Читать книгу Sandveldstories - Ferdinand Deist - Страница 4
Ta’ Anna se wye tanne
ОглавлениеDie wyse Prediker vannie Bywel sê mos jy moet jou lewe geniet voorlat die dae kom wat jy van sil sê lat jy daar geen behae meer in ’t nie. Dis nou die tyd wanner ’n mens beginne sleg sien en hoogtevrese kry en sleepvoet loop en smôrs al m’t hanekraai sam wakker word en wanner jou tanne beginne stomp word.
Ennie mensdom het van daai tyd af geprebeer ommie tyd waarvan jy sil sê lat jy daar geen behae in ’t nie, so lank moontlik uit te stel. Virrie sleg sien ’t hulle brille geloop maak en virrie sleg kou ’t hulle winkeltanne uitgevinne. Mar meeste vannie tyd maak dié uitvindsels lat jy nog minner behae het in jou oudag as die mense vannie Prediker se tyd – veral wat die winkeltanne angan.
M’t winkeltanne sam issit mos nou so, lat diegene wat self die goed dra, nie onnerwys oor ’ie saak nodig ’t nie, en lat diégene wat dit nie dra nie, nooit sil verstaan kry wat lat die prebleme is wat m’t dié uitvindsel sam gekom ’t nie. Mar lat dit nie sommer so ’n prebleempie issie, is seker. Die dag wat jy daai twee stukke plestiek oor jou ghams lat glip, issit verby m’t die tyd wat jy ’n appel kan gebyt ’t lat die sop spat, en m’t die tyd wat jy ’n stuk biltong kan dwars gedrai ’t en sommer so ’n reep kan afgeskeur en gekou ’t. Dis ook ’ie dag wat jy heeltemal moet vergeet vannie lekker goed vannie lewe soos tamatiekonfyt en groenvyekonfyt. Want as jy daai groenvy so byt, issit so goed of jy stop ’n handvol spykers in jou mond in.
Elkeen van daai duisenne pitjies kry ’n vasplakplek tussen ’ie plestiektanne en jou ghams en daar sit hulle op hulle se puntjies en m’t elke kou boor jy hulle dieper innie vleis in. Hoe meer jy hulle m’t jou tong sam uit jou tandvleise prebeer uittrek of na die kante toe prebeer uitskywe, hoe meer plak jy vannie pitte wat nog in jou mond gewees ’t onner ’ie plestiek vas en hoe meer pynplekke maak hulle oop.
As ’n man m’t winkeltanne sam so ’n pynkyk innie oog kry en sy hand so onner sy neus bak maak en sy kakebene beginne beweeg, kan jy mar weet die Bywelwoord ’t waar geword: Daar kom ’n tyd wat jy van sil sê lat jy daar geen behae in ’t nie, selfs nie eens innie tyd van groenvyekonfyt nie.
Dis dié lyding wat ou Ta’ Anna van Wyk gelat besluit ’t sy sil aan ’ie anner kant by die tyd vannie stomp tanne verbykom.
Sy’t allie jare hier op Eselspoort innie wit huisietjie m’t die twee gewels ennie buitetrap gebly, net so skuins oorkant Jan Plesie se keffie. En sy’t in allie jare wat ek haar geken ’t nooit ’n inkilte tand in haar mond gehad nie. As sy aan ’t koue gegan ’t, het dit kempleet gelyk of sy die onnerent van haar neus m’t haar ken se punt sam sit krap. Mar wat geëet ’t, was Ta’ Anna. Daar was nie ’n dis wat sy verbygeloop ’t nie: hard of saf, tai of bros, sy’t die een m’t die anner kafgedraf. Van melktert tot styk en van tammeletjie tot growwe brood. En g’n nooit het jy vir haar – soos vir baie anner mense – ná ete m’t ’n bottel lewensessens of ’n pakkie koeksoda innie hand gesien nie. As sy daar vannie maalsessie aan ’ie tafel af opgestaan ’t, het sy haar kôfietjie gesuiwe en geloop doen wat gedoen moet gewees ’t. Assit nou nie gewees ’t vir haar kleinseun se geleerdheid nie, sil sy seker die graf ingegan ’t sôner om onbehae te gehad ’t oor tanne.
Mar die meetsnoere was annerster gestel gewees vir haar. Haar kleinseun, Koos, het by die uniwerseteit geloop leer en ’t toe op ’n dag sy graad moet gekry ’t. En buie of bars, ou Ta’ Anna moet gesaam ’t na dié funksie toe.
Hoe hulle dit reggekry ’t ommie arme ou mens om te gepraat ’t om vir haar vir dié okkasie ’n stel winkeltanne te gelat maak ’t, weet ek nie. Want sy was altyd die ene wat die anners uitgevreet ’t oor ’ie ydelheid van winkeltanne en wat g’n niks meelye gehad ’t m’t dié wat onner ’ie pyn vannie plestiekghams gely ’t nie.
Hoe ook al, sy’t so twee mane voor ’ie tyd vir haar by die tan’arts oppie dorp ’n stel gelat maak. En toe ’t die passery gebeginne. Die eerste dag wat sy die speul t’ruggevat ’t, het sy virrie tan’arts ’n streep oppie plestiekdeel vannie tanne getrek om te wys waar hy die goed moet smaller maak, oor hulle te breed is. Wat hy toe ook gedoen ’t. En hoe hy nou ok al an haar gesit ’t ommie tanne daar by hom an te pas, solat hy kan sien, sy’t net geweier en gesê sy sil self by die huis loop kyk of hulle nou reg is.
’n Week later ’t haar seun haar weer moet dorp toe gevat ’t oor ’ie tanne noggie reg gepas ’t nie. En sy’t weer virrie tan’arts gebeduie lat die goed te breed is en lat hy hulle moet smaller maak. Die tan’arts het weer annie tanne gewerk en hulle vir Ta’ Anna t’ruggegjee om te loop anpas. Mar ’n week later was sy weer t’rug gewees m’t dieselle klagte. Mar toe wassie tan’arts al moedeloos gewees.
“Mar Ta’ Anna,” sê hy vir haar, “dis onmoontlik lat die tanne nog altyd te wyd kan wees. Kyk, hier issie mate wat ek van Antie se mond gevat ’t. Dié tanne is nou al ampers ’n duim smaller as Antie se ghams. Hoe kan hulle dan nog altyd te wyd wees?”
“Mar wie ’t dan nou van my ghams gepraat?” vra Ta’ Anna verstom. “Die breedgeit vannie tanne ’t niks te make m’t die mate van my mond ’ie. Dis innie fiespyst-glasie voor ’ie bed lat die speul nie wil inpas ’ie.”