie geld so nie!
Natuurlik het sy nie ’n kat se kans om daardie middag haar oproepafspraak nie na te kom nie. Die twee Collinse draai soos broeis hoenders om haar rond, en as dit net lyk of sy koers wil kry na ’n buitedeur, kom die waarskuwing: “Jy kan nêrens heen gaan nie. Onthou die oproep!”
Tien minute voor vier doen mev. Collins haar geleide na die kantoortjie en laat Erika op die stoel agter die lessenaar neffens die telefoon sit. Sy self neem sommer op die hoek van die tafeltjie by die deur plaas.
Kompleet asof sy my met liggaamlike geweld hier sal binnehou as ek dit sou wou waag om uit te loop, dink Erika half geamuseer, half vererg. Die blink oë kan sy behoorlik lees. Ten spyte van al die duister moontlikhede wat sy, Erika, geskilder het, klou mev. Collins steeds aan haar romantiese prentjie vas.
Die vrou is nie reg wys nie, besluit sy. Waar sal sy, Erika Hough, wat drie weke voor haar troue deur haar bruidegom verlaat is – en ’n doodgewone bruidegom op die koop toe, as sy nou objektief aan hom dink – nou die belangstelling van ’n belangrike, skatryk, romantiese man van ’n verre eiland gaande maak, en dít deur ’n regte tranetrekker van ’n brief? Genugtig, soos mev. Collins altyd sê, sulke dinge gebeur net nie! Wanneer hierdie telefoon lui, sal sy die ou man kort en kragtig op sy plek sit, en daarna basta!
Die telefoon lui en Erika aarsel, en dis mev. Collins wat die gehoorbuis optel en die nommer verstrek. “Ja. Ja. Hier is sy! Ek gee vir haar!”
“Juffrou Erika Hough?”
“Ja.” Dit klink maar bewerig. Hoekom nog met die ou man redeneer? Sit die telefoon neer en loop! “Ja, ek hou aan.”
Daar word oor en weer tussen sentrales gesels, in Engels en in Frans, soos dit vir haar klink, en dan kom die helder stem deur: “U is deur. Praat maar.”
“Juffrou Hough?”
Dis ’n man se stem. Hy praat Engels en klink beskaaf.
“Ja. Dis ek.”
“Ek is Philippe de la Buscagne. Goeiemiddag.”
Sy sluk. “Goeiemiddag.” Sy klink vir haarself kompleet soos ’n soet kind wat haar eerste les in goeie maniere ontvang.
“Ek het jou tweede brief ontvang.”
’n Kort stilte.
Wat wil hy hê moet ek antwoord, wonder sy. Ekskuus vra?
“Ek kan die verandering van houding glad nie begryp nie.”
Weer ’n kort stilte. Sy kan aan absoluut niks dink om daarop te antwoord nie.
“Mag ek weet waarom jy skielik so ’n . . . verandering ondergaan het? Het jou gewese aanstaande skielik weer op die toneel verskyn nadat hy sy fout agtergekom het?”
“Nee, natuurlik nie!” Dis uit voordat sy kan keer, en sy kyk boos na die kalender voor haar teen die muur.
“In daardie geval kan ek nog minder verstaan hoekom jy my aanbod so summier en, moet ek byvoeg, byna ongemanierd van die hand wys.”
Weer voel sy soos ’n kind wat meerderwaardig deur ’n volwasse mens oor die vingers getik word weens swak gedrag.
Haar verstand sing soos sy probeer dink, maar dis al of daar skottelgoedwater rondspat waar gesonde, nugter verstand moet wees. “Hoe kom jy aan my . . . die hotel se telefoonnommer?” gryp sy na die eerste skuimpie wat in haar swemmende gedagtes verbykom.
“Eenvoudig, juffrou Hough. Ek het die hotel se naam van jou briefhoof af gekry. Die res was baie elementêr. Moenie my vraag probeer omseil nie. Wat is jou werklike rede hoekom jy nie kans sien om na die Comore toe te kom nie?”
Erika werp ’n moorddadige blik na mev. Collins wat kastig baie doenig is by ’n kabinet in die hoek, maar as haar ore net effens groter was, sou dit soos ’n olifant s’n geflap het soos sy konsentreer om nie een geluidjie te mis nie.
“E . . . ek . . . ek het nie tyd vir rondkuier nie . . . e . . . meneer. Ek moet oor twee weke by my werk wees.” Haar stem klink ongelooflik bot in haar eie ore, en blykbaar na aan onbeskof in mev. Collins se ore, want dié swaai ’n ontstelde blik in haar rigting. Die stem aan die ander kant vertel Erika dat nog iemand dieselfde mening toegedaan is.
“Dis geen verskoning nie. Ek het jou reeds geskryf wat jy moet doen. Bedank jou werk.”
Êrens begin die skottelgoedwater in haar kop stol en sy frons kwaai. “Ek moet ná die vakansie op die Comore ook nog lewe, meneer . . . e . . .”
“Noem my Philippe. Dis vir jou makliker uitspreekbaar as my van. Ons mors tyd. Dis nie die rede hoekom jy my ’n afjak gegee het nie. Ek voel ek is geregtig daarop om die ware rede te weet. Wat is dit?”
Sy begin al meer soos ’n ondankbare kind voel. En dis onsin! Sy trek haar asem diep in. Goed. Hier kom dit. Hy vra mos daarvoor.
“Meneer, hoekom nooi jy my na die Comore toe?”
“Hoekom nie?”
Die oë blits op die rustige seetoneel op die kalender. “Hoekom sal jy so iets vir ’n wildvreemdeling wil gee – ’n duur, gratis vakansie op die Comore?”
“Jou feite is nie korrek nie. Jy is nie ’n wildvreemdeling vir my nie. Ek ken jou. Ek weet alles van jou af, van jou kinderdae tot waar jy nou daar staan . . . of het jy vergeet?”
Sy wonder of haar knersing van tande selfs tot in die Comore gehoor kan word. “Dit is nog geen rede . . .”
“Alle rede, Erika. Ek was beïndruk deur jou eerste brief en het gehou van wat ek daarin gelees het, en omdat ek die geld het, het ek besluit om jou ’n vakansie op die Comore te gee.” Sonder spog, net ’n blote feit wat gestel word. “Is jy bang om die reis hierheen alleen aan te pak? Jy het nog nie tevore vliegtuig gery nie.”
“Hoe . . .?” Sy klap haar lippe toe. Natuurlik sal hy weet sy het nog nooit vliegtuig gery nie. Hy weet selfs dat sy hierdie vakansie vir die eerste keer die see met haar blote oog, soos sy dit in haar brief gestel het, gesien het.
“As dit die geval is, kan ek jou altyd kom haal. Dis nie ’n probleem nie.”
Nee, dis nie ’n probleem nie. Die probleem is behalwe dat hierdie man ryk is, blykbaar skatryk, hy op die koop toe nog mal is ook.
“Erika!”
Haar naam ontplof in haar ore en sy antwoord vinnig, bewus daarvan dat elke sekonde van ’n oorsese oproep ’n hele paar rand kos. Nie dat dit juis vir hierdie mal miljoenêr saak maak nie.
Sy sê vinnig: “U mag my ken, meneer . . . e . . . of dínk u ken my, maar ek ken u nie, weet niks van u af nie . . .”
“Kom dan Comore toe en stel dit reg.”
Weer stilte.
“Ek kan jou my stamboom stuur . . . vir sover ek dit kon naspeur,” voeg hy by en skielik is daar ’n geluidjie tussenin wat na ’n kortaf, geamuseerde laggie klink, maar sy het haar seker maar vergis, want toe hy weer praat, is sy stem duidelik ongeduldig. “As jy my nie nou die ware rede vir jou weiering verstrek nie, sal ek ’n ander plan moet maak. Ek kan self kom uitvind wat aangaan . . .”
Haar oë rek verskrik. “Hierheen kom?”
“Ja. Suid-Afrika is nie aan die ander kant van die aardbol nie. Ek kan ’n paar dae se wegbreek goed gebruik.”
Sy sluk en sweer hy kan dit hoor. “Meneer, hoe oud is jy?”
Die kort stilte is nou aan sý kant.
“Ek sien. Dís wat jou pla.”
Weer ’n kort stilte, en toe hy praat, klink sy stem openlik geamuseer en, vir haar, spottend: “Ek lok jou nie Comore toe met bybedoelings nie, Erika. Verre sy dit van my om ’n kind van twintig te misbruik.”
Sy voel sy kan in die aarde sink, maar terselfdertyd kan die boosaardigheid behoorlik uit haar losbars. Om haar skuldig en belaglik te laat voel! Dis hý wat so behoort te voel, nie sý nie!
“Mam’selle, as ek daardie soort man was, kan ek die nodige vir baie goedkoper op die Comore self kry. Ek hoef nie een ten duurste duisende kilometers ver in te voer nie.”
Hierdie keer tik daar beslis ’n sekonde of twee verby waarvoor hy sal moet betaal en waarvoor hy geen waarde sal kry nie. In hierdie twee sekondes dank Erika die gode dat daar nie, of nog nie, sulke goed soos beeldfone is nie. Sy weet sy is so rooi soos ’n kalkoen, en mev. Collins se belangstellende blik vertel haar dit ook.
“Ek . . . het dit . . . nie so . . . bedoel nie . . .” Sy voel sommer aan dat hy weet sy jok, net soos sý dit weet. Dis presies die slotsom waartoe sy gekom het en ook ewe wysgerig aan die Collinse uitgespel het.
“Wel, ek wil jou maar die versekering gee dat jy niks, hoegenaamd niks in daardie rigting te vrese het nie. Erika, wat wil jy met jou toekoms maak? Ná die vakansie teruggaan stad toe, vir die res van jou lewe treur oor ’n man wat nie een minuut van jou tyd werd was nie, elke aand na jou trourok staar en jou oë uithuil . . .?”
“Jy het geen reg om so met my te praat nie!” Die prentjie wat hy geskilder het, is so na aan die waarheid dat sy heftig protesteer: “Jy ken Japie van geen kant af nie en . . .”
“Japie. Is dit soos ’n mens daardie naam uitspreek . . .” Dit word met so ’n verdraaide aksent uitgespreek dat dit lagwekkend klink, en Erika voel hoe histerie in haar begin oplaai. Dié man gaan haar ook nog so mal hê soos hy, dink sy amper paniekerig.
“Dan gee jy nog vir hom om?”
“Nee, natuurlik nie. Ek bedoel . . . Dis net nie regverdig dat jy iemand oordeel vir wie jy van geen kant af ken nie, dis al.”
“Werklik?” Hy laat dit eers insink. “Dis gaaf, en jy is natuurlik heeltemal reg. ’n Mens oordeel nie iemand voordat jy hom nie ken nie. Maar jy het allerhande ongegronde gedagtes en idees oor my, Erika. Of is dit maar net ’n geval dat jy beplan om ’n verbitterde oujongnooi te word wat in die toekoms alle mans oor een kam gaan skeer?”
“Ag, gaan . . .” Dis mev. Collins se gehyg na asem wat haar haar sin laat kortknip.
Hy het natuurlik nie die halfuitgesproke Afrikaanse tussenwerpsel verstaan nie, en gaan kalm voort, kompleet nes ’n prokureur wat besig is om ’n testament te lees, dink sy.
“Feit bly, alle reëlings is klaar getref. Jou plek is reeds op die vliegtuig bespreek. Jy moet net jou kaartjie by die lughawe gaan afhaal. Dis klaar betaal, natuurlik. Daar is blykbaar ’n bus wat vanuit die middestad vervoer na die lughawe verskaf, verstaan ek. Weet jy waar die terminus is?”
“Ja.”
Ja, sy weet, maar . . .
“Ek wil ook graag jou kredietkaartbesonderhede hê, asseblief.”
“My . . . wat? Ek het nie so ’n ding nie!” Grote Griet, as die man regtig haar eerste brief gelees het, en tussen die reëls ook soos dit nou wil voorkom, behoort hy te weet dat sy nie ’n kredietkaart het nie. ’n Spaarrekening wel . . . Of nee, ook nie juis so dat ’n mens dit sal agterkom nie, nie nadat al die onnodige klere vir Die Wittebrood betaal is nie.
“Meneer . . . e . . . ek het nie geld nodig nie.”
Aan die ergerlike stemtoon is dit baie duidelik dat daar ’n frons op die onbekende gesig aan die oorkant is.
“Moet tog nie so liggeraak wees nie! Jy moet die regte klere kry vir hierdie klimaat . . .”
“Ek hét die regte klere.”
“Hoe weet jy?”
“Ek het dit nageslaan.”
“Dan het jy tog belanggestel.” Die stem klink tevrede en sy kan haarself skop. “Gaaf. Jy moet egter betyds malariatablette begin neem. Dis belangrik. En . . .”
“Meneer . . . e . . . ek het nog nie gesê ek sal kom nie,” keer sy die vloed van bevele wat hy sit en aframmel asof hy ’n lys voor hom het. “Ek . . .” Sy sien mev. Collins rek haar oë. “Ek moet nog daaroor slaap.”
“Slaap?”
“Ja. Dink. Ek het nog glad nie besluit . . .”
“Ek bel jou weer môremiddag hierdie tyd. Tot siens, Erika.”
Sy voel verspot met die gehoorbuis in die hand en plak dit vinnig neer. Hy het haar nie eens kans gegee om te wys sy het darem ook soms goeie maniere nie. Sit sommer die telefoon in haar oor neer. Natuurlik vererg . . . Dan praat hy van háár wat liggeraak is . . .