Читать книгу Die derde oog - Etienne Leroux - Страница 9
V
ОглавлениеNadat hulle die kinders gevoed en teruggedwing het en die huis gegrendel is, wag hulle buite terwyl vier gesiggies woedend deur die ruite kyk en dan beurtelings vertrek van pyn namate hulle enigste antwoord op verveeldheid, alleenheid en frustrasie, die afknouing van mekaar, tot uiting kom. Voor hulle oë begin een van die dogtertjies se neusie bloei en een van die seuntjies verdwyn plotseling terwyl Hope se budjie spoedig daarna ’n onaardse keel opsit. “Dis omdat jy so min by die huis is,” sê Hope terwyl sy haarself in die ruit vlak voor ’n gespanne gesiggie spieël. Sy druk haar hare vas teen haar wange en draai haar kop sywaarts om die effek van die kant af voor twee kil groen ogies te sien. “’n Moeder kan nie alles alleen doen nie.”
Dit val haar by dat sy haar lipstiffie in die huis vergeet het en sy sluit die deur oop op dieselfde oomblik dat die taxi verskyn en toeter. Demosthenes vang betyds een van die dogtertjies wat in die donker uitgeglip het, en kom met haar oor sy skouer aangestap terwyl sy soos ’n wurm krul. Hope raps haar liggies net voordat Demosthenes de Goede die deur toemaak.
“Hemel! Die kinders maak mens gek!”
Toe hulle agter in die taxi tot rus kom, sê sy: “Besef kinders ooit die kruis van ouerskap?”
Die losie van die D-diens is ontwerp deur Cliffox, die avant-garde argitek van die stad, ’n tydgenoot van Carvajal. Dis silindries in die vorm van ’n projektiel – ’n fallus na die hemel, ’n staalsipres tussen die Lombardi, ’n vlekvrye smeekstreep in die hoogte. Wildsbokkies wei onder die maanlig en die sterre in die park.
Brigadier Ornassis E. verwelkom hulle eerste en omarm Hope met die vrypostigheid wat hom toegelaat word weens sy hoër rang en gevorderde leeftyd.
“A! Die aanvallige mevrou De Goede,” sê hy en onthou betyds om Demosthenes de Goede nie die hand te gee nie. Hy stel haar voor aan ’n groepie slank mans wat volgens die heel nuutste mode in deur Esquire geïnspireerde aandpakke geklee is. Hulle reageer elkeen met ’n sjarmante glimlag op die swaar geestigheid van hulle hoof terwyl hulle elegant vir Hope buig en effens neerhalend vir Demosthenes de Goede knik.
Hope het nog nooit soveel mooi mans bymekaar gesien nie – daar is staal in hulle lenigheid, daar is geen gebrek aan moed hier nie, daar is die verfyning en geraffineerdheid waaraan sy ’n behoefte met die verloop van jare so voel. Sy beskou hulle met kennersoë maar vind dit nogtans moeilik om in hierdie vreemde milieu die mate van werklike heteroseksualiteit te bepaal. Sy glimlag op haar mooiste sodat haar tande blink terwyl vals wimpers die lig in haar oë effens versluier en haar vol mond sag en vernietigbaar word.
“Jy moet jou nie deur hulle voorkoms laat mislei nie,” sê brigadier Ornassis E. toe hulle die saal binnetree waar potplante, bamboesmatte en abstrakte tekeninge teen die mure die versiering vir die aand kenmerk.
“Outré, nie waar nie?” sê hy terwyl hy met ’n minagtende armswaai die dekorasies verdoem. Hy lei hulle na die hooftafel waar Hope aan sy regterhand, Demosthenes de Goede links, sy verwyfde sekretaris, James, en die res van sy elegante ménage in rangorde plaasneem. ’n Jazz-ensemble is besig om volksliedjies te speel terwyl sangers af en toe volgens die sangstyl van Trini Lopez en Joan Baez sing.
Sy oë vonkel as hy na Demosthenes de Goede kyk wat swaar en onbeholpe in die keurige geselskap lyk. Met ’n geringe beweging van sy hand ontbied hy ’n vrolike blonde meisie wie se liggaam sigbaar besig is om die stryd met haar nousluitende aandrok te wen.
“Ons kies ons korps nie alleen op grond van verstandelike bekwaamheid nie,” sê hy, “maar ook volgens hulle voorkoms. Kan jy jou byvoorbeeld vandag iemand in ’n geheime diens voorstel wat soos Edward G. Robinson lyk?” Hy neem Hope se hand in syne en bring dit na sy lippe.
Sy silwer hare pas hom goed; sy aandpak is outyds; sy superioriteit is gebaseer op persoonlikheid, ervaring en die feit dat hy die hoof is. Hy het die ouderdom bereik waar hy selfs sy tekortkominge as ’n bate gebruik. Die feit dat hy soms teatraal is, maak hom gevaarlik. Hy is ’n ewige raaisel vir sy volgelinge.
Mooi meisies begin die wyn bedien; hulle dra hul hare soos byekorwe op hulle koppe, hul borsies beur tergend bokant hulle rokkies uit, hul boudjies roer onder styfpassende rokkies as hulle loop, hulle het vir elkeen ’n vriendelike glimlag en laat elke jongman belangrik voel.
“Hulle is ook deel van die D-diens,” sê die Brigadier terwyl hy glasies met Demosthenes de Goede en Hope klink. “Ons werf hulle op Clifton. Geen besondere kwalifikasie behalwe die klaarblyklike is nodig nie, want hulle werk op die oppervlakte en spaar heelwat mannekrag ten opsigte van takies wat eintlik die tyd van ons ander personeel sou mors.”
Hy is in ’n gemoedelike bui en kyk goedkeurend na die blonde meisie wat haar enigste talent ten opsigte van Demosthenes de Goede aanwend.
Party van die jongmanne het alreeds begin dans nadat hulle ’n geringe buiginkie in die rigting van hulle hoof gemaak het. Hulle rittel lank en lenig met die jongmeisies terwyl hulle onder slap ooglede ’n kommunikasie vind met groot, leë oë wat roerloos onder groen verf op hulle gevestig is. Die nou rokkies word glad en kreukel beurtelings onder die suggestiewe dansbeweging wat byna onsigbaar plaasvind – die ingetoë beweging wat meer innerlik as die rinkhalsdans is, wat ’n dieper, sielvoller bevrediging gee, wat spreek van ’n ingehoue, intenser, grootser erotiek. “Ons kies ons lede nie alleen volgens verstandelike bekwaamheid nie,” herhaal brigadier Ornassis E., “maar ook volgens liggaamsbou en algemene voorkoms.” Hy beduie goedkeurend na sy dansende jongmanne. “Ons meisies toets hulle soos die Gnostiese vroue en maak hulle ook in die proses immuun teen elke versoeking van buite.”
Hy steek vir Hope ’n sigaret aan terwyl sy pinkie haar wang saggies streel. “Daar is niks wat die Archons se wêreld bied wat hierdie meisies nie beter kan doen nie.” Hy steel ’n ligte, speelse soentjie van Hope. “Begryp jy?”
Hope is in haar element. Sy boots onwillekeurig die meisies na, volkome oorgegee aan die bekoring van die Diens en geboei deur ’n nuwe gedagte: ’n voller lewe, seks as ’n soort religie, ’n betekenisvolle diensbaarheid.
“Is dit dit waarna ek al die jare gesoek het?” fluister sy vir die Brigadier.
Brigadier Ornassis E. word meteens ’n wyse ou ghoeroe. Sy ogies is die ene geslepenheid. “Dink jy nog aan die poëtiese Kaptein? Dink jy hierdie jongmans is anders?” Hy begin haar dye liggies streel. “Is jy bevrees dat verstand altyd met verwyfdheid gepaard gaan? Vind jy die animus in jou onverstaanbaar? Word jy telkens mislei?”
Demosthenes de Goede het intussen die blonde meisie op die dansvloer geneem waar hy rondomtalie swaai en haar op sy skouers lig terwyl sy dawerende gelag sigbaar die ander pare ontstig.
Die Brigadier glimlag goedig. “Dit is een van die redes waarom ons hom gekies het,” sê hy. Sy mond is naby Hope se oor en hy byt tergend aan die belletjie. “Hy is so volkome mens, so na aan die natuur, so vreemd aan die tydsgees. En as ons hierdie aard onbegryplik vind, hoeveel te meer nie ons vyande nie?” Hy sit behaaglik agteroor. “Daar is ’n kompleksiteit in eenvoud vir almal wat in hulleself verstrik is. Ons groot kampvegters was nog altyd mense wat gekenmerk was deur die eenvoud van hulle geloof.”
Hope luister nie. Sy is nou trou aan die rol van die meisies van die Diens wat sy haar toegeëien het. Sy is volkome geïntegreer in die beweging. Haar funksie is meteens vir haar duidelik; sy het ’n betekenis gevind; sy het die uitweg van selfopoffering ontdek – ’n teenbeeld van narcissisme. Die raaisel in die spieël waarin sy elke dag kyk, is opgelos.
Brigadier Ornassis E. het sy hande na sy oë gebring – sy hande wat liggies ruik na parfuum.
“Die dood is in die gebou,” sê hy.
Hy bring haar hand weer eens na sy mond en soen dit saggies.
“En ons kan dit nie met Camp en Twee beveg nie.”
Hy maak ’n geringe beweging, en die orkes hou meteens op. Almal vergader weer om die tafel; die meisietjies dra die wyn aan, glimlag, laat elkeen gelukkig voel en bestudeer mekaar met kennersoë vir enige afwyking van die groepspatroon. Hulle gaan telkens na die toiletkamer waar hulle ’n halsie laer trek, ’n ooglid groener maak, ’n rokkie hoër lig en ’n ritssluiter oper trek.
Brigadier Ornassis E. sit sy vingerpunte teen mekaar en spreek die groep by die tafel toe.
“Ek kan miskien vlugtig na ons organisasie verwys,” sê hy vir Demosthenes de Goede, wat die nou gehawende blonde meisie op sy skoot het. “Ons het twee linies in ons organisasie: die personeelgroep en die aksiefront.”
Hy lig ’n vinger vir een van die aantreklike jongmans wat langsaam en duidelik, maar effens verveeld, voortgaan.
“Die personeelgroep is die manne met idees; hulle handhaaf die beeld van die Diens; hulle formuleer die beginsel.”
Brigadier Ornassis E. knik en ’n ander jongman, traag en lui, voltooi die verduideliking.
“Ons,” sê hy. “Wel, ons voer die beleid uit.”
Daar is waarderende gelag van sy groep.
“En dit,” sê brigadier Ornassis E. vir Demosthenes de Goede, “is ook jóú taak.” Hy wys na die eerste jongman. “Die gespesialiseerde personeelgroep is beperk tot hulle funksie as manne met idees – al is hulle miskien hoër in rang. Dis die aksiefront wat die meeste geleentheid het ten spyte daarvan dat hulle funksie beperk is tot die uitvoering van ’n taak.”
Hy wys na homself.
“Ek is min of meer ’n besturende direkteur. Saam met die personeelgroep is ek verantwoordelik vir die uitbouing van die Diens. Miskien is ek die naaste aan ’n tycoon soos Boris Gudenov, alhoewel so iets natuurlik ondenkbaar in ons organisasie is. Ons is ’n onliggaamlike eenheid en ek is weer verantwoordelik teenoor die Staat, en die maatskappy, vir die resultate van die Diens.”
Hy wys vir die blonde meisie om op te hou om haar teen te sit.
“Ek voel my miskien meer aangetrokke tot die personeelgroep, maar ek ontken nie die waarde van die aksiefront nie. Trouens, ek is, helaas, ’n soort vaderfiguur.”
Hy lag verpligtend en almal lag saam. Dan lig hy sy hand vir stilte en knik goedkeurend as daar onmiddellike reaksie is.
“Miskien is dit goed dat ons die stryd in hierdie lig sien: Boris Gudenov is die tycoon, die onsigbare mag agter die skerms: Demosthenes de Goede is die een met óns, die Staat en die gemeenskap agter hom.”
Die meisietjies van die Diens het intussen ook om die tafel vergader en almal luister aandagtig na brigadier Ornassis E.
“Daar is miskien ’n sekere ooreenkoms, afgesien van voorkoms, tussen die twee …”
Hope se oë rek groot en die Brigadier knyp haar saggies maar vol daar waar haar aandrok meegewend oor haar been gly.
“Só, dan het jy Boris Gudenov al tevore gesien?” Hy bring ’n sigaret na sy lippe, maar spring sy manne self vinnig met ’n Ronson-aansteker voor. “Demosthenes de Goede is groot en sterk; Boris Gudenov is groot en sterk, maar in ’n ander opsig.” Hy blaas die rook uit. “Ek het al dikwels gewonder: is daar miskien ’n affiniteit tussen die intellektueel en die atleet?” Hy skud sy kop en beweeg sy hande soos iemand wat nie kan besluit nie. “Is Boris Gudenov en Demosthenes de Goede nie ook al twee slagoffers van iets wat sterker as hulle is nie? Die tycoon, in die empire wat hy skep, word vasgevang deur eensaamheid; die held word vereensaam deur die aanhoudende eise van sy taak.”
Hy wys na Demosthenes de Goede wat, danksy die bevel van die Brigadier, die blonde meisie nou maklik tot oorgawe dwing. “Mens kan hom nie as baie veelsydig beskou nie. Hy bly mens by uitnemendheid, ten spyte van sy krag en sy vermoë om lyding te ervaar. Is daar nie by hom miskien ietsie van alles wat ons in onsself sien nie? – ’n liriese held van Pindaros; ’n tragiese figuur ten spyte van die komiese kant; ’n Stoïsynse geduld en ’n natuurlike, ingebore wysheid?” Een van die meisies wat té na aan die Brigadier kom, word behendig deur Hope versper.
In die verte is ’n samedromming van kelners, deftig in uniforms, maar met ’n ander soort elegansie as die here van die Diens. Soos almal in hulle beroep word hulle die ewebeeld van die mense wat hulle bedien, maar onderhewig aan die tekortkomings wat inherent is aan die nabootsel – die beweging sonder persoonlikheid, die gebaar sonder anker. Brigadier Ornassis E. roep die hoofkelner nader en fluister iets in sy oor.
Die meisietjies van die Diens se taak van drankbediening het nou oorgegaan in die hande van die kelners en hulle gaan op die vloer sit, hulle rokkies soos blomblare gesprei, hulle houdinkies bedees, en hulle armpies gereed om een ná die ander die jongmans van die Diens te ontvang wat langs hulle gaan lê, hulle gesigte opgehef na brigadier Ornassis E.
“Daar word gesê,” gaan die Brigadier voort, “dat ons in die tydperk leef van die antitragiese, die metafisika van die Christendom en die Marxisme, die twee mites wat slegs ’n aspek van die tragiese in die verbygaan noteer, in ’n wêreld wat hiernamaals dáár en materialisties hiér slegs oorwinning ken. Maar is dit waar?”
Hy wend hom tot Hope, wat daardie uitdrukking op haar gesig het van alle verliefde vrouens wat selfs in ’n onverstaanbare woordspel ’n vóórspel sien, of van vrouens wat ’n ouderdom bereik het waar hulle vry word van die irritasie van ’n enkele, bepaalde liefde, waar alle vrouens nimfomane word, waar die eensame nimfomaan, soos Hope, haar meteens een voel met alle vroue, en dan stil en diensbaar word.
“Is dit waar?” vra brigadier Ornassis E. “Is daar nie in die mens se psige onbeheerbare magte, demoniese verskynsels, wat hom tot raserny kan dwing nie?”
Hy rig hom nou tot Demosthenes de Goede, wat die blonde meisie soos klei bewerk en hopeloos verstrik raak in haar oorgewillige toegewendheid.
“Is dit nie waar nie,” vra die Brigadier, “dat ons ’n stadium bereik het waar beide die geestelike en materialistiese mite verval het en die mens in staat is om ankerloos van voor af die tragiese te ervaar nie?” Hy kyk na die personeelafdeling van die D-diens, wat hom aandagtig volg. “Het ons nie weer ’n prerasionele stadium bereik nie?”
Die Brigadier raak ’n oomblik in gedagte versonke terwyl die meisies, gestreel deur sy stem en die musiek, in die arms van die jongmans terugleun – en dan kom hy orent en lig sy hand vir die tafelbediendes wat meteens uit hulle eie frustrasie daar by die swaaideure losbars. Hulle borrel uit die kombuis agter die bamboesmatte en abstrakte tekeninge en dra op silwerskinkborde die gebraaide diere van die baarmoeder, die bruin, blink speenvarke met glasige oë – ry op ry, hulle aandpakke onberispelik, verby die Brigadier en sy volgelinge, déúr ’n tweede swaaideur in die rigting van die binnekamer langsaan.
Die Brigadier staan op, en met Hope aan sy arm begelei hy almal na die Coronet Room, ’n causerie ontwerp in neo-klassieke styl, onderworpe aan lugreëling, opgeluister met ’n kontinentale orkes wat strelend musiek vir die etensuur speel. Hy sit bo-aan die tafel met sy gaste aan weerskante, hy wag met geboë hoof totdat die kelner ’n paar druppels Veuve Clicquot (Extra Sec) in ’n Steubenglas gooi, hy bestudeer die etiket, laat die wyn toe om te vonkel op sy tong, en verklaar hom tevrede. Hy wag swyend vir al die glasies om gevul te word, en dan kom hy langsaam orent. Die saal word stil, die orkes hou op met speel, die kelners staan ry op ry en die Brigadier lig sy glasie omhoog en sê: “Op die Geliefde Maagd!”
Die fier jongmanne van die Diens kom flink op hulle voete en van orals dreun dit deur die saal, met jong, sterk stemme, die refrein vir die aand: “Die Koré! Die Koré!”
Hope vind dit “fantasties” en wil weet wie die Koré is. Die Brigadier verduidelik vir haar dat dit die legendariese maagd is. Demosthenes de Goede, effens beneweld, maar propvol energie, bulder dat alle maagde gedoem is om in die een of ander stadium verkrag te word. Die Brigadier knik en verduidelik dat dit sielkundig heeltemal korrek is: dat die een wat verkrag word net so aandadig is, dat deflorasie ’n wet van die natuur is, dat maagdelikheid op sigself die grootste uitlokking tot ontering inhou. Daarna val hulle weg aan die sagte speenvark, die brose vleis wat sinnelik wegsmelt in hulle monde, wat wesentlik ’n soort simboliese verkragting is en die eerste stap van selfbevrediging vorm in die nouerwordende kring van selfverwenning.
Nadat die sagte speenvark verorber is en die nagereg soos ’n nabetragting die tempo van oorgawe getemper het, kom die Brigadier weer stadig orent om die toespraak van die aand ter wille van sy geëerde, benewelde gas te hou.
Hy verwys na die roerende taak van iemand soos Demosthenes de Goede wat nie namens homself handel nie, maar namens die gemeenskap, wat homself opoffer om die probleem te ontrafel, wat homself objektief en onpersoonlik op die altaar plaas om ons gesamentlike deelname te verteenwoordig, wat in ons verwarde tydsgees as argetipiese held daar is om betekenis te gee aan die angsdrome van ons gewone mense en die onverstaanbare visioene van ons skeppende geeste.
Hy wei roerend uit oor iemand soos Hope, die moeder van ons tyd, wat dikwels huislike geluk moet ontbeer, wat sonder die bystand en hulp van haar man die verantwoordelikheid van haar vryheid moet dra, wat haar heilige reg op emansipasie moet versoen met die afwesigheid van haar man.
Dan word brigadier Ornassis E. esoteries filosofies en moeilik om te volg. Met gevleuelde woordrykheid beskryf hy die taak van Demosthenes H. de Goede as ’n poging tot éénwording van ons wêreld met ’n universele wêreld, waar elke skepsel sy ware aard moet ontdek in alles wat verborge en vir die rede onbegryplik is. Dis die weg van die minnaar, die weg van die kunstenaar – die weg van elkeen van ons.
“En sien ons nie daar,” vra die Brigadier, “die beeld van ons vriend, Demosthenes de Goede, ’n soort kunstenaar van die daad nie? En sien ons nie Boris Gudenov, gehate vyand, want só ken ék hom, ook die geperverteerde minnaar nie? En sien ek nie ons almal saam, die minnaar en die kunstenaar, in elkeen van hulle nie?”
Almal is stil in die saal. Elke meisietjie kyk onder groen ooglede strak, gewyd en diensbaar na die hoof van die D-diens. Die manskappe, versoen met die misterie van abstraksies, uit die aard van hulle beroep, is ewe stil, hulle aandag as personeellid en aksiefrontlid gevestig op hulle leier, die Brigadier, en gerig op die moontlike implikasie van sy woorde.
“U gaan,” sê die Brigadier vir Demosthenes de Goede, “waar menige van ons bevrees is om te gaan.” Almal wend hulle nou tot Demosthenes de Goede, wat roerloos sit en luister, ’n frons op sy voorkop, effens ongeduldig oor al die woordrykheid, maar gevlei deur die aandag wat hy kry. “U gaan, kaptein De Goede, nie ter wille van blote kragvertoon in naam van die Diens nie, maar om die wêreld te bevry van die verderflike monster wat uit die duister gekom en ons rede in sy kloue het; u gaan om die mens self te bevry.”
Hy tel weer sy glasie op.
“U het op die Maagd gedrink,” sê die Brigadier. “Menere, nou vra ek u om te drink op die Held van die aand.”
Daar is luide toejuiging as Demosthenes de Goede opstaan en sy buiging maak. Hulle drom om hom saam terwyl hy die meisietjies omarm en die uitgestrekte hande van die korps spierwit druk.
Die wyn vloei nou vry en die Brigadier is baie trots op sy gebaar as spesiaal ingevoerde bloedrooi Sang d’Hercule uit Argos bedien word. Dis op hierdie oomblik dat Hope geleentheid vind om haar botteltjie uit te haal en ’n paar druppels van die inhoud ongemerk in die glasie van die Brigadier te gooi. Sy wag geduldig op die reaksie: die trek om die oë, die asemhaling wat versnel, die gloed op die gesig en al die kenmerkende aanduidings. Sy sien hoe die Brigadier sy kop effens skeef hou asof hy diep binne homself iets waarneem, sy bemerk die wiegende beweging van sy lyf, die tekens van losbandigheid wat in stemtoon, woord en gebaar te voorskyn kom. Sy is op die punt om haarself as offer aan te bied, onwetend getrou aan die rol van die Koré, toe die Brigadier meteens sy hand lig, die orkes tot stilte dwing en ingehoue stadig in die rigting van die derde kamer beweeg. Op pad soontoe slaan hy sy arm styf om sy adjudant, James, se lyf en Hope sien verslae hoe die manne van die Diens, een ná die ander, mekaar omarm, die meisies verlaat en saam met Demosthenes de Goede die Brigadier volg.
Die deur gaan oop en daar is ’n flitsende beeld van die El Gauchkamer, kinetiese beeldhouwerk van Lye en Schoeffer in gedurige beweging, ’n derde orkes besig om die Poème Symphonique van Ligeti slegs op simbale te speel. Die deur gaan agter hulle toe en die meisies van die D-diens neem orals op die stoele in groepies plaas. Hulle haal hulle breiwerk uit en begin rustig brei terwyl hulle opgewek kleinburgerlike gesprekkies voer. Later raak sommige van hulle aan die slaap terwyl die mans binne besig is om die inwydingsorgie te voltooi.
Hope, verveeld, beweeg heen en weer in die saal rond en begin dan langsaam alleen te dans op maat van die kontinentale orkes: “Where angels fear to tread.” Sy swaai haar boude en bekken, in haarself gekeer, haar hart gebreek deur die enigste tragedie wat sy ken, die tragedie van verkwisting, van verspeelde geleenthede, van verbygaande oomblikke – ’n weeklag in beweging oor die onverstaanbaarheid van die lewe, ’n mymering op dansmaat van weemoed oor die verspilling van lewegewende energie, die vermorsing van kosbare libido.