Читать книгу Ena Murray Omnibus 39 - Ena Murray - Страница 7

Оглавление

4

In die weke wat op hul doktersbesoek volg, gaan dit nie goed met die tweeling van Jagershoek nie. Die lewe het meteens baie ingewikkeld geword.

Hulle het nie weer pogings aangewend om die ontluiking van vroulikheid in hulle te keer nie, hoewel hulle heimlik diep in hul harte nog steeds op ’n wonderwerk bly hoop het. Want een ding het soos ’n paal bo water gestaan: hierdie ontluiking van hulle en hul pa se skielike belangstelling in juffrou Huizeman gaan hand aan hand. Dis net sedert daar snaakse tekens aan hul liggame begin kom het, dat hul pa skielik uit sy dop begin kruip en ook ’n meisie aangeskaf het, soos wat Sannie hulle te vertelle het.

“Ou Huizie is mos jul pa se meisie, sien ek. O, liewer julle as ek!”

Hulle het dit met mag en mening teen hul eie beterwete ontken en weerlê.

“Waar kom jy aan daardie kaf? Pa het nie ’n meisie nie. Hy het nog nooit een gehad nie.”

“Hy het nou een! Sy boer daar by julle.”

“Sy leer ons klere opvou.”

Sannie het Tokkie openlik uitgelag. “O! Klere opvou?”

“Dis waar! Jy kan self ons kaste kom kyk,” nooi Bokkie vererg.

“Dan is dit maar net dat sy julle solank oefen, dis al. Julle gaan les opsê as sy eers jul ma is, wag maar!”

Dis presies wat hulle ook dink, maar dis nie nodig dat Sannie hul vrese so leedvermakerig staan en uitblaker nie. Tokkie druk byna haar vinger in Sannie se oog. “Die moeilikheid met jou, Sannie Bester, is dat jy te veel vrystories lees. Ou Huizeman sal nooit ons ma word nie. Sy is g’n sy meisie nie. Hy het ’n ander meisie.”

“O-ho? Wie nogal? Hier’s nie iemand anders op Jagershoek ...”

“Sy bly nie hier nie. Sy bly ... vêêêêr ...”

Bokkie snel haar tweelingsuster te hulp. “Ja, en ou Huizeman kan gaan slaap teen haar. Sy is pragtig ... pragtig! En hulle gaan een van die dae trou, whê!”

Sannie staan en kyk hulle skepties aan. Skoolhoof se kinders of nie, maar sy weet darem ook al dat hierdie twee self goed kan jok as dit hulle pas.

“Ek glo julle nie. Ek sê vir julle, jul pa gaan met ou Huizeman trou en sy gaan jul ma word.”

“Maar ek sê jou dan Pa het lankal ’n ander meisie ...”

“Hoekom was sy nog nooit hier nie, hè? En hoe lyk sy? Kom wys my ’n kiekie van haar, dan sal ek julle glo.”

Die tweeling loer vinnig na mekaar. Hier sal plan gemaak moet word. Bokkie steek weer haar ken uit. “Ons sal een van die dae ’n kiekie van haar vir jou kom wys ...”

“En sy sal nog hier kom kuier ook; dan sal jy haar in lewende lywe sien.”

Sannie spot openlik. “Goed, ek wag daarvoor. Maar intussen grawe ou Huizie haar stewig by jul pa in. Hy sê nog daardie ander kammakastige meisie af vir haar ...”

“Hy sal dit nooit doen nie. Pa is ...” Bokkie krap vinnig in haar geheue rond. Hoe sê die mense altyd wat daardie soort stories skryf? “Hy is hartstogtelik lief vir haar!”

Die tweeling is werklik bekommerd toe hulle wegstap. Dinge lyk regtig nie goed nie. Hulle weet dat dit nie net Sannie is wat dink dat Estelle Huizeman hul ma gaan word nie. Ander kinders het ook al in daardie rigting geskimp en gespot.

Verlede week het Tokkie, toe klein Koos de Klerk, alias Riempies, net in daardie rigting begin praat het, hom sommer met die vuis bygedam en ’n blou oog gegee.

Hul klasonderwyseres wou natuurlik onmiddellik ná pouse by Riempies weet waar kom hy aan daardie blou oog en Riempies het na een van die tweeling gewys.

“Sý’t my so geslaan, juffrou.”

Bokkie het opgestaan en saam met haar Tokkie. Hulle het uitdagend na Riempies gekyk. “Watter een van ons het jy gesê was dit?” wou Tokkie weet, en Riempies het magteloos van die een na die ander gekyk. Hoe moet hy weet wie van die twee dit was? Hulle lyk dan presies eenders! Maar een van hulle was dit.

Juffrou Huizeman se oë het op die tweeling geblits. “Julle is al weer besig met julle dinge, nè? Waar het jy gehoor dat groot meisies van dertien nog aan seuns slaan? Het ek nie ...?” Sy het haar woorde onder beheer probeer kry. “Uit! Uit die klas! Gaan na die hoof se kantoor en wag daar!”

Henk Beukes frons diep toe hy na Estelle se opgewonde relaas luister.

“Werklik, Henk, jy sal iets moet doen! Dis darem verregaande dat sulke groot meisies nog met die vuis slaan soos ... ek weet nie watse barbare nie! En natuurlik weier hulle soos altyd om te sê wie van hulle dit was. Ek stel voor dat hulle ’n slag deeglik vasgevat word! Hulle kort ’n pak slae.”

Henk se frons het verdiep, hoewel daar diep agterin sy oë ’n glinstering skyn.

“Estelle, as ek aan dertienjarige meisies gaan begin slaan, gaan ek nie juis beter wees as hulle nie. Dit pas sekerlik vir my as groot man net so min om aan sulke groot meisies te slaan as wat dit vir hulle pas om met die vuis te slaan. Ek maak my nie skuldig aan so iets nie. Waaroor het dit gegaan?”

“Ek weet nie. Ek kry niks uit hulle nie, nie eens uit Riempies nie.”

“Hmm. Dit strek daardie meneertjie darem ook nie tot eer dat ’n meisie hom ’n blou oog gee nie. As ek hy was, sou ek liewer stilgebly het.” Hy sien hoe sy haar bes doen om haar humeur te beteuel en sê vinnig: “Goed, ek sal die saak verder hanteer.”

In sy kantoor het hy sy twee dogters eers peinsend aangekyk. Die liefde en jammerte in sy hart het hy met alle mag onderdruk. Dit is immers verregaande dat meisies van dertien nog met die kaal vuis onder seuns inspring ... en dit nogal sý, die skoolhoof, se dogters.

“Waaroor was dit?”

Stilte.

“Wie het geslaan?”

Hy sug diep.

“Goed. Dis julle albei. Luister nou mooi vir my, tweeling. Ek kan nie sulke gedrag duld nie. As julle nie vir julle van nou af gaan gedra nie, sal julle my geen ander keuse laat as om vir julle plek in ’n ander skool te kry en julle kosskool toe te stuur nie.”

Twee koppe het omhoog geruk en twee paar oë het hom verbysterd aangestaar. Kosskool ... Daardie woord het hulle al tevore gehoor, en hulle weet presies waar hul pa aan hierdie vorm van dreigement kom. Twee koppe het weer gesak, en hul pa het weer probeer.

“Wat het Riempies gedoen of gesê wat sulke drastiese optrede volgens julle regverdig?” Sy gesig het verder verstreng toe daar steeds geen antwoord kom nie, en hy het opgestaan. “Goed. Julle kan maar gaan. Ek gaan julle nie straf nie. Juffrou Huizeman het voorgestel dat julle ’n slag goed deurgeloop moet word. Maar julle weet ek het nog nooit aan julle geslaan nie. Ek sal dit nie nou begin doen, noudat julle al groot meisies is nie. As julle ’n ma gehad het, kon sy julle vandag die leviete voorgelees het. Maar nou ... Gaan terug na jul klas en vra jul juffrou en vir Riempies om verskoning. Ja, ook vir Riempies! As julle dan nie wil sê waaroor dit gegaan het nie, kan ek net dink dat Riempies onskuldig aangerand is. En voordat julle enigiets in die toekoms doen, dink aan wat ek vandag gesê het. Ek gaan nie weer praat nie.”

In die klas aangekom, het hulle soos twee soutpilare voor die juffrou gaan staan en om verskoning gevra, die vier blou oë stokstyf starend voor hulle uit. Toe het hulle na Riempies gestap, en albei het plegtig en mooi duidelik ook aan hom verskoning gevra.

“Ek is jammer dat ek jou oog blou geslaan het,” het Bokkie in ’n helder stem gesê en toe fluisterend: “Volgende keer sal hy pers wees!”

“Ek is jammer dat ek jou oog blou geslaan het,” het Tokkie ook weggespring en toe ook sissend: “Maar as jy dit weer waag, foeter ek jou weer!”

Dit is dus gelukkig vir Sannie dat die tweeling onder ’n donker wolk van dreigement loop, anders sou sy vandag nie so maklik met haar praatjies weggekom het nie. Al wat hulle kon doen, was om die versinsel van hul pa se ander meisie te gebruik.

“Jong, ons moes seker nie vir Sannie daardie storie vertel het nie. Sy is die grootste ou skinderbek in die skool. Sy gaan nou die hele wêreld vol loop en vertel van Pa se ander meisie en so aan. Dit kom nog netnou by ou Huizeman uit en dan is daar perde.”

“Miskien sal dit goed wees as sy die storie hoor. Dit skrik haar dalk af.”

“Daarvoor is sy te hardkoppig, die arme ou ding. Sy sal nie so maklik laat los nie. Nee, sy sal daarmee na Pa toe hardloop en dan braai ons.”

“Ons het darem nie heeltemal gejok nie. Pa gaan mos een van die dae ’n ander meisie hê en dan het ons mos nie gejok nie. Dit laat my dink ... Ons het nog nie vandag gaan pos vra nie. Kom ons hardloop gou.”

“Ek hoop van harte daar is iets vandag,” laat Bokkie hoor en val in pas met haar suster. “Ek sal my nie so lank kan inhou nie, dan stuur Pa ons dalk regtig weg en dan, moet jy weet, is dit klaar met kees. Dan is daar niemand wat Pa van daardie ou ding se kloue kan red nie. As ons weer terugkom, is hulle klaar getroud.”

“Wag so ’n bietjie. Hier is nog ’n pakkie ook vir julle; vir jul pa, ten minste. Teken net daar onderaan die strokie dat julle dit ontvang het.”

Hulle kan hul opgewondenheid nie bedwing nie.

“Is dit hy?” wil Bokkie dringend weet toe hulle nog skaars by die poskantoordeur uit is.

“Ja, dis hy! Kyk: Afsender: SOEK EN VIND-klub. Kom gou, man. Ons gaan dit daar agter ou Jors se damwal op die mielieland oopmaak. Ons kan nie waag om dit huis toe te vat nie. Daardie ou Snuffelpot sal dit kry. Daar is mos nie meer ’n hoekie of gaatjie in hierdie huis waar sy nie haar ou lang neus insteek nie.”

Die tien vingertjies bewe só van opgewondenheid dat hulle nie die tou loskry nie, en Tokkie sit sommer tande by. “Daar’s hy! Nou kan ons ... Goeiste Griet! Kyk al die briewe! Dis ... honderde!”

Ook Bokkie kyk grootoog na die inhoud van die kartondoos. Dis stampvol briewe, almal geadresseer aan EENSAAM OP WEGDRAAI. “Ons gaan hulle nooit almal deurgelees kry nie!”

“Kom. Daar’s werk! Begin jy in daardie hoek en ek begin hier.”

Hulle skuif reg en begin met hul reusetaak om die honderde – wat teen die end vyftig blyk te wees – briewe deur te lees.

“Kyk hierdie een, Bokkie! Kyk! Dink sy werklik ...?”

“Maar kyk hiér!”

Eerlank kraai hulle van die lag. Bokkie hou haar maag vas en Tokkie vee die lagtrane met die rugkant van haar hand weg. “Ek sal darem graag Pa se gesig wil sien as só ’n tannie hier by hom opdaag! Ons kan gerus ...”

“Nee, wag, hou jou in, Tokkie,” laat Bokkie waarskuwend hoor. “Ons het nie tyd vir grappies maak nie. Ons moet vandag nog ’n vrou vir Pa kry. Luister ’n bietjie hier. Liewe man, ek is ook eensaam. Ek sal na jou toe kom en jou kom help met jou kindertjies. Ek het nie dogtertjies nie, net ses seuntjies. Ons sal ’n lieflike gesinnetjie uitmaak. Laat weet net jou adres ...”

“Liewe land, maar sy is haastig! Dink net, ses boeties! Hmpff! Wat dink sy? Dat ons ’n private kinderhuis wil oopmaak? Smyt dit eenkant. Ons kyk eers na die kiekies. As dit gangbaar lyk, lees ons die briewe, anders gooi ons dit daar op ’n hoop neer.”

Dis ’n lang ruk stil en die hopie tussen hulle word onrusbarend groter. Dan sê Tokkie: “Hier is een wat op ’n manier kan gaan. Wag, ons lees die brief. Liewe EENSAAM, die oomblik toe my oog op jou advertensie val, het daar iets met my hierbinne gebeur en ek het sommer geweet: hierdie man het my nodig! Liewe vriend, skryf gerus aan my al jou probleempies. Of kom sommer kuier en bring jou dogtertjies saam. Ek is lief vir kindertjies, blommetjies, sagte musiek, die maanlig oor die water, die blink sterre aan die hemel, strelende hande ...”

“O, eina, sy gee my ’n pyn! Nee, man, sit maar weg. Sy klink vir my net stuitig.” Bokkie frons en lyk bekommerd. “Jy weet, dit lyk nie of ons vandag geholpe gaan raak nie. Ons is al amper klaar en daar was tot nou toe nie een waarvoor ek kans gesien het nie. Wat gaan ons doen as ons niks kry nie? Maar weer adverteer, in ’n ander tydskrif miskien?”

Tokkie frons ook. “Laat ons maar eers hierdie ander paar ook afhandel.”

Met min hoop steek hulle maar weer die hande in die kartondoos en elkeen trek ’n brief uit. Tokkie gooi sommer net ná die eerste blik die brief en foto eenkant toe, en kyk op toe Bokkie ’n uitroep laat hoor.

“Tokkie, kyk hier! Kyk ’n bietjie hier! Ons het haar! Ek sê jou, dis net sy waarvoor ons gewag het!”

“Gee hier dat ek sien.” Tokkie se blou blik gly krities oor die foto voor haar, en dan begin sy ook glimlag. “Sowaar! Sy is pragtig! Sy is net die een ... Hier is nog ’n kiekie. Kyk, hier sit sy met twee dogtertjies en ... dis sowaar ook ’n tweeling soos ons! Kyk, hulle lyk ook presies eenders! Hulle is net baie jonger. Waar’s die brief? Lees dit hardop dat ons kan hoor.”

Bokkie skuif opgewonde reg en begin lees: “Geagte Meneer, ek het toevallig jou advertensie raakgesien en gewonder of ek nie miskien van hulp kan wees nie. Ek wil graag my hulp aanbied, omdat ek self ook tweelingdogters gehad het.

“My man en die tweeling – twee dogtertjies van ses en die enigste wat ek gehad het – het my sowat vier maande gelede in ’n motorongeluk ontval. Ons was op pad om vakansie te gaan hou, en ’n groot vragmotor waarvan die remstelsel onklaar geraak het, het ons in ’n bergpas teen die afgrond afgedruk. My man en kinders is op slag dood en ek het maande lank in die hospitaal gelê. Ek is egter nou weer aan die aansterk. Ek kan nog nie gaan werk nie, want ek is nog maar swak, maar dit gee my genoeg tyd om goed oor enige probleem wat jy met jou dogters het, na te dink. Ek het die tyd tot my beskikking en ek sal baie graag tot jou en jou kinders se diens wil wees as jy daarvan gebruik wil maak. Indien jy besluit om aan my te skryf, sal ek graag ’n foto van die twee wil hê. Alle goeie wense aan jou en die tweeling. Van: Mevrou Lara Kirsten.”

Dis ’n hele rukkie stil. Dan sê Bokkie. “Foei tog, dis aardig. Haar man en kinders, bedoel ek. Dis seker vreeslik om jou mense sommer so te verloor.”

“Ja. Bokkie, ek hou van hierdie vrou. Hier is niks stuitigs in haar brief soos in so baie van die ander nie. ’n Mens kan duidelik in die meeste briewe lees hulle stel eintlik net in Pa belang, nie in ons nie. Maar hierdie vrou ...”

“Ja, ek voel ook so. Ek dink nie ons hoef verder te soek nie. Sy sê nêrens hoe oud sy is nie, maar sy is nog mooi jonk volgens die kiekies. Ek dink dis heeltemal veilig om aan haar te skryf.”

“Nou goed. Kom ons pak al die ander briewe terug en steek die kartondoos hier iewers weg totdat ons dit kan kom verbrand. Steek daardie brief goed weg. Ek kry die stuipe as ou Snuffelpot dit in die hande kry.”

Maar die terugskryf is makliker gesê as gedaan. Daar is allerhande probleme.

“Ons kan nie waag om in ons eie handskrif aan haar te skryf nie. Sy sal sommer agterkom. Sy lyk nie onnosel vir my nie.”

“Nee, ons sal aan iets anders moet dink ...” Tokkie byt haar onderlip vas en dink hard. Sy het by Bokkie in haar bed kom klim en hulle lê nou fluisterend die volgende stap van optrede en beplan. “Ons sal dit moet tik.”

“Ja, dis ’n goeie plan. Sy sal dan nie iets aan die handskrif kan agterkom nie. Maar daar is nog ’n ding – Pa se naam onderaan die brief. Dit word mos darem gewoonlik in eie handskrif gedoen, dan nie?”

“Ja, maar dis maklik. Pa het nie ’n te ingewikkelde handskrif nie. Ons kan sy handtekening namaak.”

“Ja, maklik. Ons moet net ’n bietjie oefen. Nou goed, wat gaan ons vir haar skryf? Onthou, dis mos kastig Pa wat vir haar skryf, nie ons nie.”

“Ja, dis maar moeilik. Ons sal eers goed daaroor moet dink.”

“Ons moenie te lank wag voordat ons antwoord nie, Tokkie. Netnou stel die vrou nie meer belang as ons te lank draai nie.”

“Ja, en sy is ’n mooi vrou. Netnou loop sy iemand raak voordat sy nog vir Pa gesien het en dan is dit neusie verby. Ons moet maar dadelik skryf. Gee aan die flitslig en waar is die pen en papier? Ons skryf dit eers neer en dan kan ons dit skelmpies op Pa se tikmasjien gaan tik. Hy moet môreaand skoolraadsvergadering toe en tant An gaan gewoonlik vroeg slaap. Ons kan dit dan oortik en oormôre pos.”

“Ons moet ’n kiekie van Pa in die hande kry. ’n Mooie. Dan stuur ons dit saam.”

“Ja, en een van ons. Sy het mos gevra vir een van ons. Nou toe, sê wat.”

“Geagte Mevrou, baie dankie vir jou brief ...”

“... wat ek hoog waardeer.”

“Ja. Dit klink goed. Dis net soos Pa dit sou gestel het.”

“Ja. Wat nog?”

Tokkie konsentreer hard. “My innige meegevoel met jou groot verlies. Dit moet ’n groot skok gewees het.”

“Pragtig! Dis nes Pa dit sou sê! Gaan aan, Tokkie. Jy het die regte manier.”

Tokkie skuif gemakliker. “Ek kan opreg met jou saamvoel, want ek moes my oorlede vrou ook so skielik aan die dood afgee.”

“Goed. Goed.” Bokkie skryf om by te hou, en voeg by: “... sewe jaar gelede.”

“Ja. Haai, weet jy wat? Ons was net so oud soos haar tweeling toe ons ma dood is.”

“Ja, dis waar. Ons skryf dit ook neer. Hulle was ook maar net ses toe my vrou oorlede is. Van toe af sorg my tante, tant An, in die huis. Sy is al oor die sewentig.”

“Hm. Reg.”

“Ek is skoolhoof hier op Jagershoek. Dit is in die Karoo.”

“Ja, ons moet dit liewer bysê. Sy bly in die stad, sien ek. Sy weet dalk nie eens waar is Jagershoek nie. Ja?”

“Die tweeling word volgende maand dertien en is in standerd ses. Hulle is besig om te ontluik ...”

“Sal ons dit bysit? Is dit nodig?”

“Miskien moet ons haar dit maar vertel. Hoe meer sy van ons weet, hoe beter.”

“Nou goed ... besig om te ontluik. Hulle voel nie gelukkig daaroor nie.”

“Ja, skryf dit en sê ook: hulle wil liewer nog saam met die seuns sokker speel en bome klim, maar hier is ’n onderwyseres, juffrou Huizeman, wat dink hulle is al te groot vir daardie dinge en behoort nou rokke te dra en hulle soos dames te gedra.”

“Ja, dan hoor ons wat dink sy daarvan. As sy terugskryf en sê sy stem met ou Huizeman saam, kan ons haar ook maar afskryf.”

“Ja. Dis waar. Skryf neer: hulle is baie lief vir hul klinknaelbroeke en verpes rokke ...”

“Nee, jong, wag. Pa sal nie daardie woorde gebruik nie. Wat sê hy altyd as hy nie van ’n ding hou nie? O ja! Hy het ’n hekel daaraan. Ons sê ... en het ’n hekel aan rokke.”

“Is dit nie vir eers genoeg nie? As sy hierop antwoord, kan ons al duidelik agterkom hoe sy oor dié dinge voel.”

“Ja, ek dink dis seker al genoeg. Ons kan maar afsluit: dis maar net een van die baie probleempies in die huis. Daar is nog groter probleme, maar ek wil jou nie al met my eerste brief ... e ... toegooi nie. Pa is lief vir daardie toegooi-sêery, en so met dit bly hy werk uitdeel. Hy sou dit so gesê het, dink ek.”

“Ja. Dit klink nes Pa. Nou goed. Sluit af: beste groete en ek wag om te hoor hoe jy oor die saak voel en wat jy my aanraai om te doen. En dan sy naam.”

Die volgende dag in die skool is die tweeling besonder bedees, en hul klasonderwyseres kyk hulle agterdogtig aan. Hierdie skielike makheid vertrou sy glad nie. Of hulle het wel deeglik geskrik vir hul pa se dreigement. Aan die een kant is sy amper spyt om hulle skielik so voorbeeldig te sien. Dit sal haar beter pas as hulle liewer opgepak en weggestuur word kosskool toe.

Ook pouse is hulle skielik nie meer te sien tussen die bondel wat aan die speel is nie. Hulle sit eenkant onder ’n boom, elkeen met ’n pen in die hand. Langs hulle op die grond lê ’n stuk van ’n afgeskeurde brief met ’n handtekening daarop: Henk Beukes.

Bokkie se tong maak sulke slangkrulle by die hoek van haar mond uit soos sy konsentreer om daardie krul van Beukes reg te kry. “Ek weet ook nie vir wat moet Pa sy B so vol krulle maak nie. Is dit nodig?”

“Dis net een krul, maar ek kry daardie een draai nog net nie reg nie.”

“Haai, julle, kom speel saam!”

Hulle kyk gesteurd op en skud die koppe en ’n ander stem sê hoorbaar: “Ag, los hulle. Hulle is deesdae so otherwhaais.”

“Ons is g’n otherwhaais nie. Ons is besig.”

“Waarmee?”

“Dis ons saak. Los ons uit.”

“Kom ons speel. Hulle is vol groeipyne.”

Tokkie frons vererg. “Deksels, daar lui die klok al weer en ek het nog nie daardie krul reg nie.”

Op pad klaskamer toe kry Tokkie skielik ’n blink plan en stamp aan Bokkie. “Ek het dit nou!”

“Wat?” fluister Bokkie terug.

“Hoe om daardie naam presies soos Pa s’n te kry. Ons trek dit deur deurskynpapier af! Maklik!”

Die twee glimlag vir mekaar en trek dan weer hul gesigte sedig toe hulle die juffrou se blik op hulle gewaar. Toe maar, jong, vertel Tokkie haar stilswyend. Een van hierdie mooi dae gaan jy darem ’n ding sien! Wag maar!

Jy het verniet al jou lyf vetgesmeer vir ons pa. Weg is jy, pitjie, een van die dae! dink Bokkie vermakerig.

Daardie aand sluip hulle kaalvoet en in hul nagklere na hul pa se studeerkamer.

“Druk die deur goed toe, Bokkie. As tant An ons hier betrap ...”

“Sy sal nie wakker word nie. Sy snork dat die aarde dreun en gewoonlik slaap sy met haar dowe oor bo. Maak gou, jong. Netnou kom Pa vroeër huis toe as gewoonlik.”

Dis met een bewende voorvinger wat die belangrike brief getik word, en albei se hande voel sweterig toe dit eindelik klaar en uitgedruk is.

“Nou nog net vir die handtekening onderaan en dan kan ons dit gaan pos.” Die aftrekpapier waarop Henk Beukes se handtekening afgeneem is, word onderaan die brief vasgedruk en dan met ’n skerp potlood oorgetrek. Die merke van die potlood lê baie helder in die papier toe sy dit oplig en dis kinderspeletjies om die pen daarlangs te trek.

“Mag, dit lyk kompleet asof dit hy is wat daar geteken het,” spog Tokkie. Sy kan darem blink planne kry as dit moet!

“Ja, dit lyk goed. Kom nou, man. Tik die adres op die koevert dat ons hier kan uitkom.”

Toe alles klaar is, voel Tokkie hoe gouer die brief in die posbus is, hoe beter en veiliger. Jagershoek se strate is teen hierdie tyd van die aand reeds stil en hulle bereik die posbus veilig en ongesiens en kom ook so ongesiens weer in hul kamer terug. Daar kyk hulle mekaar breed glimlaggend aan soos twee oorwinnaars.

“Dink jy Pa sal daardie foto van hom mis?”

“Nee, ek hoop nie so nie. Hy het jare laas in die album rondgeblaai.”

Bokkie trek die beddegoed op. “Sjoe! As Pa ons moet betrap ...”

“Hy sal ons nie kosskool toe stuur nie. Hy sal ons China of Rusland toe stuur,” beaam Tokkie en trek dan haar skouers op. “Dit help nie om nou bang te word nie. Die brief is gepos.”

Bokkie lig haar op haar elmboog op. “Maar, Tokkie, hoe het jy dan gedink moet ons die twee by mekaar uitkry? Dit kan mos nie gebeur sonder dat Pa uitvind wat ons gedoen het nie.”

“Ja, ek weet, maar ... ek weet nog nie. Op die een of ander manier moet ons hulle by mekaar kry. Maar eers later. Terloops, onthou dat ons môre die kiekie saamvat en vir Sannie wys.”

Ena Murray Omnibus 39

Подняться наверх