Читать книгу Ena Murray Omnibus 39 - Ena Murray - Страница 8
Оглавление5
Soos gewoonlik sit die twee skoonsusters buite op die stoep hul elfuurtee en drink, en Thelma merk op: “Die winter is aan die kom. ’n Mens kan al ’n byt in die luggie voel.”
Lara knik. “Ja. Ek het al gevoel dat die sonnetjie nie meer dieselfde krag as ’n paar weke gelede het nie.”
Vir ’n oomblik drink hulle in stilte, en Thelma merk op hoe die ander se oë telkens straataf dwaal. Sedert daardie brief gepos is, hou Lara die posbode fyn dop. Thelma kan elke keer die skaars bedekte spanning in die te skraal liggaam sien wanneer die posbode om die hoek kom en hul posbus nader. Elke keer kon sy ook die teleurstelling in die blou oë lees as daar dan niks is nie.
Ook nou sien sy hoe Lara na haar polshorlosie kyk. Dis duidelik wat sy dink. Die pos is laat vanoggend.
Sy voel ’n beklemming in haar saampak. Wat as daardie wewenaar van Wegdraai nie op Lara se brief antwoord nie? Dis belaglik om te dink dat ’n absolute vreemdeling se optrede so ’n invloed op ’n mens se lewe kan uitoefen, maar belaglik of nie, dis presies wat dit is. Sy weet nie wat hulle gaan doen as daardie man Lara nie antwoord nie.
Sedert daardie dag het daar ’n merkbare verandering ten goede by haar skoonsuster begin intree. Elke dag het sy stukkie vir stukkie meer tot die normale lewe teruggekeer. En hoewel Lara nie daaroor gepraat of daarna verwys het nie, het Thelma geweet: dis daardie advertensie, of hoe jy dit ook al noem, wat die keerpunt gebring het. Dis van daardie dag af dat Lara aanvaar het dat haar man en kinders dood is en dat sy alleen sal moet vorentoe. Maar dis ook van daardie dag af dat sy besef het ander het ook al die pad voor haar gestap en sy is nie alleen nie. Ander het al dieselfde vergruisende smart as sy ervaar ... en anderkant uitgekom.
Sy sit haar koppie neer, kyk ook straat toe, sien nog geen teken van die posbode nie en draai direk na die ander vrou.
“Lara ...”
“Ja?”
“Hoe voel jy deesdae? Ek bedoel nie liggaamlik nie, maar ... binnekant?” Dis nie eintlik wat sy wou sê nie. Sy wou haar skoonsuster waarsku om nie haar hart so op hierdie nuwe korrespondent van haar te sit nie. Die man sou seker baie briewe ontvang het en het moontlik Lara se brief eenkant toe gegooi.
Lara staar nog ’n rukkie na die straat, en dan draai sy haar kop en glimlag. “Liewe Thel, moenie so bekommerd lyk nie! Dit gaan al heelwat beter, soos jy self sien. Ek dink ek moet vir my werk soek. Miskien is dit my ledigheid wat maak dat ek so lank neem om oor die ding te kom.”
Thelma knik. Dis waar. Vir ’n gebroke hart is daar net een medisyne: harde werk. Maar Lara kon nie gouer gaan werk het nie, want hoewel haar beserings nie permanente skade berokken het nie, was dit ’n langsame pad na herstel. Sy is nou nog nie wat sy moet wees nie, maar liggaamlik skort daar eintlik niks met haar nie. Dis net haar gestel wat baie af is en wat tyd sal verg om reg te kom.
“Dis ’n goeie gedagte, maar ek dink jy is nog ’n bietjie te haastig daarmee. Jy gaan jou ooreis. Wag nog hierdie kwartaal en sterk eers heeltemal aan. Dan kan ons weer praat.”
Weer glimlag Lara haar glimlaggie wat so seldsaam die afgelope maande gesien is, en die oë wat na Thelma keer, blink dankbaar. “Hoe sal ek jou en Bert ooit kan bedank of vergoed vir jul bystand die afgelope maande? Julle was so dierbaar vir my. As julle nie daar was nie ...”
“Maar ons was daar, en dis hoofsaak,” sê Thelma vinnig. “Lara, ek en Bert wil nie hê dat jy ooit alleen en eensaam moet voel nie. Bly hier by ons. Jy kan gaan werk sodra jy sterk genoeg voel, maar laat dit jou huis wees, asseblief! Ons wil nie hê jy moet alleen gaan bly nie.”
Lara sug saggies en die hartseer glimlaggie huiwer nog in haar een mondhoek. Hulle bedoel dit so goed! Maar ... Soms kan ’n mens op jou eensaamste wees tussen ’n klomp mense ... selfs tussen jou dierbares. Het sy die waarheid hiervan dan nie leer ken nie?
Maande lank was sy omring van mense in die hospitaal – dierbare, goeie mense wat haar smart wou ligter maak. Maar nog nooit in haar lewe was sy eensamer as juis daar nie. Bert en Thelma het haar kom haal toe sy uit die hospitaal kon kom en haar hierheen gebring. En weer was sy omring van dierbares wat niks ontsien het om haar haar smart te help dra nie.
Maar saans wanneer die kamerdeur agter jou toegaan ... en die huis stil word ... is jy alleen ... en weet jy dat hierdie eensaamheid maar net ’n verlenging is van die eensaamheid wat jy al die hele dag in jou saamdra. Ondanks al die liefde wat jy ontvang, weet jy dit vul nie daardie bodemlose put van eensaamheid wat binne-in jou oopgeruk is nie. So spoel die gedagtes deur haar ...
’n Weemoedige dankbaarheid vul haar in hierdie oomblik. Hoe dierbaar van Bert en Thelma om hul huis met haar te wil deel. Want hoe kosbaar is ’n huis nie, hoe wonderlik kosbaar is die klein kring van die huisgesin nie! Vandag eers besef sy hoe waardevol dit is; watter groot genade dit is om deel van ’n huisgesin te wees: die ma daarvan, of die pa, of een van die kinders.
Dis ’n sirkel wat God self getrek het, en hoe dierbaar en na aan die hart enigiemand anders ook al mag wees, pas niemand anders in hierdie volmaakte kring van die Skepper in nie. Nee. Hierdie kan nooit haar huis word nie, want dis Bert en Thelma en hul kinders s’n. Haar huis ... Die oorbekende sametrekking van die hartspiere is meteens weer daar, en dit laat haar bleek en moeg. Sy het haar huis gehad. Al wat sy nou nodig het, is ’n woonplek – net ’n plek om te eet en te slaap en ... te bestaan.
“Daar is die posbode nou. Ek gaan gou kyk,” laat Thelma hoor en spring op, diep bekommerd. Lara het vir ’n oomblik weer so sleg gelyk. Sy het weer so bleek en belangeloos voorgekom.
Toe sy die koevert gewaar, ruk haar hart ’n oomblik. Dis geadresseer aan Lara en sy is oortuig dis die langverwagte brief!
“Lara! Lara, kyk hier! Dis hier!”
Thelma se opgewonde stem ruk haar uit haar somber bepeinsing en belangstelling flits in haar oë.
“Hoe weet jy dis ...?”
“Dis ’n vreemde stempel en die adres is getik. Ek sweer dis van daardie wewenaar af. Maak oop!” Sy giggel amper soos ’n skoolmeisie. “Aardetjie, ’n mens sou sê dis mý brief!”
Lara gehoorsaam met bewende vingers en sy lees die kort briefie hardop voor. “Geteken: Henk Beukes.” Sy laat sak die brief en hulle kyk mekaar eers ’n rukkie stil aan terwyl hulle die inhoud ’n rukkie in hul gedagtes herkou.
Dan sak Thelma terug teen die kussing agter haar en laat reguit hoor: “Dank die Vader! Bert sal net so verlig wees.”
Lara kyk haar vraend aan. “Waaroor?”
Thelma lag skuldig. “Liewe mens, jy weet nie watter spookbeelde ek en Bert al oor hierdie man opgetower het nie! Besef jy nie dat hy enigiets kon gewees het nie, van ’n ontsnapte bandiet tot ’n ... wel, enigiets op aarde. Maar hy is ’n skoolhoof! Dit sê al baie, hoewel hy nie oorvloedig met besonderhede is nie. Eintlik praat hy net oor die tweeling.”
“Dis waaroor hierdie korrespondensie gaan – die tweeling.”
“Ja, dis waar. Hy soek mos raad.” Thelma frons. “Daar is darem iets snaaks ook aan die hele ding. As hy ’n skoolhoof is, behoort hy mos darem te weet hoe om kinders te hanteer en so aan. Dis vreemd dat hy iemand in só ’n rubriek sal soek wat hom met raad moet bystaan, is dit nie?”
Lara frons ook liggies en dink eers ’n bietjie. “Miskien – maar miskien ook nie. Hy is dalk baie besig en hy is ’n man. Hoewel dit algemeen aanvaar word dat ’n onderwyser ’n kind se binnekant verstaan, is daar maar baie van hulle wat lelik kleitrap wanneer hulle met meisies van hierdie ouderdom te doen kry. Dis ’n baie moeilike stadium hierdie, en soos ek kan aflei, is dit nie sommer net ’n gewone tweeling hierdie nie. Hulle moes van sesjarige ouderdom af sonder ’n ma se invloed en leiding klaarkom, met net ’n ou tante van oor die sewentig wat na die huishouding omsien. Daar sal probleme wees. Dit kan ek heeltemal begryp.”
Thelma neem die briefie op en lees dit weer deur. Die man kon darem ’n bietjie meer van homself vertel het, voel sy. Maar soos Lara uitgewys het, die hele korrespondensie is as gevolg en ter wille van die tweeling. Die handtekening onderaan is sterk en stewig en stel haar gerus. Die bewoording is miskien ’n bietjie stokkerig en sonder verbeelding, maar dit kan ’n mens ook begryp. Dis ’n wildvreemde vrou aan wie die man skryf en aan wie hy sy probleme moet voorlê. Nee, oor die algemeen hou sy sommer van hierdie man.
“Is daar nie nog iets in die koevert nie? Laat ek kyk ... Hier is nog twee foto’s in! Kyk! Dis natuurlik die tweeling en hier is ’n foto van hom. Lara, maar dis ’n bak ou hierdie!” laat Thelma opgewonde hoor en maak sommer gebruik van haar kinders se woordeskat.
Lara kyk egter nie eens na die laaste foto nie. Dis die tweeling se foto wat sy gretig gryp. Haar gesig verstil. Lank rus haar blik op die twee identiese gesigte wat so vriendelik na haar glimlag. Dan sluit sy haar oë en die trane kruip stil onder haar ooglede uit.
“Lara ... Ag nee, moenie ...”
Sy skud haar kop, dwing die nat oë oop, pers die lippe saam. “Dis ... dis maar net ... Ek het maar net daaraan gedink dat ek so graag sou wou gesien het hoe Estertjie en Esmétjie op hierdie ouderdom sou gelyk het.” Sy sluk, probeer dapper glimlag, dwing haar stem tot kalmte. “Dis twee oulike meisies, nè?”
“Ja. Hulle is baie oulik.” Sy wil byvoeg dat die pa self baie oulik vertoon, maar besef dat dit nie nou van pas sal wees nie. Sy druk die foto van die tweeling en die brief weer terug in die koevert en laat die ander foto in haar roksak glip. Sy sal dit graag eers vir Bert wil wys sodat sy vrese ook gestil kan word. “Jy moet gou terugskryf. Dit klink asof daar nog baie ander probleme in die toekoms lê en wag.”
“Ja. Ek sal sommer vanaand skryf.”
Daardie aand, toe Lara haar na haar kamer terugtrek om die onbekende wewenaar met raad by te staan in die groot probleem van klinknaelbroeke en onwelkome ontluiking, kan Thelma oopbars om haar man van die nuwe verwikkelinge te vertel. Sy wink met haar kop kamer se kant toe sodat die kinders, wat by die tafel hul skoolwerk sit en doen, nie iets moet agterkom nie. Bert reageer op die wenk en in die gang plaas hy sy arm om sy vrou se middel en kyk tergend op haar af.
“My skat, weet jy wanneer laas jy my so openlik kamer toe gelok het? Dit laat my weer tien jaar jonger voel!”
“Moenie laf wees nie, Bert! Daar is iets in die kamer wat ek jou wil wys.”
Hy trek ’n teleurgestelde gesig. “O! Ek het gedink ...”
“Ja, toe nou maar, jy! Gedra jou volgens jou jare, meneer! Hou nou op met jou lawwigheid en kyk hier.”
Bert se wenkbroue skiet omhoog toe hy die foto in sy hand neem. “En wie is hierdie meneer?”
“Dít, my skat, is Lara se wewenaar!”
“Lara se ... wat?”
“Ag, man, die man aan wie sy geskryf het – dié een wat raad oor sy tweeling wil hê!”
“O!” Hy frons. “Dit kan enigiemand anders se foto ook wees.”
Thelma kyk hom vies aan. “Hoekom sal hy so iets doen? Hy is ’n skoolhoof op ’n plek met die naam Jagershoek, êrens in die Karoo.”
“So?”
“Ja, en Lara sit en skryf nou vir hom terug. Bert, dink jy nie ...?”
“Stadig, stadig nou, skat. Moenie dat jou verbeelding weer met jou op loop sit nie.”
“Ja, maar ek sê maar net ... Ag, nou toe maar, ek sal niks sê nie, maar ek kan dink wat ek wil, kan ek nie?”
“Ja, my liefste vroutjie, jy kan, maar jy hou dit vir jouself. Lara het geen belangstelling in hierdie man op sigself nie, maar bloot net in sy tweelingdogters.”
“Ja, dit weet ek, maar op ’n dag gaan sy tog agterkom hulle het ’n pa.” Sy kyk weer na die foto. “En ’n deksels aantreklike pa daarby.”
Bert Kirsten kyk sy vrou met ’n glimlaggie aan. “Probeer jy my onrustig of jaloers maak?”
Sy lag na hom op, gooi haar arms om sy nek en druk hom teen haar vas. “Nee, my liefling, nie een van die twee nie. Ek sal jou nie verruil vir tien Henk Beukese nie ...”
“Wie’s Henk Beukes?”
“Hierdie wewenaar, natuurlik!” Dan raak haar gesig ernstig terwyl sy na hom opkyk. “Ek wil maar net graag hê dat Lara weer eendag geluk sal smaak. Sy was so ’n wonderlike vrou vir Daan en so ’n wonderlike ma. Dit sal ’n sonde wees as sy nooit weer trou nie.”
“Dis waar, maar op die oomblik moet ons nie te haastig met haar wees nie, Thel. Laat die lewe sy gang gaan en self die patroon uitwerk. Lara is maar sewe en twintig. Dis onwaarskynlik dat sy vir die res van haar lewe alleen sal bly.”
“Maar moontlik. Ek ken ’n hele paar aantreklike weduweetjies wat nooit weer getrou het nie.”
“Dan is dit so beskik. Asseblief, Thelma, hou jou uit hierdie ding. Netnou kom daar allerhande komplikasies en dan het jy haar daarin gehelp. Wat sal wees, sal wees.”
“Ja, maar ek glo nie daaraan om net altyd handjies gevou te sit en wag dat die lewe alles in jou skoot moet kom gooi nie. ’n Mens moet darem maar soms dinge so ’n bietjie ... e ... aanhelp.”
“Nie in hierdie geval nie,” sê haar man streng. “Los vir Lara en die tweeling en die Don Juan-wewenaar uit. As jy werklik so romanties voel, jy het ’n man, jy weet? Iemand wat jy deesdae net so ’n klein bietjie afskeep.”
“O, Bert!” Sy nestel styf teen hom aan. “Dit was maar net omstandighede. Lara en ...”
“Ek weet, my skat. Die lewe sal weer tot normaal terugvloei. Moet jy dit net nie probeer terugdruk nie!”
Die tweeling sou, as hulle hierdie gesprek kon hoor, volmondig met Thelma Kirsten saamgestem het. Om die lewe maar net sy gang te laat gaan, soos Bert Kirsten voorgestel het, kan baie probleme meebring, en soms kan dit al na die verkeerde kant toe wil lol, soos Tokkie dit stel. Dit het hulle die afgelope tyd wel deeglik agtergekom. Wat hulle nog sal besef, is dat ’n mens dit soms wil druk in die rigting waarin jy dit wil hê, en dan kan dit nog meer probleme afgee. Maar dit sal hulle eers heelwat later besef.
Al wat hulle nou weet, is dat hulle, soos Thelma Kirsten gesê het, nie net met gevoude handjies kan sit en toekyk dat die lewe, bedoelende hul pa en juffrou Huizeman, al wil lol na ’n kant toe waarvan hulle nie hou nie.
Dis deesdae ’n voldonge feit op Jagershoek dat die skoolhoof by die tweeling se klasonderwyseres sleep. Party mense voel teleurgesteld.
Om die een of ander rede is juffrou Estelle Huizeman nie baie gewild onder die res van die personeel of in die gemeenskap nie.
“Dis nie dat daar iets spesifieks met haar skort nie,” skinder die ander onderwyseresse onder mekaar. “Sy het net ’n soort beter-as-jy-houding wat my nie aanstaan nie.”
“Ja, en sy is glad nie meer ’n kuiken nie. Aan die ander kant weer sal dit Henk Beukes nie betaal of betaam om met ’n bloedjong dingetjie te gaan trou nie. Hy is al sewe en dertig en die tweeling is al amper dertien.”
“Ja, dis waar, maar ek voel tog Henk Beukes kan beter doen. Hy het al die jare nooit tekens getoon dat hy belangstel om weer ’n vrou te vat nie en so beter kanse laat verbygaan. Nou gaan hy blykbaar vir Estelle Huizeman vat en ek sê vir jou, hy gaan nog lelik op sy eie neus vaskyk. Sy is glad nie so mak soos wat sy altyd voorkom wanneer hy naby is nie.”
En daarmee stem die tweeling ook volmondig saam. Van daardie feit het hulle eerstehandse kennis, maar dis ’n kennis waarmee hulle niks kan maak nie. Hulle weet vooraf dat hul pa geen storiedraery duld nie.
Die tweeling lewe deesdae van die een posdag na die ander en toe die langverwagte brief kom, is dit vir hulle soos ’n skynende lig in stikduisternis.
Toe die brief klaar gelees is, is dit Bokkie wat eerste laat hoor: “Sy is net die ma vir ons! Tokkie, ons moet ’n plan maak dat sy en Pa by mekaar uitkom.”
Tokkie stem volmondig saam. “Ja. Sy sê Pa half lekker op daardie een plek, nè? Lees dit weer.”
“Ek dink jy bekommer jou verniet oor die klinknaelbroeke en die feit dat jou dogters nie graag rokke dra nie. Ook omdat hulle dit nog geniet om saam met die seuns rugby te speel. Party dertienjarige meisies is ryper as ander. Jou twee dogters, soos ek kan aflei van jou brief en die foto – baie dankie, dis pragtig! – is nog kinders ondanks die ‘ontluiking’ wat al begin het! Wees dankbaar daarvoor! Ek dink elke ouer wat vandag nog sy kind op dertien ’n kind het, moet op sy knieë gaan. Die algemene neiging vandag is net die teenoorgestelde. My raad aan jou in hierdie opsig is, moenie jou kinders grootmense probeer maak voordat hulle gereed daarvoor is nie. Wees liewer dankbaar dat hulle net met die seuns wil rugby speel!”
“O, dis pragtig!” sug Tokkie in ekstase. “Ek wens ek kan hierdie brief onder ou Huizeman se neus indruk.”
“Én Pa s’n! Hy is deesdae al amper net so erg soos sy! Maar ek weet al wat sy sal sê as ons dit durf waag om haar die brief te wys. Sy sal sê: wat weet daardie vrou? Ek is ’n opgeleide onderwyseres en sielkunde was een van my hoofvakke!” praat Bokkie hul klasonderwyseres na en Tokkie snuif.
“Ag, haar ou sielkunde! Wat weet boeke van kinders grootmaak af? Hierdie vrou het al self ’n tweeling gehad en ou gifappel het nog nie eens ’n man nie.”
“Sy gaan een van die dae een hê as ons ons nie roer nie.”
Bokkie kyk haar suster bekommerd aan. “Tokkie, wat gaan ons doen?”
Dis die groot vraag waarmee die tweeling deesdae loop en worstel, in so ’n mate dat selfs hul klasonderwyseres nie meer so maklik die geleentheid kry om hulle uit te trap nie. Om die waarheid te sê, die skoolhoof se ontembare tweeling is deesdae onnatuurlik getem.
Juffrou Estelle Huizeman gee aan haarself al die eer. Daardie twee het darem gou besef wie is baas en wat goed is vir hulle. As hulle só voortgaan, sal sy hulle darem skoolvakansies tuis kan verduur.
Maar ander mense merk ook hierdie skielike bedeesdheid op, en party wonder ... ander is ietwat bekommerd.
Die seuns wonder wat deesdae met hul skrumskakel en agsteman skort. Maar dis nes meisies is. Oud voor hul tyd. Word nou kastig groot meisies en verbeel hulle nou hulle is van suiker gemaak en sal smelt as hulle in ’n skrum moet druk. Ag, hulle sal hulle maar uitlos van nou af. Maar dis darem deksels jammer. Hulle was twee staatmakers.
Vir tant An voel dit al asof daar deesdae iets weg is uit die huis. Wanneer sy dan gaan stilstaan en wonder wat dit is, besef sy dis die uitbundige lewenslus van die tweeling wat sy mis. Daar is nooit meer ’n gelag en geraas nie. Daar word nooit meer gehardloop, gesing of gestoei nie. Hul kamer is deesdae styf netjies. So ook hul kaste. Die badkamer word nou onberispelik agtergelaat. Elke ding het skielik sy plek in die skoolhoof se huis – maar, snaaks, dit gee nie juis veel plesier nie.
Tant An wil-wil dwing om met Henk hieroor te praat, maar dan los sy dit maar weer. Aan die begin, toe juffrou Huizeman die tweeling oorgeneem het, het sy gedink dis ’n goeie ding. Nou is sy nie meer so seker nie. Die tweeling is wel deesdae net so netjies as elke ander voorbeeldige dertienjarige meisie; hulle gedra hulle weliswaar deesdae byna onberispelik, maar daar is geen vreugde nie. Hul grappies en poetse en selfs hul stoutigheid en slordigheid mis tant An.
Maar ook Henk Beukes kom agter dat sy huis nie meer die huis is wat hy geken het, en gelukkig in was nie. Ook hy kom agter dat daar iets uit die huis verdwyn het toe daar begin is om van sy dogters dametjies te maak. Party dae lyk hulle so anders vir hom as waaraan hy gewoond was dat hy amper soos ’n vreemdeling teenoor hulle voel. En waar hul geraas en gelag gedurig op die agtergrond was terwyl hy in sy studeerkamer besig is en dit hom soms geïrriteer het, is dit nou ’n swaar stilte wat oor alles toegesak het, só swaar dat hy al ’n paar keer van agter sy lessenaar opgestaan en vir tant An gaan vra het waar die tweeling is.
Dan kom die antwoord altyd: “Hulle is maar in hul kamer, Henk. Hoekom?”
“Nee. Nee, ek vra sommer, tante.”
Dan stap hy fronsend terug en gaan sit weer agter sy lessenaar, sy werk vergete, die kommer op die voorgrond. Maar dis of hy nie meer deesdae die vrymoedigheid soos vroeër het om reguit en vertroulik met die tweeling te gesels nie, en sonder dat die tweeling weet, het hul pa ook al meer as een keer daardie “ontluikende vroulikheid”, wat die oorsaak van alles is, in stilte verwens. As hulle net nie hoef groot te geraak het nie! As hulle maar sy rabbedoe-dogtertjies kon bly met die poniesterte, die klinknaelbroeke en die kaal voete!
Dan het hy homself probeer bemoedig. Hy sien sommer spoke. Daar skort niks met die tweeling nie. Hulle is maar net besig om groot te word, en hy sal dit maar moet aanvaar, soos Estelle aan hom uitgewys het. Sy het hom verseker dat hy hom verbeel dat die tweeling ongelukkig is. Dis maar alles groeipyne, en sy behoort seker beter te weet as hy. Sy is ’n vrou.
Intussen neem die korrespondensie met die onbekende Lara Kirsten toe. Sy het hulle, natuurlik via hul pa, ook genooi om aan haar te skryf en hierdie keer het die skrywery baie makliker gegaan. En toe hulle eers begin vertel het, het alles sommer spontaan uitgeborrel. Net van juffrou Estelle het hulle nie ’n woord gerep nie.
“Pa sal seker nie hierdie week skryf nie. Ons het gesê ons sal vir tannie skryf,” draai hulle die saak reg, sodat dit nie moet snaaks lyk as sy nie ’n brief van die wewenaar ontvang nie. “Ons verjaar oor veertien dae. Dan is ons vol dertien.”
Lara glimlag toe sy dit lees. Die briefies wat sy al van hulle ontvang het, is so spontaan en kinderlik dat hierdie onbekende tweeling reeds diep in haar leë hart ingekruip het.
Thelma stel net so belang in elke brief wat daar aankom en kan nie wag om Lara eers kans te gee om eerste die briefies te lees nie.
“Die tweeling skryf hulle verjaar oor veertien dae en dan is hulle vol dertien,” lig sy Thelma in. “Ek wonder of dit sal snaaks lyk as ek vir hulle geskenkies stuur.”
“Natuurlik sal dit nie. Ek dink hulle sal dit vreeslik waardeer. Onthou, hulle het nie ’n ma wat vir hulle iets kan gee nie. Hul pa sal seker wel, maar dis nie dieselfde nie. Jy weet, Lara, hoe meer ek van hulle hoor en hulle deur die briewe beter leer ken, hoe meer pateties word hulle vir my. Kan jy jou voorstel hoe anders ’n kind se lewe is wat sonder ’n ma moet grootword? Jy weet, ek besef al meer, sedert dié tweeling op die toneel verskyn het, hoeveel mý ma vir my beteken het. Ek is self nou al ’n ma, maar haar waarde kan ek nou eers na reg waardeer.”
Lara knik. “Dis waar. Eintlik weet hulle nie en besef hulle nie wat hulle mis nie, maar tog is die gemis daar. Hulle soek na iets, en hulle besef nie dis na ’n ma nie. Eienaardig dat die pa nog nie weer geskryf het nie. Of miskien dink hy dat die tweeling self beter hul probleme aan my sal kan voorlê as hy. Nietemin, hy tree tog vir my effens eienaardig op. In elk geval, hy is nie die een van belang nie. Dis die tweeling.” Sy staan op. “Ek gaan sommer nou winkels toe.” Dan glimlag sy. “Ek weet presies wat ek vir hulle gaan koop. Hulle skryf hulle gaan gewoonlik die lang skoolvakansie na hul ouma en oupa se plaas toe. Ek dink twee splinternuwe klinknaelbroeke sal dan uitstekend te pas kom!”
Terwyl Lara van die een winkel na die ander loop op soek na ’n spesifieke soort klinknaelbroek, besef sy self nie hoe sy begin verander het sedert sy daardie dag op die hulpgeroep van ’n wewenaar-pa geantwoord het nie. Daar het weer sin in haar lewe gekom. Sy het skielik weer iets om te doen. Sy is weer van belang vir iemand, vir ’n onbekende tweeling. Op ’n wonderlike, uitsonderlike wyse het God haar kinders in ’n mate weer aan haar teruggegee.