Читать книгу Die derde oog - Etienne Leroux - Страница 6

II

Оглавление

“Sal ons maar dadelik met die deur in die huis val?” vra brigadier Ornassis E. “Dankie, James.” Hy knik na die verwyfde mannetjie wat saggies die deur agter hom toetrek terwyl hy die kamer verlaat.

Daar is ’n skildery reg agter sy kop teen die muur en Demosthenes de Goede kyk stip daarna.

“Stel jy belang in pop-art?” vra die Brigadier.

“Nee,” sê Demosthenes de Goede.

Die Brigadier trek sy skouers op.

“Dis nie elkeen se smaak nie.”

Teen die mure is ’n paar vroeë werke van Max Ernst, Mark Rothko en Jackson Pollock van ongeveer die jare middelveertig. Die Guernica van Picasso hang alleen.

“Afdrukke,” sê die Brigadier. “Dink jy ek kan die oorspronklike bekostig op ’n staatsamptenaar se salaris?”

“Ek is nie eintlik iemand wat meer in die kunste belang stel nie,” sê Demosthenes de Goede. Ten spyte daarvan dat hy sy spraakgebrek oorwin het, praat hy baie stadig asof sy gedagtes met moeite kom.

“’n Man van die daad,” sê die Brigadier. “Le parfait exemplaire de la vie énergique …”

Hy is ’n skraal mannetjie met die gesig van ’n askeet wat baie lank sonde gesien het. Die snit van sy klere is onberispelik, sy hande (wat hy nou met ’n houding van oorpeinsing vou) is fyn en sag.

“Die ponos eerder as die logos.”

Hy beskou Demosthenes de Goede met sagte oë wat hulle uitdrukking van lewenswysheid deur eie lyding gekry het.

“Is jy gelukkig getroud?” vra die Brigadier meteens.

Demosthenes de Goede se gesig verhelder. Hy haal spoedig foto’s van die vier klein woestelinge uit. Die Brigadier kyk lank en aandagtig na Hope se gesig in die agtergrond: haar vol figuur, die belofte van hartstog wat meisies met blonde hare wek. Hy luister ingedagte na die loflied oor maritale genot terwyl hy ’n lêer oopvou en met sy mooi hande daardeur blaai.

“Ek sien,” sê hy, “dat jy die man is wat die Reus van Welgevonden ver­nietig het.”

“Streng volgens regulasies,” sê Demosthenes de Goede. “Nadat ek hom drie keer gewaarsku het.”

“Die Lesbiese Gifmoordenares van Calvinia, die Swyn van Dysselsdorp, die Slang van Muldersvlei, die Afperser van Arcadia, die Bokkie van Kam­maland, die Leeu van die Noorde, die Bul van Benoni, die Hoere van Hu­mansdorp …

“Ek verwys natuurlik na koerantopskrifte,” voeg die Brigadier by.

“Daar is nog baie ander,” sê Demosthenes de Goede langsaam-beskeie.

“Jy het nogal ’n vol lewe as speurder gehad,” sê die Brigadier terwyl hy die lêer toeslaan.

“Dis ’n stryd wat nooit ophou nie,” sê Demosthenes de Goede. “My le­we is vol ontberings en daar is geen rus nie.”

“De Goede melancholikos …,” sê die Brigadier en lui ’n klokkie.

Die verwyfde mannetjie verskyn met ’n skinkbord vol drank.

Die glasies word telkens hervul en De Goede aarsel nie om voor die noulettende oë van die Brigadier sy brandewyn met geweldige teue weg te sluk nie.

“Daar is geen rus nie,” herhaal Demosthenes de Goede. “Dis een taak ná die ander. Mens moet duur betaal. Mens raak dodelik vermoeid en jy sien selde jou vrou en kinders. En ek het nog nooit geldelike vergoeding gevra nie.” Hy beduie vir die Brigadier om minder water by te gooi. “Mens moet maar soveel van die lewe geniet as jy kan,” sê hy terwyl hy sy volgende glasie gereed hou. “Mens moet maar van dag tot dag lewe – dis al manier waarop jy jou moeitevolle take kan verdra.”

Die D-diens het geen jurisdiksie oor die Speurdiens nie en Demosthenes de Goede voel hom vry om te praat voor hierdie brigadiertjie wat hy met één hou kan vermorsel. “Ek moet in elk geval een van die dae aftree,” sê hy. “Ek het nog heelwat verlof wat my toekom.”

“Daar is nog één taak,” sê die Brigadier. “Die Speurdiens het jou daarvoor spesiaal na ons toe oorgeplaas. Dit sal jou laaste taak wees, want daarna sal jy, om verskeie redes, nie meer van diens kan wees nie.”

“Ek is moeg,” sê Demosthenes de Goede. Hy oorweeg die woorde van die Brigadier ’n rukkie en vra meteens: “Sal ek geregtig wees op my pensioen al het ek nog nie aftree-ouderdom bereik nie?”

“Jy sal sekerlik geregtig wees op jou pensioen,” sê die Brigadier saggies.

Hulle drink ’n paar oomblikke in stilte.

“Het jy al gehoor van Boris Gudenov?”

Demosthenes de Goede dink diep. Hy gaan in sy gedagtes al sy half­vergete kennis uit die dae van die polisiekollege na en sê:

“Die tiran in Moessorgski se opera.”

Die Brigadier en die verwyfde mannetjie, wat die hele tyd as kelner diens gedoen het, lag luidrugtig saam.

“Daardie Godoenof word met ’n ‘oe’ gespel; hierdie een is Gudenov en hy is ’n tycoon.”

Hy glimlag nog steeds en dan word hy ernstig.

“Dit sal jou volgende taak wees. Om Boris Gudenov op te spoor …” Hy dink meteens diep na. “Om hom tot die lig te bring.”

Demosthenes de Goede plaas die glasie langs hom op die tafel. Hy vryf sy gebalde vuis in die holte van sy hand en dit lyk soos ’n groot knoets. Hy sit regop, vierkantig en solied en sy oë is op die Brigadier gerig. Dit lyk asof sy kop effens té klein is vir sy lyf, maar hy is nogtans ’n mooi man: ’n groot slotvoorspelertjie, die Suid-Afrikaanse heldetipe by uitnemendheid.

“Miskien moet ek jou eers ietsie omtrent die D-diens vertel,” sê die Brigadier. Hy leun agteroor in die stoel en maak sy das effens losser. “Daar is ’n groot verskil tussen ons en die Speurdiens. Julle vang misdadigers op grond van spesifieke misdade wat gepleeg word; julle Bybel is Gardiner & Lansdowne se Criminal Law & Procedure. Hoe kan ek dit verduidelik: ons s’n is ongekodifiseer, dis vaer en onbepaalder. Dis eintlik misdade van die gees.”

Die Brigadier bring sy hand na sy silwergrys slape en bedek sy oë terwyl hy konsentreer.

“Ons moet die gemeenskap beskerm teen misdade van die gees, teen ’n verwording van die self, teen ’n subtiele aanslag op die orde, teen ver­vreemding van stabiele personifikasies, teen die gevaar van desintegrasie van die simboliese heelal en die gevolglike persoonlike desintegrasie wat hom openbaar in allerhande dade van sabotasie, in verwording en oorname deur demoniese en vernietigende magte. Is dit duidelik?”

Hy maak sy oë oop en kyk skerp na Demosthenes de Goede, wat nog ’n drankie vir homself ingeskink het.

“Ek is ’n eenvoudige man,” sê Demosthenes de Goede. “Ek weet net wat ek in die polisiekollege geleer het. Daar is ’n kaptein by ons wat hou van filosofie, maar ek is nie meer een vir allerhande ingewikkelde draadwerk nie.” Hy neem ’n slukkie. “Gee my daardie Boris Gudenov alleen. Nadat ek hom ’n halfuur lank gewurg het, sal daar nie meer ’n geheim wees nie.”

Die Brigadier glimlag.

“Dis heel moontlik die eenvoudige wat die meeste sukses het – hy met sy visioene, woede en ruimhartigheid. Dis hy wat in tye van eensydigheid in die bewuste lewe te voorskyn kom as die redder om sodoende die psigiese balans van die epog te herstel.”

“Hy het met my vrou gelol,” sê Demosthenes de Goede ingedagte. “Die polisiekaptein een aand op die polisiebal, en ek het sy kakebeen vir hom ingeslaan.”

Die Brigadier staan op en gaan voor die Guernica staan, met sy rug na die Kaptein.

“Daar is sommige van ons wat bestem is om ons menslike verlange na geluk en sekuriteit op te offer. Dis helaas so. Sommige mense behoort aan die gemeenskap en hulle is afskryfbaar. Hulle is nie as enkelinge van belang nie; hulle dade is objektief en onpersoonlik; hulle is alle mense verenig in één mens.”

“Ek is ’n eenvoudige mens,” sê Demosthenes de Goede, “en baie van hierdie begrippe gaan my verstand te bowe.”

Die Brigadier draai om en gaan weer sit.

“Hulle verbrand soms in die skeppende vlam.”

“Dis ’n eensame lewe,” sê Demosthenes de Goede terwyl hy in sy glasie kyk.

“Hulle moet die moeder van die dood tot die lig bring en haar van haar vernietigende magte beroof.”

“Ek vervloek die dag dat ek gebore is,” sê Demosthenes de Goede terwyl die trane stadig oor sy wange begin rol.

“Hulle moet die skaduwee tot die lig bring, dit besweer en die skeppende krag van die donkerte gebruik. Hulle moet die monster tem en sy helende krag inspan.”

“My moeder het vir my as kind gesê dat ek baie sal verduur ter wille van my medemens,” sê Demosthenes de Goede terwyl die trane vryelik vloei. “Sy het gesê dat ek gebore is vir allerhande ontberings. Ek het my lewe gewy aan die Speurdiens.”

Die Brigadier is onthuts oor die emosionaliteit van die sterk man en hy kyk gefassineerd na hom terwyl hy die gesprek verander. “Maar om terug te keer tot die D-diens. Al wat ons het om op te steun, is die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme en sekere ander bepalings wat ewe vaag is. Wie en wat is ’n kommunis?”

Hy soek tevergeefs ’n antwoord by Demosthenes de Goede, wat sy baad­jie uitgetrek het en in ’n wit hemp met opgerolde moue sy magtige arms blootstel.

“Kom ons vra liewer: Wie is Boris Gudenov?”

Demosthenes de Goede lyk nou baie meer geïnteresseerd.

“Volgens beskikbare bronne is hy ’n tycoon van onsekere herkoms. ’n Immigrant uit Pole of Hongarye en beherende aandeelhouer in talle maatskappye. Hy is ’n soort Zaharoff, Gulbenkian en Gould in een. Hy vermy alle publisiteit, maar hy is verbonde aan meer liefdadigheidsinrigtings as enige enkele persoon in die land. Oita, sy shopping centre in die middestad, is nie alleen ’n argitektoniese droom nie, maar ’n toonbeeld van verbeeldingryke organisasie. ’n Mens kan daar gebore word, jou ten volle uitleef en sterf sonder om die komplekse gebou te verlaat. Life beskryf dit as ’n modelstad binne ’n gebou.”

Die Brigadier is tevrede met die uitwerking van sy woorde, want De­mosthenes de Goede se voorhoof is die ene kreukel van konsentrasie.

“Noem die misdaad en ek sal hom tot verantwoording bring,” sê De­mosthenes de Goede trots nadat hy ’n rukkie in stilte gesukkel het om die sin te formuleer.

Die Brigadier lig sy hande en slaan hulle saam.

“My presiese woorde is: ‘tot die lig bring’, Kaptein.”

Hy mediteer ’n paar oomblikke en soek soos ’n priester na verstaanbare gelykenisse, maar vind geen verduidelikende voorbeelde nie. Hy het self só lank met die Gudenov-beeld geleef dat hy geen brughoofde meer kan skep nie. Hy kan deesdae slegs aan aspekte van die ingewikkelde persoonlikheid dink. Dis asof hy ’n moeilike teorie moet beredeneer met iemand wat nie die basiese beginsels begryp nie. Hy probeer weer. Die Kaptein wag geduldig.

“Daar is seker niks wat in die land plaasvind nie, of Boris Gudenov het ’n hand daarin. Sy invloed strek na weerskante toe; sy koerante skryf van regs tot links; sy lakeie wissel van skurke tot geestelikes; hy is soos kwik wat sielstergend gedurig meegee.”

Demosthenes de Goede vestig weer sy blik op ’n skildery teen die muur. Die Guernica hierdie keer.

Dis vir ’n oomblik asof die Brigadier magteloos is voor die eenvoudige denke van die Kaptein; hy sélf op ’n eienaardige wyse ’n verdediger van kompleksiteit teen klaarheldere eenvoud.

“In hierdie stryd is dit soos ’n droom,” sê die Brigadier. “Daar is niks wat ondubbelsinnig is nie.” Sy gesig verhelder meteens. “En dís eintlik jou taak: om alles wat weggesteek is tot die lig te bring; om die monster tot die lig te bring. Om die kobra teen die son te hou …” Hy is besig om sy vroeëre besluit te vergeet. “Dis om in die onbekende af te daal, in die psigiese substratum, en die bewuste oor die onbewuste te laat triomfeer …”

Hy keer homself betyds. Vir ’n paar oomblikke beskou hulle mekaar, die twee uiteenlopende persoonlikhede wat in die een geval ’n taak moet opdra en in die ander geval dit moet uitvoer. Dan kom die Brigadier tot ’n besluit.

“Al wat ek wil hê dat jy moet doen, is om alles omtrent Boris Gudenov uit te vind en aan ons te rapporteer. Selfs die geringste gegewens is nie onbelangrik nie. Alles wat hy doen of sê, of wat ander sê dat hy doen of sê, of wat jy ook al hoor of sien.”

Demosthenes de Goede knik begrypend. Hy het ’n baie moeiliker taak verwag en glimlag meteens.

“En as ek genoeg teen hom vind, mag ek dan optree?”

Die Brigadier lig sy fyn hande omhoog.

“In Godsnaam, geen geweld nie! Jy mag nie jou rewolwer by jou dra of enigiets gebruik wat hom ernstige liggaamlike leed kan aandoen nie.”

Demosthenes de Goede lyk teleurgesteld, maar die beloftes in verband met aftree en pensioen laat hom sy wrewel beteuel. Dit sal ’n maklike taak wees.

Dis asof die Brigadier sy gedagtes lees.

“Dit sal die moeilikste van al die take wees – jy verkeer in groter gevaar as wat jy dink. En daarom is dit ook jou laaste, want daarna is jy vir ons van geen nut meer nie – selfs nie vir die Speurdiens nie.” Die Brigadier oorweeg sy volgende woorde versigtig: “Dis die psigologiese gevaar daaraan verbonde. Jou hele persoonlikheid is op die spel. Selfs jý kan besete raak …”

“Ek is nie bang vir toordery nie,” sê Demosthenes de Goede ferm. “Ek het in nege-en-vyftig die Heks van Hillbrow …”

Die Brigadier sug en ontbied die verwyfde mannetjie, wat met ’n notaboekie verskyn en hom gereed maak om die res van die onderhoud verbatim neer te skryf.

“Is jy miskien homoseksueel geneig?” vra die Brigadier vir Demosthenes de Goede en lig sy hande as die gebrul teen sy ore vasslaan. “Dis belangrik in die Diens,” sê hy. “Dis om die een of ander rede gevaarliker as hetero-seksualiteit.”

Hy beskou die Kaptein aandagtig.

“Jou kleredrag sal moet verander. Jou pak is té vaal. Jou skoene is ver­keerd.” Hy gesels saggies met die verwyfde mannetjie en sê dan: “’n Leerbaadjie en broekspype nie wyer as vyftien duim nie. Ons sal die uitrusting teen kosprys verskaf. Die juffrou by die deur sal die vorms vir jou invul.” Hy rig hom weer tot die verwyfde mannetjie. “Mokkasins, miskien?” en die mannetjie knik.

“Geen rewolwer nie.”

Demosthenes de Goede se geliefde Beretta word hom ontneem. Die Brigadier haal sy skouers op.

“Jy mag miskien alles ongewoon vind, maar die wêreld van die D-diens is soos dié van die verkleurmannetjie. Ons pas ons by die omgewing aan; ons boots die tydsgees na; ons smelt eers met die milieu saam, en dan slaan ons toe.” Hy sug en lyk baie ongelukkig. “Vir die polisieman en die speurder word alles vergewe, maar die gemeenskap duld nie die sukses van die Diens nie. Daar word baie in koerante en boeke oor ons geskryf, maar ons teenwoordigheid in lewende lywe maak hulle onrustig. Hulle voel dat ons bestaan nodig is, maar hulle beskou ons optrede as immoreel.” Die Brigadier se aandag het weer in bepeinsing afgedwaal. “Is dit omdat hulle bang is vir ons, en ook vir hulleself? Is dit omdat ons ons so met hulle vereenselwig dat ons selfs hulle swakhede oorneem?”

Demosthenes de Goede kyk angstig na sy Beretta wat die verwyfde mannetjie lomp hanteer, en hy beveel hom om dit elke week te olie anders roes die loop.

Die Brigadier is meteens kortaf en ferm.

“Jy sal bekend staan as H-12. Jy sal daagliks rapporteer. Enige vrae?”

“Hoe lyk Boris Gudenov?” vra Demosthenes de Goede.

“’n Intelligente vraag,” sê die Brigadier terwyl hy ’n laai ooptrek en ’n foto te voorskyn haal.

Die Kaptein kyk daarna en frons in sy poging om ’n ontwykende herin­nering vas te lê.

“Ek het hom al vantevore gesien.”

“Dit is die enigste foto van Boris Gudenov tot beskikking van die D-diens,” sê die Brigadier. Hy neig sy oor tot die verwyfde mannetjie wat aan sy mou pluk en iets fluister. Hy keer homself betyds toe hy volgens geheimediens-gewoonte op die punt was om die foto te verbrand.

“’n Merkwaardige ooreenkoms,” sê die Brigadier toe hy die foto weer bestudeer en na Demosthenes de Goede kyk. Hy het nou sy jovialiteit van vroeër herwin. “’n Merkwaardige geval.” Sy verbeelding loop weer met hom weg. “’n Onafwendbare stryd; die vervolgde gefassineer deur die vervolger; twee aspekte van die persona; twee maskers rondom die ego; Ahab en die walvis in die woelige see van die Onbewuste …”

Hy het intussen Demosthenes de Goede se hand geneem en is op die punt om die onderhoud te beëindig.

“Mag ek jou troos met die gedagte dat in die donker stryd wat voorlê, jou strewe ooreenkomstig verhef word tot die heroïese en dat jou aandeel die aansien kry van die tragiese.”

Demosthenes de Goede se ysterhand slaag net nie daarin om die sagte, meegewende, amper beenlose hand van die Brigadier te verkrummel nie.

Voordat hy die vertrek verlaat, fluister die verwyfde mannetjie nog iets vir die Brigadier.

“Onthou môreaand se funksie,” sê die Brigadier, “om jou aan die lede van die Diens voor te stel. Dit sal heel informeel wees, want ons het, streng gesproke, met ’n buitestander te doen. Miskien ’n mindere byeenkoms, maar tog belangrik om jou één met ons groep te laat voel.”

In die voorportaal begelei die mooi meisie Demosthenes de Goede na die tweede deur en kry die knypie (terwyl sy lekker giggel) wat sy verwag. Daarna help sy hom die vorm invul.

Die derde oog

Подняться наверх