Читать книгу Ena Murray Keur 5 - Ena Murray - Страница 4

1

Оглавление

Magriet sit diep ingedagte by die een agtervenster en uitstaar terwyl die netjies geklede chauffeur behendig deur die stadsverkeer vleg. ’n Oomblik bring sy haar gedagtes na die hede terug en glimlag geamuseerd teen die blinkende agterkop van James vas. Tant Estelle vind dit noodsaaklik dat hulle ’n chauffeur met uniform en al moet hê as simbool van status en aansien.

Dan frons Magriet. Wat skuil agter hierdie skielike uitnodiging van oom Dirk? Dis lanklaas dat sy ’n uitnodiging na die luukse woning van haar ryk oom aan moederskant ontvang het. Om die waarheid te sê, dis die eerste keer ná die petalje tussen Kobus en Thero …

Magriet sluit doelbewus haar gedagtes af toe dit hierdie punt bereik. Sy wil liewer nie nou aan daardie onaangename tyd terugdink nie. Sy is ook nie ’n mens wat haatdraende gevoelens bly koester nie, en in alle redelikheid moet sy erken dat oom Dirk en tant Estelle seker ook goeie grond gehad het vir baie van hul argumente wat hulle daardie tyd geopper het. Tog was dit die manier waarop hulle dit gedoen het wat so diep seergemaak het.

Die motor kom skielik tot stilstand en Magriet besef dat hulle reeds die imposante woning van die Van Zyls bereik het. Met ’n vriendelike “Dankie, James”, stap sy na die voordeur. Sy sal nooit droom om by hierdie ryk tante van haar sommer in te stap nie en sy lui die voordeurklokkie soos sy weet dit van haar verwag word.

Ná ’n paar sekondes swaai die voordeur oop en ’n meisie in ’n kraakwit oorrok verwelkom haar glimlaggend.

“Middag, juffrou Magriet.”

“Middag, Violet. Is die mense tuis?”

“Ja, juffrou, juffrou kan maar binnekom. Ek sal vir mevrou gaan sê juffrou is hier.” Die “mevrou” word op so ’n toon uitgespreek asof Violet van die een of ander koninklike hoogheid praat en Magriet lag weer in haar enigheid. Sy weet haar tante se oorbewustheid van status irriteer baie van haar vriende tot sterwens toe, maar Magriet vind dit altyd baie amusant. Daar word in die Marais-huis alte dikwels goedig daarmee gespot.

Terwyl sy in die groot sitkamer wag, verdwyn die lag egter van haar gesig en versober die grys oë. Oom Dirk, haar ma se broer, in wie se suksesvolle sakeonderneming sy as sekretaresse werksaam is, het haar vanmiddag kort voor sluitingstyd na sy kantoor ontbied. Dit het vir haar vreemd voorgekom, want oom Dirk laat nie toe dat familieverbintenis ’n rol speel in sy werk nie.

Soos elke ander gewone meisie moes sy ’n paar jaar gelede aansoek doen om die vakante betrekking by die Van Zyl-firma. Haar aansoek is net so streng oorweeg soos elkeen van die ander. En indien van die ander aansoekers beter kwalifikasies as sy gehad het, sou sy beslis nie die pos gekry het nie. Die feit dat die baas van die firma haar ma se broer is, sou niks aan die saak verander het nie. Sommer ook met die intrap het Magriet besef dat oom Dirk tuis en meneer Van Zyl in die onderneming twee verskillende mense is. Hy het haar formeel in kennis gestel dat haar aansoek suksesvol was en die hoop uitgespreek dat sy daar gelukkig sal wees. Magriet het dadelik die hele situasie gesnap en as “juffrou Marais”, soos sy aangespreek is, “meneer Van Zyl” ewe formeel bedank en op haar beurt die hoop uitgespreek dat sy bevredigende werk sal lewer.

Daar was goedkeuring in oom Dirk se oë en hy het by homself gedink: Oulike dogter hierdie van Marie. Sy ken haar plek. Sy sal haar nooit opdring nie. Ek was verniet bang dat sy misbruik sal maak van die feit dat ons familie is.

Hulle was dus op formele voet gedurende werkure. Net die enkele kere dat Magriet hom buite werktyd te sien gekry het, het sy weer “Magriet” geword, en haar baas “oom Dirk”. Magriet twyfel of iemand op kantoor bewus is van die familieband tussen haar en haar werkgewer.

En toe vanmiddag, die heel eerste keer, het oom Dirk haar na sy kantoor ontbied oor ’n persoonlike saak.

Sy het die deur agter haar toegetrek en beleef gevra: “U wou my spreek, meneer?”

Hy het opgekyk en na ’n stoel gewys. “Ja. Kom sit, Magriet.”

Sy het penregop op die aangebode stoel gaan sit en gedink daar skort beslis iets as sy op kantoor “Magriet” genoem word.

“Ja, meneer?”

“Vergeet die ‘meneer’ ’n oomblik, Magriet,” het hy effens ongeduldig laat hoor. “Jy het ons lanklaas besoek. Wil jy nie vanmiddag ná werk ’n bietjie daar aankom nie?”

“Wel … me … oom Dirk, ek kan maar, as u wil hê …” het sy aarselend geantwoord en haar bes gedoen om nie te verbaas te klink nie.

“Ek sal dit baie waardeer, Magriet. Kom drink ’n koppie tee daar. Ek sal jou tante bel en sy kan vir James met een van die ander motors stuur om jou by die werk te kom haal.”

“Ek kan maar met die bus ook ry, oom …” Maar daarvan wou hy nie hoor nie.

“James sal jou ná werk hier oplaai. Ek moet ongelukkig na ’n vergadering toe gaan, maar ek sal so gou moontlik huis toe kom. Jy kan vir my daar wag totdat ek kom, en dan sal ek jou self terugneem plaas toe.”

Magriet se verbasing het skielik oorgeslaan in onrus. Hierdie uiterste bedagsaamheid teenoor haar is vreemd. Dat daar iets agter hierdie skielike uitnodiging skuil, staan soos ’n paal bo water.

Estelle van Zyl se oorvriendelike glimlag toe sy die sitkamer binnestap, versterk hierdie vermoede net meer. Tant Estelle het nog altyd ’n soort beleefde, half neerbuigende vriendelikheid teenoor Magriet en dié se huismense gehandhaaf en baie goed die gevoel by Magriet gevestig dat, hoewel hulle familie is, die Van Zyls ’n hele trappie hoër as die mindergegoede Marais’s is. Daarom het die twee gesinne nooit juis oor en weer gekuier nie. Magriet kon nooit tuis voel in hierdie stywe, formele rykmanswêreld van tant Estelle nie. Dit was meer uit pligsgevoel dat sy die enkele kere in die verlede ’n uitnodiging hierheen aangeneem het, meestal wanneer daar vir Thero, die dogter van die huis, ’n groot partytjie gereël is. Magriet was heimlik verlig dat hierdie soort uitnodigings die afgelope jare al minder geword het. Sy het tog net nie ingepas in hierdie atmosfeer waarin haar ryk niggie grootgeword het nie, en die verskil tussen die twee niggies was net opvallender by sulke geleenthede.

Tant Estelle het later maar haar skouers ongeërg opgetrek en Magriet se naam van die uitnodigingslys geskrap. Sy het haar getroos dat sy haar plig gedoen het. Maar Magriet was haar innig dankbaar vir hierdie besluit.

En nou, skielik, loop tant Estelle vandag oor van vriendelikheid.

“Magriet! Ek is baie bly om jou weer te sien!” Dan betig sy haar glimlaggend: “Jy het ons die afgelope tyd skromelik afgeskeep!”

Magriet glimlag maar net beleef. Tant Estelle weet tog so goed soos sy dat dit nog altyd ’n ongehoorde ding vir die Marais-kinders was om ongenooid besoek by hul oom en tante te kom aflê.

Die deftige dame maak verskoning vir Thero se afwesigheid en sê dat sy darem binnekort verwag word.

Toe word hulle met tee bedien, en is net besig om tee te drink, toe Thero haar verskyning maak. Soos altyd lyk sy soos ’n prentjie en Magriet, wat al teen hierdie tyd aan haar niggie se skoonheid gewoond behoort te wees, snak onwillekeurig na asem. Die kort tennisrokkie vertoon die slanke, bruin bene ten beste en sluit styf om die ongelooflike skraal middeltjie. Die blonde hare hang in ’n goudkleurige gordyn oor haar skouers en die rooi lippe lag haar vrolik toe – en dit ontlok ’n wederkerige en spontane glimlag van Magriet.

Thero is werklik die enigste mens in hierdie gesin teenoor wie Magriet gemaklik voel en van wie sy hou – hoewel dit vreemd is, omdat die twee niggies teenoorgesteldes is in hul uiteenlopende soort lewe, asook wat geaardheid betref. Thero is ’n bedorwe brokkie en kan soms onmoontlik selfsugtig, eiesinnig en hardkoppig wees. Sy openbaar alte dikwels die kenmerkende eienskappe van die verveelde rykmansdogter wat sy is, ’n jong meisie van drie en twintig wat die woordjie “nee” nie ken nie en dit ongeërg uit haar pad stoot as dit miskien in haar pad kom. Tog is sy die enigste in die gesin wat Magriet nie met ’n ek-is-beter-as-jy-houding behandel nie.

Magriet is seker as sy en hierdie niggie die geleentheid gehad het om mekaar onder natuurliker omstandighede te ken, hulle groot maats kon gewees het. Dis asof sy soms die gevoel kry dat daar meer diepte in Thero skuil as wat ’n mens vermoed en dat die goeie in haar maar net doodgesmoor word deur al die rykdom wat haar omring en die te gemaklike lewe wat sy lei.

En dan, natuurlik, kan Thero die gaafste mens ter wêreld wees as sy al haar sjarme aanskakel. Sy kan ook net so onaangenaam wees as sy in een van haar onweersbuie is …

“Magriet! A, my hoogmoedige niggie het haar werklik verwerdig om weer ’n slag te kom kuier!”

Sy sê dit op so ’n manier dat Magriet moet lag en protesteer: “Ag, toe nou, Thero! Moenie my kom wysmaak dat jy die arme Magriet se geselskap so gemis het nie. Jou gesig is al so bekend in die sosiale rubrieke soos die naam van die koerant op die voorblad.”

Thero kyk haar egter ’n oomblik ernstig aan en sê dan sag: “Ek het jou tog gemis, Magriet, of jy dit nou wil glo of nie.” Dan glimlag sy weer, maar dis asof daar ’n skaduwee in die mooi oë agterbly. “Hoe gaan dit met oom Jan en tannie Marie?”

Magriet weet Thero vra dit nie net uit blote beleefdheid soos haar ma nie. Daar is werklike belangstelling in haar stem. Die twee meisies se oë ontmoet en albei weet dat daar nog ’n vraag tussen hulle hang – ’n vraag wat Thero nooit in woorde sal uiter nie, veral nie in haar ma se teenwoordigheid nie.

“Wel, het my ma jou toe al vertel?” vra Thero vinnig en Magriet kyk belangstellend op. Dan was haar vermoede reg. Dit is nie sommer net ’n vriendelike uitnodiging vir ’n koppie tee hierdie nie.

“Nog nie. Ek het gewag dat jy eers moet kom.” Estelle van Zyl draai nou na Magriet asof sy die een of ander vergadering toespreek.

“Magriet, Thero se gesondheid is die afgelope tyd nie na wense nie …”

Magriet kyk nou met meer aandag na haar niggie en is verbaas dat sy nie sommer met die eerste oogopslag die verandering in Thero opgemerk het nie. Miskien is dit te wyte aan die feit dat sy, soos altyd, so kunstig gegrimeer is dat daar op haar gesig geen merkbare verandering sigbaar is nie. Tog is dit nou vir Magriet duidelik dat Thero ontsettend maer is, te maer om gesond te wees. Dan is daar ook ’n senuweeagtigheid in haar bewegings, ’n ontwyking in haar oë wat verraai dat alles nie pluis is nie.

“Ek is jammer om dit te hoor, Thero,” sê Magriet met opregte spyt in haar stem. “Wat is die probleem?”

Thero lag weer, maar dit klink onnatuurlik, te traak-my-nieagtig.

“Ipekonders! My ma en pa is op hol –”

“Nie net ons nie, Thero,” val haar ma haar in die rede. “Dokter Venter …”

“Dokter Venter! Sy uitspraak moet sy rekening regverdig!” sê haar dogter smalend en die ouer vrou frons.

“Johan Venter is ’n huisvriend van ons, Thero. Hy sal nooit so iets doen om –”

“Toemaar, Ma,” val Thero haar openlik verveeld in die rede en vervolg dan verduidelikend teenoor Magriet: “Om tot die punt te kom, Magriet: ou dokter Venter het my aangeraai om na ’n hospitaaltjie van die een of ander ou eksentrieke kluisenaarsdokter daar doer in die Drakensberge te gaan. Hy dink die wêreld van hom – wat my natuurlik dronkslaan. Want as hy dan so wonderlik is, wat soek hy daar in ’n verlate ou hospitaaltjie? In elk geval, voorlopig moet ek nou net gaan om sy mening ook te kry. Ek sal hoogstens ’n paar dae uit en tuis wees.”

“En waar pas ek in?” vra Magriet reguit.

Thero glimlag lig spottend. “Dis oulik van jou om so gou te snap dat jy ook in die prentjie kom. Jy moet natuurlik saam met my gaan.”

“Saam met jou gaan?” Magriet kyk haar fronsend aan. “Hoekom? Jy is tog gewoond aan alleen rondry, en as dit net vir ’n paar dae is …”

Thero se gesig raak onpeilbaar en Magriet bly sit. Sy kan hierdie versoek nie begryp nie. Dis tog nie dat Thero ’n pieperige ou meisietjie is nie – sy is haar hele lewe lank gewoond om te kom en te gaan soos sy wil en is meestal alleen.

Dis Thero se ma wat weer eerste praat. “Dis vir my en oom Dirk onmoontlik om haar te vergesel,” sê sy. “Oom Dirk kan nie nou wegkom van die werk af nie en daar is ’n paar sosiale verpligtinge wat ek onmoontlik nou op die nippertjie kan afstel.”

Ja, natuurlik, dink Magriet met haar blik op Thero se uitdrukkinglose gesig. Oom Dirk se sakeonderneming en tant Estelle se sosiale verpligtinge is van veel meer belang as hul enigste kind se gesondheid. Dit is nie die eerste keer dat sy hierdie ryk niggie van haar diep jammer kry nie. Sy het alles wat geld kan koop, behalwe die dinge wat werklik saak maak – opregte liefde en belangstelling van die mense wat die naaste aan haar staan. Sy weet dat Thero se ouers wel bekommerd oor haar is, maar nie dermate dat hulle hul program vir haar sal verander nie.

“Ek verstaan,” sê sy en die twee meisies se oë ontmoet in woordelose begrip.

“Dus is dit net jy wat oorbly om saam met my te gaan. Sal jy, Magriet? Asseblief?”

Verbeel sy haar of pleit Thero by haar? ’n Vlugtige oomblik het haar stem gespanne, amper nederig smekend, geklink. “Ek sal die saak natuurlik eers met my ouers moet bespreek,” antwoord Magriet so saaklik moontlik. “Daar is ook my werk …”

Tant Estelle tree tussenbeide. “Daaroor hoef jy jou nie te bekommer nie. Jy sal jou salaris soos gewoonlik kry.”

Thero se mond trek weer smalend hoewel sy haar oë vinnig met haar syagtige wimpers bedek. Magriet kyk ook vinnig op haar hande af, terwyl sy wonder of hierdie vrou dan nie in staat is om aan enigiets anders behalwe geld te dink nie.

“Ek dink nie Magriet het aan die geld gedink nie, Ma,” hoor sy Thero met ’n hardheid in haar stem sê. Dan kyk sy na Magriet. “Natuurlik begryp ek dat jy eers met jou ouers daaroor wil praat, maar laat my net so gou moontlik weet wat jou besluit is, asseblief. Ons sal net ’n paar dae weg wees.”

’n Motordeur klap buite toe en Estelle van Zyl staan op. “Dis seker oom Dirk. Verskoon my, ek moet hom net ’n dringende boodskap gee.”

Toe die twee meisies alleen is, kyk hulle mekaar eers ’n oomblik in stilte aan, en dan vra Magriet sommer reguit: “Is jy bang om te gaan, Thero?”

Daar gaan ’n ligte siddering deur die skraal gestalte en net ’n vlugtige oomblik is daar vrees in die blou oë. Dan gooi sy haar blonde hare terug oor haar skouers en trek haar gesig op ’n geamuseerde plooi.

“Jy is verspot. Waarvoor sal ek bang wees? Daar skort niks met my nie – nie werklik nie. Ek het bloot ingewillig om hierdie kluisenaarsdokter te gaan spreek net om ’n end aan die gesanik te kry. Dit sal hul gewete sus as ek by die dokter was. Maar ek gaan nie alleen nie,” sê sy beslis. “Ek het belowe ek sal gaan – op een voorwaarde, en dit is dat jy saam met my gaan. Ek gaan nie alleen na daardie verlate hospitaaltjie in die berge nie. Ek sal sterf van verveling … en … Magriet, asseblief, gaan saam met my!”

Daar is nou soveel openlike smeking in haar stem dat Magriet se hart onwillekeurig saamtrek. Sy weet intuïtief dat die redes wat Thero verstrek het nie die werklike redes is nie. Thero is bang. Om die een of ander rede is hierdie wêreldwyse, selfstandige rykmansdogter bang om alleen na die hospitaaltjie in die berge te gaan. Maar hoekom? Kan dit wees dat sy diep in haar hart bang is vir die uitspraak van die kluisenaarsdokter? Is Thero sieker as wat almal vermoed en as wat sy self wil erken?

Voordat Magriet kan antwoord, kom die ouerpaar binne. “Tant Estelle sê my julle het klaar die saak bespreek. As jy gereed is, kan ek jou terugneem plaas toe sodat ons met jou ouers ook kan praat. Ons sal ongelukkig dadelik moet ry, want ek en die tante moet nog vanaand na ’n dinee toe gaan. Ek dink Thero sal seker ook iets op haar program hê, nie waar nie?”

“Ja, ek gaan dans.”

“Darem nie weer in die vroeë oggendure inkom soos verlede nag nie, my kind,” betig haar ma liggies. “Jy het vanmiddag ook nie gerus nie.”

“O, asseblief, Ma!” sê haar dogter ongeduldig. “Vyf jaar lank lewe ek al my eie lewe en kom en gaan ek soos ek wil. Hoekom moet Ma my nou skielik soos ’n kind behandel?”

Daar is ’n koppige trek om Thero se mond. Sy is weer die verwende, parmantige kind wat nie weet wat dit is om teëgegaan te word nie.

Magriet sê haastig: “Ek is gereed, oom Dirk. Ons kan maar gaan.” Sy bedank haar tante vir die tee en voeg dan by: “Ek sal julle môreoggend laat weet wat ek besluit het.”

Daardie aand sit Magriet saam met haar ouers om die kombuistafel aan vir aandete. Die gesprek gaan vanselfsprekend om Thero en haar versoek, of liewer, haar eis dat Magriet haar moet vergesel. Soos sy verwag het, is haar ouers nie daarop teë dat sy saamgaan nie. Jan en Marie Marais was nog altyd mense wat ’n helpende hand uitgesteek het waar dit nodig is.

“Die arme Thero … en die arme Estelle en Dirk,” laat haar ma nou simpatiek hoor nadat Magriet haar storie afgesluit het en hulle ook van haar vermoedens oor die werklike toestand van Thero se gesondheid vertel het.

Magriet kyk haar ma fronsend aan.

“Die ‘arme Thero’ kan ek begryp, maar hoekom die vreeslike jammerte vir oom Dirk en tant Estelle? Om die waarheid te sê, ek het op hierdie oomblik bra min simpatie vir dié twee. Ek kan net nie begryp dat hulle so blind kan wees dat hulle nie kan sien dat Thero hulle bitter nodig het nie.”

“Juis daarom, my kind, sê ek arme Dirk en arme Estelle,” antwoord haar ma sag. “Solank hulle die pas kan volhou, sal hulle dit nie agterkom nie, maar wanneer hulle eendag tot stilstand móét kom, sal hulle eers besef dat hulle die dinge wat werklik waarde in die lewe het, verruil het vir klatergoud. Eendag wanneer geld en sosiale status nie meer saak maak nie, sal hulle besef dat hulle die mooiste en teerste gawes van die lewe by hulle laat verbygaan het. Daarom is hulle meer te bejammer as Thero, want dié, dink ek, het ten spyte van haar oënskynlike oppervlakkigheid, nog ’n groter besef van dieper waardes as haar ouers.”

“Dis waar, Mams. Ek het ook al die gevoel gekry dat Thero nie werklik so oppervlakkig is soos wat dit lyk nie. Op die oog af geoordeel, lewe sy net vir plesier en gemak. Maar daar was vandag iets in haar oë …”

Jan Marais sit stil en luister na die gesprek. Hy is ’n teruggetrokke man, tevrede met sy plasie van ’n paar honderd hektaar net buite die stad; tevrede dat hy ’n redelike bestaan maak en sy vrou en kinders die nodige kan gee, hoewel nie weelde nie. Hy is nie ’n man van hoë ideale en groot ambisie soos sy swaer nie, anders sou hy seker ook soos Dirk van Zyl vir hom ’n ryk vrou gesoek het. Maar vir niks ter wêreld sal Jan Marais plekke met hom wil ruil nie. Hy praat nou die eerste keer – kalm, bedaard soos altyd.

“Thero lei ’n geweldig besige sosiale lewe omdat sy niks anders het waarmee sy die tyd kan verwyl nie. Net die feit dat sy so ’n skynbaar onversadigbare drang na plesier openbaar, bewys hoe min daardie soort lewe haar bevredig. As sy net uit daardie ongesonde atmosfeer van rykdom en ledigheid kan wegkom, sal sy kan bewys dat daar iets in haar steek. Sy het eendag iets vir my gesê wat my diep getref het …”

“So! Wat was dit, ou man?”

“Toe sy groet, het sy gesê: ‘Magriet en Kobus is twee gelukkige mense en baie ryker as wat ek ooit sal wees.’ ”

Dis ’n oomblik stil om die tafel en Magriet se gedagtes dwaal terug na haar kinderjare toe sy Thero so dikwels beny het. Haar ryk niggietjie se rokke was altyd soveel mooier en duurder as hare, haar poppe altyd soveel groter. Die tyd het verbygerol en hulle het grootgeword, en vanaand kan Magriet eerlik sê dat daar niks is wat sy haar ryk niggie nog beny nie. Inteendeel, sy het skielik vir haar ’n innige jammerte ontwikkel. Dit tref haar diep om te weet dat dit nou weer sy is wat deur Thero beny word.

“Ek gaan saam met haar, as ek julle toestemming het,” kondig sy aan.

Die ouerpaar knik asof hierdie besluit vanselfsprekend is.

Dis ’n week later toe die twee niggies in Thero se nuwe rooi sportmotor vertrek. Dis die jongste geskenk van haar pa en Magriet kan ’n uitroep van bewondering nie keer toe sy dit die eerste keer die oggend van hul vertrek sien nie. Thero is egter gewoond aan sulke duur geskenke. Sy het haar pa net met ’n koel piksoentjie bedank en half spottend na Magriet gekyk, wat duidelik in ekstase was.

“Bestuur jy, Magriet?”

“Ja.”

“Dan kan jy die eerste ent die wiel vat.”

“O, nee!” Magriet se oë rek. “Sê nou ek stamp hom in die verkeer of …”

“Wat daarvan?” is die koel vraag. “Dis net ’n motor, dis al.”

“Ja, maar …” Magriet swyg en kyk effens verleë weg.

Thero sal nie verstaan nie.

Eindelik is die twee meisies op pad en Magriet kan nie help om haar niggie stilweg te bewonder vir die knaphandige en selfs ietwat onverskillige manier waarop sy deur die stadsverkeer vleg nie. Dis duidelik dat Thero van haar kinderdae af gewoond is daaraan om groot, luukse motors te bestuur. Magriet dink aan die ou lendelam plaasbakkie waarmee sy leer bestuur het, en sug saggies. ’n Paar keer al het sy asem opgehou vir ’n botsing wat egter nie plaasgevind het nie, maar later voel sy verplig om te vermaan: “Regtig, Thero, jy moet versigtiger ry. Dit sal ’n sonde wees om hierdie pragtige motor sommer die eerste dag al te stamp. Jy lyk nie juis opgewonde oor hierdie groot geskenk van jou pa nie,” verwyt sy liggies.

Thero gee die bekende, ongeërgde swaai van haar blonde hare na agter.

“Dis nie ’n geskenk vir my nie. Dis ’n gewetenstilmaker vir Pa.”

Sy trap die petrolpedaal diep weg toe hulle die oop pad bereik en Magriet bly maar liewer stil toe die naald by honderd en sestig rond huiwer. Thero is vandag in een van haar onaangenaamste buie denkbaar. Wanneer sy so is, kan ’n mens enigiets van haar verwag. Magriet weet as sy nou ’n opmerking oor die snelheid maak, sal Thero uit skone moedswilligheid die petrolpedaal nog dieper intrap.

Dit word stil in die motor. Elke meisie is met haar eie gedagtes besig. Thero se uitdrukkinglose gesig verraai nie waaraan sy dink nie, hoewel die harde, koppige trekkie nog om haar mond huiwer. Magriet se gedagtes dwaal terug huis toe na haar ouers en bly dan huiwer by haar broer, Kobus. Onwillekeurig dink sy terug aan daardie tyd, vyf jaar gelede, toe haar ouboet en hierdie selfde niggie van haar ’n bom in die familie laat ontplof het wat amper ’n finale breuk tussen die twee gesinne gebring het.

Magriet dink nie graag terug aan daardie tyd nie, maar vandag kan sy nie daarin slaag om haar gedagtes daarvan weg te dwing nie. Wanneer die niggie-neef-verhouding tussen Thero en Kobus tot iets meer intiems ontwikkel het, weet sy nie. Sy dink dit het gebeur nadat Kobus van die universiteit af gekom het en skielik in ’n man ontwikkel het. Magriet en haar broer het van kleins af albei besef dat hierdie niggie van hulle in ’n ander wêreld as hulle lewe. Daarom te meer was Magriet en haar ouers lamgeslaan van verbystering toe Kobus op ’n dag ewe kalm aankondig dat hy en Thero op mekaar verlief is en wil trou. Miskien was die pas verwerfde ingenieursgraad die bron van selfvertroue. Hierdie feit het egter nie veel indruk op die ontstoke en verontwaardigde Van Zyl-egpaar gemaak nie.

Waar Kobus se ouers net verslae was oor die skielike wending, was Thero se ouers woedend.

Natuurlik is die eerste beswaar wat geopper is die familieband tussen die twee. Na Kobus se onomstootlike bewyse dat daar duisende niggies en neefs is wat gelukkig getroud is en welgeskape kindertjies het, is nie eens geluister nie. Vir oom Dirk en tant Estelle was net die gedagte aan ’n huwelik tussen hul dogter en haar neef iets onbehoorliks.

Thero was toe agttien en Kobus het die rype ouderdom van twee en twintig bereik. In die Van Zyl-ouerpaar se oë was Thero nog ’n blote kind so pas uit die skoolbanke. En Kobus? ’n Verwaande jong snuiter wat die graad agter sy naam as paspoort tot enige verregaande vermetelheid beskou het; ’n arm kerkmuis wat dink dat sy bietjie geleerdheid hom in staat sal stel om so vir Thero te sorg soos wat sy van haar geboorte af gewoond is.

Daar is korte mette met die twee verliefdes gemaak. Thero moes die eerste keer in haar lewe “nee” as antwoord aanvaar. Tasse is gevul met duur klere en sy en haar ma het vir drie maande oorsee vertrek in die heimlike hoop dat sy die een of ander sir of lord in die buiteland sal ontmoet wat haar van haar verspotte verliefdheid op haar neef sal genees. ’n Verbitterde Kobus Marais het ’n ingenieurspos aanvaar, so ver weg moontlik van die plek waar hy sy diepste vernedering beleef het.

Ná drie maande het Thero uit die buiteland teruggekeer sonder ’n sir of ’n lord op sleeptou, tot haar ouers se grootste teleurstelling.

Daarna het haar pragtige gesig so gereeld soos klokslag in die sosiale rubrieke verskyn. Sy het die grootste vlinder van die stad geword en dit die afgelope vyf jaar gebly. Dit het vir diegene wat die sosiale rubrieke verorber het, ’n interessante speletjie geword om te raai wie die volgende man gaan wees aan wie Thero van Zyl se naam gekoppel sal word. Tot dusver, egter, het nie een van haar talle bewonderaars daarin geslaag om ’n ring aan die slanke vinger te steek nie.

Kobus, wat die afgelope vyf jaar net vir vlugtige besoekies by sy ouers was, is ’n stil, in homself gekeerde jong man wat verkies om oor sy werk te gesels. Thero en haar ouers se naam is nooit gedurende hierdie kort besoekies genoem nie. Kobus lewe klaarblyklik net vir sy werk en het dan ook met rasse skrede opgang daarin gemaak.

Magriet voel nou weer die ou bekende pyn binne-in haar terwyl sy aan haar geliefde ouboet dink. Dis nie die feit dat Thero se ouers die verhouding afgekeur het wat soveel saak maak nie. Dit was egter die manier waarop oom Dirk en tant Estelle hul ontevredenheid te kenne gegee het, wat so diep seergemaak het. Sonder om enigsins die Marais’s se gevoelens in ag te neem, het hulle onomwonde te kenne gegee dat hulle Kobus se wens om met Thero te trou nie net as onbeskryflike vermetelheid beskou nie, maar ook as ’n belediging. Hul vlymskerp tonge het Kobus al sy selfvertroue ontneem, sodat Magriet twyfel of hy ooit weer die moed sal hê om ’n meisie die hof te maak.

Magriet sug saggies en kyk tersluiks na die stil gesig langs haar. Nie Kobus óf Thero het sedertdien enige belangstelling in die rigting van ’n huwelik getoon nie. Thero het in ’n plesierdolle vaart oor die oppervlak van die lewe geskaats en Kobus het al dieper in sy werk weggesink.

Sou Thero nog soms aan Kobus dink, of lag sy ook nou vir hul “verspottigheid” van vyf jaar gelede? Magriet wonder. Kobus se naam is nog nooit weer tussen hulle genoem nie. Dis asof daar ’n stille ooreenkoms daaroor tussen hulle aangegaan is. Tog het Magriet skielik lus om net weer een keer met Thero oor Kobus te praat.

“O ja, ek wou jou nog vertel hoe trots ek op my ouboet is,” begin sy opgewek. “Kobus is aangestel as hoofingenieur by die firma waar hy werk. Dis glo ’n besonder groot prestasie vir so ’n jong …” Dan roep sy ontsteld uit: “Thero, kyk waar jy ry!”

Net betyds ruk die groot swart motor uit die pad en skuur rakelings by hulle verby. Magriet is lam geskrik en is nog verder ontsteld toe Thero die motor uit die pad swaai en tot stilstand bring en met haar arms voor haar gesig op die stuurwiel neerval.

“Thero! Wat is dit?”

Thero lig ná ’n oomblik ’n wasbleek gesig. “Thero …”

Voordat Magriet egter nog haar hand op Thero se bewende skouer kan neerlê, het sy haar al weer reggeruk en lag onnatuurlik.

“Dis niks nie. Ek het net geskrik. Die bestuurder van daardie swart motor wil my seker braai. Ek was reg op sy kant van die pad.” Sy klim uit. “Skuif oor, Magriet. Jy kan nou oorneem.”

“Skort iets? Voel jy sleg, Thero?” vra Magriet bekommerd toe Thero langs haar aan die ander kant inskuif en sy opmerk dat selfs nie eens die grimering die bleekheid van haar wange kan wegsteek nie.

“Ek makeer niks nie,” kom die kortaf antwoord. “Moet tog nie soos ’n hen oor haar enigste kuiken te kere gaan nie. Ek is net moeg vir bestuur.”

Magriet skakel die motor aan en trek sonder ’n verdere woord weg, hoewel haar bekommernis oor Thero nie gestil is nie. Sy voel nie kwaad of seergemaak oor Thero se kortaf woorde nie. Sy besef instinktief dat hulle uit ’n seer hart kom. Sy het die wydgerekte oë gesien voordat haar uitroep Thero se blik na die pad teruggedwing het. As sy geweet het dat net die noem van Kobus se naam so ’n geweldige reaksie sou ontlok, sou sy liewer stilgebly het. Wat Thero se gevoelens ná al die jare teenoor Kobus is, weet sy nie, maar dat sy nie onverskillig en koud teenoor haar neef staan nie, is duidelik. Magriet neem haar voor om nooit weer haar broer se naam voor haar te noem nie.

Teen sononder trek Magriet die rooi sportmotor by ’n motel in. Hulle sal hier oornag en die volgende oggend die laaste skof aflê. Die afspraak met die dokter is eers die volgende oggend om elfuur, en Thero verseg om ’n minuut voor die tyd daar aan te kom.

Ná die lang en vermoeiende reis van die dag is Magriet bly dat hulle redelik vroeg, teen sononder, by die motel aankom. Met die vooruitsig dat sy Thero vanaand vroeg in die bed gaan kry sodat sy ’n goeie nagrus kan hê, stap sy ’n rukkie later saam met haar niggie die groot eetlokaal binne. Sy hou egter nie rekening met die koppige Thero nie.

Hul verskyning lok dadelik groot belangstelling onder die aanwesiges uit en Magriet weet dis nie sy wat die beroering, veral onder die mans, veroorsaak nie. Sy kan nie help om geamuseerd te wees oor die skaars bedekte belangstelling in die blikke wat hulle van alle kante ontvang nie. Thero laat haar egter die belangstelling welgeval, want sy is gewoond daaraan om ’n opskudding te veroorsaak.

Magriet kon later nie sê presies hoe dit gebeur het nie, maar voordat sy weet waar sy is, is ’n vrolike groepie op die dansvloer in die een hoek bymekaar en is sy besig om te dans met ’n man van wie se bestaan sy tot ’n uur gelede nie bewus was nie. Thero se slegte luim het verdwyn en nou lag sy met haar onweerstaanbare sjarme op na die groepie mans wat haar omring en rinkhals sy haar lyf in al die jongste danspassies met ’n energie wat Magriet verstom. Die vrolike groepie groei verbasend aan en Thero bly die middelpunt daarvan, sonder om een dans uit te sit of ’n oomblik te rus. Sy dans en lag en drink en rook met ’n aansteeklike baldadigheid.

Teen elfuur se kant raak Magriet werklik bekommerd. Thero moes al lankal in die bed gewees het. Sy hou haar niggie fronsend dop. Dis asof Thero koorsagtig aan die plesier meedoen en Magriet is geskok oor die aantal drankies wat sy wegslaan. Soos dit vir haar lyk, is sy van plan om tot dagbreek so vol te hou.

Ná ’n paar halfhartige pogings om haar oor te haal om bed toe te gaan, stap Magriet teen twaalfuur beslis op haar af en fluister dringend: “Ek gaan nou bed toe en as jy nie binne tien minute ook daar is nie, gaan ek môre terug huis toe en kan jy sien kom klaar.”

Sy wag nie op ’n antwoord nie, maar met ’n vriendelike maar besliste goeienag aan almal stap sy deur toe.

Op daardie oomblik kom ’n man wat sowat ’n halfuur gelede binnegekom het, uit die skaduwee uit sy stoel orent en hy en Magriet bereik die deur tegelykertyd. Sy aarsel en kyk na hom op toe hy beleef vir haar wag. Sy gesig is egter in die skaduwee gehul en al indruk wat sy van hom kry, is dat hy ’n hele ent langer as sy is.

Met haar bekommerde gedagtes nog by Thero, merk sy net terloops op dat hy met die trap afgaan en in ’n groot swart motor klim. Dis asof daar iets vaag bekends aan die motor is, maar sy slaan nie verder ag daarop nie.

Tot haar grootste verligting en ook heimlike verbasing is sy skaars in die bed of Thero maak haar verskyning.

“Tevrede, broeis hen?” vra Thero spottend vanuit haar kamerdeur.

“Nag, Thero,” is al wat Magriet hierop antwoord.

Dis asof sy skielik skaam word oor haar houding. “O! E … nag, Magriet. Sien jou môre.”

Nie een van die twee meisies verwys die volgende oggend na die gebeure van die vorige aand nie. Magriet het net een keer na haar niggie gekyk en toe self agter die stuurwiel ingeskuif. Thero het nie geprotesteer nie, en dit laat Magriet se kommer verdiep. Sy lyk regtig siek vanoggend en dis ook geen wonder nie. Ná al daardie drankies en bedompige sigaretrook en wilde danspassies tot middernag ná ’n vermoeiende dag sal elke mens die volgende oggend sleg lyk. Wat nog te sê as jy ’n siek mens is.

Ná ’n paar uur se ry in doodse stilte, begin hulle die berge met mening klim. Dis Thero wat die stilte nukkerig verbreek.

“Liewe hemel, is die man besete om ’n hospitaal hier te bou? Dis seker ’n plek vir kranksinniges!”

“Moenie laf wees nie, Thero. Ek dink dis nogal ’n ideale omgewing vir ’n hospitaal. Dis afgesonder, stil en rustig …”

“O, behoede my! Jy klink soos ou dokter Venter! Ek sal óf van my verstand af raak, óf doodgaan as ek in hierdie verlatenheid moet bly.”

“Regtig, Thero –” begin Magriet halfhartig. Dan val sy haarself egter geesdriftig in die rede: “O, kyk! Is dit nie pragtig nie? Kyk!”

Hulle het om ’n draai in die pad gekom en skielik doem die wit geboue van die hospitaal voor hulle op. Dis omring deur hoë, lowergroen bome en ruie struike. Dis werklik ’n pragtige toneel, en selfs Thero is verplig om onwillig te erken: “Hm. Nogal ’n luukse tronk, moet ek sê.”

“Tronk?” Magriet lag. “Dis die laaste ding waarmee ek dit sal vergelyk. Ek sal liewer sê dit lyk soos ’n luukse vakansieoord in die berge.”

“Dit is nie. Dit is ’n tronk, en ek sê vir jou nou al, hier gaan ek nie bly nie! Dis dan kilometers van die beskawing af!”

Miskien juis die rede hoekom dit hier gebou is, dink Magriet, maar sy bewaar die swye. Sy kan haar maar gereed maak vir moeilikheid. Thero is weer in een van haar koppige, onmoontlike buie.

Hulle ry deur die groot hek waaroor die woord Abendruhe in ’n boog aangebring is. Dit ontlok ’n “dit klink na doodgaan” van Thero.

’n Paar minute later word hulle deur ’n vriendelike meisie in verpleegstersuniform ontvang – die eerste teken dat hierdie pragtige plek in die berge eintlik ’n hospitaal is. Hulle sit egter skaars, of ’n binnedeur gaan oop en ’n lang man in die wit baadjie van ’n dokter maak sy verskyning.

Iets trek in Magriet saam. Terwyl die vreemdeling nader stap, raak sy oortuig daarvan dat dit nie hul eerste ontmoeting is nie. Dis die man wat sy gisteraand by die deur van die motel raakgeloop het. Die een wat in die swart motor weggery het.

Dan staan hy voor hulle.

“Goeiemôre. Ek is dokter Emile Fraser. Jy is vyf minute laat.”

Ena Murray Keur 5

Подняться наверх