Читать книгу Ena Murray Keur 7 - Ena Murray - Страница 8

5

Оглавление

Marista se oë rus bekommerd op die jong gesig voor haar. Eintlik is hulle ewe oud, maar Johan kom nog baie jonk voor, soms byna seunsagtig, kinderlik.

Sy laat haar oë voor syne sak. Tot dusver was sy nog net benoud oor haarself, oor wat met haar sal gebeur as Michael besef waarvoor hulle hulle ingelaat het, as haar onkundigheid aan die lig kom en die valse kleed van haar gestroop word. Maar nou …

Sy voel meteens bitter gemeen. Sy besef dat sy ’n leuenares en bedriegster is. Die eerste keer in haar lewe weet sy hoe om só te voel. Hoe om skaam te voel. Dit voel nie vir haar so erg om Michael te bedrieg nie, maar Johan sit in ’n rolstoel. Hy is ’n ander saak. Al sou sy Duiwelskloof op hierdie oomblik verlaat, sal sy hom altyd onthou en die gevoel in haar omdra dat sy hom in die een of ander opsig in die steek gelaat het, dat sy op die een of ander wyse gemeen en laakbaar teenoor hom opgetree het.

Sy kan dit nie help nie, maar sy is diep aangegryp deur die toneel voor haar – ’n jong man in die fleur van sy lewe en vir die res van sy lewe vasgekluister aan ’n stoel … Sy voel haar hart met innige jammerte saamtrek. Dit moet vreeslik wees om, terwyl jou liggaam vol bruisende jong lewe is, uur ná uur, dag ná dag in ’n stoel te moet sit.

Sy onthou meteens wat ouma gesê het. Sy het gevra of sy al werklik gelag het, sommer net omdat die lewe goed is, omdat sy jonk en gesond is, en die Vader so goed vir haar is. Sy het nooit in die verlede sulke dinge opgemerk nie. Haar bene en al die ander voorregte van ’n gesonde, sterk jong liggaam, nog mooi gebou ook, het sy as vanselfsprekend aanvaar. Maar nou, met haar oë op die raamwerk van die rolstoel, besef sy dat sy baie dinge – die meeste daarvan – as vanselfsprekend aanvaar het. Nóú besef sy dat dit alles genade is.

En nou is sy in die posisie om sy lewe ’n ruk te veraangenaam, te vergemaklik, al is dit maar net om hom te help om die lang dae om te kry. Maar as Michael haar gaan wegjaag … Wat hý van haar dink, kan haar nie skeel nie. Maar Johan … Hy is so verskriklik ingenome met die nuwe huishoudster! Hy is so duidelik verheug dat hy die volgende weke geselskap sal hê – en nie middeljarige geselskap soos hy aanvanklik verwag het nie. Sy voel laag en gemeen.

Sy bekommerde oë hou haar wisselende gesigsuitdrukkings dop en hy laat vinnig hoor: “My ouboet is in sy hart ’n wonderlike mens, Miemie. As ek dink wat hy vir my beteken het sedert … sedert ek verlam geword het. As dit nie vir hom was nie … Niks was te groot of te veel om vir my op te offer nie. Hy het geen koste ontsien nie, met die gevolg dat hy homself en die boerdery dikwels tekort gedoen het. Michael kon vandag finansieel baie sterker gewees het, maar my siekte en al die pogings daarna om my weer op my bene te probeer kry, het baie geld gekos. Ek weet dat hy vandag soms moet sukkel met implemente wat al vervang kon gewees het en met minder dinge moet klaarkom in sy boerdery, omdat daar so baie aan my bestee is … tevergeefs! Ek sal ook nog die res van my lewe op sy nek lê, soos ’n meulsteen aan hom hang.”

“Johan!” Sy kyk hom ontsteld aan. “Hoe kan jy so iets sê? Michael beskou dit nie só nie, dit verseker ek jou. Ek … wel, ek ken hom skaars, maar net uit die paar uitlatings wat hy teenoor my gemaak het, kon ek agterkom dat hy … dat sy lewe om jou draai, en dat hy sy bloed vir jou sal tap as dit sal help. Jy moenie só daaraan dink nie!”

Hy glimlag verleë, skuldig.

“Ek weet. Ek weet Michael sien dit nie so nie, maar ek … ek, Miemie, ek voel soms …” Hy beduie hulpeloos met sy hande. “As ek net iets kan beteken, iets kan bereik … Maar hier sit ek, en as Michael saans ná donker uitgeput van buite af inkom en ek sien hoe moeg hy is, hoe deur die son verbrand, dan … dan wil daar soms iets in my losbreek.”

Sy oë staar somber voor hom op die tafelblad vas. “Ek staan selfs in die pad van sy huweliksgeluk. Hy sal nooit trou solank ek hier is nie. Ek weet dis weens mý dat hy nie tot trou kan kom nie. Hy en Erika het al jare lank ’n verhouding – wel, ’n soort verhouding. Ek weet dis nie haar skuld dat dinge blykbaar nie tussen hulle kan vorder nie. Ek dink, wéét altans, dat dit Michael is wat die rem tussen hulle aandraai … ter wille van my. Kan jy verstaan hoe ek voel, Miemie?” Hy kyk haar pleitend aan, en sy knik woordeloos, begrip en simpatie duidelik in haar oë. Ja, sy begryp.

Hy gryp meteens haar hand vas en lyk ongemaklik. “Ek is jammer. Ek praat te veel. Ek weet ook nie wat my makeer om al hierdie intieme dinge sommer binne die eerste paar uur van jou aankoms uit te blaker nie. Die Vader weet wat jy van my moet dink. Ek sit en sanik nou hier soos ’n klein seuntjie. Ek is regtig jammer.”

Marista se oë verteder. “Ek is bly jy het my vertel, Johan. Dit maak dit makliker om … om sekere dinge te begryp. En jy het nie gesanik nie. Ek voel geëerd omdat jy my in jou vertroue geneem het.”

Johan kyk op en die bewondering lê helder in sy oë. “Ek kan nie dink dat ons so ’n groot geluk raakgeloop het nie, Miemie. Dis amper te goed om te glo. Dit voel vir my ek is besig om te droom. Ek is so bly dat dit juis jý was wat ’n paar dae gelede gebel het en nie regtig ’n middeljarige oujongnooi nie! Dit voel amper vir my asof dit so bestem was dat jý spesiaal hierheen gestuur is. Ek het jou nodig, Miemie. Belowe my jy sal hier bly totdat tant Anna terugkom, asseblief!”

Sy aarsel, maar die smeking in sy oë laat haar toegee, hoewel versigtig. “Ek belowe ek sal bly solank julle my hier nodig het, Johan. Maar dan …” Sy huiwer ’n oomblik, sê dan met ’n skewe glimlaggie: “Terwyl jy so reguit met my was, wil ek ook graag reguit met jou wees. Hoe oud dink jy is ek werklik?”

Hy beskou haar ’n rukkie krities en laat dan glimlaggend hoor: “Ek het nie eintlik ’n benul nie. Maar een ding weet ek vir seker: agt-en-dertig is jy nie!”

Sy lag ook bewerig saam. ’n Goeie beloning vir Ouma se pogings!

“Ek is net so oud soos jy.” Hy kyk haar met groot oë aan en sy vervolg vinnig voordat haar moed haar begewe: “En ek is glad nie ’n huishoudster nie! Glad nie! Ek weet niks van huiswerk af nie – om nie van my kastige kookvernuf te praat nie!”

Johan se oë peul byna uit hul kasse. Hy lyk eerlik ontsteld. “Nie?” vra hy in ’n stemtoon wat die hoop uitspreek dat sy seker maar net ’n flou grappie probeer maak, maar Marista se gesig bly ernstig.

“Nee! As ek net aan vanaand se aandete dink, kan ek gerus die papelellekoors kry, soos my ouma sou sê.”

“Nou … wie is jy dan en … wat het jy hier kom doen?”

“Ek … ek wou net ’n rukkie wegkom uit die stad. Ek …”

Hy frons en laat dan vinnig hoor: “Jy hoef my nie te vertel as jy nie so voel nie. Dis jou persoonlike sake daardie. Maar … dit verander dinge ietwat …” Hy lag effens. “Ek en Michael kan al ons tonge kou van lus vir ’n bord lekker kos!”

Sy lag nie saam nie. Inteendeel! Sy voel na huil.

“Moet ek nie maar liewer by voorbaat padgee nie, Johan? Michael sal …”

“Ag, na die maan met Michael!” laat Johan ongeërg hoor, hoewel hy nie te oortuigend klink nie. “Wat is daar ook nou sodanig aan kook? Ek sal jou help. Buitendien is die koskokery maar net ’n deel van jou werk. Die belangrikste is dat jy my moet geselskap hou, en met dáárdie deel is ek heeltemal tevrede. Heeltemal!”

Sy glimlag dankbaar.

“Dankie, Johan. Dis darem ’n troos om te weet ek skiet in een opsig nie tekort nie. Maar Michael se belangstelling is in die eerste deel, en wat gaan ons daaromtrent doen? Hy gaan my so sweerlik ontmasker …”

“Wag, laat ek nou dink. Dis nie so vreeslik nie, Miemie. Ek het my ma dikwels gehelp toe ons nog kinders was. Die koekbakkery was die lekkerste. Ek het altyd die mengbak gekry om uit te lek! Ek sal jou sê: Ons moet net ’n goeie resepteboek in die hande kry. En voorlopig ’n goeie voorraad blikkieskos. Vandag lê hulle eenvoudig alles denkbaar in blikkies in.”

“Maar Michael sal dit mos agterkom …”

“Ons sweer net hoog en laag dis vars tuingroente. Dis ál.”

Marista lyk nog steeds skepties. Daardie meneer sal nie so maklik om die bos gelei word nie.

“Ek weet nie, Johan …”

“Kan jy aan ’n beter plan dink?”

“Ek kan aan geen plan dink nie,” erken sy eerlik. “As ek aan kos dink, gaan staan my verstand botstil.”

Hy lag en klop haar gerusstellend op die skouer.

“Ag, kom nou, wat sal jy jou deur die eerste ou probleempie laat afskrik? Wat is drie borde kos nou? Ons het vleis in die huis. Dié kan ons sommer al netnou op die stoof gaan sit sodat dit teen vanaand gaar en sag sal wees. Rys is hier seker ook. Dit kan ons ook vanmiddag al klaar gaarmaak.”

“Ons? Sal jy my help?”

“Ek het mos belowe ek sal. Die vleis, weet ek, gooi jy in ’n pot en dan ’n klomp water daaroor en ’n hand vol sout en laat dit kook. Jy gooi maar net elke keer water by. Die rys … Ons kan dit vir ou Sabien vra. Sy sal ons wel kan vertel. Dít kan sy darem kook. Dan kry ons net ’n klompie blikkies, maak ’n paar oop en siedaar, ’n heerlike ete!”

Dit klink baie maklik soos Johan dit stel, maar … daar is ’n ander probleem.

“Waar kry ons die blikkieskos? Is hier in die huis?”

Johan se gesig versober.

“Nee. Michael haat eintlik blikkieskos, maar ons kan gou vanmiddag ingaan dorp toe en gaan koop. Ons sal net eers moet kyk waar hy is. Dit sal beter wees as ons liewer ongesiens kan wegglip.”

“Sal hy ons nie laat gaan nie?” wil sy grootoog weet.

“Nee. Michael is baie spaarsaam. Daar was vanoggend ’n geleentheid dorp toe. En al laat hy ons ook gaan, sal hy wil weet waarom ons so dringend vanmiddag op die dorp wil wees. Ons moet maar liewer die motor stilletjies gaps en wegglip. Ek hoop jy kan motor bestuur.”

“Ja.”

“Gaaf. Dan is daar geen probleem nie. Kom ons stel nou gou ’n lysie op van wat nodig is. O, deksels, ek het geen kontant by my nie!” laat hy ontsteld hoor en glimlag verleë. “Ek dra eintlik nooit geld by my nie – waarvoor? Michael is maar die man wat alles koop en betaal. Hy koop ook alles kontant, dus is daar nie eens ’n rekening waarop ons kan koop nie.”

“Al was daar ook, sou ons nie daarvan gebruik kon maak nie, Johan. Dan sal hy mos dadelik agterkom wat aangaan. Ek het nog ’n paar rand kontant. Dit moet maar genoeg wees.” Ou Sabien is heel gewillig om na die vleis en rys om te sien onderwyl Marista en Johan wegglip dorp toe. Haar hart sak in haar skoene toe sy sien dat dit nog van die regte ou swart koolstowe is wat in die ruim kombuis van Duiwelskloof staan. Hier is beslis geen knoppies wat maar net gedraai kan word nie!

Die ou huishulp stel hulle ook in kennis dat meneer Michael – met soveel respek uitgespreek dat Marista besef Duiwelskloof het maar eintlik net een baas – by die kraal is en dat hy seker tot ná sononder daar sal besig wees.

Soos twee stout kinders wat goed weet hulle oortree, sluip hulle ’n rukkie later by die huis uit in die rigting van die motorhuis – ten minste, Marista sluip en Johan rol sy stoel so vinnig moontlik vorentoe.

Hoewel hy dit nie wys nie, is hy deeglik bekommerd. Michael is nie ’n maklike man om te kul nie en hoewel hy baie lief vir hierdie ouboet van hom is, het hy ook die wêreld se respek vir hom – én sy humeur. Daar is nou geen ander genade nie. Daar moet vanaand kos op die tafel wees, en iewers moet dit vandaan kom of die duiwel gaan los wees op Duiwelskloof.

Duiwelskloof is sowat agt-en-dertig kilometer uit die dorp, en Marista stoot taamlik vinnig aan, hoewel die grondpad wat op plekke maar sleg is, vir haar baie ongewoon voel. Dit gaan voor die wind tot omtrent dertien kilometer duskant Middeldraai. Skielik is hulle op ’n skerp draai en sy gewaar te laat die skaap in die middel van die pad. Sy moet die rem vinnig trap, met die gevolg dat die motor in die sandpad swaai en teen ’n sandwal vasloop.

’n Doodse stilte. Verskrik, albei se oë so groot soos pierings, kyk hulle mekaar eers ’n oomblik verslae aan.

“O, he … e … deksels! As die motor iets oorgekom het, braai Michael ons lewendig oor ’n oop misvuur!”

Marista is die ene bewerasie. As sy Michael de Beer se motor breek en Johan verongeluk, loop sy sowaar kaalvoet terug Kaap toe, maar terug Duiwelskloof toe nooit weer nie!

Sy klim uit en loop om die motor, maar kan met die blote oog niks verkeerd sien nie.

“Ek sien darem nie stampe of duikplekke nie. Gelukkig het die sandwal ons gekeer, anders was ons in daardie sloot.”

“Kom kyk of die ding weer wil vat,” laat Johan bekommerd hoor, en tot albei se verligting reageer die enjin dadelik, maar toe sy wil terugstoot, weier dit om te beweeg.

“Die wiele het in die sand vasgeval,” kondig hy aan.

“Wat nou?”

“Jy sal die sand om die wiele moet weggrawe.” Sy stem klink verskonend. “Ek is jammer, Miemie. As ek nie so hulpeloos was nie, kon ék dit gedoen het.”

Marista maak die deur weer oop en klim uit.

“Dis my hulpeloosheid en slegtigheid wat ons hier laat sit. Dus is dit nie meer as reg dat ék die sand moet weggrawe nie.”

Sy voeg ook sommer die daad by die woord. ’n Hele rukkie is dit net die stilte van die vlaktes om hulle. Voor in die motor hou Johan die pad bekommerd dop. Aan die een kant wens hy iemand wil op hulle afkom sodat Miemie hulp kan kry. Aan die ander kant bid hy dat daar liewer nie nou ’n bekende op die toneel moet verskyn nie, want dan sal Michael bepaald die een of ander tyd van hierdie petalje hoor. Asof deur telepatie, is daar skielik ’n bakkie voor hulle in die pad aan die kom en Johan se hart sak in sy skoene toe hy Erika Webb sien stilhou en nader stap. Dit sal nou net weer sý wees wat op die toneel moet verskyn, dink hy ergerlik.

“Moeilikheid, Johan? Waar is Michael?” vra sy bekommerd toe sy langs die motor tot stilstand kom.

“Op die plaas, natuurlik. Dis Miemie wat by my is.”

“Miemie? O, jy bedoel die nuwe huishoudster? Waar is sy?”

“Sy is besig om die sand agter die wiele weg te grawe. Die motor sit vas.” Hy gee hierdie inligting onwillig en Erika frons, stap dan om die motor tot waar sy ’n goedgevormde been sien uitsteek. Sy staan die spulletjie ’n rukkie met vernoude oë en betrag.

“Juffrou Greyling, ek dink dis nou genoeg. Gee pad agter die wiel dat ek kyk of ek dit nie nou teruggestoot kry nie.”

’n Vuil, beswete gesiggie kom onder die een agtermodderskerm te voorskyn, en die blou oë word stormagtig toe sy die openlike leedvermaak op die ander meisie se gesig sien. Gehoorsaam kruip sy uit en staan weg. Oomblikke later is die motor weer terug op die pad en Marista skuif weer agter die stuurwiel in.

Erika sê waarskuwend, die genotvolle glimlaggie nog steeds om haar lippe: “Jy moet maar liewer versigtig ry, juffrou. Michael is baie heilig op sy motor.”

Van die ander kant af laat Johan bitsig hoor: “In daardie geval kan jy gerus hierdie kamp laat omhein. Hier is gedurig skape in die pad.”

Erika frons. “Jy weet dit sal die kamp te klein maak vir enige doel. Kyk julle liewer waar julle ry. Dis nie Kaapstad dié nie!”

Marista lig haar besmeerde kennetjie op en kyk die meisie koel in die oë. Sy kry dit darem reg om haar stem net-net beleef te hou.

“Dankie vir u hulp, juffrou Webb … en tot siens.”

Op die dorp aangekom, help Marista Johan uit die motor in die rolstoel wat hulle agter in die bagasiebak gesit het. Johan is, soos dit met die meeste verlamde mense die geval is, besonder sterk in sy bolyf en arms, en hy lig homself met gemak uit die motor tot in die stoel nadat Marista dit oopgevou het. Met behulp van Johan se groot mansakdoek maak sy eers haar gesig na die beste van haar vermoë skoon, en toe gaan hulle die winkel binne.

Dit word ’n aangename middag. Die een weet so min soos die ander van kruideniersinkopies en baie onnodige goed word gekoop net omdat die prentjie op die blik so aanloklik lyk. Dis ’n aardige hopie bymekaar toe hulle eindelik klaar is.

“Gaan jy ooit genoeg geld hê?” wil Johan bekommerd weet. “Dit lyk nou so baie.”

Marista begin ook twyfel aan haar paar randjies en die eerste keer in haar lewe staan en hou sy duim vas terwyl die kassiere begin optel. Albei slaak ’n hoorbare sug van verligting toe sy die bedrag noem. Hulle het dit sowaar net gehaal!

Nadat die twee groot kartondose ingelaai is, laat Marista hoor: “Nou vir die resepteboek. Waar sal ’n mens so iets kry?”

“By die boekwinkel, dink ek. Dis net hier om die hoek. Maar het jy dan nog genoeg geld oor?”

“Ja. Ek hoop so. Ek hoop van harte so!”

Johan frons. “Dit klink nie vir my reg dat jy die kos moes koop nie.”

Marista glimlag. “Liewe mens, hierdie spul blikkieskos gaan my lewe vanaand red! Ek is bereid om driedubbel daarvoor te betaal!”

Johan moet onwillekeurig saamlag. “Nou toe, weg is jy! Dit begin laat word. Onthou, ons moet nog gaan kos maak as ons tuiskom.”

’n Paar minute later is sy weer terug en skakel die motor aan.

Johan haal die boek uit en lees hardop: Resepte vir die bruid. Hulle giggel soos twee skoolkinders. “Dit behoort ideaal te wees! Die meeste bruide weet deesdae nie eens hoe ’n kombuis lyk nie.”

Marista lag weer, skielik baie moediger as vroeër die middag. “Dis hoekom ek juis dáárdie een gekies het, veral toe die verkoopsdame laggend opmerk dat hulle jou daarin selfs vertel hoe en hoe lank om ’n eier te kook! Ou maat, toe gryp ek hom, want dis juis een van die dinge wat ek wil weet. Hoe lank kook ’n mens ’n eier?”

Johan skud sy kop laggend. “Sal nie kan sê nie. Ons sal dit maar moet nalees. Hemel, Miemie, kos die boekie tog nie amper sestig rand nie?”

“Ja, en nou het ek presies vyf rand oor vir die res van die maand! Ek sal nog net kan kerk toe gaan!” lag sy onbekommerd.

Die bewondering lê vlak in Johan se oë, maar gelukkig sien sy dit nie raak nie. Sy is onbewus dat sy in ’n korte paar uur die wonderlikste meisie op aarde vir hierdie verlamde jong man geword het, en dat die lewe vir Johan skielik baie interessant en vol pret is.

Toe hulle by die hek verbygaan waar hulle vroeër die middag amper ’n ongeluk gehad het, laat Johan fronsend hoor: “Ek hoop net daardie Erika het nou nie weer alles aan Michael gaan uitbasuin nie.”

Marista kyk hom tersluiks aan. “Dit klink nie juis of jy baie van jou aanstaande skoonsussie hou nie.”

“Nee, nie juis nie. Ons kom nie goed klaar nie,” erken hy openlik. “Sy is te vol bekwaamhede. Ek hou nie van ’n vrou wat so alles in die lewe kan doen nie. Sy laat my minderwaardig voel.”

Hulle lag weer saam. “Dis waar, weet jy? ’n Man hou nie van so ’n vrou nie. Laat sy bekwaam en goed wees, maar nie volmaak nie, en Erika is volmaak. Behalwe dat sy alles kan doen wat ’n vrou moontlik kan doen, doen sy ook alles wat ’n man kan doen … en soms nog beter ook. As sy mý nooi of vrou moet wees, sal ek aan ’n minderwaardigheidskompleks doodgaan!”

Nou lag Marista hartlik. “Jy is verspot, Johan! Dit moet lekker wees om so ’n handige vrou te hê. Jy hou dalk wel van die hulpelose soort vrou, maar ek kan my nie voorstel dat jou broer Michael ’n trek in een van my soort sal ontwikkel nie. Nee, hy sal gewis die Erika Webb-soort verkies. Ek dink hulle is vir mekaar bedoel – soos jy gesê het, albei so na aan volmaak as wat ’n blote mens kan kom.”

“Ja, en tog hoop ek nie Michael byt ooit daar vas nie. Dis heeltemal waar dat hulle baie na mekaar aard. Om die waarheid te sê, ek weet nie of Erika al ooit in ’n ander man behalwe my ouboet belanggestel het nie. Sy skrik al die ander mans af met haar bekwaamhede. Dis net Michael wat by haar kan kers vashou en sy manlikheid teen haar bekwaamhede kan behou. En tog is sy nie die vrou vir hom nie. Michael het ’n sagte vrou nodig, iemand wat hom kan aanvul. As hy met Erika trou, sal al die gewig net aan die een kant van die skaal hang.”

“Hoe hou Lettie van haar?” en onwetend is dit haar soveelste glips van die dag. Johan frons vinnig, maar ruk hom gou reg.

“Ook nie juis veel nie, maar sy is in die stad. Die verhouding hinder haar nie so veel soos vir my nie.”

“Dan is daar ’n volwaardige verhouding tussen hulle twee?”

“Ja, op ’n ander manier. Ek het hulle weliswaar nog nooit sien handjies vashou of agter die kraalmuur sien verdwyn nie, maar …”

Marista besef dit ook nie, maar dis ook die soveelste keer vandag dat sy spontaan, hartlik lag … soos wat Ouma dit graag sou wou hoor.

“O, Johan! Jy lees te veel vrystories! Deesdae verdwyn mense nie meer agter die kraalmuur nie!”

“Nie? Dis ’n jammerte. Nog ’n goeie ou tradisie wat aan’t uitsterf is,” lag hy saam, en kyk haar tergend aan. “Ek was dan van plan om jou nog eendag met my rolstoel agter die kraalmuur in te jaag!”

Sy skud haar kop en kyk hom waarskuwend aan. “Jy moet dat ouboet Michael jou hoor! Hy maak braaivleis van ons albei!”

Skielik verdwyn die skertsende ondertoon toe hy ernstig laat hoor:

“Ek is ’n volwasse man, Miemie. Michael is my broer, nie my baas nie. As ek eendag verlief raak op ’n meisie, sal Michael geen seggenskap hê nie.”

Marista bly maar stil, maar vir haarself sê sy: Dis wat jý dink, liewe Johan. Hy sal wel deeglik sy sê hê, glo my!

Die laaste bietjie lus vir skerts verdwyn toe hulle Duiwelskloof se werf binnery. Michael staan soos ’n oordeelsengel, arms gekruis oor die breë bors, en wag hulle op die onderste stoeptreetjie in.

“Daardie draadtang van ’n Erika!” kry Johan dit brommend uit voordat Marista die motor tot stilstand bring.

Michael is dadelik by.

“Het jy seergekry, Johan?”

Sy broer blik hom vererg aan. “Nee, natuurlik nie! Hemel, Michael, ek is darem nie ’n baba nie!”

“Jy is erger as een, want vir ’n baba is daar verskoning, nie vir ’n groot man sonder verantwoordelikheidsin nie.” Dan gaan sy oë yskoud na Marista waar sy bedremmeld by die motordeur staan.

Met ’n moed van êrens, waarvandaan weet sy self nie, kyk sy hom egter vas aan en laat reguit hoor: “Johan het niks hiermee te doen gehad nie. Ek het goed op die dorp nodig gehad. Dis alles my verantwoordelikheid.”

Sy mondhoeke krul sarkasties. “Prysenswaardig, juffrou – ook jou handigheid agter ’n stuurwiel.”

Johan tree tussenbeide. “Dit kon met jou ook gebeur het, Michael, en so ook met jou wonderlike Erika. Niemand kan dit help as daar skielik ’n skaap op ’n draai in die pad voor jou verskyn nie.”

Michael se koue blik keer terug na sy broer, ’n kwaai frons tussen sy wenkbroue. “Dit klink na dankbaarheid nadat Erika julle daar moes uithelp.”

Johan se mond gaan oop om te protesteer, en Marista laat vinnig hoor, want sy is bang dat daar ’n volbloed rusie tussen die twee broers kan ontstaan en dat sy die oorsaak daarvan gaan wees: “Ek is jammer oor wat gebeur het, meneer De Beer, maar die kosbare motor het darem niks oorgekom nie.”

Weer ontmoet hul oë.

“Die kosbare motor, juffrou, kos geld … en ék het daarvoor gewerk. En my broer se lewe kan met geen geld gekoop word nie.”

Hy maak die agterdeur oop en sy blik dwaal oor die twee kartondose, maar behalwe vir die ophaal van die wenkbroue, sê hy niks nie. Dan help hy om Johan se rolstoel uit te kry en Marista wink vinnig dat Efraim die twee dose moet indra huis toe. Nie sy of Johan waag dit om verder iets te sê nie. Dis eers toe hulle die veiligheid van die kombuis bereik dat Johan verlig laat hoor: “Dank die gode dis verby!” Hy glimlag skeef. “En nou, ou sussie, sal ons moet wegspring met daardie aandete. Dit sal ons niks baat om onse Michael nog verder ontstoke te maak nie. As jy vanaand vir hom ’n heerlike bord kos kan voorsit, sal sy buierigheid dadelik sak. Dis maar net omdat hy honger is dat hy so knorrig is. In elk geval sê hulle mos die pad na ’n man se hart loop deur sy maag!”

Marista snuif fyntjies, iets wat sy tot vandag nog nie gedoen het nie. Maar sedert sy ’n paar uur gelede op Duiwelskloof aangekom het, het sy in ’n vreemde wese verander. Waar sy nie eens daaraan sou dink om so ’n geluid te uiter in die teenwoordigheid van haar fyn beskaafde vriende en verloofde nie, pas dit nou op dié oomblik heel goed in die groot ou kombuis van Duiwelskloof.

“Jou broer, liewe Johan, het g’n hart nie. Hoe sal daar dan nog ’n pad daarheen loop? Die bekwame Erika moet liewer by al haar baie ander bekwaamhede ook nog leer hoe om ’n stootskraper te hanteer, want sy gaan dit nodig kry. O, sy gaan dit nodig kry!”

“Wat bedoel jy? Wat moet sy met ’n stootskraper maak?”

Sy glimlag liefies. “Sy moet ’n pad maak … ’n pad na ene Michael de Beer, die despoot van Duiwelskloof, se hart natuurlik. En sy sal nog dinamiet ook nodig kry! Hope en hope daarvan! Want as die pad klaar is, sal sy eers sy hart moet losskiet waar dit al eeue lank soos ’n versteende fossiel lê. Hy …”

Iets in Johan se oë laat haar vinnig swyg en natuurlik gewaar sy die groot gestalte gans te laat in die binnedeur. Johan skraap doelbewus keel. Marista staan net verslae daar langs die kombuistafel en die despoot van Duiwelskloof gooi met ’n diaboliese glimlaggie iets op die tafel voor haar neer. “Voel jy soos ’n bruid, juffrou?”

Sonder om op ’n antwoord te wag, stap hy na buite en Marista sê saggies, maar eers nadat sy seker gemaak het hy is buite hoorafstand: “Nee, meneer De Beer. Ek voel lus om te móór!”

Johan bekyk die blitsende oë en ontstoke gesiggie intens en sy word vir hom elke minuut mooier. Hy word ook elke oomblik meer vasberade dat, kom wat wil, hierdie nuwe huishoudster op Duiwelskloof gaan bly. Hy laat vinnig hoor: “Kom, bruid! Laat ons sien … Hmm. Hier staan dit op bladsy sewentig: ‘Planne met blikkieskos. Die hedendaagse bruidjie werk gewoonlik ook en kom saans laat by die huis of woonstel aan. Dan moet daar vinnig kos gekook word en is sy soms verlig om die hulp van die handige blikkies in te roep. Hier volg ’n paar wenke en maklike resepte wat u in staat sal stel om manlief heerlik te verras met ’n wonderlike ete, in ’n kits voorberei. En hy sal nie eens agterkom dat die inhoud uit ’n blikkie kom nie!’ Oulik! Dis die ware Jakob waarna ons soek, nè?”

Marista staan ook belangstellend nader en kort voor lank is dit ’n hele doenigheid voor die groot ou stoof. Ou Sabien is al huis toe, maar die vleis, rys en aartappels staan eenkant gestoot, gereed om opgeskep te word. Johan se taak is om die blikkies oop te sny en die resepte te raadpleeg, terwyl Marista die bevele wat hy hardop voorlees, haarfyn uitvoer.

Toe die tafel eindelik gedek en die kos opgedis is, staan hulle terug om hul handewerk te bewonder, en vir albei voel dit asof hulle ’n groot prestasie behaal het! Ouma, waar is jy? vra Marista weer stilswyend.

Johan se oë blink tevrede. Hy het self ’n leeue-aandeel in hierdie ete en voel ook trots op homself. As Michael darem vanaand klagtes oor die kos het, smyt hy hom sowaar by sy eie voordeur uit!

“Dis vir my so pragtig dat dit na ’n sonde lyk om dit te eet,” laat Marista met duidelike trots hoor, en agter haar rug klink ’n droë stem op: “Dit maak nie soveel saak hoe ’n ding lyk nie, juffrou. Die toets lê in die smaak daarvan. Sal ons aansit?”

Dis doodstil aan tafel tydens die ete. Johan lê deeglik weg, maar Marista peusel net. Haar maagsenuwees is op ’n harde knop getrek. Ongemerk hou sy Michael dop en toe hy ’n derde keer sy bord uithou, knipoog Johan openlik. Die stryd is gewonne!

Maar as sy verwag het om woorde van lof van die oudste De Beer te ontvang, is sy teleurgesteld. Sy moet maar net tevrede wees met die feit dat hy smaaklik geëet het. Toe hy opstaan van die tafel, is dit Johan wat hy aanspreek.

“Onthou dat ou Freek môre ’n slag die vuilgoedblik leegmaak. Ek sien netnou dis propvol … met blikke.”

Dis jammer dat Marista nie die fyn glimlaggie om Michael se mond kon sien toe hy in die gang afstap na sy studeerkamer nie. Sy is byna in trane toe die deur van die studeerkamer agter hom toegaan. Hy kon darem iets gesê het! Al kom dit ook uit blikke, het dit harde werk gekos, vir háár wat niks weet nie, angsvolle ure van swoeg en sweet!

Al haar trots en ingenomenheid met haar eerste ete is daarmee heen. Sy moet die drang onderdruk om die skottels van die tafel te gryp en agter hom aan te gooi – ook iets waaraan die verfynde Marista Minnaar voorheen nooit sou dink nie.

Maar in die paar ure sedert sy met die despoot van Duiwelskloof kennis gemaak het, het sy met rasse skrede begin verander, só verander dat sy heeltemal kapabel is om haar tong uit skone woede en frustrasie vir hom uit te steek en die bekwame Erika Webb te bel en haar te verseker dat sy ene Michael de Beer present kan vat … vir ’n pennie en ’n sikspens, soos Ouma sou sê!

Ena Murray Keur 7

Подняться наверх