Читать книгу Ena Murray Keur 7 - Ena Murray - Страница 9

6

Оглавление

“Miemie, moenie huil nie, asseblief! Michael is nie een vir vleitaal nie. Hy het drie keer ingeskep. Dit op sigself is al die grootste kompliment wat hy jou kan gee. Miemie, asseblief …”

Sy kyk met betraande oë na hom.

“Ek dink daardie broer van jou is … is … O, ek het geen woorde om hom te beskryf nie!” Dan sluk sy swaar en lyk verskonend. “Jammer, Johan. Dis nie reg dat ek jóú invlieg nie. Jy kan nie help nie … Ag, kom ons los dit. Wat sal dit help om te sanik?”

Sy begin die vuil borde heftig op mekaar pak. Wat sal sy haar aan Michael de Beer steur? Solank sy maag vol is, het sy niks verder met hom uit te waai nie. En dié is bepaald vanaand versadig, al sê hy ook wát! “En ek huil nie. Ek voel maar net effens moeg. Ek het nie juis gisternag op die trein geslaap nie en … al die spanning van die afgelope dag …”

“Natuurlik!” laat Johan sussend hoor. “Die skottelgoed kan bly vir môreoggend. Jy gaan nou dadelik uittrek en in die bed klim.”

Maar sy skud haar kop.

“Nee. Die kombuis lyk vreeslik. Dit moet eers aan die kant kom, anders sal hy ook weer iets daaroor te sê hê,” laat sy beslis hoor. Terwyl sy die vuil skottelgoed aandra kombuis toe, besef sy eers werklik hoe moeg sy is. Marista Minnaar sou nou in ’n geparfumeerde, stomende bad gaan klim en dadelik gaan slaap het. Maar daar is geen genade vir Miemie Greyling nie. ’n Baie deurmekaar kombuis wag op haar.

Johan help met die skottelgoedwassery. Hy droog af.

“’n Mens kan nie dink dat daar soveel vuil skottelgoed van dié bietjie gebrou kom nie,” merk hy op.

Marista vee met die rugkant van haar arm oor haar voorkop waar die stoom van die wasbak fyn sweetdruppeltjies vorm. Sy het lankal vergeet om aan grimering en haar vel en al daardie fieterjasies te dink. Daar is net nie tyd vir sulke goed op Duiwelskloof nie. Sy sug saggies. Sal sy haarself ooit weer ná dese regkry?

Michael kom met ’n brief in die hand binne. “Erika het ons pos vanmiddag saamgebring. Hier is ’n brief van Lettie.”

“O. Sit dit maar daar neer. Ek sal dit netnou lees.”

Johan gaan voort met die afdroëry en tot Marista se konsternasie loop Michael nie weer uit soos sy verwag het nie, maar plak hom stewig op die hoek van die kombuistafel neer. As hy dan móét bly, kan hy gerus help met die afdroëry. Maar daarvoor is hy seker te grootmeneer, dink sy ergerlik, intens bewus van die effens slordige prentjie wat sy voor die wasbak moet slaan.

Daar hang ’n sliert hare oor haar voorkop, en toe sy dit sommer vinnig met ’n seperige hand uit haar oë vee, voel sy skielik ’n hand om haar pols sluit.

“Wat makeer jou naels? En daardie rooi hale?” wil Michael fronsend weet, en dis glad nie meer ’n pophandjie wat hy vir inspeksie omhoog hou nie. Die naels is afgebreek en daar lê rooi hale oor die sagte wit palm wat nou nog rooier is van die warm skottelgoedwater. Ook oor die rugkant van haar hande en selfs tot by haar elmboë loop rooi hale en lyk dit effens opgehewe.

Dis Johan wat antwoord: “Dis natuurlik van die sandgrawery vanmiddag om die wiele los te kry.”

Michael sê niks hierop nie, maar stap uit en is byna dadelik weer terug met ’n naelknippertjie in die hand.

“Gee hier,” beveel hy kortaf.

Sy kyk hom fronsend aan. “Wat wil jy doen?”

“Ongelukkig het al jou naels nie afgebreek nie, en ek wil nie môre lang, rooi vingernaels in my boontjiebredie kry nie.”

“Dis nie rooi nie. Dis pienk!”

“Dis rooi! En moenie die onderwerp verander nie. Dis my bestelling vir môremiddag, hoor? Lekker boereboontjiebredie, van vars boontjies gemaak. Ek sal dit môreoggend vroeg laat pluk.”

Hy gryp weer haar hand vas en teen wil en dank moet Marista toekyk hoe haar pragtige naels – of die stuk of vier wat nog oor is – die een ná die ander verdwyn. Johan kyk maar stilswyend toe. Michael, in hierdie bui, word liefs alleen gelaat.

Hy sien die stormagtige blou oë en die saamgeperste lippies, en hy gryp na die eerste ding waaraan hy kan dink om die aandag van die naelknippery af te kry.

“Wat skryf Lettie alles?”

“Die ou storie. Wouter Malan dit en Marista Minnaar dat. Jy weet mos. Ek wonder of daardie wonderlike Marista ooit ’n goeie invloed op Lettie het. Daardie soort meisie is nie juis my idee van ’n goeie vriendin vir haar nie. Hulle het gewoonlik net ’n mooi geboude figuur, en verder is hulle hol van binne. Nie dat ’n model se liggaamsbou juis vir mý mooi is nie. Die goed is te plankdun. Maar Lettie dink die son skyn uit hierdie vroumens. Ek keur hierdie vriendskap glad nie goed nie. Dan stel sy nogal voor dat sy haar een naweek saam huis toe bring. Dit sal ek nie toelaat nie. Ek het nie tyd vir prikkelpoppe en leeghoofde nie. Sy moet liewer maar bly waar sy is.”

Marista ruk haar hand los toe hy klaar is met haar pienk naels en draai vinnig terug na die wasbak. Johan frons.

“Hoe kan jy so sê, Michael? Jy het die meisie nog nie eens ontmoet nie.”

“Ek het haar klaar deur Lettie se briewe opgesom. Al wat sy kan doen, is om klere aan en uit te trek, niks meer nie. Sy beteken verder ’n ronde nul.”

Gorrr, sê die aflooppyp toe Marista die prop hardhandig uitruk.

Dit voel vir haar asof sy nog skaars haar oë toegemaak het toe ’n stem langs haar bed haar wakker maak.

“Hier is jou koffie, juffrou Greyling.”

Sy worstel om haar ooglede van mekaar af te kry. Dis kompleet asof dit met gom vasgeplak is. Dan sit sy sukkelend regop.

“Wat?” vra sy verward en knip haar oë.

Michael de Beer se wenkbroue skiet omhoog.

“Jou koffie, sê ek. Dis opstaantyd.”

Sy kyk hom met slaapdeurdrenkte, ongelowige blou oë aan, en besef nie dat sy, met haar blonde hare nou loshangend oor haar half ontblote skouers en die sagte roospienk nagrokkie allesbehalwe na ’n huishoudster lyk nie. Sy is nog gans te aan die slaap om op te merk hoe sy skerp oë opsommend oor haar gaan.

“Wat sê jy?” wil sy weer met ’n vae stem weet, en die koffie word hard, ongeduldig op die kassie langs haar bed neergeplak.

“Ek sê dis opstaantyd!”

“Opstaantyd! Dit kan nie wees nie!” Haar oë is nou wawyd oop en gaan vinnig na die venster waar net ’n vae skemering die aankoms van ’n nuwe daeraad verraai. “Maar dis nog nag!” protesteer sy luid.

“Dis vyfuur in die oggend – ten minste, amper vyfuur. Op Duiwelskloof slaap ons nie totdat die son ons uitbak nie, juffrou. Ek eet ontbyt gewoonlik om halfsewe.”

By die deur draai hy terug en kyk na haar waar sy hom nog met dikgeslaapte ooglede en deurmekaar hare op en af sit en beskou asof hy nooit reg wys kan wees nie. “Ja, terloops, ou Sabien het laat weet dat sy nie vandag kom nie. Die rumatiek vreet haar deesdae op. Jy … en Johan sal dus maar vandag alleen moet regkom.”

Sy mondhoeke krul agterdogtig, hoewel sy stem heeltemal ongeërg bly. “En ou Freek is besig om die vuilgoedblik leeg te maak vir die dag se … e … voorraad.”

Marista gee op hierdie oomblik nie ’n duit om of hy die sagte plof van haar kamerjas teen die deur hoor wat hy agter hom toetrek nie. Dis die eerste ding wat sy in die hande kon kry.

Sukkel-sukkel klim sy uit die bed. Om Johan se woorde te gebruik – so ’n dekselse ou Sabien! En is sy nie bevoorreg nie! Kan bekostig om siek te voel. En wat van háár? Sy voel miserabel! Ontstoke! Vaak! Ergerlik! Sy voel siek! Iets is besig om háár ook op te vreet – senuwees! O, sy wens die despoot van Duiwelskloof kry ’n … ’n kramp!

Maar die despoot van Duiwelskloof lyk heel fris en gesond – reg vir die dagtaak – toe hy ’n rukkie later die kombuis binnestap en Marista by die stoof aantref waar sy haar bes doen om te probeer dink wat sy hom vir ontbyt kan gee – of liewer, wat sy in staat is om gaar te maak. Hy plak die groot mandjie groenbone op die tafelblad neer.

“Boontjiebredie vandag, onthou? Hier is die boontjies,” en hy wys met ’n vinger na die mandjie. “Onder in is die uie en aartappels. Roep my as jy ontbyt wil voorsit. Ek is net hier om die draai by die trekker.”

Haar vingers kriewel om weer na ’n gooiding te soek. Die enigste ding in haar onmiddellike bereik is egter net die emmer, vars, warm melk wat ou Freek enkele oomblikke gelede hier aangedra het. Dit was nadat sy duidelik gehoor het toe hy die leë vuilgoedblik weer op sy plek langs die agterdeur neersit – vir die dag se “voorraad”, soos meneer Michael gesê het.

Maar sy het nie tyd om haar ergernis jeens hierdie meneer te staan en vertroetel nie. Daar moet ontbyt gemaak word. Maar wat?

Op die kop halfsewe word Lientjie, die huishulp wat die huis aan die kant moet hou, gestuur om die baas van die plaas te gaan roep. Johan het ook intussen sy verskyning gemaak en laat verbaas hoor: “Maar jy is vroeg op.”

Marista ontwikkel so ’n soet-suur glimlaggie. “Van vyfuur af. Dis glo die gewone opstaantyd op Duiwelskloof. Hier lê ’n mens nie totdat die son jou uitbak nie. Jy behoort jou te skaam!”

Johan moet onwillekeurig lag vir die uitdrukking op haar gesig. “Hy het jou tog seker nie kom wakker maak nie!”

“Alte seker het hy, my jonge vriend. En só galant – met ’n koppie koffie daarby! ’n Regte ridder van weleer!”

Die ontbyt is nie so ’n sukses soos die vorige aand se ete nie. Daar is iets met die pap verkeerd. Dis al asof dit ’n jellerige draad wil trek nes jy dit na jou mond bring. Sodra jy dink dis veilig in die mond, gly dit weer terug na die bord. Johan wend ’n paar moedige pogings aan, maar ná die tweede probeerslag stoot Michael sy bord terug.

“Ons hou van ons pap droog en styf, juffrou. Gee vir my die eiers aan, asseblief.”

Dis doodstil totdat Johan en Marista weer alleen is, en dan vra eersgenoemde vol lag: “Miemie, moenie snaaks dink nie, maar ek is eerlik nuuskierig. Wat het jy in die pap gegooi?”

Dis ’n moedelose, na aan wanhopige Marista wat verduidelik: “Die goed wou nie styf word nie, toe roer ek mielieblom in. Dit maak mos iets styf wat nie wil styf word nie, nie waar nie?”

Johan gooi sy kop agteroor en lag hartlik. “Ja, maar nie by pap nie! Jy moes net nog ’n bietjie meel bygeroer het!”

Marista glimlag maar flou saam. “O, dankie. Môreoggend sal jou ouboet stywe, droë pap kry wat ek hoop in sy keelgat sal vassit. Terloops, hy het ’n hele mandjie groenbone op die kombuistafel kom neerplak. Boontjiebredie vandag. Weet jy iets daarvan af?”

“So vaagweg. Die Bruid sal ons darem seker kan vertel. Ek sal dit vir jou afhaar en sny. Ek weet darem dit. Ek het dit dikwels vir my ma as kind gedoen.”

Die Bruid – soos hulle hul resepteboek gedoop het – verskaf die verlangde inligting en weer is Johan koksmaat in die kombuis.

Lientjie is heel handig in die huis, maar Marista moet ook dáár ’n ogie hou, want daar is oral duidelike spore van verwaarlosing en afskeepwerk te sien. Weer speel die soet-suur glimlaggie om haar mond terwyl sy met Lientjie gedienstig aan haar sy al die hoekies en gaatjies deursoek.

Ouma het die ding so maklik laat lyk. “Jy kan mos sien as ’n ding vuil is! Sê die ou mens dan net aan om skoon te maak, dis al! Daar is niks aan nie! Om huis te hou en kos te kook, kom spontaan by ’n vrou!” O ja?

Dan is daar iets met my samestelling verkeerd, dink Marista ontstoke. Dis glad nie so spontaan soos Ouma probeer voorgee het nie.

Allerhande hinderlike probleempies duik op, soos byvoorbeeld die vlek op die mat. Dis reg. Lientjie sal dit skoonmaak, maar Lientjie wil by die slim juffrou van die stad weet hoe en waarmee!

Marista het behoorlik kopseer toe sy eindelik in die kombuis terug is ná al Lientjie se vasvravrae en die pogings wat sy moes aanwend om haar statigheid en die huishulp se respek te behou, en darem nie te onnosel voor te kom nie.

Daar is darem een klein trosie: Die boontjiebredie staan al op die stoof en kook. Versigtig sit sy Die Bruid terug op die kombuisrak waar dit sedert gister ’n ereplek in Duiwelskloof se kombuis gekry het. Sonder hierdie boek is sy verlore.

Teen elfuur pyn Marista se hele lyf. Sy is weliswaar gewoond aan lang ure op haar bene as model, maar dit is iets heeltemal anders dié. Dis buk en opstaan, op haar knieë neersak, onder beddens en banke loer of Lientjie nie verkul nie en so meer. Dis met ’n salige gevoel van welverdiende rus dat sy en Johan om elfuur stoep toe gaan om hul eerste koppie tee te geniet. Maar die vrede is van korte duur. ’n Stoffie slaan op die plaaspad uit wat blyk dié van die bekwame buurvrou se bakkie te wees. Marista kreun sommer hardop.

“Ag, nee, asseblief tog! Tog nie op my nugter maag nie!”

Johan glimlag geamuseerd. “Jy vergroot, Miemie! Jou maag kan onmoontlik nie nou nog nugter wees as jy al van vyfuur af op is nie!”

Sy staan op. “Ek sal maar vroegtydig nog twee koppies gaan haal. Onse Michael sal seker ook sy verskyning maak noudat daar gepaste geselskap vir hom opgedaag het.”

Michael en Erika sit reeds op die stoep toe Marista weer haar verskyning maak. Langs die buurmeisie lê ’n pak klerasie en sy verduidelik toe sy sien Marista kyk daarna: “Ek het net Michael se lap- en stopgoed gebring. Die arme goed. Ek moes my later oor hulle ontferm, anders sou hulle al teen dié tyd kaal geloop het!”

“Dit was baie gaaf van jou, Erika. Jy is heeltemal reg. Maar noudat juffrou Greyling hier is, kan sy oorneem. Dis deel van haar pligte.”

Michael en Marista se oë ontmoet, en die blik wat hy haar toewerp, daag haar uit. Sy sluk. Lap- en stopwerk … Watter ander onheile lê nog in die toekoms vir haar voor op hierdie plaas?

“Natuurlik, meneer De Beer. Dis vanselfsprekend,” laat sy dan soetjies hoor. Dit laat Johan sy hand weer vinnig na sy mond bring en ontlok ’n frons van die gas. Dan ignoreer sy die nuwe huishoudster totaal en wend haar direk tot Michael.

“Ek wonder of die tentoonstelling vanjaar ’n sukses gaan wees. Met die droogte en ruspes en so aan wonder ek of die goed aan die standaard sal voldoen.”

“Ja, ons sal maar moet sien. Ons het besluit om maar voort te gaan daarmee. Dis al so ’n instelling dat dit ’n groot teleurstelling sal wees as dit nie gehou word nie.”

“Ja. Ek is weer aangestel as hoof by die dansparty. Ek sal nog moet dink oor hoe ons die saal dié keer kan versier.”

“Ek is seker dit sal geen probleem vir jou wees nie. Jy het nog elke jaar aan iets oorspronkliks gedink en dis altyd ’n groot sukses.”

Marista en Johan is stil. Sy neem die kans waar om die bekwame dame goed deur te kyk. Lenig, amper met ’n seunsagtige bou in die plaasklere wat sy aanhet, lyk Erika Webb nie juis vroulik en aantreklik nie. Haar donker hare is agter in ’n haastige poniestert vasgevat, die gesig sonder enige grimering. Tog sal sy heeltemal aantreklik wees as sy net meer aandag aan haar uiterlike wil gee. Maar sulke dinge tel blykbaar nie by hierdie meisie nie. Dis deug en nogmaals deug wat van belang is.

Johan verduidelik aan haar: “Michael staan gewoonlik aan die spits van sake by ons jaarlikse landbouskou, want hy is ook voorsitter van die Boerevereniging … En Erika is natuurlik die aangewese persoon om sake te reël vir die aand se vermaak, soos jy seker agtergekom het.”

Marista hou haar gesig so sedig moontlik.

“Ja, ek het reeds agtergekom dat ons in die teenwoordigheid van twee uiters bekwame mense is. Hoeveel bekers is daar, juffrou Webb?”

Erika kyk haar fronsend aan. “Hoe bedoel jy? In die vroue-afdeling is daar sommer baie – vir naaldwerk, die inmaak van vrugte en groente en …”

“En almal staan gewoonlik die res van die jaar op oom Petrus Webb se kaggelrak,” voeg Johan weer van die ander kant af by.

“Hoekom vra jy, juffrou? Stel jy belang in die een of ander afdeling, of dalk in almal?”

Marista kyk haar vas aan. Sy voel haar nekhare rys by die aanhoor van die lig sarkastiese stemtoon.

“Moontlik, juffrou, maar die tyd is te min, nie waar nie? Ek het ietwat laat op Duiwelskloof aangekom. Die tentoonstelling is oor drie weke, nie waar nie? Ek sal u maar nog dié jaar die geleentheid gee.”

Haar glimlag is toegewend. Johan voel asof hy wil stik, maar sy broer kyk hul huishoudster net fronsend aan en laat dan droog hoor: “Ek het nie geweet dat ons só ’n juweel onder Duiwelskloof se dak het nie.” Hy staan op. “Julle sal my nou moet verskoon. Daardie trekker moet vanoggend nog regkom.”

“Michael …” Erika staan ook vinnig op. “Daar staan vyf trekkers in die pakhuis as jy een dringend nodig het. Jy kan dit gebruik so lank as jy …”

“Erika, ons het al tevore hieroor gepraat. Dankie, maar ek leen nie.”

“Moenie so koppig wees nie, Michael! Ons gebruik die goed nie nou nie. Ek sê mos daar staan vyf …”

“Al staan daar honderd. Ek werk met my eie goed. Dankie vir jou aanbod, maar ek sal regkom.”

Hy stap dadelik aan en Erika volg fronsend, en ’n rukkie lank sit die twee op die stoep hulle in stilte en agternakyk.

“Dit lyk tog asof die bekwame Erika nie alles met jou ouboet regkry nie,” merk Marista ná ’n rukkie op, en sy kan nie verklaar waarom hierdie wete haar so ’n lekker warm gevoel om haar hart gee nie.

“Nee, bepaald nie. Daarom dat ek gesê het: Dis net Michael wat sy man teen haar kan staan. Dis een ding van Michael. Hy is so trots dat hy kan bars daarvan. Hy sal liewer dag en nag staan en swoeg om sy trekker aan die gang te kry – al hoop die werk ook hóé op – voordat hy by ou ryk Petrus Webb een van sy baie gaan leen om hom mee oor die weg te help. Dis maar net my broer daardie.”

Sy frons. “Johan, ek voel eintlik skuldig oor die salaris wat ek hier kry. Ek het dit nie werklik nodig nie. Ek het genoeg. Ek rol nou weliswaar nie in die geld soos Erika Webb nie, maar ek kan heeltemal goed daarsonder klaarkom. As … as julle miskien finansiële probleme het …”

Maar Johan skud sy kop, sy verbasing goed verberg: “Michael is geldelik heeltemal sterk genoeg. Ek het jou reeds gesê dat dit baie beter sou gegaan het as my siekte nie soveel geëis het nie. Maar waar Petrus Webb, as ’n trekker van hom gaan staan, ’n nuwe een oor die telefoon bestel, moet Michael probeer om weer syne aan die gang te kry. Plaaswerktuie is vandag bitter duur en dis net werklike ryk mense soos die Webbs wat so rojaal kan aangaan. Jy kan ook niks anders doen as om jou salaris te aanvaar nie. Wat dink jy sal Michael alles dink én kwytraak as jy hom die einde van die maand sê dat jy nie sy geld wil hê nie? Jy werk buitendien eerlik en hard genoeg daarvoor. Jy verdien dit.”

Sy voel sy nuuskierige blik op haar en sy weet dat Johan baie wonder oor haar ware identiteit en hoekom sy na Duiwelskloof gekom het. Sy wens sy kon hom heeltemal in haar vertroue neem, maar sy is net te bang hy kan die een of ander tyd sy mond verbypraat en haar verraai.

Veral ná wat die heer Michael oor Marista Minnaar kwytgeraak het, wil sy liewer nie naby hom wees nie as hy moet uitvind dat die “ronde nul” al die tyd onder sy dak gebly het – en dat dit die “ronde nul” se kos was wat hy geëet het. Sy ken hom ook al effens beter teen hierdie tyd. Michael de Beer sal dit glad nie amusant vind dat hy so vir die gek gehou is nie.

Met die verskoning dat sy net die brediepot wil gaan dophou, stap sy vinnig na binne en Johan se oë rus lank en peinsend op die werf. Wie en wat hierdie geheimsinnige huishoudster ook al mag wees … hy dank die gode dat sy na Duiwelskloof gevlug het. Hy kan hom kwalik iets beters voorstel wat met Duiwelskloof kon gebeur het.

Die boontjiebredie is honderd persent en hierdie keer sê Michael iets daaroor. Dis ’n onwillige glimlaggie wat om sy mond huiwer toe hy van die tafel opstaan.

“Ek het lank laas sulke bredie geëet, juffrou. Dit was nie sleg nie. Seker ook maar meer geluk as wysheid, nè?”

Sy stem is darem nie sarkasties nie, en Marista voel hoe haar eie mond plooi.

“Moontlik, meneer. Baie moontlik!”

Sy voel haar hart van warmte gloei … ’n warmte wat heeltemal buite verhouding met die kompliment is. ’n Mens voel nie so ekstaties gelukkig oor ’n boontjiebredie-sukses nie. Maar vir Marista is die dag skielik volmaak. Al haar moegheid verdwyn soos mis voor die son. Dit voel meteens vir haar asof sy berge kan versit – ook daardie halsstarrige vlek op die mat wat al Lientjie se pogings nie uitgewis kon kry nie. Net vanmiddag gaan sy dit self pak, neem sy haarself ywerig voor.

Marista se skielike lewensdrif verwater egter daardie aand toe hulle ná ete in die sitkamer ontspan en Michael doodluiters ’n bondel sokkies langs haar op die bank neersit.

“Dis die ideale werkie vóór slapenstyd,” laat hy hoor.

Hy gaan sit eenkant en tel sy koerant op. Marista kyk met groot oë hulpsoekend na Johan wat natuurlik weer teen wil en dank wil uitbars van die lag. Sy gee hom ’n moorddadige kyk omdat hy haar so in die steek laat, en laat haar blik mismoedig na die bondel sokkies afsak.

As sy net weet hoe om te begin! Hierdie keer staan sy alleen in die verdrukking. Haar troue kollega en vriendin in nood, Die Bruid, het geen afdeling vir lap- en stopwerk nie. Blykbaar lap en stop die hedendaagse bruid nie meer nie. As ’n ding stukkend raak, gooi jy dit weg – soos sy ook nog maar altyd gemaak het. Maar nie op Duiwelskloof nie! Waarom moet Michael de Beer tog ook so uit die oue doos wees?

Desperaat keer haar blik weer na Johan. Michael het sy koerant laat sak om die nuus oor die radio aan te skakel, en hoewel hy diep belangstellend daarna luister, het sy oë al ’n paar keer in haar rigting gedraai asof hy wonder wanneer sy dan aanstaltes wil begin maak. Kort voor lank sal hy wel iets in daardie rigting begin kwytraak.

Die blou oë roep luid om hulp en Johan doen sy bes om sy gesig op ’n sedige plooi te kry voordat hy opmerk: “Jy het seker nie die regte kleure stopwol nie. Jy sal maar eers moet wag totdat ons weer op die dorp kom.”

Marista sukkel om nie die verligting binne-in haar op haar gesig te wys nie. Ewe sedig beaam sy, nogal met ’n klankie van spyt in haar stem: “Ja. Ek vrees ek het nie hierdie kleure nie. Dis jammer. Dan kon ek dit al vanaand klaargemaak het.”

Michael se lippe dra ’n sweem van ’n fyn glimlaggie, maar hy lewer geen kommentaar nie. Dus is ook hierdie probleem tydelik die hoof gebied.

Toe sy later die stukkende sokkies in ’n laai in haar kamer gaan bêre tot tyd en wyl sy die nodige het, werp sy dit egter ’n nydige blik toe. Iemand sal haar moet leer om sokkies te stop … en gou ook. Maar wie?

Terwyl Marista met hierdie groot probleem worstel, is daar ook ander mense wat ver daarvandaan bekommerd is.

Die eerste is tant Miemie. Noudat Marista weg is en sy Duiwelskloof teen hierdie tyd al bereik het, begin Ouma se gewete haar ry, hoewel dit ietwat laat in die dag is daarvoor, soos sy ook aan haarself erken. Subtiel en baie versigtig het sy Lettie weer oor haar broer Michael gepols en wat sy gehoor het, het haar geensins geruster laat voel nie. As daardie Michael-mens agter die kap van die byl moet kom …

Ook Lettie is om meer as een rede diep bekommerd. Ten eerste natuurlik oor Marista. Waar in die wye wêreld sou sy haar bevind? En wat as sy iets oorkom in die vreemde? Wat as sy iets onverantwoordeliks aanvang?

En benewens hierdie kommer knaag ’n ander een ook aan haar. Dis reeds ’n paar maande al dat Lettie besef sy koester nie net bloot bewondering vir modeontwerper Wouter Malan nie. Tot dusver was dit baie maklik om ’n demper op hierdie groeiende gevoel vir hom te plaas. Lettie was nog altyd baie verstandig vir haar ouderdom, en sy het van die begin af besef dat sy haarself net belaglik sal maak as sy iets meer as professionele bewondering vir Wouter koester.

Om mee te begin is hy verloof, volgens haar persoonlike mening, aan een van die mooiste meisies in die land. Dan ook was Marista vir hom van onskatbare waarde in die opbou van sy modeonderneming. Niemand anders kan werklik Marista se plek in Wouter se lewe inneem nie. Dan: met eerlike, kritiese oë het sy haarself in die spieël beskou en geweet geen man sal haar opmerk en as mens raaksien solank daar ’n Marista of selfs van die ander modelle in die omtrek is nie.

Lettie het gelukkig reeds aanvaar dat sy, soos sy dit self stel, so gemaak en laat staan is. Sy is effens aan die mollige kant, met ’n doodgewone, hoewel vriendelike gesiggie en daar is niks uitsonderliks aan haar nie, soos sy haarself dikwels probeer wysmaak. Al voordeel wat sy het, is dat sy uiters bekwaam is in haar werk en Wouter weet dat hy enige reëling, hoe belangrik ook al, met ’n geruste hart aan haar kan oorlaat in die wete dat dit presies uitgevoer sal word soos hy dit wil hê.

Die vae gevoel wat diep in haar hart gehuiwer het, het sy dus nie vertroetel nie en die saadjie wat tot iets diepers kon ontwikkel, is nie gevoed nie. Maar skielik het alles sedert Marista se verdwyning verander. Skielik leer sy Wouter nie net as werkgewer ken nie, maar ook as metgesel. Meteens is hulle nie net gedurende werktyd in mekaar se geselskap nie, maar ook in hul ontspanningsure … en word dit vir Lettie ál swaarder om te onthou dat sy ’n gek sal wees om hierdie man as meer as net haar werkgewer te beskou.

Hy was nog steeds stil en stroef toe hy haar daardie aand vir die onthaal kom haal het. Sy was seker hy het nie eens opgemerk wat sy aanhet nie. Later in die aand het hy darem begin ontdooi en tot haar eie verwondering het sy ook die aand begin geniet.

Lettie het nou wel nie ’n besonderse uiterlike nie, maar sy het ’n knap brein. Telkens die aand het die een of ander gevatte kwinkslag van haar kant af hom verwonderd na haar laat kyk, so asof hy die eerste keer besef dat daar meer as net ’n bekwame sekretaresse in haar skuil. Hulle het in ’n gemoedelike stemming huiswaarts gekeer en toe hulle voor die deur van haar woonstel kom, het sy hom binnegenooi vir ’n laaste koppie koffie. Hy het skeef geglimlag.

“Dit sal baie lekker wees, Lettie – as jy nie bang is vir jou reputasie nie.” Toe hy sien hoe haar gesiggie dadelik versober, het hy haar hand vinnig geneem. “Ek is jammer. Dit was ongevraag. Ek kan soms nie die versoeking weerstaan om jou te terg nie. Jy moenie my altyd so ernstig opneem nie.”

Hulle het ingestap en hy het aangenaam verras om hom rondgekyk. Weliswaar was hier nie die weelde wat geld kan koop soos in sy eie woonstel nie, maar die woonstelletjie het ’n warm, huislike atmosfeer, en hy het behaaglik in ’n diep leunstoel neergesak en vir die koffie gewag. Hulle het dit in stilte gedrink en hy het duidelik onwillig gelyk om ná ’n rukkie te vertrek.

“Wouter …” het sy onseker begin. “Ek … wil jou om verskoning vra vir wat ek vir jou gesê het. Ek … het seker nie die reg gehad om sulke dinge aan jou te sê nie. Jou private lewe is jou eie. Dit het niks met my te doen nie. Dit was net bekommernis oor Marista …” Haar stem het weggedraal en hy het haar ’n rukkie in stilte beskou, ernstig, asof hy diep dink.

“Lettie, sê my eerlik: Glo jy werklik in jou hart ek is daardie soort man?”

Haar oë was ontwykend. “Ek … weet nie.”

Hy het haar uit die stoel opgetrek en haar hande in syne geneem. Wouter is self nie ’n lang man nie, maar hy moes op haar neerkyk. Sy oë was peinsend, half verward.

“Ek durf jou seker nie kwalik neem nie. Jy ken my net in die werk. Maar jy gaan my nou ook buite die werk leer ken en eendag gaan ek jou weer daardie vraag stel. Ek hoop jy sal dan met sekerheid daarop kan antwoord.”

Sy het hom fronsend aangekyk. “Maar … hoekom? Dis nie vir mý wat jy moet oortuig nie. Marista is jou verloofde. Ek tel nie …”

“Ja, ek weet, en tog …” Hy het vinnig geswyg asof hy self nie juis weet wat hy wil sê nie. “Mag ek vir jou dankie sê vir ’n baie aangename aand? Ek het dit werklik geniet en ek bedoel dit.”

Haar breë, oop, spontane glimlag het deurgebreek. “Ek ook. Dit was baie lekker.”

“Dan sal jy weer saam met my gaan?”

’n Ligte fronsie het weer tussen haar wenkbroue ingekeep. “Om jou op te pas? Nee. Jy kan vir jou ’n baie mooier oppasster soek.”

“Ek stel nie in ’n ander een belang nie. Eintlik bedoel ek dit nie só nie. Ek wil jou nie meer as ’n babawagter hê nie. Ek wil net hê jý moet saam met my gaan. Sal jy?”

Ten spyte van die waarskuwing wat haar verstand na haar hart stuur, het haar hart skielik begin bokspring en sy het gehoor hoe haar lippe hom antwoord: “Goed … as jy wil.”

“Ek wil.” Skielik het hy afgebuk en sy lippe sag teen haar voorkop gedruk. “Nogmaals dankie, en lekker slaap. Ons sien mekaar môre weer.”

En nou staan Lettie voor haar kamervenster, nugter wakker, en sy staar met nikssiende oë oor die stadliggies uit.

Lettie! Lettie! Hou kop! vermaan sy haarself. Hy het jou gewaarsku om hom nie ernstig op te neem nie. Daar skuil geen dieper betekenis agter die feit dat hy juis jóú saam met hom wil neem na al die sosiale bedrywighede toe nie, al kan hy maar net sy vingers klap en hope pragtige meisies sal aangedraf kom. Dis miskien juis die feit dat jy so doodeenvoudig is en niks vir die oog bied nie dat hy jou verkies. Ten eerste is jy en Marista groot vriendinne, en ten tweede sal daar dan nie praatjies rondgaan nie. Dis natuurlik die rede. Niemand sal tog so belaglik wees om hom van ’n verhouding te beskuldig met die plompe, eenvoudige Lettie de Beer nie. Dis omdat hy heeltemal veilig voel dat hy jou vra.

Marista, jy moet gou terugkom, dink sy met ’n beklemming om haar hart.

Ena Murray Keur 7

Подняться наверх