Читать книгу Ena Murray Omnibus 40 - Ena Murray - Страница 8

5

Оглавление

Maar voordat daardie Sondag aanbreek, beleef Wanya moeilike dae en nagte. Ten spyte van wat Roelof gesê het, sien sy haarself al meer en meer as die slegste mens op aarde, voel sy hoe die gloeiende kole van skuld al hoër op haar kop ophoop. Want die nuwe intrekkers in Jan Hofmeyr is mense wat oornag in ellende gedompel is danksy Rock Trust.

Tant Bes luister hulpeloos toe, onmagtig om die man se bittere woordevloed te keer. Hy en sy vrou staan nou ook voor tant Bes se kostafel soos armlastiges sonder trots of integriteit.

“Dis die vreeslikste ding wat my nog oorgekom het … om vir kos te moet bedel. Ek het my lewe lank hard gewerk en vir my huis en my mense gesorg. En nou, op my oudag, moet ek vir kos bedel.”

Tant Bes probeer hom paai: “Jy bedel nie, meneer Botes. Jy is genooi om hier te kom eet. Al hierdie mense is my gaste. Jy en jou vrou ook.”

Wanya se hart trek saam. Dierbare tant Bes!

Maar hy is bitter. “Jy kan dit stel soos jy wil, niggie, maar dit is bedelaarskos, en ek en my vrou is vandag bedelaars, danksy die man wat die geld gesteel het wat ek vir my oudag gespaar het. Mag sy siel vir ewig in die hel brand.”

“Piet! Asseblief, Piet!” Die verwese vroutjie aan sy sy is in trane.

“Kom ek skep vir jou ’n bietjie wortels in,” probeer tant Bes weer.

Maar die bord word hard op die tafel neergesit en Piet Botes sê skor: “Ek is nie meer honger nie. Eet jy maar, vrou.”

Marie Botes skud haar kop, vee haar trane af. “Hy is so verbitter. Ons was besig om vir ons ’n huisie in ’n aftreeoord te koop en toe stort ons lewe soos ’n kaartehuis inmekaar. Die Rock Trust-ding het ons gekelder. Daar was nog ’n hele onaangenaamheid oor kontrakbreuk, want ons kon nie voortgaan met die koop nie. As dit nie was dat ons dominee van hierdie plek geweet het nie, weet ek nie waar ons sou beland het nie. Ek sê elke dag vir Piet ons moet dankbaar wees ons het nog ’n dak oor ons kop, daar is honderde ander wat nou op straat sit. Maar Piet … ”

Tant Bes neem die lepel uit Wanya se willose hand en sê: “Gaan haal vir ons die ander pot vleis, asseblief.” Dan aan die ou vroutjie: “Kom, mevrou. Ek skep vir jou man ook ’n bord kos in. Neem dit saam huis toe. Hy sal dalk vanaand eet wanneer hy kalmer is.”

Toe al tant Bes se genooide gaste, soos sy dit so dierbaar en taktvol gestel het, huis toe is, praat sy liefdevol met die stil vrou met die strak gesig.

“My hartjie, jy moet jou Piet Botes se woorde nie so aantrek nie. Dis tog nie jý persoonlik wat hom bedrieg het nie.”

Maar sy skud haar kop, haar oë soos glassplinters. “Nee, tant Bes. Ek staan net so skuldig soos Niel. As ek net weet wat ek kan doen om te vergoed.”

“Jy is reeds besig om te vergoed, my kind. Jou liefde en diens hier in Jan Hofmeyr beteken so baie vir so baie mense.”

Maar dis ’n vrae troos vir die seer hart. As sy net weer met Roelof kon praat … Maar sy kudde is baie meer veeleisend as tant Bes s’n. Hy is ’n man. Natuurlik weet sy dat die uitnodiging opreg was toe hy gesê het sy moet hom kontak as sy hom nodig het, maar sy doen dit nie. Sy wil nie lastig wees nie. Maar toe sy daardie aand in die bed klim nadat sy vergeefs probeer bid het, wens sy innig dat hy by haar voordeur moet instap. Sy het hom so nodig … Sy is onbewus daarvan dat hy wel by haar voordeur staan, maar dan omdraai en terugstap na sy motor. Dis reeds donker in haar woonstel. Hy sal haar nie hinder nie. Maar hy het ’n bekommerde frons op sy voorkop toe hy wegry. Hy het by tant Bes verneem wat die dag gebeur het.

“Ek het haar só jammer gekry, Roelof. Sy het so verslae en verlore gelyk. Jy weet, ek wonder of die een wat in die tronk sit nie miskien die maklikste straf gekry het nie. Hier moet Wanyatjie die wêreld in die oë kyk en al die verwyte en bitterheid aanhoor. En haar man? Sit veilig agter tralies en weet van niks nie.”

Toe hy die volgende middag tant Bes se kombuisie binnestap, is Wanya se gesig geslote, die oë versluier en hy kan maar net raai wat in haar binneste omgaan.

Skielik wonder hy of dit wenslik is dat sy vandag ’n besoek aan haar man moet aflê. Maar dit is reeds gereël en miskien is dit beter dat haar eerste besoek aan die gevangenis agter die rug kom.

“Jy kan sommer saam met my ry vanmiddag,” laat hy ongeërg hoor en eers in die motor laat val hy die bom: “Ek het gereël dat jy Niel vanmiddag kan besoek.” Sy sit net stil voor haar en uitkyk en hy vra versigtig: “Of wil jy nie gaan nie?”

“Dit maak nie saak nie.”

Hy kyk fronsend voor hom uit. Sy het haar nog nooit so ver teruggetrek nie. Nie eens in daardie eerste bitter dae was sy so afsydig nie.

“Jy is nie verplig om te gaan nie, Wanya. As jy nie vandag daarna voel nie, kan ons dit uitstel.”

“Dit maak nie saak nie.”

Hy kyk weer na haar, sê dan net: “Goed dan. Dan gaan ons sommer direk daarheen.”

Dis met dieselfde uitdrukkinglose oë dat sy om haar kyk toe hulle die gevangenis binnestap. Sy hoor sleutels in staalslotte knars, sien staalhekke oopswaai. Alles is blink en superskoon. Nog ’n deur gaan voor haar oop. Dan is sy in ’n vertrek met rye afskortings soos telefoonhokkies teenoor mekaar … en digte glasvensters wat hulle van mekaar skei.

“Jy kan maar ingaan,” sê Roelof. “Ek wag hier buite vir jou.”

Sy bly staan net daar totdat hy binnekom en sy herken hom amper nie. Die groen gevangenisklere … die veel korter hare … die gesig met onbekende kepe … en oë wat ewe uitdrukkingloos na haar kyk. Dan eers stap sy nader, gaan sit teenoor hom, sien dat hy die gehoorbuis aan sy kant optel. Sy volg sy voorbeeld in ’n dwaal.

“Wanya … ”

“Niel.” Moet sy vra hoe dit gaan? wonder sy paniekerig. Maar sy kan mos sien hoe dit gaan. Ellendig.

Dis hy wat vra: “Hoe gaan dit?”

“Goed, dankie.” Sy kan nie net bly afkyk nie. Sy moet ’n slag opkyk.

Skielik is daar emosie op sy gesig. “Wat het jou besiel om so ’n mal ding te doen?” Sy kyk hom verskrik aan. “Om jou besope te gaan drink en dan agter ’n motor se wiel in te klim!” Haar ooglede sak. Sy swyg. Wat het jóú besiel om so ’n mal ding te doen? Om ou mense en arm mense van hul spaargeld te beroof? Om ’n dief te word? “Jy kan van geluk spreek dat jy so ’n straf gekry het. Buitekant, bedoel ek.” Sy knik net. “Dis hel hier binne. Ek kan dit nie vat nie. Ek weet nie of ek sal kan uithou nie.”

Sy sluk, waag dit: “Advokaat Pelzer het gesê as jy jou goed gedra, sal jy net ’n derde van die tyd sit.”

“ ’n Derde van die tyd!” Hy byt sy woorde bitter af. “Weet jy hoe lank is sestien maande? Sestien maande van hel?” Die gal in sy stem is soos iets tasbaars op haar oortrom. “En die spul met wie jy elke oomblik saam is … dieselfde geriewe deel … na wie se geselskap jy moet luister. Moordenaars, rowers, verkragters, skuim … Ek gaan mal word hier.”

“Niel … ” Sy weet wat sy moet sê, behoort te sê. Diep in haar hart weet sy sy moet hom bemoedig om uit te hou. Sy moet hom kalmeer, hom verseker sy wag vir hom. Dat sy by die hekke sal staan dié dag wanneer hy as ’n vry man hier uitstap; dat sy hom liefhet; dat sy hom mis; dat sy verlang; dat hulle weer saam sal begin bou aan ’n nuwe lewe … Maar sy kan nie. Sy kán nie!

Sy strompel uit, haar hande voor haar gesig en hierdie keer hoor sy nie eens die geknars van sleutels en hekke wat oop- en toegaan nie. Sy voel net weer die nou bekende arm wat haar vashou, weglei van hierdie verskriklike plek en Niel se bitter stem en oë.

Hy lei haar die woonstel in, wil haar laat sit, maar sy gryp hom vas, wring haar gesig teen sy bors aan.

“Hou my vas! Hou my vas!”

Hy hou haar vas, laat haar huil totdat sy slap en weerloos teen hom aanleun. Met sy sakdoek vee hy die nat wange en seer oë af, sien hoe die mondhoeke nog bewend ruk.

“Ek is jammer. Ek moes jou nie laat gaan het nie. Jy was nog nie gereed nie.”

“Dis nie jy … jou skuld nie.” Sy kyk in sy begrypende blou oë op. “Jy was nog net altyd goed vir my … baie dierbaar vir my … ”

Hy skeur sy oë van hare weg, verslap sy greep en sê: “Kom sit.”

Sy gehoorsaam, gaan sit op die kant van die divan terwyl hy op ’n stoel plaasneem. “Hy is nie die man met wie ek getrou het nie, die man wat ek liefgekry het nie.”

“Jy moet onthou dat hy hom nou in ’n aaklige wêreld bevind. Dis geen grap om ’n langtermyngevangene te wees nie.”

“Hy het so gesê.”

“En dit moet jy verstaan. Hy is saamgebondel met misdadigers uit elke vlak van die samelewing. Baie van hulle is kru, afstootlik – selfs barbaars. Ek gaan jou nie in detail vertel wat alles daar aangaan nie, maar hy kom in aan­raking met bendes en afpersing en sodomie.” Hy aarsel, gaan neem langs haar op die bed plaas. “Om uit ’n blikbord te eet en uit ’n blikbeker te drink en gevangenisklere aan te trek, maak van hom ’n ander mens. Natuurlik kan hy nie meer dieselfde mens wees as die een wat jy geken het nie. Hy gaan sy letsels opdoen en dit sal nooit regtig weggaan nie. Maar ek verseker jou ook dat die personeel alles in hul vermoë doen om hom te help en by te staan. Nie een van hulle wil sien dat hy as ’n gebroke mens ontslaan word nie. Hulle strewe daarna om diegene wat weer buitentoe moet stap, te bemoedig om die lewe van nuuts af aan te pak en ’n nuwe toekoms te bou. Maar alles kan nie van een kant kom nie. Van owerheidskant word alles moontlik gedoen om van hulle waardige mense te maak. Psigiatriese hulp speel ’n baie groot rol. Dit gaan van Niel afhang of hy sy kanse sal benut en positief reageer. En dis waar jy so ’n belangrike rol kan speel, Wanya. Jy kan hom bemoedig met jou besoeke en briewe. Jy is die een wat hom kan laat voel dis nie die einde van die wêreld nie, daar is ’n toekoms wat wag. Jy kan hom motiveer om positief te reageer op die hulp tot sy beskikking.”

Sy kyk hom troebel aan en hy vervolg, sy oë dringend: “Jy is sy vrou, Wanya. Hy voel deur die gemeenskap verwerp. Maar daar móét iemand wees aan wie hy kan vasklou, van wie hy die versekering kan kry dat hy nie totaal verwerp is nie. Dat daar iemand is wat hom liefhet, wat vir hom wag.” Hy lê sy hand teen die kant van haar gesig, kyk terug in die starende oë. “En dis net jy wat daardie rol kan vervul. Net jý.” Hy staan op, draai by die deur terug. “Jy onthou nog dat ek jou Sondagoggend kom haal?”

“Ja.”

“Tot siens.” Hy aarsel, voeg by: “En al voel jy nie die liefde van vroeër nie, dan staan jou troubelofte. Jy kan jou man nie nóú in die steek laat nie, Wanya. Wat ook al gebeur. Of jy en Niel mekaar weer sal vind en ’n nuwe toekoms saam sal bou, en of julle uitmekaar dryf, is nie nou ter sprake nie. Daar is net een ding wat jy altyd moet onthou … met of sonder Niel … moet jy vir die res van jou lewe met jouself saamlewe. Laat dit moontlik wees.”

Toe hy Sondagoggend aan die deur klop, is sy gereed. Hulle praat nie veel op pad kerk toe nie, maar dis ’n stilte wat nie hinder nie. Hy slaak innerlik ’n sug van verligting en voel tevrede en dankbaar. Sonder dat sy hom dit hoef te vertel, weet hy instinktief sy het haar stryd betreffende haar man klaar gestry. Die skaduwees onder haar oë vertel hom dat dit nie ’n maklike stryd was nie. Maar sy het vrede gemaak met wat sy weet haar te doen staan. As dit dan nie ’n pad van liefde kan wees nie, miskien nooit weer sal wees nie, is daar nog altyd die pad van plig. Hy het dit vir haar uitgespel en sy het dit aanvaar. Sy durf Niel nie nou in die steek laat nie. Dan sal hy heeltemal ten gronde gaan.

Sy luister met aandag na die preek: “Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Paulus het voorwaar baie gehad waarvan hy hom moes losmaak. Hy was ’n koelbloedige moordenaar van onskuldige mense. Hy was ’n vervolger van mense wat hom geen kwaad aangedoen het nie. Hy was ’n besetene wat ’n onheilsoorlog teen weerlose mense gevoer het. Voorwaar baie waarvan hy hom moes losmaak. As Paulus dit kon doen met en deur die genade van God, kan elke ander mens dit ook doen, maak nie saak wat jou oortreding of sonde was nie. Erger as Paulus s’n kan dit beswaarlik wees. Hy het dit gedoen. God het hom gehelp. Jy kan dit ook doen. God sal jou ook help.”

Sy is skaars bewus daarvan dat sy haar hand uitsteek, maar haar vingers word dadelik vasgevang, warm toegevou.

“Maar om jou net los te maak van die boeie wat jou gebind het, is nie genoeg nie. Wat baat dit ’n gevangene wie se boeie ontsluit is om in sy sel te bly sit? Dan moet hy uitstap in die sonlig van God se genade en hom uitstrek na ’n nuwe toekoms volgens God se wil. Dán eers kom daar sin in sy losmaak van gister se dinge … wanneer hy hom uitstrek na dié dinge wat sy Skepper oorspronklik vir hom bedoel het … die mooie, die goeie, die regte.”

Dis weer stil tussen hulle in die motor en haar blik is so na binne gekeer dat sy nie eens agterkom hulle is nie by haar woonstel toe hy die motor tot stilstand bring nie. Hulle is buite die stad by ’n pragtige eetplek en sy herken dit dadelik. Sy en Niel het ook soms Sondae hier kom eet. Sy kyk hom vraend aan, en hy glimlag.

“Ek het gedink ons twee kan ’n slaggie bederf word en vanmiddag hier eet. Sal jy?”

“Maar … ”

“Maar wat?”

“ ’n Mens moet bespreek.”

“Ek weet. Ek het bespreek.” Toe sy nog aarsel, frons hy liggies. “Wil jy nie? Is jy bang hier is dalk bekendes?”

“Nee, nee, dis nie dit nie.” Sy frons. “Dis net … Ek wou nie vroeër vra nie, maar … Is daar nie iemand wat sal omgee dat ek hier saam met jou eet nie? Is jy getroud, Roelof?”

Hy kyk haar stil aan. “Daar is niemand wat sal omgee of te na gekom sal word as jy saam met my hier eet nie, Wanya.”

“O.” Sy glimlag. “Dit sal lekker wees om ’n slag weg te kom van die woonstel af. Dankie, maar … is ek toegelaat om hier te kom?”

Hy glimlag. “Sekerlik, veral in die teenwoordigheid en met die toestemming van jou toesigbeampte. Kom, Wanya. Ek sien ook uit na hierdie ete. En daarna … ” Hy weifel, vervolg dan: “Ná die ete wil ek jou iets gaan wys.”

Terwyl hulle eet, merk sy op: “Jy weet so alles van my af, maar ek weet niks van jou af nie.” Sy voeg haastig by: “Dis nie dat ek wil indring nie, maar dis seker maar net mens­lik om nuuskierig te wees.” Sy voel skielik verleë onder sy reguit blik. Wat moet hy van háár dink? “Ek is jammer. Vergeet daarvan.”

Maar sy hand lê skielik oor hare op die tafel. “Ek dink ook dis tyd dat jy meer van my te wete kom. Dan sal jy verstaan.”

Sy lyk verward. “Wat verstaan?”

Hy kyk haar half moedeloos aan, trek sy hand terug en sê: “Baie dinge. Ons kan seker maar gaan.”

Tot haar verbasing ry hulle ’n ruk later by die hek van ’n begraafplaas in. Sy kyk vinnig na hom, maar kan niks wys word uit sy gesigsuitdrukking nie. Hy hou stil, stap om om die deur vir haar oop te maak en sy voel skielik ontsteld. Sy het die gevoel dat sy oortree.

“Roelof … Asseblief, ek het nie bedoel … ”

“Ek weet.” Hy hou sy hand uit. “Kom. Ek wil jou wys.” Hy staan regop voor haar, sy blou oë diep in hare. “Jy is die eerste mens met wie ek dit werklik deel. Kom.”

Hy kom tot stilstand by ’n kindergraf en Wanya se hart spring in haar keel toe sy die grafopskrif lees: Marius Rossouw. Sy lees die geboorte- en sterfdatum. Hy was maar vyf jaar oud. Uitgegraveer in die graniet, soos seker ook in die vaderhart, staan: Pappa sal jou nooit vergeet nie. Rus sag, my seun.

Dis lank stil. Sy het nie die moed om na hom te kyk nie en sy is ook nie in staat om iets te sê nie.

“Ek het aangedring dat Elsa en Marius met my moet saamry. Elsa wou nie, maar ek het my vervies en sy moes maar inwillig. Op pad na ons bestemming het die ongeluk gebeur. Klein Marius is op slag dood. Die ander party was die skuldige. Hy kon nie betyds stop nie, maar ek het self te vinnig gery. Ek was nog vererg omdat ek so met Elsa moes sukkel.”

Haar oë flits ontsteld na hom op. “Roelof, jy kan jouself nie verwyt nie! Dit was die ander man se skuld!”

Hy draai sy gesig na haar en haar hart ruk in haar. Die hartseer brand soos ’n blou vlam in sy oë. “So sê hulle, maar ek was agter die stuurwiel. My kind is dood. En ek wonder soms, as ek miskien ’n bietjie stadiger gery het, meer aandag gegee het aan die aankomende verkeer, meer op my hoede was … ”

“O, Roelof, nee!” Sy is by hom, slaan haar arms om sy nek, hou hom vas. “Nee, jy mag jouself nie so treiter nie! Daar is iets soos Godsbeskikking. Jy moet jou losmaak van hierdie verwyte en skuldgevoelens. Onthou vanoggend se preek. As jý jou nie kan losmaak nie, hoe kan ék ooit hoop om dit reg te kry? Jy het nie doelbewus jou kind se dood veroorsaak nie. Maar ek … Toe my probleme my wou oorweldig, het ek, in plaas van om te bid en genade te vra, my besope gedrink en ’n kind doodgery. As jý dit nie kan regkry om jou ongeluk te verwerk nie, hoe gaan ék dit ooit regkry?”

Daar is meteens ’n sagte glimlag om sy lippe en sy hande hou haar vas. “Maar ek hét dit verwerk, Wanya. Dis wat ek jou hier by die graf van my kind wou kom vertel het. Dis die boodskap wat ek vandag vir jou het: Jy kan ook. Jy kan jou losmaak van die skuldgevoelens van gister.”

Haar ooglede val en sy laat sak haar voorkop teen sy bors. “Dis nie in my geval so eenvoudig nie, my vriend. My skuld is baie groot. Daardie kind … Hy sou nog gelewe het as ek my nie aan drank te buite gegaan het nie.”

“My kind kon dalk ook nog gelewe het as ek nie so vererg en haastig was nie. Maar ook dit verstaan Hy en kan Hy vergewe.” Hy lig haar ken met sy hand, kyk met deernis na haar. “Wanya, Hy sê uitdruklik in sy Woord dat niemand Hom iets van die mens hoef te vertel nie: Hy ken hom. Hy weet dat ons stof is. Hy weet dat ons dikwels struikel en val. Hy weet dat ons probleme soms vir ons te groot word. Hy weet dat ons soms drange en gevoelens ervaar wat buite beheer raak. Hy weet al hierdie dinge. Daarom konsentreer Hy nie op ons val nie, maar op ons berou. Vir Hom is dit belangrik dat ons opstaan en die regte ding gaan doen. Ons kan verseker wees sy vergifnis is volkome.”

“Glo jy dit regtig, Roelof? Is dit regtig só eenvoudig?”

“Ek glo dit volkome en dis regtig so eenvoudig. Hy het begrip vir ons swakhede, Wanya.” Sy kop buig en sy woorde is net ’n fluistering teen haar lippe: “Ek glo Hy sal hiervoor ook begrip hê.”

Dis ’n lang en deernisvolle soen, ’n soen van begrip vir haar hartseer en vertwyfeling. Maar toe hul lippe eindelik van mekaar wegbreek, weet albei dit was ook baie meer. Hy staan weg en hulle kyk net na mekaar. Dan draai hy weg van die graf: “Kom. Daar is nog iets wat ek jou moet wys.”

Toe hy die motor weer tot stilstand bring, herken sy die gebou en hierdie keer is sy regtig bang om uit te klim. Maar soos iemand wat geen weerstand het nie, laat sy toe dat hy haar die groot gebou binnelei, die gange aflei totdat hulle by ’n deur indraai. ’n Vrou in ’n wit uniform glimlag in herkenning, groet vlugtig en stap dan uit. Willoos laat sy toe dat hy haar aan die hand nader aan die bed trek.

“Dis Elsa. Sy het in die ongeluk breinskade opgedoen. Sedertdien lê sy só.”

Soos ’n standbeeld staan Wanya en afkyk op die roerlose figuur op die bed, kyk in die oë wat soos marmeroë na niks staar. Dan is hulle terug in die gang, terug in die motor, eindelik terug na haar woonstel.

Sy kyk nie na hom nie, sê net gedemp: “Ek sal graag nou alleen wil wees. Asseblief.”

Daar is geen antwoord nie, sy hoor net die voordeur toeklik.

Dis ’n nag van diepe selfondersoek, van absolute eerlikheid teenoor eie hart én God. Maar toe die nuwe dag breek, staan elkeen by hul onderskeie vensters en soek na die laaste sterre. In die lang nag wat verby is, het hulle skuld bely, erkentenisse gemaak … maar daar is ook ná stryd en trane en gebede berusting gevind. Albei sien in hierdie môre die pad duidelik voor hulle uitgestippel lê. Albei besef daar is geen ander pad nie. En albei maak gereed vir die nuwe dag met die besef dat daar iets is wat diep in die hart weggebêre moet word nog voordat dit eens tot volle bewuswording gekom het.

In die dae wat volg, stap elkeen sy eie paadjie van aanvaarding op sy eie manier. Deur te konsentreer op die taak op hande; deur vertroosting te vind in diens aan ander.

Dis Wanya wat eerste die meisietjie in die bure se agterplaas opmerk. Die kind staan deur die ogiesdraad en loer na die bedrywigheid voor tant Bes se kostafels. Wanya kry ’n blaaskansie en stap vinnig daarheen, maar sy is skaars halfpad of die meisietjie gewaar haar en laat spaander.

“Is hier nuwe intrekkers by nommer 9?” wil sy van tant Bes weet terwyl sy en Vitorie fluks met die skottelgoed vorder.

“Nie waarvan ek weet nie, maar dit kom en gaan maar gedurig hier langsaan. Hoekom vra jy?”

“Ek het vandag ’n vreemde gesiggie by die draad gesien. Miskien was dit maar net ’n kind wat nuuskierig was.”

Maar die volgende dag gewaar sy die kleintjie weer, en sy besluit om haar uit ’n ander hoek te nader. Sy is byna by haar toe die kind haar gewaar en soos ’n verskrikte vlakhaas weghardloop. Wanya kyk haar fronsend aan.

Die dag daarna bly sy op die uitkyk vir haar, maar tot haar teleurstelling daag sy nie op nie. Die volgende dag is Sondag.

Sy doen alles moontlik om haar gedagtes in toom te hou, om nie terug te dink aan die vorige Sondag nie. Maar dit gaan swaar. Sy trek haar aan, stap na die Engelse kerkie laer af in die straat en vind vrede en rus in die gewyde atmosfeer. Maar die onrus is weer in haar toe sy die woonstel binnestap. Sy spring aan die werk, maak die plekkie van hoek tot kant skoon, was selfs ’n paar stukkies klere uit … en nog is dit ’n lang middag en aand wat voorlê.

Hy sal nie kom nie. Sy weet dit. Sonder woorde was die stille begrip tussen hulle: Jou pad is jou pad … en my pad is my pad.

Verlig en vreugdevol haal sy die volgende oggend die bus. Dit voel vir haar of sy uit ’n tronk ontsnap het. Sy kan nie langer in daardie woonstel bly nie. Sy sal gek word daar.

Daar het ’n vae plan in haar vorm aangeneem en sy opper dit later huiwerig teenoor tant Bes.

“Annatjie bly mos alleen sedert haar pa se dood, nè, tant Bes?”

“Ja, my kind. Sy wou eers ’n woonstel nader aan die werk kry, maar het toe daarteen besluit. Gesê sy sal ons ou klomp te veel mis.”

Wanya besluit om deur te druk. “Ek het gewonder, tannie … Dink tant Bes sy sal omgee as ek haar vra of ek nie by haar kan intrek nie? Ek sal my kant bring in alles.”

Tant Bes kyk op. “Maar dis ’n wonderlike idee, hartjie. Hoekom het ons nie al vroeër daaraan gedink nie? Sy is dan nie so alleen nie en jy is nader en hoef nie meer bus te ry nie … Maar natuurlik sal sy instem. Finansieel sal dit haar baie help.”

“Ek sal eers by Roelof toestemming moet kry.”

“Watter toestemming moet Roelof gee?” vra ’n stem agter haar en sy kyk verras om, die vreugde en weersiens onverbloem in haar oë.

Dis tant Bes wat verduidelik en hy kyk vraend na Wanya. “Wil jy liewer by Annatjie kom bly?”

Haar oë raak versluier. Nee, nie regtig nie. Nie as ek weet jy sal soms onverwags opdaag vir ’n kort besoekie nie. Nie as ek weet dat jy soms, soos vroeër, met teerheid en begrip met my oor gister sal praat en my sal bemoedig vir môre nie. Maar jy sal nie weer kom nie. Ek weet … En die eensaamheid en verlange dryf my tot raserny in daardie woonstelletjie. “Ja, asseblief.”

“Ek sien geen rede hoekom nie. As Annatjie gewillig is … ”

Hy is al by die motor toe iets haar byval en sy hom vinnig agternaloop. Sy vertel hom van die meisietjie en hy frons.

“Ek is nie bewus van nuwe intrekkers nie. Maar ’n mens weet nooit nie. Kyk of jy haar vanmiddag weer sien en volg haar. Miskien is sy maar net nuuskierig. Bel my kantoor toe as jy iets vasgestel het.”

Hy kyk haar vas aan en dis met inspanning dat sy omdraai en begin wegstap.

“Wanya … ” Sy kyk terug. “Ons is vriende, is ons nie?”

“Natuurlik.”

“En ek het steeds jou belofte dat jy met my kontak sal maak as jy my nodig het?”

Ek het jou nodig, maar ek kan jou nie roep nie … Oë is die spieël van die hart en hulle spreek soms ’n taal wat die lippe nie durf praat nie.

“Tot weersiens.”

“Tot siens … my vriend.”

Ena Murray Omnibus 40

Подняться наверх