Читать книгу Ena Murray Keur 7 - Ena Murray - Страница 7

4

Оглавление

Toe die trein die volgende oggend Middeldraai se klein stasie binnestoom – dis ’n middelmatige groot dorp in die Noordweste – voel Marista asof sy in daardie klein kompartement aan die end van die wa kan gaan wegkruip totdat die trein weer vertrek.

Maar dis die gedagte aan ouma Miemie – en wat daardie skerp tong van haar alles sal kwytraak – wat haar maar gedweë laat afklim en haar twee tasse deur die venster van ’n medepassasier laat ontvang.

Dan, met die twee goedkoop tasse aan weerskante van haar, kyk sy met groot, bang oë om haar rond. Ag, vadertjie, gee tog dat niemand haar sal kom haal nie, bid sy byna hardop, hoewel sy weet dat sy seker vergeefs bid. Ouma sou gesorg het dat daar ’n telegram na die De Beers van Duiwelskloof gestuur is, sodat hulle weet wanneer hul nuwe huishoudster aankom.

Aan die ander kant … Wat gaan van haar word wanneer die trein weer vertrek het en sy staan nog hier op die perron, dink sy met ’n toegetrekte keel. Wat moet sy dán doen? Sy het nie ’n benul nie. Tot gisteraand is alles in die lewe nog vir haar gedoen, en was dit ook die eerste keer dat sy ’n ver ent pad alleen met die trein aanpak.

Intussen kom die man wat reeds ’n paar minute lank soekend al langs die trein afstap, in haar rigting. Daar is ’n diep frons tussen sy wenkbroue. Michael de Beer voel geïrriteerd. Hy het baie werk op die plaas en moes spesiaal wegbreek om die nuwe huishoudster op die stasie te kom haal. En nou lyk dit asof die ou mens nie op die trein is nie. Sy ongeduld groei. Dit beteken dat hy sy kosbare tyd sal moet vermors om te wag vir die later trein wat eers oor sowat twee uur inkom.

By die venster skuins agter haar loer Marista se medepassasier na buite en vra belangstellend: “Het jou mense nie gekom nie, hartjie?”

“Nee, tante. Dit lyk nie so nie. Ek weet nie …”

Die man kom tot stilstand, maar steur hom nie aan Marista nie. Hy kyk na die middeljarige vrou in die kompartement.

“Ek soek na ’n mejuffrou Greyling wat hier moes afklim. Is dit miskien u?”

Sy skud haar kop en wys na Marista. “Nee, daar staan sy. Sy het net begin dink haar mense het van haar vergeet.”

Hy draai na Marista en die skerp oë rek … en vernou dan.

“Is ú mejuffrou Greyling? Maar … die dame wat ek verwag, is ’n oujong … ek bedoel, is agt-en-dertig!”

“Ek is jammer, meneer,” vra sy vinnig om verskoning sonder om te weet waarom. “Ek is … agt-en-dertig.”

Die frons tussen sy wenkbroue is nou onheilspellend. Daar heers ’n oomblik stilte en Marista wens met haar hele hart dat hy haar daar en dan wil terugstuur met die trein. Maar toe hy weer praat, is sy stem uiters formeel en styf.

“Ek is Michael de Beer.” Hy doen nie eens die moeite om sy hand uit te steek nie, maar buk af en tel die twee tasse op. “Is dit al bagasie?” Marista knik net stom en hoor die kortaf bevel: “Dan kan ons maar gaan.”

Sy moet drafstap om by te hou tot by die vragmotor. Toe hy agter die stuur inskuif, vra hy nog steeds in daardie veraf stemtoon: “Sal u omgee as ek net gou by die koöperasie aangaan? Ek moet iets daar oplaai.”

“Nee, natuurlik nie.”

Dan is dit weer stil en Marista – van kleins af geleer hoe om ’n goeie gesprek te voer – kan op hierdie oomblik met die beste wil ter wêreld aan niks dink om te sê nie. Haar tong voel swaar en dik in haar mond en sy kyk stip voor haar uit sonder om iets van die vreemde dorp raak te sien. Een ding is seker, besef sy met beklemming: Dié Michael is bepaald nie ingenome met haar nie. ’n Vlammetjie hoop ontbrand in haar. Miskien sal hy haar sommer môre weer met die trein terugstuur huis toe, dink sy hoopvol.

Toe hy uit die koöperasie aangestap kom, sê hy asof hy dit moeilik vind om sy maniere te onthou: “Ons kan eers ’n koppie tee in die kafee gaan drink. Die plaas is ’n entjie uit die dorp en dit is nou teetyd.”

Hierop laat Marista ’n dankbare “ja, dankie” hoor, want haar keel is so droog van al die benoude gesluk dat dit vir haar voel asof sy dae laas ’n druppel vloeistof oor haar lippe gehad het.

Maar toe hy klaar tee bestel het, is sy jammer dat sy die uitnodiging nie maar van die hand gewys het nie. Die stilte wat nou tussen hulle heers, is tien keer erger as dié in die vragmotor. Sy is eintlik verlig toe daar skielik ’n stem langs hulle opklink.

“My wêreld, Michael, ek het nie geweet jy kom vandag dorp toe nie.”

Meneer Michael lyk ewe verlig toe hy vinnig opstaan, asof die stilte darem op sy senuwees ook begin werk het.

Die ander meisie se oë draai na Marista en hulle vra duidelik glad nie oorvriendelik nie: En waar kom jý vandaan? Marista probeer glimlag, maar sonder sukses.

“Laat ek julle voorstel. Dis Erika Webb. Hulle boer op die plaas wat aan Duiwelskloof grens. En dis juffrou Greyling … ons nuwe … e … huishoudster,” stel hy hulle voor en Erika se oë flits vinnig na hom op en dan weer terug na Marista, terwyl die baas van Duiwelskloof haastig byvoeg: “Johan het haar aangestel.”

“Jul nuwe huishoudster? Maar …” Haar nougetrekte oë bestudeer die gesig oorkant die tafel en haar blik rus lank op die pragtige vel, die diepblou oë, die hare – hoewel in ’n stywe, oninteressante bollatjie agter die kop saamgevat – wat nogtans soos geelryp koring skitter. “O! Ek … ek het nie geweet julle het toe een gekry nie.”

Sy spreek Michael aan, maar haar oë bly koel, vyandig op Marista gerig, wat net stilswyend kan sit en terugkyk.

Michael se stem klink bot. “Soos ek gesê het, dit is Johan se keuse. Kom sit. Wat van ’n koppie tee?”

“Ja, seker, dankie.” Erika neem plaas en dis asof sy nie haar oë van Duiwelskloof se nuwe huishoudster kan wegskeur nie. “Johan het my niks vertel nie. Ek was juis van plan om julle weer môre oor te nooi vir ete …”

Marista sit maar doodstil. Soos sy kan aflei, moet die Webbs en die De Beer-broers baie hegte vriende wees. Blykbaar weet Erika ook alles van die De Beer-huishouding af, en dit klink asof sy afgehaal voel dat ’n nuwe huishoudster vir Duiwelskloof aangestel is sonder dat sy daarvan weet en daaroor geraadpleeg is.

“Dit het ietwat skielik gebeur,” hoor sy die oudste broer se diep stem hier langs haar verduidelik. “Mejuffrou Greyling het maar eers twee dae gelede gebel in verband met die betrekking, en Johan het haar toe sommer dadelik aangestel. Ek het self maar eers gisteraand ná donker daarvan gehoor.”

Erika glimlag teenoor Marista, maar haar oë bly berekenend. “Dit was darem gaaf dat u dadelik kon kom, juffrou. Ek kan u verseker dat die twee mans van Duiwelskloof uitgehonger is. Dit gaan weke duur om hulle versadig te kry!”

Marista voel ’n koue rilling langs haar ruggraat afgaan en sy vra half verbouereerd: “Maar … maar het u dan geen sorg gehad nie?” Ouma het dan gesê daar is ene ou Sabien!

“O ja, ou Sabien is daar, maar sy is nie eintlik ’n kok nie!” lag Erika en die eerste keer sien Marista Michael se gesig in ’n effense glimlag ontspan.

“Jy kan dit weer sê! Net gisteraand nog het Johan gesê as hy nog ’n slag mieliepap en frikkadel in die oë moet kyk, sal hy soos ’n kind aan die huil gaan!”

Die twee lag, maar Marista voel eerder asof sý soos ’n kind aan die huil kan gaan. Ouma het gesê … Sy sluk. Ouma het baie dinge gesê en dit begin nou blyk dat dit dinge is waarvan sy niks geweet het nie!

“Foei tog! Ek kon ook meer kere vir julle iets te ete oorgebring het, maar …”

“Dit was jy wat ons die afgelope tyd aan die lewe gehou het. Jy het meer as genoeg vir ons gedoen.” Hy wend hom tot Marista asof hy skielik daarvan bewus geword het dat daar nog iemand in die geselskap is. “Erika is ons puikste jong meisie in die distrik. Sy loop gewoonlik met al die pryse op die tentoonstellings weg.”

Erika waai haar hand afwerend, maar haar stem klink ingenome. “Stadig oor die klippe! Miskien sal mejuffrou Greyling my op die komende tentoonstelling in die skadu stel en al die pryse voor my neus wegraap.” Die oë kyk weer speurend. “U lyk nog nie sodanig oud nie, juffrou. U is dus seker baie knap, nie waar nie?”

Marista tas wild in haar gedagtes rond. Wat moet sy daarop antwoord? Skielik voel sy lus om te giggel, maar sy onderdruk dit, want sy besef sy is op die punt van histerie. Sy wonder wat hulle sal maak as sy sommer nou prontuit erken dat sy nie eens soos ou Sabien mieliepap en frikkadel kan maak nie. Dan sal sy daarvan verseker wees dat sy op die volgende trein terug Kaap toe sal sit!

Nie die eerste keer nie, wens sy met haar hele hart dat sy Ouma kon saamgebring het. Sy sou geweet het hoe om hierdie hooghartige, bekwame juffertjie op haar plek te sit. Maar ál wat Marista kan doen, is om net te glimlag en haar kop ontkennend te skud as enigste antwoord.

Michael staan met ’n ligte sug op.

“Ek is besig om skape te spuit, dus sal ons nou moet gaan,” laat hy hoor en die twee meisies staan ook op.

“Ja, ek moet ook aanstaltes maak. Ek het vanoggend vir Jafta gesê hy moet môreoggend vroeg die boonste kampe bymekaarkry. Ek wil juis nog Ivomec gaan kry.”

“Ek het vandag Ovivax 6 gevat. Ek wil kyk hoe dit werk.”

“Wel, jy kan probeer. Hulle sê dis goed, maar oom Coenie van Mooidraai sê hy vind Ivomec nog maar die beste en baie doeltreffend.”

Vir Marista is hierdie gesprek natuurlik Grieks. Sy staan en luister maar. Benewens die feit dat Erika Webb van die buurplaas met al die bekers in die vroueafdeling op tentoonstellings wegstap, is sy blykbaar ook ’n volbloed boer wat met die mansmense oor boerderyaangeleenthede kan saampraat. Marista krimp ál kleiner en kleiner.

By die vragmotor neem hulle afskeid.

“Tot wederom, juffrou Greyling. Ons sien mekaar weer. Ek maak dikwels ’n draai op Duiwelskloof.”

Vir Marista klink dit na ’n bedekte dreigement en sy voel hoe haar maag ’n snaakse draai maak. Dit gaan erg genoeg wees sonder om nog heeldag so ’n uiters bekwame mens soos dié bekwame Erika ook onder haar voete te hê.

Erika draai dadelik na Michael. “Sien jou weer, maat. Ja, terloops, ek loop vanoggend vir oom Kosie Kaaldoring raak. Hy sê hy het al die eerste dikkopgevalle gekry. Ons sal moet begin dophou.”

Michael knik. “Ja, ek was bang daarvoor. Die ruspes het die veldjie opgeëet, en nou bly net die duwweltjies oor. As ons nou net weer ’n reëntjie kan kry …”

Toe hulle die dorp agterlaat en die swye weer soos ’n taai stroop oor hulle toesak, laat Marista hoor, net om die gespanne stilte te verbreek. “Ek merk op dat hierdie wêreld se mense darem eienaardige vanne het.”

Hy blik vinnig sydelings na haar. “Hoe bedoel u?” vra hy beleef.

“Ek bedoel maar net … e … Kaaldoring is darem ’n vreemde van. Is dit Hollands?”

’n Oomblik is dit stil en dan hoor sy die despoot van Duiwelskloof, soos Ouma hom gedoop het, die eerste keer hardop lag. Sy kyk hom verward aan. Sy kan nie dink wat so snaaks is nie.

“Nee, juffrou,” verduidelik hy laggend. “Dis nie Hollands nie! Dis maar net sy plaas se naam. In hierdie wêreld word die boere selde op hul vanne aangespreek. Oom Coenraad van Zyl bly op Mooidraai. Oom Koos van Deventer bly weer op Kaaldoring. Maar almal noem hom sommer Kosie Kaaldoring. Begryp u?”

Die oë het ’n oomblik hul skerpte verloor en blik geamuseerd in haar rigting. Sy knik, bewus van die bloedrooi blos oor haar hals en wange. Wel, dis dan wat sy het van haar eerste intelligente opmerking van die dag! Van nou af gaan sy haar mond styf toehou. Sy voel so aan haar dat sy genoeg geleentheid in die kombuis van Duiwelskloof gaan kry om ’n gek van haarself te maak. Gesprekke oor onderwerpe waarvan sy niks weet nie, sal sy maar voortaan vermy.

Die res van die pad is dit weer stil. Die effense gemoedelikheid wat pas ná haar onkundige flater ontstaan het, het byna weer net so gou verdwyn. Sy loer tersluiks na haar nuwe baas … of liewer, een van haar nuwe base. Hy is heeltemal ’n ander soort man as dié met wie sy tot dusver te doen gekry het. Byna net mooi die teenoorgestelde van Wouter Malan.

Wouter is effens skraal, sodat sy byderwetse klere altyd knap aan sy lyf sit. Hy is die stadsmeneer wat altyd deur ’n ring getrek kan word met die woord verfyndheid dwarsoor hom geskryf.

Die man hier langs haar is weer groot, frisgebou en sterk met dienlike kakieklere aan wat klaar ’n halwe oggend se arbeid verraai. Sy skoenpunte is wit van Duiwelskloof se stof. Sy sterk vingers om die stuurwiel, met die een duimnael blou, die fyn haartjies op die ontblote voorarms tot waar die kakiehemp se moue duidelik vinnig en ongeërg opgerol is, is verbleik van baie son – en daar waar die kraag oopslaan, blink sy sterk nek koperbruin.

Selfs sy manier van loop is anders. Dis eerder asof hy hom langsaam haas, met ’n bedrieglike lui pas en tog verbasend vinnig. Sy onthou hoe sy langs hom moes drafstap om by te hou toe hy haar op die stasie gekry het.

Dan, baie vlugtig, gaan haar blik oor sy gesig. Die vel is donker, die ruie wenkbroue loop saam op die neusbrug en vorm een lang lyn wanneer hy frons, soos nou. Die groen oë lyk amper verbleik, asof die felle Karooson ná baie jare die kleur gesteel het. Sy lippe is vol wanneer hy ontspan, maar meestal is hulle streng saamgepers. Die kakebeen staan hoekig uit en vorm ’n sterk, vasberade lyn.

’n Man wat weet wat hy wil hê. ’n Man wat sy eie mening oor sake het en nie maklik beweeg sal word om anders te dink nie. ’n Goed beduiwelde man, soos ouma Miemie gewaarsku het. Toe het sy gedink sy is maar net besig om haar te terg of bang te praat, eintlik om haar te toets. Maar nou weet sy dat sy dit werklik bedoel het. ’n Bietjie laat om dit agter te kom, dink sy met beklemming.

Die prentjie voor haar geestesoog vertel haar dat hierdie man nie enige kaf sal sluk nie, en die gode alleen weet watter kaf hy nog sal moet sluk wanneer sy voor Duiwelskloof se stoof te lande kom!

Weer borrel ’n half histeriese giggellaggie na bo en hoewel sy net betyds die vreemde geluid op haar lippe keer, trek haar mond agterdogtig. Sy is nie bewus daarvan dat sy ook op haar beurt tersluiks bestudeer word nie en dat hy gou is om die bewing in die mondhoeke raak te sien. Sy kom dit eers agter toe hy droog opmerk:

“Ek is bly om te sien dat u ’n humorsin het, juffrou.”

Sy byt haar onderlip vas en draai haar kop vinnig weg. Dis omtrent ál wat ek op hierdie oomblik het, meneer Michael, voel sy lus om hardop te sê, maar laat dan hoor, terwyl sy haar dwing om hom kalm in die oë te kyk: “Die lewe sou maar swaar gewees het sonder ’n humorsin, nie waar nie?”

Hy knik. “Ja, solank dit net nie verwronge is nie.”

Hierna waag Marista dit nie om iets te sê of weer by haarself te glimlag nie. Die man kan haar dalk vra wat sy so snaaks vind en sy sal hom nie kan antwoord nie. Of as sy hom móét vertel, sal hy haar bepaald daarvan beskuldig dat sy ’n verwronge sin vir humor het. ’n Man met ’n skreeuhonger maag sal dit beslis nie snaaks vind dat hy ’n kok wat niks van kookwerk af weet na sy plaas aanpiekel nie. By die gedagte aan sy en sy broer se leë mae begin haar eie maag allerhande draaie maak, maar nie van honger nie. Hoe meer sy aan die nabye toekoms dink, hoe minder hou sy van kos.

Net toe sy begin dink dat die res van die reis in doodse stilte afgelê gaan word, laat Michael hoor: “Ek weet nie of Johan, my broer, u vertel het nie, maar dis net ons twee op die plaas. Johan is verlam. Hy het ’n paar jaar gelede polio opgedoen. Dis grotendeels ter wille van hom dat ons vir ’n huishoudster geadverteer het onderwyl tant Anna in die hospitaal is. Hy is baie alleen. Hy moet geselskap hê, want ek is omtrent heeldag buite aan die gang. Hy het sy persoonlike bediende, Efraim, wat hom met alles help, maar hy moet tog darem iemand hê om mee te gesels. Ek wil nie hê dat hy die hele dag so alleen met sy gedagtes moet wees nie.”

Sy knik, skielik meer op haar gemak. “Hoe aanvaar u broer sy toestand?” vra sy belangstellend, en hy sug.

“Baie goed onder die omstandighede. Natuurlik is daar dae dat hy vreeslik gefrustreerd voel, maar dit kan ’n mens begryp. Oor die algemeen is hy egter ’n baie makliker mens om mee oor die weg te kom as ek.”

Marista se wenkbroue lig effens. Sou dit ’n bedekte waarskuwing wees? Sy besluit om dit liewer te ignoreer.

“Kon terapeutiese behandeling hom dan nie help nie? Hulle doen vandag sulke wonderwerke.”

Sy sien nie die tersluiks opsommende blik wat vlugtig na haar kant gewerp word nie. So ’n opmerking hoort nie tuis by ’n blote huishoudster nie. Maar Marista is salig onbewus daarvan. Net die feit dat die professionele woord so gemaklik van haar tong gerol het, laat die man se frons dadelik weer terugkeer.

“Nee, hulle het alles probeer, maar hy is so ver as wat hy kan vorder. Johan sal die res van sy lewe in ’n rolstoel sit.”

“Ek is jammer om dit te hoor. Hoe oud is hy?”

“Vyf-en-twintig, maar in sommige opsigte nog baie jonger as dit. Hy … word maklik beïnvloed, kan maklik ’n gat in die kop gepraat of selfs bedrieg word. Gelukkig is ék daar …”

Hy swyg meteens, die frons nou hewig op sy gesig, en Marista voel haar hart benoud saamtrek. Weer kry sy die gevoel dat sy woorde ’n dieper betekenis, ’n subtiele waarskuwing inhou. Sy probeer so ongeërg moontlik knik.

“Ek is jammer om te hoor dat daar geen hoop is dat hy ooit weer sal kan loop nie. Hy het oor die telefoon na ’n gawe jong man geklink.”

Weer draai sy kop vinnig in haar rigting en die mond trek grimmig.

“Ja, hy is, en omdat hy so alleen en noodgedwonge ’n lewe van afsondering lei, was ek so uiters versigtig om die mense te keur wat aansoek gedoen het om die betrekking as huishoudster op Duiwelskloof. Johan is my eerste oorweging en dit is noodsaaklik dat die vrou met wie hy daagliks onder een dak te doen sal kry, die … e … regte mens is. ’n Mens kry mense wat iemand soos Johan se gevoelens gewetenloos sal uitbuit en tot eie voordeel sal gebruik.”

Marista frons. Die wending wat die gesprek skielik geneem het, staan haar glad nie aan nie. Sy kyk nou reguit na die man langs haar en vra fronsend: “Wat presies wil u vir my sê, meneer De Beer?”

Hy is ’n oomblik stil. Dan antwoord hy ewe reguit: “Dit is miskien goed dat ons mekaar uit die staanspoor goed verstaan oor hierdie saak, juffrou. Wat ek eintlik wil tuisbring, is dat hoewel my broer verlam is, hy ’n volgroeide, normale man is, en ook ’n man wat gefrustreerd is. Ek hoef seker nie verder te verduidelik nie? Ek neem aan u begryp wat ek bedoel?”

Sy kyk hom aan asof sy haar eie ore nie kan glo nie. Dan skiet ’n donkerrooi blos oor haar gesig en haar oë blits.

“Ek hoop ek verstaan u woorde verkeerd, meneer De Beer!” laat sy op haar styfste hoor. “Ek begryp nou hoekom u so gesukkel het om ’n huishoudster te kry. Geen vrou wat haar sout werd is, sal ná wat jy so pas geïnsinueer het – of liewer, amper regstreeks beweer het – haar voete op jou plaas sit nie!”

Sy is so kwaad dat sy hom kan vra om net daar om te draai en haar terug te bring stasie toe. Wat dink die man van haar? Sy is nog nooit in haar lewe so beledig nie! Haar stem klink só ysig en hooghartig dat Michael nog minder kan glo dis ’n huishoudster wat verleë oor werk is. Inteendeel …

Die groen oë wat haar ’n stonde waterpas betrag, flikker nou.

“Ek het hierdie dinge nie aan die vorige aansoekers gesê nie, want hulle was almal middeljarige dames, oud genoeg om Johan se ma te kon wees. In jou geval is dit anders. Jy is net so min agt-en-dertig as wat ek agt-en-dertig is. Nie dat jy nie jou bes gedoen het om ons te oortuig nie, dít moet ek toegee. Jy het Johan doelbewus oor die telefoon belieg, nie waar nie? Is jy werklik só verleë oor werk? Of is daar ’n ander rede hoekom jy uit die stad moes padgee?”

Die vrae skiet soos gifpyle op haar af en sy kan hom eers net verslae sit en aankyk, die skuldgevoel glashelder op haar gesig. Sy besef ook dat sy geen verweer het nie. Sy is sommer uit die staanspoor betrap. Sy weet nie of sy bly of jammer moet wees nie. Dan haal sy haar skouers op.

“Dink wat u wil, meneer De Beer. Ek het gekom as huishoudster. My persoonlike lewe is my eie. Ek moet darem sê u is sekerlik die agterdogtigste mens wat ek al teëgekom het. Het u geen vertroue in u medemens nie? Ek kan u gerusstel. Ek het hierheen gekom om vir u en u broer te kom huishou – nie om beledig te word nie, en ook nie om verlamde jong mans te verlei nie! Ek het niks van jou nodig nie …”

“Nie?”

Dié woordjie ruk haar tot swye. Sy is veronderstel om verleë te wees oor die salaris wat sy van hierdie man gaan ontvang. Sy trek haar asem in.

“Nee. Ek sal wel êrens anders werk kry. Huishoudsters is deesdae skaars,” voeg sy trots by.

’n Grimmige trekkie pluk aan sy een mondhoek toe hy haar een hand vinnig optel en haar vingers oopsprei sodat die sagte, wit vel en die roosgelakte, goed versorgde vingernaels ontbloot word.

“Jy het heeltemal gelyk, juffrou – veral huishoudsters met pophandjies.” Hy laat haar lam hand los en met bekommerde oë sien sy dat hulle reeds by ’n hek ingeswaai het en ’n plaasopstal nader. ’n Stonde later bring hy die voertuig tot stilstand en ’n oomblik lank sit hulle albei roerloos. Dan laat hy styf hoor, teësinnig asof hy liewer net die teenoorgestelde sou wou doen:

“Jy is nou eenmaal hier, dus … Ek is in elk geval bly om te hoor dat jy nie kom man soek het op Duiwelskloof nie. Nie ek óf my broer is beskikbaar nie. Solank ons mekaar op daardie punt verstaan, is alles reg. Aangesien dit ook net ’n tydelike aanstelling is totdat tant Anna weer kan oorneem, sal ek jou maar laat bly. Maar by een ding moet ons noodgedwonge bly: jy ís agt-en-dertig.”

’n Sardoniese glimlag skiet oor sy gesig. “Niemand sal dit glo nie, maar niemand kan ook sommer reguit sê ons lieg nie, kan hulle? Dus: Jy is ’n oujongnooi van agt-en-dertig. As iemand iets daaroor te sê het, sê dan maar dat jy jou jare baie goed dra,” gebruik hy onbewustelik tant Miemie se woorde.

Die sarkasme drup uit sy stem en hy gee haar nie kans om te antwoord nie. Die volgende oomblik klim hy uit en hou die deur vir haar oop. “Welkom op Duiwelskloof, juffrou Greyling. Ek hoop jy sal dit kan uithou.”

Sy oë vertel haar dat dit die laaste ding is wat hy werklik hoop, en Marista voel ’n ongekende hardkoppigheid in haar opstoot. Veral toe haar blik op die gestalte in die rolstoel aan die bopunt van die stoeptrap val, is sy meteens bly dat sy haar vinnige antwoord teruggesluk het. Michael de Beer is nie ál mens op Duiwelskloof nie. Sy verlamde broer is ook hier … en toe hulle nader stap, is dit asof iets binne-in haar in opregte meegevoel meegee.

Sy het tot gister ’n baie beskermde lewe gelei. Die eerste keer in haar lewe sal sy in noue kontak kom met ’n verlamde mens, en toe sy in Johan de Beer se gretige oë opkyk, is sy die eerste keer bly dat sy na Duiwelskloof gekom het. Die spontane glimlag op sy lippe laat haar ook warm terugglimlag. Haar hart gaan oop teenoor hom toe sy die gesig bestudeer en so baie van Lettie in hom vind. Toe sy voor hom staan, is daar ’n mengelmoes van verskillende emosies op sy gesig te lees. Ook hy – nes sy ouboet – het dadelik agtergekom dat hier êrens fout moet wees. As agt-en-dertig só lyk …

Vlugtig, bekommerd kyk hy na die man skuins agter die nuwe huishoudster, en dié beantwoord sy blik met opgetrekte wenkbroue en nog met daardie sardoniese glimlag om die een mondhoek.

“Sy is glo regtig agt-en-dertig,” laat hy droog hoor. “Juffrou Greyling – Johan.”

Dis Marista wat die ongemaklike stilte verbreek en vinnig laat hoor: “Hallo, Johan. Dis aangenaam om jou te ontmoet.” As daar ’n effense nadruk op die jou is, laat die ouer man dit verbygaan en die jonger broer gryp haar uitgestrekte hand vas, sy gesig nou stralend.

“Aangenaam! Baie aangenaam, juffrou! Baie welkom op Duiwelskloof!”

Marista ignoreer die man wat nog styf langs haar staan, met die afkeer afgeëts in elke lyn van sy groot liggaam.

“My naam is … Miemie. Noem my gerus so. Ek noem jou reeds Johan.” Sy aarsel. “Behalwe as jou broer natuurlik verkies dat jy my tant Miemie moet noem.”

“Maar dis verspot! Jy lyk nie soos ’n tant Miemie nie …” Hy bloos bloedrooi. “Ekskuus! Ek bedoel maar net … Ek gaan nie heeldag tante voor en tante agter nie. Jy … jy gee mos nie om nie?”

Sy blik gaan vlugtig na sy broer se fronsende gesig. “Michael, ons noem haar sommer Miemie, nè? Ons gaan tog saam in een huis bly …”

Sy broer antwoord kortaf, duidelik ontevrede oor die wending van die gesprek: “Noem haar wat jy wil, solank jy net onthou sy is ’n hele klompie jare ouer as jy.”

Johan knipoog ondeund. “Goed! Dan is dit Miemie!”

“Kom dat ek jou jou kamer gaan wys, juffrou,” klink dit styf langs Marista, met nadruk op die juffrou, sodat sy baie goed moet begryp hy is nie van plan om haar sommer te Miemie nie. Marista knik net. Wel, as hy moeilik wil wees … Hoe minder sy met die oudste De Beer-broer te doen kry, hoe beter. Van Johan het sy sommer met die eerste oogopslag gehou. Hulle twee sal groot maats word. Maar Michael de Beer sal sy maar alleen laat, of liewer aan die bekwame Erika Webb oorlaat, besluit sy grimmig.

Dis ’n ruim kamer waarvan Michael die deur oopstoot. Dis ’n ou huis, maar nog stewig en sterk vir baie geslagte in die toekoms. Hoewel op die oog af netjies, is dit vir die kieskeurige Marista wat gewoond is aan blinkskoon netheid, duidelik dat ’n vrouehand lank laas in die huis doenig was. Maar of háár hand die aangewese een is om dinge hier reg te ruk, betwyfel sy sterk.

“Ek hoop u is tevrede?”

Sy kyk op en sê koel: “Heeltemal, dankie.”

Hul oë ontmoet vlugtig en ’n gespanne stiltetjie volg. Dan draai hy om.

“Dis amper etenstyd. As u klaar is, kan ons maar begin.”

“Ek wil net gou my hande en gesig afspoel.”

Hy stap uit en beduie voordat hy verdwyn: “Die badkamer se deur is aan die einde van die gang.”

Marista maak ’n rukkie later haar verskyning op die stoep, en Michael staan dadelik op.

“Ek sal vir Sabien gaan sê sy moet opskep.”

Sy dwing haar om te sê: “Ek sal gaan.”

Maar hy keer haar met ’n fyn spottende glimlaggie. “Dis nie nodig nie. Ek sal u nog ’n paar uur grasie gee. U kan met aandete oorneem.”

Weer is daar so ’n yskoue gevoel langs haar ruggraat af, maar sy glimlag stram en sê: “Dankie, meneer De Beer. Dis gaaf van u.”

Sy wenkbroue flits ’n oomblik omhoog en sy antwoord is so droog soos die langste droogte in die Karoo: “’n Plesier, juffrou.”

Die ete wat ou Sabien voorsit, is net vleis, stampmielies en aartappels. Nie smaaklik opgedis nie, maar tog eetbaar, hoewel Marista nou die eerste keer in haar lewe kennis maak met stampmielies. Dis ’n gereg wat by die meeste stadsmense onbekend is, maar vir haar tog lekker, veral nadat Johan haar gewys het dat sy vleissous daaroor moet skep. Hy merk op toe die huishulp weer terug in die kombuis is:

“Sy is baie getrou, maar nou al te oud om te werk. Eintlik was sy al die jare my ma se hulp om die huis aan die kant te hou. Sy weet nie veel van kook af nie. Die afgelope weke sedert tant Anna weg is, was dit soggens mieliepap, smiddae wat jy nou hier voor jou sien, en saans frikkadel. Jy sien, haar ou tande is nie meer van die beste nie, en daarom is sy so lief vir frikkadel! Ek en Michael moet maar saam eet!”

Marista eet nie so lekker soos sy gewoond is nie. Lucy is ’n uitstekende kok en sy is gewoond aan goed voorbereide, smaaklike geregte. Sy het nog nie vandag geëet nie, want haar maag was te op ’n knop getrek van vrees vanoggend om op die trein ontbyt te gaan eet. Maar sy voel glad nie honger nie en dit is net die wete dat sy tersluiks van die bopunt van die tafel dopgehou word wat haar dit laat regkry om ’n paar monde vol te sluk. As sy niks eet nie, sal hy wel weer die een of ander fyn sarkastiese opmerking hê.

Aan die einde van die ete dank hy met ’n sterk stem en staan dadelik op.

“Julle sal my nou moet verskoon. Die skaap wag.”

Hy verdwyn ook dadelik by die deur uit en ’n oomblik lank heers daar stilte aan tafel. Dan laat Johan aarselend hoor: “Miemie, ek … moet om verskoning vra vir Michael se kortaf houding. Ek hoop nie jy sal jou daaraan steur nie. Dis maar net, wel …” Dan vonkel sy oë ondeund. “Dis darem op ’n afstand duidelik dat jy ’n kluitjie oor jou ouderdom gebak het! Hy voel natuurlik nou dat jy hom vir die gek gehou het. Dit sal oorwaai. Gee hom net tyd …”

Sy kyk hom onseker aan. As jou ouboet maar net weet van al die ander kluitjies ook, ook dié wat sy reeds gebak het, maar veral van dié wat sy glad nie kan bak nie. En dis oor ’n paar uur aandete: haar oomblik van finale ontmaskering. Sal hy haar darem terugbring stasie toe, of sal hy haar summier van die plaas af wegjaag, wonder sy benoud.

Ena Murray Keur 7

Подняться наверх