Читать книгу Man van Cirene - F.A. Venter - Страница 10

6

Оглавление

Toe hulle met Simon uit die praetorium kom, lê die plein leeg in die son. Maar dit is net die plein wat leeg is – die stad is vol dreunende geluid. Op die onderste treetjie van die trap gaan Simon staan.

“Cirene het ontwaak,” sê hy oorwinnend.

’n Wag slaan hom met die steel van sy spies tussen die skouers, sodat hy vooroor struikel. Tog let hy op dat die paleiswagte nou meer is. Hulle staan in digte gelid om die paleis. Ook voor die poort staan rye soldate.

Die rook het digter geword …

Rook dwarrel selfs oor die plein hier by die praetorium.

Simon snuif. Dit is die reuk van koring wat brand.

“Cirene het ontwaak,” sê hy weer, maar hierdie keer net in sy binneste.

Iewers in die rook is daar die groot rumoer.

Dreunende hoewe.

Die gekletter van staal op staal.

Die geskreeu van ’n worstelende skare.

“Gou! Hulle is voor die poort!” skreeu die Romeinse kaptein.

Die twee wagte gryp Simon aan die arms en druk hom vinnig vorentoe.

Dit is waar – hulle is voor die poort. Byna die al die inwoners van Cirene maal buite teen die mure van die vesting. Vannag het Simon met sy fakkel ’n vlam in duisende ander harte aangesteek.

En toe dit rugbaar raak dat hy na die praetorium geneem is, word hy vir hulle ’n martelaar wat gewreek moet word.

Die Romeinse legioen steier onder die eerste aanslag van die skreeuende skare.

Pyle slaan klappend in die skilde vas. Swaar knuppels kom dof op die helms neer. Ou swaarde dawer op die nuwe staal van Rome.

Die strydwaens loop paaie deur die vloedgolf van opstandelinge wat in die strate opruk. Romeinse pyle vlieg in sarsies uit die boë en laat mense na hul bloeiende wonde gryp.

Van agter die ronde skilde slaan die kort swaarde van die Romeinse falankse die worstelaars in die grond.

Maar dit stuit hulle nie. Dié wat sterf, sterf met die kreet van opstand op hul lippe. Dié wat leef, spring oor die lyke en hardloop doodsveragtend onder die Romeinse horde in.

Toe hulle met Simon by die kerker aankom, gewaar die verbouereerde kaptein dit: ’n Ligte perdewa swaai om die hoek van die kasernegebou. Die twee hingste hardloop oor die plaveisel, en die drywer ruk-ruk aan die leisels.

Hier by Simon ruk hy die diere so vinnig tot stilstand dat hulle in die tuie steier.

Die kaptein spring vorentoe, maar hy sterf met ’n pyl deur sy keel. Die twee wagte los Simon en hardloop oor die plein weg. Twee pyle haal hulle in en ook hulle val.

Vier manne spring uit die buik van die wa, gryp Simon en gooi hom op die wa. Toe sien hy eers wie die drywer is – Groot Miga, die smid.

Miga ruk die perde om en jaag terug, die wa rammelend oor die plein, by ’n sypoort uit, om die vegtende skare, na die buitewyke van Cirene.

Simon bly staan op sy knieë. “God van Israel, U het my verlos!” sê hy en steek sy vuiste in die lug. “Groot Miga, God seën jou!”

Miga se lang grys hare waai wild in die wind. Hy konsentreer daarop om die perde deur die nou strate te stuur waar hoenders en honde voor die wa uitvlug.

“Ek wil jou nie aan ’n Romeinse kruis sien nie, Simon Niger,” skreeu Miga oor sy skouer. “Ons het van die suidekant af gekom waar daar nie so baie burgers en soldate is nie. Ons moes lank wag voordat hulle jou uit die praetorium gebring het.”

“En Debora?” roep Simon bo die geratel van die wa uit.

“Sy is veilig by die huis. Ons hou haar daar.”

Voor ’n lae wit gebou laat Miga die perde opploeë.

Hy help Simon van die wa af. “Esegiël en Juba het my vannag kom vertel wat met jou gebeur het,” sê Groot Miga. “Maar nou eers die boeie … Gaan terug en gaan veg!” skreeu Miga vir die vier manne wat saamgekom het om Simon te bevry.

Simon gaan kniel by die aambeeld. Groot Miga kom met sy voorhamer en koubeitel aangedraf en begin die boeikettings afkap.

Die hele Cirene het opgestaan, vertel hy tussen die hamerslae deur. “Jy is vandag ’n held in Cirene, Simon Niger, want jy het dit aan die gang gesit.”

“Het jy vir my ’n swaard?” vra Simon.

Miga het die laaste boeiketting afgekap. Hy tel Simon se kettings op en gooi hulle tussen ’n klomp ou wiele.

“Jy gaan nie veg nie, Simon Niger,” sê hy beslis.

“Ek gaan veg!” hou Simon vol. “Gee my ’n swaard, ’n spies, enigiets … God het my gered om te veg!”

Miga gryp sy vriend aan die skouers. “God het jou gered om te lei … nie om te veg en te sterf nie!”

Simon wil hom nog teësit, maar toe hoor hulle dit – ’n harde geroep, ’n geskreeu van die skare. Die ligte wind waai dit na hulle toe aan.

“Hulle is deur die poort!” roep Miga juigend. “Cirene is vry!”

Hulle hardloop uit en staan voor die smidswinkel en luister.

“Groot Miga, seun van Natanael, ek dink Cirene is waarlik vry!” sê Simon. “Hulle juig op die plein van die praetorium.”

Miga ruk sy leervoorskoot af, gooi dit weg. “Laat ons ry, Simon Niger,” roep hy uit. “Jy moet by die praetorium wees.”

Hulle hardloop na die wa.

Maar toe kom ’n sweetvos in die straatjie afgedraf. ’n Man lê vooroor op die dier se rug, skeef oor sy skof; ’n Romeinse pyl tussen sy skouers.

Miga steek vas. “Dit … dit is my perd …” sê hy.

“Dit is Filippus, jou oudste!” roep Simon hard.

Hulle hardloop saam vorentoe. Simon gryp die dier aan die stang, en Miga trek sy seun van die perd af, lê hom op die grond neer. Simon hurk by hulle.

Filippus se bebloede lippe roer en hy klou hygend aan Miga vas.

“Hulle … het die … volk verslaan … Markus Camillus … het die paleiswag … agterom gebring …”

“En Simeon?” vra Miga, buk laag oor sy sterwende seun.

“… Langs my … gesterf.”

Toe sterf Filippus in Miga se arms. Sy lippe bewe van woorde wat hy nie kan uitspreek nie.

“Dit is klaar,” kerm Simon. “Wat ek begin het, kan nie volvoer word nie.” Hy kom nader en help Miga op.

“Jy moet vlug, Simon Niger. Die tyd is kort,” waarsku Miga.

“Hoe kan ek vlug as almal agterbly en sterf?”

“Almal sal nie sterf nie. Quirinius kan nie ’n hele volk kruisig nie. Maar jy … jy sal sterf net so seker as wat jy leef.”

“Waarom kan ek nie vir Israel sterf nie?”

“Wat kan jy vir Israel en vir Cirene doen as jy aan ’n kruishout hang? En jy het ’n vrou, Simon Niger.”

“Ek sal gaan as jy saamgaan, Groot Miga. Ons het hier saam grootgeword. Vandat ons kinders was, was ons soos broers.”

“Nee, ek bly hier – hier waar die bloed van my seuns lê.”

Groot Miga bewe so groot soos hy is toe hy Simon aan die skouers vat. “Gaan werk vir Israel op ’n ander plek,” smeek hy. “Hier kan jy nou niks meer doen nie. Hier sal jy net sterf.”

Hy stoot Simon na die perdewa en groet hom met ’n kortstondige, stewige omhelsing. “Vlug na Egipte, Simon. Esegiël het vir julle kamele in die hande gekry.”

Alles draai in Simon se kop toe hy die leisels gryp en kletterend met die wa in die straat af jaag. Hy kyk een maal om en sien hoe Groot Miga met sy seun in sy arms staan, asof Filippus in die dood weer klein geword het.

Simon jaag tussen landerye deur waar die rook van smeulende koring blou oor die wêreld lê. By sy huis hou hy onder die populiere stil.

Esegiël en Juba werskaf daar met kamele. Hy praat nie, hardloop die huis binne.

Toe Simon in die deur verskyn, kyk Debora op en hardloop na hom toe.

“God het my verhoor … jy is veilig,” snik Debora.

“Ek leef – God sy dank,” sê hy. “Die opstand het misluk … Groot Miga het my gered. Hy het sy seuns verloor, maar ek dink sy trots is net so groot soos sy hartseer … Alexander! Waar is Alexander?”

Debora gaan staan voor die herd. “Vannag toe die brande begin het, is Alexander terug na sy skip … Waarom het jy dit gedoen, my man? Jy het ’n ramp oor Cirene gebring.”

Debora se aanklag skroei deur Simon en hy gaan radeloos sit.

“Dikwels word vryheid uit ’n ramp gebore, net soos lewe uit pyn gebore word,” probeer hy homself verweer.

“Vandag is alles vir ons verlore – ons huis, ons grond, alles wat ons hier in Cirene tot stand gebring het … en dit oor ’n halwe denarius,” hou sy vol.

“Met ’n halwe denarius kan ’n mens vryheid koop of dit ter wille daarvan verloor. Ons het nog ons vryheid, ons geloof. Ons het nog die genade van ons God … en ek het nog vir jou. Ek het nog krag om weer te begin.”

Debora wil eenvoudig nie skiet gee nie. “Ons was gelukkig hier – gelukkig en vry … Jy het dit alles vernietig, Simon.”

Toe praat hy hard, verbitterd. “Hulle wou my koring vat, hulle wou my grond vat – hulle wou my kruisig! En nou veroordeel my vrou my nog!”

Debora swaai met ’n uitroep voor die herd om: “Kruisig?”

Haar skrik en ontsteltenis laat hom kalmer voel. “As Groot Miga nie sy lewe gewaag en my gered het nie, het ek vanaand aan die kruis gehang.”

Debora loop na hom toe. “Ek het dit nie geweet nie,” snak sy. “Ek het nie geweet van die kruis nie.”

“Ons moet vertrek, Simon Niger,” sê Esegiël in die deur. “Die Romeine kom nou-nou hier soek … Die kamele staan gereed. Ons het kos en water en slaapgoed opgepak.”

Simon neem alles om hom in hom op: die herd wat hy gebou het, die houtskottels wat hy gemaak het, die tafel, die stoele, die vate, die boksakke teen die mure …

Toe haas hy hom na die slaapvertrek, gryp sy swaardskede, bind dit om sy middel vas; gryp sy lang boog, sy pylkoker.

Hy wil nog ’n oomblik steel om in stilte afskeid te neem van alles wat hy en Debora verwerf het, maar toe die gedruis by die praetorium weer ’n slag hoorbaar word, gaan hy haastig uit na waar Debora huilend wag. Hy sit sy arm om haar en lei haar uit.

Esegiël bring ’n kameel nader. Hulle laat hom lê en help haar op. Sy groet haar huis – die deure oop, die luike oop, met twee van haar eende by die drumpel; en haar wit hanslam wat teen die muur staan en skuur.

Debora se smart word vir Simon te veel. Daarom klim hy vinnig op sy kameel. Juba en Esegiël doen dieselfde.

“Vlug julle saam?” vra Simon.

“Ons vlug saam, meneer,” antwoord Juba die Numidiër.

“Ek weet nie waar die reis sal eindig nie. Dalk sal ons honger ly; ons kan selfs sterf. Julle kan hier bly en werk. Rome het niks teen julle nie.”

“Ek en Juba het lank vir jou gewerk, Simon Niger,” sê Esegiël. “Jy was goed vir ons. Waar jy en Debora gaan, daar gaan ons saam.”

Simon wil iets sê, maar sy gemoed is te vol. Hy trek sy kameel op en Debora volg hom. Esegiël en Juba kom agterna.

Hy lei die klein stoet na die rand van die terras. “Ry julle die terras af,” sê hy vir Esegiël, “swaai dan regs onder die waterleiding deur tot by die see. Dis hoogwater – die see sal ons spore uitwis.”

“En jy?” vra Debora.

“Ek kom nou agterna. Ek wil net bietjie vertoef om te sien of die Romeine ons nie volg nie.”

Hy kyk ’n rukkie hoe Esegiël-hulle die swaarbelaaide kamele op ’n stywe draf hou. Toe ry hy na sy grond toe.

Aan die kant van die wingerd hou hy stil. Die trosse swel onder die groen lower. Die olyfbome glinster; die muile vreet aan die vars kaf. Die koringhoop smeul nog.

Met byna ondraaglike hartseer kyk Simon vir laas na alles wat hy verloor het. Dit het so vinnig gebeur dat hy hom ’n oomblik verbeel hy droom.

Maar toe hoor hy op die ligte woestynwind weer die geluide van die oproer en hy weet hy durf nie langer versuim nie. Hy draai weg en volg die ander.

By die derde terras kyk hy die laaste maal om, maar sien net die wuiwende toppe van die populiere.

Hy haal die ander in. Hulle laat loop hul diere vinniger sodat hul nekke laer buig, en die lang bene met swaaiende hale die afstand afkerf. Agter hulle wis die plat branding hul spore uit.

“Waarheen neem jy my, Simon van Cirene?” vra Debora kamma berispend toe hy langs haar inval.

“Ek neem jou na ’n nuwe toekoms, my Debora,” sê hy bewoë. “Miskien Alexandrië – miskien iewers elders. Ek gaan jou gelukkig maak soos jy in Cirene was.”

En toe die ses Romeinse soldate by Simon Niger se huis stilhou, is dit stil daar. Net die populiere ruis in die warm namiddagwind. Groot Miga se twee perde, wat Esegiël uitgespan het, staan en drink uit Debora se wasvat. Debora se hanslam lê en herkou in die oop deur.

Die soldate loop deur die huis. Een haal Simon se velsak af en drink van die wyn.

“Die vervloekte Jood is weg,” sê die leier onnodig. Met sy swaard kap hy die nek af van die erdekruik wat Cornelius Rufus nog vir Debora gegee het. Hy gaan staan voor die herd waar die kole nog dof smeul.

“Kom,” sê hy, “ons moet hulle soek …”

Hulle spring op hul perde en sny spoor oor die werf. Dis moeilik, want die werf is hard getrap. Eindelik kry hulle die spore, volg hulle tot by die harde pad wat oor die terrasse loop, onder die waterleiding deur. Hulle aarsel daar, weet nie of hulle links na die see moet draai of regs nie.

Die leier steek sy perd met die hakke en ry verkeerd – na regs, by die stad verby na waar die karavaanroete na Alexandrië begin.

Simon kyk telkens om, soek na agtervolgers. Maar hulle is reeds om die groot kalkpunt wat die see met hoogwater aanraak. Alleen.

Hul skaduwees gly oor die strand uit, lank en smal, totdat dit later lyk asof hulle dwarsoor die see probeer reik.

Man van Cirene

Подняться наверх