Читать книгу Stippellyn - Erika Murray Theron - Страница 9

6

Оглавление

In matriek het Lana besluit sy sou universiteit toe gaan. Mense wat dít reggekry het, kom nie weer terug na waar hulle begin het nie, soos hul bure se seun wat in Johannesburg gaan leer en daarna in Amerika werk gekry het. Om te studeer was die één ding waaraan sy met passie gedink het, die toekoms was vir haar werkliker as elke dag se aantrek en skool toe gaan en huis toe kom en skoolwerk doen. Werkliker as haar gesig in die spieël, as haar ma, as die loseerders, as hul huis, as die reuk van vlieëgif in die kombuis. Soms is sy met die bus Kerkplein toe en van daar met ’n ander een in Lynnwoodweg op, verby die Universiteit van Pretoria waar die rye en rye studentemotors op die sypaadjies onder jakarandabome geparkeer gestaan het. Sy het na die studente gekyk, na die vryheid waarmee hulle beweeg het wanneer hulle by ’n verkeerslig oor die straat stap, die meisies se sandale, hul driekwart-katoenbroeke, hul bandjietoppies, die aantekeningboeke wat hulle met twee arms teen die bors vashou terwyl hulle lag en gesels. Eenkeer het sy in haar skoolklere afgeklim en by die ingang in Roperstraat ingestap en oor die kampus geloop. Sy onthou geen geluide nie. Sy onthou die ruimte, die bome, die geboue, trappe, die groot, groot grasperk waarop kringe jongmense gesit het asof hulle piekniek hou, die stromende studente, mans en meisies. ’n Toneel uit ’n klanklose film.

In die skool se beroepsleidingklas het sy kennis geneem van vakgebiede waarvan sy wou wéét: kunsgeskiedenis, musiekgeskiedenis, wysbegeerte, Frans, Russies … Daar was geen einde aan die tale wat sy wou ken nie. Maar sy het besef dit sou vir haar onmoontlik wees om net ter wille van die vreugde daarvan te studeer. Sy moes iets aanpak wat sou lei tot ’n beroep wat haar selfstandig sou maak. ’n Eenvoudige driejaargraad sou al meer kos as wat haar ma ooit kon betaal, en vir ’n banklening sou haar ma nie sekuriteit kon bied nie. Lana het daaraan gedink om haar pa te probeer opspoor. Maar sy, wat net soos haar ma verlaat is, kon nie terugkruip vir ’n aalmoes van die een wat haar afgeskryf en ingeruil het vir ander kinders sonder om ooit daarna weer van hom te laat hoor nie.

Sy kon vir ’n onderwysbeurs aansoek gedoen het, maar sy het geweet sy was vir altyd met ’n skoolomgewing klaar. Daar was een ander kursus wat haar sou onderhou terwyl sy daarmee besig was en wat sou lei tot werk wat sy ten minste bereid was om te oorweeg.

’n “Goeie matriek” was ’n vereiste om vir die graadkursus in verpleegkunde gekeur te word. Sy sou ’n “goeie matriek” hê. Té goed, het die media-onderwyseres geprotesteer. “Jy kan énigiets doen, Lana, jy weet dit. Hoekom nie medies nie?”

Ses of sewe jaar voor jy iets verdien? In standerd agt het haar ma al aan haar begin druk-druk: dis hoog tyd dat sy ophou om ’n parasiet te wees en iets begin inbring. Vir wat wil sy matriek hê? Daar’s werk by die tills in die OK.

Lana is onmiddellik vir die verpleegopleiding gekeur. Sy moes in die verpleegsterstehuis van die ou Algemene Hospitaal inwoon. Dit het dit makliker gemaak om uit die huis te gaan sonder om van ondankbaarheid beskuldig te word, of dat haar ma haar kon verkwalik omdat sy alleen gelaat word met die las van loseerders wat nie betaal nie en ’n huis wat uitmekaar wil val. Maar haar ma was tóg vir haar kwaad. So kwaad dat sy Lana se besittings in kartonbokse gepak en in die garage gestoor het asof sy geëmigreer het. Of dood was. Toe sy die eerste keer vir ’n naweek huis toe kom, was selfs haar klere en boeke opgepak en daar was ’n nuwe loseerder in haar kamer. Die eerste aand moes sy in die woon-eetkamer, waar die radio heeldag gespeel het, die stapels ou Huisgenote en opgegaarde advertensieblaaie van drankwinkels en kwekerye en groothandelaars en supermarkstrokies en rekeninge en bokse breiwol van die divan wegruim. Sy het vir haarself bed opgemaak met die uitskotlakens, te dun en geskif selfs vir die loseerders. Haar verontwaardiging terwyl sy met dié taak besig was, het haar beskermende doppie van onbetrokkenheid laat kraak.

Sy het verstaan haar ma se woede was uit jaloesie omdat sy nie ook ’n nuwe lewe kon begin nie. Dit was nie net haar ma se swaar lyf en haar seer voete wat dit letterlik én figuurlik vir haar moeilik gemaak het om te beweeg nie. Sy was vasgegiet in haar rol as slagoffer. Sy was die vrou wie se man haar weggegooi het en haar belas het met die verantwoordelikheid om alleen ’n kind groot te maak.

Lana se stipendium het betaal vir etes en verblyf in die verpleegsterstehuis, vir haar uniforms en natuurlik haar klasse aan die universiteit. Die hospitaal het later meermale van naam verander, maar dit het dieselfde enorme en uitgebreide kasarm gebly. ’n Wêreld met ’n eie bevolking van siekes en getraumatiseerdes, van hul naasbestaandes wat om pasiënte saamgedrom het, van mediese personeel en helpers en skoonmakers en administreerders en bodes en afleweraars. Die hospitaal was lawaaierig, yskoud in die rypwinter, met bruin en loodgrys verf wat afskilfer, en met dralende wolkies rook en stoom bo die teëldakke asof die plek asemhaal. Die lang, breë hospitaalgange was soos besige strate met die ononderbroke stroom voetganger- en trollieverkeer. Lana was dankbaar dat skoene ingesluit was by die uniformgeld.

Die stipendium het ook vir ’n bietjie sakgeld gesorg, maar daar was skaars kans om dit uit te gee. Die eerste jaar het hulle voltyds op die universiteitskampus en by die verpleegsterskollege klas geloop, vakansies het hulle in die hospitaal nagdiens gedoen. In hul tweede en derde jaar het hulle soggens klas geloop, smiddags en vakansies het hulle gewerk. In die finale jaar het hulle buitemuurs klas geloop en bedags verpleeg. Die praktiese opleiding het uit sesmaande-modules bestaan: verloskunde, algemene verpleging, psigiatrie. Dit was moordend harde werk, sonder verposing, sonder genade.

Lana het agtergekom dat geen werk te nederig is nie. Hande is tóé, het sy vir haarself leer sê. Beskerm met vel. Sy het geleer om nie vir enige liggaamsvloeistof te skrik nie. Nie vir bloed, urine, trane, sweet, sperma, vrugwater, speeksel, slym of braaksel en ook nie vir ontlasting nie. Hulle groepie het hul man leer staan teen dokters wat hul verantwoordelikhede afgeskuif het, teen slawedrywers, teen manlike chauviniste voordat die uitdrukking bestaan het, teen vatterige dokters, teen dié wat benewelend sjarmant was. Hulle moes die knie buig voor perfeksionistiese saalsusters wat geen afwyking van mediese protokol of ’n sweem van nalatigheid of halwe werk verdra het nie en by hulle ’n werksetiek ingedril het wat vir altyd deel van hulle sou bly. Hulle het ook deurgeloop onder sadisties-foutvinderige saalsusters wat wou bewys dat die graadstudente, wat selfs in ’n aparte vleuel van die verpleegsterstehuis ingewoon het, nie beter as ander mense was nie. Maar dít was ’n les wat Lana toe al deeglik geleer het, en nie by hulle nie.

Teen haar derde jaar het sy al ontdek dat die werk wat sy uit noodsaak gekies het, eintlik haar roeping was. Want tóé al was dit daar: die stil ruimte tussen haar en ’n pasiënt wat hulle saam kon betree. Mens tot mens, een tot een, waar sy haarself kon wees en haarself kon gee. Sonder voorbehoud.

Sy het vriendinne gemaak wie se name sy dié keer nie vergeet het nie. Mara met die bos rooi krulhare, wat verongeluk het toe sy vier en twintig was. Annerize wat met ’n Suidwester getroud is en vyf kinders gehad het en nou nog uit Namibië vir haar skryf. Barendien, saam met wie sy na musiekkonserte gegaan het, wat haar aan Bach en Mozart en Beethoven bekendgestel het. En Louisa, wat mal was oor dans en popmusiek. Vlok se suster.

Maar vanaand wil Lana nie aan Vlok dink nie. Sy wil ook nie in die bed klim met gedagtes wat maal oor wat vandag gebeur het nie. Sy wil nie begin terugloop op die kronkelpaaie van haar en Konrad se geskiedenis nie. Die minste van alles wil sy lê en wonder hoe dit vir hom moontlik was om vandag so gewoon teenoor haar op te tree. Gemaklik, asof dit wat tussen hulle bestaan het, geen gewig meer het nie. Hy het dit waarskynlik vergeet, of daarby verbygeleef, dit verminder tot ’n toevallige insident in sy lewe.

Hy “is daaroor”, dis al.

Soos sy ook, nie waar nie?

Nou wil hy hê sy moet by sy ma betrokke raak en saam met haar op ’n reis gaan. Wat moet sy hom hierop antwoord?

Sy gaan laat bed toe om seker te maak dat sy die nag slaap. Sy dwing haarself eers deur nog ’n paar grense van moegheid. Sy maak die woonstel skoon tot in die laaste hoekie. Nie omdat sy dit oorweeg om Konrad daar in te nooi nie, maar om deur die hantering van alles in haar huis te bevestig wie sy is, wie sy geword het. Sy werk totdat sy kalm is, en toe sy haar kop neerlê, sluimer sy dadelik in.

Oor drome het ’n mens nie beheer nie.

Sy droom van Konrad. Oor hoe sy besig is om twee skaaptjops vir aandete te bak, die rys en die groenboontjies met aartappel en uie reeds gaar, die blou bakkie wortelslaai met lemoensap daaroor reeds op die gedekte eetkamertafel in haar en Vlok se huis. Sy droom hoedat sy omdraai van die stoof en hom saam met Vlok in die kombuisdeur sien staan. In haar droom sit sy die spaan neer en maak sy haar voorskoot stadig los en stap sy sonder ’n woord tot by hom en leun met haar voorkop teen sy skouer terwyl hy sy arms om haar vou. Net so bly hulle staan. In haar droom verdwyn Vlok sonder ’n spoor.

Anders as hoe dit in werklikheid was. Die aand toe Vlok haar gevra het: “Het jy kos vir drie mense?” En Konrad haar antwoord voorgespring het met: “Nee, bêre vanaand se kos vir môre. Ek vat julle uit vir ete.” Toe hulle by die Hillside Tavern in Lynnwood by kerslig spareribs en groente bestel het. Die mans het oor sake gepraat. Konrad was die rekenmeester en een van die direkteure van ’n konstruksiemaatskappy wat gespesialiseer het in die bou van woonstelblokke en kantore. Hulle was besig om te onderhandel dat Vlok met sy klein elektrisiënfirma voltyds by hulle inskakel. ’n Plan waarvan hy Lana nooit vertel het nie. Sy het vergeet om verontwaardig te voel. Sy het Konrad se gesig sit en dophou terwyl hy praat. Soms het hy stilgebly en dan het sy oë op haar gerus. Van tyd tot tyd het hy haar by die gesprek betrek. Sy het gesien dat hy geamuseerd was sonder om spottend te wees. Hulle het die varkribbetjies met die hand geëet en hul vingers afgespoel in die bakkies suurlemoenwater wat op die tafel gestaan het, en sy het gesien dat hy nie ’n ring dra nie, en gedink: maar nie alle getroude mans dra ringe nie. En toe het sy gedink: maar ék is getroud.

Stippellyn

Подняться наверх