Читать книгу Die derde oog - Etienne Leroux - Страница 7

III

Оглавление

“Jy lyk anders,” sê Hope terwyl sy haar man in sy nou broekspype, serp en leerbaadjie beskou. “Jy lyk boheems.”

Onderweg na die slaapkamer vertel hy haar van Boris Gudenov.

“Is hy baie ryk?” vra sy terwyl sy die baadjie van haar mantelpak uittrek. “Is hy nog jonk en is hy ’n mooi man?” wil sy weet as sy die onderstuk op die vloer laat val. Haar gedagtes is vol van Boris Gudenov as hulle die liefdespel begin.

In ’n sekere stadium kom hulle kinders by die deur ingebars en hard­loop skreeuend deur die kamer by die ander deur uit in die rigting van die grasperkie. Later begin haar vrae van voor af: sal sy die geleentheid hê om Boris Gudenov te ontmoet? Is hy werklik ’n misdadiger? Na wie lyk hy? Toe haar vrae selfs die trae suspisies van Demosthenes de Goede begin aanwakker, trek sy hom weer nader en stel opnuut sulke geweldige eise dat sy halfgevormde agterdog verdwyn in die volbringing van sy gereelde taak. Die kinders dreun ’n tweede keer deur die kamer en Demosthenes de Goede, die oorwinnende en lydende, die beskermer van sy huis, gewer van vrugbaarheid, kind van die stormwind, rus tydelik langs sy heerlike vrou terwyl sy slaap. Daar is slegs ’n vaal Sondagmiddagverposing voor die take wat elke oomblik van hom verwag word. Hy dink aan sy moeder wat gesê het dat sy vader hom verwek het as die man wat meer moeite moet verduur as alle ander mans – op dieselfde oomblik dat sy vrou liggies roer en langsaam haar dye begin beweeg terwyl die kinders, gekrap en gehawend, mekaar weer deur die kamer na die grasperk jaag. Hy dink aan Boris Gudenov toe sy weer rustig slaap en probeer vir homself die aard van sy taak vasstel. Hy onthou die woorde van brigadier Ornassis E. en veg in sy gedagtes teen die skimbeeld – en sien homself as Dawid teen Goliat, die verlosser in stryd met Satan, die kampvegter op pad na saligheid; en dodelik vermoeid neem hy sy Wiking-vrou in sy arms toe sy, half deur die slaap, beneweld nog steeds haar onophoudelike eise aan hom stel. Die kinders raas deur die kamer, terug die huis in, verwaarloosde opdrifsels, vertoiing in hulle bebloede jagtog op mekaar.

Die laatmiddag verdwyn in die aandskemering en oor die berg styg die rosewolk op – ’n magtige rosekleur wat elke aand, presies op dieselfde tyd, deur ’n klein roetwolkie ingesluk sal word. Dis aand en die kinders strompel deur die kamer, honger en gehawend, na die leë eetkamertafel. Hulle Wiking-moeder word wakker. Sy is vars en volkome herstel van haar moegheid. Sy gryp dringend en gretig aan haar reuseman. Sy verdra sy moeë montering bewegingloos en beskuldigend.

“Hemel,” sê sy. “Dis al laat en die kinders is honger. Hou op!” Sy wip uit die bed en trek haar vinnig aan. Sy is vol verlange na die romantiese, demoniese, onbegryplike Boris Gudenov.

Sy is ’n toonbeeld van korrektheid as sy, geklee in haar mantelpak en bloese, styf en korrek, na die kombuis gaan om die bediendes te betig oor hulle laksheid.

Die derde oog

Подняться наверх