Читать книгу Ena Murray Omnibus 39 - Ena Murray - Страница 10

Оглавление

7

Die ongewone opgeruimdheid van die tweeling bly voortduur, ook tot ergernis van sommige mense. Hul klasonderwyseres kan dit net nie heeltemal begryp nie en is sommer agterdogtig.

Maar hoewel die tweeling skielik nie meer die ietwat bot, stil kinders van die afgelope tyd is nie, is hul lewenslus ook van só ’n aard dat hulle nie op iets verkeerds betrap word nie. Inteendeel. Hulle is deesdae baie vriendeliker teenoor hul juffrou en baie hulpvaardig in die klas.

“Wat gaan skielik met julle twee aan?” vra sy op ’n dag geïrriteerd deur hierdie veranderde houding van die tweeling, terwyl sy aanvoel dat daar iets agter skuil. Nog meer, sy het die nare gevoel dat dit eintlik teen haar gemik is, hoewel sy nie kan verklaar hoe en hoekom nie.

“Hoe bedoel juffrou nou?” wil Tokkie onskuldig weet, ewe vriendelik.

Estelle frons skerp. Sy kan net nie die gevoel afgeskud kry dat dié kinders eintlik besig is om nie met haar te lag nie, maar vír haar.

“Julle hou net eenvoudig nooit meer op met glimlag nie,” antwoord sy vererg. “Dit lyk asof dit so vasgegroei het! Hier skuil iets agter, nè?”

Die tweeling het die gawe om soms regtig stokonnosel te lyk. Hul gesigte neem nou daardie uitdrukking aan wat hul klasonderwyseres al hardop wou laat uitgil.

“Hoe bedoel juffrou nou?” is dit weer Bokkie wat vra.

Hul juffrou se oë begin blits op die kenmerkende manier wat hulle al goed leer ken het. “Kyk, ek is nie onnosel nie. Daar is iets aan die gang met julle twee. Ek weet dit!”

Nou lyk hulle regtig deur die mis en Estelle Huizeman moet op haar tande byt. Die frustrerendste van alles is dat hulle niks doen sodat sy ’n vat op hulle kan kry nie. Soos nou. Hulle staar haar net soos twee imbesiele aan, en dan skielik breek daardie allesomsluitende, vriendelike glimlaggies weer deur.

Sy swaai weg van hulle en sê op ’n hoë, skril stemtoon wat duidelik verraai dat haar senuwees nie meer te waffers is nie: “Los die boeke en gaan maar huis toe. Julle kan môre verder regpak. Kom net onder my oë uit!”

“Goed, juffrou. Middag, juffrou.”

“Tot siens, juffrou.”

Sy word byna verswelg deur die afskeidsglimlaggies en sy sak kreunend agter die tafel op die stoel neer. Sy het nog altyd gewonder hoekom sy ’n onderwyseres geword het, want sy is glad nie erg lief vir kinders nie. Meestal irriteer hulle haar. Maar wat haar besiel het om haar visier op ’n wewenaar met ’n onhebbelike tweeling te stel, weet sy nie. Tog ken sy die antwoord. Benewens die feit dat die jare begin aanstap en die kanse op ’n huwelik al skraler word, is die betrokke wewenaar ’n baie aantreklike man en sal dit vir haar ’n persoonlike oorwinning wees as sý die een is wat hom ná soveel jare aangekeer kry.

As hy net nie hierdie tweeling gehad het nie!

Aan die veilige kant van die klaskamerdeur glimlag die twee breed teenoor mekaar. So ver gaan dit goed!

Dit was weer Tokkie wat met die wyse raad gekom het nadat hulle verseker was dat hulle tant Lara gaan kom.

“Hiervandaan af moet ons niks doen wat ons in die moeilikheid kan laat beland nie, Bokkie. Veral nie by Pa en ou Snuffelpot nie. Ons moet so gaaf teenoor haar wees soos ons moontlik kan, want ek kry stuipe as ons planne deur die mat val.”

“Hoe kan dit deur die mat val? Tannie Lara het klaar laat weet dat sy daardie dag en datum hier sal aankom.”

“Ja, ek is nie bekommerd oor haar nie. Maar die duiwel begin my nou wysmaak Pa kan dit maklik in sy kop kry om ou Huizeman te vra om hier by ons te bly solank hy gaan jag en dan gaan ons almal saam na haar plaas toe. Ons moet sorg dat daar nie met ’n speld op ons gedruk kan word nie. Pa, en sy, moet gerus wees om ons hier alleen by tant An te los.”

Bokkie het hewig ontsteld gelyk by die gedagte aan die moontlikheid dat daar nou iets met hul planne skeef kan loop. “Ek kry meer as stuipe as ou Snuffelpot ons gaan oppas solank Pa gaan jag. Jy’s reg, Tokkie. Ons sal ons moet gedra.”

Van daardie oomblik af is daar nie twee voorbeeldiger, soeter, gawer, hulpvaardiger kinders in daardie skool as juis die skoolhoof se tweeling nie. Dis te goed om te glo, soos een van die personeellede opmerk, en hul klasonderwyseres stem stilswyend saam. Net ... sy glo dit nie! Hier is ’n slang in die gras. Daarvan is sy seker.

Henk Beukes het egter nie daardie negatiewe gevoel oor die tweeling se veranderde houding nie. Hy verklaar dit weer heeltemal anders. Die tweeling het eindelik besef en aanvaar dat hulle nou groot meisies is en hulle dienooreenkomstig behoort te gedra. Hulle het eindelik dametjies geword!

Tokkie was glad nie verkeerd in haar voorgevoel dat hul pa met die gedagte gespeel het om Estelle te vra om hier ’n ogie te hou solank hy weg is nie. Hy was bekommerd om die tweeling vir tien dae net in die sorg van tant An te los. Hy weet maar te goed hoe maklik kom hulle by haar verby. Maar noudat dit tog duidelik blyk dat sy dogters eindelik verstandig geword het en hulle soos welopgevoede, volgroeide kinders kan gedra, sien hy af van daardie gedagte. Die tweeling sou nooit weet watter naelskraapse ontkoming hulle werklik gehad het nie.

Dis met die grootste verligting dat hulle hul klasonderwyseres groet voordat sy met vakansie huis toe vertrek, en Bokkie klap met haar palms teen haar wange toe Estelle se rooi motortjie om die hoek verdwyn.

“O, gorrel, ek sal nooit weer my gesig op sy regte plek terugkry nie!”

“Wat bedoel jy?”

“My kiewe is stokstyf van al die geglimlag, veral teenoor haar.”

Tokkie lag en haak by haar tweelingsuster in. “Kom, jong! Sy’s weg en as sy weer terugkom, het ons klaar ’n ma!”

Die volgende dag is Henk ook gereed om op sy jagtog te vertrek en hy roep die tweeling na sy studeerkamer, kyk hulle waarskuwend aan.

“Jul gedrag en optrede het die afgelope dae so verrassend verbeter dat ek voel ek kan met ’n geruste hart vertrek. Ek hoop nie dat ek, wanneer ek terugkom, moet hoor dat die vertroue wat ek in julle gestel het, misplaas was nie. Ek wil niks hoor wanneer ek terugkom nie, hoor julle twee? Julle vang niks onverantwoordeliks aan solank ek weg is nie!”

“Nee, ons sal nie, Pa!”

“Natuurlik nie, Pa!”

“Nou goed. Solank ons mekaar verstaan.” Hy kyk hulle onseker aan, en die eerste keer kry hy ook daardie gevoel waarmee hul klasonderwyseres al dae lank worstel: hulle het darem besonder vinnig verander. Soos handomkeer. Hy wonder of daar nie iets agter skuil nie. “Het julle toe weer nagedink oor die ander saak?”

“Watter saak, Pa?”

“Oor die feit dat ons die laaste gedeelte van die vakansie by juffrou Estelle-hulle gaan kuier. Het die gedagte darem al meer aanvaarbaar geword of ...?”

“Ag, Pa, dit lê nog so vér in die toekoms.” Tokkie glimlag hom breed toe. “Môre het sy eie paaie!”

Henk moet vinnig die glimlag agter sy hand verberg. Die tweeling het die afgelope tyd begin boeke lees – noudat hulle nie meer saam met die seuns sokker mag speel nie. Hy trek sy gesig op ’n sedige plooi.

“Dis waar, Tokkie. Môre het sy eie paaie. Dit lê nog ver in die toekoms – ’n hele tien dae ver. Goed. Ons praat weer wanneer ek terug is. Maar kyk dat jul goedjies reg en skoon is, sodat ons net kan pak wanneer ek terugkom.”

Hulle waai vir hom tot siens totdat hy ook uit sig verdwyn en Bokkie wil weet: “Hoekom is grootmense so lief om te preek?”

“Dis omdat die meeste grootmense se mangels al uit is. Hul keelgate is te groot.” Sy frons. “Hier kom die posbode aan. Dit lyk soos ’n telegram.”

“Dis vir meneer Beukes,” lig die posbode hulle in, en Bokkie kyk hom vererg aan.

“Ons kan ook lees, dankie. Gee hier. Ek sal teken.” Toe hy weg is, kyk hulle mekaar onseker aan. “Sal ons dit oopskeur?”

“Dis al manier om vas te stel van wie af dit kom. Gee hier.” Tokkie voeg die daad by die woord en tot hul grootste vreugde is dit van tannie Lara.

“Dis net om te sê sy sal môremiddag vieruur hier aankom. O, dis wonderlik om te dink sy is môremiddag hierdie tyd al hier!”

“Ja. Maar dit sou darem ’n geboddery afgegee het as daardie telegram vyf minute vroeër hier aangekom het! Dan sou Pa dit in die hande gekry het en dan ...”

“Wel, dit het nie, so moenie koue rillings kry nie. Daar’s nou ’n ander ding, Bokkie. Ons sal nou vir tant An moet vertel. Sy sal moet weet dat hier môre ’n vrou kom kuier.”

“Ja, dis waar. Wat gaan ons haar vertel?”

“Dit sal ons goed moet bespreek. Kom ons gaan eers kamer toe.”

Dis eers laat die middag dat hulle tant An in die kombuis opsoek. Teen hierdie tyd sal hul pa al goed op pad wees jagveld toe en sal tant An, indien sy so iets in die kop mag kry, hom nie meer kan laat terugroep nie.

“Sjoe, dis koud buite,” laat Tokkie hoor en kom maak haar hande warm by die stoof.

“Ja, dis sommer regtig koud buite,” beaam Bokkie en voeg haar by haar suster. “Wat maak tante?”

Die ou tannie glimlag. “Souskluitjies – omdat julle twee sulke soet kinders die afgelope tyd was.”

“Souskluitjies!” kom dit asof uit een mond. Dis hul geliefkoosde gereg.

“Toe, staan nou eers so ’n bietjie eenkant toe. Julle is in my pad,” sê tant An, en die tweeling gee so ’n entjie pad, en Bokkie draai haar oë vir Tokkie. Sy moet nou begin praat!

Tokkie maak keel skoon, soek na haar sakdoek en gee skielik ’n uitroep.

“O, gonna-patat!”

“Wat is dit, kind? Moenie jou by die stoof verbrand nie,” sê tant An vinnig, dadelik half senuweeagtig. Die tweeling het nog nooit alleen by haar gebly nie, en sy moes nog nooit die verantwoordelikheid vir hulle alleen dra nie.

“Nee, ek het nie gebrand nie. Dis hierdie telegram. Ek het skoon daarvan vergeet.”

Tant An frons. “Watter telegram?”

“Hierdie een. Dit het gekom nadat Pa al weg was.”

“Van wie af? Ek het nie nou my bril hier nie. Wat sê dit?”

“Dis van Pa se vriendin af.”

“Vriendin?” Tant An lyk verward. “Maar juffrou Huizeman is gister maar weg ... O, dis seker om te laat weet sy het veilig aangekom. Gaan sit dit in jou pa se studeerkamer neer.”

“Nee, tante. Dis nie van haar nie,” spring Bokkie ook nou by. “Dis van Pa se vriendin – se regte vriendin – af. Mevrou Kirsten.”

Tant An laat die lepel waarmee sy doenig was, sak. “Ek het nog nooit van haar gehoor nie. Wie is sy?”

Tokkie sug. Tant An was seker nie danig slim op skool nie, dink sy by haarself en herhaal weer met nadruk: “Sy is Pa se vriendin – sy spesiale vriendin.”

Tant An lyk nou net so stomonnosel soos die tweeling soms kan lyk, en Bokkie se gedagtetrant is min of meer dieselfde as haar suster s’n. Sy is darem bly sy was nie tant An se onderwyseres nie. “Weet tante nie wat dit is nie? Sy is Pa se meisie, met ander woorde.”

Tant An kyk hulle beurtelings aan. Watter kaf praat die kinders ...

“Jul Pa se ... e ... nooi? Ek weet dan nie van haar nie. Jul pa het nog nooit van haar gepraat nie ...”

“Maar hy hoef mos nie vir tante van haar te vertel het nie. Dis mos sy persoonlike sake,” laat Tokkie wysgerig hoor, en tant An se frons verdiep.

“Waar kom hy aan haar en hoe lank is dié ding al aan die gang?”

Hulle kyk vinnig na mekaar. Van nou af sal daar reg gejok moet word.

“Hulle ken mekaar al laaaaankal,” laat Bokkie hoor, en Tokkie voeg by: “Ja, maaaaande al.”

“Waar het hy aan haar gekom?”

“O, hulle het die een of ander tyd ontmoet ... e ... by vriende. E ...”

“Een vakansie,” vul Bokkie aan. “En daarna skryf hulle gereeld aan mekaar en ...”

“Sy is baie mooi, tante. Baie mooi.”

“Sy is ’n weduvrou ...”

“ ’n Weduwee, Tokkie!” Tant An is nog steeds half verward. Hoekom het Henk nooit iets van haar laat val nie? Dis tog seker nie ’n staatsgeheim dat hy ’n vriendin êrens het nie. En wat dan van juffrou Huizeman! “Waar bly sy?”

“In die stad. Sy het ook ’n tweeling gehad, nes ons. Maar hulle en haar man is in ’n motorongeluk dood. Dis vreeslik, nè, tante?”

“Ja. Ja, foei tog, dis aardig.” Tant An skud haar kop. “My aardetjie, dat Henk die hele tyd ’n nooi het en niemand weet daarvan nie! Julle sê julle ken haar ook?”

“Ja, tante. Sy is ... fantasties!”

“O, sy is vreeslik gaaf, tante. Tante sal môre sien.”

“Hoe bedoel jy, ek sal môre sien?”

“Sy kom kuier, tante! Sy kom môre met die trein.”

“Hiernatoe?”

“Ja. Sy kom vir ons kuier.”

“Maar ... maar jul pa is dan weg ...”

“O, dit maak nie saak nie. Sy kuier solank by ons.”

Tant An is van voor af verward. “Maar jul pa het niks gesê van ’n vrou wat hier sal kom kuier nie ...”

“Hy weet nie, tante. Tannie Lara wou hom verras, maar ... wel, nou sal sy maar by ons kuier.”

“Maar, kinders, julle moet haar bel en sê jul pa is nie hier nie. Sy kan mos nie die hele ent pad kom en Henk is nie ...”

“Die telegram het te laat gekom, tante. Haar trein het al ’n uur gelede vertrek. Sy is al op pad.”

“Dis jammer ...”

“Sy sal nie omgee nie. Sy is baie lief vir ons en ons vir haar. Sy sal lekker hier by ons kuier. Kan ons solank die gastekamer vir haar regkry, tante?”

“Ja. Ja, julle sal seker moet.” Tant An skud haar kop. Hoe meer dae, hoe meer dinge. Vir wat kon Henk haar darem nie maar van haar vertel het nie? En al die tyd dink sy juffrou Huizeman is die een. “Gebruik die beste lakens en slope, kinders. En sit genoeg komberse op die bed.”

“Ja, tante. Ons sal.”

Die tweeling laat ’n nog steeds verwarde tant An in die kombuis agter en begin opgewonde met hul selfopgelegde taak. Nog nooit het hulle soveel aandag aan die opmaak van ’n bed bestee as vandag nie. Alles moet net honderd persent vir hul tannie Lara wees. Ironies genoeg bedank hulle nou hul klasonderwyseres wat hulle ’n honderd keer hul beddens laat aftrek en laat oor opmaak het.

Toe tant An hulle vir aandete roep, is hulle darem tevrede. Daar kort nog net blomme in die kamer, maar met dié het hulle reeds raad. Hulle sal vanaand van tant Babes se asters gaan gaps.

“Wil tante nie sien hoe lyk sy nie?” vra Bokkie tussen die souskluitjies deur, en tant An kyk haar weer fronsend aan. Sy het al die gevoel die kinders is besig met gekskeer.

“Ja, natuurlik. Ek sal haar graag wil sien, maar ...”

“Pa het ’n foto van haar. Hy steek dit in sy lessenaar weg. Wag, ek gaan haal dit gou.”

Toe Bokkie by die deur uit verdwyn, skud tant An haar kop weer. Hierdie vreeslike geheimsinnigheid kan sy net nie kleinkry nie. Dan is dit of daar meteens ’n lig vir haar opgaan. Seker nooit anders nie, dink sy en glimlag. Dié Henk is nie onnosel nie. Natuurlik kon hy nie wyd en syd bekend maak dat hy reeds ’n nooi het nie. Dan sou juffrou Huizeman hom nooit gehelp het met die tweeling nie, want dit was tog baie duidelik dat sy nie net uit blote belangstelling in die tweeling die reusetaak aangepak het om hulle ’n bietjie reg te skaaf nie. En nou is dit ook meteens glashelder vir die ou tannie hoekom Henk besluit het dat die tweeling ’n bietjie getem moes word. Dis natuurlik alles ter wille van die geheimsinnige nooi. Hy was natuurlik bang dat sy die hasepad sou kies as sy besef dat sy ’n wilde, onhebbelike tweeling op die koop toe kry as sy met Henk trou.

Maar die tweeling is deesdae baie skaflik en mak en geen vrou hoef meer bang te wees om aan Henk Beukes die jawoord te gee nie. Juffrou Huizeman gaan egter nie hiervan hou wanneer sy die waarheid agterkom nie, dink tant An effens bekommerd. Maar dis Henk se probleme daardie.

Om die waarheid te sê, tant An het al bedenkinge gehad oor hierdie juffrou. Diep in haar hart het sy gevoel dat sy nie die regte vrou vir Henk of die regte ma vir die tweeling sou wees nie. Maar sy het stilgebly. Dit was Henk se sake. En toe Henk die afgelope tyd al meer in die rigting begin praat van dat hy “seker maar sal moet trou, veral ter wille van die tweeling”, het tant An maar net aangeneem dat juffrou Huizeman die een sal wees. Maar al die tyd het Henk ander planne gehad!

As die tweeling van hierdie vrou hou, dan moet sy gaaf wees, besluit die ou tannie. En toe Bokkie die foto triomfantlik voor haar neus druk, moet sy saamstem: sy is pragtig!

Sy glimlag breed vir die tweeling en hulle glimlag ewe breed terug. Sy het die hele deurmekaarspul ontrafel en alles is nou vir haar duidelik. Sy begin nou self opgewonde daarna uitsien om hierdie mooi nooi van Henk in lewende lywe te ontmoet. Hulle moet dit vir haar baie aangenaam hier maak, sodat sy nie te teleurgesteld sal wees omdat Henk nie hier is nie.

Toe dit goed donker is, sluip die tweeling stilletjies uit die huis nadat hulle seker gemaak het dat tant An al gereed is om te gaan slaap. Hulle nader die pragtige asters versigtig.

Ongelukkig vir hulle onthou tant Babes op daardie oomblik dat sy nog nie haar plantjies wat sy teen die ryp wil beskerm, toegemaak het vir die nag nie, en die onvermydelike gebeur.

Sy kyk die skoolhoof se tweeling verbaas aan en kyk dan af op die paar asters in elkeen se hand wat duidelik toon wat presies hier aan die gang is. Voordat die verbaasde vrou nog ’n woord kan uitkry, is dit Tokkie wat opgewonde begin verduidelik.

“Ag, tannie, moenie vir ons kwaad wees nie. Ons wou net so ’n paartjies pluk. Tannie sien, ons wil hê die huis moet mooi lyk môre, want Pa se meisie kom kuier en ...”

“Ons wou nie regtig steel nie, tannie,” val Bokkie ook weg. “Ons wou net so ’n paartjies in haar kamer sit en ...”

Die vrou glimlag. Teen hierdie tyd ken almal al die tweeling. Hulle was die afgelope tyd redelik stil, maar dit sal mos darem nie die eerste keer wees dat hulle in haar asterakker of in haar vrugtetuin besoek aflê nie! Sy glimlag nou, maar tog fronsend. “Natuurlik kan julle maar ’n paar astertjies kry, kinders. As julle kom vra het, sou ek julle ’n hele arm vol gegee het.” Die twee lyk skuldig en skaam. “Maar vir wie, sê julle, wil julle die blomme hê?”

“Vir ... vir ... Pa se meisie wat kom kuier, tannie.”

“Jul pa se ... meisie?” Die vrou lyk openlik ongelowig, en Bokkie verduidelik heftig.

“Dis waar, tannie. Pa se regte meisie kom kuier môre vir ons. Tannie sal haar nog sien.”

“O.” Sy klink nog steeds skepties. “Wie is dié meisie?”

“Dis tannie Lara, tannie. En sy gaan nog ons ma word. Tannie sal self sien.”

“O.” Hierdie keer klink sy oorbluf. Sy het nooit geweet Henk Beukes het ’n vaste meisie nie, en volgens die tweeling gaan hulle beslis trou. Sy glimlag nou en sê vriendelik: “Nou toe, kom ons pluk vir haar ’n bos van die mooiste asters. Wat sê julle is haar naam?”

“Tannie Lara Kirsten. Sy is vreeslik mooi, tannie.”

“Hou julle van haar?” word daar tussen die blommeplukkery deur gevis.

“O ja, tannie! Sy is vreeslik gaaf.”

“Dan moet julle haar een oggend vir tee bring, hoor? Ek sal haar graag wil ontmoet en laat tuis voel aangesien sy ons skoolhoof se vrou gaan word. Jul pa het so baie vir ons skool gedoen.”

“Goed, tannie. Ons sal, tannie. Baie dankie vir die blomme, tannie. Ons ... ons is jammer ... Ons sal volgende keer kom klop en vra, ons belowe.”

“Goed, kinders. En onthou nou om julle ... e ... aanstaande nuwe ma vir my te kom wys, hoor?”

“Waar draai jy so lank?” wil haar man weet toe sy weer binnekom, en tant Babes lag.

“Ek betrap toe netnou die tweeling hier in my asterakker,” lig sy haar man in en vertel hom dan.

Hy skud ook maar net sy kop laggend. “Ai, dié tweeling darem! Maar wat dan van die juffrou wat so hard vlerksleep by Henk Beukes? Ek het gedink sy gaan hierdie slag die paal haal.”

“Dit klink nie so volgens die tweeling nie. Ek het eers gedink dis sommer ’n storie wat hulle uit hul duim suig, maar hulle het tot die vrou se naam genoem. Dis ene mevrou Lara Kirsten, en sy kom glo môre. Ek het hulle gesê hulle moet haar bring vir tee. Ek hoop hulle doen dit.”

Haar man neem weer sy koerant op. “Wel, ek is bly vir Henk Beukes se onthalwe dat hy weer gaan trou. Die tweeling het ’n ma nodig en hy is nog sommer ’n jong man. Hy moes lankal weer getrou het.”

“Ja. Wag, ek wil tog net gou vir Martjie bel en hoor of sy hiervan weet. Dis die eerste woord wat ek vanaand hoor dat Henk Beukes ’n onbekende meisie het. Net gister nog het Martjie gesê hy sal maar seker met Estelle Huizeman trou. Daar wag vir haar ’n verrassing!”

En so, nog voordat die trein die klein stasie van Jagershoek binnestoom, weet ’n groot deel van die dorp al dat Henk Beukes se aanstaande vandag hier aankom. Nie dat jy hulle kan kwalik neem nie. Henk is ’n baie gewilde en geliefde persoon in die gemeenskap en dis met groot waardering dat hulle onthou hoe hy hul kwynende skool weer opgebou het. Almal het nog altyd gevoel hy behoort weer te trou, en nie net ter wille van die tweeling nie, maar ook van homself. Hy is so ’n gawe, goeie mens. Hy verdien om weer huweliksgeluk te smaak.

Heimlik is ’n hele klompie ook bly dat sy keuse dus nie Estelle Huizeman is nie. Dit wou al die afgelope tyd so begin lyk het, en hoewel hulle niks teen haar kon sê nie, het baie gevoel dat sy nie die regte vrou vir Henk sal wees nie. Hy is altyd so nederig, sonder enige aansit, en Estelle Huizeman is ’n dame, het hulle gevind, wat maar soms haar neus goed in die lug kon hou. Nee, een en almal wat die nuus verneem, is bly om te hoor dat Henk Beukes eindelik ’n keuse gedoen het en dat dit volgens sy dogters sommer ’n agtermekaar een is.

Toe hulle die vorige aand terug huis toe gestap het met die arms vol asters, het nie een van die twee so ver gedink dat wat hulle in groot nood kwytgeraak het, soos ’n veldbrand deur die dorp sou versprei nie. Nie dat hulle eintlik, as hulle moes weet hoe daar bespiegel word oor die jongste nuus van die dorp, veel sou omgegee het nie. By hulle is dit mos al lankal ’n uitgemaakte saak dat hul pa en tannie Lara wel sal gaan trou. Al wat van hul planne nog afgehandel moet word, is die bymekaarbring van dié twee. En dit is reeds in wording. Daar kom die trein om die draai. Tannie Lara is reeds hier, hier op Jagershoek. Oor nou al minder as tien dae sal Pa van die jagtog af terugkom en dan ... wel, dan is die saak afgehandel.

Die trein kom tot stilstand en twee paar gretige, sterreblinkende blou oë staar gretig, angstig soekend met die waens langs af. Elke oomblik nou ...

“Daar’s sy! Daar’s sy! Daar is tannie Lara!”

Ena Murray Omnibus 39

Подняться наверх