Читать книгу Ena Murray Omnibus 34 - Ena Murray - Страница 7

Оглавление

4

Van die oomblik dat sy die volgende oggend haar gasvrye buurvrou tot siens gegroet en met die taxi na die busterminus vertrek het, stap Erika ’n nuwe, onbekende en, vir haar, opwindende wêreld binne. Telkens wonder sy of sy nie maar regtig net aan die droom is nie. Maar as dit dan ’n droom is, hoop sy dit hou nog ’n rukkie aan, want dan is dit die wonderlikste, lekkerste droom wat sy al ooit gedroom het.

Skielik voel sy haar deel van die groter wêreld daar buite, daardie wêreld waarvan sy nog net altyd gelees het of in flieks gesien het. Sy is skielik deel van die wêreld van geld.

Haar groot verwonderde oë wat oral rondkyk en almal besigtig, verraai dat sy haar in ’n onbekende omgewing bevind. Sy kom dit nie eens agter nie. Selfs om sesuur op ’n Saterdagoggend is die lughawe so bedrywig soos ’n miernes. Mense met kameras oor die skouer, klaarblyk-lik toeriste, vername mans met snyerspakke en aktetasse, modieus geklede dames met pragtige kapsels, wat self ook soms soos baie professionele sakevroue met aktetasse in die hande vertoon, die aankondigings oor die luidsprekers van vlugte wat van verre lande aankom of wat op vertrek staan na verre horisonne, alles is ’n belewenis wat die doodgewone meisietjie soos Aspoestertjie laat voel.

Die benoude geklop van haar hart in haar keel bedaar mettertyd, want die vriendelike dames van die grondpersoneel van die SAL help haar so mooi om by die regte toonbanke uit te kom dat alles seepglad verloop. En Kersvader Philippe het sy kant ook goed gebring. Haar kaartjie lê en wag vir haar, haar twee middelmatige tasse word ingeweeg en sy kan in die groot vertreksaal vir buitelandse vlugte gaan plaasneem en haar verlustig in hierdie nuwe avontuur wat so onverwags en op so ’n buitengewone wyse oor haar pad gekom het. O, sy wens daardie Japie Basson kon haar nou sien! Dink seker sy lê en huil haar oë oor hom uit, haar hartjie vir altyd gebreek. Maar as hy net kon weet waar sy nou sit . . .! En vir die eerste keer voel sy ’n opregte gevoel van dankbaarheid teenoor die man wat dit alles moontlik gemaak het.

Toe die aankondiging kom dat die passasiers van vlug 326 van die Suid-Afrikaanse Lugdiens na Malawi en die Comore-eilandgroep moet kom aantree om aan boord te gaan, is daar meteens weer ’n gevoel van paniekerigheid in haar. Sy gaan nou land uit. Wie weet wat wag aan die ander kant? Wie weet of sy ooit weer sal terugkom na haar land? Sê nou maar sy is op pad na ’n vreeslike lot, iets soos om as ’n slavin verkoop te word . . .? Sy het juis net nou die dag gelees hoe jong, onervare meisies weggelok word en dan deur die slawehandelaars aan mans van vreemde nasionaliteite verkoop word as slawe of bywywe. Daar word nooit weer ’n woord van hulle gehoor nie. Hulle verdwyn sommer net van die aardbol af asof hulle nooit bestaan het nie. En niemand sal na haar soek nie. Japie het ’n ander vrou. Die Collinse weet darem, maar hulle sal hulle ook nie juis moeg maak daaroor as hulle nooit weer iets van haar verneem nie. Sy was immers maar vir ’n kort rukkie net ’n gas in hul hotel.

Die dametjie agter die inligtingtoonbank kyk haar verbaas aan toe sy half uitasem voor haar verskyn.

“Wanneer is die eerste vlug weer terug van die Comore af?”

Sy trek ’n tydtafel nader. “Wel, hierdie vlug kom daar aan om vyf voor twee en dit vertrek weer terug om vyf voor drie in die middag. Dit land weer hier in Johannesburg om sewe-uur in die aand.” Sy glimlag. “Maar u gaan tog seker nie net vir ’n uur Comore toe nie!”

Erika sluk aan die knop in haar keel, voel hoe sy rooi word. “Nee, ek . . . bedoel eintlik hoe gereeld daar vlugte van die eiland Suid-Afrika toe is,” jok sy skaamteloos.

“Weekliks. Elke Saterdag.”

“Dankie.” Sy draai om en stap na die ry mense wat deur die hekke na die vliegtuig stap. Sy het ’n uur tyd om dinge daar anderkant goed deur te kyk. As dit nie reg lyk nie, kan sy ’n uur later die vliegtuig terughaal Suid-Afrika toe. Daar sal plek wees. Daar moet net plek wees!

Net voordat sy by die wagte verbystap, aarsel sy nog ’n oomblik. Sy kan nog omdraai . . . Maar toe klink daar ’n stem in haar ore op: “Jy het jou my woord gegee. Ek vertrou jy sal dit gestand doen en nie kop uittrek nie!” Daar was iets in daardie stem wat haar gewaarsku het dat sy dit liewer nie moet waag nie. Hy is kapabel om self te kom kyk hoekom sy nie haar belofte nagekom het nie.

Sy vergeet om bang te wees toe die vliegtuig die lug inklief. Sy is baie banger om daar anderkant aan te kom. Sy kyk verlangend deur die venster na onder waar die aarde al verder wyk en al kleiner word. Sal sy ooit weer haar geliefde vaderland sien?

Die vliegtuig doen Lilongwe aan. Malawi is ’n pragtige land te oordeel na wat sy uit die lug uit daarvan kan sien. Maar dis nie lank nie, dan moet sy haar, steeds met ’n bewerigheid in haar maag, vasgespe vir die laaste skof van die reis. Die volgende landingsplek sal Moroni op Grande Comore wees – waar ’n wildvreemde man beloof het dat hy op haar sal wag . . . en nou voel dit al vir haar dit het soos ’n dreigement geklink.

Sy neem maar min in van wat die lugwaardin aan die passasiers oor die eiland te vertel het. Sy hoor die woorde “Al-Kamar” en “Perfumed Islands”, neem met ’n dowwe verstand en bekommerde oë die manjifieke piek van die vulkaan La Kartala waar, en voel haar maag ’n draai maak toe die vliegtuig met ’n sierlike halfsirkel begin laer sak na die aanloopbaan wat skielik onder hulle lê. Hulle het op die droomeiland geland en sy moet die gespe losmaak en die ander passasiers volg. Dat haar gesig seker lyk soos dié van ’n skaap wat ter slagting gelei word, eerder as dié van ’n bevoorregte vakansieganger op ’n eksotiese eiland, daaraan steur sy haar nie. Laat hulle dink wat hulle wil. Hulle weet nie waarin sy haar begewe het nie . . . en sy ook nie. “Kom ek om, so kom ek om,” fluister sy die beroemde woorde toe sy met bewerige knieë die doeanetoonbank nader.

’n Paar minute later betree sy die ontvangsaal van die lughawegebou. Sy gaan staan botstil teen die muur, wonder of sy nie maar dadelik sal terugglip en vir die mense vra of sy nie die uur voordat die terugvlug begin in die vliegtuig kan omwag nie. Maar haar knieë weier nou volstrek om na enige kant toe te beweeg. Dis net die groot, bang oë wat heen en weer flits op soek na iemand wat lyk soos ’n slawehandelaar. Hoe sal so ’n man lyk? Pankop, jellierige lyf en twee gulsige swart ogies vol onheilige genot. Sy voel sy is self nou al net een stuk jellie van vrees. Wat het haar besiel om so ’n mal perd op te saal?

Die volgende oomblik voel sy of ’n staalpen haar teen die muur vaskap toe sy skielik iemand reg op haar afgestap sien kom. Maar hy lyk so anders as die prentjie wat sy haar pas voorgestel het, dat sy hom net met ’n zombieagtige uitdrukking kan staan en aanstaar. Dis die mooiste, indrukwekkendste mansmens wat sy nog ooit gesien het, rolprentsterre inkluis.

Sulke goed loop nie regtig in wit langbroeke en ligte baadjies en hemde, oopgeknoop tot by die borshare, op hierdie aarde rond nie, vertel haar verstarde verstand haar. Dis goed wat Hollywood met lae grimering en kunstige beligting en fopkamerawerk soms regkry. Maar hierdie kunswerk wat nou hier op haar afpyl, sal selfs hul beste tegnici nie uit ’n gewone man opgetower kry nie. Sulke goed soos dié wat nou voor haar tot stilstand kom – en daar is net een van hierdie spesie op aarde, daar kán net een wees – behoort nie so los tussen gewone mense rond te loop nie. Netnou kry hy seer, kom iets oor . . . en ’n onskatbare kunswerk is vir ewig vir die wêreld – en veral vir die skoner geslag – verlore.

“Erika?”

Hy hoort agter al die slotte van die Reserwebank, of opgestop binne-in ’n glaskas in ’n museum.

“Erika!”

Die perfekte voorbeeld van manlike heerlikheid beweeg nog ’n tree nader, die oë skerp priemend in hare . . . en sy snak na asem.

“Ja, dis ek.”

Die bekommerde frons verdwyn tussen die donker wenkbroue en ’n glimlag flits in ’n ry wit tande in ’n sonbruin gesig, ’n fyn vonkeling in die donker oë. “Jy lyk ’n bietjie . . . e . . . verward. Het jy nie die vlug geniet nie?”

“Nee. Ek voel . . . duiselig.”

’n Arm kom om haar skouers, sy voel die verskuilde krag daarin en wens hy kan maar ’n bietjie meer krag bysit. “Dis net senuwees. Dit sal nou oor wees. Kom. Ek kry eers iets vir jou om te drink voordat ons ry.”

Die trek van die arm om haar skouer laat haar werktuiglik langs hom begin beweeg, maar hierdie keer is sy ’n gewillige lam wat ter slagting gelei word. As sy geweet het alle slawehandelaars lyk so, het sy haarself al jare gelede vir die mark aangebied. Sy giggel skielik en hy kyk weer skerp op haar af, sy stem waarskuwend:

“Toe nou! Toe nou! Moenie histeries word nie. Jy is veilig hier en niks skort nie. Jy is nou by my en alles is reg. Sit!”

Sy sien hom van haar af wegstap en haar blik volg sy bewegings. Sy het eenkeer in een van daardie soetsappige liefdesverhale ’n beskrywing gelees van die held wat soos ’n bedrieglik lui maar gereed-vir-spring oerwoudkat wegstap. Sy het toe gewonder hoe dit moet lyk. Nou weet sy.

Sy knip haar oë ’n paar keer vinnig. As dit alles ’n droom is, moet sy nou liewer wakker word voordat die oerwoudkat terugkom. Sy weet nie of sy hom van nog nader wil leer ken nie. Geen mens kan so volmaak wees soos wat hy blykbaar is nie. Skatryk en ’n droomprins. As sy sy vrou was, sou sy hom aan ’n dik ketting in die agterplaas vasgehou het. Sy frons. Hy het nooit laat blyk of hy getroud is of nie, en sy het nooit die moed gehad om te vra nie, sommer net aangeneem hy is nie getroud nie. Maar hy sal getroud wees, besef sy nou. Geen mansmens wat so lyk, sal vroumense van sy lyf af kan weghou nie. Hy was seker al tien maal getroud en tien maal geskei. Dit moet hel op aarde wees om met so ’n man getroud te wees. Dis nie vir my nie, weet sy. Maar mooi bly mooi, voeg sy by toe sy hom sien terugstap.

Sy sou liewer ’n koppie regte boeretroos, of dan ten minste ’n koppie tee wou gehad het, maar die Krismisvader wat soos Don Juan lyk, dink blykbaar ’n vrugtesappie is net die regte ding vir ’n ontstelde kind van twintig, en sy sluk gehoorsaam daaraan, probeer die oë ontwyk wat haar fyn van die ander kant van die tafeltjie bestudeer. Hy wonder seker nou wat op aarde het hom besiel om so ’n klomp geld op so ’n affêretjie te bestee.

“Ek is bly jy het gekom, Erika. Baie welkom.” ’n Fyn glimlaggie raak so effens aan sy lippe. “Ek weet dit het seker baie moed geverg. Ek waardeer dit.”

Sy kyk hom aan. Nou klink hy kompleet soos ’n volbloed, outydse ridder. Al wat kort, is die wit perd en die swaard aan sy sy. Sy voel weer eens ’n giggeltjie wat borrelgeluidjies in haar borskas maak, maar onderdruk dit met krag. Dis erg genoeg dat hy met die blote oog nou sien waarop hy sy geld gemors het. Dis nie nodig dat sy hom nog verder tot die ontnugtering moet laat kom dat hy met ’n giggelende bakvissie opgeskeep sit nie.

Sy volg sy voorbeeld en klink vir haarself soos ’n goed opgevoede kind wat Matriek in Goeie Maniere met lof geslaag het. “Dis ek wat moet dankie sê, meneer . . . e . . .”

’n Ligte frons skiet tussen die donker wenkbroue in. “Moet asseblief net nie weer daarmee begin nie! My naam is Philippe. As jy klaar is, kan ons maar gaan.”

Sy sit die glas neer, staan op. Waarheen “gaan” is, daarvan het sy natuurlik geen begrip nie, maar al is dit ook na ’n harem of die kolkende hart van La Kartala-berg, weet sy sy sal hom volg. Sy sal nooit die moed bymekaarkry om hierdie man te vertel sy is, of was, van plan om oor ’n uur weer terug te vertrek Suid-Afrika toe nie.

Die lae roomkleurige sportmotor wat buite op hulle wag, pas by hom. Of sý van pas lyk in so ’n swierige motor voor langs hom, is ’n ander vraag.

Sy voel verplig om darem ’n slag iets uit haar eie ook te sê, en vra: “Hoe het . . . jy geweet dis ek daar in die lughawegebou?”

Weer die skalkse glimlag om die mondhoeke terwyl die donker oë vlugtig in haar rigting keer. Sy antwoord is vir haar so duister soos haar nabye toekoms: “Ek kon jou nie miskyk nie.”

Terwyl die motor op pad is na ’n onbekende bestemming, laat hy hoor: “Ons moet net konsensus bereik oor hoe ons mekaar ontmoet het en waar, Erika. Die . . . storie van die bottel gaan vir mense moeilik aanvaarbaar wees.”

Sy frons verward. “Maar dis waar! Ek het ’n bot-”

“Ek en jy weet dit, maar ander mense sal dit belaglik vind.”

Sy kyk met groot oë na hom. “Ander mense?”

Vlugtig keer sy donker blik weer na haar, iets skertsends daarin. “Ja. Ek het jou nie na ’n eensame, afgesonderde eiland weggelok nie, kind. Ons gaan omring wees van mense . . . en mense is altyd nuuskierig.”

Haar frons word dieper. Aan die een kant is dit ’n gerusstelling, aan die ander kant sou dit dalk nie so onaardig gewees het om na ’n eensame, afgesonderde eiland op pad te wees nie . . .

“Ek het gedink ons moet hulle vertel dat ek jou op die strand van ’n klein dorpie aan die Suid-Afrikaanse kus raakgeloop het. Ons het mekaar toevallig daar raakgeloop en het sommer begin gesels, en toe nooi ek jou na die Comore. Dit klink heeltemal moontlik, nie waar nie?”

“Ja, maar dis jok,” antwoord sy bondig. “Ek begryp nie hoekom ons ’n liegstorie moet saamflans net om dit vir ander mense meer geloofwaardig te maak nie.”

Sy besef nie dat daar nog ’n regmerkie agter haar naam geplaas word nie – en dat al hierdie regmerkies haar toekoms ingrypend gaan beïnvloed nie.

Hy knik geredelik, maar sê oorredend: “Eintlik is dit nie heeltemal ’n leuen nie, weet jy? Ons hét mekaar toevallig op ’n klein kusplekkie raakgeloop. Ek was net nie in menslike gedaante nie, maar in bottelvorm. Maar eintlik is dit tog soos ons ontmoet het.”

Haar frons is nou verward. Mens kan dit so sien, maar . . . Sy kyk hom skuins aan, en hy weet nie dat daar ’n eerste duidelike kruisie agter sy naam geplaas word nie. Philippe Watsenaam kan wel die pragtigste mansmens op aarde wees, maar dat hy die waarheid kan verdraai soos dit hom pas, is ook seker.

“Maar hoekom is dit so belangrik dat hulle moet glo wat ons vertel? Wat maak dit aan enigiemand saak hoe ons mekaar leer ken het, behalwe . . .”

“Ek hou nie daarvan om belaglik voor te kom nie,” is die antwoord, ietwat kortaf. “Die werklike storie is taboe. Dit word net nie vertel nie, aan niemand nie, verstaan? Ons bly by wat ek gesê het ons sê.”

Dis ’n uitdruklike bevel wat duidelik nie verontagsaam mag word nie, en Erika swyg, kyk bekommerd voor haar. Êrens skort hier iets, vertel haar gesonde verstand haar. Sou hy regtig bang wees mense sal vir hom lag as hulle moet hoor hy het ’n bottel in die see gegooi, of is daar ’n ander rede? Sy loer weer sydelings na hom. Sy moet erken hy lyk nie soos ’n man wat so iets amper kinderagtigs sal doen nie. Uit eensaamheid sou hy dit beslis nie gedoen het nie, soos sy aanvanklik gedink het. ’n Man wat so lyk, en met soveel geld, sal beslis nooit ’n tekort aan geselskap hê nie – of ’n tekort aan skouers om op te huil as hy lus voel daarvoor nie.

Toe hy weer praat, is dit oor heeltemal ’n ander onderwerp. Wat hom betref, is die kwessie van hul ontmoeting afgehandel. Sy sal maar net moet saamlieg.

“Daar is ’n paar gewoontes eie aan hierdie eiland waarvan jy moet weet en wat jy liefs moet gehoorsaam, asseblief?” Sy stem klink steeds streng, asof hy nie gewoond aan teenspraak is nie, en sy wonder of sy hom nie maar moet sê dat daar oor ’n halfuur ’n vlug terug Suid-Afrika toe is nie.

“Sewe agstes van die eilandbewoners is van die Islamitiese geloof. Hul wette en reëls en gewoontes moet gehoorsaam word. Die drink van alkohol in die openbaar is absoluut onaanvaarbaar. Geen . . .”

Erika voel sy begin haar stadigaan vererg, al is hy die mooiste mansmens wat die aardbol bewandel. “Ek is nie juis gewoond daaraan om my in die openbaar aan alkohol te vergryp nie.”

Sy blik is skerp, ontevrede. “Dis nie ter sake nie. Ek noem maar net ’n paar dinge op, soos dat wanneer jy miskien ’n moskee besoek, jy jou skoene eers moet uittrek voordat jy binnegaan. Liggaamlike ontbloting word ook nie in die openbaar geduld nie. Dis . . .”

Kyk, dis nou genoeg. Waar dink die man kom sy vandaan? Van ’n nudistekolonie af? “Jy hoef nie bekommerd te wees nie, meneer . . . e . . . Philippe. Dis ook nie my gewoonte om my onwelvoeglik te ontbloot nie.”

Hierdie keer kyk hy haar baie direk en baie ontevrede aan. “Ek verwys na die dra van baaikostuums in openbare plekke, soos kafees en hotelle, sonder om iets bo-oor aan te trek. In die meeste lande is dit nie snaaks om by vakansieoorde mense net in hul swemklere te sien rondbeweeg nie. Hier is dit nie toelaatbaar nie. Jy is baie krapperig, Erika. Wat hinder?”

Sy kyk vinnig weg. Sy weet nie wat sy moet antwoord nie. Hoe kan sy hom sê dis hy wat haar ontstel en ontstig? Behalwe dat sy nie gewoond daaraan is om in sulke soort mans se geselskap te verkeer nie, het sy nog steeds donker bedenkinge in die hart oor waarheen hulle op pad is. Haar verbeelding is nou al so buite beheer soos mev. Collins s’n was. Hoe meer sy haarself vertel dat, al is hulle ook op pad na sy harem toe, dit heel waarskynlik al so volgepak is dat daar nie plek vir so ’n vaal muisie soos sy sal wees nie, stel dit haar nogtans nie gerus nie.

“Ek is jammer. Ek . . . is ’n bietjie gespanne. Dit was ’n . . . vreemde dag vir my,” antwoord sy gedemp.

“Natuurlik. Dis te verstane. Maar is dit al rede waarom jy so op die verdediging is? Ek kry nog steeds die indruk dat jy nie seker voel oor jou besluit om hierheen te kom nie. Vertrou jy my nie?”

Weer is sy ’n oomblik stil, moet eers oor die antwoord nadink. Sy weet nie wie sy op die oomblik die minste vertrou nie – vir hom of vir haarself. Sy het ’n ontstellende ondervinding op die lughawe gehad toe sy hom na haar aangestap sien kom het. Sy het bietjie meer as ’n maand gelede ’n liefdesteleurstelling gehad en is veronderstel om met ’n “verguisde” hart te sit, soos die romanskrywers dit so graag stel. Sy het nie geweet ’n “verguisde” hart kan nog bollemakiesie slaan soos hare daar in die lughawelokaal nie . . . en indien dit voortgaan om, soos nou, soos oerwoudtromme in haar keel te klop, gaan dit nog totaal en al uitmekaar spat.

Sy keer haar oë half vererg terug na syne. Hy was veronderstel om soos ’n goedige ou biegvadertjie te lyk . . . nie soos ’n verbastering tussen ’n filmster, seerower en Arabiese sjeik nie! Selfs ’n dooie hart sal daarvan trillings kry.

Hy kyk haar nou eerlik verbaas aan. “Wat op aarde gaan in jou kop aan, Erika? Jy bewe selfs! Waarvoor is jy bang?” en hy lê ’n gerusstellende hand vinnig oor hare op haar skoot.

Sy verstyf soos ’n staalveer en hy neem sy hand dadelik weg en sit dit terug op die stuurwiel, sy stem baie styf: “Jammer. Ek het vergeet jy het onlangs ’n . . . e . . . liefdesteleurstelling gehad.” Hy spreek die woord uit asof dit soos ’n taai toffie in sy tande vassit. “Jy kan die aanraking van ’n man op die oomblik nog nie verduur nie. Jy sal my nie vandag glo nie, maar dit sal oorgaan. Daar is niks so onbetroubaar soos die menslike gevoel nie. Hier is ons.”

Hulle het by ’n private aanloopbaan stilgehou waar ’n agtsitplek-vliegtuig reeds gereed staan. Die deftige motor word in die loods ingetrek en sy volg gedwee. Maar voordat sy in die vliegtuig klim, skraap sy genoeg moed bymekaar om te vra:

“Waarheen gaan ons nou?”

“Na Mayotte toe. Dis die mees suidelike eiland. Ek woon daar.”

Sy word ingehelp en vasgegespe en oomblikke later voel sy die vliegtuig van die grond lig, haar gasheer self aan die stuur. Vir sover dit haar aangaan, kon hy ewe-goed die maan as bestemming genoem het. En dan het hy in die enkelvoud gepraat. ’n Getroude man sou tog van “ons” gepraat het . . .

Erika word gedwing om haar aandag weg van haar bekommerde gedagtes te dwing toe haar gasheer haar aandag op die toneel onder hulle vestig.

Die skoonheid en kleurskakerings is werklik indrukwekkend. Die versteende lawa uit die hart van die La Kartala-krater val na benede soos ’n swart waterval tot in die see se blougroen waters. Soos hulle in ’n suidoostelike rigting vlieg, wys hy die ander eilande vir haar. Mohéli, die kleinste van die groep, lê regs van hulle, terwyl die vliegtuig se neus reg op die derde een, Anjouan, afstuur, met Mayotte verderaan suidoos.

Van die wêreld se grootste en mooiste kokosneutplantasies lê nou onder hulle. Daar is ook nog baie piesangbome te sien, want, so vertel hy, piesangs was eintlik oorspronklik die hoofproduk van die eilandgroep. Vandag is dit kokosneute, en natuurlik die speserye- en kruiebedryf waarvoor die eilandgroep beroemd geword het. Hy wys vir haar die spatsels kleur van bloeiende bome wat oral in die groen hart te sien is en wat so ’n belangrike deel van die parfuumbedryf uitmaak. En hy vertel hoe die geur van die ilang-ilang, jasmyn en lemoenbloeisels gemeng met vanielje, knoffel, peper en al die talle ander kruiesoorte al van ver af oor die see geruik kan word wanneer jy die eiland per boot nader.

Ook nog ander flora, soos die groot statige baobab of apebroodboom, dra alles by tot die prentjie van tropiese prag wat Erika vanuit die vliegtuig sien. Die swart rotse vorm ’n skerp kontras met die wit koraalstrande, die kleurryke tropiese plantegroei en ’n asuurblou see. Koraalriwwe lê soos fyngeëtste potloodriwwe van wit skuim in die kristalhelder waters van die Indiese Oseaan, ’n duidelike blyk dat hierdie eilandgroep ook van die wêreld se rykste koraal- en seelewe het. Voorwaar ’n paradys op aarde.

Te midde van soveel skoonheid moet Erika teen wil en dank begin ontspan, en sy luister belangstellend na haar gasheer se interessante vertellings. Hy maak ’n ekstra draai oor Mayotte, hul bestemming, wys vir haar die Pamandzi-krater uit, en ook die Sulu-waterval wat soos ’n wit bruidsluier vanuit die swart basaltpieke direk na benede in die see stort.

Hy vertel haar ook dat Mayotte, anders as die ander eilande van hierdie groep, geweier het om ingesluit te word toe die ander in 1978 as die Islamitiese Federale Republiek onder pres. Ahmed Abdallah Abderamane verenig het. Mayotte het verkies om onder Franse jurisdiksie te bly.

“Die president se naam klink baie Oosters,” merk sy nou op, haar senuwees tydelik tot bedaring gebring deur al die nuwighede. Verder lyk alles so pragtig, so onskuldig volmaak van bo uit die lug, dat ’n mens regtig nie wil glo dat hierdie aardse paradys, nes alle ander paradyse, seker ook maar êrens ’n slang sal hê nie.

“Ja. Dis van Arabiese oorsprong. In die tiende eeu het ekspedisies vanaf die Persiese Golf hier aangedoen. So ook het die Polinesiërs van die Stille Oseaan op hul reise na Madagaskar gereeld hierdie eilandgroep in die twaalfde eeu besoek. In 953 het inboorlinge van Madagaskar en die Shiraz-Arabiere hulle hier kom vestig. Die eilande is die eerste keer in 1500 deur Portugese seevaarders gewaar, en deur die Franse en Engelse in 1530. In die sewentiende eeu was hierdie eilandgroep baie gewild onder seerowers om as skuilplekke te dien om die ryk belaaide handelskepe voor te lê en te buit. Berugte name soos dié van Kidd, Quail, Davey Jones en selfs kaptein Swartbaard was onder hulle.” Hy glimlag vir haar groot ronde oë. “Verder het sultans vanuit die Ooste hulle hier kom vestig en was gedurig met mekaar in oorlog gewikkel. Ook Maleisiese seerowers het die eilandgroep gedurig ingeval en geplunder. Daarom is die bewoners van die Comore van baie gemengde bloed.”

“Maar jy is Frans. Van wanneer af is jy hier?” Sy voel nou meer vrymoedig om hom persoonlike vrae te vra.

Hy gee ’n fyn glimlaggie. “Ek is hier gebore . . . en ek moet bely dat daar in my voorgeslagte ook heelwat . . . e . . . interessante vermenging plaasgevind het, veral van Arabiese kant. Sinbad kon my voorvader gewees het!”

Erika frons en soek in haar geheue rond. Daardie naam klink bekend. Sy onthou sy het eenmaal as kind ’n film gesien, getitel Sinbad the sailor. Maar hierdie Sinbad die Seeman was geen gewone matroos nie. Hy was sommer ’n volbloed seerower, wat nie net allerhande kosbaarhede in die swerftogte op see van niksvermoedende prooi geroof het nie, maar ook die een mooi meisie na die ander as buit opgeëis het. Natuurlik het hulle aanvanklik hard terugbaklei, maar dit was nie lank nie, of hulle was soos klei in die arms van hierdie uiters aantreklike skurk. Sy kan nog onthou hoe sy haar vir hulle vererg het.

Sy word sydelings met ’n diep geamuseerde blik dopgehou, maar toe sy weer vinnig speurend na hom kyk, word dit vinnig onder beheer gekry.

Skielik is die ou onrus weer terug in haar. Hoe meer sy die man langs haar beskou, hoe moontliker word dit dat hy haar die waarheid vertel het. In haar verbeelding begin sy hom aantrek in sy voorvader se mondering: geknoopte kopdoek om die kop, ’n Arabiese simitar in die hand, wit pofmoubloes, kamarband om die middel en ’n nousluitende kuitbroek . . . en hy pas kompleet in die rol. Selfs die blas vel en donker oë pas volmaak.

En dan sal hy na hom aard ook . . . dieselfde wilde, ontembare bloedlyn sal na hom oorgedra wees . . . ’n man wat eenvoudig vat as hy iets wil hê, wanneer hy dit wil hê, hoe hy dit wil hê . . . en hierdie man is besig om haar na sy skuilplek te karwei . . . Nog erger . . . hy hoef nie eens vir haar te geveg het soos sy oorgrootjie vir sy genotjies nie. Nee. Hy stuur sommer net ’n vliegtuigkaartjie . . . en sy klim sommer in die vliegtuig. So eenvoudig is dit!

Al haar ou vrese, en ’n hele boel nuwes, is terug op die voorgrond. Sy hoor skaars wat hy verder te vertel het.

“Jy het seker opgemerk dat die eilandgroep soms die indruk wek van ’n maanlandskap, daarom dat daar ook soms na die Comore verwys word as Al-Kamar, wat die maan beteken.” Sy aandag is by die stuur en hy kom nie agter dat sy passasier se oë stokstyf in haar kop staan nie. “Hier onder ons lê die wêreld se grootste ingeslote strandmeer. Ek gaan nou land.”

Dis nie die daling van die vliegtuig wat maak dat haar maag draai nie. Sy voel behoorlik mislik van vrees. Die besef dat hierdie man haar na enige plek kan neem, enigiets met haar kan doen, laat haar koud word. Dat ’n mens skatryk is, verander niks daaraan dat jy ’n skurk is nie. Dat jy uiterlik beskaaf en baie, baie aantreklik voorkom, verander niks aan ontembare en onbeheerste drange wat jou doen en late regeer nie. Die sekerheid het nog altyd in haar gelê dat sy hierheen genooi is met ’n doel, en in hierdie oomblikke word dit ’n voldonge feit waarvoor sy haar kop op ’n blok sal neerlê. En sy is magteloos . . . heeltemal magteloos om wat ook al vir haar wag, af te weer. Tog . . .

Sy klim uit die vliegtuig voordat hy haar kan bereik om haar te help, ’n wanhopige vasberadenheid in haar oë. As Sinbad junior darem dink dat sy so maklik soos ’n ryp appelkoos in sy skoot gaan val soos sy voorvader se prooi, wag daar vir hom ’n verrassing.

Dis weer ’n private aanloopbaan waar hulle geland het, sien sy. Die skurk moet stink van die geld. Seker van oupa Sinbad geërf.

“Die huis is net hier agter die bome.”

Oomblikke later kom sy botstil in haar spore tot stilstand. Die “huis” soos hy daarna verwys het, is ’n Oosterse kasteel. Genestel in die groen hart van boom en plant, afgewissel met spatsels baldadige rooi, geel en pienk blommende rankers en struike, staan dit voor haar soos ’n foto van Oosterse weelde. Die kenmerkende geur van die eilande het skielik in haar neusgate verander na die subtiele geur van brandende wierook. Daar is torinkies, groot boë en koepeltjies met koepelvensters waarvan die traliewerk soos die fynste kantwerk vertoon. Daar is pilare met krulle en marmerblink breë trappe en ’n spuitende kaal beeldjie in die middel van ’n visvywer. ’n Rooi reën van bougainvillea val vanaf die eerste verdieping na benede en twee gebeelde maanhaarleeus met omkrultone en oop bekke waarin die slagtande ontbloot staan, kyk op haar neer vanuit twee nisse weerskante van die hoofingang. En sy wéét sommer hoe die binnekant lyk: Persiese matte op marmervloere, lae tafels en rusbanke in diep wynrooi gestoffeer met vergulde armleunings. Koperketels en ornamente uit die Verre Ooste, bediendes geklee in lae drapeersels, met neergeslane ooglede en skinkborde waarop die fynste geslypte glase staan, die rooi wyn soos bloed in die kraffie daarnaas . . . En ’n harem êrens agter kanttralies . . . en gesluierde vroue wat wag . . . en die ligte bries wat speels deur chiffon-afskortings en harpsnare waai . . .

Sy knip haar oë, druk haar handpalms teen haar mond. Sy is aan die mal word! Sy sien nie regtig wat sy sien nie. Sy kan nie regtig sien wat sy sien nie!

Agter haar het die man ook tot stilstand gekom. Hy het haar snak na asem gehoor. “Hou jy daarvan? Ek is al so gewoond daaraan dat ek dit nie meer regtig raaksien nie. Maar dit is seker indrukwekkend om dit vir die eerste keer te sien.”

Vreesaanjaend, bedoel jy! dink sy met koorsige verstand, heeltemal paniekerig nou.

Sy wurg die vraag uit: “Jy het . . . seker ’n . . . harem ook?”

“Ja. Die plek is oorspronklik deur ’n sultan gebou en natuurlik was daar ook haremkwartiere. Kom ons stap nader.”

Haar hartspier word vir die tweede keer binne sekondes slap. ’n Gil skeur deur die lug, die vrees en angs trillend in die rou, skerp klank. Dis of die fyn traliewerk voor die vensters daarvan bewe. Dan ’n gemartelde vrouestem wat na bo roep: “Allah! Allah!”

Sy staan versteen in haar spore terwyl die man agter haar verby bars en die breë trap opstorm. Die volgende oomblik trek haar hartspier saam, lewe vloei terug in haar en sy spring ook weg en storm blindelings in ’n ander rigting. Daar is net een gedagte in haar kop: Sy moet hier wegkom, so gou moontlik en so ver moontlik.

Op haar pad na wie-weet-waar word alles wat pla sommer in die hardloop uitgetrek. Eerste waai haar polvyskoene. Toe volg haar snyerspakkie se baadjie. As daar in hierdie stormloop na bevryding net tyd was daarvoor, sou die nousluitende romp ook gewaai het, maar sy pluk dit sommer in die hardloop tot ver bokant haar knieë op en druk dit aan weerskante by ’n stukkie onderklere in sodat dit soos ’n gepofde minirompie met ’n valletjie om haar staan. Haar vaart word eindelik deur die meer voor haar gestuit.

Wanhopig kyk sy om haar rond. Sy is nie ’n danige swemmer nie, maar eer sy lid van ’n harem word, durf sy liewer die wêreld se grootste ingeslote strandmeer aan.

Toe gewaar sy die roeibootjie wat aan die waterkant lê. Met ’n snik storm sy daarop af, stoot dit in die water en spring in, gryp die roeispane vas.

“Haai! Wat maak jy daar?”

Dis vir haar aansporing genoeg om al die krag wat nog in haar oorgebly het, agter die roeispane te sit. Dit gaan ’n bietjie woes aan die begin. Sy het in haar lewe nog nie ’n roeispaan vasgehou nie. Dis links, dan regs, maar die water tussen haar en hierdie onheilsnes word tog wyer.

’n Man staan op die kant en waai wild met die hande.

“Kom terug! Daardie boot lek! Moenie mal wees nie! Jy gaan verdrink!”

Ou maat, ek is liewer mal en verdrink voordat ek terugdraai, sê sy stilweg vir die vreemdeling, maar toe verskyn iemand langs hom, iemand wat nie meer so ’n vreemdeling is nie.

“Erika! Is jy van jou sinne beroof? Kom dadelik terug!”

Sy gesig en oë vertel haar selfs op dié afstand dat daar nie vir haar ’n harem wag as hy haar in die hande kry nie, maar ’n antieke martelkamer, toegerus met kettings teen die mure en pynbank kompleet.

“Jy gaan nie ver kom nie. Die boot gaan sink!” Daar volg nog ’n geluid wat vir haar beslis soos ’n ongebreidelde, voorvaderlike vloekwoord klink, en terselfdertyd vind sy uit daar word nie net bangmaakstories aan haar opgedis nie. Sy sit al tot by haar kuite in die water. Die boot ís aan die sink!

“Wat op aarde gaan met haar aan? Is sy mal?”

“Is alle vroumense nie?” is die weervraag voordat die netjiese tropiese uitrusting stuk na stuk op die sand beland. Vanaf die sinkende bootjie kan Erika niks anders doen as om die ontkleedans te aanskou nie. Haar oorwerkte hartspier gee ’n stuiptrekking toe hy, net in sy onderbroek geklee, met ’n sierlike boog die meer aandurf, en sy dink onsamehangend: Dat die duiwel se trawante altyd so mooi moet wees . . .

Die volgende oomblik is daar net borrels waar sy was. ’n Wilde watertrappery volg en sy weet nie of sy bly of jammer moet voel toe ’n hand haar aan die een skoppende enkel beetkry nie. Sy kyk vas in ’n paar gloeiende swart oë wat langs haar uit die water dop.

“Los my, jou engel van die Bose!”

Sy word omgedraai op haar rug, stewig met een arm vasgepen.

“Jy is nader daaraan om ’n engel te wees as ek, juffrou Hough. Lê stil, of ek draai jou nek om!”

Sy kan nie anders nie, dít besef sy, en lyk maar bedremmeld toe sy haar binne rekordtyd terug op die sand bevind. Haar klere klou natuurlik soos ’n tweede vel aan haar vas en die baas van die gesinkte boot se oë blink geamuseer en bewonderend.

Maar daar is niks bewonderends in die oë van die man in die nat onderbroek nie. “Wat op dees aarde makeer jou, vroumens?”

“Ek . . .” Sy sluk, ruk haar kop agteroor sodat die nat slierte hare wegval van haar gesiggie, nou sonder ’n kriesel grimering, en haar blik ewe onstuimig in syne terugkaats.

“Hoe groot is jou haremkwartiere . . . en hoe vol is dit?”

Toe hy haar net fronsend verward staan en aankyk, vervolg sy driftig: “Klink my oorvol. Jy moet eers een vermoor om plek te kry vir ’n nuwe.” Toe sy mond oopgaan, spring sy hom uitdagend voor: “Of wil jy ontken dat dit ’n vrou was wat netnou so angsbevange binnekant jóú Oosterse paleis gegil het?”

“Daar het ’n vrou in my Oosterse paleis gegil, ja. Dis Anna.”

“En wie is Anna? Jou hoofvrou . . . of die opsigter oor die harem?”

Hy dink ’n oomblik. “Wel, ek sou sê laasgenoemde.”

Erika kyk hom agterdogtig aan. Hoekom kry sy die gevoel dat sy besig is om ’n groot gek van haarself te maak? Maar . . . die nare agterdog wil nie van haar wyk nie. Hierdie man is ’n Arabier en tot dusver het hy nog soos die graf geswyg oor besonderhede oor homself. Agter haar rug vee die toehoorder ’n glimlag agter sy hand weg.

“Dáár! Daar erken jy jy hou ’n harem aan! Meneer . . . e . . . De la Boeba, met watter doel voor oë het jy my hierheen genooi? En moenie my weer die ou storie vertel nie. Ek sluk dit nie.”

“My van is De la Buscagne,” help hy haar reg en lê nadruk op die Franse neusklank. “Dit wil voorkom asof jy self ook ’n doel voor oë gehad het. Wat wil jy graag hoor, juffrou Hough? Dat ek jou laat kom het as jongste toevoeging tot my harem? Ek kan daaroor nadink,” en sy donker blik vee oor haar nat liggaam. “Jy het blykbaar aspirasies in daardie rigting.”

Sy klou met alle mag aan ’n laaste bietjie waardigheid vas, rek haar tot haar volle lengte uit – en besef dadelik dis ’n fout. Haar dun, fyn bloese vertoon amper soos ’n sykous en elke kurwe en knoppie wys, vertel die oë haar. Sy laat haar skouers vooroor val asof ’n spier êrens skielik met ’n byl afgekap is.

“As jy dink ek sal my voete in daardie Oosterse paleis van jou sit, moet jy weer dink, meneer De la Buscagne,” en hierdie keer kry sy dit reg uitgespreek, hoewel die neusklank baie na die geblaas van ’n pofadder klink.

“Het jy ’n keuse, juffrou Hough?”

“Ek weet nie hoekom jy my hierheen laat kom het nie, maar ek speel nie saam nie. Ek haal die eerste vlug terug.”

“Hoe gaan jy dit doen? Jy het ’n enkelkaartjie gehad.” Hy sien die verwardheid in haar oë en stel haar amper vriendelik in kennis: “Mens koop nie retoerkaartjies vir dames wat op pad is na ’n harem nie, juffrou Hough. As jy eers eenmaal deel van ’n harem geword het, is jy daar vir altyd . . . of het jy nie geweet nie?”

Van agter haar rug is daar ’n geluid tussen ’n snork en ’n lag en sy werp ’n vernietigende blik na die vreemdeling. Hy lag nog! Almal op hierdie eiland is barbare! Dan wend sy haar weer tot die skamel geklede man . . . en wens hy wil liewer begin aantrek. Sy superblou onderbroek is ontstigtend.

“Hoekom het daardie vrou gegil?”

“Sy het geskrik vir ’n spinnekop.”

Sy pers haar lippe dadelik opmekaar. As sy haar sonde nie ontsien nie . . . “Hoe oud dink jy is ek?”

“Twintig. Ek weet dit.”

Skielik is dit asof hy verveeld raak vir die speletjie. Haar klere word in haar arms geprop.

“Trek aan.”

Sonder om verder aandag aan haar te gee, begin hy dieselfde doen, en na ’n oomblik van onsekerheid begin sy maar gehoorsaam. Die droë baadjie gaan ten minste belangstellende oë keer.

“Gaan jy self stap, of wil jy hê ek moet jou my harem indra?” is die formele vraag en met ’n stywe nek en ewe stywe rug val sy in die paadjie voor hom in.

Wel, sy het haar bes gedoen. Wat nou ook al op haar wag, is onvermydelik. Maar dat haar eindbestemming op aarde ’n harem sou wees, sou sy in haar wildste nagmerries nie kon droom nie. Sy bars in trane uit, nou heeltemal oorstuur.

Toe sy voel hoe hy haar optel en met haar aanstap, het Erika eenvoudig nie die krag meer oor om haar teë te sit nie.

Ena Murray Omnibus 34

Подняться наверх