Читать книгу Leeus met letsels - Fanie Viljoen - Страница 11
Оглавление8
DIT IS DIE vreemdste gevoel om sy pa vir die tweede keer te ontmoet. Goed dan, die eerste keer was dit nie regtig hy nie, dit was Lwazi. Maar nou is daar geen twyfel nie. Buyi se maag draai. Hy voel bewerig. Aan die bestuurder se gelaatstrekke kan hy aflei dit is hy: Themba.
Die langmouhemp van die uniform is opgerol oor sy gespierde voorarms. Hy dra leerstewels en ’n wyerandhoed. Sy gesig is sterk, sy ken vierkantig, sy oë donker.
Themba moes Buyi dadelik geëien het, want hy knik sy kop in sy rigting toe hy die toeriste van die voertuig afhelp. Sy oë draai die heeltyd terug na sy seun.
Moet hy na hom toe loop en hom omhels soos Mama Unathi hom omhels het? wonder Buyi. Of moet hy wag totdat sy pa na hom toe kom?
Toe die toeriste opgewonde begin klets en na mekaar se foto’s op hulle digitale kameras kyk, verskoon Themba homself. Soos hy naderkom, klop Buyi se hart al hoe vinniger. Hierdie man is deel van hom, maar hy ken hom glad nie. Hy is net soveel ’n vreemdeling as die mense wat hy vandag ontmoet het: Lwazi, André, Simoshile en Mama Unathi.
Maar hierdie vreemdeling se lewe is aan syne verbind. Hy is sy pa.
Met sy hoed in sy hand staan sy pa voor hom. Themba knip sy oë een keer, twee keer. Sy gesig is strak.
Buyi voel hoe sy mond droog word. Hy weet nie wat om van sy pa te verwag nie. Hy maak hom reg vir ’n omhelsing soos Mama Unathi s’n. Maar dit kom nie. Sy pa hou net sy hand uit en sê met ’n sterk stem: “Hallo, Buyisiwe.” Net dit. Geen omhelsing nie. Geen glimlag nie. Net ’n afgetrokke hallo. Buyi skud sy hand soos Lwazi syne vroeër geskud het. Skud, duim, skud.
“Haai . . .” Moet hy hom Pa noem? Of Themba? “Themba . . .”
Sy pa korrigeer hom nie, so dis oukei met hom.
Mama Unathi sien die ongemaklike spanning tussen hulle en kondig met ’n harde stem aan: “Ek wou nou net vir Buyisiwe iets gee om te eet. Hoekom kom jy nie saam nie, Themba? Julle twee het seker baie om oor te gesels.”
“Ek kan nie nou nie, Unathi. Ek moet na die gaste omsien.” Sy pa se oë draai weer na Buyi. Steeds sonder emosie.
Is hy dan nie bly om my te sien nie? wonder Buyi.
Themba grawe in sy broeksak en hou ’n sleutel uit na Buyi. “Dis vir die chalet. Lwazi kan jou vat. Dis nie ver nie. Jy kan eintlik soontoe loop, maar jy het seker ’n klomp bagasie?”
Buyi knik.
“Goed dan,” sê Themba en stap terug na die gaste. Hulle opgewondenheid het nog nie bedaar nie. Buyi kan hulle steeds hoor lag toe hy en Mama Unathi by die gebou inloop.
Sy sit haar hand sag op sy skouer. “Ek het ’n watertand-lekker nagereg ook vir jou,” sê sy.
Toe Lwazi hom heelwat later by die chalet aflaai, staan Buyi vir ’n oomblik by die voordeur en rondkyk. Dit is ’n netjiese baksteengebou met ’n grasdak. Langsaan is daar ’n steenmuur rondom ’n oop area met ’n paar stoele, tafels en ’n vuurmaakplek. Daar is geen tuin nie, net ’n paar bome waarvan die skadu’s koel oor die bruin aarde val.
Lwazi help Buyi met sy bagasie. Buyi sluit die voordeur oop en toe hy instap, stop die soet reuk van die grasdak hom vir ’n oomblik in sy spore. Hy laat sy oë oor die binnekant dwaal. Dit is sy nuwe huis. Twee slaapkamers, ’n kombuis, badkamer en ’n sitkamer reg in die middel.
Die plek is onberispelik skoon. Glad nie soos hulle woonstel in Londen nie. Teen een van die mure gluur die kop van ’n dooie dier af na hom. Sy swart oë stuur ’n rilling langs Buyi se ruggraat af. Dit is die een of ander soort bok. Sy gekrulde horings toring na die dak toe.
“Hierdie is joune,” sê Lwazi en dra die tasse by een van die kamers in.
Die kamer is nogal groot. Buyi maak die kasdeur oop. Dit het genoeg pakplek vir al sy klere en goed. Teen die muur staan ’n klein lessenaar en stoel. Hy toets die enkelbed voor die venster. Dit voel gemaklik, die kussings ook.
“Dit lyk of jy sommer klaar tuis is!” lag Lwazi. “Ek moet in die pad val. Ek gaan saam met Johan, André se pa, op ’n nagsafari. Hy is ook ’n wildbewaarder, nes jou pa.”
“En jy?” vra Buyi.
“Ek is ’n spoorsnyer.”
Buyi frons. “Spoorsnyer?”
“Ek help diere opspoor. Ek gaan saam op die safari’s en soek vir spore en ander tekens. Dit help die bewaarder om die wilde diere makliker te kry. Dis nogal opwindend vir die toeriste ook.”
Buyi glimlag flouerig. Hy verstaan nie hoe dit pret kan wees om agter ’n dier se spoor aan te loop nie. En dit in die nag!
“Hou maar die vensters toe,” sê Lwazi. “Bobbejane is baie nuuskierig. Hulle kan jou hele huis vir jou herrangskik as jy nie versigtig is nie. Hulle sal enigiets eet wat hulle in die hande kry. Selfs in jou yskas krap!”
Buyi voel ’n koue rilling deur hom gaan. “En . . . ander diere? Sal ek veilig wees hier op my eie?”
“Ja wat, wees maar net versigtig. Die diere is gewoonlik banger vir jou as wat jy vir hulle is. Jy sal dalk ’n paar hier naby die huis sien. Miskien ’n rooibok of twee. Dalk ook ’n paar vlakvarke. Daar is van hulle wat uitkom om te jag of te wei as dit donker is. Veral as dit volmaan is.”
Daarmee draai hy om en loop uit terwyl hy “Sala khale!” oor sy skouer roep. “Mooi bly!”
Skielik is Buyi heeltemal alleen. Die donker kruip die huis stadig binne. Hy sit al die ligte aan, dankbaar dat daar ten minste elektrisiteit is. Nou het hy nog net geraas nodig. Geraas! Of hy gaan heeltemal gek word.
Sit die televisie aan, besluit Buyi. Dit help altyd. Daardie dreuning van stemme en musiek om hom. Flikkerende beelde om hom geselskap te hou.
Hy loop ’n paar keer deur die huis, kyk oral, en maak selfs ’n paar kaste oop.
Daar is nêrens ’n TV nie!
Dis mos malligheid, dink hy. Hoe kan dit wees? Hulle moet sekerlik al hier van televisie gehoor het? Ja, natuurlik, daar was een in die hoofgebou se sitkamer. Hy het dit gesien toe hy vroeër vir Mama Unathi eetkamer toe gevolg het. Maar daar is nie een in die chalet nie.
Hier gaan hy nog vrek, dink Buyi. As dit nie in die kake van die een of ander wilde dier is nie, dan van verveeldheid. Geen TV nie!
’n Skielike skril geluid verbreek die stilte om hom. ’n Telefoon? Hy vat na sy selfoon al weet hy dis nie sy luitoon nie. Dan sien hy eers hy’t nie ’n sein nie. Wa-a-at? Hoe kan dit wees?
Iewers in die chalet lui die telefoon steeds. Hy volg die geluid na die tafeltjie in die sitkamer en antwoord.
“Hallo, Buyi!”
“Ma!” Hy is so verlig om haar stem te hoor.
“Hoe gaan dit met jou?”
“Ek is orraait. En Ma?”
“Ek mis jou, natuurlik. Die plek voel so leeg sonder jou. Hoe was die vlug?”
Hulle praat en praat. Hy vertel sy ma van die vliegtuigrit, alles wat hy gesien het, die mense wat hy ontmoet het . . .
“En hoe gaan dit met jou pa? Kom julle darem oor die weg?”
“Hy is baie gaaf,” jok Buyi. Hy wil tog nie hê sy ma moet haar nou al oor hom bekommer nie.
“Goed dan,” sê sy uiteindelik. “Ek moet seker nou tot siens sê. Ek is lief vir jou, my kind.”
“Ek is lief vir Ma ook,” sê Buyi en byt die trane weg.