Читать книгу Leeus met letsels - Fanie Viljoen - Страница 6
Оглавление3
VIR DAE NÁ hulle gesprek kan Buyi nie slaap nie. Sy ma se woorde bly by hom spook: “Jy gaan by jou pa in Suid-Afrika bly.”
Sy maag draai elke keer as hy net daaraan dink. Afrika? Waar de hel is Afrika in elk geval? Hoekom moet hy Afrika toe gaan? Net omdat hy in ’n vuisgeveg was? Omdat hy anders is?
Buyi het probeer om uit die ding te kom, maar sy ma het klaar alles netjies deurdink.
“Jy weet hoe lief ek vir jou is, Buyi, maar dit sal die beste wees vir albei van ons. As dinge beter word, kan ons weer daaroor gesels. Buitendien, jy sal mos daarvan hou om jou pa te leer ken, of hoe?”
Hy weet regtig nie of hy wil nie. Sy ma het oor die jare so een of twee keer al van die man gepraat, maar hy het hom nooit eintlik daaraan gesteur nie. Waar was sy pa al die tyd? Hy gee nie vir hom wat Buyi is om nie, anders sou hy mos gebel of e-posse gestuur het. Dis nou as hulle ooit rekenaars het in Afrika.
Hy het nooit gevra vir foto’s van Buyi nie. Hy het nooit eens vir hom geskenke of selfs ’n kaartjie gestuur vir sy verjaarsdag nie.
Hoekom sal Buyi hierdie man wat hom nog altyd ignoreer nóú wil ontmoet?
¤
Ná hulle gesprek hoor Buyi sy ma gereeld met Themba oor die foon praat.
Sy hou selfs eenkeer die handstuk uit na hom: “Wil jy vir jou pa hallo sê?”
Hy het net sy rug op haar gedraai.
Maar hy kan dit nie vir altyd doen nie.
Oor die volgende paar weke beplan sy ma alles. Sy reël sy paspoort, vra sy pa om die vliegtuigkaartjie te betaal, pak Buyi se tasse en toe, een reënerige aand, sit hulle af na Heathrow-lughawe.
“Jy lyk bang,” sê sy ma. “Jy moenie wees nie, Buyi. Alles sal regkom, jy sal sien. Ek is seker jy gaan daarvan hou. Ek sal bel.”
“Wanneer, Ma?”
“Sodra jy daar aankom.”
Hier en daar. Londen en Johannesburg.
Buyi het nie eintlik vriende nie, maar as hy gehad het, wonder hy hoe húlle sou gevoel het. Dit is nie maklik om alles wat vir jou bekend is net so agter te laat nie. Dis nie maklik om op te pak en sommer in ’n ander land te gaan bly nie.
Suid-Afrika, dink hy, hoe sal dit wees om daar te bly? Hy het al iets daarvan op die televisie gesien, maar nie baie nie. Vanoggend het hy dit gegoogle, maar dis te veel om in te neem – te vreemd. Hy weet dis die plek waarvandaan Nelson Mandela kom. En daar is baie wilde diere en dis ’n groot land met baie verskillende mense.
“Ek is lief vir Ma,” sê Buyi net voor hy die vertreksaal moet binnegaan. Hy dink nie hy het dit al voorheen gesê en dit regtig bedoel soos nou nie.
“En ek is lief vir jou, Buyi,” sê sy toe sy hom in haar arms toevou en hom teen haar vasdruk. Hy wens hy kon vir altyd daar in haar arms bly. Maar dis tyd om te gaan.
“Kom kuier. Asseblief!” Dit klink na ’n hulpkreet, maar hy gee nie om nie. Trane stoot op in sy ma se oë. Buyi vee hulle weg met sy vingers. Hulle probeer albei sterk wees, maar kry dit nie reg nie.
En later, toe die vliegtuig opstyg, is sy ma al waaraan hy kan dink. Hoe sy teruggaan na ’n leë woonstel. Huilend en hartseer.