Читать книгу Man van Cirene - F.A. Venter - Страница 8

4

Оглавление

Sextus Quirinius, die goewerneur, ’n groot man wat vet geword het weens die weelde van voorspoedige Cirene, neem die gebraaide fisanthart uit die silwerskottel wat ’n slaaf voor hom hou.

Hy doop die fisanthart in die sous in die erdeskottel waarin die bruin speenvark lê, eet dit en hou sy hand uit sodat ’n slaaf dit met ’n vadoek kan afvee.

Die lig van die laat middagson glim op die silwergerei op die ronde tafel, en op die marmermosaïek van die paleisvloer. Wyn vonkel in die silwer drinkbekers.

Waar hy op die versierde eetbank langs die tafel lê, verskuif Quirinius sy lourierkrans ’n slag, trek die toga stywer om sy skouers en kyk oor die skottel met wildsvleis strak na sy gas wat aan die bors van ’n pronkpou lê en peusel.

Quirinius laat die slukkie wyn uit die vallei van die Tiber sy tong streel.

“Julle betaal vanjaar te min vir die koring,” sê Quirinius. “Een en ’n half denarius die mud is te laag – Cirene is gewoond aan twee denarii die mud, of meer.”

Gaius Papinius, ’n slanke edelman met grys slape, loer hovaardig na sy gasheer.

“Dit is wat Cornelius Marsus betaal,” antwoord hy. “Niks meer nie.”

Quirinius dink Gaius Papinius kon ewe goed een van die verderflike publicani gewees het – belastinggaarders met byna onbeperkte gesag, wat deur Julius Caesar afgeskaf is.

“Weet die keiser van die nuwe prys?” vra Quirinius onseker.

“Cornelius Marsus,” sê Papinius, “is ’n man met gesag – hy bespreek nie koringpryse met keiser Tiberius nie.”

“Ons soek nou moeilikheid,” waarsku Quirinius. “Ons het nou lank hier vrede gehad.”

Papinius trek ’n korrel van ’n blou druiwetros af en lag sorgeloos. “Rome is gewoond aan moeilikheid.”

“Waarom betaal julle dan vanjaar minder?”

“Ons betaal steeds vir Germanicus se veldtogte; in Rome is baie monde om te voed. En daar is ’n oorproduksie van koring – hier in Cirene, Egipte, in die Tibervallei, in Judea en Galilea.”

Papinius breek die vlerk van ’n gans af. “Buitendien,” vervolg hy, “Cornelius Marsus het ’n nuwe opvatting. Hy sê hy gaan nie meer die volke van die provinsies verryk ten koste van die skatkis nie.”

Die ergerlikheid maak Quirinius se geswolle wange nog rooier. “Julle in Rome dreun maar op en ons in die provinsies moet die gelag betaal. Daar is klaar onrus, en nou kom hulle met hierdie prys.”

“Daar is altyd onrus in die Ryk, Quirinius. Die Ryk is soos ’n groot reptiel wat vasgekeer word. Dit roer en woel gedurig. Dit is met bloed verower – dit moet met bloed bestendig word.”

“Julle in Rome ken nie die provinsies nie. Toe jy vandag met die graanskip van Ostia af aangekom het, het jy die eerste keer jou voete in Cirene gesit. Hierdie mense werk hard. Hulle wil hul loon kry. En die nuwe koringprys is vir hulle onaanvaarbaar. Hier is baie Jode. Jy ken die Jode. Hulle is rusteloos oor hierdie nuwe leier in Galilea … Hierdie Nasarener. Hy het hulle weer moed gegee.”

Papinius skater dit uit. “Jy het saf geword hier in Cirene, Quirinius. Lyk my jy is ook een van die weekhartiges wat net vrede preek. Jy moet jou hand aan die swaard hou soos Pilatus van Judea …”

“Pilatus is ’n dwaas,” sê Quirinius driftig. “Baie van die sonde wat ons met die Jode het, is aan hom te wyte. Eers kom marsjeer hy Jerusalem binne met die keiser se beeld op die vaandels, en toe gaan gebruik hy inkomste van die Joodse tempel vir ’n waterleiding. Dit het die Jode klaar woedend gemaak. In die provinsies moet jy die volk se tradisies en gevoelens respekteer.”

“Pilatus het nog altyd die Jode op hul plek gehou,” antwoord Papinius. “As daar moeilikheid kom, sal hy hulle verpletter. Jy moet dieselfde doen, Quirinius.” Dan verstyf hy op die rusbank. “As ek jy is, sal ek verstandig wees. Cornelius Marsus is ’n sterk man in die senaat. Hy wil nie moeilikheid hê oor die koringpryse nie.”

Sextus Quirinius haal ’n olyf uit sy mond asof hy skielik nie meer daarvoor lus het nie. “Nóg ek,” sê hy met groot klem, “nóg Pilatus kan ’n idee vernietig. ’n Opstand kan jy verpletter, maar nie ’n idee nie.”

“Jy raak nou ingewikkeld soos ’n digter,” spot Papinius.

“Daar is niks ingewikkelds aan nie. Dit is eenvoudig en dit is waar. Hierdie nuwe Man is vir baie Jode meer as ’n leier. Hy verteenwoordig ’n idee. Hy beteken vir hulle die luister van die ou Jerusalem; Hy is vir hulle die bevryder. Hy moet vir hulle die troon van hul ou vorste weer oprig.”

Papinius verwonder hom dat Quirinius se oë so helder is. Toe die goewerneur weer praat, is sy stem amper nie hoorbaar nie. “Buitendien, vir talle Jode is Hy hul lewende God. Dit is die gevaar. Dit is iets wat jy nie kan aanraak en uitwis nie.”

Woede tril binne-in Papinius. “Hierdie nuwe Man is nie die eerste Joodse rebel nie,” smaal hy. “In Rome weet ons skaars van Hom. Ek verstaan Hy is ’n timmerman. Rome kan nie sy kop breek oor ’n Joodse timmerman nie – veral as die meeste van sy eie mense Hom nie glo nie. ’n Leier? Ek sweer Hy weet nie hoe om op ’n perd te sit of ’n swaard te slyp of ’n boog te span nie.”

Toe Sextus Quirinius weer praat, huiwer sy stem tussen die suile.

“Ek het lank gepraat met ’n hoofman oor honderd wat vandeesmaand uit Jerusalem gekom het,” sê hy. “Hy’t na hierdie Jood geluister, en hy het my alles vertel. Ek glo nie net Rome nie, maar die ganse wêreld sal nog van hierdie Man weet, Gaius Papinius.

“Hierdie Jood veg nie met die swaard of die pyl nie – Hy veg met eenvoudige, universele liefde …” gaan Quirinius verbete voort.

“En dit lyk my Hy het ’n volgeling onder die bewindhebbers van Rome,” werp Papinius bitsig in. “Ek wonder wat Tiberius sal sê as hy hoor hy is in die hart van een van sy goewerneurs nie meer die enigste keiser nie.”

“Gaius Papinius, in die dae toe jy en ander geagiteer het dat Germanicus moet keiser word, was ek trou aan Tiberius.” Om die dolk nog dieper in te druk, lig Quirinius sy drinkbeker hoog: “Op die deurlugtige Tiberius – keiser van die Ryk.”

Papinius lig sy beker onseker en herhaal die woorde van sy gasheer. Oomblikke later, net toe hy weer wil praat om sy vernedering van flus te beredder, verskyn Quirinius se kamerheer.

“Ja, Lucius?” vra Quirinius ongeërg.

“Vitellius is buite, Hoogedelagbare. Hy wil dringend met u praat.”

“Vitellius kan so ontydig wees. Ek eet nou en ek praat met ’n hoë gas.”

“Dit het te make met die Jood Simon Niger, Hoogedelagbare.”

Quirinius kyk betekenisvol na Gaius Papinius. “Laat Vitellius binnekom,” sê hy vir die kamerheer.

Vitellius kom senuweeagtig binne, sy kleed gekreukel en sy sandale stowwerig. Hy het baie nedersetters besoek nadat hy by Simon was. Hy steek by die eettafel vas en buig onderwyl hy hunkerend na die kos loer.

“Ja, Vitellius?” vra Quirinius.

“Dit is die Jood Simon Niger, Hoogedelagbare,” antwoord Vitellius. “Hy het my aangerand en beledig. Hy en ’n ander Jood het twee soldate van die keiser uit die saal gegooi.”

Quirinius glimlag vir sy taksateur. Koel en opsommend. “Hoeveel bene is gebreek, Vitellius?”

Vitellius se beswete gesig word nog rooier. “Hy’t met ’n jaagbesem na my geslaan; ’n baan opgeskop omdat ek deur sy wingerd gery het.”

“Is die twee soldate dood?” vra Quirinius.

Vitellius antwoord nie.

Quirinius wink sy kamerheer nader. “Lucius, bring jou stilus en tablet hier. Ek wil aan die keiser skryf van die dapper Romein wat hom deur ’n Joodse nedersetter op loop laat ja het …”

“Simon Niger weier om een en ’n half denarius die mud te vat,” sê Vitellius gewigtig.

Quirinius spring op. “Groot Jupiter! Daar het jy dit, Papinius.”

Papinius staan traag op. “Spyker hom aan ’n kruis – maak van hom ’n voorbeeld,” sê hy.

Quirinius se blou oë is kil terwyl hy die edelman uit Rome aangluur. “Gaius Papinius, ek is goewerneur van Cirene. As daar straf uitgedeel moet word, sal ék dit uitdeel.”

Toe spreek hy Vitellius aan wat beteuterd daar staan. “Simon Niger se koring word gelaai soos al die ander se koring gelaai word. Wat Cornelius Marsus sê, is blykbaar die wet van Rome.”

Ná Vitellius uit is, stap Quirinius na die groot venster aan die oostekant. Hy kyk af op die terrasse, die landerye en boorde. ’n Groot sipresboom wat die agtergrond van die see middeldeur sny, trek ’n oomblik sy aandag.

“As ek my nie misgis nie, kan jy maar ’n paar kruise laat maak, Sextus Quirinius,” praat Papinius hier langs die goewerneur.

Quirinius bedwing hom met moeite. Vissers wat in die baai hul skuite kant toe dwing, kalmeer hom.

“Ek het nog altyd goed probeer regeer. Ek het hier probeer om die groot werk van Augustus en Tiberius voort te sit. Met vrede probeer regeer. Maar nou …” sê hy mistroostig.

“Maar nou het die Jode ’n leier – dis waarom ’n Jood soos hierdie Simon weier om na Rome te luister!”

“Nee, nie dit nie. Vandat Tiberius na Capri uitgewyk het, is daar ’n ander gees in Rome – ’n gees van geweld en dwang. Van ligsinnigheid en uitspattigheid. Die arena en die teater het belangriker geword as die Kapitool.”

Papinius grinnik. “Jy is nie meer ’n Romein nie, Quirinius. Jy is al te lank in Afrika.”

“Afrika het my ’n klomp dinge geleer wat Rome nog nie verstaan nie.”

“Soos byvoorbeeld die filosofie van daardie Joodse timmerman?”

Quirinius se nek word warm en hy voel skielik onverskrokke. “Die Ryk kan groot baat vind by daardie filosofie. Dan sal Rome vir ewig regeer.”

“Groot Jupiter, Quirinius, jy is ’n ketter, ’n verraaier van Olimpus!”

In die skemer wat besig is om skeidslyne te verwyder, voel Quirinius skielik so moeg dat hy nie eens daarop antwoord nie. “Ek sal die kruise oprig as dit nodig is,” sê hy wesenloos.

“Dit sal verstandig wees, Quirinius. Cornelius Marsus wil Rome voed. Hy kan dit nie doen met sentimentele goewerneurs nie.”

“Ek dink ek gaan nou rus. Slaap gerus, Papinius.”

Toe Quirinius wegstap, is sy skaduwee opvallend groot teen die versierde mure, want ’n slaaf het gekom en die fakkels aangesteek.

Simon Niger weet nie van die nagwind wat in die bome roer nie, hy is net bewus van fakkelligte by die trapvloer, van beweging, van vragwaens met osse voor. Rooi soldatepluime is in die fakkellig sigbaar; manne wat gebukkend onder die sakke struikel en dit dan op die waens gooi.

Op die rand van die lig gaan hy staan.

Hy het Vitellius raakgesien.

En waar hy langs die trapvloer staan en bevele gee, sien Vitellius Simon ook raak.

Vir Vitellius lyk Simon soos ’n gladiator wat op sy vyand wag, die groot skouers vooroor, dreigend.

Die Romein dink aan Quirinius se spottery vanmiddag. Hy loop voetjie vir voetjie na Simon toe.

“Jy steel my koring …” sê Simon toe Vitellius voor hom vassteek.

“Ek steel nie jou koring nie, jou Joodse hond, ek konfiskeer dit,” lieg Vitellius om Simon tot ’n misstap uit te tart. “Konfiskeer – dis waar. Vandag het Quirinius na Markus Vitellius geluister. As jy nie oppas nie, lê ons nog op jou grond ook beslag.”

Simon wil Vitellius gryp, maar hy bedwing hom. Skielik hoor hy die ruising van die wingerd, die ruising van die olyfbome; ruik hy die vars kaf.

’n Kort oomblik gaan hy terug deur die jare van sweet en vreugde toe hy vir hom en Debora lewe hier uit die grond gehaal het.

“Ons Verbondsgod, die Regverdige, sal jou hiervoor straf, Markus Vitellius,” sê hy verbitterd.

Die Romein weet sy slagoffer wil nie veg nie ter wille van sy grond.

Daarom slaan hy Simon deur die gesig met ’n kort handsambok wat hy op die slawe gebruik.

Simon se kop ruk agteroor. Hy proe die bloed in sy mond.

Die vuishou tref Vitellius op die slaap. Voordat hy val, gryp Simon hom en gooi hom teen die wiel van die koringwa waar die wielbus sy rug breek.

Simon staan daar met die wind in sy hare. Stadig dring die besef tot hom deur dat hy ’n burger van Rome, ’n amptenaar van Quirinius, doodgemaak het.

Maar net ’n oomblik. Toe weet hy net van sy woede.

Hulle lê beslag op wat hy in wind en son uit die grond gehaal het. Dit is al waarvan hy nou bewus is.

Vitellius het ongesiens en geluidloos gesterf, want die vier soldate en die slawe is anderkant die waens besig om die graan op te laai.

’n Waansin dryf Simon terug na die donker. Hy sluip om na die afdak wat hy vir sy gereedskap gemaak het; staan hygend daar. Al wat hy nou ondervind, is haat. Haat teen die adelaar van Rome wat groter geag word as die Ster van Dawid.

Al die jare van verbittering maak hom vanaand ’n blinde dwaas.

Hy buk en soek na die ou kruik met olyfolie wat hy altyd daar bêre. Hy swaai die kruik op sy skouer en hardloop daarmee uit.

’n Verskrikte soldaat sien Simon eers toe hy op die koringhoop klouter en olie oor die koring uitgooi.

Voordat die soldaat tot verhaal kom, spring Simon van die koringhoop af, gryp ’n fakkel by ’n slaaf en druk dit teen die koringsakke. Die vlamme huiwer ’n oomblik, maar dan spring hulle dartelend omhoog en die koring begin brand.

Toe Simon hom gewaar, is die voorste soldaat amper op hom, sy swaard omhoog. Maar Simon spring opsy en slaan sy aanvaller met die fakkel deur die gesig sodat hy skreeuend vassteek.

Daar is ’n geharwar van soldate en slawe. Simon spring onder hulle in, sy fakkel ’n vurige boog soos hy dit swaai.

Dit is ’n kort geveg. ’n Soldaat sluip om en slaan Simon met die steel van sy spies oor die nek sodat hy vooroor val. ’n Ander soldaat slaan hom met sy fakkel tussen die skouers, en dit breek hom in. Sy gesig is in die geurende koringkaf. Hy wil opstaan, maar hy kan nie.

Twee slawe tel hom op, hou hom vas sodat hy kan regop staan. ’n Soldaat slaan hom met die plat hand deur die gesig.

So deur die warm seer hoor hy ’n man kerm en onthou hy het ’n soldaat met ’n fakkel geslaan. Daar is ’n geknetter van vuur en ’n rooi gloed verlig die aand. Hy weet sy koring brand en hy smaak die oorwinning.

Toe lei hulle hom weg. Hy skuifel tussen twee slawe en hoor die ritseling van die wingerd.

“Debora …” prewel Simon, “my koring kry hulle nie.”

’n Rukkie later skrik Sextus Quirinius uit ’n sluimering op sy vergulde ledekant wakker en kyk op in die gesig van sy kamerheer.

“Wat is gaande, Lucius? Wat is so dringend dat ek wakker gemaak moet word?”

Lucius buig eerbiedig. “Dit is in verband met Markus Vitellius, Hoogedelagbare – hy is dood.”

Quirinius sit regop. “Dood? Wat praat jy, man?”

“Vermoor deur die Jood Simon Niger.”

Quirinius sak op sy kussing terug, sy mond hang oop. “Die dwaas … die stomme dwaas,” slobber hy half deur die slaap. “Was dit oor die koring?”

“Oor die koring, Hoogedelagbare. Hy het die koring aan die brand gesteek en ’n soldaat met ’n brandende fakkel deur die gesig geslaan. Dit lyk of hy nou blind is.”

Sextus Quirinius se mond verstyf. “Waar is die Jood nou?”

“In die kerker by die kaserne, Hoogedelagbare.”

“Maak alles gereed vir ’n verhoor môreoggend vroeg; dan sal ek hom straf. Dit is al, Lucius.”

Die kamerheer buig weer en draai om. “O Lucius,” sê Quirinius agterna, “sê vir Markus Camillus hy moet die wagte versterk en die garnisoen op hul hoede stel.”

Lucius doof die fakkel uit wat hy by die deur aangesteek het.

Toe dit donker is, kyk Quirinius teen die traliewerk van sy venster vas, swart teen die lig van die sterre.

Die traliewerk vorm ’n duidelike kruis.

Hy draai op sy sy en hoop die slaap kom gou.

Man van Cirene

Подняться наверх