Читать книгу Stippellyn - Erika Murray Theron - Страница 6
3
ОглавлениеTwee dae later klop Lana by Therese Nicolić aan om te hoor hoe dit gaan. By die kliniek is hulle so besig dat sy self verbaas is dat sy nog tyd gemaak het hiervoor. Dis asof meneer Nicolić se dood haar ook op ’n besondere manier aan sy vrou gebind het. Al is die kliniekinwoners terminaal oud, raak dit haar as hulle sterf. Teenoor hul naasbestaandes tree sy altyd begrypend en behulpsaam op, sy verstaan dat dit dikwels vir hulle ’n eerste nabye ervaring van die dood is, sy kan nie van hulle die afstand verwag waarmee sy haarself pantser nie. Maar hierdie keer lê haar betrokkenheid onverklaarbaar dieper. Sy bly dink aan Therese se ingehoue, trillende spanning toe sy haar nou die dag na haar woonstel geneem het. Sy was haar skerper as tevore bewus van die vrou se van-elders-wees. Haar aksent was swaarder as gewoonlik. Dit was asof die jare in Suid-Afrika soos ’n droë verflagie van haar weggedop het, asof Afrikaans en Engels weer vreemde tale geword het en sy haar, as dit maar kon, alleen op haar moedertaal sou beroep het. Haar moedertaal wat – wat is?
Therese se ewewig is in ’n mate herstel. Haar hare is in die bekende bolla gekam, haar grimering aangebring, haar hande bewe skaars merkbaar. Sy dra ’n langerige, bruingroen romp met ’n baadjie van dieselfde viltagtige materiaal. Die baadjie se metaalknopies en die opgestikte koord waarmee dit versier is, lyk amper militêr. Sy nooi Lana binne, bied selfs koffie aan, bedien dit in dun wit porseleinkoppies. Hulle sit teenoor mekaar op twee kleinerige leunstoele met dofbruin kussings, hul voete op ’n kelim met geometriese rooi, dofgroen en blou motiewe. Sy en haar gasvrou verwys wedersyds na die dag se goeie, sonnige weer. Dit is vir Lana asof sy van buite na hulle twee kyk, en sy kan sien dat hulle op ’n vreemde manier pasmaats is. Sy, selfbewus en ’n bietjie sosiaal onbeholpe, na jare steeds bang dat vreemdes haar letsels sal raaksien. Therese Nicolić, trots, formeel. Van elders. Albei met mure rondom hulle.
Toe hulle uitgepraat is oor die weer, sê albei eers niks. Gewoonlik laat Lana dit aan ander mense oor om gesprekke deur die knikke van stiltes te help, nou moet sy die inisiatief neem: “Ek wil weet oor die begrafnis – of jy met alles reggekom het. Is daar enigiets waarmee ek kan help?”
“Daar is na alles omgesien, baie dankie. Die priester was behulpsaam.”
“Dis ’n requiem, verstaan ek.”
“Dis hoe Ribar gewoond was. Dis hoe dit gedoen is waar hy grootgeword het. Dáár is behoorlik na die liggaam van die gestorwene omgesien. Die lewende siel gaan die ewige lewe binne, maar met die laaste oordeel word dit weer met die liggaam verenig. Die liggaam is nie iets om weggegooi te word.”
“Jy het nie aan verassing gedink nie.”
“Dit is teen die tradisie van die kerk. As die liggaam eendag verheerlik gaan word, moet dit nou met respek behandel word. Dit is nog die Eigentum van die een wat gesterf het en dit weer sal opeis.”
“Dit moet ’n groot troos wees om dié sekerheid te hê,” sê Lana peinsend.
Therese kyk haar skerp aan. “Ribar het die sekerheid gehad. Ten minste die hoop. Ek sê nie dat ek dit self het. Maar as daar net ’n moontlikheid is dat die vaevuur bestaan en dat sy siel daarin vertoef, moet ek sorg dat daar vir hom gebid word. Daarom het ek my dogter ook laat weet. Matrone het haar gebel.” En toe Lana nie dadelik hierop reageer nie, sê sy: “Jy vind dit vreemd dat ek nie self met haar gepraat het?”
Lana skud haar kop. “Nee, ek vind dit nie vreemd nie. Ek vind selde enigiets aan mense vreemd.”
“Dan is jy wys,” sê Therese. “My seun het vanmôre weer uit Londen met my gepraat. Hy sê hy kan nou eers vroeg die Vrydagoggend volgende week hier wees. Te laat vir die lykwaak Donderdag. Betyds vir die begrafnis.”
“Woon jou dogter ook oorsee?”
“Sy woon naby Clanwilliam.”
“Jou kinders is getroud? Is daar kleinkinders?” Lana besef te laat dat die onderwerp van Therese se kinders eintlik al afgesluit is.
“Die seun is geskei. ’n Tweede keer geskei. Die dogter is ’n kunstenaar. Sy leef saam met iemand wat nie haar man is. Sy het twee kinders. Ek sien hulle nie.”
Daar val ’n stilte. Toe voeg Therese by: “Ek verwag nie dat sy sal kom.”
Lana hoor haarself sê: “As jy nodig het om Donderdag iemand by jou te hê … Ek sal ’n plan kan maak om weg te kom. Ek is dan nog hier. Ek gaan eers oor twee weke op verlof.”
Therese speel nie die ek-wil-jou-nie-moeite-aandoen-speletjie nie. Sy sê eenvoudig: “Ek sal bly wees as jy my na die lykwaak by die begrafnisondernemers sal kan neem.”
“Ek sal dit graag doen.”
Toe sy opstaan om te loop, neem Therese haar hande in hare en hou hulle ’n paar sekondes lank vas. “Dankie,” sê sy. “Ek het waardering.” Toe vra sy: “Is dit jou voorneme om in jou verloftyd weg te gaan?”
“Ek het opruimwerk tuis, dis al.”
Lana se enigste “voorneme” vir dié verpligte twee weke vakansie is om haarself te dwing om eindelik en ten laaste haar ma se besittings uit te sorteer. Sy kan hoogstens die geteëlde wastafel en die tweesitplek-riempiesbankie in haar eie woonstel verduur. Met elke dag en week en maand se uitstel maak sy die opruim en wegruim wat voorlê vir haarself nog moeiliker. Maar haar gedagtes bly wegskram van haar ma se goed. Lelike, swaar OK Bazaar-meubels van toet, gehekelde doilies en geborduurde lappies, nog haar ouma se handewerk. Geroeste koekpanne, aluminiumkastrolle, messegoed, voorskote, skoene, bokse met aambeisalf en pille, dikgeworde hoesstroop en leë asmapompies. Opgevoude plastieksakke, toiletoortreksels en toiletpapieroortreksels, blompotte. Bokse sigarette, asof ’n natuurramp of oorlog dalk net kon maak dat die winkels daarsonder sou wees. Poskaarte en foto’s van onbekende mense en, wonder bo wonder, van een bekende mens: haar pa. Daar is hy in swart-en-wit. Sy donker omkrulkuif. Sy oë wat sjarmant kreukel, sy wittand-glimlag.
Haar ma se dood het anders gebeur as wat Lana haar dit voorgestel het – sy wat elke dag met afgetakelde oumense te doene het. Daar was geen waarskuwing nie. Geen beroerte of longontsteking of terminale hartversaking nie. Geen verpligting om haar gemaklik te maak, by haar te waak, haar naam te noem, moontlik selfs haar hand vas te hou, haar lippe nat te maak, geen kans om goed te maak en om dalk die antwoorde te kry op vrae wat sy nog nooit gevra het nie. Daar was nie kans om ’n verhouding af te handel nie, daar was net die telefoonoproep. Haar ma het sommer in haar oorjas en pantoffels oor die straat gestap om ’n bakkie meel by ’n buurvrou te leen. Die munisipale bus wat haar getref het, het nog ’n halwe blok verder geparkeer gestaan met ’n groepie geskokte passasiers op die sypaadjie. In ’n plastieksak tussen die goed in Lana se motorhuis is steeds haar ma se uitgetrapte viltpantoffels met die oranje tossels.