Читать книгу Ena Murray Keur 7 - Ena Murray - Страница 4
1
ОглавлениеMarista Minnaar stap na die rooi sportmotor en sluit dit oop.
Dan is dit of iets haar binneval en sy draai vinnig terug. Sy het haar pêrelborsspeld vergeet. Met die grasieuse tred van ’n model, maar in Marista se geval heeltemal spontaan en ingebore, stap sy terug in die rigting waarvandaan sy gekom het.
Behalwe dat hierdie stukkie juweliersware ’n klein fortuintjie werd is, is dit ook ’n geskenk van ouma Miemie sowat vier jaar gelede met haar mondigwording, iets wat sy vir niks ter wêreld wil verloor nie.
Sy trippel die treetjies vinnig op en wil net die deur oopstoot waar sy nog die gebabbel van die ander modelle kan hoor, toe sy in haar spore vassteek. Marista is ’n fyn opgevoede jong meisie, maar sy is ook ’n mens. Die katterige woorde, en duidelik nydig uitgespreek, bring haar onwillekeurig tot stilstand.
“Marista het weer geskitter vandag, maar ek wonder of sy nog soos ’n koningin sal glimlag as sy moet weet hoe gruwelik haar verloofde haar verkul.”
“Ja,” laat ’n ander stem ewe snedig hoor. “Die arme ding leef in ’n gekkeparadys. Ek sal graag die dag naby wil wees wanneer sy dit agterkom. Veral vir iemand soos Marista sal dit ’n dubbele slag wees, want daardie soort mens verbeel hulle mos hulle is verhewe bo sulke dinge.”
’n Derde stem tree tussenbeide. “Julle kan Marista darem nie van hoogmoed beskuldig nie, Sonja. Sy is ’n uitstekende model en haar sukses het niks daarmee te doen dat sy aan modeontwerper Wouter Malan verloof is nie. Sy is ook altyd vriendelik teenoor ons. Ek kan regtig nie kla …”
“Ja, toe maar, ek weet jy het ’n skielike bewondering vir haar en ek gee toe dat sy uitstekend in haar werk is. Maar dit help darem baie om aan Wouter verloof te wees. As sy verloofde kry sy al die beste skeppings om te vertoon, en solank sy en Wouter verloof is, het nie een van ons ’n kans om ooit verder te kom as wat ons is nie. Wát hy in haar sien, weet ek ook nie. Sy is mooi, met daardie pragtige, egalige gelaatstrekke en magnoliavel. Maar sy is koud en … O, ek kan haar nie juis beskryf nie, maar dit verbaas my nie dat Wouter ander weivelde soek nie. Selfs hy, dink ek, sal verkies dat sy soms minder volmaak en meer menslik moet wees.”
“Ja, ek dink jy is reg. Sy is volmaak, soos jy sê. Daar is nooit ’n haar uit sy plek nie, sy kan altyd deur ’n ring getrek word, haar gesig is altyd volmaak gegrimeer en sy tree altyd net reg op. Sy is net … onaantasbaar, dink ek is die woord.”
“Juis. Dis die regte woord om haar te beskryf. Onaantasbaar. Só onaantasbaar dat Wouter, wat tog net ’n man is, maar sy menslike drifte en drange by ander vroue gaan uitlewe. Al is hulle verloof, dink ek nie hy het haar al een keer in sy arms geneem en hartstogtelik gesoen nie, of sy vingers deur haar hare getrek of … wel, soos ’n minnares behandel nie, want sy is net nie daardie soort vrou nie. Soos ’n waspop, ja. ’n Mooi ornament. Dís wat sy is. Maar ’n man wil ’n vrou in sy arms hê, nie ’n koue beeld van volmaaktheid nie …”
Marista se lam bene kry skielik lewe en sy draai blindelings weg van die deur.
“Marista!” ’n Hand gryp haar arm vas, maar sy is skaars bewus daarvan. “Marista, moenie jou aan hulle steur nie. Hulle is sommer net ’n spul jaloerse katte!”
Sy kyk verdwaas terug in die bekommerde oë. Dan skud sy haar kop stadig en sluk. “Miskien … en miskien het hulle heeltemal gelyk. Ek …”
“Dis alles onsin. Hulle is net jaloers op jou,” probeer Lettie olie op die troebel water gooi, maar nie met veel oortuiging in haar stem nie.
Sy kyk nou strak na die pragtige gelaat hier voor haar wat in dié oomblik van skok en ontnugtering bleek vertoon, maar nietemin steeds beeldskoon is.
Teen wil en dank moet Lettie stilswyend aan haarself erken dat daar baie waarheid in die ander se katterige opmerkings skuil. ’n Ander meisie sou in die omstandighede óf die kamer ingebars en die klomp goed die waarheid vertel het, óf in trane uitgebars het. Maar nie Marista Minnaar nie. Sy staan net roerloos daar, haar gelaat ’n bleek masker, foutloos selfs in dié oomblik van emosionele skok. Hulle het heeltemal gelyk. Marista is onaantasbaar. Selfs in dié oomblik keer Lettie die spontane drang wat by haar opkom om haar arms om die meisie te slaan en haar te troos. ’n Mens doen dit net nie met Marista Minnaar nie. Sy is nie daardie soort mens teenoor wie jy sulke gevoelens openbaar nie, omdat sy self altyd so beheers is.
Tog kry Lettie haar innig jammer, want sy weet instinktief dat daar tog ’n vrou, ’n hart, onder die skynbaar koue uiterlike skuil. Sy is seker die enigste van die groep wat vir Wouter Malan, die jong modebaas, werk, wat nie jaloers op Marista is nie. Sy is die enigste een wat eintlik van hierdie meisie hou en al dieper gekyk het as die uiterlike. As sekretaresse van Wouter Malan werk sy al meer as ’n jaar nou saam met Marista en koester ’n bewondering vir dié hoofmodel wat altyd net reg lyk en is.
Daarbenewens het Marista ook baie ander voortreflike eienskappe. Sy is altyd die eerste om die ander modelle te komplimenteer met ’n vertoning, en dit is Marista wat soms raaksien wat die stil, beskeie Lettie werklik vir die groep beteken en doen. Wat die ander modelle soms vir trots en hoogmoed aansien, is eintlik ’n ingebore teruggetrokkenheid en huiwering om haar ware gevoelens bloot te lê, het Lettie al agtergekom. Daarom het ’n woordjie van lof en erkenning van die kant van Wouter se hoofmodel nog altyd Lettie se hart warm laat klop. Marista swaai nie lof toe as sy dit nie bedoel nie.
Daar het dus die afgelope maande ’n sonderlinge vriendskap tussen Marista en Lettie ontwikkel. Van almal is Lettie die een wat die naaste aan die onaantasbare Marista kon kom. Maar selfs Lettie word nie in so ’n oomblik te naby toegelaat nie. Marista lig nou haar kop op.
“Ek het my pêrelborsspeld vergeet en wou dit net gou kom haal …”
“Ek sal dit kry en dit vir jou by jou woonstel afgee as ek daar verbykom,” laat die ander meisie vinnig hoor, en skielik versag die masker en gaan daar ’n bewing oor die mooi gelaatstrekke.
“Dankie, Lettie. Jy is … ’n dierbare mens.”
Marista weet self nie hoe sy haar woonstel in die middestad veilig bereik nie. Eers toe sy in die middel van haar smaakvolle sitkamer staan, besef sy dat sy die veilige privaatheid van haar woonstel bereik het, dat dit nie langer nodig is om haar soos ’n marmerbeeld voor te doen nie.
Maar selfs noudat daar niemand is wat kan sien Marista Minnaar is ook maar net ’n mens nie, laat sy nie toe dat die seer en skok die oorhand oor haar kry nie. Daarvoor is sy nog te beneweld, weier haar verstand nog om te aanvaar dat dít wat sy gehoor het die waarheid is. Soos een van hulle tereg opgemerk het, kan Marista nie glo dat dit met haar gebeur het nie, dat dit werklik waar kan wees … Wouter is besig om agter haar rug met ander vroue te flankeer en haar te verkul. Vir háár … Marista!
Sy sak verslae op die naaste stoel neer. En tog, hoe ongelooflik dit ook al vir haar klink, vertel iets hier binne haar dat dit nie net blote katterigheid van die ander modelle was nie; êrens skuil tog ’n grein van waarheid, ’n vae moontlikheid dat dit wel waar kan wees.
Doelbewus dwing sy haar geskokte verstand tot kalmte. Sy kyk haar en Wouter Malan se verhouding die eerste keer werklik goed in die oë … en wat sy in haar verbeelding sien, laat haar saggies na asem snak. Hulle is reg!
Daar is ’n verhouding tussen hulle – hulle is immers verloof – maar ’n mens sal dit kwalik ’n liefdesverhouding kan noem. Op hierdie oomblik besef sy dat dit eerder as ’n sterk en innige vriendskapsverhouding beskryf kan word: twee mense met dieselfde agtergrond, dieselfde belange, dieselfde ideale, met dieselfde smaak en wat saam grootgeword het, en dit as vanselfsprekend begin aanvaar het dat hulle vir mekaar bedoel is; dat hulle eendag sal trou.
Maar is dit genoeg vir ’n huwelik? wonder Marista die eerste keer werklik ernstig. Is dit genoeg om net op dieselfde golflengte te wees? Moet daar nie ook liefde bykom nie? Maar daar ís liefde, maak sy haarself wys en doen haar bes om die onrustige gevoel binne-in haar te ignoreer. Natuurlik is sy en Wouter lief vir mekaar! Daar is geen ander man in haar lewe nie. Natuurlik gee sy vir hom om … Maar is dit liefde, dáárdie soort liefde wat twee mense vir mekaar moet hê as hulle gaan trou?
Sy staan rusteloos op, stap haar slaapkamer binne, gaan sit voor die spieëltafel en kyk na die pragtige beeld wat uit die spieël na haar terugstaar.
Die modieuse kapsel tref haar oog. Geen haar uit sy plek nie … soos altyd. Haar blou oë vernou. Een van hulle het gewonder of Wouter al ooit sy verloofde wild in sy arms geneem het, ooit sy vingers liefkosend deur haar hare gestoot het … Sy trek haar asem in. Nee. Hy het nie. Nog nooit nie. Wouter het haar nog altyd met die grootste selfbeheersing gesoen. Nog nooit het hy sy vingers deur haar hare laat gly nie. Wat dan van haar kapsel? Wou hy soms? Wou hy haar al miskien graag wild in sy arms neem, haar gesig met soene bedek al sou hy dan haar grimering verwoes, sy vingers deur haar hare trek ondanks die kapsel wat deur die beste en duurste salon in die stad geskep is? Wou hy al, of het dit nog nooit by hom opgekom om dit te doen nie – net soos dit nog nooit by haar opgekom het om na so iets te verlang nie, tot op dié oomblik.
Of is dit dat hy al soms wou, maar haar ook soos ander nie menslik genoeg, nie vrou genoeg vind om dit te waag nie? Vind die man aan wie sy verloof is haar ook te onaantasbaar om sy menslike verlangens by haar uit te leef, en is dit die rede waarom hy maar liewer daardie menslike neigings by ander vroue gaan bevredig? Is dit háár skuld dat Wouter rondflankeer?
Sy het al die tyd in ’n gekkeparadys gelewe, blyk dit nou. Alles is ver van volmaak. Al die jare, soos haar ster as model geklim het, was sy bewus van ander se bewondering en respek, selfs van die jaloesie waarmee sy dikwels bejeën is. Maar was dit werklik altyd bewondering en respek, ook in Wouter se geval? Het mense voorgegee om haar te bewonder en haar agteraf bejammer en beskinder?
Die eerste keer in haar vyf-en-twintigjarige bestaan wonder Marista of mense van haar as mens hou … en sy kan skielik geen antwoord daarop gee nie. Die eerste keer ervaar sy ’n gevoel van onsekerheid, so asof sy skielik agtergekom het dat haar voete op los sand staan, en nie op ’n rots soos sy gedink het nie. Ook Wouter … As hulle nie so te sê soos broer en suster saam grootgeword het nie, as sy nie ’n skitterende model was nie – iemand wat ontsaglik baie beteken vir die jong modebaas wat nog naam in die modewêreld moet maak nie …
Marista word eers bewus van Lettie toe laasgenoemde versigtig en onseker in die deur van die slaapkamer verskyn.
“Ek het geklop, maar jy het blykbaar nie gehoor nie. Hier is jou borsspeld.”
“Dankie, Lettie. Wil jy nie ’n oomblik sit nie? Dan maak ek vir ons tee.”
“Nee dankie, ek … wil nog ’n draaitjie by tant Miemie gaan maak. Ons was so besig dat ek haar nog nie dié week gesien het nie, en sy sal my dit teen hierdie tyd baie kwalik neem.”
Marista glimlag daardie professionele glimlaggie wat alle mense in die openbare lewe gou moet aanleer, ’n glimlaggie wat vriendelik en spontaan en vrolik voorkom, maar nooit werklik die oë bereik nie.
“Ouma is baie lief vir jou. Ek dink sy is baie erger oor jou as oor my. As ek by haar kom, gesels sy altyd land en sand oor Lettie en haar mense.”
Lettie glimlag verleë en trap ongemaklik rond. “Moenie laf wees nie, Marista. Jou ouma is baie lief vir jou. Jy is immers haar enigste kleinkind. Dis maar net … sy sien jou min. Moenie dink ek verwyt jou nie. Ons, en ook tant Miemie, weet hoe uiters besig jy is. Maar sy is baie lief vir jou, dít kan ek jou verseker.”
Marista kyk die ander meisie peinsend aan. En skielik, voordat sy kan keer, glip die woorde uit: “Ek wonder tog, Lettie. Ek begin wonder of die mense wat ek altyd geglo het lief is vir my, werklik so voel.”
“Marista …” Lettie aarsel en kyk dan die ander reguit aan. “Jy gaan jou tog nie steur aan die katterige aanmerkings van ’n klomp jaloerse vroumense nie? Jy is tog sekerlik verhewe bo dit, Marista!”
Haar blik bly peinsend op Lettie gerig. “Ek begin agterkom dat ek gans te verhewe is bo die alledaagse, Lettie. En eintlik is ek nie. Dit sal jou dalk verbaas, maar ek steur my wel daaraan. Ek weet sulke dinge verdien eintlik ’n mens se minagting, maar …” Sy lag kortaf. “Maar tog besef ek skielik dat ek darem nog so menslik is dat dit my skok om te hoor dat my verloofde agter my rug flankeer – en as ander mense my onaantasbaar en gevoelloos vind, te volmaak om menslik te wees, om enige warmte te besit …”
Lettie frons. “Ek het jou gesê dis onsin …”
“Maar ís dit, Lettie?” Die blou oë kyk skielik skerp, gans te skerp na Lettie se smaak. “Is dit? Of ís Wouter besig om my gruwelik agter my rug te bedrieg?”
“Marista, ek glo dit nie …”
“Lettie, jy besit een eienskap wat my van die begin af getref het en die fondament van ’n mooi vriendskap tussen ons gelê het – jou eerlikheid. Ek het jou die afgelope jaar leer ken as ’n mens op wie se eerlikheid ek onvoorwaardelik kan vertrou. Al kom Wouter ook met watter wonderlike skepping vorendag en dit pas my nie, sê jy dit reguit, al hou hy dit gewonlik teen jou. Uiteindelik moet ek en hy altyd erken dat jy gelyk het. Dis wat ek bedoel. Moet nie vandag my vertroue in jou skok nie, Lettie.”
Lettie se oë bly ontwykend. “Marista, wat … wat kan ek sê, moet ek sê?”
“Net ja of nee, Lettie. Is dit waar dat Wouter agter my rug met ander meisies lol?”
’n Lang oomblik hang die stilte swaar om hulle. Dan antwoord Lettie onwillig: “Dis nie so maklik om sommer ja of nee daarop te antwoord nie, Marista. Ek het hom nie gesien nie, maar ek erken … daar is al ’n hele ruk allerhande stories onder die personeel in omloop. Ek weet nie hoeveel daarvan waar is nie, maar … dit is moontlik.” Sy kyk verleë op. “Marista, gaan praat reguit met Wouter. Hy is die aangewese persoon om oor hierdie saak uit te vra, nie ek nie.”
Marista sug en swaai vinnig weg na die venster. Met Wouter gaan praat? Hom reguit vra: Is jy besig om my te verneder deur agter my rug met ander meisies te flankeer? Sy sterf liewer ’n duisend dode! Maar sy antwoord kalm:
“Ja, natuurlik. Jammer dat ek jou in die verleentheid gestel het, Lettie. Maar ek het geweet dat ek die regte ding by jou sou hoor.” Sy draai weer terug, die professionele glimlaggie om haar lippe. “Sê groete vir Ouma. Ek sal vanaand ’n draaitjie by haar maak.”
“Maar jy en Wouter gaan opera toe vanaand, dan nie?”
“Nee. Ons gaan nie meer nie. Daar het … iets voorgeval.”
Toe ’n diep bekommerde Lettie eindelik vertrek, stap Marista na die telefoon. ’n Paar oomblikke later laat sy dit weer stadig op die mik terugsak.
Hy het nie juis bekommerd of ontsteld geklink toe sy hul afspraak vanaand met ’n vae verskoning gekanselleer het nie. Inteendeel. Is haar verbeelding besig om met haar op loop te sit, of is dit dat sy maar net al die maande blind was en haar oë nou eers oopgaan?
Tant Miemie sit haar hekelwerkies neer toe Lettie in die deur verskyn.
“Kind, maar ek is bly om jou te sien. Jy het my die afgelope tyd liederlik verwaarloos.” Sy frons kastig kwaai, maar die ou oë vonkel liefdevol. “As ek geweet het hulle gaan jou so hard laat werk dat jy nie eens tyd gaan kry om by ’n eensame ou mens te kom kuier nie, het ek nooit vir jou daardie werk by Wouter Malan gekry nie. Jy moenie toelaat dat hulle alles op jou afskuif nie, Lettie-kind. Kom sit hier. ’n Bietjie tee? Ek het dit pas gemaak. Jy lyk moeg.”
Lettie sak dankbaar op die voetstoeltjie voor tant Miemie neer.
“Dankie, tante. Dit gaan heerlik smaak. Ek is nogal moeg. Die spanning van die nuwe seisoen se vertoning is egter nou verby. Marista was natuurlik weer skitterend en Wouter Malan se skeppings begin nou al selfs oorsee aandag trek. Dit sal my nie verbaas as hy binnekort uitgenooi word om van sy werk oorsee te gaan vertoon nie.”
“Hm.” Die ou tante se stem klink ongeërg. “Dié bohaai oor ’n spul klere gaan my verstand steeds te bowe. In mý dae was daar nie sulke dinge nie. ’n Rok was ’n rok en bedoel om jou naaktheid te bedek, nie om jou op te dollie vir die sondigheid nie.”
Lettie lag en skud haar kop. Dis ’n stokou onderwerp tussen hulle en Lettie vermoed dat tant Miemie soms doelbewus so te kere gaan net om lekker te redekawel. Sy byt nou ewe vrywillig aan die hoek wat uitgegooi is.
“Dis reg, tante. Ten eerste is ’n rok iets wat jou naaktheid moet bedek, maar as jy terselfdertyd mooi ook kan lyk, is dit darem seker nie ’n sonde nie.”
Die ou tante snuif en laat verontwaardig hoor: “Jy sal my niks kom vertel nie, kind. Ek sit hier in my woonstelletjie, maar ek weet wat om my aangaan. Deesdae se modes is g’n om die naaktheid te bedek nie, maar om dit te beklemtoon. Ek het gister byna die aapstuipe gekry van skok toe ek ’n tydskrif oopmaak en hier staan Marista met ’n paar stukkies toiings aan. Kind, dit was sowaar net drie tabaksakkies en ’n stuk tou wat gebruik is om haar naaktheid te bedek! Maar sy sal weer hier kom. Ek sal haar iets te vertelle hê. En daardie danige Wouter Malan. Hy behoort hom te skaam! G’n wonder ek sien haar nooit meer nie. Natuurlik te skaam om haar gesig hier te wys!”
Die ou tante is nou werklik ontstoke en Lettie hou haar gesig op ’n sedige plooi. Sy weet baie goed van watter “toiings” tant Miemie praat. Dit was een van die baaikostuums wat hulle kort gelede vertoon het. Sy wonder watter soort stuipe die ou tante sal kry as sy haar nou moet vertel wat daardie drie tabaksakkies en tou kos!
Sy probeer die gesprek vinnig in ’n ander rigting stuur.
“Tante is verkeerd. Sy het laat weet dat sy tante moontlik vanaand sal kom besoek. Dan kan tante haar maar self onder hande neem, maar …” en haar glimlag verdwyn. “Moenie te kwaai met haar wees nie, tante. Veral nie vanaand nie.”
Die ou oë is skerp, en hoewel die ou liggaam reeds oud en afgetakel is, is haar begrip nog net so vlug soos altyd.
“Hoekom juis nie vanaand nie? Wat het gebeur?” wil sy dadelik weet, en Lettie aarsel. Miskien sal dit beter wees as sy Marista se ouma vertel wat gebeur het.
Toe sy stilbly, lyk die ou tante peinsend.
“Dan het die seepbel eindelik gebars. Arme kind.”
Lettie kyk haar fronsend aan. “Wat bedoel u, tante?”
“Ek het dit lankal verwag, Lettie-kind. Ek het lankal verwag dat Marista se wêreld om haar gaan intuimel. Nou het dit gebeur. Daardie Wouter Malan …”
Lettie keer vinnig.
“Tante, ek weet die stories doen al ’n hele rukkie die rondte, maar ek vind dit swaar om te aanvaar dat dit werklik so is. Dis nie Wouter nie, tant Miemie. Ek werk ook darem nou al ’n jaar lank saam met hom. Wouter is ’n ware heer. Hy en Marista is werklik so eenders, albei so na aan volmaak …”
“Dis juis die moeilikheid, kind! Kan jy dan nie begryp nie? Hulle is nie vir mekaar bedoel nie. Daar moet ’n balans in die lewe wees. Wouter en Marista is die wonderlikste paartjie, so bloedloos en perfek dat hulle my koue rillings gee. Hulle kort lewensmaats wat hulle sal terugbring aarde toe en van hulle mense maak met gevoel en warmte. Wouter Malan, hoe briljant hy ook al is, is nie die man om die vrou in Marista na vore te bring nie, ewemin as wat sý die man in Wouter Malan sal uitbring. Marista kort ’n stewige, sterk boerklong wat nie onsin duld nie, en Wouter kort ’n vrou soos … wel, soos jy.”
“Ek!” Lettie val byna van die voetstoeltjie af. “Tante, nee, nou is u verspot! Aarde nee! Wat sal ’n man soos Wouter Malan nou in my sien? Sy vrou moet ’n advertensie vir hom wees en … ek is plomp en nie eens mooi nie en …”
“Lettie-kind, ek begin ál meer spyt kry dat ek jou in dié mode-affêre gehelp het. Jy is al byna net so erg soos die ander twee. Gebruik tog jou verstand, kind. Waarom moet Wouter se vrou ’n advertensie vir hom wees? Hy het daardie klomp plankdun, half verhongerde modelle wat sy goed kan bemark. Jy is nie plomp nie. Jy is mollig, soos ’n vrou moet wees. Hierdie rietskraal, vermaerde goed wat hom heeldag omring, is seker goed om na te kyk. Maar as ’n man wil vry, wil hy iets hê om aan te vat, nie ’n sak bene nie, en Wouter Malan is ook maar net ’n man …”
“Tante!” Dis vandag die een skok ná die ander. Lettie se doodgewone groenbruin oë lyk openlik geskok, maar tant Miemie laat haar glad nie van stryk bring nie.
“Ja, toe nou maar, kind. Jy hoef jou nie sodanig onskuldig voor my te hou nie. Ek was ook jonk en ek het ’n barshou gevry op my dae.” Sy lag saggies, die ou oë vonkelend, vol herinneringe. “Kind, ek was ’n voorslag! Ai, waar is daardie lekker ou dae tog! Dis dié dat ek bly is dié ding het vandag gebeur. Ek voel almelee Marista het nog nie die helfte van die lekkerte op dié ou aarde van ons ontdek nie. Ek is baie seker sy weet nie eens wat vry is nie. Dit verbaas my glad nie dat Wouter by ander afleiding gaan soek het nie. Marista is omtrent so warm soos ’n vrieskas op sy hoogste gestel in die hartjie van Alaska!”
“Tant Miemie!” Lettie kyk haar fronsend aan. “Dit klink mos sowaar asof tante dit goedkeur dat hy …”
“Natuurlik keur ek dit goed. Gits, ek het nooit juis veel van die mannetjie gehou nie. Hy is te eksie-perfeksie na my sin. Ek hou van ’n mansmens wie se kuif deurmekaar is, se hemp uithang … sy veters moet los wees en sy broek se sitvlak vol stof. Dis nou mý smaak. Die mans wat jy so deur ’n ring kan trek met hul sagte handjies en tierlantyntjies en wat op ’n afstand soos ’n laventelfabriek ruik … O nee, dankie! Maar noudat ek hoor hy loop darem rond, begin ek mos respek vir hom kry. Dalk kom hy nog eendag reg. Ek het nou hoop vir hom.”
“Maar wat van Marista? Wat van die vernedering en skok en …”
“Wat daarvan? Dis medisyne wat sy lankal moes gekry het. Dit sal haar regmaak. Ek kan daardie klomp katte wat Wouter Malan aanhou om sy sondige goed te vertoon, gerus elkeen ’n medalje gee.”
Sy kyk vas in die geskokte oë voor haar en glimlag effens. “Lettie, Marista is my kleinkind, my enigste kleindogter. Ek hoef jou nie te vertel dat ek vir haar baie lief is nie. Maar ek sien haar liewer nóú seerkry, as dat sy met die verkeerde man gaan trou en naderhand met ’n ongelukkige huwelik sit en nooit werklik weet wat dit is om te lewe en lief te hê nie. Daar lê ’n wonderlike, warm, polsende vrou diep agter Marista se koue, volmaakte uiterlike verskuil. En ek bid daar sal eendag ’n man kom wat daardie vrou sal uithaal en na die oppervlak bring. As ek haar net hier kan wegkry …”
Onverwags stuur sy die gesprek in ’n heel ander rigting. “Kom ons los nou vir Marista en vertel my eerder die jongste nuus van die plaas af. Kon Michael darem sy koring red?”
Lettie sug en dwing haar gedagtes om tred te hou met tant Miemie s’n.
“Net dié wat hy kon besproei. Die droë lande is daarmee heen. Die reën het te lank weggebly. Hy het toe maar die skaap daarop gejaag.”
“Foei! En dit ná al die harde werk. Ja, ’n boer leer ook maar harde bene kou.”
Tant Miemie klink regtig spyt, want sy verstaan so goed die probleme van ’n boer. Sy was immers haar lewe lank boervrou, tot haar man se dood toe sy by haar dogter in die stad kom bly het. En vandag is sy nog hier, stokalleen, afgesien van haar kleindogter wat sy maar baie selde sien.
Haar hart is egter nog op die plaas en sy slurp elke stukkie nuus in wat Lettie kom vertel. Die jong meisie se grootouers en sy was groot vriende, en toe Lettie sowat ’n jaar gelede vir haar skryf en vra om vir haar ’n lansie te breek by Wouter Malan se groep omdat sy baie belangstel in daardie rigting, was tant Miemie maar te bly om dit te kon doen.
Deur Marista het sy Wouter oortuig dat Lettie ’n natuurlike aanleg het vir die ontwerp van klere, en hoewel hy aanvanklik net ingestem het omdat dit Marista se ouma was wat die versoek gerig het, het hy die afgelope jaar deeglik besef dat Lettie haar gewig in goud werd is. Sy is eintlik iemand wat maar moeilik vriende maak en deur die maande was dit na tant Miemie se woonstel waarheen sy gevlug het as die eensaamheid te erg geword het. ’n Mooi vriendskap het tussen hulle gegroei en tant Miemie, hoewel sy hulle nog nie persoonlik ontmoet het nie, ken Lettie se mense so goed deur hul gesprekke en die briewe wat Lettie voorlees, dat sy hulle al op hul voorname noem en selfs deel van die familie voel.
“En hoe gaan dit met Johan?” wil sy nou weet.
“Nog op die ou trant, maar hy skryf hy verveel hom dood. Hy het bedags niemand om hom geselskap te hou as Michael veld toe is nie.”
“Nou maar waar is tant Anna dan? Met vakansie?”
“Nee, tante. Ek het so lank laas hier gekuier dat ek vergeet u weet nog nie van die jongste nuus nie. Tant Anna het mos geval en haar heup gebreek. Ons voel almal so sleg daaroor. Sy lê in die hospitaal en volgens die dokters sal dit weke duur voordat sy weer kan loop. Nou sit Michael en Johan net met ou Sabien. Dié moet nou maar opsnork. Ek voel so skuldig as ek aan my twee boeties dink. Ek het aangebied om terug te gaan plaas toe en vir hulle te sorg, maar Michael wil niks daarvan weet nie. Hy sê hulle kom heeltemal goed reg; maar tante weet hoe dit gaan waar net mansmense in die huis is. Michael adverteer nog vir ’n huishoudster, maar tot dusver kon hy nog nie een na sy sin kry nie. Hy is maar ’n moeilike man om tevrede te stel.”
“Soos ek hom opgesom het uit jou beskrywings in die verlede, is dit nie dat hy so ’n moeilike mens is nie, Lettie-kind. Hy weet net wat hy wil hê, en is met niks minder tevrede nie. Ek hou van so ’n man.”
Lettie glimlag. “Sodra ek ’n kansie kry om weg te breek Duiwelskloof toe, moet tant Miemie saamkom, asseblief. Ek wil so graag hê u moet hulle ontmoet, en hulle ken u ook nou al so goed deur my briewe dat Johan gereeld groete vir u stuur!”
“Ek sal graag wil saamgaan, kind. Baie dankie. Dis mos mý ou wêreld daardie. Ek sal my gedagtes ook laat gaan. Dalk kan ek aan iemand dink wat jou broers ’n paar weke kan uithelp totdat tant Anna weer gesond is.”
“Dit sal wonderlik wees, tante. Veral ter wille van Johan. Dit moet swaar genoeg wees om aan ’n rolstoel vasgekluister te wees, maar om dan nog niemand te hê om mee te gesels nie …”
“Sal hy nooit weer kan loop nie, Lettie?”
“Nee, tante. Die polio-aanval was te kwaai. Maar andersins is hy ’n vrolike, opgeruimde mens.”
“Ja, my kind. Ons huil so dikwels oor nietighede. As ons net om ons wil rondkyk …”
Dieselfde gedagte lê vlak in tant Miemie se gemoed toe Marista daardie aand skielik in haar woonsteldeur verskyn. Hoewel die jong meisie haar so ongeërg moontlik probeer voordoen, sien die oë wat met innige deernis en ’n hart vol liefde na haar kyk al die seer en ontnugtering in die jong hart, só ongewoond aan teleurstelling. Marista het tot op hierdie dag kwalik ’n oomblik van hartseer of swaarkry geken. Sy was ’n geliefde enigste kind en selfs ná haar ouers se dood was die lewe nog gelykmatig, vol sukses, sonder kommer. Maar skielik het hierdie veilige kokon om haar gebars …
Marista weet dadelik toe sy nader stap dat haar ouma bewus is van vandag se gebeure. Lettie het haar vertel. Sy voel dankbaar daaroor. Nou hoef sy tog nie al die pynlike en vir haar so vernederende besonderhede op te haal nie.
“Naand, Ouma.”
“Naand, kind. Kom binne. Hoe gaan dit?”
“Goed, dankie.” Trots word die kop omhoog gehou, die blou oë kyk moedig terug.
Tant Miemie sug, aarsel eers en steek dan haar hand uit en wink na die voetstoeltjie by haar voete. “Kom sit hier by my, Miempie.”
’n Oomblik lank is dit stil, baie stil in die vertrek. Miempie … die troetelnaampie van haar kinderdae.
Sy stap vinnig vorentoe, sak op die stoeltjie neer en laat haar kop op die ou knieë rus, voel die ou hand bewerig strelend oor die blonde kapsel gaan. Maar nou maak dit nie saak dat die duur kapsel verrinneweer word nie.
“Jy moet ’n ruk wegkom, my kind.”
“Waarheen?” Die vraag is gedemp, sonder veel belangstelling. Sy ken geen ander lewe nie.
Die ou dame se oë vernou peinsend. Hoekom nie? Ja, hoekom nie?
“Ek dink ek weet waarheen jy moet gaan. Dit sal net die regte plek vir jou wees. Ja, hoe meer ek daaroor dink … Dis net die plek vir jou, Miempie. Duiwelskloof … dís waarheen jy moet gaan.”