Читать книгу Man van Cirene - F.A. Venter - Страница 6
2
ОглавлениеSimon het Vitellius amper uit die saal geslaan, maar hy bly sit, al staan sy perd verskrik op sy agterpote. Een van die soldate laat sy perd vorentoe spring, sy swaard omhoog, maar Esegiël vang hom met die tande van sy gaffel onder die blad en stamp hom uit die saal. Terselfdertyd steek Simon die perd van die ander soldaat met die steel van sy jaagbesem in die lies. Die perd maak sy rug krom en gooi die soldaat dat hy met ’n hik teen die koringhoop val.
Toe bestorm die twee soldate vir Simon en Esegiël, hul swaarde omhoog. Maar Vitellius, sy pokkelgesig blink van die sweet, skreeu op hulle. “Moenie die twee honde nou doodmaak nie. Ons sal hulle aan die wraak van Quirinius oorlewer. Die swaard is vir hulle te genadig. Ons het lanklaas iemand in Cirene gekruisig.”
“As jy jou pote weer op my grond sit, steek ek jou met daardie gaffel deur jou groot maag, Lucius Vitellius,” sê Simon, en staan dreigend nader.
“Daarvoor sal daar nie tyd wees nie, Simon Niger,” sê Vitellius uit die hoogte. “Ek sal nou dadelik vir Quirinius gaan sê twee Joodse honde het sy taksateur en twee soldate van Rome aangerand. Het jy vergeet wat die straf vir aanranding op ’n Romein is?”
Simon is so kwaad dat hy vir eers nie kan praat nie.
“Sononder,” beveel Vitellius, “moet al die koring in sakke wees, want vannag moet dit gelaai word. Die prys is een en ’n half denarius die mud.”
“Ek vra twee denarii die mud,” antwoord Simon. “Ek verkoop nie vir minder nie. Jy kan dit vir Quirinius gaan sê; jy kan dit vir daardie ou kinds Tiberius gaan sê as jy lus het.”
Vitellius glimlag snedig en meerderwaardig, en die twee soldate vat hul swaarde vaster.
“Die prys is vasgestel deur Cornelius Marsus, hoofgraanbeampte in Rome,” sê hy. “Nie ’n quadrans minder nie en nie ’n quadrans meer nie. Ek het klaar gepraat. Vannag word die koring gelaai.”
Vitellius trek sy perd om en ry op ’n stywe galop deur Simon se wingerd weg, gevolg deur die twee soldate. Blare en teer lote breek om die hoewe.
Simon gaan sit stadig op ’n sak koring, en hy voel skielik duiselig.
“Jy het ’n groot fout gemaak, Simon,” sê Esegiël en gooi sy gaffel neer. “Vitellius is ’n lakei van Quirinius. Hulle sal ons laat les opsê.”
“Een en ’n half denarius die mud!” kreun Simon asof hy Esegiël nie eens gehoor het nie. “Ek steek hierdie hoop eerder aan die brand voordat ek daarvoor verkoop.”
Hy kyk op na die tempels van Cirene, na die triomfboog, die basiliek – en bietjie na agter, die glimmende paleis van Quirinius.
“Een en ’n half denarius,” brom Simon weer en staan op.
“Dit is die vasgestelde prys,” opper Esegiël bedug.
“Jy praat soos ’n slaaf!” bulder Simon Niger. “Jy wil hê ek moet ook ’n slaaf wees en verkoop vir wat hulle wil gee. Het jy gehoor hoeveel leeglêers en suipers daar in Rome is? Vyf honderd duisend! Hulle moet vreet en ek, Simon Niger, moet my koring, my wyn, my olyfolie vir ’n appel en ’n ei verkoop! En dan moet ek nog hul belastings ook betaal – ’n tiende hier, ’n vyfde daar …”
“Die keiser is die keiser,” sê Esegiël versigtig.
“Daar is vir my net een keiser en dit is die Allerhoogste,” sê Simon hard. “Aan Hom en aan Hom alleen is Israel iets verskuldig.”
Hulle staan ’n paar oomblikke woordeloos. Dan tel Simon die houtskopgraaf op en steek dit in die hoop koring. “Dit spyt my ek het hard gepraat,” sê hy boetvaardig aan Esegiël, wat hom al soveel jare op die grond help. “As daar moeilikheid kom, sal ek al die blaam dra.”
“Ek het my lewe lief.” Esegiël glimlag floutjies. “… En my vryheid. Wat baat dit ’n mens om jou hand teen Rome op te tel? Hulle stuur jou na die myne; of hulle maak jou ’n soldaat in Gallië; of so nie, stuur hulle jou om die pad te gaan help klaarmaak Alexandrië toe; of so nie, word jy soos dáárdie vent behandel …” Esegiël knik in die rigting van die slaaf op die oop grond daar anderkant.
“Bring die sakke, Juba!” roep Simon na die Numidiër, en ruk die skop uit die hoop koring.
In ’n oomblik van vertwyfeling dink hy aan Debora … aan alles wat hy hier opgebou het.
Hulle begin die sakke vul. Simon werk met gretige bewegings. Arbeid gee hom altyd vreugde, al is hy ook in watter stemming. Juba hou oop, Simon maak vol en Esegiël bind toe.
“Wat dink jy van hierdie nuwe Man wat in Galilea preek?” vra Simon onverwags om te probeer wegkom van wat so pas hier gebeur het; sommer terloops asof dit nie van besondere belang is nie, maar hy loer onder sy ruie wenkbroue uit na Esegiël.
“Watter een? Hierdie Nasarener?”
“Ja’k, daardie timmerman …”
“Hy’s ’n nikswerd – te lui om te werk. Loop al van kleins af en slimpraatjies verkoop. Hou Hom slim met die skrifgeleerdes en die Fariseërs.”
“Maar hulle sê daar’s ’n klomp wat Hom volg,” por Simon aan.
“Daardie klomp van Galilea sal enigiemand volg. As ek daar kom en ek sê ek is Moses, sal hulle dit ook glo. Hulle glo alles. Klomp vissers en leerlooiers en skaapwagters …”
“Hulle sê Hy doen wonderwerke … maak siekes gesond.”
“Nou wat is snaaks daaraan? Simon van Samaria doen ook wonderwerke.”
“Dis wat ek netnou vir Debora gesê het,” antwoord Simon verlig.
“Jy moet hoor wat ek vir jou sê, Simon Niger – hierdie timmerman gaan nog moeilikheid veroorsaak – net soos daardie Judas die Galileër wat die opstand gelei het. Hy wou ook grootmeneer speel. En die gevolg? Rome het Israel laat bloei.”
“Ja, ’n klomp is gekruisig.”
“As hierdie Nasarener iets werd is, hoekom het Hy nie die Doper uit die kloue van Herodes gered nie?”
“Maar dis mos wat ek sê,” beaam Simon dit. “Moses het water uit die rots gekry, maar hierdie man kon nie eens die Doper se kop red nie!”
Esegiël se sorgelose lag laat Simon sommer beter voel.
“Hulle sê ’n jong Fariseër het Hom in die tempel vasgevra sodat Hy sommer koers gevat het veld toe,” korswel Esegiël. “Ek hoor sy grootste handlanger is ene Petrus, ’n visserman van Galilea. ’n Visserman, wil jy glo!”
Esegiël maak rug reguit en praat opsetlik nie dadelik nie, want hy wil ’n groot ding sê.
“Maar dis nog niks,” sê hy oplaas en merk Simon luister aandagtig. “… Het jy al gehoor van daardie Matteus?”
“Matteus? Wie en wat is hy?” vra Simon sonder om sy werk te onderbreek. “Ook ’n visserman – of dalk ’n timmerman?”
“Nee, nie ’n visser nie; ook nie ’n timmerman nie.” Esegiël bly ’n oomblik stil om al Simon se aandag af te dwing. “Dié Matteus is ’n tollenaar … Ja, ’n tollenaar! En wil jy glo, die Nasarener het in sy huis gaan eet, so hoor ek.”
Simon gooi die koring skoon by die sak se bek verby. Hy leun swaar op die skop se steel.
“’n Tollenaar?” sê hy met afsku. “’n Tollenaar is tog ’n skurk, ’n verraaier, ’n lakei van Rome. En Hy gaan eet by so ’n man? … Dan is Hy nie ’n Jood nie! ’n Man wat met ’n tollenaar omgaan, is ’n verraaier van Israel – ’n skandvlek op die heilige tempel.”
Dan kyk Simon Esegiël vas in oë. “… Net soos my twee seuns. Waarom sê jy dit nie? Dit is wat jy dink, Esegiël, en dis waar!”
Esegiël kyk weg oor die see, sê niks.
“… Die een is ’n handlanger van Rome en die ander leer by ’n heiden pleks dat hy die profete van Israel leer verstaan.”
Simon wag dat Esegiël iets moet sê, maar hy praat nie. Sy swye tref Simon harder as ’n veroordeling.
“Laat ons klaarmaak,” sê Simon naderhand. “Dis laat.”
Hulle gooi die res van die koring in die sakke.
“Wat van Vitellius … as hy vir Quirinius gaan sê ons het hulle aangeval?” vra Esegiël toe hulle klaar is.
Simon huiwer voordat hy weer praat. Hy het klaar geoes, maar die gedagte gee aan hom geen vreugde nie.
“Jy is verniet bang, Esegiël,” probeer hy troos. “Quirinius sal vir Vitellius uitlag as hy hoor twee Jode het hom en twee soldate amper oorrompel. Ons het hulle mos nie bloedgelaat nie – net skrikgemaak. En ek het jou gesê ek sal die skuld dra.”
Toe draai hy om en loop weg huis toe. Esegiël loop weg, Juba loop weg, al drie in verskillende rigtings.
Simon stap vinnig deur die wingerd. Nou kyk hy nie hoe die korrels al geswel het nie, want hy is te omgekrap. ’n Tollenaar vir ’n volgeling, en dan sê hulle Hy is die Messias, mor hy. Hy wens Herodes kap sy kop af; dit is minder werd as die Doper s’n.
Toe Simon die huis nader wat hy en Esegiël hier in die buitewyke van Cirene gebou het, betrag hy dit met trots. Dit is ’n plat huis met ’n gerieflike dak waarop jy kan rus wanneer dit koel is. Die populiere gooi swart skaduwees teen die mure.
Simon loop oor die werf tot in die deur van Debora se kombuis. Sy draai voor die herd om en haar oë lag.
“Jy is klaar, my man! Jy het klaar geoes …?”
Sy sê dit dankbaar, trots, bewonderend.
Hy kom binne, ruk die wynsak van die pen teen die muur af en drink groot slukke.
“Ja, ek is klaar geoes, my vrou.” En dan, byna in dieselfde asem: “Hierdie Messias van jou het in ’n tollenaar se huis geëet. Bid jou aan!”
Hy wag op haar verontwaardiging, maar sy bly kalm waar sy hier langs die tafel staan wat hy vir haar gemaak het van skeepshout wat op Cirene se strand uitgespoel het.
Sy praat rustig, sonder skok of opwinding. “Hulle sê Hy is so. Hy’t gesê Hy’t gekom om die sondaars te verlos. Selfs die tollenaars …”
“’n Tollenaar is meer as ’n sondaar. Hy’s ’n verraaier! Hy pers sy volk af om Rome se koffers te vul. Dit weet jy.”
Sy gaan sit langs die tafel met haar hande in haar skoot, haar oë hunkerend. “Sondaars en armes. Hulle sê Hy ontferm hom oor hulle.” Skielik is daar geesdrif in haar stem. “Eenkeer het Hy op ’n berg gestaan en preek. Toe het Hy gesê die armes sal die koninkryk van die hemele beërwe …”
“Die armes,” sê Simon verkleinerend en loop na die wasbalie in die hoek. “Die armes en tollenaars – dit is sy kudde.”
“Ons was ook eenkeer arm, Simon Niger …”
“Maar ons was nog nooit tollenaars nie!” roep hy uit. “Ons het nog altyd trou gebly aan Israel.”
“Hulle sê sy koninkryk is van die hemel nie van die aarde nie.”
Hy draai woedend om. “Ek wil niks meer van hierdie Nasarener hoor nie, hoor jy my, Debora? Ons het klaar gepraat oor Hom. Elke keer kom jy na Hom toe terug. Dit is al lank so, maar nou is dit genoeg. Dit is nou genoeg!”
“Dit is jy wat nou oor Hom kom praat het …” sê sy sag.
Debora se kalmte ontsenu hom. Hy draai verleë om en gaan steek sy hande in die wasbalie, snork en proes, was hom driftig.
Toe hy klaar is, is hy ook meteens kalm. “Ek het te hard met jou gepraat,” sê hy boetvaardig. “En dit alles oor hierdie Nasarener … Is ek vergewe?”
“Jy is altyd vergewe nog voordat jy verbrou het.”
Haar glimlag dryf die onstuimigheid uit hom. Hy gaan haal die lang haakstok van die muur af. “Ek loop nou my vee nader haal.”
Maar in die deur steek hy vas. “Vanmiddag ’n potjie geloop met hierdie taksateur Vitellius; hom met die jaagbesem gemoker.”
“Simon, nee!” Sy spring op. “Wat makeer jou? Vitellius is ’n Romein!”
“Ja; ek en Esegiël het hom en twee soldate amper katswink gehad.” Hy lag sorgeloos. “Wil my mos een en ’n half denarius die mud betaal net asof ek ’n slaaf is.”
“Quirinius sal jou straf, Simon. Waarom hoor jy nie?”
“My koring is my koring, vrou – nie Vitellius s’n nie en ook nie Quirinius s’n nie en ook nie Tiberius s’n nie. Hulle …”
Simon praat nie klaar nie, want ’n man het voor die deur verskyn. Hy is nog jonk, maar groot van gestalte, met ’n swart baard. Simon staar na die jong man wat die kleed van ’n Romeinse seeman aanhet – skoon verwese, want dit is sy ewebeeld wat daar staan.