Читать книгу Ena Murray Keur 5 - Ena Murray - Страница 8
5
ОглавлениеMagriet is van voor af ontsteld toe sy die volgende oggend wakker word en die vorige aand se gebeure in herinnering roep. Maar terselfdertyd is sy ook onrustig. Sou dokter Fraser dit werklik ernstig bedoel het toe hy gesê het dat sy vandag saam met hom Simonsvlei toe moet gaan? Maar hy het geen mag oor haar nie. Hy het geen reg om haar rond en bont te gebied nie. Sy sal nie saamgaan nie, besluit sy. Sy sal hom wys.
Omstreeks tienuur loop sy Ron, taamlik dikmond, by Thero in die kamer raak. Dis met die eerste oogopslag duidelik dat hierdie twee nie gemaklik voel in mekaar se geselskap nie. Ron is stuurs en uiters formeel teenoor Thero en Thero kyk skaars in sy rigting. Magriet wonder bekommerd of hulle die vorige aand rusie gemaak het, maar vra liewer nie uit nie. Hy maak byna dadelik verskoning en is skaars by die deur uit of Thero draai na haar niggie.
“Jy is darem ’n mooi een, Magriet,” beskuldig sy sommer reguit. “Ek het dit nie van jou verwag om my so in die rug te steek nie.”
Magriet is dronkgeslaan deur hierdie beskuldiging. “Waarvan praat jy, Thero? Ek is nie bewus daarvan dat ek jou in die rug gesteek het nie.”
“Wat noem jy dit dan anders as jy gisteraand die hele tyd jolyt hou met Ron, maar toe dit huistoegaantyd word, skuif jy hom gerieflik op my af en verdwyn met Emile?”
Toe Thero nog baie siek was, daardie eerste paar weke, het Magriet gehoop dat daar ook ’n innerlike verandering ten goede by haar sal intree. Maar ’n mens verander nie oornag nie. Die ou selfsugtige streek is nog daar en dit steek weer vanoggend kop uit. Thero was te lank daaraan gewoond om in alles haar sin te kry. Emile Fraser het haar belangstelling gewek juis omdat hy oënskynlik niks meer as professionele belangstelling in haar toon nie, en dit frustreer Thero mateloos. Sy is nie gewoond daaraan om te sukkel om belangstelling by ’n man op te wek nie. Op iemand moet sy haar frustrasie uithaal. Gisteraand was dit blykbaar Ron wat moes deurloop en vanoggend is dit Magriet.
Diep in haar hart voel Thero skuldig oor haar optrede teenoor die jong dokter gisteraand. Sy het hom onomwonde gesê dat sy sy belangstelling in haar lastig vind. Die ongelukkigheid in sy oë en die bitterheid in sy stem het haar egter deur die nag bygebly. Dis daarom dat sy vanoggend weer in een van haar moeilike buie is. Nou moet Magriet dit ontgeld. Maar vanoggend misreken sy haar met haar saggeaarde niggie. Vandat hulle op Abendruhe aangekom het, het Magriet skielik geleer om terug te praat – ’n feit wat Thero geensins aanstaan nie.
“Ek dink jy is nou baie onredelik, Thero,” sê Magriet reguit. “Ek kan tog nie weier om met Ron op sy eie partytjie te dans nie. En as jy goed terugdink, is dit nie ék wat Ron op jou afgeskuif het nie, maar dokter Fraser. En waar kom jy daaraan dat ek met Emile Fraser verdwyn het?” vra sy dapper, hoewel sy geensins so braaf voel nie.
“Ron het my vanoggend gesê toe hy terugkeer by die partytjie, was jy en Emile albei weg.”
“En dit beteken nou dat ons …” Sy swyg en lag. “Liewe aarde, Thero, moenie vir my sê ons is besig om oor ’n man te baklei nie!”
Maar Thero laat haar nie so maklik onderkry nie. “Dan het hy jou nie tot by jou kamer vergesel nie?”
“Nee. Hy het nie. Ek het alleen teruggegaan na my kamer,” antwoord Magriet heeltemal eerlik. Sy het ná hul woordewisseling teruggehardloop na haar kamer asof sy nie gou genoeg uit sy haatlike teenwoordigheid kon wegkom nie.
Thero is skielik ongemaklik. Sy weet dis glad nie verstandig van haar om met Magriet te baklei nie. Sy frons. As hierdie dekselse Emile Fraser hom net nie so afsydig hou nie, dink sy vererg. Dan kyk sy haar niggie met haar ou sjarmante glimlag aan.
Magriet skud haar kop. Dié Thero! Niemand durf haar vergifnis weier wanneer sy so glimlag nie!
“Ek is jammer, Magriet,” sê sy nou berouvol. “Dis hierdie inkluistering wat my so maak. Ek kan dit nie meer uithou nie. Ek wil lewe!” roep sy dramaties uit sodat Magriet simpatiek, maar terselfdertyd ook geamuseerd, glimlag.
“Ek begryp, maar jy moet geduld gebruik. Dit voel vir jou miskien asof jy reeds gesond is, maar die geringste ooreising of ontsteltenis kan jou in hierdie stadium nog baie skade berokken. En, terloops, jy is verniet bekommerd oor my. Ek hou niks van Emile Fraser nie. Ek dink hy is ’n … ’n groenoogduiwel!”
Thero se hartlike lag weerklink deur die vertrek.
“Dankie, juffrou. Dis altyd interessant om ander mense se eerlike mening oor jouself te hoor,” sê ’n stem agter haar en Magriet swaai verskrik om. Die groenoog-duiwel staan haar vanuit die deur en aankyk en die feit dat sy hartlike lag nou saam met dié van Thero opklink, verbeter die saak geensins nie. Hy kom die vertrek binne en kyk Thero met opgetrekte wenkbroue aan. “Ek weet nou net nie of ek dit eintlik as ’n kompliment moet beskou nie. Wat dink jy?”
Thero geniet Magriet se ongemak terdeë en speel saam – haar slegte luim van ’n paar minute gelede heeltemal vergete.
“Dit moet jy liewer self vasstel, Emile. Met Magriet kan ’n mens nooit seker wees nie. Maar sy is ’n baie eerlike mens. Ek dink as sy sê jy is ’n duiwel, dan dink sy werklik so!”
“Hm. Maar gewoonlik is ’n mens bang vir ’n duiwel – of, as jy nie bang is nie, het jy ten minste respek vir hom. Ek bedoel, dit baat niemand om ’n duiwel te onderskat nie, nè?” Dit klink vir Magriet asof daar ’n bedekte waarskuwing in sy woorde is. Haar ken wip op. Na die … duiwel met hom!
Sy kyk hom uit die hoogte aan.
“Ek bly uit sy pad en sal verkies dat hy uit myne ook bly. Verskoon my, asseblief,” sê sy en voordat een van hulle nog iets kan sê, verdwyn sy by die deur uit.
Thero kyk hom effens verbaas aan.
“Dit lyk my sy hou werklik nie van jou nie, Emile. Wat het jy aan haar gedoen?”
Hy glimlag en skud sy kop.
“Niks waarvan ek weet nie,” antwoord hy onskuldig. “Behalwe as sy daardie eerste dag se voorvalletjie nog teen my hou.”
Toe Magriet die gang afstap, is sy so ontstoke dat sy liewer reguit op die voordeur afpyl as om, soos haar plan was, te kyk of sy Ron nie ’n paar minute alleen te sien kan kry nie. Sy sou graag met hom wou praat oor wat tussen hom en Thero gebeur het en ook verskoning wou maak omdat sy gisteraand sonder om dankie te sê van sy partytjie af weg is. Maar nou voel sy gans te ontsteld en soek liewer die privaatheid van haar kamer op. Hoekom die mansmens ook altyd op die mees ongeleë oomblikke moet opdaag, weet sy nie. En hoekom kan hy nie vir hom skoene met harde sole aanskaf sodat ’n mens kan hoor wanneer hy aankom nie? Hoewel sy natuurlik glad nie omgee dat hy haar gehoor het nie – wat kan dit haar skeel? – voel ’n mens darem so effens ongemaklik wanneer jy van iemand agter sy rug praat. Veral as jy nie juis iets vleiends sê nie, en die persoon kom skielik op jou af.
Sy het nog gestaan en worstel met die probleem van hoe sy Thero moet vertel dat sy miskien ’n paar dae lank na Simonsvlei toe moet gaan, toe die gesprek so hand uitgeruk het. Nou ja, dis hý wat haar Simonsvlei toe wil saamsleep. Laat hy dit aan Thero verduidelik. Ag, maar wat makeer haar? Natuurlik gaan sy mos nie saam nie. Hy kan haar tog nie teen haar sin saamneem nie. Natuurlik weier sy beslis om saam te gaan.
Toe daar ’n uur of twee later ’n klop aan haar deur is, keer Magriet se hart bollemakiesie in haar om toe sy gewaar wie haar besoeker is.
“As jy gereed is, kan ons maar ry. Jy het seker al geëet, nè? Dokter Pienaar wag vir ons,” sê Emile Fraser kalm.
Magriet staal haar vir wat voorlê. Genugtig! Dink die man regtig sy sal soos ’n mak hanslam reageer elke keer dat hy roep? Dan wag daar ’n groot ontnugtering op hom, dis seker.
“Wat laat jou dink dat ek sommer net sal saamgaan, dokter? Ek het jou gisteraand gesê –”
“En ek het jou gesê jy gaan saam,” val hy haar in die rede en vervolg met ’n moeë stem, vermoeide lyne om sy oë van die ure lange konsentrasie in die operasiesaal: “Asseblief, Magriet, moet nou nie moeilik wees nie. Jy weet tog dat jy uiteindelik sal saamgaan. Waar is jou tas?”
“Ek het nie ingepak nie en ek is ook nie van plan nie …” Sy swyg toe hy haar sag maar beslis uit die deur wegstoot en die kamer binnestap. Hy gaan reguit na die ingeboude kas, haal die kleinerige tas wat bo-op lê af en sit dit op die mat voor die divan neer. Hy knip dit oop en toe hy regop kom, ontmoet hul oë vlugtig. ’n Oomblik staar hulle mekaar so vas aan. Dan begin hy die laaie van die spieëltafel ooptrek.
Met een tree is Magriet by hom terwyl haar oë byna uitpeul van verontwaardiging.
“Hoe durf jy my laaie oopmaak?” Sy gryp ’n stukkie onderklere uit sy hand en hou dit agter haar rug, hoewel die oop laai elke netjiese bondeltjie duidelik ten toon stel. “Watter reg het jy? Hoe durf jy –?” stotter sy.
Hy val haar kalm in die rede.
“Gee pad, Magriet. Gaan sit. Jy hou my op.”
Sy probeer die laai toestoot, maar hy hou dit terug. “Gaan sit, Magriet. Ek praat nie weer nie!”
“Dokter Fraser, ek waarsku jou …” begin Magriet terwyl sy nog vergeefs probeer om die laai toe te stoot.
“Ek het jou klaar gewaarsku! Sit daar!” Sy voel hoe haar voete van die grond lig en dan word sy sonder omhaal op die stoel neergeplak. “En waag dit net om daar op te staan! Jy kort lankal ’n afgedankste loesing en vandag is die dag dat jy dit gaan kry. Roer net van daardie stoel af!”
Hy lyk heeltemal kapabel om sy dreigement uit te voer en Magriet kyk hom verskrik aan. Hy sal darem seker nie regtig nie … Maar tog sit sy doodstil toe hy omdraai en ewe kalm van haar intiemste kledingstukkies uit die laai begin haal.
“Ek sal … ek sal nou self inpak,” waag sy dit, bloedrooi in die gesig.
“Dankie, maar ek kom heeltemal goed reg,” is die rustige antwoord en hy gaan bedaard met sy selfopgelegde taak voort. “Pragtige goedjies wat julle vroumense dra. Jammer ’n man sien so min daarvan … ek bedoel nou natuurlik ongetroude mans. Eintlik net in die winkelvensters,” gaan hy gesellig voort.
’n Mens sou sê hy gesels oor die weer, dink Magriet, terwyl dit vir haar voel asof sy elke oomblik net rooier en rooier raak. Om haar so in die verleentheid te stel! Sy sal hom dit nooit vergewe nie! Sy waag dit om vinnig na sy gesig te kyk, maar dié is doodernstig.
“Dokter, asseblief …” Haar stem bewe skielik verraderlik, maar hy kyk nie eens in haar rigting nie.
“Die naam is Emile. Terloops, ek sit hierdie enetjie hier eenkant neer. Ek sien daar is ’n naat los.”
“O!”
“Die goedjies is werklik onweerstaanbaar. Kyk nou net hierdie enetjie met die valletjies. Ek het al dikwels gewens dat ek ’n vrou het sodat ek vir haar daarvan kan koop. My hande jeuk soms as ek in die stad is om by een van die winkels in te stap as ek hulle so in die vertoonvensters sien. So ja. Nou is ons hiermee klaar. Nou nog net so twee of drie rokke.” Hy stoot tot Magriet se grootste verligting die laaie toe en maak die deure van die ingeboude kas oop. “Laat ek sien … wag, ek dink hierdie langbroek en baadjie en die bloes … en … ja, hierdie rok en hierdie pakkie ook. Ek wil hê jy moet deftig en mooi lyk.”
“Regtig?” Magriet het weer haar selfvertroue teruggekry noudat die laaie toegedruk is. “Vir wie moet ek nogal deftig en mooi lyk?”
“Vir my, natuurlik. Daar is nog ’n tweede rede ook, maar dié sal ek jou vertel wanneer ons eers daar is. Daar is nie nou tyd daarvoor nie.” Hy plaas twee paar skoene ook netjies in die een hoek neer en kyk peinsend op die tas af. Dan verhelder sy gesig. “O, ja, ek wou sê daar moet nog iets wees! Kouse en … het ons al die nodige onderklere in?”
Magriet spring haastig op.
“In die badkamer. Ek sal dit kry. En my toiletgoed ook. En onder in die hangkas is ’n leertassie waarin ek gewoonlik my skoene sit.”
“O, ekskuus,” sê hy ewe gehoorsaam en haal die skoene uit die groot tas. Magriet verdwyn in die badkamer en nou, die eerste keer, breek ’n fyn glimlaggie oor sy streng lippe en vonkel die groen oë openlik. So ja, juffrou Hardekop, dit sal jou leer!
“Wat dink jy gaan Thero sê as sy hiervan hoor?” kom Magriet se stem uit die badkamer.
“Ek het haar gesê ek vat jou saam om vir ons ’n paar belangrike sakebriewe te gaan tik, wat ook gedeeltelik die waarheid is. Die hospitaal se sekretaresse op Simonsvlei is met verlof en daar is ’n paar briewe wat afgehandel moet word. Jy kan sommer terselfdertyd jou sout verdien.”
Sy verskyn in die deur en kyk hom verontwaardig aan. “Ek betaal vir my losies!”
“Hier op Abendruhe, ja. Nie op Simonsvlei nie.”
“Is dit my skuld dat ek Simonsvlei toe gaan?”
“Is dit my skuld dat jy nie weet hoe om jou te gedra nie en ek jou oral met my moet saampiekel?”
Magriet is dadelik weer gereed vir ’n volgende ronde, maar op daardie oomblik is daar ’n klop aan die deur en Lukas Pienaar se stem klink op.
“Waar bly julle twee so lank?” Hy druk die deur effens wyer oop en sy oë vonkel moedswillig toe hy die oop tas voor Emile sien. “G’n wonder julle kry nie klaar nie! Dit lyk my julle twee pak saam in!”
“So min of meer, ja,” antwoord Emile kalm.
Magriet werp hom ’n vernietigende blik toe en sê haastig: “Noem my asseblief Magriet, dokter Pienaar. Ek is jammer ek het jou laat wag. Ek het my tyd by Thero verspeel …”
Lukas Pienaar se aangename geselskap verdryf gou die spanning wat aan die begin in die motor heers en Magriet is die ene belangstelling vir alles wat hy te vertel het.
“Ons kry dikwels kapok hier en minstens een of twee keer per jaar is Abendruhe ’n paar dae lank geheel en al van die buitewêreld afgesny,” vertel dokter Pienaar. “Die bergpas is dan onbegaanbaar.”
Emile sien haar oë rek en hy voeg by: “Ons is darem altyd gereed vir so ’n gebeurlikheid. Veral in die reënseisoen dra ons sorg dat Abendruhe minstens ’n volle maand lank genoeg van die nodige voorrade het, sodat ons kan klaarkom sonder die buitewêreld as dit moet. Nie dat ons ooit werklik so lank afgesny bly nie. Dis hoogstens ’n week, of tien dae in baie ernstige gevalle.”
Maar Magriet is geensins gerusgestel nie.
“Maar veronderstel daar gaan iemand dood in daardie tyd, of iemand raak baie ernstig siek en sy familielede moet kom, of so iets? Wat dan?”
“Dan word daar met die Rooi Kruis in aanraking gekom en hulle stuur ’n helikopter. Ek het ook ’n radiosender in my huis vir so ’n noodgeval,” stel hy haar gerus.
Sy haal nou vryliker asem. Die gedagte dat sy miskien ’n onbepaalde tyd op Abendruhe vasgekeer kan word, staan haar glad nie aan nie.
“Sneeu die bergpas heeltemal toe, sodat ’n mens glad nie die pad kan sien nie?”
“Soms, ja, en selfs nadat die kapok gesmelt het, bly dit nog dae lank gevaarlik weens die glibberige pad, want hier is ’n paar verraderlike plekke.”
“En Simonsvlei? Vertel my meer daarvan.”
“Simonsvlei is ’n redelike groot dorp waarvan die meeste inwoners te doen het met bosbou. Jy het seker opgemerk hoe wyd uitgestrek die plantasies hier lê. Die hospitaaltjie daar was jare lank heeltemal ontoereikend vir die groot gemeenskap wat dit moes bedien. Danksy Emile het toestande egter verander,” verduidelik dokter Pienaar.
“Vertel my meer van die boswerkers,” vra Magriet belangstellend.
“Daar is natuurlik die opgeleide personeel in diens van die Departement van Bosbou, maar die oorgrote meerderheid is die gewone boswerkers – merendeels arm en ongeskoold. Hul omstandighede het natuurlik deur die jare ook baie verbeter, maar toe ek die eerste keer hier gekom het, was dit treurig. Daar was byvoorbeeld ’n ondertrouery onder hulle aan die gang, natuurlik met die mees tragiese gevolge van liggaamlike gebreke en verstandelike agteruitgang. Maar dis stadigaan besig om reg te kom, hoewel hulle in baie opsigte nog soos kinders gelei en geleer moet word.”
“Wat dokter Pienaar jou nie vertel nie, Magriet,” neem Emile oor, “is dat hy as die Vader van Simonsvlei bekend staan. Hy het as jong dokter hierheen gekom – nie om ryk te word nie, maar omdat hy die groot behoefte van sy medemens hier raakgesien het. Hy het gekom om te dien, en dit is wat hy sedertdien nog steeds doen – onbaatsugtig, sonder om te dink aan vergoeding of beloning. Alle behandeling by die Lukas Pienaar-hospitaal op Simonsvlei is verniet.”
“Danksy jou, my jonge vriend,” laat dokter Pienaar sag hoor. “Was dit nie dat jy dit vir ons finansieel moontlik gemaak het nie, sou dit nie so kon wees nie.”
Maar daarvan wil Emile Fraser niks hoor nie.
“Nee, kollega, danksy die dokter wat homself, sy kennis en sy kragte gratis aan die gemeenskap skenk.”
“Ons sal liewer nie daaroor argumenteer nie.”
“Maar word daar nie dikwels deur mense wat wel kan betaal, misbruik gemaak van die gratis dienste nie?” wil Magriet weet.
“Daarvoor sorg ék! Mense wat kan betaal, word sonder meer na Abendruhe oorgeplaas. My hospitaal is uitsluitlik ’n barmhartigheidsinrigting vir diegene wat dit werklik nodig het.” Lukas Pienaar lag tog te lekker.
“Maar daar moet geweldige koste aan verbonde wees om so ’n plek aan die gang te hou,” sê Magriet sag.
“Ja, natuurlik. Dit word gedra deur die kapitaalfonds wat Emile in die lewe geroep het. Dis daarom dat ek sê: al hierdie dinge is net moontlik gemaak deur een man se onselfsugtigheid en aan hom kom al die eer toe.”
“Twak!” antwoord Emile kortaf. “Om geld te gee, is die maklikste ding op aarde as die geld daar is. Om van jouself te gee, is iets veel groters – dit is ware opoffering.”
Magriet het op hierdie oomblik net die grootste bewondering en respek vir die twee dokters. Albei het dit hul lewenstaak gemaak om hulle aan hul medemens te wy, maar sy besef dat Emile Fraser iets meer gedoen het. Daar is bitter min mense wat, as hulle ’n fortuin op die lyf loop, dit aan die lydende mensdom sal wy soos wat hy gedoen het. Dit stem haar onwillekeurig tot dieper nadenke.
Haar lewe was, totdat sy na Abendruhe gekom het, so alledaags, so gewoon. Weliswaar het sy, sover sy kan onthou, niemand nog ooit doelbewus kwaad aangedoen nie, maar skielik besef sy dat sy ook nog nooit iets daadwerkliks gedoen het om die wêreld waarin sy lewe mooier en beter te maak nie. Haar lewe was tot dusver baie passief, en sy weet dat die Skepper dit sekerlik nie so bedoel het nie. Die mens se doel in hierdie lewe moet ten eerste nie wees om geen kwaad te doen nie. Dit moet sy strewe wees om goed te doen, aktief deel te neem aan die groot Skeppingsplan, hom doelbewus daarop toe te lê om die lewe aangenaam en mooier te maak – soos hierdie twee mans wat werklik iets dóén.
’n Rusteloosheid stoot in haar op. Dis nie die eerste keer sedert haar aankoms ’n paar weke gelede op Abendruhe dat sy haar betrap dat sy so voel nie. Tot nou toe het sy maar gedink dis die ledigheid wat haar rondjaag en haar so ontevrede met haarself stem. Maar sy weet nou dat dit nie net dit is nie. Haar hele lewensuitkyk het ’n verandering begin ondergaan sedert sy op Abendruhe aangekom het. Dis vir haar skielik onmoontlik om te dink dat sy weer haar werk as sekretaresse by Van Zyl sal kan hervat en gelukkig sal kan wees. Sy glimlag wrang. Nooit sou sy darem kon dink dat haar lewe so ’n omwenteling sou ondergaan toe sy daardie dag so ongeërg beloof het om Thero na die hospitaal in die berge te vergesel nie.
Magriet kry net ’n algemene indruk van Simonsvlei toe hulle daardeur ry na die hospitaal wat op die rand van die dorp geleë is. Hulle word by die voordeur ontmoet deur ’n mooi donkerkop van omtrent veertig in ’n matrone-uniform.
“Ontmoet my steunpilaar en regterhand, Magriet,” sê dokter Pienaar. “Dis nou matrone Rina Breytenbach.” En in dieselfde asem: “Rina, dis Magriet Marais, ’n kuiergas op Abendruhe.”
Hoewel die ouer vrou se groet heeltemal vriendelik is, is daar tog ’n effens afsydige kilheid wat Magriet dadelik opval en laat wonder.
Ná die bekendstelling ignoreer die matrone Magriet en draai na die twee dokters, asof sy Magriet goed wil laat verstaan dat hulle in ’n hospitaal is en nie ’n kuierplek nie. Magriet verwens Emile opnuut omdat hy haar hierheen saamgesleep het. Sy voel soos ’n oorlas, en die vlugtige blik wat na haar kant gewerp word, met ’n fyn fronsie tussen die donker wenkbroue, maak dit maar te duidelik dat matrone Breytenbach ook so dink.
“Hier het vanoggend twee gevalle ingekom en ek wil graag hê dat jy hulle dadelik moet sien, Emile,” sê sy en begin ook sommer aanstap. Die twee dokters, verdiep in die probleem wat wag, volg haar.
Hulle het heeltemal van my vergeet, dink Magriet vererg. Dis die matrone wat blykbaar weer van die swygende meisie onthou en halfpad in die gang omdraai.
“O, juffrou … e … Marais, nè? Daardie deur links is die kantoor van die sekretaresse. As jy so vriendelik sal wees om solank daar te wag …”
Magriet knik en antwoord koel: “Sekerlik. Moenie dat ek julle steur nie!”
Sy draai dadelik om voordat een van die dokters nog om verskoning kan vra en stap met ’n stywe rug in die teenoorgestelde rigting. Solank sy rusteloos van die een venster na die ander dwaal, laai die ontevredenheid in haar op. Sy weet Emile Fraser het hierheen gekom om te werk en sy verstaan heeltemal dat hy ook sommer dadelik ná sy aankoms geen tyd wil verspil nie. Maar ter wille van goeie maniere kon hy ten minste eers toegesien het dat sy na haar kamer geneem word en dat sy tuis voel voordat hy hom by ander dinge bepaal, aangesien hy die een is wat haar teen haar sin hierheen saamgesleep het. En soos die ure verbysleep in die sekretaresse se oninteressante kantoortjie, groei haar ontevredenheid vinnig aan. Later stap sy na buite en dwaal om die gebou rond, maar toe die skemerte begin toesak, kan sy niks anders doen as om na die kantoortjie terug te keer nie. Toe Emile eindelik in die deur verskyn, is dit reeds donker.
“Magriet?”
“Goeienaand.” Dis asof ’n yskoue windjie teen hom aanwaai.
Dan gewaar hy haar waar sy in een van die diep leunstoele sit.
Hy kom vinnig nader.
“Hoekom sit jy hier alleen in die donker?”
“Ek sit hier alleen omdat ek hier ingestuur is deur ’n steunpilaar en ’n regterhand wat my beskou as ’n lastige, onwelkome gas wat uit die pad gehou moet word solank die geleerde mense besig is met hul werk. En omdat ek teen my sin hierheen gesleep is deur ’n ongemanierde …”
Skielik is die kamer verlig en hy sê kortaf: “Kom ons gaan eet.”
“Ek wil nie eet nie, dankie. As dit nie te veel moeite sal wees nie of te veel van jou kosbare tyd in beslag sal neem nie, sal ek net graag my tas wil hê en wil hoor waar die badkamer en my slaapplek vir die nag is.”
“Moenie kinderagtig wees nie, Magriet. Goed, ek is jammer. Ek vra om verskoning. Ek was ontsettend besig vandat ek hier aangekom het en ek het eerlik gedink een van die verpleegsters het na jou omgesien. Kom ons gaan eet nou. Matrone wag op ons …”
“Laat haar wag!” Magriet besef dat sy nou soos ’n moedswillige, stout kind optree, maar sy kan haarself nie keer nie. “Sy laat wag my al ure lank! En dit sonder eens ’n koppie tee!”
Hy glimlag skielik.
“Ek is regtig jammer, Magriet. Ons gedrag was regtig laakbaar. Al verskoning wat ek het, is dat ek nie gewoond daaraan is om gaste saam met my te bring nie. Ek het skromelik vergeet dat ek hierdie keer een het.”
Sy sussende verduideliking het egter net die teenoorgestelde uitwerking as wat hy verlang.
“Dokter Fraser, jy is die enigste mens wat ek die twyfelagtige voorreg het om te ken, wat ’n kompliment en ’n belediging in één sin kan indruk.”
Hy frons nou ongeduldig.
“Dis kaf. Wat bedoel jy?”
“Ek moet natuurlik geëerd voel omdat ek saam met jou rondgekarwei word. Ons sal die rede vir sulke eksentrieke optrede daar laat. En natuurlik is dit seker nie ’n belediging vir my dat jy die eerste oomblik dat jy eter in jou neusgate ruik en onder die magnetiese invloed van die donker matrone kom, heeltemal van my bestaan vergeet en die feit dat jy my eintlik ontvoer het nie.”
Hy is nou openlik geamuseerd en skielik glip sy een arm om haar middel.
“Ons kan later vanaand daardie lang beskuldiging sin vir sin ontleed, maar nou vra ek jou: asseblief, kom laat ons eers gaan eet. Ek het nie vanmiddag tyd gehad om te eet nie en my maag draai van die honger. Dit was ’n lang dag, Grietjie. Moenie langer met my op ’n leë maag baklei nie – toe?”
Magriet voel skielik skuldig. Sy weet hy het ’n lang dag gehad. Hulle was van vroeg vanoggend af in die operasiesaal op Abendruhe besig. Sy is ook intens bewus van die arm om haar middellyf en terwyl sy daaruit probeer wegkom, mompel sy: “En wat dan van mý maag? Ek weet ook nie wanneer laas ek kos gesien het nie.”
Hy kyk haar ontsteld aan.
“Het jy regtig nie vanmiddag geëet nie, Magriet? Maar hoekom …?”
Sy kyk hom onstuimig aan. Nou, nadat hy van kos gepraat het, voel sy asof sy kan flou word van honger.
“Jy het nie gewag om te hoor wat my antwoord is toe jy vanmiddag op Abendruhe gevra het of ek al geëet het nie. Ek het gisteraand laas kos gesien – en vanoggend om tienuur laas ’n koppie tee!”
“Magriet, vergewe my …” begin hy regtig berouvol, maar sy wil niks weet nie.
“Kom ons gaan eet.”
“Net so ’n oomblik. Beloof my dat jy aan tafel vriendelik met my sal wees, asseblief.”
Sy kyk agterdogtig na hom.
“Hoekom?” vra sy kortaf.
“Antwoord nommer een: Dis sleg vir jou eie sowel as vir ander se spysvertering om met ’n suur gesig aan tafel te gaan aansit.” Hy druk haar stywer teen hom vas toe sy uit sy greep probeer wegbeur. “Antwoord nommer twee: Daar is ’n ander belangrike rede, maar oor dié sal ons vanaand praat.”
“Wat voer jy in die mou?”
“Ons sal later daaroor praat,” antwoord hy nou ernstig. “Noem my tog net asseblief Emile. Sal jy onthou? Nou toe, kom.”
Hy druk haar in die gang uit voordat sy verdere vrae kan stel en byna vas teen matrone Breytenbach wat blykbaar op pad is om hulle te kom roep.
“Ek het net kom kyk waar julle so lank bly,” sê sy glimlaggend teenoor Emile, maar haar blik dwaal beskuldigend na Magriet wat dadelik weer die antagonisme aanvoel.
“Ag, ons is jammer. Ek en Emile het skoon van die tyd vergeet. Ons het gesels,” antwoord Magriet liefies.
Sy voel ’n drukkie op haar arm en toe sy vlugtig opkyk, lag sy oë goedkeurend in hare. Sy het blykbaar die regte ding op die regte tyd gesê. Maar wat gaan aan? Sy voel instinktief aan dat sy saam met Emile in die een of ander komplot ingetrek is, maar sy het nie die vaagste benul wat dit kan wees nie. Dan was daar tog ’n dieperliggende rede agter sy vasbeslotenheid dat sy saam met hom Simonsvlei toe moes kom. Sy is sommer van voor af ergerlik. Hy kon haar ten minste vooraf gewaarsku het. Sy voel kompleet soos ’n toneelspeler wat op die verkeerde verhoog beland het en geen benul het van wat die volgende sin is wat sy moet sê nie.
Gedurende die ete doen matrone Breytenbach haar bes om, soos dit vir Magriet voorkom, die gesprek tot mediese onderwerpe te beperk sodat Magriet nie daaraan kan deelneem nie. Dan en wan ontmoet die twee vroue se blik mekaar oor die tafelblad en glimlag hulle vriendelik met mekaar, maar eintlik, weet Magriet, sê hulle aan hulself: “Ek hou nie van haar nie!” Magriet kan haarself nie eintlik verstaan nie. Sy hou nie maklik sommer nié van ’n mens nie. Rina Breytenbach is mooi en intelligent; seker baie bekwaam in haar werk, selfversekerd en ten volle bewus van haar aantreklikheid. Sy het haar verklee vir die aandete en Magriet kan sien dat sy ook goed ontwikkelde smaak het.
Magriet merk dat hulle nou die formele aanspreekvorm laat vaar het. Die woordjie “Emile” verskyn tot vervelens toe aan die end van ’n sin.
Die goed versorgde regterhand met die pienk, kortgeknipte naels lê alte dikwels op Emile se een arm wanneer die matrone ’n punt wil benadruk. Dan is dít soos die wind waai, dink Magriet. Matrone Breytenbach het beslis meer as professionele bewondering vir die dokter. Magriet hou hom ongemerk dop. Tog is sy houding ongeërg, asof hy nie bewus is van die spesiale aandag wat hy ontvang nie, of anders is hy al so gewoond daaraan dat hy hom dit as vanselfsprekend laat welgeval.
Magriet vererg haar. Hy is al so verwen deur al die bewondering wat hy van alle kante ontvang dat hy dit al as sy reg beskou. Selfs die matrone, wat ’n volwasse, intelligente vrou is, gedra haar soos ’n verspotte bakvissie in sy teenwoordigheid. Magriet is skielik vies vir die hele besigheid en verloor sommer ’n groot deel van haar eetlus. Dan kyk sy na Lukas Pienaar aan haar linkerkant.
Sou hy ook die dweepsieke bewondering van sy matrone teenoor sy kollega agtergekom het? Maar dokter Pienaar gaan stil voort met eet en daar is niks in sy gesig of houding wat verraai dat hy ook geïrriteerd is deur die belaglike gedrag van die vrou nie.
Emile het haar, Magriet, verniet gevra om vriendelik teenoor hom te wees aan tafel, want die matrone oorheers die hele gesprek en Magriet vind dit selde nodig om ’n geluid te uiter. Trouens, al sou sy ook graag iets wou kwytraak, sou sy beslis nie die kans kry nie, dink sy ergerlik.
Dis ’n verligting toe die ete verby is en Magriet, bang dat sy die res van die aand na matrone Rina sal moet sit en luister, kondig sommer dadelik aan: “Dis heerlik buite. Ek het lus om af te stap dorp toe en die omgewing ’n bietjie te verken.”
Tot haar verbasing is Emile blykbaar ingenome met haar plan.
“Ek wil net gou weer by ’n pasiënt gaan inloer. Wag vir my, dan stap ek saam,” sê hy.
Maar die matrone steek ’n stokkie daarvoor – of probeer altans, soos Magriet half en half verwag.
“Daar is ’n paar finansiële verslae wat ek graag sal wil hê ons vanaand nog moet deurgaan, Emile.”
Die eerste keer dié aand sien Magriet iets soos ’n flits van ergernis op sy gesig.
“Ons kan môre ’n tydjie daarvoor inruim. Ek dink in elk geval ook dat jy dit liewer met dokter Pienaar moet bespreek. Hy is tog die hoof hier.”
“Ja, maar jy is die man wat die tjeks teken. Ek sou dit liewer met jou wou bespreek.”
Magriet se ergernis jeens hierdie vrou neem net al meer toe. Watter reg het sy om haar so aan te matig om dokter Pienaar openlik in die gesig te vat?
Emile se stem is ook beslis killer toe hy antwoord: “Daardie sakie sal binnekort reggestel word. Dis onnodig dat ek die tjeks vir hierdie hospitaal moet teken. Dokter Pienaar behoort dit te doen.”
Lukas Pienaar kyk vinnig op.
“Asseblief nie, Emile. Ek sou liewer nie …”
“Ek is bevrees die reëlings is reeds so te sê klaar getref. Voortaan sal jy in volle beheer van hierdie hospitaal wees – ook van die finansiële sy.”
Magriet verloor sommer ’n groot mate van haar gramskap teenoor Emile en tree tussenbeide: “Ek sal vir jou wag. Ek sal net graag eers my tas wil kry en matrone Breytenbach kan my net sê waar ek moet slaap.”
Toe Emile haar ’n rukkie later by die ingang ontmoet, kyk hy haar vinnig aan en frons.
“Het ek jou weer te lank laat wag of waaroor is jy nou weer kwaad?” vra hy toe hulle begin aanstap.
“O nee, ek dink sommer maar net,” antwoord sy ontwykend.
“Waaraan?”
“Ek en … matrone Breytenbach het ’n interessante gesprek gehad toe sy my my kamer gaan wys het.”
“So? Laat ek hoor. Wat was so interessant?”
Magriet byt haar onderlip vas.
“Ag, sommer,” antwoord sy vaag, vies dat sy melding daarvan gemaak het. Tog kan sy nie help om weer die gesprek in herinnering te roep nie. Die ouer vrou het meteens baie geselserig geraak en ongevraag begin inligting uitdeel. Hoe lank sy en Emile mekaar al ken, wat ’n besondere band van vriendskap daar tussen hulle is, hoe besonder goed hulle mekaar verstaan, hoe eenders hul smaak is, ensovoorts, totdat Magriet later gevoel het sy kan skree. “Hoe gaan dit met jou pasiënt?” vra sy om die gesprek in ’n ander rigting te stuur.
“Watter een?”
“Enigeen.”
Dis eers toe hy hartlik lag dat sy agterkom hoe ver haar gedagtes gedwaal het, en sy moet verleë saamlag. “Natuurlik die een wat jy laaste besoek het,” sê sy, sommer weer vererg.
“Nou watter een was dit?”
“Ag, Emile, moenie laf wees nie.”
“Mag ek raai waaroor julle gepraat het?”
“As jy wil,” sê sy ongeërg.
“Was dit miskien oor my?”
Sy kyk fronsend na hom op. Hulle het ’n tydjie gelede al tot stilstand gekom en staan nou reg teenoor mekaar.
“Jy is darem werklik ’n baie verwaande mens, dokter Fraser,” sê sy nou reguit. “Dink jy dat jy die enigste interessante onderwerp is waaroor daar gepraat kan word?”
Hy lag haar uit. “Ek sal dit nie sommer vir enigiemand sê nie, maar ek weet Rina praat graag oor my!”
“Ag, regtig?” Magriet probeer haar hand uit syne trek waar hy dit skielik vasgevat het, maar slaag nie daarin nie. “Jou Rina mag dalk graag oor jou gesels, maar ek beslis nie! Trouens, dis die verveligste onderwerp waaraan ek kan dink!”
Nou lag hy hardop en skielik glip sy arm om haar skouer en druk hy haar teen hom vas. Hy fluister by haar oor: “Grietjie! Ek het nooit geweet jy het sulke skerp naeltjies nie! Ek verwag elke oomblik dat jy sal begin miaau skreeu!”
Sy beur van hom af weg.
“Dis goed dat jy dit besef. Bly uit my skerp naeltjies se pad. En los my. Gaan druk jou wonderlike Rina as jy lus voel om te druk. Sy sal dit beslis geniet.”
“Magriet …” Sy stem waarsku haar skielik dat sy gemoedelike geamuseerdheid verdwyn het. Skielik klink daar voetstappe agter hulle op. Sy ander arm gaan ook om haar en hy sê sag, gebiedend by haar oor: “Staan stil. Hier kom iemand aan.”
“Maar …”
“Staan stil, Magriet!”
Dis Rina Breytenbach se stem wat skielik agter hulle opklink. “O, hier is julle! Ek het ’n vars pot tee gemaak. Julle kan gerus eers kom saamdrink.”
Emile laat Magriet gaan, maar sy een arm bly om haar middel.
“Dankie, Rina. Dis baie gaaf van jou, maar ek dink ’n wandelinkie sal nou vir ons beter wees ná daardie heerlike ete.”
“Nes julle verkies. Maar jy moet onthou, Emile, dat jy môreoggend vroeg in die operasiesaal moet wees. Juffrou Marais, jy moet hom nie te laat uit die slaap hou nie, hoor?” sê sy op skertsende toon. “Jy weet mansmense is maar nes kinders. Ek moet gedurig ’n ogie hou!”
Magriet hoor ’n gedempte kreun langs haar opklink en skielik borrel die lag in haar op. Die matrone is skaars buite hoorafstand of sy moet uiting aan haar gevoelens gee.
“Wat is so vreeslik snaaks?” Emile se stem klink yskoud en dit prikkel Magriet se lagspiere net nog meer.
“Jy! Jy en jou … Rina … o!” Sy worstel om haar lagbui onder beheer te kry. “Die ou groot haan wat so koning kraai op Abendruhe is hier op Simonsvlei ’n donsige kuikentjie oor wie moederhen Rina kloek en wat sy saans onder haar beskermende vlerk in koester! Sê my, dokter, sit sy jou saans in die bed ook?”
“Staak dit onmiddellik, Magriet! Daar is niks snaaks hieraan nie!”
“Miskien nie vir jou nie, maar vir my … o!”
“Magriet, as jy weer aan die lag gaan, sal ek …” sê hy dreigend en druk haar skielik op ’n klip neer. “Sit daar. Ek wil met jou praat.”
Magriet versober. “Ja?”
“Dis oor hierdie verspotte verliefdheid van Rina, natuurlik!”
“Wie sê vir jou dis verspotte verliefdheid, Emile?” vra Magriet ernstig. “Rina is ’n volwasse vrou. En vir my het dit gelyk asof jy die aandag baie geniet.”
“Moenie verspot wees nie! Hoe kan ek die vroumens voor Lukas Pienaar afjak?”
“Wat het dokter Pienaar daarmee te doen?” vra sy verbaas.
“Omdat hy al jare lank op haar verlief is natuurlik, en dis net ter wille van hom dat ek al so lank hierdie onmoontlike situasie duld.”
“Ag nee!” sê Magriet teleurgesteld. “Hy is so ’n dierbare, warm mens. Ek gun hom iets beters.”
Emile kyk haar kwaai aan.
“Ek het sonde met jou gehad om jou van Ron Jooste af te kry. Moenie vir my sê ek sit nou weer met ’n splinternuwe probleem met Lukas Pienaar nie!”
“Moet jy altyd die slegste van my dink? Jy …” Sy kom haastig orent.
“Vergeet daarvan. Laat ons tot die punt kom …”
“Ek stel in geen punt belang nie. Môre, so vroeg moontlik, soek ek ’n geleentheid terug na Abend-”
“Jy sal dit nie doen nie, Magriet. Rina moet van haar verliefdheid genees word. Aangesien jy so geweldig baie van dokter Pienaar hou, behoort jy my jou heelhartige samewerking te gee.”
“Ek?”
“Ja. Ons kan voorgee dat daar ’n verhouding tussen ons twee is.” Hy lag skamper. “Behalwe as jy natuurlik bang is dit kan werklik met jou gebeur …”
“Nee, regtig, ek het geen vrese daarvoor nie. En jy?”
“Beslis nie!”
Haar oë vernou.
“Wat laat jou dink dat jy so immuun teen my sal wees?”
Hy lag en tik met sy wysvinger op haar neus se punt.
“Jou naeltjies is te skerp, Grietjie! Ek hou nie van katjies met sulke lang naels nie. En ek is bevrees jy het geen keuse nie. Ek het op my aandronde in die hospitaal reeds so ongeërg laat glip dat ek en jy privaat verloof is. Teen hierdie tyd moes dit al Rina se ore bereik het!”