Читать книгу Man van Cirene - F.A. Venter - Страница 11

7

Оглавление

Esegiël, wat heel voor ry, hou sy kameel skielik in en die klein karavaan kom tot stilstand. Hy beduie na die ooste.

“Alexandrië,” sê hy moeg, maar opgewek. “Daar lê Alexandrië.”

Cleopatra se stad lê soos ’n wit swaan in die blou waas van die vroeë aand.

Simon hou Debora dop wat sprakeloos kyk na die wanorde van tempelspitse, koepels en die swaai van die see waarop die seile van skepe nog duidelik sigbaar is in die skemer.

“Ons is vry, Debora,” sê Simon skor, sy gesig vaal van baie dae se stof. “Eindelik is ons weer vry.”

Debora praat nie. Haar oë glinster.

Hy druk sy kameel nader, druk haar hand en sy voel die ou krag in sy greep.

“God het ons gelei, net soos Hy Israel deur die Sinaiwoestyn gelei het,” sê hy.

“Dit was baie dae,” sug sy en soek na dié deel van die stad waar sy en Simon vir die eerste keer by mekaar uitgekom het.

“Ja, bitter dae,” sê Simon en hy kan aan haar sien hoedat Cirene haar nog vashou.

Daarom gly hy van sy kameel af en laat hare lê. Hy help haar van die dier af.

“Nie meer lank nie, dan is ons by Rufus,” troos Simon.

“Sal ons vanaand nog by hom kan uitkom?” vra Debora.

“Ons sal was en regmaak en dan gaan ons in.”

“Sal ons veilig wees? Die arms van Rome is lank …”

“Ons sal veilig wees. Niemand kon vinniger as ons getrek het nie,” verseker Simon. “Esegiël, Juba … ons maak reg, dan gaan ons in.”

Simon loop ’n paar tree tot waar hy alleen is, met sy gesig na die weste, na Cirene. Hy luister, soek na gevaar. Hy besef weer hoe ontsaglik sy oortreding is, en hy weet Rome laat nie met hom speel nie … Maar toe lê Cirene weer op sy gemoed beslag.

Hy is terug op sy grond – hoor die koei bulk, hoor die ruising van die wingerd en olyfboord.

Hy sien Groot Miga met sy bloeiende seun in sy arms.

Die lang pad waarmee hulle gekom het, met die see langs, oor plato’s, oor oneindige sandvlaktes waar die horison bewe van die hitte, lê egter onverbiddelik tussen hom en alles wat vir hom dierbaar was.

Jy is ’n lafaard, Simon Niger, dink hy met wrange selfverwyt. Jy moes nie gevlug het nie.

Hy skrik toe Debora langs hom praat. “Kom nou maar … wat was, is verby. Cirene behoort nie meer aan ons nie.”

“Ja, dit is waar,” sê hy net.

Hulle loop terug na die kamele, en haar woorde brand deur hom. Nou verstaan hy hoe onherroeplik die afskeid is.

In die donker was hulle met die water waarmee hulle die sakke net voor die middag by die watergat volgemaak het.

Nadat hulle klaar gewas het, haal hy vir haar ’n pak van die kameel af en sy trek die purper kleed aan wat Alexander vir haar gebring het.

“Simon Niger,” sê Esegiël, “nou kan ons weer karavaandrywers word en die wêreld sien.”

“Nee, nie weer karavane vir my nie,” antwoord Simon beslis. “Ek wil op die grond werk – iewers, ek weet nie waar nie.”

“Dalk kan ons na Jerusalem gaan,” sê Debora en vryf mirresalf in haar hande in. “Of miskien kan ons verder gaan na Galilea. Hulle sê daar is vrugbare grond, mooi valleie …”

Simon, wat sy tulband staan en omwoel, hou dadelik op daarmee. “Wat moet ons in Galilea gaan soek?”

“Dis ver van Cirene af,” skerm Debora. “Daar sal ons veiliger wees.”

“Maar dis die kontrei van hierdie Nasarener,” kla Simon.

“Wat het ons met die Nasarener te doen, my man?” Debora probeer onverskillig klink.

“Ek en my huis sal tot in ewigheid niks met hierdie timmerman te doen hê nie,” sê Simon heftig. “Ek wil nie eens naby Hom wees nie.”

“Hy het ons nog geen leed aangedoen nie. Waarom vaar jy so teen Hom uit?” hou Debora vol, want sy vererg haar altyd wanneer Simon so blind-opstandig is. So onredelik.

“Hy gaan Israel nog leed aandoen,” kap Simon teë. “Hy’s kop in een mus met die Romeine. Sê mos ons moet aan die keiser gee wat die keiser toekom … Los nou die Nasarener. Ek is moeg; ek wil nie verder oor hom praat nie. Ja, moeg en ontsteld, verstaan jy, Debora?”

Debora gehoorsaam, maar sy voel hartseer, ontsteld omdat Simon so onversetlik is. Hy hou selfs nie ’n skrefie van sy siel vir die Nasarener oop nie.

En Juba die Numidiër, wat alles gehoor het, wonder hoe hierdie vreemde Man lyk wat almal se vriend is, wat almal liefhet, soos hulle sê. Eendag het hy twee Jode op die mark in Cirene oor die Man hoor praat, gedemp en versigtig asof dit ’n skande is. Hy het hulle hoor sê hoe hierdie Jood die kneg van ’n Romein gesond gemaak het. Hy kan dit nie verstaan nie, maar hy weet dit is reg en goed.

Hy het nog nooit daaroor gepraat nie, want hy is ’n slaaf. Maar van die dag dat hy sy leermeester se hoop waatlemoene en spanspekke op die mark in Cirene opgepas het, spits hy sy ore. Hy het ander manne oor Hom hoor praat – partykeer op die lande, partykeer op die mark, partykeer langs die leivoor. Hy het hulle hoor sê hierdie Man vertel alle mense in sy koninkryk is gelyk: Romeine, Jode, Grieke – selfs die Egiptenare, Numidiërs en die Perse.

Hy wonder waar is dié Man se koninkryk – dalk anderkant die Jordaan waar hy, sy leermeester en Esegiël op ’n keer ’n spul kamele loop haal het. Of dalk anderkant Damaskus, daar ver in die Taurusberge, waar rowers hulle dood sou gemaak het as sy groot leermeester nie so bedrewe met die swaard was nie. Of dalk in die Eufraatvallei, waar dit so groen is.

Dit alles gaan deur Juba se gedagte terwyl hy die buikgord van sy kameel stywer trek.

Die Numidiërs? Nee, die Numidiërs kan darem seker nie in dieselfde koninkryk as die Romeine wees nie. Sy leermeester het hom immers vertel die Numidiërs en die Etiopiërs en al die ander swart nasies sal altyd moet water en hout aandra, want hul eerste vader het ’n groot sonde gepleeg. Dit staan so in die groot Boek geskryf.

Dit is waar, want hy is ’n slaaf en sy twee broers roskam perde in die stalle van Rome. Sy vader was ’n galeislaaf op die skepe.

Tog koester hy in ’n hoekie van sy hart ’n klein vooruitsig. Dalk sien hy nog die goeie Man as hulle straks in Galilea kom. Dan gaan hy Hom vra of Numidiërs ook die gelykes van ander mense kan wees.

“Waarvoor wag jy, Juba?” vra Esegiël. Juba klim vervaard op sy kameel. Toe eers besef hy die ander het almal al opgeklim terwyl hy aan dié vreemde Man gestaan en dink het.

Simon lei hulle weer nader na die kus toe, want hier is hulle nie ver van die karavaanroete af nie en hy verwag maar steeds om Romeinse ruiters agter hulle te hoor.

“Onthou jy die adres reg, my vrou?” vra hy in die ry vir Debora.

“Hoe sal ek dan Rufus se adres vergeet? Hy woon by goeie mense langs die kanaal, nie ver van die hawe af nie. Gaan ons nou dadelik na Rufus toe?”

“Sonder versuim,” antwoord Simon geesdriftig, en dit doen haar hart goed om hom só te hoor praat.

Hulle gaan die stad aan die kant van die Griekse buurt binne en vermy die breë strate met hul ronde bome. Hulle voel vreemd en verlore, want Alexandrië het baie uitgebrei vandat hulle laas hier was, soveel jare gelede.

“Die stad van die groot geleerdheid,” sê Simon eerbiedig. “Hulle sê hier is meer geleerdes as in Rome of Athene.”

“Die stad van ons eerste liefde,” mymer Debora. Haar stem klink net so innig as daardie aand toe hulle hier onder die lang prieel mekaar gevind het.

Simon lei hulle na links, na die see se kant toe, oor ’n halfmaanbrug oor die kanaal wat Augustus laat bou het, en dan weer langs die kanaal af. Hy ken hierdie gedeelte van die stad nog.

Hier is die huisies plat en onaansienlik, kruip weg agter tuintjies, agter vye- en dadelbome. Die enigste lig is die dun gloed van die maan. “Die Joodse buurt,” sê Simon.

Hulle soek-soek. Waar gaan hulle beland, wonder hy. Alexandrië is te gevaarlik. Hier kan die Romeine hulle opspoor. Dalk sal moeder Naomi raad weet, die wyse vrou van wie Rufus meermale geskryf het.

“Rufus het laat weet daar is ’n groot vyeboom voor die huis – groter as voor die ander – en ’n lang prieel,” sê Debora.

Toe gewaar hulle die man wat van die kanaal af by die straat indraai, half krom onder die draagstok waaraan twee emmers swaai. Simon druk sy kameel op en haal die man gou in.

“Hierso, vriend! Ek soek na die huis van die weduwee Naomi. Sy woon iewers in hierdie straat langs die kanaal.”

Die man antwoord nie.

“Ek sê … die weduwee Naomi – waar is haar huis?” vra Simon weer.

Die vreemdeling draai vinnig om en draf so haastig onder die digte palms in dat die water uit sy emmers spat.

Simon skrik. Hy sit’n oomblik besluiteloos op sy kameel, toe draai hy hom na die ander wat langs hom kom stilhou het. “Ry ’n entjie terug en draai dan na die kanaal en bly daar,” gebied hy. “Trek die kamele onder skuiling in. Vat myne saam.”

Daarmee gly hy van sy rydier af.

“Wat gaan jy maak, Simon?” vra Debora onthuts.

“Ek gaan die huis soek. Ek vertrou die vrede nie. Ry sodat julle kan wegkom uit die straat.”

Simon glip oor die straat, die skaduwees van dadelpalms en sipresse binne. Hy loop vinnig, al voor die huise langs, soekend. Die een huis lyk vir hom net soos die ander, die een boom net soos die ander. Dit is asof iets in die skaduwees onder die bome dreig.

Voor die tuin van die derde huis loop Simon hom in iemand vas, hard en onverwags.

Man van Cirene

Подняться наверх