Читать книгу Kokkedoor - Errieda du Toit - Страница 50

Оглавление

Mynhardt

“Snaaks genoeg kom hierdie kruisement-en-lamsvleis-kombinasie nie van die Engelse af nie. Ek onthou dat ons, nog bitter jonk, hierdie pasteie vars en warm uit die oond gekoop het by ’n padstalletjie. Hiermee saam het ons yskoue pynappelsap gedrink. Dit, met die kruisementgeure, is hoe nostalgie vir my smaak.”

Padlangse lam-

en-kruisementpastei

Lewer 4 porsies

Vulsel

300 g skaaprugstring, in stukke gesny

300 g skaapblad, in stukke gesny

60 ml (1/4 k) olyfolie

sout en peper na smaak

2 bruinuie

1 groot wortel, geskil

2 glase witwyn

15 ml (1 e) koljander

1 takkie roosmaryn

2 takkies tiemie

2 rooiuie, fyngekap

2 koffelhuisies, fyngekap

10 ml (2 t) sagte bruinsuiker

5 ml (1 t) koekmeel

45 ml (3 e) gekapte kruisement

 Vryf die vleis in met 30 ml (2 e) van die olie en die sout en peper. Braai die vleis tot bruin in die res van die olie in ’n pan. Haal uit. (Hou die oorblywende olie in die pan.)

 Plaas die vleis, bruinuie, wortel, wyn, koljander, takkies roosmaryn en tiemie in ’n drukkoker en kook minstens 45 minute lank tot die vleis van die been afval. Haal die vleis, uie en wortel uit die drukkoker en laat afkoel. (Hou die sous waarin die vleis gekook het.) Kap die vleis, wortel en uie fyn.

 Braai die rooiuie, knoffel en bruinsuiker saam in die pan met olie waarin die vleis gebraai is. Voeg die drukkoker se vleissous by en verdik die sous met die meel. Voeg die gekapte vleis, wortel, uie en die kruisement by. Verwyder van die hitte en laat afkoel.

 Voorverhit die oond tot 220 °C. Smeer 4 losboom-tertpannetjies van 8 cm in deursnee goed.

Kors

125 g botter

450 ml (1 4/5 k) meel (220 g)

2,5 ml (1/2 t) sout

190 ml (3/4 k) suurroom

1 eiergeel, geklits

 Vryf die botter met die vingerpunte in die meel en sout tot dit soos broodkrummels lyk. Voeg die suurroom by en meng goed. Laat 30 minute lank in die yskas rus.

 Rol die deeg tot ’n dikte van so 3 mm op ’n meelbestrooide oppervlak uit. Sny 8 deegsirkels uit – effe groter as die tertpannetjies – en voer die tertpannetjies met 4 van die deegsirkels uit. Verdeel die vulsel in 4 dele en skep dit op die deegsirkels. Hou die kante skoon. Smeer die kante met die geklitste eiergeel en sit die 4 ander deegsirkels bo-op. Druk die deeg se buiterande goed vas en sny die oortollige deeg af. Smeer die boonste laag ook met eiergeel.

 Vou die buiterande van die deeg na binne om goed te seël.

 Bak die pasteie 18–20 minute lank of tot goudbruin.

 Sit die pasteitjies voor met yskoue pynappelsap.

Kokkedoor

Подняться наверх