Читать книгу Ena Murray Keur 5 - Ena Murray - Страница 5

2

Оглавление

Sy oë is op Magriet gerig asof hy haar as die skuldige beskou.

Sy stamel effens onbeholpe: “Ek is jammer. Ons het ’n bietjie laat opgestaan en die bergpas …”

Sy swyg toe sy wenkbroue veelbetekenend lig en sy voel hoe die bloed ’n tweede keer deur haar wange spoel. Sy blik sê duidelik: Ek weet presies hoekom julle so laat opgestaan het. Jy hoef nie flou verskonings by my te kom aanvoer nie.

Dit lyk asof hy Thero nog nie eens raakgesien het nie en vir dié dametjie is dit ’n rare ondervinding. Gewoonlik is dit sy wat eerste die aandag trek. Hoewel sy nog voor haar aankoms hier reeds besluit het dat sy niks van hierdie kluisenaarsdokter gaan hou nie, staan dit haar nou glad nie aan dat sy blykbaar nie indruk op hom maak nie.

“O, dokter Fraser! Aangename kennis!” sê sy nou met haar aanloklikste glimlag en Magriet se oë rek effens terwyl sy vinnig na haar kyk. Thero se slegte luim van ’n paar minute gelede het soos mis voor die son verdwyn.

Hy kyk Thero nou die eerste keer reguit aan en Magriet hou hom fyn dop, maar wag vergeefs op die bekende tekens van bewondering. Tot haar verbasing bly sy gesig uitdrukkingloos en sy wonder effens geamuseerd of hy al so ’n kluisenaar geword het dat hy nie eens meer ’n asemrowende mooi vrou kan herken wanneer hy een sien nie!

“Ek weet nog nie wie is wie om die bekendstelling te sekondeer nie,” merk hy droog op en ’n oomblik is selfs Thero ’n bietjie van stryk gebring. ’n Ietsie van die sjarme verdwyn uit haar glimlag.

“Hoe nalatig van ons! Ek is Thero van Zyl en dit is my niggie, Magriet Marais, wat my vergesel.”

“Dan is jy die pasiënt?”

Thero lag vrolik. “So verneem ek!”

“Jy voel nie soos een nie?”

’n Fyn fronsie het tussen haar wenkbroue verskyn. Sy hou niks daarvan om oor haar gesondheid te praat nie en die man se kort-af, saaklike houding staan haar glad nie aan nie.

“Dis sommer my ouers se verbeelding en ou dokter Venter …”

“Dokter Venter is ’n kollega wie se opinie ek respekteer.”

Magriet snak effens na asem en moet dan haastig ’n glimlag bedwing. Teen hierdie man gaan Thero haar vasloop, dis nou nie altemit nie! Die tweede keer binne die bestek van ’n paar minute is die rykmansdogter op haar plek gesit.

Thero klink beslis minder joviaal toe sy sê: “Wel, dis mý gesondheid en ék behoort darem seker te weet of daar werklik iets ernstigs skort, nie waar nie?”

“Nie noodwendig nie,” is die koel antwoord. “Maar as jy dan so oortuig is daarvan dat jy niks makeer nie, wat kom soek jy hier? Jy het mos dan nie my hulp nodig nie. Ek is net beskikbaar vir mense wat werklik siek is en gehelp wil wees. Goeiemôre, dames!”

Hy draai sonder meer om en hierdie keer het selfs die selfversekerde Thero geen woorde nie. Magriet is so verslae dat sy die breë skouers van dokter Emile Fraser net agterna kan staar. Dis Thero wat die eerste weer haar asem terugkry en opspring net voordat die groot gestalte deur die deur verdwyn.

“Wag so ’n bietjie, dokter!”

Hy draai stadig om en kyk kalm en onversteurd terug in die blitsende blou oë.

“Ja, juffrou?”

“As jy dink dat ek hierdie hele ent pad gekom het net om deur jou vir die gek gehou te word, begaan jy ’n groot fout, dokter!”

“Die skoen is aan die ander voet, juffrou. Ek is die een wat vir die gek gehou is. Dis ék wat van my kosbare tyd moes mors op iemand wat nie werklik my hulp wil hê nie.”

Thero is woedend.

“Luister, dokter, jy gaan my ondersoek …”

“Op Abendruhe is dit ék wat die bevele gee, juffrou Van Zyl! Jou afspraaktyd is ook verby. As jy werklik seker is dat jy wel ondersoek wil word, sal jy moet wag totdat ek weer ’n tydjie beskikbaar het.”

“En wanneer sal dit wees?”

“Net wanneer dit my pas. Miskien oor ’n paar dae.”

“Wat?”

“Jy sal my nou asseblief moet verskoon. Ek het werklik nie langer tyd om jou geselskap te hou nie.”

Die deur gaan met mening agter hom toe en ’n oomblik is dit doodstil in die vertrek. Dan bars Thero briesend los: “So ’n onbeskofte … hermiet! Kom ons ry, Magriet, voordat ek …”

“Moenie kinderagtig wees nie, Thero,” keer Magriet ontsteld, ook nou bitter vererg oor die dokter se optrede. As hy moet weet watter gesukkel dit gekos het om Thero te oorreed om hierheen te kom, sou hy baie meer taktvol opgetree het. Werklik, sy het nie sulke behandeling van hom verwag nie! Dis ’n wonder dat hy nog pasiënte kry! Thero het alle reg om woedend te wees. Maar Magriet weet ook dat hulle nie durf terugkeer voordat hierdie man Thero ondersoek het nie. Iets vertel haar dat haar niggie hierdie dokter se hulp wel nodig het.

“Dit sal ’n groot bohaai afgee as ons by die huis aankom en moet erken dat die man nie aan jou geraak het nie. Hulle sal nie ophou met torring voordat jy nie weer gekom het nie. Ons is nou hier; laat ons dit in hemelsnaam agter die rug kry!”

“Maar hy wil my nie ondersoek nie! Jy het self gehoor …”

“Ek weet, maar laat ons redelik wees,” probeer Magriet haar kalmeer. “Jy het duidelik aan hom te kenne gegee dat jy nie siek is nie. Soos dit lyk, is hy ’n baie besige man. Hy het hom toe natuurlik vererg en gedink jy kom net sy tyd mors.”

“Ons kan teruggaan en sê hy het my ondersoek, maar niks fout gevind nie,” sê Thero bot, hoewel heelwat kalmer.

Magriet skud haar kop en glimlag.

“Ons sal nooit daarmee wegkom nie, Thero. Dokter Venter sal ’n verslag van dokter Fraser verwag en dan sal alles uitkom.”

“Maar wat moet ek nou doen? Hom gaan soebat?” vra Thero vererg.

Magriet lag nou openlik. “Dit wil my amper so voorkom!”

“Dit sal die dag wees!” bars Thero opnuut los.

Magriet sê haastig: “Nee, toemaar, ek maak maar ’n grap. Dit sal darem seker nie nodig wees nie. Sy luim sal waarskynlik teen vanmiddag beter wees en dan sal hy jou natuurlik laat roep.” Sy staan op. “Kom ons gaan soek solank ons kamers. Hy sal ons darem seker nie op die vlakte, of liewer in die berg, uitstoot nie! Ons plek is vooruit bespreek vir ’n paar dae.”

Thero gehoorsaam teësinnig. Was sy alleen, sou sy op die plek in haar motor geklim en teruggery het stad toe. Sy wou ten eerste nie hierheen kom nie. Maar aan die ander kant word sy aangegryp deur die raaiselagtigheid van hierdie ongemanierde kluisenaarsdokter. Nog nooit voorheen het haar skoonheid ’n man so koud gelaat soos dit blykbaar met hom die geval is nie. En geen man het al ooit so kortaf met haar gepraat en haar so stug behandel nie. Dis vir haar heeltemal ’n afwyking van die gewone roetine – ’n interessante afwyking. En dan is daar natuurlik die ondersoek … Hoe sy ook al daarteen stry, weet sy diep in haar hart dat sy graag hierdie man se indruk van haar welsyn sal wil verneem.

Die ontvangsdame agter die toonbank in die ingangsportaal verseker hulle vriendelik dat hul kamers gereed is. Sy neem hulle na ’n lang ry kamers wat ’n entjie van die hoofgebou af staan. Dit herinner sterk aan motelkamers, waar elke kamer ’n buitedeur en sy eie private badkamer het. Op die end van die ry is ’n klein maar netjiese kafeetjie waar etes bedien word en die personeel en besoekers koeldrank, sigarette, lekkergoed, tydskrifte en dies meer kan koop. Magriet is aangenaam verras en selfs Thero moet erken dat sy tevrede kan wees.

“Hierdie kamers word natuurlik uitsluitend vir besoekers gehou. Die plek is ’n bietjie afgeleë en familielede van pasiënte kan onmoontlik elke dag oor die bergpas kom om besoek af te lê. Daarom het dokter Fraser vir verblyfplek voorsiening gemaak,” verduidelik die vrou terwyl sy hulle die lugtige, ruim slaapkamers innooi.

“Dan het die hospitaal seker nie nou veel pasiënte nie. Ek sien hier is nog net een ander kamer in gebruik,” merk Magriet op en kyk beïndruk na die sagte mat, ingeboude kaste en vrolike gordyne.

“O nee, die hospitaal self is propvol,” antwoord die vrou en die trots kan duidelik in haar stem gehoor word. “Maar dokter Fraser moedig nie familielede aan om lank hier te kom bly nie. Dis net in ernstige gevalle dat hy soms ’n uitsondering maak.”

“Ek het mos gesê dis ’n tronk!” brom Thero onderlangs. Magriet vra haastig, bang dat die vrou Thero dalk gehoor het: “Ek neem aan dis ’n staatsondersteunde hospitaal, nie waar nie?”

“O nee, dis ’n heeltemal private instansie. Die hele Abendruhe behoort aan dokter Fraser.”

Thero is openlik verbaas en Magriet se oë rek. Geen wonder dat hy so ewe plegtig aan Thero kon sê dat hy op Abendruhe die een is wat die bevele gee nie!

“Maar dit moet mos ongelooflik baie geld kos om so ’n plek op te rig en in stand te hou!”

“O ja, beslis! Daar is ’n interessante verhaal aan verbonde.”

“So?” Thero praat nou die eerste keer. “Mag ons die verhaal hoor?”

“Ag, dis geen geheim nie. Dokter Fraser het ’n klompie jare gelede, toe hy nog ’n jong dokter in die Goudstad was, ’n buitelandse biljoenêr wat deur ons land gereis het se lewe net betyds gered deur ’n knap diagnose. Toe hy gesond terugkeer na Switserland, het hy gedink dis die laaste sien. Maar die man het nie vergeet nie. Toe hy ’n jaar later in ’n motorongeluk omkom, moes dokter Fraser verneem dat hy die enigste erfgenaam van ’n fortuin is.”

Albei meisies se oë is rond van verbasing.

“Wil jy vir my kom vertel dat hy daardie geld alles gebruik het om hierdie plek te bou? Hy moet van sy verstand af wees!” laat Thero hoor. “Ek sal tog, as ek ’n paar miljoen erf, dit in so ’n … in so ’n plek steek!”

Die vrou glimlag net. Thero is nie die eerste mens wat hierdie optrede van Emile Fraser as vreemd beskou nie. Maar hulle wat hom ken, verstaan.

“Elke mens maak maar soos hy of sy goeddink, juffrou,” sê sy net goedig.

“Die plek onderhou hom seker self. Die tariewe hier is baie hoog,” merk Magriet op.

“Dit weet ek natuurlik nie. Ek weet net dat die mense wat kan betaal, baie betaal. Maar hier is ook baie pasiënte wat min betaal of selfs niks nie. Dokter Fraser het nog nooit iemand weggestuur omdat hy of sy nie kan betaal nie. Maar eintlik word die hospitaal op Simonsvlei meestal gebruik vir die nie-betalende pasiënte.”

“Simonsvlei?”

“Ons naaste dorp, tagtig kilometer hiervandaan, oor die bergpas. Die pad draai net hier onder die berg weg van die teerpad af. Julle het seker die padwyser gesien toe julle gekom het.”

Sy is skaars buite hoorafstand of Thero sê ontevrede: “Geen wonder dat ons, wat kan betaal, ons ore van ons koppe af moet betaal nie! Ek het van die begin af gedink dat daar iets met hierdie dokter Fraser skort, maar nou weet ek vir seker. Die man is mal.”

Magriet lag maar net.

In haar kamer, ’n duplikaat van dié van Thero, gaan neem Magriet voor die venster stelling in en staar peinsend uit na die groot, groen grasperk buite. Sy het nog nooit voorheen ’n man soos dokter Emile Fraser ontmoet nie. Veral ná alles wat die ontvangsdame vertel het, weet sy dat hy ’n baie uitsonderlike mens moet wees. Min mense sal ’n erfporsie soos syne net so aan sy medemens wy.

Maar hoekom sou hy juis hier, in eensaamheid en afsondering, ’n hospitaal kom bou het? Dit wek die indruk dat hy wou wegvlug, hom wou afsluit van die res van die wêreld, maar tog ook graag met sy lewenstaak wou voortgaan. Hoekom sou hy verkies om soos ’n kluisenaar hier in die berge te lewe en hom, soos ’n moderne Albert Schweitzer, liggaam en siel net aan sy professie te wy?

Dan glimlag Magriet vir haarself. Hierdie man het werklik haar verbeelding aangegryp. Sy roep sy beeld in haar gedagtes op en sy moet erken dat hy, afgesien van sy kwaai humeur, ’n baie aantreklike man is met sy rooibruin hare en besonderse groen oë wat sy medemens so reguit en effens kil aankyk – so asof hy lankal reeds geleer het om skepties te staan teenoor die lewe en nie alles te glo wat sy groen oë sien nie. Hy kan beslis niks ouer as so vyf en dertig wees nie. Dit maak dit nog soveel vreemder dat hy so absoluut toegewy aan sy professie is, dermate dat dit sy hele lewe behels. Sy sal verbaas wees as sy moet hoor dat hy getroud is – hy is te onaantasbaar afsydig, te … sonder warmte.

Magriet wonder geamuseerd wat die man sal dink as hy moet weet dat sy, ’n volslae vreemdeling, besig is om hom so in oënskou te neem. Hy sal seker wel die een of ander bytende aanmerking gereed hê.

Dan is daar nog iets wat Magriet instinktief in verband met hierdie man aanvoel: dis beter om hom as ’n vriend te hê. Sy sal nie sover gaan om te sê dat sy en Thero hulle reeds sy vyandskap op die hals gehaal het nie, maar dis duidelik dat hy beslis nie veel trek in die twee niggies het nie.

Magriet en Thero verwyl die dag met verkenning van die terrein en die res van die omgewing – Magriet belangstellend en diep geïnteresseerd en met die gevoel dat sy kan begin verstaan hoekom ’n mens graag permanent hier sou wou woon, en Thero openlik verveeld en geïrriteerd. Dis laat in die namiddag toe Thero nie langer kan stilbly oor die probleem wat ook op die voorgrond van Magriet se gedagtes huiwer nie.

“Wat sou die man se plan wees? As hy darem dink dat ek dae lank vir hom gaan sit en wag, begaan hy ’n groot fout. En hy moet nog ’n slag dink as hy verwag dat ek eerste na hom toe sal gaan en hom sal soebat om my te ondersoek!”

Magriet frons bekommerd. Die hele dag was daar geen taal of tyding van dokter Fraser nie. Met hul omswerwinge deur die terrein het hulle ’n hele paar van die verpleegsters en ander personeellede raakgeloop, maar van die hoof self was daar geen spoor te sien nie. Die ongemaklike gevoel wat al die hele dag by Magriet spook, word hierdeur verskerp. Sou die man werklik wag dat Thero hom eers moet kom soebat? Maar dis tog kinderagtig. Nee, hy is seker net vreeslik besig, probeer sy haarself gerusstel. Die moontlikheid bestaan ook dat hy van hulle vergeet het. As dit die geval is, sal Thero dit beslis nie as ’n kompliment beskou nie, dink Magriet geamuseerd. Maar iemand sal hom aan die nuwe pasiënt moet herinner. Sy twyfel of sy Thero langer as môre hier sal kan hou. Sy is eintlik verbaas dat sy nog ná vanoggend se voorval gebly het. Dit sal beslis onverstandig wees om haar opstandige niggie se geduld te lank te beproef.

Thero móét ondersoek word, besluit Magriet opnuut toe sy sien hoe uitasem Thero op haar bed neersak toe hulle van hul lang staptog af terugkeer. Sy voel nou skuldig dat sy haar so ver laat stap het, maar omdat sy nooit die geringste teken toon dat sy nie gesond is nie, is ander geneig om soms daarvan te vergeet.

“Sjoe! Dis nogal warm. Ek kom lê nou ’n bietjie. Ek wil net eers gou vir ons ’n koue koeldrank by die kafeetjie gaan koop. Skop solank jou skoene uit,” sê Magriet asof sy nie gesien het hoe gedaan Thero lyk nie.

Thero gehoorsaam en leun verlig teen die kussings. “Ek het jare laas koeldrank gedrink. Ek sal wat gee om nou liewer ’n yskoue biertjie te kry.”

“Ek is bevrees dis buite die kwessie,” lag Magriet. “As jy dan ook so lanklaas koeldrank gedrink het, sal dit dalk nou lekkerder as bier smaak.”

“Kinders drink koeldrank,” laat Thero stug hoor en steek ongeduldig ’n sigaret aan. “Maar as dit dan al is wat hierdie simpel plek aanbied, bring dan maar een.”

Nadat Magriet die koeldrank gebring het, keer sy na haar eie kamer terug onder die voorwendsel dat sy ook ’n bietjie wil gaan rus. ’n Paar minute later sluip sy egter suutjies weg en kry koers in die rigting van die hoofgebou.

Kort daarna bevind sy haar weer in die vertrek waar sy en Thero die oggend gesit en wag het. ’n Rukkie later maak dokter Fraser sy verskyning. As hy verbaas is om haar in plaas van Thero daar aan te tref, toon sy gesigsuitdrukking egter niks nie.

“Is daar iets wat ek vir jou kan doen, juffrou?”

Magriet voel soos ’n weerlose meisietjie voor ’n skoolhoof. Toe sy nie dadelik antwoord nie, vervolg hy: “Is jy gestuur om ander se vuil werk te doen?”

Dit laat haar vinnig opkyk en ’n blos stoot oor haar wange. Hierdie keer is dit egter van ergernis.

“Niemand het my gestuur nie en ek is nie bewus daarvan dat ek besig is om vuil werk te doen nie. Ek het net gekom …”

“Dan is my teleurstelling in jou nog groter, juffrou Marais. Jy doen nie net ander se vuil werk nie, maar doen dit daarby nog uit jou eie, vrye wil. Tas ek in die duister rond in my veronderstelling dat jy gekom het om my te kom vra om jou niggie te ondersoek? Of het jy miskien gekom om my om verskoning te kom vra?”

“Verskoning te vra? Waarvoor?” vra sy verslae.

“Dat jy my gister byna verongeluk het.”

Magriet trek haar asem skerp in. Dan was dit sý motor waarteen Thero byna vasgery het. Hy verkeer blykbaar onder die indruk dat dit sy was wat agter die wiel was.

“Dit was jy wat bestuur het, nie waar nie? Julle is te vinnig by my verby sodat ek kon sien wie so roekeloos was, maar elke keer dat ek julle daarna gesien het, het jy bestuur.” Hy frons skerp toe sy nog niks sê nie en leun effens vooroor, sy oë stip op haar gerig. “Of is ek verkeerd?”

Magriet klem haar hande styf inmekaar. Sy sal nie haar humeur verloor nie! Sy durf nie – ter wille van Thero.

“Die gevolgtrekking waartoe jy gekom het, is seker aanneemlik, maar nie juis waterdig nie, dokter. Ons laat dit liewer daar. Ek het hierheen gekom om jou te vra om my niggie te ondersoek.”

“Hoekom kom vra jy my en nie sy nie?”

“Sy is ’n baie trotse mens en …”

“Ek sal liewer sê koppig. En jy, juffrou? Het jy nie ook trots nie?”

Magriet voel hoe iets binne-in haar wil losbreek, maar sy slaag daarin om hom koel te antwoord: “Ja, dokter. Hoe snaaks dit ook al mag klink, ek is ook trots – maar nie ten koste van ’n ander se lewe nie.”

Sy wenkbroue lig.

“Dit klink na ’n beskuldiging, juffrou. Wat presies bedoel jy?”

“Dit lyk my, dokter, dat jy en Thero nie so danig trots is as wat julle kinderagtig is nie. Ek is beslis nie van plan om my tyd hier te mors solank dit julle twee gaan neem om volwasse grootmense te word nie.”

Sy bewe van woede toe sy vinnig aanstap deur toe en dink roekeloos by haarself: Na die dinges met jou, dokter Emile Fraser! Ek het genoeg sonde met Thero dat ek nog van jou kaf ook moet sluk!

Dan versteen sy in haar spore toe sy lag skielik agter haar opklink.

“Bravo! Dan het jy dit tog in jou as jy net ver genoeg gedryf word!” Hy loop tot by haar en sê sonder om haar kans te gee om van haar verbasing te herstel: “Hierdie tyd van die aand gaan ek gewoonlik ’n ent stap. Jy kan saamkom, dan kan ons die geval van jou niggie bespreek.”

Magriet laat haar weglei met sy hand stewig om haar elmboog gevou. Sy voel swak van verligting. Haar bravade van ’n paar sekondes gelede het haar totaal verlaat en sy raak yskoud by die gedagte daaraan dat sy hierdie man werklik in sy gesig as kinderagtig en onvolwasse bestempel het. Sy moes seker van lotjie getik gewees het om so iets te kon waag. En tog lyk dit asof hy nou baie vriendeliker en meer tegemoetkomend teenoor haar is. Hy is beslis nie ’n man wat ’n mens maklik sal verstaan nie, besluit sy.

Hulle stap gemaklik langs mekaar teen die bergpaadjie uit, en toe hulle eindelik ’n plek bereik waar die bergstroom tussen welige varings en varkblomme deur na benede murmel, gooi hy sy sakdoek oor ’n omgevalle boomstomp oop en bied haar die sitplek aan. Hy gaan twee tree verder gemaklik teen ’n ander boomstam leun, vra dan onverwags, en byna terloops: “Rook jy nie?”

“Nee. Het nog nooit.”

“Dis ’n uitsondering om ’n jong meisie aan te tref wat nie rook nie.”

Dit klink asof hy haar nie glo nie. Sy kan amper lees wat in sy gedagtes omgaan. As sy kans sien om met vreemde mans tot middernag in ’n motel langs die pad jolyt te hou, kan sy seker maar rook ook. Sy frons. Sy is seker hierdie man het ’n heeltemal verkeerde indruk van haar gevorm. Wel, laat hom dink wat hy wil. Sy het tog niks met hom te doen nie.

“Ek sou seker maar ook gerook het as ek dit kon bekostig het,” antwoord sy kil, “maar ek is ’n werkende meisie wat met ’n kantoorsalaris moet deurkom.”

Hy lyk eerlik verbaas en haar frons verdiep. Sou hy onder die indruk verkeer dat sy, nes haar ryk niggie, haar dae in ledigheid deurbring? Dit hinder haar meteens dat hierdie man so ’n wanindruk van haar moet hê.

“Maar ons het nie gekom om oor my te praat nie. Jy wou Thero se geval met my bespreek.”

Hy gee weer een van sy rare glimlaggies.

“Ek wou eintlik ’n idee van my pasiënt se agtergrond vorm, maar deur jou vertelling het ek ’n baie raak prentjie gekry – ook van haar. Wat makeer jou niggie? Waaroor kla sy?”

“Dis juis die ding. Ek weet nie. Sy kla nooit nie. Sy praat nooit dat sy siek of sleg voel nie – lag dit net altyd weg. Tog weet ek dat daar iets moet skort. Het jy nie ’n verslag van dokter Venter gekry nie?”

“Ja, maar hy kon my maar net sy indrukke meedeel. Jou niggie wou hom nog nooit toelaat om haar deeglik te ondersoek nie. Hoekom is jy die een wat haar moes vergesel?”

“Haar ouers is op die oomblik te besig met allerlei verpligtinge.”

“Kan ’n ouer ooit te besig wees om tyd vir sy eie kind af te knyp?”

Magriet is verleë en ontsteld oor die reguit vraag. “Ek … dis moeilik om te verduidelik –”

“Jy hoef nie. Ek weet presies wat die posisie is,” val hy haar stameling in die rede. “Ek ken die soort mense wat die Van Zyls is.”

Sy kyk hom koel aan. Magriet is ’n lojale mens. Al stem sy ook met hierdie man saam oor sy indruk van die Van Zyls, is dit nogtans haar familie van wie hy praat.

“Al wat daardie soort het, is te veel geld,” gaan hy egter ongestoord voort. “Neem jy dit weg, het hulle dikwels nie eens genoeg gesonde verstand oor nie en meestal nie eens goeie maniere nie.”

Magriet wil eers lag. Hy is ’n mooi een om van goeie maniere te praat! Maar werklik, hy lug darem sy mening te reguit! Haar stem is nou ysig: “Maar selfs sulke mense raak siek en het hulp nodig.”

Daar kom ’n lig van goedkeuring in sy oë, maar Magriet sien dit nie raak nie. Sy is te ontstoke.

“’n Mens kan net iemand help wat gehelp wil wees, juffrou Marais. Hoe laat het jou niggie verlede nag gaan slaap?”

“’n Paar minute ná my.”

“En dit was bitter laat. Gans te laat vir ’n siek mens. Geen wonder dat julle vanoggend nie kon opkom nie. Jy behoort beter te weet as om jou niggie nog voor te gaan in so ’n slegte voorbeeld terwyl jy weet dat sy nie gesond is nie.”

Magriet gluur hom behoorlik aan.

“Wat bedoel jy, dokter?” Dis duidelik dat hy dink dis sy wat gisteraand se jolyt in die motel begin het en dat Thero toe maar moes bly om haar ontwil.

Hy gee haar egter nie kans om te verduidelik nie. “Ek het julle ’n hele rukkie gesit en dophou. Jy kan my niks vertel nie!”

Sy gaan staan vierkant voor hom. “Luister ’n bietjie hier, dokter Fraser! Ek was bitter teen gisteraand se dinge gekant. Ek het my bes gedoen om Thero vroeg daar weg te kry sodat sy ’n goeie nagrus kan kry, maar sy wou nie luister nie!”

“As jy geen beheer oor jou niggie het nie, waarom het jy dan saamgekom? Dit het ook nie vir my gelyk asof jy so vreeslik baie moeite gedoen het om haar daar weg te kry nie. Inteendeel, jy was die hele aand besig, en sommer druk besig, om met wildvreemde mans te dans! Of was hulle almal ou kennisse?” vra hy openlik sarkasties.

“Nee, natuurlik nie, maar …” antwoord sy boos, en swyg dan. Wat sal dit help om hom te probeer oortuig? Hy glo wat hy wil en basta!

“En nou, nadat julle albei jul bes gedoen het om julself en mekaar graf toe te help, kom julle na my toe en verwag dat ek ’n towerstaffie moet swaai en die pasiënt gesond moet maak sodat julle weer môreaand jolyt kan gaan hou!”

“Dokter!” Magriet kan die woedende bewing van haar liggaam nie beheer nie. Op hierdie oomblik stem sy volkome met Thero saam. Hierdie man is ’n onbeskofte, ongemanierde buffel!

Hy strek ook nou sy rug reguit en kyk op haar neer vanuit die hoogte sonder ’n flikkering van ’n ooglid.

“Ek is jammer, juffrou, maar my diens is net vir mense wat hul gesondheid sal oppas wanneer hulle dit weer teruggewen het. Vir mense wat besef dat gesondheid ’n genadegawe is wat gewaardeer moet word. Ek is nie van plan om my tyd te mors op iemand wat dit weer net so sal gaan verspil in die najaag van roekelose en doellose plesiersug nie. Dit kan jy self ter harte neem en ook aan jou niggie oordra.”

Magriet besef dat as sy nie op hierdie oomblik uit hierdie man se geselskap wegkom nie, sy iets drasties gaan doen. Maar sy vorder net ’n paar treë voordat sterk hande op haar skouers haar omswaai.

“Ek is nog glad nie klaar nie, juffrou. Ek sal jou niggie ondersoek net as sy belowe om my haar volle samewerking te gee en, indien dit nodig blyk, hier te bly so lank as wat ek dit nodig vind – al is dit ook ’n paar maande, soos wat ek vermoed die geval gaan wees.”

“Maande hier bly? Thero sal dit nooit doen nie,” sê Magriet met oortuiging.

Sy hande val van haar skouers en hy staan terug. “In daardie geval het julle verniet gekom.”

Skielik is alle ander gevoelens op die agtergrond geskuif en is Magriet bewus van haar diepe kommer oor Thero. As hierdie man klaar reeds ’n vermoede het dat Thero maande lank hier behandeling sal moet ontvang, is haar toestand ernstiger as wat selfs sy, Magriet, vermoed het. Hulle durf nie onverrigter sake terugkeer nie.

“Maar, dokter, asseblief, jy móét verstaan! Sy sal dit nooit maande lank hier uithou nie! Kan sy dan nie maar gereeld kom vir behandeling nie?”

“Elke dag van die stad af?” vra hy sarkasties.

“Nee, ek bedoel sy kan miskien op Simonsvlei gaan bly. Dis net tagtig kilometer hiervandaan. Of selfs die motel is binne bereikbare afstand.”

“Wat? Dink jy een oomblik dat ek ná wat ek gisteraand aanskou het, haar sal toelaat om dáár te bly solank sy onder my behandeling is? Sodat alles wat ek deur die dag probeer opbou, weer saans en snags met jolytpartytjies afgebreek kan word?” Sy oë vernou tot twee harde splete. “Nee, juffrou, ek dink eerder dis ’n geval dat jý nie maande lank hier wil bly nie. Jy is besig om vir jouself te pleit, nie waar nie?”

Sy kyk hom onbegrypend aan. “Ek verstaan nie, dokter.”

“O ja, jy verstaan baie goed! Jy weet goed dat jou niggie daarop sal aandring dat jy ook hier moet bly vir die tyd dat sy behandel word en dis jy wat nie daarvoor kans sien nie. Jy sal nog bly as jy op Simonsvlei in ’n hotel of in die motel langs die pad kan gaan bly, maar anders nie. Is ek nie reg nie?”

Magriet kry skielik lus om onbeheers aan die lag te gaan. Dat sý darem nou beskuldig word daarvan dat sy plesiermal is en dat sý Thero verlei, is lagwekkend! Maar sy antwoord so kalm as waartoe sy op hierdie oomblik in staat is: “Jy sal my natuurlik nie glo nie, dokter, maar die enigste rede hoekom ek nie maande lank hier wil bly nie, is omdat ek ’n werkende meisie is, soos jy reeds weet. Dis buite die kwessie dat ek vir Thero geselskap sal kan hou as sy lank hier moet bly.”

“En as ek daarop aandring dat jy moet bly?”

Sy kyk hom agterdogtig aan en trek dan haar skouers ongeërg op.

“Ek kan nie sien watter verskil dit aan my kan maak nie, dokter. Jy kan die baas van Abendruhe wees, maar jy is nog nie mý baas nie. Goeiemiddag.”

Hierdie keer stap sy so beslis weg dat hy haar nie weer probeer keer nie. Sy kan nie onthou dat sy al ooit tevore so na daaraan was om ’n man te lyf te wil gaan as wat sy vanmiddag was nie. Die absolute verwaandheid om haar sommer te veroordeel voordat hy al die feite ken! Haar lippe sluit styf saam. Niks, niks onder hierdie son sal haar beweeg om maande lank saam met hierdie man op hierdie plek te bly nie. Sy sal werklik al haar maniere en verfynde opvoeding kwytraak in Emile Fraser se teenwoordigheid. Maar wat kan ’n mens anders van so ’n kluisenaar verwag? Hy het klaar die verwronge idee dat die hele wêreld om hom draai en dat hy almal se lewe kan reël en regeer hier op Abendruhe.

Maar hierdie keer gaan hy hom vasloop. Hy moet darem dink sy is ook in ’n halwe beswyming oor hom soos wat al wat vrou in sy personeel blykbaar is!

Thero sien dadelik dat haar altyd so bedaarde niggie hewig ontsteld is toe sy by haar in haar kamer kom en wil summier weet wat gebeur het.

Magriet vertel kortliks en tot haar verbasing lag Thero hartlik.

“Ek sien niks wat snaaks is nie. Jou houding het skielik verander. Ek het gedink jy sal wil slange vang as jy hoor dat jy dalk maande lank hier sal moet bly,” sê Magriet verwytend.

Thero lag weer. “My liewe niggie, ek het skielik tot die besef gekom dat dit glad nie so onaardig hier is nie. Eintlik behoort dit nogal interessant te wees om ’n rukkie hier te bly – veral met ’n vuurvreter soos dokter Fraser! Die man interesseer my geweldig. Hy is so … anders. Dit sal nogal ’n aardigheid wees om te kyk hoe ver ek met hom kom!”

“Hemel, Thero, dit klink so banaal! In elk geval, jy is welkom. Ek wens ek het die man nooit ontmoet nie.”

Magriet voel beslis swaarmoedig. Natuurlik sal ’n man soos dokter Fraser haar bedorwe niggie se belangstelling wek. Soos sy Thero ken, sal dié nie rus voordat ook die grote dokter Fraser soos ’n lammetjie uit haar hand eet nie. Dan sal sy hom by haar versameling tweebeenskoothondjies voeg en Abendruhe se stof van haar voete afskud. Sy kan haar egter net nie voorstel dat daardie man ooit ’n skoothond sal word nie. Hy laat haar eerder dink aan ’n aggressiewe bulhond waarvan die tande altyd ontbloot is.

Maar dis Thero se saak, dink sy ongeërg. Laat sý hom maar probeer mak maak. Of miskien sal sy eindelik haar tier in Emile Fraser raakloop.

“Wanneer jy dokter Fraser onder hande neem, leer hom tog sommer ook terselfdertyd ’n bietjie maniere en wat die woordjie takt beteken,” sê sy terwyl Thero haar opstandigheid blykbaar terdeë geniet. “Ek is nogal jammer dat ek nie hier sal wees om jou vordering dop te hou nie.”

Thero se glimlag verdwyn dadelik. “Magriet, jy gaan nie weg nie! Ek gaan nie sonder jou hier bly nie, verstaan?”

Magriet neem vasbeslote voor haar stelling in. “Daar is iets wat jy liewer moet verstaan, Thero. Ek is oorbodig hier. Jy het my nie nodig nie. Ek gaan so gou moontlik terug huis toe.”

“Maar jy kan nie!” roep Thero ontsteld uit. “Magriet, jy durf my nie nou in die steek laat nie! Jy het belowe!”

“Ek het belowe om saam met jou te kom vir die ondersoek – nie om maande lank ledig hier rond te lê nie.”

“Maar jy sal nie ledig wees nie. Jy moet my geselskap hou.”

“Moenie laf wees nie, Thero. Dokter Fraser sal jou geselskap hou.”

Thero glimlag. “Natuurlik, maar soms sal hy darem moet werk ook! Magriet …”

Die ou bekende koppige trek is nou weer om Thero se lippe. “Jy is nou verspot, Magriet. Wat wil jy in ’n stowwerige ou kantoor gaan maak as jy maande lank hier in hierdie pragtige omgewing kan kuier? Pappa sal jou nog boonop vergoed …”

Magriet se blik dwaal deur die venster na buite. Ja, sy sou nie omgee om hier te bly nie. Dit lyk soos die paradys in vergelyking met haar kantoortjie by die werk. As Emile Fraser net nie die baas hier was nie.

“Wel! Wel! Wie kom hier aan?” vra Thero skielik waar sy langs haar by die venster stelling ingeneem het, met haar blik belangstellend op die jong man wat met lang treë en wit doktersbaadjie in hul rigting aangeloop kom.

“Dis seker een van die personeellede,” merk Magriet op en gee van die venster af pad toe sy sien dat die jong man doelgerig op hul kamers afpyl. Sy is tog regtig nie nou in die luim om aantreklike jong dokters te ontmoet nie. Sedert vanoggend het sy ’n allergie vir dokters ontwikkel. Magriet kan nie van die deur af gesien word toe Thero op sy klop oopmaak nie. Sy hou haar niggie dop en sien hoe laasgenoemde weer die sjarmekraan vol oopdraai.

“Juffrou Van Zyl?”

“Dis reg,” antwoord Thero sag, met ’n fyn glimlaggie om haar lippe toe sy sien hoe die oë rek. Dokter Fraser se kollega het darem blykbaar oë in sy kop om haar skoonheid raak te sien.

“Ek is dokter Jooste – Aäron Jooste,” stel hy homself voor en trek ’n suur gesig, wat ’n hartlike lag na Thero se mond bring. “My vriende noem my egter Ron.”

“Hallo, Ron,” reageer Thero dadelik en Magriet sug saggies. Nog ’n slagoffer vir Thero! Dis eintlik onregverdig. ’n Vrou soos Thero behoort nie toegelaat te word om so los rond te loop en harte te steel nie.

“Ek het ’n boodskap van dokter Fraser. Hy sê hy sal jou môreoggend om tienuur te woord staan as dit jou sal pas.”

“Nou werklik? Baie dankie … e … Ron. Natuurlik sal dit my pas. En my vriende noem my Thero!”

“Gaaf … e … Thero!” Hy klink soos ’n seuntjie wat skielik ’n hele bak roomys in die hand gestop is, dink Magriet geamuseerd. “Ek kom oor tien minute van diens af. Sal dit … e … voorbarig van my wees om jou vir ’n koppie tee in die kafee te nooi?”

“Miskien sou dit op ’n ander plek voorbarig wees, maar nie hier op Abendruhe nie. Ons is hier te intiem saam om te lank vreemdelinge te bly. Ek kom graag. Tee sal heerlik smaak!”

Toe die deur weer toegaan, kom Magriet uit haar skuiling en skud haar kop laggend.

Thero glimlag ook. “Nou toe, is jy nog so gretig om hier weg te gaan?”

“Ek het nie kom man soek nie, Thero. Wat meer is, hy is klaar verlore. Hy sal my nie eens opmerk nie. Ek bly by my besluit.”

Thero skud haar blonde hare terug oor haar skouers. “Jy is welkom om dokter Ron Jooste te kry. Hy is effens te jonk vir my. Ek sal hom darem eers so ’n bietjie touwys maak vir jou, hoor!”

“Dankie … vir niks nie.”

“Magriet, wat wed jy my dat jy tog hier gaan bly?”

“Ek sal liewer nie, want jy gaan tog jou weddenskap verloor.”

Maar diep in haar hart is Magriet glad nie so seker nie. Thero het nog altyd haar sin gekry. En, soos dit vir haar lyk, Emile Fraser ook. Magriet Marais, jy sal jou storie moet ken om jou man te staan tussen twee sulke hardkoppige skepsels, maak sy haarself stilweg wys.

Ena Murray Keur 5

Подняться наверх