Читать книгу Ena Murray Omnibus 39 - Ena Murray - Страница 9
Оглавление6
Twee dae voor die tweeling se dertiende verjaardag kom daar ’n pakkie vir hulle in die pos aan en baie opgewonde sluip hulle daarmee na hul kamer.
Elke oog rek soos ’n piering toe hulle die klinknaelbroeke met bypassende hempies uithaal en in die lug hou.
“Tokkie, is dit nie pragtig nie!” roep Bokkie in ekstase uit, en haar suster druk vinnig haar hand oor haar lippe.
“Sjuut, man! Nie so hard nie!” Weer streel die handjies oor die pragtige klere. “Dit lyk glad nie soos ons ou klinknaelbroeke wat ou Snuffelpot weggegooi het nie. Kyk hoe mooi is die rooi omboorsels.”
“Ja, en dis op die broek se sakke en die hempies s’n. O, dis wonderlik, Tokkie! Tannie Lara gaan ’n lekker ma wees!”
By hulle bestaan daar nou geen twyfel meer dat hierdie tannie Lara hul nuwe ma gaan wees nie. Niemand, net niemand anders sal hulle bereid wees om te aanvaar nie. Juffrou Estelle se aandele sak met elke brief wat die afgelope weke hier aangekom het met rasse skrede. Nou, ná hierdie geskenke, het sy glad nie meer aandele nie.
“Hier is ’n briefie by. Sy skryf sy hoop dit pas en dat ons lekker daarmee op die plaas by Ouma en Oupa sal kuier.” Bokkie kyk op. “Ek sal dit nooit hou tot daardie tyd nie. Kan ons dit nie gouer al aantrek nie?”
“Sodat ou Snuffelpot dit soos met ons ander oues weggee vir liefdadigheid? Dit sal die dag wees! Nee, jong, ons sal dit maar goed moet wegsteek totdat ons eers op die plaas is. Daar is sy tog nie by nie en Pa sal nie eens weet dis klinknaelbroeke hierdie nie. Dis te mooi.”
“Ja. Ons sal seker maar moet wag tot dan, anders sal hulle ook wil weet waar kom ons hieraan en ...” Bokkie lyk weer diep bekommerd, hoewel die handjie voortgaan om oor die mooi uitrusting te streel. “Tokkie, ons sal die een of ander dag iets moet doen! Hoe gaan tannie Lara ooit ons ma word as ons net altyd skryf en skryf? Pa weet nog nie eens van haar nie!”
Tokkie se vreugde is ook ietwat gedemp. Dit is ’n netelige probleem hierdie. Sy het al haar verstand voos gefynkam op soek na ’n plan, maar tot dusver wou hierdie briljante planmakerbrein net nie saamspeel nie. Hoe gemaak om vir tannie Lara en Pa by mekaar te kry? Nee, dit wou net nie kom nie.
“Hoekom dink jy nie ’n slag aan iets nie?”
Bokkie sug. “Ek het my al morsdood gedink. Kan ’n mens haar nie sommer reguit vra of sy nie maar met Pa wil trou nie?”
“Jy’s laf! Al sê sy ook ja, wat van Pa? Dink jy hy sal sommer met ’n vrou gaan trou wat ons vir hom uit ’n tydskrif gekry het? Hy vermoor ons liewer!”
“Ons wys hom haar kiekie. Hy sal moet erken sy is baie mooier as ou juffrou Huizeman,” verdedig Bokkie haar fantastiese plan.
“Nee, dit sal nie uitwerk nie. Ons sal aan iets anders moet dink. O, maggies, hier kom iemand met die gang af. Druk die goed onder die matrasse in en gaan sit daarop.”
Dit word blitsig gedoen en toe die kamerdeur oopgaan, sit Henk Beukes se twee dogters hom doodluiters met onskuldige oë van hul beddens af en aankyk. Sy wenkbroue lig omhoog, dan frons hy.
“Wat sit julle so?” Hy weet hy tree verkeerd op, maar alles werk deesdae op sy senuwees. Dis tyd dat die wintervakansie kom dat hy ’n bietjie kan wegbreek. Miskien sal hy weer perspektief op die jagveld kry.
“Pa?”
“Ek vra hoekom sit julle so?”
“Sommer maar, Pa.”
Hy kyk hulle stip aan. Die tweeling is darem beslis nie meer wat hulle was nie. “Hoekom gaan speel julle nie?”
“Ons sal ons rokke vuil mors, Pa.”
Sy frons word dieper. “Maar het julle nie ou klere waarin julle kan speel nie?”
“Nee, Pa. Juffrou het ons ou broeke weggegee.”
Henk is stil. Deksels! Miskien dryf Estelle hierdie dametjie-makery te ver.
Hy sug saggies, probeer sy geïrriteerdheid beheer. Dis glad nie meer deesdae so lekker in hierdie huis nie. Hy wens die tweeling wil grootword en klaarkry, as hulle dan nou moet grootword.
“Ek het julle kom vertel van ons wintervakansieplanne.” Hulle kyk hom net stilswyend aan en vir die soveelste keer die afgelope tyd voel hy meteens ongemaklik voor sy twee dogters, iets wat tot nou toe ’n onbekende gewaarwording was. “Wil julle nie weet nie?”
“Ons gaan mos altyd na Ouma-hulle toe.”
“Nie hierdie keer nie. Ek is genooi om saam in Suidwes te gaan jag vir die eerste tien dae van die vakansie.”
“Ons gaan dan eers alleen plaas toe?”
“O nee. Ek gaan julle nie daar alleen loslaat nie. Julle sal binne twee dae jul bene of nekke breek. Nee, julle bly eers hier by tant An totdat ek terugkom.”
Hulle kyk vinnig na mekaar, misnoeë duidelik op die gesiggies. Nog tien dae langer om te wag voordat hulle hul presente kan aantrek! Dis vreeslik!
“Ons gaan ook nie vir die laaste deel van die vakansie plaas toe nie; ten minste nie na Ouma-hulle toe nie.” Twee paar blou oë draai na hom terug, en hy maak eers keel skoon. “Dis ook op ’n plaas, maar dis in ’n heeltemal ander streek. ’n Regte Bolandse wingerdplaas. Hoe klink dit?”
Hulle frons, kyk weer na mekaar, dan sê Tokkie reguit. “Goor.”
Henk Beukes frons. Miskien oordryf Estelle tog nie. Sy dogters het nog baie te leer voordat hulle regtig dametjies sal wees.
“Jou taal, Tokkie!” berispe hy flou, sy oë ondersoekend. “Hoekom dink julle dit sal nie lekker wees nie?”
“Daar’s net ’n spul ou druiwe. Daar’s nie diere en perde en ...”
“Miskien is daar. Hoe weet julle? Ek sal vir juffrou Estelle vra of daar is ...” Hy swyg vinnig toe hy die skokvonkies in hul oë sien flits en erken dan half lamlendig, soos dit in sy eie ore klink: “Juffrou se ouers bly daar. Sy het ons genooi om die laaste deel van die vakansie daar te kom kuier. Ek het gedink dit sal vir ’n verandering baie lekker wees.”
Dat die tweeling beslis nie met hom saamstem nie, is so duidelik soos daglig.
“Hoekom wil julle nie gaan nie?”
Die gesiggies is bot, Bokkie se stem nog botter. “Ons wil na Ouma-hulle toe gaan, nie ... daarheen nie.”
Henk voel sy humeur weer aan die teuels pluk. Regtig, die tweeling maak dit ook nie vir hom makliker nie. Sy gesig verstreng. “Ons kan Desember weer na Ouma-hulle toe gaan. Nou gaan ons eers in die Boland kuier.”
Bokkie is byna in trane. “Pa, ag, Pa, laat ons na Ouma-hulle toe gaan en dan gaan Pa alleen vir juffrou kuier ...”
Tokkie draai soos ’n pikkende slang na haar suster. “Is jy dan mal, man?” sis sy en rek haar oë groot en betekenisvol, en Bokkie lyk soos ’n ballon wat geprik is. Dis waar, besef sy verslae. Dis te gevaarlik om Pa alleen daar te laat kuier.
“Ek het klaar die uitnodiging aanvaar en ek gaan dit nie nou weer terugtrek net omdat julle vol fiemies is nie.” By die deur draai Henk weer terug. “Ek weet nie wat deesdae met julle aangaan nie, maar ...” Sy stem raak weg toe hy teen die vier strak oë vaskyk en hy maak maar liewer dat hy wegkom.
Dis ’n hele rukkie stil in die slaapkamer nadat die deur agter hul pa toegegaan het, en dan bars Tokkie half in trane, half ergerlik los: “Dis ’n mooi grap om vir ons te vra wat makeer ons deesdae! Hy moet liewer vir homself daardie vraag vra.”
Bokkie is ook duidelik ontstig. “Speel ons sokker saam met die seuns, is dit nie reg nie. Sit ons soos dametjies met gevoude handjies, dan is dit ook nie reg nie. Ek begin nou moeg raak vir hierdie spulletjie. Daar moet nou ’n end aan kom.”
“Daar moet liewer ’n end aan kom, want weet jy wat dink ek?”
“Nee, wat?”
“Weet jy hoekom daar nou skielik op daardie Bolandse plaas gekuier moet word? Dis om ouers te vra, sê ek jou!”
“Ouers vra?” Bokkie lyk verbysterd asof sy nog nooit voorheen van so iets gehoor het nie.
Tokkie se trane van so ewe is vergete en sy verduidelik opgewonde: “Ja, man. Pa gaan ouers vra – ou Huizeman se ouers om met haar te trou.”
“Tokkie! Nooit! Dit kan nie wees nie!”
“Ek sê vir jou dis net wat dit is! Hierdie gekuiery is nie om dowe neute nie. Hulle sien mekaar elke dag. Waarvoor moet daar dan nog in die vakansie ook saamgekuier word?”
Dis nou Bokkie se oë wat skielik begin blink. “Tokkie, ek sterf tien duisend dode as dit is soos jy sê dit is.”
“Dit is so, en dit sal niks help om te wil doodgaan nie. Dit sal dit nie keer nie. Dink, man. Dink! Ons moet nou iets doen!”
“Ek het jou lankal gesê ons moet iets doen,” verwyt Bokkie onredelik. “My verstand staan botstil. Ek kan nie ...”
“Ek het dit! Ek het dit!” Tokkie spring op en draai ’n slag in die rondte. “Ons moet vir tannie Lara laat kom.”
Bokkie frons. “Ja? Hoe?”
“Ons nooi haar om te kom kuier. Dis al. Daardie tien dae wat Pa weg is op jag.”
“Wat sal dit aan die saak verander? Dan sien Pa haar tog nie, en as hy terugkom, moet ons nog altyd na daardie ou plaas toe.”
“Nee, man. As Pa terugkom, sal hy tannie Lara mos hier kry en dan ... en dan ...”
“Ja? Wat dan?”
“Wel ... e ... en dan sal hy mos sien sy is beter en mooier as juffrou en dan sal hulle trou ...”
Bokkie kyk haar skepties aan. Tokkie kan altyd ’n ding so lekker reg praat, maar ... “En sê nou Pa kry nie sinnigheid vir tannie Lara nie? Sê nou maar ...?”
“Ag, hou op met spoke sien, Bokkie! Natuurlik sal Pa sinnigheid in haar kry,” sê Tokkie op só ’n toon wat geen twyfel laat nie, en te oordeel na haar gesigsuitdrukking, moet Henk Beukes liewer sinnigheid in die vreemde vrou kry of ... Ja, of wat? vra Tokkie haarself af. Maar daar sluit sy haar gedagtes gerieflik vinnig af. Dis ’n probleem vir later. Nou moet hulle net sorg dat tannie Lara hier kom.
Toe Lara die dringende brief ontvang, voel sy half in ’n hoek gekeer en ook ietwat verward. Iets vertel haar dat dit nie net ’n blote vriendelike uitnodiging is om te kom kuier nie.
“Ek weet nie, Thel. Hier is iets wat my hinder. Jy weet dis nou weke dat ek laas van die pa self gehoor het. Eintlik het hy die hele korrespondensie ná sy tweede brief net so aan die tweeling oorgelaat. Hy het totaal van die toneel af verdwyn. Buiten daardie keer oor die klinknaelbroeke en die tweeling se rugbyspelery het hy nog nooit weer raad gevra nie.”
Thel kyk ook fronsend op die brief in Lara se hande af. “Dit is eienaardig. En nou die uitnodiging van die tweeling om te kom kuier – solank hul pa gaan jag. Dis al asof die man nou aan die weghardloop is. Daar is beslis iets snaaks aan die gang.”
“Uit die aard van die saak en om goeie maniere se onthalwe, behoort hý tog die uitnodiging aan my te rig. Hy weet tog dat ek nie net op die tweeling se uitnodiging kan gaan nie. Dit ... word net nie gedoen nie,” laat Lara bekommerd hoor. Dan glimlag sy. “Hulle is darem in ekstase oor die klere wat ek gestuur het. Ek is so bly. Hulle weet nie dat ek groter plesier daaruit gekry het om dit vir hulle te gaan uitsoek en koop as wat hulle moontlik kan hê om dit te dra nie!”
Haar oë is sag. “Dit sal seker vir ander mense verspot klink, maar jy weet, Thel, hierdie twee kinders het weer my lewe heelgemaak. Ek weet nie wat sou van my geword het as hulle nie op daardie tydstip op die toneel verskyn het nie. Hul briefies beteken vir my so baie, eintlik buitensporig baie, in ag geneem dat hulle totale vreemdelinkies is, iemand anders se kinders. En tog, hulle het deel van my geword, Thel. Jy weet, ek begin my al verbeel dat hulle myne is; dat hulle maar net êrens op kosskool is en ...”
Sy lyk verleë. “Ek klink nou seker, soos wat die tweeling dit sou stel, half van my trollie af!” Dan word haar gesig ernstig. “Maar as hulle nou weer skielik uit my lewe moet verdwyn, net so skielik as wat hulle daarin verskyn het ... Ek sal hulle verskriklik mis, Thel!”
Thelma se oë is ook teer en begrypend. “Ek verstaan heeltemal, Lara. En jy is nie verspot om so oor hierdie twee kinders te voel nie, al het jy hulle nog nooit met ’n oog gesien nie. Ek is dan self versot op hulle.” Sy lag. “En selfs Bert vra deesdae gereeld: ‘Was daar nie ’n brief van die tweeling nie?’” Hulle lag saam. “Nee, hulle het al deel van ons geword. Familie. Dis ondenkbaar dat hulle nou sommer weer sal verdwyn. Dit sal voel asof daar weer dood in ons lewe gekom het.”
Lara knik. “Ja. Dit sal so voel.” Sy kyk haar skoonsuster vraend aan. “Wat dink jy moet ek doen – in verband met hierdie uitnodiging, bedoel ek?”
Thelma dink ’n rukkie, en dan klaar haar gesig op. “Hoekom nooi ons hulle nie om vir hierdie tyd by ons te kom kuier nie? Hul pa kan hulle dan hier kom haal, en dan leer ons mekaar ’n slag ken.”
“Dis miskien die beste plan, as dit nie te veel moeite vir jou sal wees nie.”
“Natuurlik nie! Skryf sommer dadelik vir hulle.”
Maar hoe graag die tweeling ook al hierdie uitnodiging sou wou aanneem, is dit natuurlik buite die kwessie.
“Hoe kan ons verduidelik dat ’n wildvreemde vrou ons genooi het om by haar te kom kuier? Ons kan nie, Bokkie. Nee, sy moet eers hierheen kom.”
“Ja, maar sy sê uitdruklik sy kan darem nie sommer kom sonder dat Pa haar nie ook genooi het nie, en hoe gaan ons dit bewerkstellig?”
“Dis maklik, onnosel! Ons skryf maar weer vir haar ’n briefie in Pa se naam en nooi haar,” los Tokkie die probleem daar en dan op.
Bokkie bly die versigtige een – nie dat dit juis veel help met ’n suster soos Tokkie nie – maar sy sê darem tog: “Ek het nou die dag gehoor van die groter kinders sê dat ’n mens kan tronk toe gaan as jy iemand anders se naam gebruik of iemand anders se naam teken. Dis teen die wet!”
“Ag, man, dis mos nie iemand anders se naam nie. Dis mos Pa s’n!”
Natuurlik wen Tokkie weer en weer moet daar kopgekrap word hoe elke woord gestel moet word sodat tannie Lara kan glo dis Henk Beukes wat self die vriendelike uitnodiging tot haar rig.
Toe Lara hierdie briefie klaar gelees het, sit sy weer fronsend. Sy kan net die gevoel dat daar êrens iets skort, nie van haar afgeskud kry nie.
Die “Geagte Mevrou” is vir haar onnodig formeel, in ag geneem dat daar darem nou al ’n hele ruk ’n wakker korrespondensie tussen haar en die tweeling aan die gang is. Sy veronderstel tog dat hy soms ook van haar briewe aan sy dogters lees en op die hoogte is van die gevorderde vriendskapsverhouding wat daar teen hierdie tyd tussen haar en sy kinders bestaan.
Daar is ook iets styfs in die sinne waarin hy verduidelik dat dit nie vir die tweeling moontlik sal wees om by haar te kom kuier nie. Sy verskoning dat tant An nie alleen gelaat kan word nie, klink flou en onoortuigend. Hy sal dit “baie hoog waardeer” as sy haar weg sal oopsien om vir die tydjie dat hy weg is by die tweeling te kom kuier.
Hy sal dan met ’n “geruster hart” sy jagtog geniet. Daar word niks gesê van wat gaan gebeur wanneer hy terugkom van die jagtog nie – of sy dan maar kan aanhou kuier en of sy dan weer moet teruggaan nie. Ook, ter wille van goeie maniere, word daar nie gevra hoe sy op Jagershoek sal kom nie en of hy met haar vervoer kan help nie. Daar word ook glad nie voorgestel dat sy ’n dag of twee voordat die skole sluit, moet probeer kom, sodat hulle mekaar darem eers kan ontmoet voordat hy sy dogters in haar sorg agterlaat terwyl hy gaan jag nie. ’n Spesifieke datum, twee dae ná die skoolsluiting vir die kwartaal, word genoem as ’n geleë datum om haar te ontvang.
Sy is in die middel van die wêreld en kan nie tot ’n besluit kom nie. Dis Bert en Thelma wat haar later ompraat om maar te gaan.
“Ek erken die briefie klink snaaks, sonder dat ’n mens presies jou vinger daarop kan lê. Miskien is die man maar net baie teruggetrokke en selfbewus van geaardheid,” stel Bert ter verduideliking voor, maar Lara skud haar kop.
“Vir ’n skoolhoof van ’n hoërskool? Nee, Bert, ek glo nie.”
“Wel, ek dink die enigste manier om vas te stel wat werklik agter sy vreemde houding skuil, is om te gaan. Jy sal wel agterkom wat aangaan wanneer jy eers daar is. Buiten die tweeling is tant An mos ook daar wat jou darem sal kan inlig hoe ’n soort man dié Henk Beukes is,” bring Thelma haar kant. “Hoe meer ek hieroor dink, hoe sterker voel ek jy moet gaan, sus. Ag, en laat die man wees soos hy wil, maar dit sal vir die tweeling baie beteken as jy gaan. Daaraan is geen twyfel nie. Hulle het jou behoorlik gesoebat in hul laaste briefie. Hulle sal verskriklik teleurgesteld wees as jy nie kom nie.”
Lara sug en vou die brief op. “Goed. Ek dink jy is reg. Die enigste manier om vas te stel wat werklik aangaan, is om te gaan. Aan die een kant is ek ook maar bly hy sal nie daar wees nie. Dan het ek meer van die tweeling vir myself.” Sy glimlag effens. “Ek is werklik selfsugtig oor daardie twee.”
“ ’n Mens kan so oor hulle voel. Uit hul briewe kom hulle voor as twee oulike kinders,” laat Bert begrypend hoor en hou maar sy bedenkinge vir homself. Hy voel nie gerus om sy skoonsuster te laat gaan na wildvreemde mense waar duidelik êrens ’n skroef los is nie. Lara het wel die afgelope weke weer teruggekeer na die mens wat sy was, maar hy sal nie wil sien dat sy so gou weer dalk met probleme en selfs hartseer te doen kry nie. En hartseer sal sy kry as dit enigsins die tweeling gaan raak. Sy het behoorlik gek geword oor daardie twee kinders.
Henk, ’n man wat deesdae met baie probleme in sy binneste worstel, kom nie agter dat hy die afgelope tyd nooit meer pos hoef te gaan uithaal nie. Die tweeling het dit reeds gedoen wanneer hy daaraan dink, en natuurlik totaal in die duister oor waarmee sy dogters besig is, vind hy dit nie vreemd nie.
Daar is ook geen gevaar dat hulle miskien ’n ander soort brief van hul pa sal oopmaak, wat nagevolge kan hê nie. Die handskrif op die koevert sal hulle teen hierdie tyd tussen duisende ander uitken.
Soos voorheen word die brief, hierdie keer geadresseer aan hul pa, dus sonder skaamte en skroom vinnig voor by Tokkie se skooljurk ingeprop voordat die res ewe doodluiters vir Pa na sy studeerkamer aangedra word.
Dan kan hulle nie gou genoeg in hul kamer kom nie, en hulle gryp mekaar vas en druk mekaar in louter vreugde toe die inhoud bekend is.
“Sy kom! Sy kom!” sing Bokkie sommer hardop sodat Tokkie haar ’n stewige pomp in die ribbes moet gee.
“Hou jou in, man!” Maar sy glimlag ook van oor tot oor. Sy kom! Van nou af gaan die poppe begin dans! Ou Snuffelpot kan maar koebaai sê vir Pa! Hul ma – dié een wat hulle self uitgesoek het – kom!
Daar tree meteens ’n merkbare verandering by die tweeling in, in só ’n mate dat hul pa selfs oor sy persoonlike probleme heen dit moet opmerk en tant An weer meer gerus begin voel. Skielik lag en koggel en sing en hardloop dit weer in die huis, en tant An glimlag. So ja! Só moet dit mos in ’n huis klink waar kinders is. Hierdie vreemde stilte van die afgelope tyd het al op haar senuwees begin werk. Maar nou ... nou raas dit en gaan dit te kere soos voorheen.
Ook Henk lig meteens sy kop op waar hy agter sy lessenaar sit en werk. Dis sowaar die tweeling wat hier buite so raas! Hy staan op en stap na die venster en glimlag toe hy die twee se kaperjolle op die grasperk sien. Wanneer laas het hy hulle só sien speel? ’n Deernis en teerheid oorweldig hom terwyl hy ’n rukkie toekyk, en hy moet later lag. Dametjies of nie, maar vandag word daar skielik nie ’n flenter omgegee waar die rokke sit nie. Meestal wapper dit bo-oor die blonde koppe en dit kan hulle nie skeel wie in die straat verbyloop nie.
Henk Beukes is ’n bondel gemengde gevoelens terwyl hy na sy twee dogters staan en kyk. En die jare rol terug ...
Die lewe was mooi. Daar was Marlene en die tweeling. Hy was pas aangestel as hoof van die hoërskool op Jagershoek. Hy het geweet dat daar ’n reusetaak op hom wag om hierdie skool weer op te bou, maar hy was nie bang daarvoor nie. Met ’n vrou soos Marlene aan sy sy het hy kans vir nog groter dinge gesien.
Maar toe skielik word sy siek, en binne twee dae nadat sy die eerste keer siek geword het, is sy op die operasietafel oorlede. Dit het so verskriklik vinnig gebeur.
Sy oë staar nou somber na die spelende tweeling buite. Daar was nie eens tyd om hulle voor te berei op die moontlikheid dat sy sou sterf nie. Marlene was jonk, nog altyd so gesond. Daar was nooit die vaagste gedagte aan sterf nie, nie eens toe hy daardie dag van die skool teruggekeer en sy vrou wit in die gesig by die huis aangetref het nie. Hy het haar dadelik dokter toe geneem en sy is onmiddellik in die hospitaal opgeneem vir waarneming. En nog het dit nie by hom opgekom dat dit só dodelik ernstig kon wees nie.
Sal hy ooit daardie oomblik vergeet toe hy moes hoor: “Jammer, meneer Beukes. Ons het gedoen wat ons kon, maar ... jou vrou is gedurende die operasie oorlede.” Daardie verstomming, verstilling, verstywing, verstrakking in hom op daardie oomblik. Toe het hy omgedraai, uitgestap en daar buite het die tweeling nog soet in die motor gesit en wag soos hulle beveel is. Twee dogtertjies van ses jaar ... en hy moes hulle gaan vertel dat dié mamma wat altyd gelag het, wat altyd so vol liefde was, nooit weer sou terugkeer nie. Dat sy weg is ... vir ewig.
Hy vee nou oor sy oë, sy mond strak en bleek. God alleen, en hulle wat daardie selfde pad al gestap het, weet wat op daardie oomblik binne-in jou gebeur. Dis of jy wegsak in ’n diep, diep kuil wat geen bodem het nie. Jy sak maar net al dieper af en jy probeer nie eens om te spartel om na bo te kom nie. Jy wíl afsak.
Daardie eerste dae ná Marlene se afsterwe ... Vir ’n oomblik staan dit weer fel en helder voor hom. Die geweldige aanpassing by ’n moederlose huis, die soeke van sy kinders na daardie één persoon waarom ’n huis draai, en sy power pogings om die kinderhartseer te stil terwyl hyself binne vergruis was in eie, volwasse smart.
Aanvaarding het mettertyd gekom – baie gouer by sy kinders as by hom. Hoe dikwels het hy hulle dit beny; dat hulle, nog so klein, met kinderlike eenvoud geleer het om die finaliteit van die dood te aanvaar. Maar die Bybel sê mos dat jy soos ’n kind moet wees om die hemel te kan sien. Terwyl hy nog in die hel van smart en eensaamheid gedompel was, het die tweeling reeds weer die hemel begin sien. Hulle het Mamma nog onthou, maar daar was so baie dinge elke dag om hulle besig te hou, om die gemis al stiller te maak. Dit was nou hy wat saans na hul gebedjies geluister het, en met gemengde smart en verwondering na die kinderlike geloof geluister het.
“Pappa sê Mamma is in die hemel by Jesus. Sê vir haar groete, liewe Jesus, en sê vir haar ons was nie stout vandag nie.”
’n Ander keer was dit weer die ander een wat gebid het: “Liewe Jesus, sê vir Mamma ek het vandag uit die boom geval en my knieë is heeltemal stukkend, maar Pappa het salfies aangesmeer en dis nie meer so seer nie.”
So het hy dikwels gesit en luister na die boodskappies hemel toe; boodskappies vir Mamma.
Hy het hom ten volle aan sy nuwe taak toegewy, met die besef dat hy besig moet bly en dat hy hierdie taak nou alleen sal moet deurvoer. Marlene was nie meer daar om die stukrag agter hom te wees nie. En so het die jare ongemerk verbygerol – sewe jaar al.
En ongemerk ook het sy dogters grootgeword. Oor nog ’n paar kort jaartjies sal hulle uit die huis wees. Dan sal hy alleen wees ... as hy nie nou die verstandige ding doen soos wat sy verstand hom vertel nie.