Читать книгу Ena Murray Omnibus 40 - Ena Murray - Страница 9
6
ОглавлениеNatuurlik is Annatjie onmiddellik te vinde vir die voorstel dat Wanya by haar intrek. Sedert haar pa oorlede is, het die huis baie groot en eensaam geword. Sy het al skuldig gevoel dat sy ’n hele huis tot haar beskikking het terwyl daar so ’n groot woningnood vir behoeftiges bestaan. Sy het juis gehoor van ’n man en sy dogtertjie wat in ’n buitekamer bly. Natuurlik kan Wanya by haar intrek.
Dis via tant Bes dat die ooreenkoms beklink word, want Wanya is reeds smiddae huis toe wanneer Annatjie van die werk af kom.
“Hier is jou vier rokke wat Annatjie gemaak het. Sy het gesê jy moet maar praat as daar fout is, sy sal regmaak.”
Maar daar is nie fout nie en Wanya vra: “Het sy nie gesê wat skuld ek haar nie?”
“Sy sê jy skuld haar niks nie, hartjie.”
“Maar … ”
In die deur glimlag Roelof met sagte oë. Wanya het reeds diep in tant Bes se hart ingekruip en daar is al van die jonger tafelloseerders wat Wanya, soos Pikkie, ook tannie Hartjie begin noem het. “Jy moet nog leer, my hartjie, dat party dinge ’n prys het en ander nie. Naasteliefde het nie ’n prys nie … en Annatjie se hart loop oor van naasteliefde. Sy wou dit graag vir jou doen. Daar is nie ’n rekening nie.”
Wanya sluk, sit haar arms om tant Bes en druk haar innig vas. “Julle klomp hier is die wonderlikste, dierbaarste mense op die hele aarde! Sê vir haar ek sê baie, baie dankie.”
“Ek hoop ek tel ook onder hierdie spesiale groepie mense?”
’n Onbewaakte oomblik lank lê haar hart weer in haar oë. Maar dan sak die sluiers en sy sê tergend: “Ek sal eers goed daaroor moet nadink!”
“Miskien sal ek tog kwalifiseer as ek jou my goeie nuus meedeel. Ek het met die woonstelopsigter gepraat en hy sê as jy dadelik wil gaan, is dit in orde. Jy hoef nie eers ’n kennisgewingmaand uit te bly nie, want daar is ’n lang waglys.” Hy glimlag toe hy die vreugde in haar oë sien. Hy onthou haar geskokte reaksie toe hulle die eerste dag voor Sonneblomstraat 7 stilgehou het. Sy het amper met afgryse gevra: Moet ek hiér werk? Nou lyk dit of sy die grootste geskenk op aarde ontvang het omdat sy in Jan Hofmeyr kan kom bly. “Ek kan jou help trek sodra jy gereed is.”
Daardie middag lê sy die meisietjie letterlik voor en sy is reeds by haar voordat sy gewaar word. Wanya kry haar aan die een armpie beet toe sy wil weghardloop.
“Toe nou, my meisietjie. Ek sal jou niks maak nie. Ek wil maar net hoor hoekom jy altyd so ver weg bly en nie inkom en ook ’n bietjie kom gesels nie.”
Die groot blou kinderoë kyk haar bang aan. “Ek mag nie.”
“Natuurlik mag jy, skatjie. Almal is hier welkom. Kom saam, dan gaan wys ek jou.”
Maar die kind rem met alle mag terug. “Nee! Ek mag nie!”
“Wie het so gesê?”
“My pa. Pa het gesê ek mag nie my voete hier sit nie.”
“Wie is jou pa?”
Die koppie sak. Wanya gaan op haar hurke af, streel die blonde haartjies. “My naam is Wanya. Wat is joune?”
“Lala.”
“Lala? O, maar dis ’n pragtige naam. Dit klink soos ’n liedjie! Kom. Kom saam met my. Ek wil hê jy moet vir Pikkie ontmoet. O, jongie, hy kan mooi teken. Kan jy ook prentjies teken?”
Maar die kleintjie ruk los, skree: “Los my! Los my uit!” en sy spring weg. Maar Wanya was voorbereid hierop en sit haar agterna. Toe sy om die straathoek kom, is sy net betyds om te sien hoe Lala by ’n hekkie in verdwyn. Sy stap tot daar. Gousblomstraat 3. Sy bly onseker staan, draai dan terug. Tant Bes sal weet wie hier bly.
Natuurlik weet tant Bes en sy vertel Wanya die hele geskiedenis. “Dis die Ferreiras wat daar bly. Koos het uiteindelik werk gekry en hulle trek die end van die maand. Annatjie het gepraat dat daar ’n man en kind in die buitekamer bly totdat hulle die Ferreiras se huis kan betrek. Dit moet dié meisietjie wees wat bedags hier deur die draad staan en loer. Hoekom kom sy nie in nie?”
“Haar pa het haar verbied om haar voete hier te sit,” sê sy.
Tant Bes sug. “Ja, dit kry jy baie.”
“Wat bedoel tannie?”
“Te trots om by tant Bes ’n bord kos te kom haal, al sterf hulle van die honger. Dis moontlik die verklaring.”
Wanya lyk ongelukkig. “Dink tant Bes Lala is honger en dat sy bedags kom afloer hoe die ander eet?”
“Moontlik, hartjie. Die beste is om vas te stel. Ons skep vanmiddag twee ekstra borde kos uit en dan stap ons namiddag oor en kyk wat daar aangaan.”
Maar tant Bes kan haar die middag nie vergesel nie. Sy word dringend na ’n sieke uitgeroep en Wanya stap alleen met die twee borde kos straataf. Sy klop eers by die huis se voordeur aan en Ansie Ferreira vul vir haar die prentjie in.
“Ons weet nie veel van Johan le Roux af nie. Ons het maar gesê hy en die kind moet solank agter intrek totdat ons goed net voor Kersfees gehaal word, want dit het my geklink hulle sit op straat. Hy praat nie veel nie. Wil blykbaar nie graag oor homself en sy omstandighede praat nie, maar hy het darem vir my man gesê hy het eers geboer.”
Met meer vasberadenheid as moed stap Wanya by die agterdeur uit. Die buitekamer se deur staan oop en sy klop aan. Die man wat ingedoke op die bed sit, kyk op.
“Goeiemiddag, meneer Le Roux.” Sy stap ongenooid binne, sit die borde op ’n tafeltjie neer en stap met uitgestrekte hand nader. “Ek is Wanya Cloete,” sê sy en glimlag vriendelik.
Maar haar hand word nie geneem nie en hy staan ook nie op nie. “Wat wil jy hê, dame?” vra hy in ’n toon wat Wanya vertel dat sy nie welkom is nie.
“Ek het net kom kennis maak, meneer Le Roux. Welkom in Jan Hofmeyr.”
Sy mond trek smalend. “Welkom in Jan Hofmeyr,” aap hy haar sarkasties na. “Baie dankie.”
Wanya hou haar ongeërg. “Ek verstaan jy het ’n dogtertjie ook.”
Nou is hy op sy voete en die oë blits. “Luister, as jy van die Welsyn is, daar is die deur. Ek sorg vir my kind. Gee pad hier!”
“Ek is nie van die Welsyn nie, meneer. Ek is van Sonneblomstraat 7.”
Hy frons. “Watse plek is dit?”
“Dis ’n doodgewone huis soos al die ander huise in Jan Bom. Dis waar ons smiddae vir die mense kos gee.”
Sy gesig verstyf merkbaar. “Ons het nie aalmoese nodig nie, dankie. Ons hét kos.”
Wanya kyk vlugtig om haar. Sy sien ’n eenplaatgasstofie. Langsaan lê ’n halwe brood in ’n plastieksak en daarnaas staan ’n oopgemaakte blik konfyt. Haar blik keer terug na syne en sy lees die uitdaging daarin.
“Natuurlik, meneer. Ek veronderstel egter dat dit moeilik is om in hierdie omstandighede kos te kook. Jy en jou dogtertjie is baie welkom om smiddae by ons te kom eet totdat jy die huis betrek het en jou vrou terug is.”
“My vrou is dood.”
“O. Ek is jammer. Maar die uitnodiging is opreg, meneer Le Roux. Jy en jou dogter is werklik baie welkom by ons. Ek het sommer twee borde kos saamgebring vir … ”
“Luister hier, dame. Vat jou twee borde kos en maak dat jy by daardie deur uitkom. Ons het nie jou kos nodig nie. My kind ly nie honger nie.”
“Maar sy kan nie net van brood leef nie.” Wanya se oë begin ook blits. “Sy is ’n groeiende kind wat voedsame kos nodig het.” Sy kyk die woedende man vas in die oë, besluit op ’n meer informele aanslag. “Johan, gaan jy werklik toelaat dat jou trots jou pragtige dogtertjie knak? Jy sê haar ma is dood. Sy het net vir jou en jy het net vir haar. As jy haar werklik liefhet, sal jy haar tog wil beskerm teen swaarkry.”
“Ek het my kind lief! Sy is al wat vir my op aarde oorgebly het!”
“Hoekom laat jy haar dan onnodig ly? Hoe dink jy moet sy voel as sy sien hoe lekker ander kinders eet, maar haar pa sê sy mag nie deelneem nie? Dink jy sy sal bly glo dat haar pa haar liefhet?”
Hy lyk bleek onder die ongeskeerde baardstoppels. “Ek het Lala lief met alles in my en sy weet dit.”
“In daardie geval sal jy tog seker nie ’n bord kos van haar weerhou nie, sal jy? As jý dan ons aanbod weier, laat jou dogtertjie ten minste smiddae by ons kom eet … Asseblief!”
Hy draai van haar af weg, staan met ’n kop wat hang. Sy stem is swaar. “Jy dink ek straf my kind doelbewus, maar … ek wil haar so graag alles, alles in die lewe gee wat ’n pa sy kind kan gee.”
Wanya stap nader, lê ’n hand op sy voorarm en sê met ’n stem vol deernis: “Ek weet, Johan. Watter pa wil nie? Ek ken nie die omstandighede wat jou in Gousblomstraat 3 laat beland het nie, maar ek wil hê jy moet weet jy is nie alleen nie. Ons Jan Bommers staan bymekaar. Elkeen van ons het op sy eie manier hier beland. Jy is nie al een wat swaarkry ken nie. Ons ervaar dit almal. Ons weet hoe jy voel. Moenie die hand van vriendskap wat ons na jou uitreik, wegklap nie, veral ter wille van klein Lala.”
Dis nou gebroke oë wat na haar kyk. “Dat my kind kos uit ’n ander se hand moet ontvang omdat ek te sleg geraak het om haar na behore te versorg … ”
“Dit sal beter gaan, Johan. Maar intussen is ons jou vriende. Moenie toelaat dat jou trots tussen ons staan nie.”
Hy vee oor sy oë, skud dan sy kop. “Nou goed dan. Lala kan maar smiddae daar gaan eet.”
“En jy?”
“Nee.”
“Ons kan elke dag saam met Lala vir jou ’n bord … ”
“Néé! Magtig, wil jy my nou tot op die been stroop van alle selfrespek?”
Tot dusver vandag. Sy moet dankbaar wees vir wat wel bereik is. “Tot siens, Johan. Ons praat weer.”
Wanya is onbewus daarvan dat dit ’n warme gevoel in Roelof se hart opwek toe sy later aan hom vertel wat gebeur het en hoe besorg sy oor hierdie geval is. Sal sy ooit agterkom hoe geweldig sy verander het? wonder hy stil en antwoord dan: “Ek sal beslis daar besoek gaan aflê en probeer om meer van sy omstandighede te wete te kom.”
Maar Roelof vertel nie alles wat hy vasgestel het nie. Op sy eie besondere manier slaag hy daarin om die bitter man aan die praat te kry en hoor maar net nog een van die duisende hartseerverhale wat hy al moes aanhoor.
Sukkelend en stotterend, by tye onbeskaamd hartseer, by tye onbeskaamd opstandig, kom die verhaal uit van die jong boervrou wat kanker gekry het, die koste wat opgeloop het, stadig maar seker alle spaargeld verteer het. Toe sy uiteindelik sterf, was daar niks meer oor om mee voort te gaan nie. Die grond moes verkoop word. Net die koopsom van sy plaas het hy uiteindelik oorgehou van ’n winsgewende boerdery.
Met ’n onheilsgevoel in hom vra Roelof: “Maar waar is daardie geld dan nou, Johan? Dis darem nie min geld nie.”
Soos hy vermoed het, is die antwoord: “Op aanbeveling van ’n makelaar het ek die hele bedrag eers belê. Met die rente wat ek sou kry, sou ek en Lala kon aangaan totdat ek ’n werk in die hande kon kry. Maar werk is skaars. En ek kan net boer. Ek is nie opgelei vir iets anders nie. Trouens, ek het ook geen opleiding vir boerdery nie, behalwe die praktiese ervaring wat ek self opgedoen het. Terwyl ek nog aan die werk soek was, het die ramp my getref. Die instansie waar ek my geld belê het, is gelikwideer. Ek het alles verloor. O, wel, ek het ’n paar sent in ’n rand uitgekry, maar dis kwalik genoeg om ’n ordentlike bestaan van te voer. En terwyl ek nie weet wanneer ek eendag gaan werk kry nie, moet ek daardie paar sente baie versigtig hanteer. Dit gaan opraak voordat ek weer ’n inkomste het.”
“Ek begryp. Dit is baie verstandig van jou. By wie het jy jou geld verloor?”
“Rock Trust.” Die bitterheid voer weer die botoon. “Die dief sit nou in die tronk, eet staatskos, met ’n dak oor sy kop. Dis ék wat buite is en moet toesien waar ek en my kind kos vandaan kry, of ons vannag ’n dak oor ons koppe sal hê of nie.”
Soos hy verwag het, is tant Bes en Wanya se harte dadelik wawyd oop vir hierdie man en sy kind en tant Bes sê met blink oë: “Kon jy hom nie oorreed om ook maar hier te kom eet nie, Roelof?”
“Ek het dit maar eers daar gelaat, tant Bes. Ek sal later probeer. Op die oomblik het Johan le Roux meer as genoeg bitterheid om te sluk. Om hier te kom kos haal, sal vir hom net een bitter pil te veel wees. Ek is net dankbaar dat hy toelaat dat Lala kom.”
Ook Wanya se oë blink. “O, hier is darem baie hartseer op ons ou aarde. Weet julle wat vertel Pikkie my vanmiddag? Lala het haar ander kossies opgeëet, maar haar stukkie wors het sy in ’n papiertjie toegedraai om huis toe te vat.”
“Hy sal dit nie eet nie.”
“Ek weet, Roelof. Maar is dit nie pragtig nie?”
Sy oë is warm. “Dit is. Daar is nog altyd pragtige dinge tussen al die hartseer en minder mooi dinge wat ons elke dag om ons sien.” Hy sug, staan op. “Wel, hou maar jul oë en ore oop. As iemand weer bel, onthou tog maar van hom ook, tant Bes. Hy is bereid om enigiets te doen.”
Wanya volg Roelof na die motor en daar kom hy gou agter dat sy reeds haar eie vermoedens het. “Roelof, waar het Johan sy geld verloor?”
Hy staan haar net en aankyk, wil nie vir haar jok nie en sy vervolg self: “Dis Rock Trust, nie waar nie?”
Hy sug. “Ja. Ongelukkig.” Hy gryp haar aan die pols toe sy wil omswaai. “Wanya … Moet jou nie so ontstel nie. Ek sal vir hom werk kry.”
“Dis nie jou verantwoordelikheid nie.” Maar skielik is daar ’n glimlag in haar oë. “Of is dit? Dit is ons almal s’n. Dit is ons almal se verantwoordelikheid wanneer ons sien ons naaste kry swaar … of verstaan ek verkeerd?”
Hy glimlag terug. “Nee. Jy verstaan reg.” Weer praat oë ’n taal wat die lippe nie durf uiter nie. “Hoe vorder jul Kersfeesreëlings?”
Haar gesig helder op. “Wonderlik. Dit gaan ’n vleisbraaiery wees. ’n Boer het vir ons drie skape belowe; ’n slaghuis het wors belowe en ’n hoenderplaas hoendervlerkies.”
Hy hou nog steeds haar pols vas, en dan vleg hul vingers spontaan saam. “Daar is nog so baie goeie mense op hierdie aarde. Ons konsentreer te veel op die onaangename dinge en sien nie al die goeie dinge raak nie.”
“Ja.” Sy trek haar hand uit syne. “Roelof, ek wil toestemming vra om iemand vanmiddag te gaan besoek.” Sy skud haar kop ontkennend op die vraag in sy oë: “Nee, dis nie Niel nie. Ek was mos verlede week by hom. Annatjie het my met die motortjie geneem.”
“O. En hoe het dit toe gegaan?”
“Nie so goed nie, maar darem beter as die eerste keer. Ek het met hom probeer praat, hom probeer bemoedig, maar hy is baie teruggetrokke. Dis of ek nie tot hom kan deurdring nie.” Miskien het sy nie sukses behaal nie omdat haar hart nie in die woorde was wat sy uit plig uitgespreek het nie. Sy kyk op. “Nee, ek wil met iemand gaan praat wat dalk vir Johan werk het. Hy sal seker ’n swaarvoertuigrybewys hê as hy ’n boer was?”
“Ek sou so reken. Ek sal jou neem.”
“Dis nie nodig nie. Annatjie sal my sommer neem.”
Hy dring nie verder aan nie, groet net en ry weg. Hulle weet albei dat sy hom deesdae doelbewus probeer vermy. Sy dra sorg dat hulle nooit alleen saam is nie. Toe hy nog dink dat hy haar moet help trek, het Annatjie se motortjie reeds al haar goed aangery Sonneblomstraat toe. Natuurlik stem hy saam. Dis beter so. Verstandig. Tog klem sy hande die stuurwiel onnodig styf vas.
Bert Barkhuizen kyk verbaas op toe hy sy besoeker herken. Hy stap nader, steek sy hand gul uit. “Wanya! Wat ’n verrassing! Kom sit. Waar op aarde val jy uit?” vra hy onbewus ontaktvol.
Maar sy vergewe hom, glimlag selfs. Sy wonder wat hy sal sê as sy moet antwoord: “Uit Sonneblomstraat uit!”
Die Barkhuizens was nie deel van die Cloetes se intieme vriendekring nie. Maar hulle het tog tydens sosiale geleenthede ontmoet. Sy het vanmiddag onthou dat hy een van die grootste vervoerkontrakteurs in die stad is.
Sy praat sommer op die man af, vertel hom wat sy daar kom maak en Bert kan sy verbasing kwalik verberg. Dat Wanya Cloete van alle mense vandag by hom kom soebat vir werk vir iemand anders. Maar sy toon geen teken dat sy in ’n verleentheid is nie.
“Asseblief, Bert, as jy kan, help die man. Hy sal enigiets doen. Het jy nie miskien ’n vragmotorryer nodig nie?”
“Nie op die oomblik nie, maar ek kan hom dalk in die garage gebruik om herstelwerk te doen. Het hy enige werktuigkundige kennis?”
“Dit weet ek nie, maar kan ek hom nie stuur sodat jy ’n onderhoud met hom kan voer nie? Asseblief, Bert!”
Hy frons. “Ek verstaan nie mooi nie … Hoekom voel jy so ernstig oor dié man?”
Haar blik is reguit. “Twee redes. Nommer een: Hy het al sy geld in Rock Trust belê … en verloor. Nommer twee … ”
“Maar, liewe mens, wil jy nou vir elkeen wat geld in Rock Trust verloor het, werk soek?”
“Ek wens ek kon, maar ek weet dis nie moontlik nie. Maar my tweede rede is die belangrikste: Omdat hy ’n mens in nood is … Ek weet hoe dit voel om in die nood te wees … en hoeveel ’n helpende hand dan vir jou beteken.”
Bert Barkhuizen kug, laat sy ooglede val. Snaaks, hy is die een wat effens verleë voel. “Goed dan. Stuur hom. Ek sal kyk wat ek kan doen.”
Hulle voel so opgewonde soos twee kinders toe hulle later in Gousblomstraat stilhou. Annatjie probeer ’n demper op Wanya se hoë verwagtinge plaas. “Sê nou hy wil nie gaan nie?”
Wanya is sommer kwaai. “Natuurlik gaan hy! Hy sal gaan al sleep ek hom tot daar!”
Annatjie lag. “Soos jy nou lyk, is jy heeltemal in staat daartoe!”
Maar dis nie nodig om Johan le Roux te sleep nie. Hy lyk vanaand heelwat beter as die eerste keer wat Wanya hom gesien het. Hy is geskeer en sy sien dat hy glad nie onaantreklik is nie. Sy klere lyk wel nog gekreukel, maar dis skoon. Lala glimlag breed na Wanya toe sy gewaar wie hul besoekers is. Annatjie word voorgestel en dan verduidelik Wanya. Tot haar groot vreugde is daar geen protes aan sy kant nie. Sy oë blink dankbaar.
Wanya kyk oorwinnend na Annatjie en dié knik goedkeurend. “Nou toe. Ons het iets om te vier. Kom saam huis toe en ons gaan bak pannekoek.” Sy sien die aarseling in die man en wend haar tot die kind. “Ek is vrééslik lief vir pannekoek, en jy?” Die koppie knik gretig en Annatjie het haar ook sommer aan die hand. “Nou kom dan. Waarvoor wag ons?”
Wanya glimlag teenoor die man wat onseker bly staan. “Kom saam, Johan. Jy mag Annatjie nie seermaak nie. Sy het my met haar motortjie na meneer Barkhuizen toe geneem.”
“Dan moet ek haar ten minste vir die petrol vergoed.”
Sy neem hom aan die arm, trek hom deur toe. “As jy haar wil vergoed, moet jy minstens vier van haar pannekoeke opeet!”
“Dis maklike betaling!” Hy kyk op haar af. “Wanya, ek is so skaam oor my gedrag teenoor jou daardie eerste dag.”
Sy gee sy arm ’n drukkie, trek die deur agter hulle toe. “Dis alles vergete. Ek het verstaan.”
“Jy is ’n wonderlike mens.”
“Ek? Dan moet jy die res van Jan Bom leer ken. Veral tant Bes. Dan sal jy sien wat wonderlik is. Kom, daar toet Annatjie al.”
Dit word ’n genoeglike aand en Annatjie dring daarop aan om pa en dogter terug te neem met haar motor toe die laaste pannekoek laataand verslind is.
Toe sy hulle aflaai, kyk sy hom onseker aan. “Moet dit asseblief nie verkeerd opneem nie, maar gee my die broek en hemp wat jy môre gaan aantrek vir die onderhoud, dan stryk ek dit vir jou.”
Maar Johan le Roux het die afgelope paar dae sy lesse geleer en Wanya se goeie raad ter harte geneem. Hy sluk sy trots en sê dankbaar: “Dis dierbaar en gaaf van jou, Annatjie. Ek sal dit vreeslik waardeer. Êrens met die trekkery het my strykyster voete gekry.”
En jy sal eerder sterf voordat jy een sal leen, dink Annatjie, en glimlag. “Nou toe. Gaan haal dit gou.”
Terug by die huis wil Wanya weet: “Wat het jy daar?” Annatjie verduidelik en Wanya lyk verbaas. “En hy gee dit vir jou sonder dat jy eers moet baklei?”
“Ja.”
In haar slaapkamer gaan staan Wanya voor die venster en kyk op. Sal die mense aan die ander kant van die stad ooit weet watter kosbare mense aan hierdie kant bly? Dankie, Here, dat ek die voorreg gehad het om hulle te kon leer ken.
Die volgende dag kry sy egter byna ’n oorval toe Johan ontkennend op haar opgewonde vrae antwoord.
“Ek kon die werk nie aanvaar nie.”
“Hoekom nie?” Wanya kan huil van teleurstelling.
“Hy kan my as vragmotorryer vir lang ritte gebruik. Maar ek het ’n kind, ek kan nie dae lank van die huis af weggaan nie. Wat moet van Lala word?”
“Sy kom bly by my,” kom dit bedaard van Annatjie.
Maar Johan skud sy kop. “Baie dankie, Annatjie, maar dit sal nie uitwerk nie. Jy werk bedags.”
Maar Annatjie het skielik ’n antwoord op alles. “Sy kan bedags by tant Bes en Wanya gaan bly. Hulle sal nie omgee om … ”
“Ek kan nie toelaat dat julle … ”
Maar Annatjie staan vas. “Afgespreek. Wanneer jy op lang ritte is, kom bly Lala by my en ek en Wanya kyk na haar. Johan, jy kan nie hierdie kans deur jou vingers laat glip nie!”
Hy knik. “Ja, die geld is goed. Maar … ”
“Maar niks. Dis afgespreek.”
Roelof luister stilswyend terwyl Wanya hom van die jongste verwikkelinge vertel. “Tant Bes gee glad nie om nie. Lala is ’n soet meisietjie. Volgende jaar gaan sy skool toe en dan is sy net smiddae hier. Saans slaap sy by my en Annatjie en Johan kan met ’n geruste hart sy werk doen.”
Hy glimlag vir haar. “En julle het dit alles klaar gereël?”
“Ja. Skort daar iets daarmee?”
“Nee. Dis maar net … ” Dis maar net dat jy al verder wegdryf. “Dis maar net weer Jan Bom se mense wat my nooit teleurstel nie. Ek het Johan netnou in die straat raakgeloop. Hy is baie dankbaar, veral teenoor jou, Wanya. Hy sê jy is die een wat weer sy voete op vaste grond geplaas het.” En hy dink die son skyn uit jou uit, voeg hy woordeloos by. Hy verander die gesprek vinnig. “Julle sê alles is agtermekaar vir Oukersaand se partytjie?”
“O ja! Ons kort nog net ’n Kersvader. Maar ek het een in gedagte. Ek dink Johan is net die regte man.”
Tant Bes kyk vinnig op. “Maar … ”
Roelof skud sy kop skaars merkbaar. “Gaaf. Dit gaan ’n suksesvolle aand wees. Ek wens julle alles van die beste toe.”
“Maar gaan jy dan nie ook hier wees nie? Jy was nog altyd … ”
“O, ek is nie seker van vanjaar nie, tant Bes. Ek is moontlik daardie aand op ’n ander plek betrokke. Maar julle sal dit kan hanteer, ek weet.”
Toe Annatjie ná ses instap, lyk sy verbaas toe sy hoor daar is ’n moontlikheid dat Roelof nie Oukersaand daar sal kan wees nie. “Dis snaaks. Hy was nog elke jaar ons Kersvader.”
Wanya kyk vinnig op. “Was hy? Ek het nie geweet nie.” Sy kyk ongemaklik na tant Bes. “Hoekom het tannie my nie reggehelp nie?”
Tant Bes hou haar doenig met haar handwerkie. “Maar hy het mos gesê hy sal moontlik nie vanjaar hier kan wees nie. Dan vra ons maar liewer vir Johan.”
Johan le Roux neem eensklaps ’n baie prominente plek in in die gemeenskap van Jan Bom, veral in Sonneblomstraat. Met behulp van Wanya en Annatjie trek hy net voor Kersfees uit die buitekamer na die huis nadat die Ferreiras dit ontruim het. Annatjie maak gordyne en trek verweerde stoelkussings oor en Wanya poleer die meubels. Saam rangskik hulle alles en die twee vroue is heel in hul skik met die eindproduk. Johan se dankbaarheid is ontroerend toe hy ná sy eerste rit, wat hom drie dae van die huis af geneem het, terugkeer.
Hy loop trots deur sy huis en neem Wanya aan die skouers. Sag sê hy: “Hoe kan ek jou óóit bedank?”
Sy skud glimlaggend haar kop. “Die meeste is Annatjie se werk. Jy moet háár eintlik bedank.”
“Ek praat nie net van die huis nie. Ek praat van alles wat jy vir my gedoen en beteken het. Vir my en my kind.”
“Ag, dis niks nie, Johan.”
“Nee, dis nie niks nie. Jy het my weer selfrespek gegee. Jy het my weer moed vir die lewe gegee. Dankie dat jy daardie dag hier ingestap en volhard het, ten spyte van die houding wat ek ingeneem het.”
Sy laat toe dat sy kop nader kom vir ’n soen. Sy kan begryp dat hy dankbaar is en wil dankie sê. Maar dit is nie net ’n ligte soen soos sy verwag het nie. Sy word vasgevat en deeglik gesoen … en in die gangdeur kyk Lala grootogig toe. Dan breek ’n breë glimlag oor haar lippe en sy laat spaander Sonneblomstraat toe. Hierdie wonderlike nuus moet sy met tannie Annatjie deel.
Wanya voel verleë en selfbewus, selfs ongemaklik. Sy trek haar terug uit sy omhelsing, gryp na die eerste ding wat in haar gedagtes kom. “Is jy nou seker jy sal Oukersaand ons Kersvader kan wees?”
“Ja. Meneer Barkhuizen sê ek is Kersnaweek af. Maar ek werk Nuwejaarsnaweek. Hy ruil dit elke jaar so uit dat die helfte van die manne Kersfees af is en die ander Nuwejaar.”
“Dan is dit gaaf. Ek sal nou regtig moet gaan. Tot siens, Johan.”
Hy kyk haar met ’n tevrede glimlaggie agterna. Hy het nou weer soveel hoop en moed vir die toekoms. Hy droom selfs drome daaroor. Met ’n vrou soos Wanya … Tant Bes lyk nie juis baie ingenome met die nuus wat Annatjie, met ’n ongeërgde stem en te breë glimlag, haar vertel nie.
“Ek twyfel of dit die waarheid is. Ek dink dis sommer wensdenkery aan Lala se kant.”
“Hoekom? Johan en Wanya kom goed klaar. Hulle het eintlik groot maats geword.”
“ ’n Mens trou nie met elkeen met wie jy goed klaarkom en met wie jy groot maats is nie. Jy en Johan is ook goeie maats.”
“Maar nie so groot soos hy en Wanya nie. Daar kan ’n verhouding tussen hulle ontwikkel.”
“Annatjie, Wanya is ’n getroude vrou.”
“Dit keer nie altyd dat jy verlief raak nie,” hou Annatjie koppig vol, voel hoe sy haar eie hart kasty. Watter hoop het sy in elk geval teen ’n vrou soos Wanya? “Johan is beslis verlief op haar. Tant Bes moet net sy oë sien wanneer hy haar gewaar.”
Tant Bes is sommer ongeduldig. Het sy dan al die tyd verkeerd gekyk? “Maar Wanya se oë blink nie. Sy is te verstandig om haar in ’n verhouding te begewe wat sy weet geen toekoms het nie.”
“Maar miskien dink sy daaraan om haar man te verlaat.”
Tant Bes se stem is skielik baie streng: “Annatjie, jy moet liewer nie hierdie storie versprei nie. Dis bloot die verbeeldingsvlug van ’n kind wat baie graag ’n ma van haar eie wil hê. Vergeet daarvan.”
Maar nie een van die twee kry dit vergeet nie, en toe Roelof weer sy opwagting by tant Bes maak, is dit die eerste saak wat sy aanroer terwyl sy hom noukeurig dophou.
“Lala het met die storie by Annatjie aangekom dat Wanya haar nuwe ma gaan word. Annatjie sê sy was baie oortuigend daaromtrent. Maar, Roelof, dit is mos nie moontlik nie.”
Sy blik verraai niks nie, maar hy kyk weg toe hy antwoord: “Hoekom is dit onmoontlik, tant Bes?”
Tant Bes klink sommer vererg. “Maar natuurlik is dit onmoontlik! Sy is ’n getroude vrou! Sy het nog nooit van skei gepraat nie.”
“Ons weet nie wat in ’n ander se hart omgaan nie, tant Bes.”
“Maar dit is jou plig om met haar te praat en hierdie ding stop te sit. Sy is jou verantwoordelikheid.”
Maar hy skud sy kop, staan op. “Ek glo Johan sal ’n voorslagbraaier wees. Hy was ’n boer.” Hy buk af en soen haar vlugtig op die hare, druk haar hand. “Wat ook al gebeur, my tannie, Wanya se geluk is die belangrikste, nie waar nie? Nie ek of tant Bes kan aan haar voorskryf nie. Tot siens.”
Toe hy uit is, vee tant Bes oor haar oë. Dis maar ’n deurmekaar wêreld hierdie … Die partytjie is ’n reusesukses. Die Jan Bommers vergeet vir een aand van al hul probleme. Kersvader laat die kinders se oë skitter en Johan speel die rol onverbeterlik. Almal wat sy eerste dae in Jan Hofmeyr onthou, kan kwalik glo dis dieselfde man. En vir almal is die geheim nie meer ’n geheim nie. Want Lala, oortuig deur die vurige soen, het nie net haar vreugde met Annatjie gedeel nie. Sy het ook ewe voorbarig aan haar maatjies vertel wat in die toekoms gaan gebeur. Johan se optrede plaas ook die seël daarop, en vir baie Jan Bommers is dit ’n uitgemaakte saak: Op ’n dag gaan Lala haar nuwe ma kry.
Tant Bes en Annatjie kyk ook maar stilswyend toe hoe Johan nooit ver van Wanya af is nie, hoe die drie langs mekaar op die gras sit en eet en die perfekte prentjie van ’n gelukkige gesinnetjie uitmaak. Johan en Lala se oë straal en Wanya, merk hulle op, het nog nooit so ontspanne gelyk en so baie geglimlag en gelag en geskerts soos vanaand nie. Nee, Lala is seker reg. Hier is iets aan die broei.
Maar die glimlaggies en skerts is weg toe Wanya laatnag voor haar venster staan en na buite kyk. Sy kyk met traannat oë na die sterre en voordat sy bedwaarts keer, prewel sy sag: “Waar jy jou ook al bevind, Roelof … ’n geseënde Kersfees.”
Kersoggend word rustig deurgebring. Sy en tant Bes gaan saam kerk toe en nuttig ’n ligte maaltyd van koue vleis en slaai. Hoe Johan ook al daarop aangedring het, het sy geweier om die middag saam op ’n uitstappie te gaan. Sy het geweet sy kon nie. Sy het ’n besoek om af te lê. So is hy en Lala en Annatjie maar alleen weg in haar klein motortjie.
“Hoe gaan jy by die gevangenis kom?” wil tant Bes bekommerd weet.
“Ek gaan ’n taxi laat kom.”
“Wanya … ” Tant Bes kyk haar stip aan. “Jou persoonlike sake is jou eie, kind, maar dink jy nie dit het tyd geword dat jy Johan vertel dat jy ’n getroude vrou is en met wie jy getroud is nie?”
Wanya frons. “Daar is niks wat tussen ons kan vorder nie. Dit weet tannie tog.”
“Maar Johan weet dit nie. En die hele Jan Hofmeyr dink julle staan op trou.”
“Wat?” Sy luister verslae terwyl tant Bes verduidelik, en protesteer dan: “Johan het maar net sy dankbaarheid betoon toe hy my gesoen het. Daar steek niks in nie?”
“Is jy seker, hartjie?” Sy laat haar blik sak voor die reguit vraag. “Wanyatjie, dis vir niemand ’n geheim hoe Johan oor jou voel nie. Hy gaan seerkry. En Lala ook. En dalk ook ander mense.”
“Wat bedoel tannie?”
“Annatjie voel baie sterk aangetrokke tot Johan, maar omdat jy daar is … ”
“Ek is nêrens nie, tant Bes! Ek gaan vanmiddag my man besoek.”
“Dan oorweeg jy dit nie om van hom te skei nie?”
Wanya sug. “Nee. Ek oorweeg dit nie.”
“Dan is dit jou plig om reguit met Johan te praat. Jy kan dit nie langer uitstel nie. Hy is besig om sy hele toekoms om jou te bou.”
Wanya lyk diep ongelukkig en ontsteld. “Ek het nie bedoel … Ek wou hom net help, tant Bes!”
“Ek weet, hartjie. En jy sal hom weer moet help om onder ’n wanindruk uit te kom. Hoe gouer, hoe beter.”
Soos voorheen, is hierdie besoek weer ’n groot beproewing vir Wanya. Maar vandag is dit boonop Kersdag – ’n dag wat die hart week en weerloos laat. Dis ’n dag waarop dierbares saam moet wees en nie deur digte glas na mekaar moet kyk nie. En haar gesprek met tant Bes het haar meer ontstel as wat sy laat blyk het. Tant Bes sê almal dink daar is ’n verhouding tussen haar en Johan … Almal?
Soos altyd wanneer sy Niel se stoïsynse gesig deur die ruit sien, sak haar moed in haar skoene. Niel is beslis een van die gevalle waarmee Korrektiewe Dienste nie veel sukses behaal nie. Hy is verbitterd en ontoeganklik, maar sy gedrag is onberispelik. Daarvoor dra hy sorg, want hy gaan nie ’n dag langer hier sit as wat nodig is nie.
Op haar “Geseënde Kersfees” knik hy skaars. Sy begin hom maar vertel van die vorige aand se partytjie in Jan Hofmeyr. Hy luister so stil dat sy wonder of hy ooit inneem wat sy sê. “Hulle laat nie toe dat ek self vir jou geskenke koop nie. Ek het geld inbetaal sodat hulle iets vir jou kon koop vir Kersfees. Hulle het gesê jy kan sê wat jy wil hê. Wat het jy toe gekry?”
“Koekies en sigarette.” Sy mond trek wrang. “Ons het nie veel van ’n keuse nie.”
“Wat het julle vanmiddag geëet?”
“Die gewone. Dit was geen Kersmaal nie. Kersfees is vir goeie mense, nie vir moordenaars en diewe nie.”
“O, Niel, asseblief, moenie so bitter wees nie!”
“Jy weet nie wat jy sê nie, Wanya. Laat ek jou my spyskaart vir vandag gee: Ontbyt – mieliepap en brood en koffie; middagete – vyf snye brood met koeldrank; aandete – hoender, stampmielies, twee groentes en ’n hand vol droëvrugte.” Sy kan hom net sit en aankyk. “En so lyk dit elke liewe dag. Soms is daar ’n stukkie vis in plaas van vleis. Maar elke liewe dag eet ek stampmielies en brood.”
Haar ooglede val vlugtig. Hy het baie maer geword. Dan kyk sy weer pleitend omhoog: “O, Niel, hou net moed en hou uit, asseblief! ’n Groot deel is al verby. Wanneer jy die dag uitkom … ”
“Wanneer ek die dag uitkom … Sal jy daar wees, Wanya?”
Hy het dit nog nooit so direk gevra nie en haar maag gee ’n draai. Die hand wat nie die gehoorbuis vashou nie, bal tot ’n vuis saam, maar haar stem is egalig, selfs oortuigend: “Natuurlik sal ek daar wees. Ek wag vir jou, Niel. Ek is jou vrou.”
Ná haar besoek aan Niel soek sy tant Bes se vertroostende teenwoordigheid op. Dikwels het sy al haar verdriet en hartseer teen die moederlike bors uitgehuil. Vandag het tant Bes egter ’n besoeker. Sy herken die motor dadelik en huiwer by die voorhekkie. ’n Paar maande gelede sou sy die vrymoedigheid gehad het om alles met hom te bespreek, maar sy het dit nie meer nie. Daar het ’n afsydigheid, selfs ’n afstand, tussen hulle ingetree wat vir haar onverklaarbaar is en diep seermaak. Net toe sy wil wegdraai en aanstap, gaan die voordeur oop en haar naam op sy lippe bring haar tot stilstand.
Hy stap nader, steek sy hand uit. “ ’n Geseënde Kersfees, Wanya.”
Sy kyk op in sy oë, maar sy blik is veraf, byna onpersoonlik. “ ’n Geseënde Kersfees, Roelof.”
“Ek het vir tant Bes ’n geskenkie gebring,” verduidelik hy. “Sy sê my toe jy het Niel vanmiddag gaan besoek. Hoe gaan dit daar?”
“Soos gewoonlik.” Sy kyk onseker op. As sy net die moed het om hom reguit te vra … Maar hy het reeds iets aangevoel. “Skort daar iets? Kan ek help?”
“Ek … ek het jou raad nodig.”
“Jy weet dit is altyd tot jou beskikking.”
“Ek verstaan dat die hele Jan Hofmeyr dink daar is ’n verhouding tussen my en Johan. Weet jy iets daarvan af?”
Sy blik is reguit. “Ja. Ek weet die gerug doen die rondte.”
“Van wanneer af weet jy daarvan?”
“ ’n Rukkie.”
“En jy het nie daaraan gedink om dit met my te bespreek nie?”
“Ek het geen reg om my met jou persoonlike sake te bemoei nie.”
“Dan glo jy dit?”
“Dis nie belangrik wat ek glo nie, Wanya. Jou hart sal jou sê waar jou geluk lê. Die toekoms is joune om daarmee te maak wat jy wil.”
“Dan gee jy nie om nie … ?” Sy sluk en haar stemtoon verkil. “Dankie. Tot siens.”
“Wanya … ”
Sy kyk seergemaak om. “Ek is jammer. Ek het vergeet ek is maar net nog een van jou gevalle, iemand oor wie jy toesig moet hou en verslag moet lewer. En soos jy dit duidelik uitgespel het: wat in my hart aangaan, kan jou nie skeel nie. Dis my eie saak. Tot siens, Roelof.”