Читать книгу Ena Murray Omnibus 40 - Ena Murray - Страница 7
4
ОглавлениеMaar in die weke wat volg, gaan dit nie altyd so maklik nie. Soms oorval die woede jeens Niel haar. Dan huil sy ontredderd oor die onmoontlike situasie waarin hy haar laat beland het. Meer dikwels is dit trane van vernedering wat sy met geweld moet terugsluk. En snags gee sy in swakke menslikheid toe aan die trane van selfbejammering en eensaamheid.
Stadig maar seker word sy egter aan hierdie nuwe wêreld gewoond, is dit nie meer so ’n skrikwekkende gedagte om soggens die bus te haal nie. Sy kan daardie eerste rit in die munisipale bus net nie vergeet nie. Sy, wat gewoond was om met haar Jaguar deur Johannesburg se strate te ry, moet nou meedoen aan die stormloop om ’n sitplek te kry, en as dit haar nie geluk nie, staande vasklou wanneer die bus rukkerig en met remme wat irriterend skree, voortskommel. Veral as sy op die tweede bus ook nie sitplek kry nie, ondervind sy ’n bitterheid jeens haar man wat haar bang maak. En eendag gaan Niel weer uit die tronk kom … Wat dan?
Wanneer sy hierdie punt bereik, skram sy doelbewus weg van die antwoord. Daardie dag lê nog ver in die toekoms. Intussen is daar elke dag genoeg, soms te veel, om te verwerk en te bemeester.
Maar tussen al die aanpassings en gesukkel deur, gebeur daar soms iets wat haar vertel dat daar ondanks al die swaarkry en ellende wat sy self beleef en daagliks om haar in Jan Hofmeyr sien, ook mooi dinge in die lewe verskuil lê. Kosbare oomblikke wat soos edelgesteentes in ’n donker spelonk blink en wat haar vreemde nuwe lewe tog die moeite werd maak. Soos die dag toe die bus weer stampvol was en ’n ou man opgestaan het om sy sitplek vir haar aan te bied; soos die vreugde in klein Pikkie se oë toe sy hom die tekenpapier en kleurpotlode gegee het; soos die dankbaarheid in die oë van mense wat nie weet waar die volgende stukkie kos vandaan moet kom as Sonneblomstraat 7 se deure die dag moet sluit nie.
Wat egter die diepste indruk op haar maak, is tant Bes se onbaatsugtige liefdesdiens. Die voorbeeld wat sy in hierdie vrou vind, vul haar met groot skaamte en skuld. Self ’n vrou wat dit aan aardse goed nie ruim het nie, self ’n bewoner van een van die baksteenhuisies van Jan Bom, self nie so gesond nie, weerhou dit haar nie om ’n helpende hand na haar medemens uit te steek nie. Ongeag haar eie lewensomstandighede, gaan tant Bes getrou voort om soos ’n Moeder Teresa in haar eie klein wêreld te toon wat en hoe ’n Christen behoort te wees.
Een middag word tant Bes sag maar beslis op ’n kombuisstoel neergedruk. “Nou gaan tant Bes sit. Ék sal die skottelgoed was.”
“Maar, hartjie, jy sal dit nooit alleen kan bemeester nie. Dis nou jammer dat Vitorie vandag kliniek toe moet gaan, juis toe hier ’n paar ekstra monde was. Ek sal Roelof van die nuwe intrekkers moet vertel.”
“Tannie sit doodstil daar en drink ’n koppie tee en laat daardie voete en bene rus. Ek weet nie hoe hou tannie dit nie. Van soggens halfvier so pal op die bene. En dis jaarin en jaaruit. Hoe lank nou al?”
Tant Bes glimlag, laat haar maar die bietjie bederf welgeval, ontvang dankbaar die koppie tee. “Ek weet nou self nie meer presies nie. Laat ek nou dink … Die ding het begin toe pastoor De Koker op ’n dag vir my gevra het of ek nie ’n sopkombuis vir die mense van Jan Bom sal begin nie. Ja, dit is nou net mooi twintig jaar gelede.”
Wanya kyk ongelowig van die wasbak af op. “Só lank? Twintig jaar!”
Tant Bes knik. “Ja. Maar dit voel nie so lank nie. Later het ek besef ’n sopkombuis is nie genoeg nie. Al meer mense van Jan Bom het begin honger ly.” Die oë staar ernstig voor haar uit. “Jy weet, kind, in die depressiejare het ons land met ’n groot armblankevraagstuk gesit. Die nood was groot onder die mense. Daar was nie werk nie en ook nie geld nie. Ek was toe nog baie klein, maar ek onthou die honger … daar was so selde iets om te eet.” Wanya luister verslae. “ ’n Mens vergeet dit nooit nie. Vandag sit ons land met baie vraagstukke en probleme … en een daarvan is dat daar weer ’n armblankevraagstuk is. Ek weet daar is baie mense wat honger ly vandag – bruin, swart én wit. En ek weet ook ek kan nie die hele wêreld se hongerlydendes kos gee nie, maar ek kan Jan Bom se armblankes help. Ek kan hulle kos gee, want ek weet self wat honger ly is.”
Sonder dat sy dit besef, vlieg Wanya se hande ervare deur die skottelgoedwater. “Maar ek weet nie hoe hóú tannie dit nie!”
Tant Bes glimlag. “ ’n Mens hou. Daar is altyd genade. En daar is altyd beloning. Jy werk nie verniet nie.”
“Maar Roelof het gesê tant Bes doen hierdie werk sonder vergoeding.”
“Ja. Ek kry nie ’n salaris nie. In ’n stadium wou die kerke so iets instel, maar ek het geweier. Nee, ek kry my betaling van die mense van Jan Bom self. Ek kry my beloning op beter maniere.” Sy stoot glimlaggend ’n beker vorentoe waarin ’n paar lusernblommetjies en rooi malvas staan. “Hetta het vandag hierdie vir my gebring. Ek wonder waar op aarde in Jan Bom sy die lusernblommetjies gekry het. Dís my beloning, Wanya. En die kinders wat hul rapporte vir my kom wys nog voordat hul ouers dit gesien het.”
Wanya kyk haar stil aan. “Of die prentjie wat Pikkie geteken het.”
Hulle glimlag teenoor mekaar en tant Bes knik. “Dis reg, my kind. Watter geldelike vergoeding kan daarmee vergelyk? Maar wag, ek moet nou eers vir Roelof gaan bel om hom te sê van die nuwe mense wat hier ingetrek het.”
Wanya vee met die rugkant van haar hand oor haar voorkop en gaan weer ywerig voort met haar taak. Tant Bes … ’n heilige in ’n grys rok en pienk pantoffels.
Toe tant Bes terugkeer van die telefoon, het sy ’n boodskap vir Wanya. “Roelof sê jy hoef nie vanmiddag die bus te haal nie. Hy kom sien die nuwe mense en dan sal hy jou sommer hier kom oplaai. Maar dit kan miskien eers ná ses wees.”
Wanya knik. “Dit maak nie saak nie. Daar wag niks vir my by die woonstel nie. Dan het ek genoeg tyd om alles hier op te ruim.”
Tant Bes glimlag, beskou die bedrywige hande. Toe Wanya weke gelede hier aangekom het, het sy skaars geweet hoe om ’n bord te was of ’n wortel te skraap. Vandag hoef sy Kruppel Nellie haar vaardigheid glad nie meer te beny nie. Wanya Cloete het hierdie afgelope weke reeds ’n ver pad gekom, hoewel sy dit waarskynlik self nie besef nie.
“Ek hoop Annatjie kom vandag vroeg huis toe, dan kan jy haar ook ontmoet. Jy kan haar sommer vra om vir jou ’n paar gewone rokkies te maak. Al dra jy ’n overall bo-oor, is dit darem ’n sonde om met sulke deftige klere voor ’n opwasbak te staan.”
Wanya het al baie van Annatjie gehoor, maar dis eers toe laasgenoemde kort ná ses by tant Bes ingestap kom dat sy besef sy het hierdie Annatjie al iewers gesien.
Dit is nie vir Annatjie snaaks om die vrou van Sandton in Sonneblomstraat se kombuis aan te tref nie. Tant Bes het haar al die eerste middag nadat Wanya hier kom werk het, van haar vertel. Annatjie onthou nou hoe geskok sy daardie middag was. Om te dink die deftige vrou vir wie sy die dure aandrok reggemaak het, werk hiér in tant Bes se kombuis! Maar in die weke wat verby is, was tant Bes se verslae net positief. Natuurlik het sy haar vingers aanvanklik byna flenters gesny en gelukkig gebruik hulle plastiekborde anders was die meeste al stukkend. Maar deesdae is Wanya al byna net so ’n ekspert met die skillery soos Nellie, byna net so ’n ekspert met die skottelgoed soos Vitorie, en tant Bes kan haar al vertrou om nie te veel sout of suiker by te gooi nie en toe te sien dat die kos nie te waterig is nie. Net gistermiddag nog het tant Bes trots laat hoor: “Jy sal verbaas wees om te sien hoe vlytig die ryk vrou van Sandton in ons kombuis geraak het!”
Vir Wanya is dit egter weer ’n ontsettend vernederende oomblik wat sy moet deurleef. Een van daardie pynlike oomblikke wanneer sy wens die grond moet onder haar oopgaan en haar insluk. Want dis madame Veronique se assistentjie wat voor haar staan … en die herinnering aan hul laaste ontmoeting laat ’n verslae pyn in haar agter. Hoe lekker moet hierdie meisie nie nou in haar mou lag nie!
Maar Annatjie lag nie in haar mou nie. Sy het lewensinsig in die huisies van Jan Bom geleer. Hier huil jy soms vir iemand, maar jy lag nie vir hom nie. Hier is baie mense in Jan Bom wat eenmaal bo was en toe het die wiel gedraai. Dis nie net ongeleerdes en ongeletterdes wat smiddae ’n bord kos uit die genadehand van tant Bes kom ontvang nie. Onder hulle is mense wat eens aansien en status geniet het, mense wat groot salarisse verdien het, selfs gegradueerde mense wat êrens op die verwoestende pad van inflasie en resessie en werkloosheid op die uitdraaipad na Jan Hofmeyr beland het.
Ook vandag word die helpende hand, so eie aan hierdie woonbuurt, spontaan uitgereik ná tant Bes die versoek gerig het: Sien Annatjie nie kans om vir Wanya ’n paar eenvoudige drarokkies te maak nie?
“Natuurlik! Kry die materiaal, en ek sal dit op ’n Saterdagmiddag vir jou maak.”
Met oë wat blink van diepe verleentheid, kan Wanya net knik. Hierdie keer sal daar geen fooitjie ter sprake wees nie.
Toe Roelof opdaag, tref hy die drie vroue al geselsend om die kombuistafel aan. Hy bestudeer veral die een gesig voordat hulle hom opmerk. Sy lyk heel anders as die vrou wat hy die eerste dag hier in Sonneblomstraat afgelaai het. Hy twyfel of sy self agtergekom het watter groot verandering sy ondergaan het. Daar het ’n rustige kalmte, ’n soort vrede by haar ingetree en hy besef dat dit nie sonder trane en pyn gebeur het nie.
Hy is oorbewus van die geweldige aanpassings wat die ryk vrou moes maak om by hierdie nuwe lewe in te skakel en om al die vreemde dinge wat oor haar pad gekom het, te hanteer. En dikwels wou sy hart vermurwe wanneer hy sien hoe swaar en hoe seer sy kry, maar hy het met die wysheid van ervaring geweet dat hy dit nie vir haar makliker durf maak nie. Hoe gouer sy aanvaar dat die lewe uit die harde werklikheid bestaan, hoe makliker gaan sy haar aanpas. Want haar lewe van weelde en gemak is vir altyd verby.
Sonder dat sy daarvan bewus was, was sy oog gedurig op haar. Nie dat hy haar dopgehou het omdat hy haar nie vertrou nie, maar om ’n helpende hand uit te steek wanneer die vrag te swaar word. Hy weet dat dit vir die vrou met die Jaguar ’n geweldige beproewing was om daardie eerste oggend die bus te haal. Maar sy moes daardeur. Op ’n dag het dit gereën en die wind was guur toe hy by die bushalte verbygery het. Hy het haar daar in die ry sien staan en sy hart het week geword. Maar hy het verbygery. Nee, sy moet leer om net ’n gewone mens te wees en alles wat op haar pad kom, te aanvaar, te hanteer en te verwerk. Só sal sy bo uitkom … en Wanya Cloete moet en sal bo uitkom, dit het hy daardie eerste dag dat sy voor hom gestaan het stilswyend aan homself beloof.
Maar vandag het hy ’n grondige verskoning om haar terug te neem woonstel toe en hy ervaar ’n vreugde in hom wat hy moet erken ’n bietjie buitensporig is. Hy maak homself wys dit is maar net omdat sy sy verantwoordelikheid is en omdat hy goeie nuus vir haar het.
Hy deel haar dit ook mee op pad huis toe, en die dankbaarheid en verligting in haar oë is beloning genoeg. Daar is begrip in sy hart toe hy sag sê: “Dit was vir jou ’n baie groot beproewing, hierdie bywoning van die kursus teen drankverslawing, nie waar nie?”
Toe sy net stom knik, lê hy sy hand vlugtig op hare. Nadat die eerste skok oor waar sy moet bly en waar sy moet werk, verby was, het daar nooit ’n klag oor haar lippe gekom nie. Hy weet ook dat sy elke keer ineen kon krimp van vernedering wanneer sy die kursus moes bywoon. Hy kan hom voorstel hoe sy moes voel met al die oë op haar, want om ’n gewone mens te wees wat dronk agter ’n stuurwiel is, is iets anders as wanneer jy ’n gesiene en skatryk vrou is. En dit terwyl sy geweet het dat sy nie hierdie kursus nodig het nie. Maar dis nou verby en hy voel self dankbaar daaroor.
Hy gee haar hand ’n drukkie. “Ek is trots op jou, Wanya. Moenie dink ek weet nie dat jy deur ’n baie moeilike tyd is nie, maar jy het jou waardig gedra.” Hy glimlag. “En ek dink jy sal erken, noudat jy daarop kan terugkyk, dat dit nie só vreeslik was as wat jy jou dit voorgestel het nie, of hoe?”
Sy glimlag terug. “Daardie eerste drie weke … was erg. Baie erg. Maar nou … ” Sy lag saggies … en dis die eerste keer dat hy haar hoor lag en dis vir hom die mooiste klank wat hy in ’n baie lang tyd gehoor het. “Ek begin my vonnis geniet. Of is ek nie veronderstel om dit te geniet nie? Dis mos eintlik ’n straf.”
Hy skud sy kop glimlaggend. “Jy weet nie hoe bly dit my hart maak om jou dit te hoor sê nie, Wanya. En jy is verkeerd. Die hoofdoel van ’n vonnis is nie om te straf nie. Dis om te help. Hoe onmoontlik dit ook al mag klink. Het jou vonnis jou nie baie gehelp nie? Gehelp om die lewe meer in perspektief te kry nie? Geleer om dinge raak te sien wat jy nooit voorheen raakgesien het nie? Jou dalk gehelp om die kaf van die koring te skei nie?”
Hy hou stil voor die woonstelblok en sy kyk hom dankbaar aan. “Ja, dit is so. Ek is baie dankbaar dat ek hierdie vonnis gekry het.” Haar oë word weer ernstig. “Maar daar is iets wat ek nie kan vergeet nie. Iemand wat ek die res van my lewe nooit sal kan vergeet nie. Iemand … ”
“Maar natuurlik sal en kan jy hom nie vergeet nie. ’n Mens hou mos nie sommer op om iemand lief te hê nie, al kry jy hoe seer.”
“Van wie praat jy?”
“Van jou man, natuurlik. Of was dit nie na hom wat jy verwys het nie?”
Haar ooglede val vinnig. Niel … Dis met ’n skok dat sy besef dat Niel net ’n vae skim in haar herinneringsveld is. Sy kyk onwillig op. Hy het gesê jy hou nie op met liefhê net omdat jy baie seergekry het nie. Het sy Niel nog lief? wonder sy half verdwaas. As jy iemand liefhet, vergeet jy daardie persoon tog nie. En sy het Niel amper vergeet … Hy sien die ontsteltenis in haar oë en frons, sê vinnig: “As jy my gaan nooi vir ’n koppie koffie sal ek beslis nie nee sê nie.”
Sy ruk haar gedagtes weg van die onaangename onderwerp en sê vinnig: “Dan kan jy kom koffie drink. Daar is nog iets wat ek wil vra, asseblief.”
In die kombuisie maak sy koffie terwyl hy teen die deurkosyn aanleun. Hy kyk haar peinsend aan en hoewel hy twyfel of hy op die regte spoor is, sê hy tog: “Ek het gewonder wanneer jy gaan vra. Ek kan dit vir jou reël. Hy is geregtig op besoeke.”
Sy hou haar besig met die koppies. Hy is op ’n dwaalspoor en sy weet nie hoe om hom reg te help nie. Sy voel skielik in ’n hoek gedryf.
Hy kom langs haar staan, kyk ondersoekend op haar af. “Dis tog wat jy wou vra, dan nie? Wanneer jy jou man kan gaan besoek.”
Haar keelspiere trek styf en sy sluk swaar. Dan kyk sy pleitend op. “Móét ek?”
Hy lyk ’n oomblik peinsend en antwoord versigtig: “Dit is nie ’n moet nie. Maar ek het gedink jy sal hom graag wil sien.”
Sy vee met haar hand oor haar oë. “Ek … weet nie … ”
Hy roer sy koffie om en om. “Dis jou keuse, Wanya, maar miskien sal dit goed wees as jy ’n slag gaan.”
Sy skud haar kop afwysend. “Ek is bang.”
Hy hou haar oë gevange. “Waarvoor?”
“Vir … om hom in daardie omstandighede te sien.”
“Is dit al rede?”
Sy aarsel, erken dan lamlendig: “Nee. Ek is bang … sommer net bang … ”
“Vir jouself? Eintlik vir jouself, nie waar nie?” Hy lees die antwoord in haar oë, sê bemoedigend: “Dan is dit juis noodsaaklik dat jy moet gaan. Jy is baie verward en die seer en ontnugtering lê nog vlak. Jy twyfel of jy jou man nog liefhet.” Hy sien sy wil protesteer. Maar hy bly beslis: “Dis waar, nie waar nie?” Haar kop sak en hy vervolg met ’n deernisvolle stemtoon: “Jy hoef nie sleg te voel daaroor nie, liewe vrou. Dis baie menslik dat jy nou sal twyfel. Hy het jou diep teleurgestel en jy het diep seergekry. Maar liefde sterf nie so maklik nie. Deur Niel te vermy, gaan jy nie sekerheid kry nie. Deur hom te gaan besoek, sal jy baie dinge opklaar.”
Sy kyk lank na hom, sug dan en tel haar koppie koffie op, stap deur na die sit-slaapkamer. “Goed dan. Jy kan maar reël wanneer ek moet of kan gaan.” Sy gee ’n kortaf laggie, maar hierdie keer gee dit hom geen vreugde nie. “Jy moet baie sleg van my dink.”
“Hoekom moet ek?”
“Ag, Roelof, toe jy my leer ken het, was ek ’n ledige rykmansvrou wat nie eens geweet het van watter kant af ’n mens ’n ui begin skil nie. ’n Vrou wat geld gemors het op onbenullighede en … ”
“Wanya … ”
Maar sy gaan opgewonde voort: “Moenie probeer om my te troos nie, Roelof. Ek weet presies wat ek was. ’n Dronk vrou wat ’n jong lewe kortgeknip het … Dis na hóm wat ek netnou verwys het … die jong seun wat ek doodgery het. Ek weet nie eens hoe hy gelyk het nie. Maar ek is die oorsaak van sy dood … en ek sal dit nooit vergeet nie.”
Hy neem haar aan die skouers, draai haar na hom, kyk af in die traannat oë. “Natuurlik sal jy nie. Die feit dat hy ’n straatkind was met ’n onbenydenswaardige lewe en dat sy dood miskien ’n groot verlossing uit die diepste ellende was, maak geen verskil nie. Nee, jy sal nie vergeet nie. Maar daar is ander kindertjies wat nog lewe, Wanya. Kindertjies soos Pikkie van Jan Hofmeyr. Teenoor wie jy kan vergoed.”
“Ek sal nooit kan vergoed nie, Roelof. Mense soos ek en Niel … O, ek het geen reg om Niel vandag te verwyt of ’n vinger na hom te wys nie. Ek was niks beter as hy nie. Hy was die steler, ek die deler. Ons is albei skuldig. Ek het maar net te graag ontvang, gegryp na alles wat ek wou hê en kon kry.” Sy wys na die kartondose wat opgestapel rondstaan. “Duisende rande se klere, handgemaakte skoene … pelse … Gekoop met die hardwerkende mense van hierdie land se spaargeld … ’n nuttelose spul goed. En ek weet nie wat om daarmee te maak nie!” Sy sluk. “Dís wat ek jou wou vra. Ek het geen nut vir hierdie goed meer nie. Ek weet van ’n winkel in die stad waar hulle tweedehandse klere inkoop. Kan jy my asseblief help om die spul goed daar te kry?”
“Natuurlik. Ek sal jou môremiddag vroeër by tant Bes kry en dan kan ons dit neem.”
“Dankie.” Sy skud haar kop. “Jy en tant Bes … Julle is goeie mense. Die sout van die aarde. As ek vir my en Niel met julle vergelyk … ”
“Niemand is goed nie, Wanya. Selfs Jesus het die persoon aangespreek wat hom ‘goeie meester’ genoem het en gesê daar is niemand op hierdie aarde wat goed is nie. Net die Vader in die hemel is goed. Ek en tant Bes het ook ons foute en tekortkominge. Hoeveel weet net ons.” Hy glimlag skeefweg. “So is dit, Wanya. Omdat elke mens homself die beste ken, weet hy ook hoeveel foute en tekortkominge hy het.”
Sy moet protesteer. “Ek weet geen mens is volmaak nie, maar as ek na jou en tant Bes kyk … Julle het dit jul roeping in die lewe gemaak om ander te help. Maar ek en Niel … Vir ons het die lewe bestaan uit hebsug en geldsug … en selfsug. Ek was al die jare toegespin in die goue kokon van rykdom, maar dit was gesteelde rykdom … uit die beurse van ander. En toe moet ek nog iemand doodmaak ook. Geen mens kan hom ooit losmaak van so ’n verlede nie. Mense soos ek en Niel dien geen doel in die lewe nie. Die wêreld is ’n beter plek sonder ons.”
Hy stap vinnig na haar toe, neem haar aan die skouers. Sy oë is stip, sy stem intens. “Jy dink jy is die enigste mens met ’n verlede waarvan jy jou nooit sal kan losmaak nie. Maar jy is verkeerd, Wanya. Daar is niks op hierdie aarde, hoe erg ook al, waarvan jy jou nie kan losmaak deur die genade van Bo nie. En dit is nie ydel woorde nie. Ek sê dit nie maar net nie. Ek weet waarvan ek praat.”
Sy kyk hom vertwyfeld aan. “Ek kan nie glo dat jý … ”
“Jy kan dit maar glo, Wanya, want dit is so. Eendag … miskien … sal ek jou die bewyse gee.” Hy laat val sy hande terug na sy sye. “Ek kry jou môremiddag by tant Bes.”
Hy ry nie huis toe nie, maar stuur sy motor terug na Jan Hofmeyr. Toe hy ’n rukkie later ’n studeerkamer binnestap, is die man agter die lessenaar duidelik bly om hom te sien.
“Kom sit, Roelof. Ek sal vir Ria sê jy is hier, dan eet jy sommer vanaand saam met ons.”
“Nee, dankie, Jan. Ek het reeds vir Ria gesê ek sal nie hier eet nie. Ek is jammer om jou te hinder. Ek weet jy is besig met voorbereiding vir jou preek.”
“Jy hinder nie. Sit gerus.”
Die twee mans het in die jaar dat dominee Louw in Jan Hofmeyr werk, groot vriende geword. Uit die aard van hul professies werk hulle nou saam en klop dikwels by mekaar aan om hulp. Vanaand is dit die maatskaplike werker wat ’n guns kom vra.
“Is jy al so ver met jou preek dat jy dit nie meer kan verander nie?”
Die dominee kyk hom verbaas aan. “Nee. Hoekom?”
“Ek wil vra, as dit moontlik is, Jan, of jy nie Sondag oor Paulus sal preek nie … oor ’n Paulus wat hom moes losmaak van wat agter lê en uitreik vorentoe. Asseblief.”
Sy vriend se oë is ondersoekend. “As jy die behoefte het om meer daarvan te hoor … ”
“Dis nie sodanig vir my nie.” Roelof vee moeg oor sy oë. Dit was ’n besige en moeilike dag en dit ontstel hom dat Wanya Cloete se probleme hom so diep raak. “Toe ek destyds voorgestel het dat die landdros Wanya Cloete vir gemeenskapsdiens by tant Bes moet plaas, was ek in my hart oortuig dat dit haar goed sou doen. Dit hét ook – in baie opsigte. Ek dink sy sal die res van haar lewe deur ’n ander bril na die lewe kyk. Maar ongelukkig hel sy nou te veel na die ander kant toe oor. Sy is nou só bewus van haar skuld en sonde dat sy aandadig voel aan haar man se oortredinge. Sy weier om te glo dat sy nog ’n doel in die lewe het. Kortom, sy glo sy is te sleg om te lewe en dat hierdie wêreld beter daaraan toe sal wees sonder haar.”
Jan Louw knik. “Dis die ommekeer van geen sondebesef tot die uiterste sondebesef. Sy moet die wonderlike waarheid aanvaar dat daar géén sonde is wat God nie sal kan vergewe nie.”
“Presies. Maar sy wil dit nie van mý aanvaar nie. Sy dink ek is goed. Te goed. Sy wil nie glo dat ook ék dinge het waarvan ek my moes losmaak nie. Sy sal nooit glo dat daar vandag nog dinge in my lewe is waarvan ek my nie kan losmaak nie.”
Die dominee kyk hom fronsend aan. “Maar, Roelof, jy kan my nie vanaand vertel dat jy nie glo dat die Vader se vergifnis aan jou nie volkome was nie.”
“Nee, ek sê dit nie. Die vergifnis was volkome. Ek weet dit. Maar ’n mens moet met die gevolge van jou dade saamleef … en dit is iets waarvan ons nie kan wegkom nie. Jy kan jou van jou plig nooit losmaak nie.”
Toe die deur agter sy besoeker toegaan, skuif die dominee die papier wat voor hom lê eenkant. Dis vir ’n ander Sondag.
Wanya beduie Roelof behendig hoe hy moet ry om by die winkel uit te kom. Hulle kry gelukkig naby parkeerplek en sy keer hom toe hy wil uitklim.
“Ek sal maar eers moet gaan hoor of hulle sal belangstel.”
Sy stap huiwerig nader, kan haarself nie keer om vinnig rond te kyk nie. Nee, sy sien niemand bekend nie. Baie mense weet van hierdie gesogte winkel, ook die dames van die rykmanswoonbuurte. Ook sy dra kennis daarvan, maar het nooit gedink dat sy ooit die binnekant daarvan sal sien nie. Want dis hier waar die rykes soms kom om ’n rok of ’n handsak of pelsjas te kom inruil vir kontant wanneer die skoen begin druk. Sy weet van haar uitgelese vriendinne het al van hierdie boetiek gebruik gemaak om van hul “oortollige” goed ontslae te raak. Die gewone mens wat van hierdie winkel kennis dra, weet dat jy hier die duurste aanddrag en ontwerperskeppings teen minder as die helfte van hul oorspronklike prys kan aankoop. Daar is vroue wat nie omgee om vir hulle hier klere aan te skaf nie, want die meeste van die goed is so te sê nog splinternuut. Vandag is dit Wanya Cloete se beurt om sake in hierdie winkel te doen.
Natuurlik word sy dadelik herken. Daar was immers herhaaldelik foto’s van haar in die nuusblaaie. Nie net tydens haar en Niel se hofsake nie, maar ook destyds in die sosiale kringe. Nee, die dame herken haar onmiddellik … en sy weet ook dat dit die skoen is wat druk wat Wanya Cloete vandag hierheen gedwing het.
Natuurlik stel sy belang. Maar, nee, ongelukkig het sy nie iemand om die goed van die motor af aan te dra nie. Mevrou sal dit maar self moet bring.
By madame Veronique se modehuis val almal oor hul voete om vyfsterdiens te lewer. Maar by hierdie tweedehandse winkel is die kliënt die verleë een.
Wanya probeer keer dat Roelof haar help, maar vergeefs. Een ná die ander dra hy die kartondose aan. Die eienares bestudeer die eerste rok baie krities en noem ’n prys.
Wanya protesteer spontaan: “Maar mevrou, weet jy dat hierdie rok by madame Veronique se modehuis … ”
Sy word koel in die rede geval. “Dit maak nie saak waar dit gekoop is of hoeveel dit gekos het nie, mevrou Cloete. Dit is wat ek nóú daarvoor kan kry, wat belangrik is. Onthou, gewone mense koop hierdie tweedehandse goed, nie mense met baie geld nie. Ek sal jou nie meer daarvoor kan aanbied nie, anders bly ek daarmee sit.”
“Ek … ” Wanya lek oor haar droë lippe. “Ek het dit maar nog net een keer aangehad.” Dit is die laaste rok wat sy gekoop het voordat die bom gebars het.
“Dit bly tweedehands, mevrou, en al my customers weet dis tweedehands, al lyk die rok ook hoe goed.”
So word die een ná die ander artikel nagegaan en geprys. Wanya staan stilswyend van verslae vernedering.
Met ’n tjek in haar hand soek sy desperaat na die uitgang, voel ’n arm om haar skouers gaan en hoe sy na die motor gelei word. Sy word ingehelp, en toe hy langs haar inskuif, trek die motor onmiddellik weg terwyl haar rou snikke die ruimte om hulle vul.
Sy het ’n bietjie selfbeheersing herwin toe hulle voor die woonstelblok stilhou.
“Jy het gepraat dat jy nog materiaal wou koop vir die rokke wat Annatjie sal maak.”
Sy skud haar kop, klim uit. “Nie vandag nie.”
Toe sy die tjek op die tafeltjie neergooi, wens sy dat sy dit kan uitgil van woede en frustrasie. Sy wil kliphard huil oor al haar mooi goed wat sy vir ’n belaglike bedrag moes verkoop. Sy wil hardop kerm van die pyn in haar gekastyde hart. Hoekom loop hy nie!
Maar dan is daar hande op haar skouers wat haar nader trek, ’n stem wat sussend sê: “Huil maar, Wanya.”
Haar kop ruk omhoog, haar oë skiet vlamme. “Ek wil nie huil nie! Ek wil skree, gil … oopbars! Het jy haar oë gesien? Die leedvermaak … die behae … ”
En dan val haar kop teen sy bors en sy huil … en huil … totdat sy later swak en suf is. Totdat sy leeg en ontsettend moeg is. Sy laat willoos toe dat hy haar op die divan neerdruk, haar skoene uittrek en haar bene optel, haar terugdruk teen die kussings en ’n ligte kombers oor haar gooi.
Sy kyk hom met seer, dikgeswelde oë aan. “Ek is jammer.”
Hy glimlag. “Dit was nodig. Ek is seker jy voel nou beter.”
Sy sug. “Ja, dankie. Ek is net baie moeg.”
“Ek weet. Jy gaan nou slaap. Kan ek jou Sondagoggend kom haal vir kerk?”
“Vir kerk?”
“Ja. Vir kerk.”
Hy wil haar Sondae kerk toe neem. Is dit ook een van die opheffingsprogramme? wonder sy moeg. Maar sy gee nie om nie. Sondae is altyd die bitterste dag van die week om deur te worstel. Dan hoef sy nie na Sonneblomstraat te gaan nie, want dis die een dag in die week wat tant Bes se kudde vir hulself moet sorg. Maar vir haar beteken dit lang, eensame ure in haar beknopte woonstel.
“Ja. Ja, ek sal graag saamgaan.”
“Ek kom kry jou om halftien.”
“Roelof … ” Sy gryp sy hand vas. “Dankie.” Haar lippe bewe. “Ek weet jy doen net jou werk, maar … nogtans, dankie.”
Sy vingers vou stywer om hare. “Wanya, daar is baie mense wat vir jou omgee … tant Bes, Nellie, Pikkie, die mense van Jan Bom … almal gee baie vir jou om. Onthou dit altyd.”
“En jy?”
“Ek ook.” Hy kom orent. “Belowe my dat jy nie verder sal huil nie en dat jy nou sal slaap.”
Sy glimlag bewerig na hom op. “Ek belowe.”