Читать книгу Leeus met letsels - Fanie Viljoen - Страница 8

Оглавление

5

“SAWUBONA!” roep die man en hou sy hand uit na Buyi. “Ngiyakwemukela!”

Buyi frons. Hy het geen idee wat die man sê nie. “Sorry?”

“I said: ‘Hello, and welcome!’”

Die man lag en ’n glimlag sprei weer oor sy gesig.

“Uh . . . hi, thanks,” antwoord Buyi versigtig. Sy hart jaag steeds. Om jou pa vir die eerste keer te ontmoet is ’n verskriklike ding. Nie verskriklik lekker nie, verskriklik angswekkend.

Die man se hand is steeds na Buyi uitgestrek. Buyi vat dit. Die greep is sag. Toe doen die man ’n vreemde ding. Sy greep wissel van ’n normale handdruk na ’n duimgreep, weer sagkens, en terug na ’n normale handdruk.

“Oh,” sê Buyi, onkant gevang.

“Sawubona!” sê die man weer.

Buyi knik skaapagtig. “Jy is Themba? My pa?” Hy weet nie hoekom hy dit vra nie. Die woorde borrel net uit. Natuurlik is dit sy pa.

“Nee, ek is Lwazi. Ek werk saam met jou pa.”

Wat? Die onseker gevoel binne Buyi word erger. “Maar waar is my pa dan?”

“Hy het nog werk gehad om te doen, toe vra hy ek moet jou kom haal.”

“Maar my ma het gesê Themba gaan . . .”

“Moenie bekommerd wees nie. Ek sal na jou kyk.” Lwazi glimlag weer en klop Buyi op die skouer.

Buyi hou niks hiervan nie. Kan hy hierdie ou – Lwazi – ooit vertrou? Hy lyk nogal vriendelik, maar ’n mens weet nooit. Buyi hou nie van vreemdelinge nie. Dis hoe hy grootgemaak is. Om in ’n groot stad soos Londen te bly het die vrees vir vreemdes net aangehelp.

Buyi kyk rond en probeer sien of die sekuriteitsman van vroeër steeds in die omtrek is. As daar enige probleme is, kan hy hom roep. Maar die beampte is nêrens te sien nie.

“Kom ek help met jou bagasie,” bied Lwazi aan.

“Nee!” blaf Buyi en gryp die trollie.

“Jy is bang,” sê Lwazi.

“Ek is . . . versigtig.”

“Dit is altyd ’n goeie ding. Veral in Suid-Afrika . . .”

“Jy is hier!” hoor Buyi ’n meisiestem uitroep.

“Buyisiwe!”

’n Seun en meisie kom aangehardloop. Hulle is omtrent Buyi se ouderdom. Hulle glimlag en hulle gesigte verhelder asof hulle hom al ’n leeftyd ken. Buyi staan terug toe hulle naderkom.

“Jammer ons het jou gemis,” sê die seun met die sproetgesig en rooi hare. Buyi is dankbaar hulle praat Engels, anders het hy weer nie ’n woord verstaan nie, soos toe Lwazi hom gegroet het.

“Simoshile moes badkamer toe gaan en ek moes keer dat sy nie verdwaal nie. Sy het glad nie ’n sin vir rigting nie.”

Die meisie se oë rek. “André! Sies vir jou!”

Die seun groet hom met die hand en sit sy arm om Buyi se skouer. Dit voel vreemd. Moet hy net die arm afskud, of sal dit ongeskik wees?

“My naam is André,” kom dit opgewek.

Die meisie glimlag. Haar donkerbruin oë is vriendelik toe sy sê: “En ek is Simoshile.” Sy kyk ’n ruk lank na hom sonder om ’n oog te knip, toe kyk sy skamerig af.

“Buyisiwe,” sê hy, “maar hulle noem my Buyi.”

“Ek sien jy het vir Lwazi ontmoet,” sê André.

“Ek dink Buyi het gedink ek is ’n tsotsi!” lag Lwazi.

Buyi frons vir die vreemde woord tussen die Engels. “ ’n Skelm,” help die vriendelike man hom reg.

“As daar nou een mens is wie jy altyd en met alles kan vertrou, dan is dit Lwazi,” sê André. “Maar oor Simoshile is ek nie so seker nie.”

Die meisie se wenkbroue lig gevaarlik. André se oë blink ondeund toe hy byvoeg: “Sy mag dalk net jou hart steel!”

Simoshile stamp André weg. Hy lag speels en knipoog vir Buyi.

“Ek gaan jou terugkry!” dreig Simoshile kamtig vies vir André.

“Genoeg van hierdie speletjies,” sê Lwazi toe hy die trollie vat. Omdat hy nou meer gerus voel, laat Buyi hom begaan. “Ek is seker Buyi is moeg. Ons moet aan die gang kom. Daar lê nog ’n lang pad voor.”

Leeus met letsels

Подняться наверх