Читать книгу Stippellyn - Erika Murray Theron - Страница 5

2

Оглавление

Voor Lana teruggaan kliniek toe, moet sy aan die matrone verslag doen. Besig-besig-besig, sê Cornelia se kantoor, sê die flikkerende rekenaarskerm waarby die sekretaresse met vlieënde vingers sit en tik, die faksmasjien wat velle papier uitstoot, die telefoon wat lui, die afleweringsbode van die apteek wat wag, die ou man met ’n loopraam by die toonbank wat iets kom vra. “Wag ’n bietjie, ek is nou by jou,” sê Cornelia.

Lana is haastig, maar probeer dit nie wys nie. Sy en Cornelia ken mekaar al jare, en steeds nie goed nie. Hulle is albei alleenlopers en behoort iets gemeen te hê. Hulle sien mekaar daagliks. Hulle heers oor afgebakende maar verwante terreine, hulle word deur dieselfde raad van trustees betaal, hulle het ’n amper gelyke status. Amper, want as jy ’n koppetelling van onderdane moes hou, sou Cornelia natuurlik ver wen. Lana stel nie belang in magstryde nie, maar die vlytige mier Cornelia, soveel kleiner as sy, effektief, intens, bedryf ’n eenmens-kompetisie.

Eindelik kry Lana kans om te sê dat Therese Nicolić terug by haar woonstel is en binne ’n uur of wat gereed sal wees om oor begrafnisreëlings te praat. “Is daar iemand wat vandag by haar kan bly? Ek dink dis nodig.”

“Ek kan ou mevrou Schutte langs haar vra. Sy kom partykeer by haar. Mevrou Nicolić het nie eintlik vriende nie. Sy hou haar eenkant.”

“Sy’t min tyd vir kuier gehad. Sy was meestal hier in die kliniek.”

“Ja. Jy weet, ek dink partykeer: what a waste of time. Het dit vir hom saak gemaak wie by hom sit en wie hom nou eintlik voer? Het hy regtig besef sy’s daar?”

Lana hou haar stem kalm: “Ek dink hy het.”

“Dis tog waarvoor daar verpleegsters is,” druk Cornelia deur. “Nouja, dit maak dit natuurlik vir julle makliker.”

Lana se gesig word warm, maar sy bedwing haar steeds. “Jy sal mevrou Nicolić se kinders laat weet?” vra sy. Daar is iéts omtrent die kinders, sy het dit nou-nou aangevoel.

“Jy moenie vir haar sê wat ek nou vir jou gaan vertel nie,” maan Cornelia.

“Moet liewer nie, as dit vertroulik is.”

Cornelia laat haar nie stuit nie. “Sy praat skaars van haar kinders, so, ek weet nie hoe hulle oor die weg kom nie. Maar voor sy en die ouman hiernatoe gekom het, toe hulle nog in Queenswood gebly en hy sy tweede beroerte gekry het, het hulle prokureur my gebel. Toe hy hoor daar’s plek in die kliniek en hier’s ’n woonstel oop, sê hy ek moenie bedrae noem wanneer hy haar bring om te kyk nie. Sy sal nooit die kliniek kan bekostig nie en haar mediese fonds sou nie betaal nie. Haar seun in Londen sou daarvoor instaan. So, mevrou Nicolić betaal net haar woonstelhuur en ’n paar honderd rand per maand vir die versorging. Die oulady dink dis so goedkoop omdat hulle inwoners is.”

Die storie maak Lana ongemaklik. “Is dit reg om haar in die duister te hou? Dis seker uit goedheid gedoen, maar dis op ’n manier oneerlik.”

“Ten minste is hy nie een van dié wat probeer om sy ouers by hom in die skuld te laat voel nie. Ek is lank genoeg in my trade om sinies te wees oor die games wat familielede met mekaar speel.”

“Is daar ander kinders?”

“Daar’s nog ’n dogter.”

“Ek het nooit kind of kraai van meneer Nicolić in die kliniek gesien nie. Altyd net sy vrou. Het jy hul kontakbesonderhede?”

“Die seun s’n, ja,” antwoord Cornelia. “Laat ek maar gaan hoor wat mevrou N oor die begrafnis te sê het. Dit moet dié keer ook sommer in ons sitkamer wees, daar sal oorgenoeg plek wees, ek is seker hulle ken nie baie mense nie. Ek sal vir haar verduidelik verassing is die beste, dan hoef niemand in ’n begrafnisstoet te sit nie. En tee en toebroodjies uit die kombuis. Alles weer gou-gou verby en afgehandel, en almal kan gaan rus.”

Lana wonder wat Therese hiervan sal dink, maar sy sê niks nie. Later ontdek sy sy was reg, want die uiteindelike reëlings lyk anders as Cornelia se kort en klaar plannetjies. Dit kan eers oor meer as ’n week plaasvind omdat mevrou N se seun in die buiteland nie vroeër kan kom nie. Volgende Donderdagmiddag sal daar formeel geleentheid wees vir die betoning van respek by die begrafnisonderneming, dus iets van ’n tradisionele Rooms-Katolieke lykwaak, met die weduwee en priester teenwoordig. Gevolg deur ’n diens Vrydagoggend in die Katolieke kerk in Menlopark. Die teraardebestelling sal in die Pretoria-Oos-begraafplaas wees, gevolg deur verversings, dié darem wel by die aftree-oord. Dat mevrou Nicolić ten spyte van haar brose bejaardheid vir dit alles kans sien, verbaas Cornelia, maar nie Lana nie.

Lana is nuuskierig oor Therese se dogter. Sy wonder of sy sal kom.

Stippellyn

Подняться наверх