Читать книгу Ena Murray Omnibus 34 - Ena Murray - Страница 8

Оглавление

5

’n Paar blou oë rek in verbystering toe Philippe met sy halfdroog, halfnat vrag die sitkamer van die “Oosterse Paleis”, soos dit sedert ’n uur of twee gelede gedoop is, binnestap.

’n Franse uitroep ontval die blonde jong man. “Wat op aarde het jy daar?”

“Nog ’n histeriese vroumens.” Die vrag word sonder seremonie op die naaste bank neergeplak. Die baas van die paleis klink ongeduldig en geïrriteerd. “Het Anna al van hare herstel?”

Die jonger man glimlag, iets wat blykbaar skaars by hom is, want dis ’n bietjie stram. “Ja. Ek het haar ’n dop ingejaag. Waar kom jy aan haar?” vra hy met sy blik op Erika wat teen wil en dank haar rooi oë moet oopmaak. Sy is immers ’n vroumens, en ly aan die normale kwota vroulike nuuskierigheid. Harem of nie, sy wil darem weet hoe lyk haar toekomstige tronk.

“Ek het haar in die middel van die meer gekry – besig om selfmoord te probeer pleeg.”

“Hoekom?”

Sy vee die halfdroë slierte uit haar oë. Die twee bespreek haar asof sy horende doof is!

“Vra my. Ek sal nie weet hoe ’n vrou se binnegoed werk nie. Hulle weet dit gewoonlik self nie.”

“Ek het g’n selfmoord probeer pleeg nie!” protesteer Erika luid en vererg.

“Nie? Dan wou jy seker maar net terugroei Suid-Afrika toe,” is die sarkastiese antwoord. “Dis Erika Hough van Suid-Afrika. En dis my neef, Jean-Paul.”

Jean-Paul se blou oë vonkel geamuseerd. “Dan is sy ’n toeris hier?”

“Nee. Sy is ’n gas . . . ons gas. Sy is genooi . . . maar hoekom sy dit aanvaar het . . . Sy is blykbaar onder die indruk ek het haar hierheen gelok as jongste toevoeging tot my harem. Toe sy Anna netnou hoor gil het, was sy oortuig daarvan dat ek eers een van die ander ouer dames in my harem moes vermoor om vir haar plek te maak. Vandaar haar desperate ontsnappingspoging in ’n roeiboot met ’n gat in.”

Hy begin aanstap.

“Ek sal Anna sê om jou ’n kamer aan te wys . . . baie ver van my harem af. Ek wil nie hê dat jy my vroue moet ontstig nie. Ek duld nie parmantigheid en teëpratery van hulle nie. Verskoon my. Ek gaan ook eers bad en verklee.”

Hy verdwyn en Erika het nêrens anders om te kyk as in die vonkelende blou oë van Philippe se neef nie. Sy voel aan sy het op die een of ander manier ’n groot gek van haarself gemaak, maar dis darem ook nie só snaaks nie!

“Waarvoor lag jy?” vra sy net. “Jou neef het self vertel hier is ’n harem en hy het strome Arabiese bloed in sy are en alle Arabiere het harems. En daarby was Sinbad nog sy oorgrootjie ook. Wat moes ek anders dink . . .?”

Die jong man se hartlike lag onderbreek haar.

Die geluid bereik ook twee ander mense se ore. Die donker man stroop die nog klam onderbroek af en stap onder die stort in, glimlaggend. Dis die eerste keer in ses maande dat hy Jean-Paul hardop hoor lag. Vroeër vandag het hy gedink dit was ’n groot flater om ’n onbekende meisietjie sommer te nooi om hier te kom kuier, maar miskien was dit tog nie so ’n slegte idee nie . . .

Die vrou wat op pad is om die onverwagse gas te gaan haal om haar ’n kamer aan te wys, kom in haar spore tot stilstand. Ook sy hoor Jean-Paul se lag vir die eerste keer in ses maande, en haar wrewel jeens die onbekende vrou wat sommer “haar” huis binnegestorm het, koel sigbaar af. As sy Jean-Paul kan laat lag, is sy darem seker nie een van die soort wat net daarop uit is om die twee De la Buscagne-neefs die strop om die nek te sit nie. Nie dat dit nie gaaf sal wees as hulle die regte vroue kan kry nie, maar om die regte vroue te kry . . .

“Wil jy stry dat hier ’n harem is?”

Jean-Paul skud sy kop. “Hier is haremkwartiere, ja, maar dis dolleeg. Die plek het vroeër aan ’n sultan behoort. As dit van Philippe afhang, sal dit ook nooit weer gebruik word nie, want hy staan baie skepties teenoor jou geslag. Ek wonder of hy ooit sal trou.”

Erika frons. “Hoekom sal hy nie? Skort daar iets met hom?” Sy sien hom weer in sy nat onderbroek. Dit het nie so gelyk nie . . . maar hy kan natuurlik ’n sielkundige probleem hê . . . Vandag se dae kan ’n mens nooit weet nie, maar dit sal darem jammer wees as die man verkeerd-om aanmekaargesit is.

“Natuurlik nie. Hy geniet dames se geselskap, maar hy laat hom nie ore aansit nie. Hy sê die meeste vroumense is vervelig en baie dom.”

“O ja? Dit klink my hy is baie vol fiemies . . . en vol van homself.”

Jean-Paul kyk haar openlik nuuskierig aan. “Maar as julle mekaar reeds ken, behoort jy dit tog te weet. Het hy jou regtig hierheen genooi . . . om hier te kom kuier?”

“Natuurlik! Dink jy dan ek sal sommer hier aangevlieg kom en sê hier is ek, ek kom kuier vir julle?”

“Ja, maar . . . van wanneer af ken julle mekaar en waar het julle ontmoet en . . .

Verlig sien sy ’n middeljarige donker vrou in die deur verskyn en staan op.

“Vra jou neef. Hy kan jou die hele storie vertel.”

Sy word aan Anna, die huishoudster, voorgestel en Erika is verlig om te weet daar is darem nog ’n vrou in die huis. Sy glimlag ekstra vriendelik teenoor die huishoudster wat weer op haar beurt in verbasing na die bondel kreukels en deurmekaar voorkoms staar.

Jean-Paul verduidelik: “Anna se Engels is nie waffers nie, maar sy kan dit heel goed verstaan. Julle sal seker regkom. Wanneer jy gereed is, kan jy by ons op die stoep aansluit. Ons drink gewoonlik saans ’n skemerkelkie daar. Dan is die meer op sy mooiste.”

Terwyl sy Anna dieper die paleis in volg, kyk sy om haar rond. Niks ontgaan haar oë nie.

Die binnekant lyk glad nie soos sy haar dit voorgestel het nie.

Effens skuldig besef sy sy het haar baie dinge voorgestel wat toe op die ou end glad nie so is nie. Toe skud sy die skuldgevoel van haar af. Dis daardie Arabier se skuld dat sy sulke wilde verbeeldingsvlugte gekry het.

Ook die kamer met sy aangrensende badkamer is baie modern en stylvol gemeubileer, en weer kan sy geld se taal oral sien praat.

“Solank u bad, sal ek vir u uitpak.” Anna se blik sak na die twee tasse wat baie bedees in die luukse vertrek lyk, en Erika sê vinnig, selfbewus: “Ag, dis nie nodig nie, dankie, mevrou. Ek het maar net ’n paar goedjies. Ek sal dit sommer self gou uitpak wanneer ek klaar gebad het.”

Anna se blik is deurdringend. Hierdie meisie is so anders as dié waaraan sy gewoond is. Die spul wat al wel in die verlede hier gekom het, moes hand en voet bedien word en het skaars dankie gesê. Sy glimlag skielik en met verligting besef Erika sy het ’n vriendin bygekry.

“Moenie vir my mevrou sê nie. Almal sê vir my Anna. Juffrou moet net sê as u iets nodig het.”

“Dankie, Anna. En my naam is Erika.”

Sy word goedkeurend aangekyk. “Ek is bly jy het kom kuier, Erika. Ná al die baie hartseer was dit goed om Jean-Paul weer te hoor lag. Dit sal ook vir Philippe so baie beteken as Jean-Paul weer sy probleme te bowe kan kom. Nie dat dit ooit regtig sal kan gebeur nie. Daar is dinge waarmee hy, en Philippe, vir die res van hul lewe maar sal moet leer om saam te lewe.”

Erika kan sterf van nuuskierigheid, maar kry dit reg om haarself in toom te hou. Dis swak maniere om die inwoners van die huis met die huishoudster te bespreek, maar sy wens Anna wil maar uit haar eie voortgaan. Anna onthou egter dat daar werk in die kombuis wag en Erika moet met ’n hele spul nuwe vrae en bedenkinge in die bad klim. Dat alles nie maneskyn en rosegeur op hierdie idilliese eiland en in hierdie sultan se paleis is nie, weet sy nou. En skielik het sy weer so ’n nare voorgevoel: op die een of ander wyse gaan sy betrek word. Weer lê die oortuiging helder in haar dat sy nie om dowe neute hierheen genooi is nie.

Toe sy haar goedjies later aan die uitpak is – en dit lyk maar power en verskriklik min in die ingeboude kas wat die een hele muur beslaan – trek sy die bottel uit waar dit in haar onderklere toegedraai was. Sy stap na die hangkas, sit dit in die verste hoekie neer.

“Staan daar. Hoekom ek jou saam gekarwei het, wonder ek self. Vol is jy ’n duiwelskind, en leeg nog altyd vol bose planne. Waarin het jy my laat begewe? Maar ek sê jou, jou planne met my gaan nie uitwerk nie. Wat ook al hier aan die gang is, ek gaan my nie laat betrek nie, verstaan? Ek het kom vakansie hou, net vakansie hou, en onthou jy dit!” Toe klap sy die kasdeur toe.

Sy besef nie watter prentjie van jeugdige vroulikheid en onskuld sy uitmaak toe sy ’n rukkie later op die stoep uitstap waar die twee mans reeds op haar sit en wag nie. Sy is reeds halfpad na die aangebode stoel toe sy in haar spore tot stilstand kom. ’n Skok trek deur haar en sy kan amper nie glo wat sy sien nie. Netnou, in die sitkamer, het Jean-Paul op ’n gewone stoel gesit. Maar nou is hy in ’n rolstoel. Jean-Paul is verlam, besef sy ontsteld.

Die jong man sien die ontsteltenis in haar oë en kyk haar eers vraend aan, frons dan. Sy oë verander, word hard en vyandig toe hulle na sy neef keer. “Het jy haar dan nie vooraf gewaarsku nie?”

“Waaroor?”

“Dat jy met ’n verlamde neef opgeskeep sit nie.”

Philippe se stemtoon is baie egalig. “Nee. Ek het nie gedink dis nodig nie.”

“Of was jy bang dat sy dan nie sou kom kuier het nie?” Daar is ’n bitterheid in sy stem wat Erika aangryp en haar nog ongemakliker laat voel.

Dis sy wat vinnig antwoord:

“Hoekom sou dit my beïnvloed het? Daar is baie verlamde mense in die wêreld.”

Sy sien Philippe skerp frons, maar sy hou die blou oë waarin die emosies rou lê, gevange. “Omdat gebreklike mense ander normale mense afskrik. Afstoot.”

“Nie almal nie. Jy veralgemeen nou. Ek sou my nie veel steur aan mense wat deur ’n ander se liggaamlike gebrek afgestoot word nie. Hulle is gebrekliker as jy.”

“Erika!”

Philippe se stem sny soos ’n mes, maar Erika draai na hom en kyk kalm in die streng donker oë terug. “Dit was sy woordkeuse, nie myne nie.”

Diep kepe ontsier skielik die blonde man se aantreklike gesig.

“Wat maak dit saak met watter woorde jy dit tooi? Feit bly dat ek nooit weer sal kan loop nie en . . . ek weet nie of ek die res van my lewe daarmee sal kan saamlewe nie.”

Sy keer simpatieke oë na hom en hy lees hulle reg, sodat die woorde bars onbeskof oor sy lippe knal: “En moet tog nou net nie sê jy is jammer om dit te hoor nie. Ek is siek en sat van daardie woorde. Ek wil nie jou of enigiemand anders se bejammering hê nie, verstaan jy? Bejammering sal niks aan my lam bene verander nie.”

“Nee. Ek is nie van plan om jou te bejammer nie, want ek sien jy het meer as voldoende selfbejammering. Jy het regtig nie nog ander se jammerte ook nodig nie.”

“Erika!” ’n Paar harde vingers kry haar aan haar boarm beet. “Is jy van jou sinne beroof?”

“Nee. Maar ek dink Jean-Paul is . . . om alles wat hy oorgehou het, sommer nou net so te wil weggooi net omdat hy nie kan loop nie.”

“Jy verstaan nie!”

Die gesig is vertrek en Erika skrik self nou ’n bietjie. Miskien het sy te ver gegaan. Maar die woorde het sommer spontaan na haar lippe gekom, gebore uit ’n diepe ontsteltenis om te sien dat so ’n mooi jong man wat seker nie ouer as vyf-en-twintig kan wees nie, hom so algeheel oorgegee het aan sy omstandighede. Die grootste gedeelte van sy lewe lê nog voor. Anna het gesê hy het ses maande laas gelag. Wat gaan hy met die res van die lang jare vorentoe doen? Hy sal homself van sy kop af dryf.

Die skielike rou snik wat amper soos ’n roggel klink, skok haar tot swye. Sy sien hoe die rolstoel omgeswaai word en blindelings in die rigting van die voordeur gestuur word. Daar is ’n instinktiewe beweging by haar om hom te volg, maar die vingers wat nog steeds haar boarm knel, span stywer.

“Nee! Los hom. Hy moet liefs alleen gelaat word. Daar is Anna nou. Sy sal verder na hom omsien. Niemand sal nou iets met hom uitgerig kry nie.”

“Maar . . .”

Die stem sis amper. “Jy het genoeg kwaad vir een dag gedoen. Sit!”

Sy gehoorsaam werktuiglik, wens die stoep wil onder haar oopgaan en haar insluk. In haar hart stem sy saam met haar gasheer. Sy het vir een dag regtig genoeg dwaashede kwytgeraak. Eers beskuldig sy hom daarvan dat hy ’n harem aanhou en haar vir daardie doel hierheen gelok het. En vanmiddag val sy ’n verlamde man aan in woorde wat werklik onvergeeflik is. Sy weet self nie wat met haar aan die gang is nie. Hierdie tropiese lug, so swaar belaai met tropiese geure, tas haar verstand aan, maak sy haarself wys. Sy moet liewer teruggaan huis toe . . . maar waar huis presies is, sal sy ook nie op hierdie oomblik kan sê nie.

Daar word ’n glas voor haar neergesit.

“Dit is ’n ligte mengeldrankie.”

Hy self neem sommer dadelik ’n groot sluk van syne en is duidelik te rusteloos en nog te ontstig om ’n stoel te soek. Hy gaan staan half skuins na haar gekeer teen een van die pilare, sy oë strak op die meer onder hulle gerig, sy gesig ewe strak.

Sy neem eers ’n slukkie voordat sy dit waag om te sê: “Ek is jammer.”

Dis so lank stil dat sy wonder of hy haar gedempte woorde gehoor het, maar toe sê hy: “Jammer. Dis die woordjie wat in enige taal seker die meeste gebruik én die meeste misbruik word. Jy kan doen wat jy wil, solank jy net agterna sê jy is jammer. Jou gewete is dan rein, en dis die ander man wat alles dan maar vir lief moet neem en sien kom klaar.”

Sy aarsel, sluk, sluk, sluk weer. Hou jou mond toe, bottoe, Erika Hough, spreek sy haarself aan. Jy gaan nog voor hierdie dag om is jou eie tong afbyt van spyt. Laat hom kwytraak net wat hy wil. Wat maak dit saak? Jy het jou voorgeneem jy gaan nie betrokke raak nie, en hier het jy al klaar jou neus ingesteek waar dit nie hoort nie. Wat maak dit aan jou saak as ’n wildvreemde jong man êrens op ’n tropiese eiland homself in selfbejammering wil verswelg?

“Dan ook is baie mense geneig om die splinter in ’n ander se oog raak te sien en blind te wees vir die balk in die eie oog,” gaan hy voort en Erika sluk weer, maar voel haar nekhare begin rys. Kyk, as die man met Bybelse aanhalings met haar wil begin sukkel, het sy klompe wat sy op hom van toepassing kan maak.

Sy besluit sy het genoeg gesluk. “Ja, net so waar is die woord wat sê niemand is so blind soos hy wat nie wil sien nie.”

Hy draai stadig na haar om, vou sy arms oor sy bors en kyk op haar af. “Bedoelende?”

“Bedoelende dat enige aap kan sien Jean-Paul is besig om in selfbejammering te verstik, en as hy so voortgaan, sal hy homself tot binne-in ’n malhuis bejammer, maar jy sien dit nie raak nie, wil dit nie raaksien nie, want jy kyk, nes hy, teen sy lam bene vas. En wat bedoel jy met balke en splinters in die oë?”

“As ek reg onthou, het jy self tot baie kort gelede aan dieselfde siekte van selfbejammering gely . . . en ook in ’n hoë graad. In so ’n mate dat jy al op ’n keer sommer net die see wou instap en aanhou stap . . . onthou jy?”

Nie vir die eerste keer nie verwens Erika daardie brief. Dit gee hom ’n onregverdige voorsprong bo haar. En hy gaan die voorsprong elke keer benut, dit weet sy sommer.

Sy frons kwaai, maar moet erken:

“Ja, goed. Ek wou doodgaan van selfbejammering omdat Japie Basson my drie weke voor ons troue net so in die vlug gelos het, maar . . .”

“Maar wat?”

“Maar ek dink nou dit was baie belaglik om so te voel. Ek besef nou geen man is dit werd nie,” en sy kyk hom vas in die oë.

Daar is ’n flikkering van ’n ooglid. “Mooi. Baie mooi. Jy begin jou verstand kry. Ek begin hoop kry vir jou.”

“Dankie.” Sy hoop haar sarkasme stroom soos ’n omgekeerde pot dik, taai gouestroop oor hom en verstik hom, maar hy lyk heel ongedeerd toe hy daardie klein glimlaggie – wat sy begin verpes – gee en rustig laat hoor:

“Maar daar lê nog vir jou ’n lang pad voor, en daarom het ek jou hierheen genooi.”

Sy sit regop. Daar! Nes sy vermoed het! Sou hy haar wou vergesel op die lang pad, wonder sy. Haar stem murmel: “Ek het geweet dis te goed om waar te wees.”

Weer die klein glimlaggie. “Natuurlik. Enige mens met ’n bietjie verstand sou dit besef het. Ja. Ek het gedink miskien kan jy en Jean-Paul mekaar help om oor jul teleurstellings te kom.”

Hulle kyk mekaar vas in die oë en Erika se ooglede sak. Weer flits van die inhoud van haar brief voor haar verby, en sy skaam haar skielik vir haarself. Sy onthou hoe sy vir ’n vlugtige oomblik aan die versoeking toegegee het om sommer net die see in te stap, en dit oor ’n ontroue mansmens!

Sy knik: “Ja. Ek verstaan, Jean-Paul het baie meer verloor as ek. In vergelyking met hom het ek eintlik niks verloor nie. Ek verloor liewer ’n bruidegom as die gebruik van my bene.”

Die oë op haar is stip. “Ja. Maar behalwe die gebruik van sy bene, het hy ook ’n bruid weens die ongeluk verloor.”

Haar oë ruk op na syne in ontsteltenis. “Ag nee! Wat . . . het gebeur? Is sy dood in die ongeluk?”

“Nee. Sy het nie eens ’n skrapie opgedoen nie. Maar om een oomblik op trou te staan met ’n viriele jong man wat die siel van elke partytjie is, en om die volgende oomblik met ’n verlamde aanstaande te sit, kan ’n te groot skok vir party mense wees . . . en moeilik om te verwerk.”

Erika kyk hom geskok aan. “Sy het hom in die steek gelaat?”

“Blatant gestel, ja, maar moenie te gou oordeel nie. As dit nog altyd in die lewe net met jou goed gegaan het, is dit moeilik om sonder meer terugslae te aanvaar, veral van dié kaliber. Dit verg tyd om oor die skok te kom, die onveranderbare te aanvaar en ’n weg te vind om daarmee saam te lewe.”

Sy kyk hom openlik ontevrede aan. “Dan praat jy haar nog voor! Die arme Jean-Paul! Dan het hy ’n dubbele skok weg.”

Sy oë vernou effens. “Nou hel jy weer te veel na die ander kant toe oor. Julle vroumense kan ook nooit gebalanseerd na dinge kyk nie. Moenie van Jean-Paul so ’n vreeslike lydende held maak nie. Eintlik het hy baie van al hierdie ellende oor homself gebring.”

“Wat bedoel jy?”

“Dis nie nou ter sake nie. Wat wel ter sake is, is dat hy nie so kan voortgaan nie. Hy was ’n jaar in die hospitaal en is nou ses maande al hier by ons. Hy het hom teruggetrek in verbittering en vereensaming. Hy weier om uit hierdie huis te gaan en hy weier om van sy ou vriende te ontvang. Soos jy tereg gesê het, hy verstik in selfbejammering en selfverwyt. Met rukke is hy so morbied dat dit hom miskien maklik tot onverantwoordelike optrede kan dwing. Ek is te besig om genoeg tyd aan hom af te staan. Hy is te veel aan homself en sy eie morbiede gedagtes oorgelaat. Hy stuur op ’n afgrond én totale ineenstorting af as daar nie spoedig ’n verandering intree nie. Ek het nie die tyd nie en ek glo ook nie ek is die mens wat hom kan help nie. Maar net die feit dat hy ’n bottel in die see gegooi het, vertel my dat hy hulp soek, al wil hy meestal voorgee niks traak hom nie en hy wil niks met enigiemand te doen hê nie.”

“Dan was dit hy wat die bottel in die see gegooi het?”

“Dit kon net hy gewees het, seker pas nadat hy hier aangekom het. Dit was beslis nie ek nie. Ons is die enigste De la Buscagnes op die Comore. Toe jou brief hier aankom, het ek gevoel miskien sal dit goed wees as julle twee mekaar ontmoet. Miskien kan julle by en van mekaar leer.” Sy oë hou hare gevange. “Jean-Paul kan uitvind dat hy nie die enigste mens is wat al in die steek gelaat is nie, en dat niemand jou teleurstelling vir jou kan verwerk nie. Jy moet dit self doen. En jy kan miskien van hom leer dat dit nie die ergste is wat met jou kan gebeur om drie weke voor jou troue in die steek gelaat te word nie.”

Weer swenk haar oë weg van daardie reguit donker blik. Sy het die lessie klaar geleer, maar Jean-Paul moet nog syne leer.

“Ek sal graag help as ek kan,” sê sy gedemp. “Wat verlang jy van my?” En daarmee verdwyn al die vaste voornemens om haar nie by hierdie twee neefs se lewens te laat betrek nie.

“Kyk of jy hom uit hierdie groef kan kry waarin hy verval het. Probeer hom uitkry uit hierdie huis. Probeer sy belangstelling opwek in iets, enigiets. Geld is nie ’n kwessie nie, as dit geld gaan vra nie. Net vir een ding moet jy versigtig wees, Erika. Moenie dit oordoen nie. Moenie te betrokke raak nie, en moet hom nie van die bottel vertel nie.”

“Maar hoekom nie? Jy sê dan dis hy . . .”

“Juis. Maar as hy moet uitvind dat ek jou spesifiek hierheen laat kom het as gevolg daarvan, sal jy niks met hom uitgevoer kry nie. Hy sal hom terugtrek en jy kan dan maar ewegoed ophou voordat jy begin het.”

“Hoekom sal hy so optree?”

“Grootliks oor my aandeel daarin. Dis vir Jean-Paul baie moeilik om iets van my te ontvang. Driekwart van sy bitterheid is gesetel in die feit dat daar vir hom niks anders was as om saam met my te kom toe ek hom gaan haal het nie. Dis so bitter soos gal in hom dat hy nou van my afhanklik is. Enigiets wat ek verder doen om hom te probeer help, sal summier geweier word.”

Sy kyk hom simpatiek aan. Dit kan ook nie maklik vir die ouer neef wees nie. “Ek sal kyk wat ek kan doen,” belowe sy weer sonder om regtig die vaagste benul te hê hoe sy hierdie probleem gaan benader.

“Nog ’n drankie?”

“Nee, dankie.”

“Dan kan ons maar gaan eet.” Hy begelei haar na binne en toe Erika die keurig gedekte tafel sien, besef sy dat sy vandag nog nie veel geëet het nie.

“Ek wil maar net noem . . . as jy in Anna se goeie boekies wil kom, moet jy weglê aan haar kos.”

Erika glimlag. “Dit sal nie moeilik gaan nie. Ek is rasend honger,” erken sy reguit en hy knik goedkeurend.

“Ek het dan gedink julle vroumense is almal altyd pal op ’n dieet.”

Sy kyk hom effens uit die hoogte aan. “Jy het baie wanopvattings oor ons vroumense, meneer De la Buscagne. Ons is nie almal eners nie.”

“Dis verblydend om dit te hoor, juffrou Hough. Daar is egter een foutjie wat julle almal gemeen het.”

“En dit is?”

“Dat julle julle te maklik deur jul gevoelens laat lei. En julle kan so maklik ’n verkeerde ding vir die regte aansien.”

Sy kyk hom verstom aan. Jean-Paul het haar reeds gewaarsku dat sy neef die vrouegeslag nie net vervelend vind nie, maar ook baie dom. Miskien moet sy haar maar nou dom hou.

“Hoe so?”

“Om iemand jammer te kry, beteken nie vanselfsprekend ook dat jy hom liefhet nie. Onthou dit, asseblief.”

Sy knip haar oë, hoef haar nie meer dom te hou nie. Sy ís dom.

“Moenie die fout begaan om jou jammerte vir Jean-Paul later miskien te begin aansien vir liefde nie. Dit sal ’n groot fout wees.”

“O?” Sy lyk ook nou dom, en hy frons skerp.

“Moenie my so sit en aanstaar asof jy nie weet waarvan ek praat nie! Jy is vooraf gewaarsku. As jy Jean-Paul wil help, moet dit bloot wees uit suiwer onselfsugtigheid . . . nie om iets daaruit te probeer kry nie.”

Erika is so stom van verbasing dat sy maar net weer haar oë in ongeloof kan knip, en dit irriteer hom blykbaar grensloos. “Moenie soos ’n kind lyk wat onverwags ’n onverdiende afjak gekry het nie! Jy is groot genoeg om te weet waarvan ek praat. Die moontlikheid dat Jean-Paul die een of ander tyd tot jou aangetrokke sal begin voel, is groot. Hy is emosioneel ryp vir so iets, al voel hy op die oomblik hóé bitter teenoor jou geslag. Maar jy weet dit nou vooraf, en daarom verwag ek dat jy die situasie onder beheer sal hou. Moet asseblief nooit vergeet dat Jean-Paul net lam is en dat daar verder niks met hom skort nie. Hy is nog volwaardig man en . . .”

Sy rys uit haar stoel uit op. As sy haar sonde nie ontsien nie, gooi sy hom met Anna se heerlike bord kos. Maar dit sal sonde wees terwyl sy regtig nog so honger is.

“Jy het nie juis ’n hoë dunk van ons vroulike geslag nie, het jy? Of vergelyk jy my maar net met die soort meisies met wie jy al deurmekaar was?”

Hulle meet mekaar met die oë. “Jy hoef jou nie so te wip nie, Erika. Jy weet self dat so ’n situasie maklik kan ontstaan. Dis ongewone omstandighede hierdie. Ek wys jou maar net op wat kan gebeur en dat jy vooraf gewaarsku is dat dit nie moet gebeur nie. Ek dink nie net aan my neef nie. Ek dink aan jou ook. Een groot liefdesteleurstelling in die lewe is seker genoeg, nie waar nie?”

Weer spreek hy daardie woord uit asof Anna se heerlike romerige nagereg in sy mond in gom verander het, en Erika voel hoe die gloede van verontwaardiging mekaar oor haar gesig en hals opvolg.

“Heeltemal reg. Een is genoeg . . . en behoede my van een met ’n De la Buscagne.” Weer klink dit soos ’n slang wat blaas en sy voel sy kan ontplof toe daardie glimlaggie skielik weer om sy mondhoeke huiwer.

“Gaaf. Dan verstaan ons mekaar. Ek het dus jou woord daarvoor dat ek geen komplikasies hoef te vrees nie?”

“Jy het my woord.”

Maar jy kan dalk vrees vir ’n moord, meneer De la Buscagne, want op die oomblik kan ek maklik jou nek omdraai, al is jy die mooiste mansmens op die aardbol. Maar jy is ook die vermetelste, dit sweer ek.

Net ná ete maak Erika verskoning dat sy ’n lang dag agter die rug het en gaan kamer toe. Dit was voorwaar die langste, gebeurtenisvolste dag van haar lewe. Sy kan skaars glo dat sy maar net vanoggend sesuur van haar buurvrou se woonstel in Pretoria af weg is. Hier lê sy nou duisende kilometers daarvandaan op ’n tropiese eiland in ’n Oosterse paleis, met soveel dinge wat in die paar uur daarna met haar gebeur het dat sy ’n boek daaroor kan skryf. Op hierdie dag het sy ook twee mans ontmoet, en tog voel dit vir haar waar sy nou in die bed lê, dat sy hulle veel langer ken. Haar lewe is klaar ineengestrengel met hulle s’n. Sy lê klaar haar kop en breek oor hoe sy die ongelukkige Jean-Paul kan help. Oor die ander neef wil sy glad nie wonder nie. Net om aan hom te dink ontstel haar. Hy ontstig haar op ’n vreemde wyse. Dit moet seker sy uiterlike aantreklikheid wees wat haar aantrek. Sy is tog maar net mens, en sy is nie blind nie, en sy is nie gewoond aan sulke mooi mans nie. Maar wat is dit dan wat haar pal op die verdediging teenoor hom plaas, net asof ’n ingebore instink haar waarsku teen hom? Wat is dit wat haar nekhare sommer laat rys wanneer sy hom sien en haar dadelik op haar pasoppens plaas wanneer hy sy mond oopmaak?

Sy draai om op haar sy en maak haar oë toe, voel hoe fisieke moegheid deur haar trek. Sy is nie bekommerd oor Jean-Paul nie. Vreemd, maar sy weet sy sal ’n weg met hom vind. Dis die ander neef wat haar onrustig stem, wat so ’n onbekende faktor is. Iemand vreemdsoortig . . . nes die man in die maan . . . Sy glimlag vaag en sak dan in ’n diepe slaap weg.

Op die stoep gloei daar nog tot laat ’n rooi kooltjie van ’n Oosterse sigaar. Toe, eindelik, draai die man om om ook bedwaarts te keer. Sy gesig is steeds in strak, stroewe lyne vasgevang asof sy gedagtes met somber dinge besig is. Tog, toe hy die lig afskakel en nog ’n rukkie in die donker met sy gedagtes besig bly, glimlag hy skielik daardie klein glimlaggie van hom. Miskien het hy tog op ’n manier die waarheid gepraat toe hy tergend vertel het dat hy moontlik ’n afstammeling van die legendariese Sinbad is. Want, as hy reg onthou, het hierdie fiktiewe karakter uit die Arabiese verhale van Die duisend en een nagte ook geluk gevind in ’n groot toevalligheid toe hy gedurende sy sewe avontuurlike seereise oor die aardbol, eindelik op Ceylon die Oosterse prinses ontmoet het op wie hy werklik verlief geraak het en toe daar tot ruste gekom en die Ryk van Serendom gestig het. Wie weet . . . miskien is Sinbad die Seeman se gelukkige toevalligheid aan ’n latere geslag oorgedra. Miskien het so ’n gelukkige toevalligheid ook hóm te beurt geval toe sy pad dié van hierdie skraal meisietjie uit ’n vreemde land gekruis het; was die feit dat juis sý die bottel in die see opgetel het nie toeval nie maar eerder bestiering. Tyd sal maar moet leer . . .

Ena Murray Omnibus 34

Подняться наверх