Читать книгу Leeus met letsels - Fanie Viljoen - Страница 9

Оглавление

6

BUITE DIE LUGHAWEGEBOU kies Lwazi koers na die parkeergarage. Hy betaal by ’n parkeerpunt en lei hulle na die motor.

Buyi sien hoe Simoshile elke nou en dan vinnig in sy rigting kyk. Is iets verkeerd? Hy kyk af om seker te maak sy gulp is toe. Dit is. Hy skud sy kop. Miskien is dit niks nie.

André praat aanmekaar. Sy Engels is goed, maar ook hy het ’n vreemde aksent.

“Ek is Afrikaans,” verduidelik André. “Dit is my huistaal. Maar ek praat ook Engels. En ’n bietjie isiZulu. Net genoeg om my in die moeilikheid te kry,” grinnik hy.

“Dis nog niks,” sê Simoshile. “Ek praat isiZulu en Engels. En ’n bietjie Afrikaans, isiXhosa en siSwati.” Sy het ook ’n vreemde aksent, maar dit verskil van André s’n.

“Hoeveel tale het julle dan in Suid-Afrika?” vra Buyi.

“Elf amptelikes,” sê Simoshile nog voordat André kan antwoord.

“Wysneus,” is al wat hy kan uitkry.

Buyi praat net Engels. Hoe kom hierdie mense oor die weg met soveel tale sonder om deurmekaar te raak? Geen wonder hulle het sulke snaakse aksente nie. Noudat Buyi daaraan dink, sy Engels klink dalk vir hulle ook vreemd.

Toe hulle by die motor kom, sien Buyi dis ’n veldvoertuig, een van daardie 4x4’s wat hy al in tydskrifte gesien het. Lwazi pak sy tasse agterop en Buyi en André klim agterin. Simoshile spring voorin, langs Lwazi.

Toe Lwazi die voertuig aanskakel, voel Buyi ’n moegheid oor hom spoel. Binne hom woel nog steeds ’n vae vrees. Vrees vir die onbekende. Maar daar is ook ’n sprankie van opwinding.

Hulle baan hulle weg deur die lughaweterrein en beland onmiddellik in die gewoel van Johannesburg se swaar verkeer. Buyi is verlig om te sien hulle bestuur in Suid-Afrika ook aan die linkerkant van die pad, nes in Engeland.

Hulle is op pad noord, sien Buyi op die groot kennisgewingbord bo-oor die snelweg. Ná hulle ’n ruk gery het, verander die omgewing skielik. Die geboue val weg. Om hulle is nou meer oop ruimtes van grasveld, en met bome hier en daar. Weer verskyn daar geboue, en toe iets wat sy keel laat toetrek.

“Dis ’n plakkerskamp,” sê Simoshile en wys na die verwaarloosde gehuggies. Buyi het hulle vanuit die lug gesien, voor hulle geland het. Die krothuisies is van sinkplate en stukke hout gebou. Plek-plek span stukke plastiek oor klein vensters. Party huise het nie eens vensters nie. Dakke word in plek gehou met klippe. Vanwaar hy sit, lyk dit maar sleg. Hoe kan mense elke dag in sulke omstandighede bly?

Hoekom is dit so morsig en oorbevolk? Hoekom laat mense toe dat dit gebeur?

Toe tref ’n gedagte Buyi skielik: hy weet nog nie presies waarheen hulle op pad is nie. Wat as hy hier afgelaai word? Wat as sy pa in een van hierdie gehuggies bly? Dis ’n skrikwekkende gedagte.

Hy bid saggies dat die veldvoertuig nie hier moet stop of selfs spoed verloor nie. Ry verby! Ry net verby! skree ’n stem in Buyi se kop.

Toe die plakkerskamp agter hulle verdwyn, voel Buyi skaam. Hy het hierdie aaklige armoede gesien en wou niks daarmee te doen hê nie. Maar hy weet ook hy is nie die enigste een wat so voel nie. Die wêreld is vol mense soos hy. Mense wat nie ’n duiwel omgee nie, want hulle hoef nie elke dag daarteen vas te kyk nie.

Leeus met letsels

Подняться наверх