Читать книгу Ena Murray Keur 5 - Ena Murray - Страница 6

3

Оглавление

Toe Ron Jooste ’n rukkie later by die kamers opdaag om sy afspraak met Thero na te kom, ontmoet hy ook vir Magriet en dring natuurlik daarop aan dat sy hulle moet vergesel. Sy willig teësinnig in, want sy weet dis net goeie maniere wat hom die uitnodiging aan haar laat rig. Thero dwing haar egter om saam te gaan.

Magriet voel soos ’n vyfde wiel aan die wa.

In die kafee is dit Thero en Ron wat die geselskap aan die gang hou en Magriet kry ’n kans om hom ongemerk te bestudeer. Soos Thero opgemerk het, is hy nog baie jonk. Dit kom ook in die gesprek uit dat hy maar die vorige jaar klaar gestudeer het en dat hy eintlik met sy verpligte hospitaaljaar op Abendruhe besig is. Hoewel hy ’n aantreklike jong man is, stem sy beslis met Thero saam dat hy gans te jonk is vir die meer ervare niggie van haar. Maar dis duidelik dat Ron self nie so dink nie.

Magriet vererg haar so ’n bietjie vir Thero wat die jong man so aanmoedig. Dit is blykbaar vir haar net onmoontlik om nie haar bes te doen om die jong dokter te betower nie. Of hy gaan seerkry wanneer die onvermydelike ontnugtering kom, skeel haar maar min. Dit is nou maar net soos Thero is. Sy kan nie sonder die bewondering van mans lewe nie. Daarom dat sy ook besluit het om hier te bly totdat die kil en afsydige dokter Fraser ook voor haar sjarme en skoonheid geswig het.

By die gedagte aan dokter Fraser kom hul gesprek van die middag weer by Magriet op en sy voel van voor af ontsteld.

Toe Ron vir hulle sigarette aanbied, neem sy ingedagte een. Sy is nie ’n gewoonteroker nie, maar soms, wanneer sy bekommerd en ontsteld is, soos nou, neem sy een om haar deur die krisistyd te help – en dit is nou beslis vir haar ’n krisistyd.

Sy bring die sigaret na haar mond, en toe Ron dit opsteek, praat iemand agter haar:

“Jy het dan gesê jy rook nie,” sê die sarkastiese stem van dokter Fraser terwyl hy langs haar kom staan.

Magriet trek ’n diep teug sonder om na hom te kyk en dis Thero wat laggend sê: “Sy rook nie eintlik nie. Net wanneer jy ontsteld is, nè, Magriet?”

“So? En waaroor is jy ontsteld, juffrou Marais?” vra hy en gaan sit op ’n stoel by hulle.

Nog steeds weier sy om na hom te kyk en in plaas daarvan om te antwoord, gee sy ’n kwaai kyk na haar niggie se kant toe.

“Ons sal môre daaroor praat wanneer ek vir my afspraak kom. Ek sal verplig wees om jou hulp in te roep, dokter,” reageer Thero vinnig.

“In verband met juffrou Marais?”

“In verband met Magriet. Sy wil nie …”

Magriet staan vinnig op en met haar oë waarsku sy Thero dat sy nou te ver gaan.

“Dankie vir die tee, Ron. Verskoon my, asseblief.”

Thero kyk haar verbaas aan. Dis nie Magriet se manier om so gou op haar perdjie te wees nie. “Magriet, luister –”

Magriet draai met blitsende oë na haar en val haar skerp in die rede. “Ek kan jou verseker dat jy verniet dokter Fraser se hulp inroep. Veral hý sal my beslis nie kan oorhaal om te bly nie.”

Sy stap met ’n stywe rug van hulle af weg en sien nie die breë glimlag wat Emile Fraser se gesig ophelder nie. Thero is egter nou regtig onrustig. Sy het werklik nie gedink dat Magriet so vasbeslote is om weg te gaan nie.

Maar dan sê dokter Fraser gerusstellend. “Daar is geen rede om jou so te ontstel nie, juffrou Van Zyl. As jy verlang dat jou niggie hier moet bly solank as wat jy hier moet wees, sal sy bly.”

“Ek is nie so seker nie, dokter. Ek begin agterkom dat Magriet ’n sagte, liewe meisie is net totdat sy haar voet neergesit het.” Sy frons bekommerd. Sy sien net nie kans om hier te bly sonder Magriet nie. Sy wil darem minstens één van haar eie mense by haar hê as … Sy sal dit natuurlik nooit hardop erken nie, maar sy is in werklikheid diep afhanklik van Magriet se bystand in hierdie tyd.

“My voet is heelwat groter as hare, juffrou!”

Sy kyk vinnig na die lang man op.

“Wat bedoel jy?”

Hy glimlag nou sy lui, skaars glimlag.

“Ek bedoel maar net jou Magriet se voetjie sal moet wyk wanneer ek my groot voet neersit. Nou sê ek eers goeienag. Ek het net ’n bietjie vars lug kom skep. Jooste, soos jy weet, het hierdie dametjie môreoggend ’n afspraak met my. Moenie dat sy te laat in die bed kom nie. Daar wag ’n vermoeiende dag op haar.”

Toe Thero heelwat later by Magriet se kamer inloer, maak Magriet asof sy slaap. Sy het nie eens die moeite gedoen om aandete te gaan eet nie. Thero draai saggies om en gaan na haar eie kamer, maar lank nadat die lig afgeskakel is, lê Magriet nog helder wakker in die kamer langsaan. Sy weet self nie hoekom die man haar so ontstel nie. Sy het tog niks met hom te doen nie en wat hy van haar dink, behoort aan haar geen bloue duit verskil te maak nie. Die onregverdigheid van sy aantygings steek haar egter dwars in die krop.

Maar omdat hy hier op Abendruhe koning kraai, verbeel hy hom dat hy net kan sê wat hy wil en kan veroordeel soos hy lus het. Almal hier beskou hom mos as ’n soort godjie wat nooit verkeerd kan hê nie. Almal is siek van bewondering en heldeverering vir hom. Al die vroumense hier op Abendruhe staar hom aan asof hy die eerste Adam is.

Wel, wat haar betref, kan hy na die maan vlieg. Hy sal gou besef daar is ten minste één lid van die vroulike geslag wat nie swak raak van bewondering wanneer hy na haar kyk nie. “Na die maan met hom!” herhaal sy ’n tweede keer en draai beslis om om te slaap. Môre – of so gou moontlik – keer sy terug na haar ou lewe …

Voordat sy aan die slaap raak, dink sy nog half deur slaapnewels: Hy behoort ’n baard te hê. Alle kluisenaars het baarde.

Die volgende oggend is Magriet verbaas dat Thero nie weer die storie van die wegganery ophaal nie. Dis eers net voor haar vertrek vir haar tienuur-afspraak met dokter Fraser dat sy weer daarna verwys.

“Ons praat later oor jou besluit om nie langer te bly nie, Magriet. Laat ons maar eers hierdie ondersoek agter die rug kry. Miskien vind hulle dit glad nie eens nodig dat ek behandeling moet ontvang nie en dan was al die bohaai oor niks.”

Magriet knik instemmend. Sy wil haar niggie nie graag vanoggend onnodig ontstel nie. Thero lyk bleek en moeg en daar is ’n gespanne trek om haar mond en oë. Sy kry haar skielik innig jammer, slaan haar arms spontaan om haar skouers en gee haar ’n drukkie.

“Ek sal aan jou dink, Thero. Sterkte, hoor!”

Thero lag, maar haar senuweeagtigheid is duidelik waarneembaar.

“Hemel! Jy klink asof ek op pad is graf toe!”

“Thero! Moenie sulke ydel goed sê nie!”

Die blonde hare word weer op die ou traak-my-nieagtige manier na agter gegooi.

“Ek makeer niks nie – altans nie veel nie.” Sy lag hard en Magriet skrik. Thero klink paniekerig. “Dit sal nogal jammer wees as hulle niks ernstigs vind nie en ek nie vir behandeling hoef te bly nie. Ek sou werklik graag nader wou kennis maak met die groot en, ag, so afsydige dokter Fraser!”

Magriet skud net haar kop. Sy hou niks daarvan as Thero in so ’n onverskillige bui is nie – te meer omdat sy ’n sterk vermoede het dat dit maar net ’n skans is waaragter haar niggie skuil om nie haar ware gevoelens te laat blyk nie. Sy besef dat Thero werklik bang is vir wat op haar wag. Met ’n onverskillige swaai van die hand verdwyn Thero in die rigting van die hoofgebou.

Magriet is dwalende gedurende die lang ure wat volg. Teen etenstyd is daar nog geen taal of tyding van Thero nie en Magriet drink net ’n koppie tee. Dan begin sy maar weer in die tuin ronddwaal, maar sy sorg dat sy nie te ver van die hoofgebou beweeg nie. Teen vieruur die middag voel dit vir haar asof die spanning breekpunt in haar wil bereik. Wat maak hulle dan so lank met Thero?

Dis eers teen vyfuur se kant dat dokter Fraser skielik sy verskyning by die hoofingang maak. Die eerste keer sedert hul kennismaking is Magriet bly om hom te sien. Sy stap hom vinnig tegemoet, maar toe sy voor hom staan, het sy skielik geen woorde nie.

“Kom ons gaan stap.”

Sy bevel is kortaf, bot, en haar hart sak in haar skoene terwyl sy in ’n dwaal gehoorsaam. Sy kyk angstig op in sy gesig, maar dit is onleesbaar. Dan kan sy dit nie langer uithou nie en vra bekommerd: “Wat skort, dokter? Is dit … baie ernstig?”

“Ek kan nie met sekerheid sê voordat ek al die toetse se uitslae ontvang het nie. Party sal ek eers môre kry.”

“Maar … maar wat is jou bevinding tot dusver?”

“Dat ek lanklaas ’n mens teëgekom het wat so doelbewus daarop uit was om selfmoord te pleeg as jou niggie.”

Magriet verbleek.

“Wat … wat bedoel jy?”

“Haar gesondheid is tot in die ergste graad verwaarloos, haar lewensomstandighede in ag geneem. As ’n mens daaraan dink dat sy uit ’n rykmanshuis kom waar geld nie ’n kwessie is om die allerbeste kos te koop nie, is dit ongelooflik om te sien hoe ondervoed haar gestel is en hoe verswak sy is weens ’n tekort aan die regte voedingstowwe. Met ander woorde, juffrou Marais, jou niggie is besig om onder jou en die res van die familie se oë te sterf van honger – liggaamlike honger en ook sielshonger!” kom dit afgemete.

Sy woorde tref haar soos ’n hou tussen die oë. Die beskuldiging is so duidelik in sy woorde dat sy dit onmoontlik kan ignoreer. Maar sy kan hom net aanstaar.

Hy gaan in die kil, veroordelende stemtoon voort: “Dis nommer een. Ondervoeding. Blykbaar verkeer sy nou al maande, of selfs jare, onder die indruk dat talle drankies en die soutigheid wat gewoonlik daarby bedien word, voldoende is om ’n liggaam sterk en gesond te hou. Dan, nommer twee, is sy in ’n staat van volslae uitputting. Elke vesel in haar liggaam is tot die uiterste ontdaan van energie. Sy het geen reserwekrag nie. As sy nou, sê byvoorbeeld, ’n ernstige verkoue moet opdoen, het sy geen kans nie. Met ’n roekelose plesiermal lewe het sy haar liggaam so afgetakel dat ek dit as niks anders as selfmoord kan bestempel nie. Veral haar spysverteringstelsel is baie verswak.”

Hy kom tot stilstand en die groen oë skiet nou vuurvonke op haar. Sy hande is in vuiste saamgeklem.

“Sy is ’n ryp teelaarde vir al wat kiem en ellende is. Trouens, sy kan kies watter soort siekte sy wil hê! Sy is presies reg vir tuberkulose met haar verswakte gestel en nikotienbelaaide longe!”

In sy erns gryp hy Magriet pynlik aan die skouers vas. “Watter soort ouers is dit wat toelaat dat hul enigste kind onder hul oë in so ’n toestand verval en dit in ’n huis waar geld soos water vloei? Watse soort familie het sy wat nie eens ’n oog knip terwyl sy voor hul oë selfmoord pleeg nie? Julle is gisteroggend van die huis af weg, juffrou Marais. Noem vir my op wat sy geëet het tot vanoggend toe sy na my toe moes kom.”

“Ek … ek is nie seker nie,” erken Magriet stamelend en konsentreer hard. “Seker maar dieselfde as ek …”

“Jy weet niks nie, juffrou Marais. Sal ek jou vertel, hoewel jy by haar was gedurende maaltye en nie ek nie? Niks. Totaal niks, om die eenvoudige rede dat die oomblik dat sy vaste kos in haar maag kry, sy dit dadelik weer sal opbring omdat haar verswakte spysverteringstelsel dit nie kan verwerk nie. Weet jy dat sy weke laas ’n ordentlike maaltyd binnegehou het – ’n maaltyd wat haar kon voed? Nee, jy weet dit nie en jy is haar niggie en haar enigste vriendin, soos ek verstaan.”

Magriet het geen woorde om haarself te verdedig nie. Sy staan net spierwit en verslae voor hierdie man se reguit beskuldigings. Dis asof daar skielik ’n rolprent voor haar oë afspeel. Sy dink terug aan die ete in die motel. Thero het haar kos gesit en deurmekaarkrap terwyl sy die hele tyd met die mense by die tafels om hulle gesit en ginnegaap het. Sy het nooit opgemerk dat Thero in der waarheid niks eet nie. Gisteraand het sy net ’n koppie tee gedrink, en vanoggend dieselfde. Magriet het maar gedink dis as gevolg van die spanning oor die ondersoek wat voorlê dat Thero geen eetlus het nie. En nou moet sy hoor dat Thero weke laas werklik geëet het. Trouens, sy moet hoor dat Thero nie meer kán eet nie, al wil sy ook!

’n Siddering trek deur haar. Liewe Heer, was hulle dan almal blind?

Dokter Fraser se stem dring deur na haar ontstelde gemoed. “Ek het sulke soort mense al in die agterstrate van stede opgetel, liggaamlik misvorm deur hongersnood, met toiings wat hul vermaerde liggame bedek, uitpeuloë en ’n idiotiese verstand. Maar dat so iets kan gebeur in ’n huis waar kos in oorvloed is en geld genoeg om elke buitensporige gier te bevredig, sou ek nooit kon glo nie!”

“Ek … ek kan dit ook nie glo nie!” fluister Magriet skor, tot in haar wese geskok oor wat sy moes aanhoor.

“Maar dit is so! Ek sal jou na haar toe neem. As ek na haar kyk, voel dit vir my ek kan moord pleeg. Ek kan myself net nie keer nie. Ek raak buite myself wanneer ek sulke dinge teëkom. ’n Pragtige, welgeskape liggaam met ’n uiterlike skoonheid wat aan min geskenk is. Maar sy is ’n lyk – ’n pragtige, asemhalende lyk! En ek – ék moet weer van haar ’n mens maak!”

Sy pleit met haar oë dat hy nie so hard en genadeloos in sy veroordeling moet wees nie; dat hy in redelikheid moet erken dat Thero darem tog ook ’n grootmens is en dat die grootste oorsaak van haar huidige toestand dus by háár gesoek kan word. ’n Mens kan immers ’n perd net tot by die water bring. Maar Emile Fraser is blykbaar nie in ’n redelike bui nie. Êrens moet die rede vir die rykmansdogter se skokkende toestand gesoek word en hy is nie op hierdie oomblik geneig om dit te soek by daardie persoon wat ’n uur gelede tot ’n gebroke mens voor sy oë verkrummel het nie.

Emile Fraser is ’n man wat nie met halwe werk tevrede is nie. Hy het nie gerus voordat hy Thero van Zyl se hele hart en siel oop voor hom gesien lê het nie; voordat hy nie tot die diepste skuilhoeke van haar hart deurgedring het en sodoende die waarheid ontbloot en haar gedwing het om dit te erken nie. Eers het sy erken dat sy werklik siek en swak voel. Ná nog ’n paar vrae het sy vorendag gekom met die feit dat sy nie meer vaste kos kan binnehou nie. Eindelik het sy erken dat sy snags slapeloos lê en rondrol. Toe, eindelik, het sy erken dat daar iets is wat haar gedurig jaag, van die een plesierplek na die ander, van die een sigaret na die ander, van die een drankie na die ander, van die een man na die ander. Eindelik het sy gebreek en erken dat haar lewe ontaard het tot een wilde, roekelose, desperate soek na iets wat sy nie by die naam kan noem nie.

En Emile Fraser het haar innig jammer gekry, want hy het verstaan. Nie net was dit sy lewenstaak om die kwaad van die liggaam op te spoor en gesond te maak nie, maar hy ken ook daardie donker skuilhoeke van die menslike gees waar die werklike oorsaak van die fisieke kwaad alte dikwels gesoek moet word. Daardie geheimsinnige, onverklaarbare “iets” wat Thero nie by die naam kan noem nie, het hy dadelik geëien: die inherente eensaamheid van elke mensesiel en die ingebore hunkering na liefde – opregte, onselfsugtige liefde. Kortom, hy het Thero van Zyl gesien soos wat sy is – ’n eensame rykmansdogter wat gedurig op soek is na liefde en opregte belangstelling. Party mense kan met baie min liefde klaarkom. Thero van Zyl, egter, kan nie sonder baie liefde bestaan nie, ten spyte van haar onverskilligheid wat sy soos ’n mantel om haar gevou het.

Sy is ’n vrou ryp vir die volwasse liefde van ’n man en gereed om sy kinders te baar, maar onder haar tientalle bewonderaars kon sy nie één vind wat werklik in Thero van Zyl belangstel nie. Hul belangstelling was in die ryk Dirk van Zyl se dogter en die mooi liggaam en beeldskone gesig wat die wellus in hulle opgewek het. Nie één het probeer om Thero, die mens, te ontdek en lief te kry nie. Daarom het sy haar eensaamheid gedoof met die geblêr van dansmusiek en dit probeer benewel met alkohol. Tot op daardie oomblik toe haar gees geknak het en sy nie langer kon toneelspeel voor die kennersoë van dokter Fraser nie. Haar koppigheid, wat haar tot dusver staande gehou het, moes swig voor die akkurate ontleedmes van die dokter se vasbeslotenheid om tot die kern van die kwaad deur te dring. En toe sy dit verloor het, was daar geen rede om langer te probeer voorgee dat sy anders is as wat sy is nie.

Indien Magriet in daardie ure teenwoordig kon wees, sou sy met ’n heeltemal ander Emile Fraser kennis gemaak het. Sy sou verbaas gestaan het oor die medelye in sy stem en die innige begrip wat uit sy oë gestraal het. Maar toe Thero eindelik gekalmeer is en onder die invloed van ’n verdowingsmiddel uitgeput aan die slaap geraak het, het die woede van daardie selfde man oorgekook. Op iemand moes hy dit uitstort, en Magriet was die beskikbare mens.

“Ek …” Die trane rol oor Magriet se wange. “O, die arme Thero! As sy net gepraat het, vir my die geringste blyk gegee het van …”

Maar haar trane bring geen versagting in die stroewe gesigsuitdrukking nie.

“Moet ’n mens dan altyd vrá om belangstelling en liefde? Is dit dan nie die geboortereg van elke mens om bemin te word, veral deur hulle wat met dieselfde vlees en bloed aan jou gebind is nie? Moet ’n mens dan altyd sméék vir wat jou na regte toekom, soos ’n hond wat onder die tafel sit en wag vir ’n krummeltjie wat dalk na sy kant toe val? Dis nie net die huis waarin Thero grootgeword het wat skuldig staan nie. Dis ook die res van haar familie, eintlik die hele samelewing. Almal staan skuldig – ook jy! Thero, die onafhanklike, die meisie wat in die waan verkeer het dat sy sonder die begrip en liefde van ander kan klaarkom, maar dit tog so bitter nodig het, het jou gevra om haar by te staan. Sy het jou gevra om hier by haar te bly, nie omdat dit ’n blote gril van haar is nie, maar omdat sy jou werklik nodig het. Maar jy het geweier. Dit was te veel gevra!”

“Dokter, asseblief, hoe moes ek weet …?” roep sy dringend uit. “Ek het nie die vaagste benul gehad dat dit werklik so ernstig is nie!”

“En noudat jy weet? Noudat ’n vreemdeling jou oë vir jou moes oopmaak?”

“Natuurlik sal ek bly!” roep sy spontaan uit.

“So lank as wat nodig is – al is dit ’n paar maande?”

“So lank as wat sy my hier wil hê.”

“Dankie, juffrou.” Hy kyk haar stil aan. “Ek moet teruggaan.”

“Ek … sal nog ’n rukkie hier bly.”

Toe dokter Fraser uit haar gesigsveld verdwyn, draai Magriet om en stap blindelings verder met die bergpaadjie langs. En soos sy stap, keer nugtere rede tot haar terug. Aan die begin was haar verstand te beneweld van skok om haar teen dokter Fraser se beskuldigings te verweer, maar nou begin sy alles weer in die regte perspektief sien. Emile Fraser sien net een kant van die saak. Maar daar is ook die ander kant, of het hy haar nie gevra hoeveel liefde en belangstelling sy, Thero self, gegee het nie? Of sou die vername dokter onbewus wees van die feit dat ’n mens nie van ander kan verwag wat jy self nie bereid is om te gee nie?

“Jy is so diep aan die dink dat ek amper te bang is om jou te steur,” sê ’n stem hier vlak by haar en sy kyk vinnig op na Ron Jooste.

“O, dis jy.”

“Ja. Ek het jou kom soek om jou van Thero te vertel, maar dokter Fraser het netnou by my verbygekom. Ek neem aan hy het jou alles vertel.”

“Ja. Ron, is … dit werklik so ernstig?” vra sy huiwerend, half hoopvol. Maar Ron knik sy kop en sê fronsend: “Dit is, Magriet. Dit gaan maande duur om haar weer heeltemal reg te kry. Sy sal byvoorbeeld van voor af soos ’n babatjie gewoond gemaak moet word aan vaste kos. En dan, natuurlik, is daar haar senuweetoestand. Die oorsaak daarvan moet gesoek word. Dit sal nie help om haar liggaam gesond te maak en haar gees bly siek nie, want dit is die kern van haar toestand.” Hy frons. “Daar is nog iets wat sy wegsteek. Ek is seker daarvan. Iets wat selfs dokter Fraser nie uit haar kon kry nie. Ek wonder …”

“Wat bedoel jy, Ron? Volgens hom het sy hom alles van belang vertel. Ek is verbaas dat hy dit reggekry het. Thero was nooit iemand wat oor die dinge binne-in haar kon praat nie.”

“Dokter Fraser het net die slag om mense aan die praat te kry, om dinge uit hulle te trek. En tog dink ek daar is in Thero se geval nog iets wat sy terughou, iets waaroor sy beslis weier om te praat.”

Magriet frons. Sou Thero dokter Fraser van Kobus vertel het? En indien nie, het sy, Magriet, die reg om hom daaroor in te lig? Maar tog het sy nou die dag amper die motor omgegooi toe jy net van Kobus begin praat het, fluister ’n stemmetjie diep binne-in haar. Magriet besluit tog om niks hiervan te rep nie.

“Ek het besluit om vir eers te bly,” vertel sy nou vir Ron.

“Het dokter Fraser jou gevra om te bly?” Hy lyk aangenaam verras.

“Ek sou nie sê hy het my gevra nie,” antwoord sy droog, en Ron glimlag. Hy het sy hoof se blitsende groen oë gesien – ’n teken dat iemand dit ontgeld het.

“Hy het dit seker nie so erg bedoel nie, Magriet,” troos hy haar. “Thero se toestand het hom baie ontstel. Vir my ook. Hy is eintlik ’n wonderlike mens – en tog ken niemand hom werklik nie.”

“Wat bedoel jy?”

“Hy staan eenkant … alleen. Hy wy sy hele lewe aan sy medemens en tog kom dit voor asof hy self niks van sy medemens nodig het nie. Buite die hospitaal is hy ’n kluisenaar, tevrede met sy boeke en sy Duitse herdershond, Baron.”

“Dan is hy nie getroud nie. Ek het so iets vermoed.”

“Nee, hy is nie, en ek is byna seker daarvan dat daar ook geen vrou in sy lewe is nie. Hy het blykbaar nie tyd vir daardie sy van die lewe nie. Maar hy is hartstogtelik lief vir blomme. Hy het self die tuin van die hospitaal beplan en gehelp uitlê.”

“Nou werklik, nè?” Magriet kan die sarkasme nie uit haar stem hou nie. “Jou dokter Fraser is beslis ’n man van uitsonderlike en uiteenlopende karaktertrekke. Ek sou nie blomme met hom vereenselwig nie. Miskien vetplante nog – die geharde soort wat oortrek is met dorings, gereed om net altyd te steek.”

Ron lag hartlik.

“Jy is vasbeslote om nie te glo dat daar ’n sagter sy aan Fraser is nie, nè? Dis omdat jy hom nog nie met sy pasiënte gesien werk het nie. Of tussen sy blomme gesien het nie, of met Baron gehoor praat het nie! As jy eendag tyd en lus het, gooi ’n draai by sy huis en gaan kyk na sy blomtuin. Dit sal jou na jou asem laat snak.”

“Het hy dan ’n eie private woning hier? Ek het gedink hy woon sommer in die hospitaalgebou.”

“Nee. Sy huis staan aan die ander kant tussen die bome, buite sig van die hospitaal.”

“Waar woon jy?” vra sy om die gesprek oor dokter Fraser af te sluit. Sy het geensins lus om verder oor dié man te gesels nie.

“In die hoofgebou. Aan die agterkant is al die kamers van die personeel. Ek het ’n woonstelletjie. Selfs dokter Pienaar het sy eie woonstel wanneer hy hier is.”

“Dokter Pienaar? Dis die eerste keer dat ek van hom hoor. Wie is hy?” vra sy belangstellend.

“Lukas Pienaar is die oudste van ons drie – hy trek by die sestig. Hy was reeds op Simonsvlei geneesheer toe Fraser Abendruhe laat bou het. Hy was toe ’n sukkelende algemene praktisyn wat sy bes gedoen het om die hospitaaltjie op Simonsvlei aan die gang te hou. Dokter Fraser het hom toe na ons toe laat kom, ook die hospitaaltjie op Simonsvlei van die staat oorgeneem en nuwe lewenslus in Lukas Pienaar gepomp.”

Magriet sug saggies by haarself. Hulle is weer terug by die ou onderwerp – dokter Fraser! Sy wonder vererg of ’n mens dan oor niks kan praat waar hy nie prominent op die voorgrond sal wees nie.

“Hoe het hy dit reggekry? Die een of ander towerformule gebruik?” vra sy.

Maar Ron gaan ongesteurd voort: “Hy het die hospitaaltjie op Simonsvlei opgeknap en gesorg vir geriewe wat dokter Pienaar weer die lus gegee het om ’n dokter te wees. Eintlik is die Simonsvlei-hospitaal Lukas Pienaar se verantwoordelikheid. Hy bly ook daar en is hoof daarvan, daarom dat jy hom nog nie hier raakgeloop het nie. Hy kom net hierheen as hy met ’n operasie moet assisteer en dokter Fraser kom net op Simonsvlei om dieselfde rede. Volgens Fraser is Lukas Pienaar ’n geneesheer van formaat wie se talent net te laat in sy lewe ontdek is. Dokter Fraser het al baie by hom aangehou om te gaan spesialiseer, maar hy wil nie. Sy ouderdom tel natuurlik teen hom en dan … hy het hier as jong dokter gekom met baie ideale en drome – soos ons almal maar. Hy is ook later hier getroud, maar sy vrou is vroeg oorlede. Hulle was kinderloos. Teen daardie tyd was hy al klaar in ’n groef. Dis dokter Fraser se koms wat hom daaruit geruk het. Dis verbasend wat hy ondanks sy ouderdom verrig. Dokter Fraser roep hom dikwels ook in om sy mening oor ’n geval te gee en ek weet dat hy groot respek vir die ouer man het.” Dan kyk hy haar skuldig aan. “Ek is jammer. Ek verveel jou seker.”

“O, nee, nee, glad nie. Ek vind dit baie interessant,” verseker Magriet hom haastig. “Maar vind julle dit nie soms eensaam hier nie, Ron? Is hier darem ontspanningsgeriewe vir julle?”

“O ja. Jy het seker al die swembad en tennisbane gesien. Dan speel ons dokters ook soms gholf en daar is selfs ’n bibliotekie. Ons reël dikwels ’n brugaand en daar is gereelde vervoer beskikbaar na die naaste dorpe vir die personeel. Ons hou ook soms partytjies waarop ons dan ’n bietjie dans …”

Magriet lag hardop.

“Ek sal graag die heer Fraser wil sien dans! Hy het my so pas juis die leviete voorgelees oor dieselfde ding.”

“Dokter Fraser loer dikwels by ons partytjies in, vereer een of twee van die skone dames met ’n dans en verdwyn dan weer.”

“Werklik, Ron, ek sal dit eers kan glo wanneer hy voor my staan en my vra om met hom te dans – en ek is bevrees ek sal dan nog van ongeloof en verbasing beswyk.”

“Ag, kom nou, Magriet! Hy is ook maar net ’n mens.”

“Is hy?” Haar stem is kil. Om háár darem verantwoordelik te hou vir Thero se toestand … “Nee, hy is nie ’n mens nie, Ron. Hy is jul afgod en my regter. Ek …”

Ron kyk oor haar skouer en spring skielik orent op aandag. “Soek jy na my, dokter?”

“Nee. Ek en Baron maak net litte los,” antwoord dokter Fraser en sit sy hand liefkosend op die kop van die pragtige hond aan sy sy. Sy blik gaan koel na die meisie langs sy jong assistent en dié lyk beslis verleë.

Van nie weet wat om te sê nie, vra sy: “Mag ek Thero vanaand besoek, asseblief?”

“Sekerlik. Maar nie te lank nie. Sy moet rus.”

“Ek begryp. Dankie.”

“O, dokter Fraser, voordat jy verder stap … Daar is iets wat ek jou nog wou vra. Gee jy om as ek so ’n entjie saam met jou en Baron stap solank ons die saak bespreek?” laat Ron vinnig hoor toe dokter Fraser aanstaltes maak om sy wandeling met sy hond voort te sit.

“Nee, glad nie, as juffrou Marais ons sal verskoon.”

“Sekerlik. Ek gaan nou terug kamer toe,” antwoord Magriet en kyk hulle agterna toe hulle wegstap hoër op met die bergpaadjie langs. Dan draai sy om en begin terugstap in die teenoorgestelde rigting. Sy voel kriewelrig. Hoeveel van haar en Ron se gesprek het hy gehoor? Hy moet beslis die laaste paar sinne gehoor het. Hy en Baron het so stil verskyn. Nie dat dit saak maak of hy gehoor het nie, vertel sy haarself vinnig. Hy het nie doekies omgedraai oor wat hy van haar dink nie. Dit kan haar ook nie skeel as hy gehoor het wat sy van hom dink nie.

Dis ’n rukkie stil tussen die twee mans nadat hulle die mediese probleempie waaromtrent Ron sy senior se raad gevra het, bespreek en opgelos het.

Dan lag die ouer man en merk droog op: “Ek is blykbaar nie eintlik in juffrou Marais se goeie boekies nie!”

Ron lag selfbewus.

“Aan wat ek kon aflei, moet jy haar kwaai oor die kole gehaal het.”

“Hm. My woede was nie soseer teen háár gemik nie. Wat kan ek doen om weer die vrede te herstel? Vir haar ’n bos rose stuur?”

Ron kyk hom onseker aan. Hy kan nie agterkom of die man ernstig is of spot nie. Hy waag dit om te sê: “Sy sal dit beswaarlik glo dat so ’n vredesoffer van jou afkomstig is.”

“Hoekom?”

“Wel, sy het gesê sy kan jou nie met blomme vereenselwig nie. Liewer met ’n geharde vetplant wat oortrek is met dorings wat net altyd gereed staan om te steek.”

Dokter Fraser gooi sy kop agteroor en lag hartlik. Hy lyk op hierdie oomblik verbasend jonk en kommerloos. Die groen oë vonkel.

“Weet jy miskien waar ’n mens van daardie soort kaktusse te koop kan kry, dokter?” vra hy geamuseerd en stoot dan die hek oop wat na sy private woning toe lei.

Toe Magriet later in die aand by Thero se kamer in die hospitaal instap, trek ’n skok deur haar liggaam. Thero se gesig is so wit soos die kussingsloop onder haar kop noudat alle tekens van grimering verwyder is. Sy lyk klein en bleek en pateties eensaam in die vreemde omgewing. Magriet stap vinnig nader.

“Thero …”

“Magriet, ek … ek kon nie meer nie …”

“Natuurlik. Ek verstaan,” sê Magriet kalmerend. Haar keel voel skielik dik en sy neem die een skraal hand in hare. “Daar is niks om oor bekommerd te wees nie. Rus nou goed en raak gou gesond.”

Die blou oë kyk angstig na haar op. Op daardie oomblik is daar geen teken van die ou selfversekerde Thero nie en dit maak Magriet skielik seer om die afhanklikheid van haar altyd so selfstandige niggie te sien.

“Magriet, dokter Fraser sê dit sal vir ’n paar maande duur. Sal jy …?”

“Natuurlik sal ek hier by jou bly. Ek sê mos daar is niks om oor bekommerd te wees nie. Ek het dokter Fraser reeds belowe ek sal hier bly.”

Thero kyk haar dankbaar aan. “Dis dierbaar van jou, Magriet. Hy het my gesê ek kan op jou reken. Jy sal my nie in die steek laat nie.”

“O, so?” Magriet se oë rek in ongeloof. “Wanneer was dit?”

“Vanoggend nadat jy uit die kafee uit is en weer vanmiddag gedurende die ondersoek. Hy is ’n wonderlike mens, Magriet. Hy het net … net al my skanse afgebreek met ’n paar woorde.” Sy glimlag skeef. “Ek weet self nie hoe dit gebeur het dat ek sommer alles uitgelap het nie …” Haar stem sterf weg en sy sluit haar oë moeg.

“Moet jou nie daaroor kwel nie, Thero. Dit was die beste ding wat jy kon doen. Dis goed dat jy ’n slag kon uitpraat. Ek is seker alles sal regkom. Jy moet net rus.”

“Moenie nou al gaan nie, Magriet. Bly hier by my. Ek voel so alleen.”

Magriet weet dat dit vir haar iets besonders is om so iets te erken. Hoewel Thero baie sieker lyk as vanoggend, lyk sy terselfdertyd ook kalmer. Emile Fraser is daarvoor verantwoordelik. Hy het die wond oopgesny, gedreineer en ontsmet. Hopelik kom daar ook genesing.

“Ek sal hier by jou sit as jy belowe om nie te praat nie en te probeer slaap.”

Baie later kom Ron Jooste haar daar wegneem nadat sy eers seker gemaak het dat Thero diep en rustig slaap.

Hy neem haar na die kafeetjie om ’n koppie tee te gaan drink. Vanselfsprekend draai hul gesprek om Thero, en Ron sê: “Wat Thero natuurlik die meeste nodig het, is rus. Sy het haar blykbaar nooit die afgelope jare die tyd gegun om uit te rus nie. Daarom is Abendruhe die ideale plek vir haar herstel.”

“Ja, ek besef dit, maar wat van my? Ek is sterk en gesond. Ek is innig jammer vir Thero en natuurlik sal ek help waar ek kan om haar herstel te bevorder, maar ek kan nie maande lank hier ledig sit nie. Ek is nie aan so iets gewoond nie.”

Ron knik begrypend. “Ons kan altyd vir jou ’n werkie hier kry, maar vir eers moet jy al jou aandag aan Thero gee. Jy sal amper soos ’n private verpleegster vir haar moet wees.”

Kort daarna vergesel hy haar tot by haar kamerdeur. “Ek is bly dat Thero daarop aangedring het dat jy hier moet bly, Magriet. ’n Nuwe gesig is altyd welkom op Abendruhe.”

Sy glimlag na hom op. Sy begin al meer van hierdie jong dokter hou en is bly om te weet dat sy in die maande wat kom darem een vriend op Abendruhe sal hê.

“En moenie so bekommerd wees nie, meisie. Thero gaan weer gesond word – dit belowe ek jou.”

Hy sê dit met soveel drif dat Magriet net glimlag. Sy weet Ron sal haar niggie uit die kake van die dood self gaan uithaal, as dit menslik moontlik is.

Toe sy by haar kamer ingaan, wag ’n verrassing op haar. ’n Bos pragtige rose lê op haar spieëltafel. Sy kan ’n uitroep nie onderdruk nie – en dan sien sy die kaartjie: Jammer oor die dorings – maar dis ongelukkig net so deel van die roos as die roos self – E.F.

Sy herlees die paar woorde in die netjiese handskrif en moet teen haar sin glimlag. Emile Fraser uitgeknip! Sy moes kon weet dat hy haar nooit reguit om verskoning sou vra nie. O, nee, nie dokter Fraser nie! Tog is sy verbaas dat hy die rose gestuur het. En sy is nog meer verbaas daaroor dat sy hom so maklik kan vergewe.

Terwyl sy die rose na die beste van haar vermoë in haar waterglas rangskik, glimlag sy onwillekeurig terwyl sy haar hand vinnig wegruk toe ’n doring haar vel haak. Jammer oor die dorings! Met ander woorde, Emile Fraser is wat hy is en jy moet hom maar liewer met roos én dorings aanvaar, anders gaan jy dalk net met die dorings kennis maak en nooit die roos ontdek nie.

Jy is ’n uitgeslape kalant, dokter Emile Fraser, maar jy moenie dink jy gaan my so maklik ’n bewonderaar van jou maak nie, dink Magriet. Jou rose is pragtig, hoewel vol dorings, maar dit sal bitter onverstandig van my wees om te veel in hierdie gebaar van jou te soek. Dit sal op ’n fiasko uitloop as ek, soos al die ander, op jou verlief gaan raak, nie waar nie? Selfs Thero dink jy is ’n wonderlike man, al het jy haar aan die begin so onbeskof behandel en haar beledig deur nie deur haar skoonheid getref te word nie. O, nee, ek sal in my pasoppens wees vir jou, ou kluisenaar. Spaar maar jou rose vir jou ander dweepsieke volgelinge. Ek is nie beïndruk nie.

Maar die laaste ding wat sy doen toe sy ’n rukkie later die bedlamp afskakel, is om nog ’n keer versigtig aan die roosblare te raak … en te glimlag.

Op daardie oomblik sak dokter Fraser in sy geliefkoosde leunstoel in sy studeerkamer neer. Dit was ’n vermoeiende dag. Sy lang vingers soek instinktief na die ore van die hond aan sy voete. Baron kyk op na sy baas, maar sien sommer sy gedagtes is ver weg en hy lê sugtend, van skone genot om weer sy baas by hom te hê, sy kop oor die een skoen.

Daar verskyn ’n lui glimlag om Emile Fraser se lippe. Die meisietjie laat beslis nie op haar tone trap nie. Hy wonder wat sy van sy “vredesoffer” dink. In elk geval, Magriet Marais gaan ’n paar maande lank hier wees … en daar kan baie in ’n paar maande gebeur – veral op ’n plek soos Abendruhe waar dit so afgesonderd is en jy noodwendig baie in mekaar se geselskap kom. Hy staan lui uit die stoel op. Hy buk af en streel Baron se rug.

“Ons sal wel ’n plan prakseer, oubaas se honne,” sê hy sag en loop dan na sy slaapkamer.

Ena Murray Keur 5

Подняться наверх