Читать книгу Ena Murray Omnibus 40 - Ena Murray - Страница 5

2

Оглавление

So gaan ’n jaar verby waarin omstandighede in Sandton en Jan Hofmeyr nie juis verander nie.

In een van Sandton se spogtuine lê die twee vriendinne weer langs die swembad; Alfred het pas vir hulle ’n vrugtedrankie gebring en daar wag die aand weer ’n ete by ’n vyfsterhotel. Die gesprek draai maar om dieselfde dinge as ’n jaar gelede: dieselfde onderwerpe waaroor rykmansvroue maar gesels om die dag om te kry. Klere, juwele, oorsese reise, huishulpe, haarsalonne, sosiale okkasies, skindernuus. Pat se kinders het darem ’n jaar ouer geword, die oudste een is al in die hoërskool en sy spreek nou die wens uit dat hy al in matriek is. Die Cloetes se agtste huweliksherdenking het steeds kinderloos verbygegaan, maar met een verskil: Wanya het die idee van ’n kind nou byna permanent op die agtergrond geskuif. Hoe meer sy Pat se kinders aanskou, hoe meer besef sy dat dit ’n onreg teenoor ’n kind sal wees om hom of haar in ’n lewe in te help waar daar nooit vir hom tyd sal wees nie.

Sy waag dit nou om haar gevoelens hardop teenoor Pat uit te spreek: “Hinder dit jou nie om jou kinders aand ná aand so alleen te laat nie?”

Pat is heel verbaas. “Nee, hoekom? Hulle is mos versorg. Hulle is doodgelukkig by Beauty. Sy is so goed soos ’n ma vir hulle.”

Maar sy is nie hul ma nie, wil Wanya terugkap, maar sy swyg, ’n jammerte in haar hart vir die twee bedorwe kinders wat alles het wat geld kan koop, maar met ’n Beauty se liefde en sorg tevrede moet wees. Dit is seker beter dat daar in die Cloetes se huis nie kinders sal wees nie. Sy weet Niel is heimlik verlig dat sy nie meer die kwessie periodiek ophaal nie. Dit pas hom dat hulle kinderloos bly.

Die daaglikse patroon van haar lewe lyk dus vandag, ’n jaar later, presies dieselfde.

“Hulle wil volgende week ’n kompetisie by die tennisklub reël, sommer so onder ons klomp. Gaan ek en jy die dubbels saam aanpak?”

“Ek weet nie, Pat. Ek is miskien volgende week nie hier nie.”

“O? Waarheen gaan jy?”

“Ek wil my ma-hulle ’n slag besoek. Ek was lanklaas daar.”

“Stel dit uit vir ’n ander dag, man. Jy kan mos enige tyd vir jou ouers gaan kuier.”

Maar Wanya skud haar kop. “Nee. Ek stel gedurig uit. Ek moet net ’n slag gaan.”

Toe haar vriendin vertrek, voel Wanya verlig. Dis of sy en Pat deesdae ook nie meer veel gesels oorhet nie.

“Sien jou dan vanaand by die ete.”

Wanya kyk haar vraend aan. “Is julle ook daar? Ek het van Niel verstaan dis ’n direksie-ete.” Sy weet Charl Oberholzer is nie een van die direkteure nie.

“Ons is ook genooi. Charl het mos ’n taamlike bedrag in Niel se Rock Trust belê. Al die groot beleggers is genooi, verstaan ek.”

Wanya trek haar skouers op. “O, wel, van Niel se sake weet ek bloedweinig. Goed, ons sien mekaar dan daar.”

Toe Niel die namiddag haastig stort om hom te verfris vir die direksievergadering, vra Wanya hoekom die Oberholzers ook by die ete gaan wees.

Hy verduidelik terwyl hy vinnig ’n skoon pak klere aantrek. “Ons het dit goedgedink om die grootste beleggers na die ete te nooi. Charl het ’n paar miljoen ingestoot, ons kan dus maar vir hom ’n etetjie koop!” Dan frons hy liggies, begin om sy das te knoop. “Miskien oorweeg ons dit om hom by ons te betrek. Hardus Delport wil blykbaar as direkteur bedank.”

“Hoekom?”

“Nugter weet. Hy het skielik knypstert geraak en nugter weet hoekom. Rock Trust is dié instansie waar mense nou hul geld belê. Miljoene rande stroom daagliks in. Dit groei en groei elke dag.”

Soos Wanya teenoor haar vriendin opgemerk het, verstaan sy min van haar man se geldwêreld, en meer uit plig as omdat sy werklik belangstel, vra sy: “Hoekom?”

“Hoekom wat?”

“Hoekom belê die mense so vreeslik in Rock Trust?”

“Omdat ons die hoogste rente in die land betaal, my poppie. En almal hou van geld en soek die plek uit waar hulle die beste rente op spaargeld kan kry. Ons rentekoers is bokant die inflasiekoers. Dit laat mense na hierdie kans gryp, veral dié wat van hul rente moet lewe, soos afgetrede mense en pensioentrekkers. Ons gee hulle ’n hele paar persent meer as die banke en ander finansiële instellings. Die een wat nie nou in Rock Trust belê nie, is ’n gek.” Hy glimlag, stap nader, buk af en soen haar op die voorkop. “Maar dis nie dinge waaroor jy jou mooi koppie hoef te breek nie, my skat. Laat dit aan jou man oor. Sien jou ná die direksievergadering by die ete. Het jy met Alfred gereël dat hy jou bring?”

“Ja. Niel … Ek wil graag volgende week my ouers gaan besoek.” Sy sien sy vlugtige frons maar druk deur: “Sal jy nie dalk kan saamgaan nie? Ek weet nie wanneer laas jy by hulle was nie.”

Maar hy skud sy kop beslis. “Ongelukkig nie, my skat. Daar is vergaderings wat net nie uitgestel kan word nie. Maar gaan jy gerus. Sê groete vir hulle. Moet net nie te lank wegbly nie. Ek het jou hier nodig.”

Hy stap uit en sy kyk hom agterna. Ja, nodig om as sjarmante gasvrou op te tree wanneer potensiële beleggers genooi word. Om Niel Cloete eer aan te doen wanneer die openbare oog op hom rus. Op die grootbaas van Rock Trust, die nuwe wonderkind van die finansiële beleggingswêreld. Die man wat in miljoene rande dink. Sy sug, staan op van die kant van die bed. Sy moet haar seker ook begin aantrek … In Jan Hofmeyr se Sonneblomstraat is die lewenspatroon ook maar dieselfde as ’n jaar gelede. Met net een verskil. In die jaar wat verby is, het oom Jan Roos se rolstoel teruggegaan na die verhuringsagent. En almal mis hom. Hy het nooit gekla nie en het ook sonder klag uit hierdie wêreld vertrek. Smiddae wanneer tant Bes in die kombuisie van Sonneblomstraat 7 kos inskep vir die hongerlydendes van hierdie arm gemeenskap, soek haar hand al na oom Jan se bord. Maar daar is altyd iemand wat daardie ekstra bord kos goed kan benut.

Want jare lank al weet die mense van hierdie arm gemeen­skap waar om ’n bord sop te kry as hulle dit nie self kan bekostig of bekom nie. By Sonneblomstraat 7, by tant Bes.

Maar tant Bes is veel meer as die kok vir meer as driehonderd hongerlydendes in Jan Bom. Sy is ook sieketrooster, maatskaplike werker, dokter. Sy ken elkeen by die naam en sy ken elkeen se geskiedenis. Sy ken die nood van elke hart en elke huis. Sy weet waar klere en komberse broodnodig is. Sy is ook die nieamptelike werkverskaffingsburo van die gemeenskap. Fabrieksbase en ander sakemanne weet van tant Bes. Wanneer periodieke tekorte onder die werkers voorkom, word tant Bes gebel, soms selfs in die nag. Dan staan sy op, vat die dofverligte strate van Jan Bom en gaan maak die werkloses wakker. Want ’n baas se nood beteken vir Jan Bom se mense brood.

Sy is die beskermengel vir Jan Bom … en sy regeer met ’n streng hand oor haar kudde. Sy verdra nie twak nie. Sy looi ’n afknouerige kind sommer gou; met ’n dronke praat sy ’n baie reguit taal. Sy stap by jou voordeur in met liefde en begrip, met ’n helpende hand, maar as jy gefouteer het, sal jy dit gou van tant Bes hoor. As jy hulp nodig het, sal tant Bes wel verskyn en met haar sterk geloof almal help dra aan hul probleme.

In die volle geloof dat daar kos sal wees, kom hulle smiddae aangestap na Sonneblomstraat 7. Net soos tant Bes, in die volle geloof dat daar kos sal wees om te kook, elke oggend halfvier opstaan. Tant Bes se kospotte word gevul deur donasies. Sy is nie ’n geregistreerde welsynorganisasie nie en sy kry dus geen staatshulp nie. Baiekeer het dit al gebeur dat sy en ’n bekommerde Nellie met gevoude hande in die kombuisie sit met niks om te skil of te kook nie. Dis dan wanneer daar innig gebid word: Here, help! Laat ’n wonder­werk gebeur! Tant Bes se vaste geloof in wonderwerke is nog nooit beskaam nie. Kos daag op uit alle oorde, dikwels onverwagte oorde. ’n Boer wat ’n klomp groente kom aflaai. ’n Vrou wat hoenders kom skenk. ’n Pakhuis wat ’n geskeurde sak rys aanbied. Êrens vandaan bring die rawe dit aan na die kombuisie in Sonneblomstraat.

En as die rawe die dag regtig rus, is daar nog altyd die klein bedraggie in die spesiale rekening waaroor tant Bes soos ’n arend waak. Die tien rande, twintig rande en soms selfs ook ’n honderd rand wat van plaaslike gemeentes en private skenkers inkom, word baie streng geadministreer en daar word net daaraan geraak as die wolf reeds by die voordeur huil. Dan word daar oordeelkundig gekoop by ’n supermark waar die bestuurder haar ken en van haar bedrywighede weet. Maar nog nooit het Jan Bom se mense honger van haar af weggedraai nie.

Ook in die jaar wat verby is, het tant Bes se daaglikse patroon nie verander nie. Ook nie Annatjie of Kruppel Nellie s’n nie. Kruppel Nellie is steeds tant Bes se getroue skiller en kerwer. En Annatjie maak steeds elke dag ná werk by tant Bes ’n draai om oor die dag se gebeure verslag te lewer.

Nee, niks het eintlik verander in die jaar wat verby is nie, ook nie by Wanya se ouerhuis op die dorpie ’n entjie buite Johannesburg nie. Die Du Toits is doodgewone middelklasmense wat rustig op die dorpie kom aftree het nadat oom Piet al sy jare vir die Spoorweë gewerk het. Hulle leef eenvoudig en tevrede.

Toe hulle hul enigste dogter en laatlam die tuinpaadjie opgestap sien kom, voel hulle ongerus. Eintlik behoort hulle nie ’n greintjie bekommernis oor hierdie kind van hulle te hê nie. Sy is met ’n skatryk man getroud en sy kla nooit oor enigiets nie. Maar die ouerharte voel aan dat hul kind nie so gelukkig is as wat sy behoort te wees nie. En sy kom al weer sonder haar man kuier … Geredelik aanvaar hulle die gewone verskonings: “Niel is baie besig. Vergaderings, die een op die ander. Pa weet mos?” En eintlik is hulle heimlik verlig dat hy so “besig” is. Hulle kon nog nooit gemaklik voel in hul skoonseun se teenwoordigheid nie. Ná hul eerste en enigste besoek aan die luukse huis van hul dogter en skoonseun in Sandton, het hulle erg minderwaardig gevoel. Dis nie die lewe wat hulle ken nie. Ook nie wat hulle verkies nie – hulle het hulself trouens altyd maar tekort gedoen om hul pragtige dogter elke gerief en geleentheid te probeer gee. Maar hulle is dankbaar dat dit so goed met haar gaan … Maar toe hulle daardie middag van hul dogter afskeid neem, wonder hulle stilswyend of dit werklik so goed met hul kind gaan. Wanya kan ongelukkig nie oorslaap nie. Sy ontvang môreaand baie spesiale gaste tuis. Mynmagnate, kabinetslede, vername manne in die kapitalistiese wêreld. ’n Baie belangrike ete. Nie dat sy self veel te doen het nie. ’n Ekstra sjef word gehuur om Thomas in die kombuis by te staan. Alfred ken al die kuns om ’n formele tafel te dek. Sy moet net ’n lae rangskikking vir die tafel maak. Maar sy moet darem daar wees … Dus groet sy maar.

“Sê groete vir Niel. ’n Agent was nou die dag hier en vertel ons toe van Rock Trust. Hy sê Niel is een van die direkteure.”

“Ja, Pa. Dis eintlik sý geesteskind en dit gaan glo baie goed.”

“So het die agent gesê. En hulle betaal werklik goeie rente. Ek het toe ook maar ’n paar rand belê.” Hy glimlag. “Ek moet darem my skoonseun ondersteun!”

Sy glimlag terug. “Dankie, Pa. Ek sal vir Niel sê.”

Maar die boodskap word nooit oorgedra nie, want toe sy ná donker by die huis kom, is Niel nog nie tuis nie. Sy is reeds in die bed, die lig al later afgeskakel, toe hy inkom. Sy groet is vlugtig en ongeërg, sy gedagtes duidelik met ander dinge besig. Die frons tussen sy oë moedig haar ook nie aan om vrae te stel nie. Sy draai haar dus maar op die ander sy. Hy het nie eens daaraan gedink om te vra hoe dit met haar ouers gaan nie, daarom bly die groete wat gestuur is ook ongesê.

Die volgende aand, glimlaggend tussen haar gaste, kom die besef tot haar dat sy werklik nie hier nodig is nie. Sy kon maar by haar ouers oorgebly het. Sy kon ’n bloemiste gebel het om ’n rangskikking vir die eettafel te stuur. Die twee sjefs se kos is onverbeterlik; Alfred se tafel onberispelik korrek gedek. Háár bydrae is ’n nuwe silwerarmband wat bewondering en afguns by haar vrouegaste wek, en die mans laat besluit dat Niel Cloete darem ’n gelukkige derduiwel is om met só ’n voortreflike vrou te kan spog.

Maar in die weke wat volg, lyk Niel Cloete al minder na ’n gelukkige derduiwel. Altans, so lyk dit vir sy vrou wat hom deesdae byna net by sosiale okkasies sien. Ná so ’n okka­sie val hy vermoeid op die bed neer en slaap soos ’n dooie tot die volgende oggend wanneer hy hom weer inderhaas vir die dag se bedrywighede regmaak en verdwyn.

“Jy kan nie so voortgaan nie, Niel,” sê sy een oggend be­sorg.

Maar sy stem is ongeduldig soos dit dikwels deesdae die geval is: “Ek kan nie anders nie. Wanneer ’n mens kan oes, moet jy oes.”

Sy weet nie presies wat hy bedoel nie, maar vra: “En wanneer is die oes verby? Ons het nie meer ’n lewe saam nie, Niel. Daar is geen vreugde of gemeensaamheid meer tussen ons nie.”

“Dit sal op ’n dag rustiger gaan. Ek doen dit tog vir jou ook. Of dink jy alles wat jy hier om jou sien, val sommer soos manna uit die hemel neer?”

Sy swyg maar. Sy geïrriteerde houding maak haar net nog ongelukkiger.

Die volgende dag bars die bom.

Die naam Rock Trust staan groot op elke koerant se voorblad. Dis selfs hoofnuus oor die radio en televisie. Daar is groot fout met Rock Trust en die miljoene wat die publiek daarin belê het, is in gevaar – hulle kan hul geld verloor. Nie net die rykes word geraak nie, maar veral dié mense wat dit die minste kan bekostig, die afgetredenes en pensioentrekkers wat deur die hoë rentekoerse verlei is om die neseier wat ’n leeftyd lank vir die oudag bymekaargemaak is, ten beste te benut. Of so het hulle gedink … Maar die kans dat hulle gaan verloor, is baie goed. Dit is wat Wanya in die koerante lees en oor die televisie hoor.

Geskok en desperaat wil sy by haar man weet: “Niel, wat is aan die gang?”

“Hou maar jou neus hier uit, Wanya. Jy verstaan daar tog niks van nie.”

Ontredderd keer sy hom in die gang voor op pad deur toe. “Nee, ek verstaan niks van jou geldsake af nie, maar wat ek wel verstaan, is dat onskuldige mense, mense wat jou vertrou het, hul geld gaan verloor. Mense soos my pa. Hy het óók in jou Rock Trust belê. Die oes waarvan jy gepraat het . . Was dit toe al die tyd die oeste waaraan ánder mense geswoeg het, wat jý toe soos ’n dief gaan afmaak het?”

Hy staan bleek en gespanne voor haar … en lyk glad nie meer soos die man met wie sy ’n paar jaar gelede getrou het nie. Hy ís ook nie, besef sy toe hy haar ru wegdruk en bars laat hoor: “Man, ek het nie tyd vir jou sedepreke nie. My advokate wag vir my.”

Maar die hulp van die beste advokate in die land kan nie verhoed dat die dag aanbreek dat Niel Cloete in hegtenis geneem word vir bedrog nie. ’n Bedrag van meer as tweehonderd miljoen rand word genoem … Tweehonderd miljoen rand het skielik tussen neus en ore verdwyn. Die wyses skud hul koppe. Sal die mensdom dan nooit leer nie?

En skielik, soos met ’n towerslag, verander Wanya se daaglikse roetine so onherkenbaar dat haar verstand dit nie heeltemal verwerk kry nie. Ook Niel Cloete kom skielik in aanraking met dinge wat hy nooit geken het nie, nooit sou glo hy ooit sou ervaar nie. Soos om in sy luukse kantoor gekonfronteer te word deur die lang arm van die gereg. Om voor jou geskokte personeel tussen twee speurders uit te stap, bekendes in die hysbak raak te loop en te besef dat hulle weet wat aan die gebeur is. Om in ’n polisiekantoor soos net nog ’n landsburger behandel te word, beleef maar onpersoonlik. Die óú Niel Cloete het in sy luukse kantoor op die tiende verdieping agtergebly. Hiér is hy net nog ’n burger wat die wet oortree het. Soos die ou voor hom en die een ná hom, moet hy sy hande uitsteek vir die noodsaaklike vingerafdrukke, word hy na ’n sel gelei en die deur sonder seremonie agter hom gegrendel. Om hom sien hy ’n toneel wat hy geglo het sý oë nooit sal aanskou nie – ’n enkelbed met ’n dun sponsmatras en ’n bruin kombers daaroor. ’n Toiletbak van vlekvrye staal in die een hoek, ’n kassie langs die bed … kaal mure … en ’n deur met ’n opening in die middel waardeur oë jou vier-en-twintig uur van die dag kan dophou.

Hy is geregtig op regshulp, maar daar moet volgens vasgestelde riglyne gehandel word … So bring Niel Cloete sy eerste nag in ’n sel deur en Wanya slaap soos soveel kere tevore alleen in die groot huis in Sandton. Slaap … ? Nee, lê wakker en tel die lang nagure om.

Weer is dit hoofnuus in die media. Dit is immers hul taak om die publiek op die hoogte te hou. Duisende niksvermoedende mense het hul kosbare geldjies aan Niel Cloete toevertrou.

Die volgende oggend om halfnege word ’n miljoen rand aan borggeld betaal. Niel Cloete se paspoort word in veilige bewaring geneem. Die saak sal oor ’n maand voorkom; intussen is hy distriksgebonde en moet hy hom daagliks by die polisiekantoor aanmeld.

Man en vrou se oë ontmoet toe hy die huis binnestap. Op albei se gesigte lê die spore van ’n slapelose, kommervolle nag. Woordeloos, sonder ’n groet, stap hulle in teenoorgestelde rigtings – sy om die kombuis te gaan sê dat daar ontbyt vir meneer gemaak moet word en dat sy self niks wil hê nie; en hy slaapkamer toe om te gaan bad en te probeer om die nag in die sel van hom afgewas te kry.

Die telefoon lui en Alfred antwoord. Dis haar ma, kry Wanya die boodskap. Sy is bang om na die telefoon te stap. Hoewel sy weet dat hulle, soos die res van die land, bewus moet wees van wat aan die gang is, het sy nie die moed gehad om huis toe te bel nie. Maar nou wil haar ma met haar praat.

Dis pynlik. Sy sluk hard en dwing die woorde oor haar droë, koue lippe. “Dit gaan goed, Ma, dankie. Nee, alles is onder beheer. Nee, hy is terug by die huis. Hy is op borgtog uit. Moenie oor my bekommerd wees nie. Regtig.” Dan kom die vraag: “Ma, hoeveel het Pa belê? Was dit baie? Was dit ál jul spaargeld?”

Sy weet nie of sy die versekering wat sy kry, moet glo nie: “Moenie oor ons bekommerd wees nie. Ons kan dit hanteer. Ons het nog genoeg oor om van te lewe. Regtig, my kind, jy kan my maar glo. Jy … julle moet net sê as ons kan help. Wil jy nie maar ’n rukkie hierheen kom nie? Maar dan … jou plek is by jou man. Hy het jou nodig. Sterkte, my kind. Ons bid vir julle.”

In die weke wat volg, vind Wanya uit dat daar ander mense is wat nie na bid voel nie. Dis sý wat die telefoonoproepe ontvang en die spit moet afbyt terwyl Niel en sy advokate ure lank in sy studeerkamer agter geslote deure kopkrap en beraadslaag. Hy kom net uit daardie vertrek wanneer hy hom, soos hy verplig word om elke dag te doen, by die polisiekantoor moet gaan aanmeld en wanneer hy saans gaan slaap, of liewer snags … en dit het al gebeur dat hy sommer op die bank in die studeerkamer aan die slaap raak. Die telefoon op sy lessenaar is ontkoppel en dis Wanya wat die telefoon moet beantwoord, wat mense hoor huil, hoor vloek, hoor dreig. Later word Alfred aangesê om dit te beantwoord, met die opdrag om te sê dat niemand tuis is nie. Maar dit weerhou sommige nie daarvan om selfs teenoor die swart man hul paniek oor hul geld in geen onseker taal uit te spreek nie. Later besluit Alfred dat dit miskien maar beter sal wees om die gehoorbuis skuins op die mik terug te sit.

Pat Oberholzer en haar ander vriendinne se besoeke het soos water in ’n droë sloot opgedroog … en so ook die talle uitnodigings wat hulle in die verlede kwalik kon nakom. Geen tennis of brug- en teepartytjies meer nie; geen etes by ander van hul sosiale stand nie; geen glinsterdinees meer in vyfsterhotelle nie. Die groot huis in Sandton word stil – ’n kerker van eensaamheid en skande en trane.

Maar by die tennisbaan en brugpartytjies, by die etes en onthale gons dit … en daar word net oor een ding gepraat … Rock Trust en die ellende wat dit vir duisende mense inhou. Nie dat die lede van hierdie uitgelese groep regtig in ellende kan verkeer nie, al het van hulle ook groot bedrae geld belê. Soos die Oberholzers byvoorbeeld.

Pat vertel aan almal wat wil luister: “Charl het wel ’n paar miljoen rand belê, maar dit sal ons nie breek nie. Ons kan dit vat. Maar wat ’n skreiende skande is, is dat daar talle mense is wat sonder ’n enkele sent sit. Hulle wat oornag niks het om van te lewe nie. En weet julle wat? Amper was Charl ook in die sop. Niel wou hom knaend betrek by die direksie, maar ek het gekeer. Ek het gesê Charl het genoeg ysters in die vuur. Gelukkig tog, anders was ons ook nou kniediep in die gemors.”

“Hoe verwerk Wanya dit? Wanneer laas het jy haar gesien? Julle is mos groot vriendinne.”

“Ek het haar nog nie gesien nie. Ek kan dit maar reguit sê: Ek gaan nie saam met Wanya sit en huil nie. Dit sal die opperste valsheid wees. Sy het die voordeel van al daardie gesteelde geld terdeë geniet.”

“Pat! Hoe kan jy so iets sê! Die hofsaak kom eers aanstaande week op die rol. Paul sê dit kan wees dat dit swak bestuur was, of swak oordeel aan Niel se kant. Dat hy die geld belê het in projekte wat nie so winsgewend was as wat hy verwag het nie.”

Maar Pat snork minagtend en in die stilligheid is daar eenstemmigheid. Waar die geld ook al heen is, of dit in ’n private bankrekening in ’n Switserse bank is of bloot verdwyn het as gevolg van swak besteding en beplanning, mense het groot finansiële verliese gely en Niel Cloete is daarvoor verantwoordelik. Daar is ’n hele paar vroue wat nie sal erken dat hul mans hulle gewaarsku het dat die gordel voortaan stywer ingetrek sal moet word nie. Min mense kan sessyferbedrae summier verloor sonder om dit aan eie lyf te voel. Oorsese reise moet gekanselleer word, so ook die nuwe motor, en daardie aandrok vir die volgende okkasie moet maar terug na madame Veronique.

Natuurlik word daar ook hard in madame Veronique se eksklusiewe boetiek gegis oor wat met die Cloetes gebeur het.

“Haai, foei tog, ek kry mevrou Cloete so jammer. Sy was baie gaaf daardie dag met die aandrok, en meneer Cloete ook. Hy het my so ’n groot fooi gegee.”

Maar mevrou Duvenhage het min simpatie. “Hmpf! Met gesteelde geld kan ek ook groot fooie uitdeel.”

“Haai, mevrou Duvenhage!”

Madame het ook ’n mening: “Sy het gelyk, Annatjie. Daar is miljoene rande verduister … en dit het aan ander mense behoort.”

Annatjie lyk bekommerd. “Nou laat julle my baie sleg voel. Moet ek nie maar die geld teruggee nie? Dalk het hulle dit nou bitter nodig.”

“Moenie verspot wees nie, kind!” lag madame. “Jý het niks gesteel nie. Jy het eerlik gewerk daarvoor. En daardie paar rand sal aan die Cloetes se basse geen verskil maak nie. Ek dink nie al gee jy hulle ook twee miljoen rand, sal dit die geringste verskil maak nie. En amper het ek ook geld belê. Gelukkig was my spaargeld nog vas in daardie stadium, anders was ek tot my verdriet vandag veel armer.”

Soos altyd draai Annatjie daardie middag ná werk weer eerste by Sonneblomstraat 7 in. Met haar koppie koffie voor haar, bring sy weer die nuus van die dag ter sprake. Tant Bes se radio speel pal in die kombuis en sy is op die hoogte van sake.

“Ja, Annatjie, toe jy my vertel het dat die vrou sommer so op ’n ingewing duur ingevoerde rokke koop, het ek my bedenkinge gehad. Die mense wat dink fonteintjies kan nie opdroog nie, maak ’n fatale fout … ” Sy kyk die jong meisie skerp aan. “Spaar jy nog elke maand gereeld, Annatjie?”

“Ja, tant Bes. Elke maand sit ek weg. Ek spaar vir ’n deposito op ’n woonstel wat nader aan my werk is. Madame Veronique sal my help om ’n lening te kry.”

Tant Bes frons kwaai. “Ek hou niks van ’n afbetalery nie. Dis hoe mense in die skuld beland. Jy koop kontant of jy bly daarsonder. En hoekom wil jy skielik uit Jan Bom padgee? Is ons nie meer goed genoeg vir jou nie?”

“Haai, tant Bes, hoe kan tannie nou so praat? Ek wil maar net ’n bietjie nader aan die werk wees, dis al. Ek wil nie regtig uit Jan Bom padgee nie. Hier ken ek almal en almal ken my. In my woonstel sal dit seker baie alleen wees.”

“Ja, en dis wanneer jy verkeerde geselskap gaan soek. Bly jy maar net hier en spaar elke maand sodat jy niemand in die oë hoef te kyk nie.”

“Tant Bes is seker reg. Maar dan sal ek darem baie graag vir my ’n motor wil aanskaf,” laat sy hunkerend hoor.

Tant Bes is dadelik by met die regte raad: “Daarmee skort niks nie, maar jy spaar totdat jy genoeg het en koop dit kontant. Jy koop nie goed op skuld nie, Annatjie. Jou pa is nie meer hier om jou op die spoor te hou nie. Jy gaan nie dinge doen wat jy voor jou siel weet jou pa nie sou goedkeur nie.”

“Nee, tant Bes. Natuurlik nie, tant Bes. Dit sal dan maar ’n tweedehandse motor wees. Ek sal horingoud wees voordat ek genoeg gespaar het om ’n nuwe motor kontant te koop. Maar ek stem saam. Skuld is ’n nare ding. Om bokant jou vuurmaakplek te lewe, is om jouself op te hang. Kyk hoe lyk dit vandag by die Cloetes.” In haar verbeelding sien sy weer die huis en die swembad en die meubels en die pragtige kandelare. “Dit help nie jy het alles wat geld kan koop, maar jy kan nie slaap nie … ”

Tant Bes glimlag vir die ernstige gesiggie. “Toemaar, my kind. Dis geen skande om eerlik arm te wees nie. Dis ’n skande om oneerlik ryk te wees. Armoede het ook sy pluspunte, my kind. Dink net hoeveel mense rol vannag onrustig in hul beddens rond oor hierdie Rock Trust-ding. Maar nie een van Jan Bom se mense verloor ’n sekonde slaap daaroor nie!”

Annatjie glimlag, knik. “Dis waar. Ek dink Jan Bom se mense is van dié wat die rustigste slaap, want hulle het niks wat oorvloedig of ekstra is nie.”

“Juis. Maar dit is seker ’n vreeslike gevoel om te dink jy het meer as genoeg en een oggend word jy wakker en kom tot die besef dat jy skaars genoeg het om van te leef. Hou jy maar kop, kind. Spaar maar waar jy kan, maar moet tog nie vrekkerig wees nie. Jy moet altyd iets hê om uit te deel aan dié wat dit nodiger het as jy.”

“Dit laat my dink … Ek wil Pa se elektriese kombers maar vir Nellie gee. Ek is nog jonk genoeg om daarsonder klaar te kom. Die arme Nellie kla so in die winter oor haar been.”

Tant Bes knik, kyk haar goedkeurend aan. “Dit sal vir haar baie beteken, Annatjie. Sy sal baie bly wees.”

Tant Bes kyk haar oudergewoonte agterna toe sy aanstap huis toe. Glimlaggend sê sy by haarself: “Jý is die ryk een, Annatjie, nie mevrou Cloete nie. Jý het die rykdom wat die Cloetes van Sandton nog nooit gesmaak het nie. Jý is die miljoenêr, nie hulle nie.”

Wanya besef in die maande wat volg dat sy beslis nie meer miljoenêrstatus het nie. Die dag breek aan dat Niel Cloete gevonnis word: agt jaar tronkstraf waarvan die helfte opgeskort is vir vyf jaar. Niel se hoofadvokaat verduidelik aan Wanya wat die vonnis behels.

“Dit beteken dat hy vier jaar effektiewe gevangenisstraf moet uitdien.”

“Niel moet vir vier jaar … tronk toe?”

Advokaat Pelzer se oë rus simpatiek op die bleek gesig wat die afgelope tyd duidelik vermaer het. Hy wonder of sy besef die ergste lê nog voor. Hy verduidelik vinnig verder: “Hy is verplig om een derde van die vier jaar te sit. Daarna kan ons aansoek doen om parool. Hy sal dus ’n bietjie langer as sestien maande … e … weg wees. Dit is darem nie só lank nie. Alles sal van Niel self afhang. Hulle sal nie parool weier as hy hom goed gedra nie.”

Haar kop sak. Soos ’n kind in ’n koshuis, dink sy dof. Kan ’n mens sterf van skaamte en skande?

“Het jy al gedink waarheen jy wil gaan?”

Sy kyk hom onbegrypend aan.

Hy voel skielik ongemaklik. Die vrou besef klaarblyklik nog nie ten volle wat haar getref het nie. “Die huis en sy inhoud word verkoop om soveel moontlik te verhaal om die skuldeisers te vergoed. In hierdie stadium bereken ons dit op so twintig sent in die rand.”

“Jy bedoel … álles word verkoop? My huis … alles?”

“Alles, Wanya. Ook jou nuwe motor. Net jou heel persoonlike besittings sal jy kan saamneem waarheen jy ook al gaan. Wat is jou planne?”

Daar is geen planne nie, wil sy sê. Watse planne kan ’n mens hê wat een oggend opstaan en besef hy of sy besit absoluut niks nie? “Ekke … ek sal seker na my ma-hulle toe gaan.”

Hy knik. “Dit sal verstandig wees. Niel sal dan ook meer gerus voel oor jou.” Die kyk in haar oë laat hom nadink. Hy sug innerlik. Ja, dis ’n bietjie laat om nóú oor sy vrou en haar welsyn bekommerd te raak. Hy moes aan haar gedink het toe hy sy slim planne gesit en beraam het. “Daar is ’n bietjie kontant tot jou beskikking. Jy sal nie meer kan leef soos jy daaraan gewoond is nie, Wanya, maar jy sal met goeie berekening kop bo water kan hou. Ek het nog nooit gevra … Het jy opleiding in enige rigting? Jy sal daaraan moet dink om te gaan werk. Nie net vir die inkomste nie, maar ook om jou gedagtes besig te hou terwyl Niel … nie hier is nie.”

“Ek was ’n model toe ek Niel ontmoet het.” Sy kyk vlugtig na die spieël teen die muur agter hom. Haar mond trek wrang. Soos sy nou lyk … Sy bring haar blik terug na syne, trek haar skouers agteroor. “Ek sal regkom, dankie.”

Hy staan op. “Jy het my telefoonnommer. Bel my asseblief as jy dit nodig vind.”

Toe sy terugkom van die voordeur, staan Thomas voor haar. Hy lyk verleë. Hy wil maar net seker maak … gaan madame hom behou of … ? Natuurlik! Haar personeel weet wat aangaan. Soms weet hulle nog voor jou, soos dit ook nou blyk. Advokaat Pelzer het haar maar pas ingelig oor haar finansiële situasie, maar Thomas weet blykbaar reeds dat sy hom nie meer kan bekostig nie.

“Ek is bevrees ek kan jou nie behou nie, Thomas. Maar ek sal jou ’n goeie getuigskrif gee. Jy sal glad nie sukkel om … ”

“Mevrou Oberholzer het my reeds gevra of ek nie na haar toe sal kom nie. Ek het gesê ek sal maar eers by madame moet hoor, dan sal ek haar laat weet.”

Sy behou haar selfbeheersing, knik net. “Jy kan haar maar laat weet sy kan jou kry net wanneer dit haar en jou pas. En Alfred kan ook maar intussen uitkyk … ”

“Hy het reeds werk gekry, madame. Hy begin volgende maand as hoofkelner by die Park Lane Hotel.”

Dis nie ék wat húlle die trekpas gee nie. Dis hulle wat my in die pad steek, dink sy met ’n groeiende histerie in haar. Maar haar kalm, byna doodse stem verraai niks nie. “Dan is dit goed so, Thomas.”

Haar hand huiwer op die telefoon. Sy wil nie, maar sy het geen keuse nie. Sy het nêrens om heen te gaan nie. Dis net by haar ouers waar daar vir haar skuiling is tot tyd en wyl sy uit hierdie chaos weer rigting gekry het.

Maar ook hier het daar onverwags komplikasies ingetree.

“Ek wou jou al gebel het, maar ek was so besig met inpak. Ek … ”

“Inpak?”

“Ja, my kind. Thys het besluit dis beter as ons nader aan hom kom bly. Hy het vir ons plek in ’n tehuis vir bejaardes in die Kaap gekry.”

“ ’n Tehuis vir bejaardes?” Dis nie moontlik nie! Haar pa sal liewer sterf voordat hy na ’n oumensplek gaan! “Maar hoekom, Ma? Julle het nog altyd gesê julle bly in jul huis totdat julle die dag doodgaan.”

Haar ma is vaag met die verduideliking, en skielik dring dit tot haar deur wat werklik aan die gang is. Haar pa se belegging in Rock Trust het veroorsaak dat hy sy huis moes verkoop! Haar broer moet nou vir hulle sorg, vir hulle ’n dak oor die kop soek. Watter bitter pil moet dit nie vir hulle wees nie, vir hierdie twee mense wat nog altyd so trots was op hul onafhanklikheid! En dis hul eie skoonseun wat hulle dit aangedoen het … vir hulle en duisende ander soos hulle. Vir hulle is daar darem nog ’n seun wat kan omsien. Vir hoeveel is daar niemand nie? Haar stem wurg in haar keel.

“Ek weet nie of ek sal kan kom groet nie, Ma. Ek is self baie besig op die oomblik. Moet ook inpak … ” Sy kan nie vir haar ma sê sy sit van môre af sonder ’n motor nie! Op haar ma se vraag antwoord sy sommer blindelings: “Ek kry ’n woonstel. Ek gaan nie alleen in hierdie groot huis bly nie.” Sy kan haar mos nie vertel sy sit van môre af op straat nie! “Nee, Ma, alles is reg. Moet asseblief nie oor my bekommerd wees nie. Ek kan nie nou hier weg nie. Daar is Niel … Ek moet hom besoek … ” Ja, sy sal haar man seker soms in die tronk kan besoek … moet besoek.

Haar ma beaam haar gedagtes: “Dis nou die tyd dat jy by jou man moet staan, Wanya. Jy is reg. Jy kan nie nou daar weg nie. Maar sodra jy kan, kom kuier vir ons. Thys … ”

Sy hoor die aarseling in haar ma se stem, weet sonder dat sy ingelig word. Haar broer is woedend. Die feit dat sy nog niks van hom gehoor het nie, het haar dit reeds vertel. Hy is bitter teenoor Niel … soos so baie ander mense … en hoe durf sy hom verkwalik?

Heer, waar dan heen? wonder sy vaag en stom toe sy van die telefoon af wegdraai. Van Niel se familie is daar geen hulp te wagte nie. Sy ouers is reeds dood, en hy het die afgelope jare, namate hy die suksesleer geklim het, vervreem geraak van sy ander familie. Niel, besef sy nou, het die afgelope jare net een ding voor hom gesien: geld. Niks anders het meer saak gemaak nie. Nie sy vrou nie, nie sy familie nie, niks nie … nie eens eerlikheid en betroubaarheid nie.

Dit word donker en baie stil om haar. Sy gaan sit agter die lessenaar in Niel se studeerkamer. Hier het hy seker sy planne beraam … en in die proses ook sy eie vrou en homself verwoes. Sy staan op, stap na die drankkabinet. Sy kies ’n bottel tussen die wye verskeidenheid, tel ’n glas op. Waarheen moet sy gaan? vra sy weer tevergeefs toe sy dit na haar mond bring. Wat gaan van my word? wonder sy toe sy die bottel weer omkeer.

Haar blik dwaal deur die vertrek, kyk met nuwe oë na alles. Duur goed. Hoe het die een vrou histeries oor die telefoon in haar oor gegil? “Die kos uit my en my kinders se monde geneem!” En ’n ander, bewerige ou stem vol radelose kommer. “Die dak oor ons koppe weggevat. Ons is in die sewentig. Ons sit op straat!”

Sy keer die bottel weer om, maar die stemme skreeu al harder … en die duur meubels begin al nader na haar skuif. Sy moet wegkom hier! Hulle gaan haar vasdruk, versmoor, dooddruk! Sy moet uitkom, wegkom!

Haar motor se ligte gooi ’n ligbaan met die rylaan af. Die bande skreeu toe sy by die straat indraai, maar sy hoor dit nie. Dis net stemme in haar ore … deurmekaar stemme wat skree en huil en skel.

En dan, skielik, is daar ’n harde stamp, die geluid van glasskerwe, ’n gil op die agtergrond … en weer stemme.

“Ek het gesien hoe sy soos ’n besetene deur die rooi lig jaag en die kind tref!”

“Hy is dood. Dit lyk of sy nek gebreek is.”

Sy klim uit, staan langs die motor, hou daaraan vas, luister en kyk soos iemand wat nie weet waaroor die bohaai gaan nie.

“Sy is dronk! Kyk hoe hou sy vas!”

Daar beweeg iets blinks voor haar gesigsveld, en ’n streng stem ruk haar tot haar sinne: “Wat is u naam, dame?”

“Wanya.”

“U van, asseblief.”

“Cloete.”

Daar is ’n beroering onder die geskokte omstanders.

“Ek wou sê jy lyk bekend! Dis daardie bedrogman, Niel Cloete, se vrou!” sê ’n vrou opgewonde en skril.

“Mevrou, kan u onthou wat gebeur het?”

Wanya skud haar kop heen en weer. Sy was in die studeerkamer … en die meubels het meedoënloos na haar toe begin aanskuif asof hulle haar wou dooddruk … “Kom saam, asseblief.”

Die wêreld draai om haar en alles is dof en onwerklik.

In die aanklagkantoor is die bevel kortaf en saaklik: “Ons sal vanaand niks met haar uitgerig kry nie. Sluit haar maar toe.”

Die jonger man se oë rek. “Adjudant … ?”

Die ouer man kyk hom bedaard aan. “Die feit dat sy dié mevrou Cloete van Sandton is, maak geen verskil nie. Sy is ’n dronk vrou wat ’n kind doodgery het. Dis al. Vat haar sel toe. Ek stuur die dokter.”

Die distriksgeneesheer is dit eens met die senior polisie­man. Wanya Cloete makeer fisiek niks nie. Sy is bloot dronk.

“Dan slaap sy dit maar vannag af. Ek dink nie dit maak eintlik op hierdie oomblik vir haar saak waar sy haar roes uitslaap nie. Môre is nog ’n dag.”

Ena Murray Omnibus 40

Подняться наверх