Читать книгу Kokkedoor - Errieda du Toit - Страница 48

Оглавление

Hendry

“Ek wil die herinneringe van ons voorouers laat voortleef, met ’n bietjie meer glans. Om vrugte saam met sout geregte te eet kom al ’n lang pad saam met ons. Die pruime in die slaai sorg vir ’n aangename suur-sout-kombinasie.”

Lamspastei

Lewer 6 porsies

Kors

310 ml (11/4 k) koekmeel (150 g)

5 ml (1 t) gekapte vars oreganum

2,5 ml (1/2 t) gekapte vars roosmaryn

2,5 ml (1/2 t) gekapte vars tiemie

100 g ongesoute botter

100 ml (2/5 k) suurroom

 Meng die meel en kruie en vryf die botter met die vingerpunte in tot die mengsel soos broodkrummels lyk. Voeg die suurroom by en werk dit liggies met jou vingers in tot ’n deeg vorm. Indien die deeg te nat is, voeg ekstra meel by en knie 5 minute lank. Bedek met kleefplastiek en laat 20 minute lank in die yskas rus.

Vulsel

6 lamsrugtjops

3–5 ml sout

3–5 ml swartpeper

125 ml (1/2 k) water

60 g ongesoute botter

60 ml (1/4 k) koekmeel (30 g)

300 ml melk

1 aartappel, geskil en in blokkies gesny

1 ui, grofgekap

1 wortel, geskil en in klein blokkies gesny

100 ml (2/5 k) olyfolie

1 ml (1/4 t) gekapte vars roosmaryn

1 ml (1/4 t) gekapte vars tiemie

1 ml (1/4 t) gekapte vars oreganum

1 eiergeel, geklits

 Geur die lamsvleis met van die sout en peper na smaak en kook dit 25–30 minute lank saam met die water in ’n drukkoker tot sag. Laat afkoel en sny die vleis in stukkies.

 Verhit die botter in ’n klein kastrol oor matige hitte tot ligbruin, voeg die meel by en roerbraai 1 minuut lank. Voeg die melk geleidelik by terwyl aanhoudend geroer word. Geur met van die sout en peper na smaak. Prut 3–5 minute lank oor lae tot matige hitte. Verwyder die witsous van die hitte en hou eenkant.

 Verhit 45 ml (3 e) van die olyfolie en braai die aartappelblokkies tot gaar. Skep uit die olie, dreineer en hou eenkant.

 Verhit die res van die olyfolie in ’n kastol en braai die ui en wortel oor lae tot matige hitte tot sag. Voeg die gaar lamsvleis, witsous, aartappelblokkies, roosmaryn, tiemie en oreganum by. Geur met sout en peper na smaak. Laat 5–8 minute lank prut. Verwyder van die hitte en laat heeltemal afkoel.

 Voorverhit intussen die oond tot 180 °C.

 Rol die pasteideeg tot ’n dikte van 2 mm op ’n meelbestrooide oppervlak uit. Druk 12 deegsirkels uit. Skep die vleisvulsel op 6 van die sirkels (hou die kante skoon). Smeer die kante met geklitste eiergeel en sit die 6 ander deegsirkels bo-op. Druk die twee stukke goed aanmekaar. Smeer die boonste laag met eiergeel.

 Plaas op ’n bakplaat. Bak 20 minute lank of tot gaar en goudbruin.

Sous

100 ml (2/5 k) lamsvleisaftreksel

200 ml vars room

2,5 ml (1/2 t) sout

2,5 ml (1/2 t) swartpeper

2,5 ml (1/2 t) gekapte brandrissie

2,5 ml (1/2 t) gekapte vars tiemie

 Kook die lamsvleisaftreksel in ’n pan oor matige hitte tot dit met die helfte verminder het. Roer die room, sout, peper, brandrissie en tiemie by. Kook af tot slegs 100 ml (2/5 k) oor is.

 Sit die pasteie voor met die sous, tamaties en pruime. Sprinkel die pietersielie en brandrissie oor.

Om voor te sit

3 klein tamaties, gehalveer

3 rooi pruime, in skyfies gesny

1 ml (1/4 t) gekapte vars pietersielie

1 brandrissie, ontpit en fyngekap

Kokkedoor

Подняться наверх