Читать книгу Leeus met letsels - Fanie Viljoen - Страница 10

Оглавление

7

DIT WAS ’N uitputtende dag en Buyi kan later nie meer sy oë oophou nie. Met die sagte dreuning van die 4x4 se enjin in sy ore raak hy aan die slaap en skrik eers laatmiddag wakker met die son se strale in sy gesig. Hy hoor stemme. André en Simoshile stry oor iets.

“Aa, kyk! Die slapende prins het wakker geword!” terg André. “En ook net betyds. Ek gaan iets kry om te drink. Wat wil jy hê?”

Buyi sien hulle het by ’n winkelsentrum gestop. “Wag, ek kom saam met jou,” sê hy en gaap. “Ek moet my bene rek.”

“Dan kom ek ook.” Simoshile spring saam met die seuns uit.

“Moenie te lank draai nie,” sê Lwazi toe hy ’n ander rigting inslaan. “Ek moet net ’n paar goed kry vir Mama Unathi se kombuis. Sorg dat julle binne vyftien minute terug is.”

“Die dorp se naam is Bela-Bela. Dit is bekend vir sy warmwaterbronne en dis ’n baie gewilde toeristeoord,” sê André.

Hulle gaan by ’n winkel in. Dit is baie kleiner as die Tesco waaraan Buyi gewoond is. Die produkte op die rakke is ook anders, maar nie almal nie . . .

“Coke reg vir jou?” vra André. Hy staan by die oop yskasdeur.

Buyi knik en geniet die koel luggie wat uit die yskas draal. Die Suid-Afrikaanse somers is beslis baie warmer as Londen s’n.

André koop vir hom ’n tydskrif oor speletjies, rekenaars en nuwe tegnologie. Buyi kyk toe hy die geld vir die kassier gee. Dis nog iets waaraan hy gewoond sal moet raak: ’n nuwe geldeenheid.

Hulle is gou weer op die pad. Ná ’n lang ruk kom hulle by ’n grondpad wat afdraai uit die teerpad.

“Sien jy daar?” André wys na die bergreeks in die verte.

Buyi knik.

“Dis die Waterberge.” Die soliede groen en bruin berg se geriffelde rand sny donker oor die helder hemel.

Nie lank nie, of hulle kom by ’n massiewe houthek met stewige klipmure aan weerskante. ’n Naambord lees: Isigubhu. En onder dit, in kleiner letters: Drum.

’n Sekuriteitswag maak die hek oop. Dit lyk vir Buyi of hy vir Lwazi, André en Simoshile ken, want hy glimlag en beduie hulle kan deurgaan.

“Ngiyabonga!” roep Lwazi deur sy oop venster.

“Dit beteken dankie,” sê André toe hy sien hoe Buyi frons.

Die wag knik en lig sy hand.

Hulle ry deur en volg die grondpad wat voor hulle uitkronkel. Uiteindelik draai hulle in na ’n groep geboue waarvan die klipmure en hoë strooidakke afgeëts staan teen die agtergrond van die Waterberge.

“Hierdie is die hoofgebou,” verduidelik Lwazi.

Buyi kyk oopmond na die indrukwekkende gebou met die groot vensters en massiewe houtdeure waarop diere in ingewikkelde patrone uitgekerf is. Langs die groot stoep staan kleipotte met water wat klotsend oor hulle rande spoel.

“En daar is die curio shop,” sê Simoshile, en wys na twee geboue wat weerskante van die hoofgebou staan. “Daar is ook ’n spa en skoonheidsalon,” gaan sy opgewonde voort.

Buyi staar na die uitgestrekte tuin vol blomme, groot koeltebome en grasperke. Dit herinner hom aan die tuine in Londen. Maar hierdie tuin is anders, meer natuurlik en aards.

“Welkom by jou nuwe tuiste!” sê Lwazi toe hy in die skadu naby die hoofgebou stilhou.

“Watse plek is hierdie?” vra Buyi.

“Weet jy dan nie?” vra Lwazi met ’n glimlag. “Dis ’n wildreservaat. Waar wilde diere bewaar en gerehabiliteer word.”

“En ek gaan hier bly?”

“Wel, nie hier nie. Jy gaan by jou pa in sy chalet bly, in die personeel se gedeelte van die oord. Dis ’n entjie verder met die pad af. Meer privaat.”

Buyi kry weer daardie benoude gevoel in sy bors. Hy gaan in ’n wildreservaat bly. Is dit ’n goeie of slegte ding? Hy kyk vinnig rond om te sien of daar enige diere in die omtrek is. Moet hy bang wees? Hy het nog nooit juis kontak met wilde diere gehad nie. ’n Kat of ’n hond hier en daar. Dalk ’n voël. Maar hy het nooit een van sy eie gehad nie.

Sy ma het niks van diere gesê nie. Wou sy dit as ’n verrassing hou?

André en Simoshile spring uit die voertuig. Hulle lyk heel op hulle gemak. Nie in die minste bang nie.

“Hou jy hiervan?” vra André.

“Natuurlik hou hy daarvan!” sê Simoshile.

Buyi knik en probeer ontspanne lyk, maar hy is flippen bang. Hy het al op die Discovery-kanaal gesien wat wilde diere kan doen. Hy gaan ’n krieketkolf of een of ander wapen nodig hê as ’n wilde gedierte uit die bosse losbreek en op hom afpyl.

Bosse!

Daar is baie bosse in die omgewing. En bome. Diere kan enige plek wegkruip.

“Hierdie plek is die béste!” sê André.

Simoshile voel Buyi se onsekerheid aan. “Hei, dit gaan oukei wees. Jy sal sien.” Haar stem is sag en kalm. “Jy hoef nie bang te wees nie.”

Toe sy dit sê, voel Buyi ’n rustigheid oor hom kom. Sy is seker reg. Miskien is hy sommer simpel.

“Oe! Hy is hier!” hoor Buyi iemand uitroep.

’n Groot vrou met ’n kleurvolle rok en bypassende kopdoek storm by die hoofgebou uit, en af met die trappe. Haar arms is uitgestrek, haar vingers wydgesprei en palms oop.

“My seun! My seun!” roep sy. Haar hele lyf bewe van opgewondenheid. Haar oë is vriendelik en haar glimlag so groot soos ’n sekelmaan.

Voor Buyi besef wat aangaan, gryp sy hom aan die skouers en sê: “Kom laat ek ’n bietjie na jou kyk!” Toe trek sy hom teen haar vas en dis asof die geur van die blomme in die tuin hom omsingel.

“Unjani? Unjani?” neurie sy. “Hoe gaan dit?”

Buyi is heeltemal onkant gevang. Hy staan net daar in die omhelsing en weet nie wat om te doen nie. Wie is hierdie vrou? Is hy veronderstel om haar te ken? Wat moet hy doen?

“Welkom tuis, Buyisiwe,” sê sy. “Jy het uiteindelik teruggekom.”

“Um, hallo,” is al wat hy kan uitkry toe sy hom uiteindelik uit haar omhelsing loslaat.

“My naam is Unathi, maar almal noem my Mama,” sê sy trots.

“Mama Unathi bestuur die kombuis,” sê Simoshile en geen haar ’n drukkie.

“En sommer al die ander goed ook, as jy haar ’n halwe kans gee!” terg André.

“Hei, suka!” roep sy en maak asof sy kwaad is. “Moenie jou aan André steur nie, Buyi. En pas op vir hom. Hy sal jou net in die moeilikheid laat beland.”

“Maar Mama sal my weer uit die moeilikheid kry. Soos altyd,” sê André met ’n reguit gesig.

Sy glimlag en rol haar oë en sê dan beslis: “Kom ons gaan kry vir julle iets om te eet. Julle is seker honger?”

“Dankie, Mama, ek en Simoshile moet by ons chalets kom. Maar ek is seker Buyi is dood van die honger,” sê André.

“Ek het so gedink. Ek het lieflike . . .”

Maar Mama Unathi kry nie kans om haar sin klaar te maak nie. Net toe sy en Buyi die trappe na die hoofgebou wil klim, hoor hulle ’n motor naderkom. Dit is nog ’n veldvoertuig. Groen, met stowwerige bande. Agterop die oop voertuig is ’n paar sitplekke waarop mense met kameras sit. Voorin sit twee mans.

“Toeriste,” sê Lwazi en stap nader.

“Oe, kyk,” sê Mama Unathi. “Jou pa is hier.”

Leeus met letsels

Подняться наверх