Читать книгу Man van Cirene - F.A. Venter - Страница 7

3

Оглавление

Ná al die dae van wag en verlang, staan Alexander nou daar, sy een skouer kaal, soos dié van ’n Romein, ’n kort swaard langs sy sy, breë bande van rooi varkleer waarop bronspuntjies blink, om sy polse.

Simon en Debora kan nie praat nie; staar net na die litteken op sy wang, wat hom ouer laat lyk.

Alexander praat eerste. “Vader … Moeder!” roep hy uit. Hy gryp Simon aan die skouers en groet so.

“My seun,” snak Simon, “jy is terug!”

Alexander spring na sy moeder toe, druk haar teen hom vas, want sy huil en lag tegelyk. Toe hy haar eindelik los, gaan sit sy en kyk deur haar trane na hom. “Ons het al so baie na die skepe gekyk … en gewag,” sê sy.

“Sit!” beveel Simon en sleep ’n bankie nader. “Sit, Alexander, dat ons kan praat.” Die kaal skouer, die Romeinse gewaad val hom op, maar hy stoot dit van hom weg.

“Ek is by die huis. Ek kan dit nie glo nie!” roep Alexander uit en kom langs die tafel sit.

“Ek het eerder my dood verwag,” beken Debora en vee haar oë droog.

Simon se baard bewe. “Drie jaar … drie jaar het ons jou nooit gesien nie, my seun … Bring wyn, Moeder,” vra hy en slaan op die tafel. “Bring wyn dat ons kan vier.”

Hy lag en vee sy baard van sy lippe af weg. “Twee groot gebeurtenisse op dieselfde dag – ek oes klaar en my oudste kom terug …”

Alexander gryp sy vader se hande vas. “Drie jaar is lank,” sê hy ná ’n rukkie. “Ek was bly om die kus van Cirene weer te sien.”

Debora draf opgewonde rond, bring die erdekraf met wyn, die swaar bronsbekers. Snuif, loer telkens na Alexander.

“Jy het ’n man geword, en ek en jou moeder het oud geword,” sê Simon.

“Vader,” sê Debora in die woel, “jy moet vir ons gou ’n vet lam slag – ons vleis is min; en ek het jou gesê jy moet ’n skepel koring bring.”

“Jou moeder is nog altyd baas – en ek die slaaf,” terg Simon en lag dawerend. Alexander lag saam en knipoog vir Debora. Dié klein gebaar, so intiem en liefdevol, laat Simon vry en gelukkig voel. In Alexander se laggende gesig sien hy sy eie jeug.

Simon skink die bekers oorhaastig vol. “Op jou koms, my seun!” sê hy en lig sy beker hoog. “Moeder, op die koms van ons kind …”

Sy kom sit by hulle en voel lus om die litteken op Alexander se wang aan te raak. Net een maal.

“Dis vir my ’n groot dag,” sê Alexander opgewonde.

“Ja, dit is ’n groot dag.” Simon se stem is hees. “Moeder, ons hou hom nou hier.”

Alexander kyk in sy beker af. “Is Rufus dan nie hier nie?” vra hy.

Simon lag spottend en praat kamma vertroulik, met sy hand op Alexander se skouer. “Rufus – hy leer in Alexandrië onder Philo, die groot man … Ek dink hy wil ’n senator word.”

Debora se oë versomber.

“Ek sal hom graag wil sien,” sê Alexander bloot om iets te sê, want skielik is daar spanning.

“Ja, hy leer onder Philo,” antwoord Simon skielik ernstig. “Vir wát, weet ek nie. Die Wet van Moses en die woord van die profete is al wat ons hoef te ken.”

“Jy’s te ernstig, Vader,” sê Debora gespanne. “Alexander se beker is leeg.”

Simon skink hul bekers vol.

“Ek is so bly my ouers is nog gesond,” sê Alexander, want hy het opgemerk hoe Simon se gesig verander het.

“Ons is gesond en die Allerhoogste het ons geseën, ja,” antwoord Simon. “Hy het ons liggame en ons arbeid geseën.” En toe heel onverwags: “Drie jaar … Drie volle jare … Waar het jy die hele tyd rondgedwaal, Alexander?”

Alexander praat rustig, trots. “Ek het ver gereis, Vader. Ek was al ’n paar maal in die hawens van Spanje, het deur die Poort van Herkules gevaar. Dáár olie, heuning en velle gaan haal. Was al ’n paar maal Tarsus toe om sederhout vir die bouwerk van keiser Tiberius te laai. Ek was al dikwels in Joppe vir leer uit Jerusalem se kuipe; en in Alexandrië, waar ons elke jaar ’n paar maal papirus gaan laai, en seil, linne, katoen, sy – en koring.”

Iets flits in Simon se oë, maar hy praat nie.

“… En ek was al baiemaal in die hawens van die Griekse eilande – Rhodos en Chios en die ander. Dis daar waar hulle die fyn klere vir vroue maak.”

Debora is die ene bewondering.

Simon streel bloot sy baard, sy oë uitdrukkingloos.

Skielik staan Alexander op en gaan na buite.

Hy kom dadelik terug met ’n groot bondel, sit dit op die tafel neer.

“Ek het ’n paar goedjies huis toe gebring.” Hy knoop die seil los. Die eerste wat hy uithaal, is ’n swart kierie. “Elke keer as Vader hiermee loop, moet Vader aan my dink.”

Simon verwonder hom aan die mooi kierie. Laat gly dit deur sy growwe hande.

In die Persiese Golf gekoop, vertel Alexander. Dis van swart ebbehout uit Afrika – en die handvatsel is van ivoor.

Simon loop ’n draai, swaai die kierie windmakerig, en Debora verkneukel haar in sy kinderlikheid.

“Hy’s mooi, Alexander,” spog Simon. “Ek sal hom mooi oppas en aan jou dink wanneer ek hom gebruik.”

“En hier is iets vir Moeder.” Alexander oorhandig ’n Romeinse armband van geelkoper. Sy kyk waarderend na die fyn handewerk, na die breë slangkop daarop afgedruk. Alexander skuif dit oor haar pols, en sy soen sy kneukels.

“… En hierdie het ek in Joppe gekoop. By Simon die leerlooier – die beste looier en skoenmaker in die hele Judea.”

Dadelik spot Simon toe Alexander die pragtige paar sandale in sy hande lê: “Met my nuwe kierie en my nuwe sandale kan ek vir die goewerneur gaan kuier!”

Alexander vroetel in die bondel en haal nog goed uit – ’n ronde waterfles vir Simon, ’n stel Romeinse vishoeke en ’n stel Romeinse messe met breë lemme; en vir Debora ’n fyn vaas van Romeinse glas, ’n klein vaatjie geurige salf en ’n bronslamp in die vorm van ’n swaan.

Sy raak aan alles en weer is sy in trane. Simon voel-voel met sy duim aan die meslemme, betrag die vishoeke en ruik in die waterfles.

En hy verbeel hom Alexander se hart behoort tog nog aan hulle.

“Hierdie het ek vir Rufus gebring, maar nou is hy nie hier nie.” Alexander haal ’n vergulde harp te voorskyn.

Debora trek haar asem in en neem die harp by hom. “O, dis pragtig! Ek sal dit vir Rufus hou – dit bewaar.”

Simon trek sy duim oor die snare en die klanke tril fyntjies. “Nou kan jy altyd vir my speel, Moeder – wanneer ons alleen is,” sê hy.

Maar Debora hoor hom skaars, staan hygend daar. “Alexander, my kind!” is al wat sy kan sê.

Alexander hou sy hande hoog en sprei die ragfyn kledingstuk uit. Dit is sag soos ’n wolk, deurskynend, purper.

“Dié het ek in Efese gekoop,” sê hy trots. “Hulle noem dit Tirrheense purper, wat in Babilonië gemaak word – spesiaal vir Moeder.”

Debora omhels hom, druk haar gesig teen hom vas. Simon se oë brand en hy bekyk sommer die harp.

“Jy het ons tog nie vergeet nie,” huil Debora, neem die kleed en druk dit teen haar gesig.

“Dis pragtig,” fluister sy.

Deur haar trane sien sy weer die litteken wat sy jeug ontsier, wat hom anders maak as die jongeling wat drie jaar gelede met die Romeinse galei weggevaar het toe sy en Simon verlore op die houtkaai vir hom gestaan en wuif het.

Debora sit haar hande op sy wange, baie liggies asof sy bang is daardie litteken pyn nog. “Dankie, my Alexander,” sê sy sag. “Ons kan sien jy het ons tog nie vergeet nie.”

Sonder dat sy dit bedoel, streel sy met haar duim oor die letsel. Die vraag in haar oë is so dwingend dat Alexander besef hy moet nou praat.

“’n Slaaf …” sê hy kil. “’n Slaaf het my geslaan – met die skerp kant van ’n roeispaan. Dit was ver op die oop see duskant Kreta …”

“’n Slaaf?” vra Simon skerp.

Alexander gaan sit, vat sy wynbeker vas.

“’n Slaaf, ja. ’n Wreedaard uit Sirië … Ek het sy kop ingeslaan …”

Debora stryk met haar hand oor die grein van die tafel.

“Maar ’n slaaf … wat het jy met ’n slaaf te doen?” vra Simon.

Alexander huiwer, maar dit duur net ’n oomblik. “Ek is ’n slaweopsigter op die galei wat vandag hier aangekom het.”

Simon kom half orent, maar gaan weer sit soos een wat baie moeg is.

“Jy’s ’n slawedrywer vir die Romeine?” vra hy verstom.

“Daar moet slaweopsigters ook wees,” antwoord Alexander.

“Maar jy’s my seun! Jy’s ’n Jood!”

Die ergernis flikker in Alexander se oë, maar hy bedwing hom. “Vader,” sê hy, “Rome regeer die wêreld en keiser Tiberius is die groot vors; wat help dit om ons te verset?”

Simon praat verbasend kalm. “Daar is net een groot vors en dit is die Allerhoogste. Hy regeer die aarde. Rome is baas oor ons wandel, maar nie oor ons harte nie. Daardie slawe is sy skepsels.”

“Hulle is misdadigers.”

“Hulle is nie misdadigers nie. Hulle is deur Germanicus en hierdie einste Tiberius van hul huise en hul mense weggeskeur omdat hulle nie voor Rome wou buig nie. Nou word hulle soos diere mishandel – en my seun is een van dié wat hulle mishandel.”

Simon skuifel na die wasvat en gooi water oor sy gesig.

Debora het vinnig opgestaan, stook die vuur in die herd en praat aanmekaar. “Vader, jy praat so baie – ek wil hê jy moet ’n vet lam slag; dit is al laat. Ek wil vir ons die twee ribbes braai … Alexander is seker honger … Dit is drie jaar sedert hy laas aan ons tafel geëet het … Ek wens Rufus was ook nou hier, dan was ons almal bymekaar … En jy’t nooit vir my daardie koring gebring nie … Wil jy nie ook was nie, Alexander, my kind? Ons kan vir jou ’n balie vars water gee.”

Simon draai daar by die vat om en sy stem sny deur Debora se gepraat. “Alexander, as jy aanhou om ’n slawedrywer te wees, moet jy nie weer in my huis kom nie.”

Debora sit die deegskottel hard op die tafel neer. “Simon, hy is ons kind. Jy gaan hom nie wegjaag nie. Ek is sy moeder. Ek sal dit nie toelaat nie.”

Alexander staan op, uitdagend. Sy letsel is nou baie opvallend in die lig van die olielamp wat Debora intussen opgesteek het. “Word ek as oudste die huis belet omdat u Rome haat, Vader?”

“Jy is ’n slawedrywer … Dit is vir my net so erg soos ’n tollenaar. Altwee is ’n skande vir Israel.”

“As ek dan ’n skande is, moet ek seker maar hier wegbly,” sê Alexander, maar hy is dadelik spyt hy het dit gesê. Hy het hierdie oomblik lank gevrees, maar hy het so na hulle verlang dat hy dit nie kon vermy nie. Hy moet niks doen of sê wat hulle kan seermaak nie. Hul ontnugtering, hul teleurstelling, selfs Simon se woede, dié moet hy verduur. Daarom bekyk hy maar sy offerande daar op die tafel – die harp, die purperkleed uit Efese, die ebbehoutkierie – en alles lyk skielik so betekenisloos. Hy hoor sy moeder agter hom by die herd werk, hy hoor Simon swaar asemhaal.

Hy soek na woorde om vir Simon te sê, maar hy vind dit nie. Nou, die eerste maal, besef hy hoe groot die afstand is tussen ’n slawedrywer van Rome en ’n Jood wat wil leef soos Moses voorgeskryf het.

Oplaas praat Alexander kalm, boetvaardig. “Dit spyt my as ek iets gesê het wat ek nie moes gesê het nie. Ek wou u nie seermaak nie.”

“Waarom bly jy nie hier nie, my kind?” vra Debora van die herd af waar sy doelloos potte rondskuif. “Hier is baie werk in Cirene.”

Simon staan nader. “Ja, waarom bly jy nie hier nie?” Hy kom nóg nader, praat pleitend. “Ek sal jou die olyfboord gee – en die oliepers. Net vir jou. Ek sal die wingerd behou. Ek en jou moeder het nie meer so baie nodig nie.” Hy bly eers stil, soek na ’n reaksie by Alexander.

“… En die saailand sal ek jou gee. Ek en Esegiël sal jou op die grond help. Die grond is goed. Jy kan hier meer maak as op see. Ek en jou moeder het hier uit die grond opgestaan.”

Alexander trek sy vingers nadenkend oor die harp se snare.

“Dit maak my hartseer as u so goed vir my wil wees,” sê hy aangedaan. “Maar ek kan nie hier bly nie. Moet my nie vra om hier te bly nie, want dit is onmoontlik!”

“Waarom is dit onmoontlik?” vra Simon. “Jy is op dié grond gebore. Daar was ’n tyd toe jy vir my tougelei het.”

“Ek het weggegaan omdat die see my geroep het. Ek kan die see nie prysgee nie. Die see laat jou nie los nie.”

“Dan wil jy ’n slawedrywer bly?”

“Ek wil op die see bly, Vader. Dalk word ek nog gesagvoerder van ’n skip.”

“Ek verstaan. Ek kan sien Rome is in jou bloed …”

“Dit is nie dit nie,” antwoord Alexander. “Ek is verknog aan die see; nie aan die grond nie. Ek kan nie anders nie.”

Alexander praat nog toe is Simon by die deur uit die aand in. Hy gaan staan op die werf, loop dan in die koel wind uit die woestyn stadig verder tot onder die populiere. Cirene is ’n donker massa in die sterwende lig wat môre weer anderkant Jerusalem sal uitkom.

Maar Simon sien dit nie raak me. Hy loop onder die bome uit na sy koring toe, asof iets diep in hom hom daarheen dryf.

“Miskien moes ek liewer nie gekom het nie,” sê Alexander toe hy langs die tafel Debora se hande in syne neem. “Maar ek was drie jaar weg.”

“Daardie drie jaar het hom laat verander,” antwoord Debora. “Dit het al vroeër begin, maar die afgelope drie jaar het hy heeltemal verander.”

“Hy ís anders. Hy haat Rome. Tog het hy my en Rufus vreemde name gegee?”

“Daar is iets wat jy moet weet,” sê sy en maak haar hande uit syne los. “Ons het nog nooit daaroor gepraat nie, maar nou het jy dit genoem en ek vermoed jy meen jou vader huigel omdat hy nou so teen Rome is … Daarom moet jy nou weet …”

“Vertel,” sê Alexander die ene afwagting. “Alexander … en Rufus. Ek het hom daarmee seergemaak …” Alexander se oë is nou van ’n ou herinnering.

“Ja, jy het hom daarmee seergemaak – dieper as wat jy seker verstaan. Dit is by hom ’n groot verwyt noudat hy so verander het.”

En toe vertel Debora hom die verhaal van Alexander en Rufus.

Toe hulle ná die groot opstand uit Alexandrië in Cirene aankom, was hulle jonk en arm. Dit was die jaar toe amper die hele Egipte teen Rome opgestaan het. Rome het gesê dit is die Jode se skuld. Baie het gesterf – aan kruise. Maar sy en Simon het weggekom. Daar was ’n Griek – Alexander Deandros, ’n goeie man, ’n groot handelaar wat langs die kanaal gewoon het. Simon het vir hom gewerk. Ver vir hom gereis met sy karavane – partykeer tot ver anderkant Damaskus, soms tot aan die Persiese Golf. Alexander Deandros het hul lewe gered – twee kamele gegee … en kos en geld. Hy het hulle betyds gewaarsku. Hy het in die stadsregering van Alexandrië gesit en het vooraf van die Egiptiese opstand geweet; hy het geweet van die Romeinse wraak.

“Waarom het u nie na Jerusalem gevlug nie?”

“Nee, Alexander Deandros het ons na Cirene gestuur. Die meeste Jode het op pad na Jerusalem gesterf. Later het jou vader weer vir Alexander gewerk – totdat hy sy eie baas geword het. Alexander het hom vyf kamele present gegee. En toe jy gebore is, het ons jou na hom genoem – uit dankbaarheid.”

“Nou verstaan ek,” sê Alexander. “En Rufus?”

“’n Weldaad het ook aan Rufus sy naam gegee. Toe ons in Cirene kom, was hier ’n hoofman oor honderd, Cornelius Rufus, ’n goeie Romein en baie sterk. ’n Ernstige man wat graag wou leer.”

Aan haar oë kan hy sien dié herinnering is vir haar ’n teer saak.

“Rufus en Simon het groot vriende geword,” vertel Debora. “Hulle het baiemaal gestoei en kragte gemeet. Simon bewaar vandag nog die kort knuppel waarmee hy en Cornelius Rufus knuppel getrek het. En hulle het spies gegooi. Simon het Rufus altyd geklop.

“Hulle het baie geredeneer. Simon het altyd gesê daar is net een lewende Allerhoogste en dit is die God van Abraham, Isak en Jakob, en hy het gespot met Cornelius Rufus se gode – die lewelose Mars en Jupiter en al die ander. Totdat Cornelius begin glo het …”

“’n Romein in die geloof van Israel?” vra Alexander verwonderd.

“Ja, hy het begin glo. Jou vader het hom gemaak glo. En toe Rufus begin glo, kon hy nie meer ’n soldaat wees nie. Hy wou nie meer trou aan Tiberius sweer nie. Hy het hom uit die leër losgekoop en in ons huis kom bly.

“Cornelius Rufus het saam met Simon op sy karavaantogte gegaan. En toe het dit weer tyd geword vir die Spele van Actium …”

“Actium? Dit is waar Augustus vir Antonius en Cleopatra verslaan het?”

Debora glimlag ingenome omdat hy daarvan weet. “Dit is reg. Jou vader en Cornelius het aangebied om wilde diere te help vang vir die spele. Hulle was altyd lus vir avontuur. Hulle het ver langs die Nyl opgetrek, en daar het ’n leeu jou vader eendag bestorm voordat hulle die tounet oor hom kon gooi.”

Dit duur ’n rukkie voordat Debora verder praat. “As Cornelius Rufus nie die dag daar was nie, sou jou vader sekerlik gesterf het. Cornelius het die dier met ’n spies aangeval. Hy het saam met die leeu gesterf. Toe jou vader terugkom, was Rufus ’n maand oud. Ons het hom Rufus genoem – dit is soos dit gekom het.”

“Vreemd dat Vader ons dit nooit vertel het nie; hy het ons so baie ander dinge vertel – van sy reise, sy gevegte met rowers …”

“Hy praat nie graag daaroor nie, Alexander. Vir hom is dié herinneringe te pynlik.”

“Wat het hom so laat verander? Dié haat?”

“Baie dinge – belastings: die kopbelasting, tiendes, vyfdes; die dood van Johannes die Doper. Die moord op daardie goeie man het hom rasend gemaak. Vir hom is dit weer ’n oorwinning van die onderdrukker oor Israel. Hy is bitter. Hy vervloek Rome. Hy bid elke dag dat die Messias moet kom om Rome uit te roei en Israel weer groot te maak.”

Alexander druk haar hand. “Nou verstaan ek hom beter,” sê hy.

Nadat Simon onder die populiere uitgestap het, loop hy stadig oor ’n geploegde land wat eers aan ’n Jood behoort het, maar nou aan ’n Romein.

Hy gaan skielik botstil staan. Om hom het dit nou heeltemal donker geword. Die laaste lig het agter die paleis van Quirinius weggekwyn.

Hy loop weer ’n paar tree. Dan draf hy; hardloop; struikel oor ou stoppelpolle en kluite.

Kort by die trapvloer steek hy hygend vas. Daar voor hom, in die lig van fakkels, is hulle besig om sy koring op die Romeinse waens te laai …

Man van Cirene

Подняться наверх